Thursday, 10 May 2018

Hemelvaart


Lukas 24: 50 – 51 Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië.  Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seen, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem

Ek kyk op na die Hemel, want dis vanwaar my hulp kom
Oor elke wonderwerk staan ek heeltemal verstom
Heer, sonder dat ek vra, het U Seun vir my kom sterf
Sonder dat ek vra, word ek deur U liefde bederf
Met ‘n lang, pynlike lyding het Jesus vir my skuld kom betaal
Maar God het Hom nie vergeet en Hom weer kom haal en soos belowe het Hy opgevaar na die Vader
Op my knieë, in aanbidding, mag ek ook nou tot Hom nader
‘n Lewende God, want na ons klagtes luister het ons uitgesoek, Hy dra ons uit, al voel ons gedryf in ‘n hoek
Dankie Heer, dat ek openlik tot U mag bid
Dankie Heer, vir ‘n dag wat U vir ons kom bewys dat Jesus wel aan U regterhand sit
Dankie dat ons dit nog steeds mag herdenk
In ons harte het U woning kom maak sodat ons enige tyd en enige plek kan voel hoe U ons aanraak
Heer, danksy Hemelvaart is ons meer as gered
Danksy die feit dat Jesus opgevaar het staan ons nie meer onder die wet
U ken ons swakhede, ons behoeftes en ook ons persoonlikhede
Dankie Heer, dat U die Drie-eenheid is wat my lewe in U hand hou
Amen
(met vergunning aan Annoniem)

Tuesday, 8 May 2018

Jaloesie


Jakobus 3 : 16  Want wanneer mense jaloers is en altyd alles vir hulleself wil hê, dan maak hulle probleme en hulle doen al die slegte dinge.

Ken jy ook sulke mense? Mense wat jaloers is en alyd alles vir hulself wil hê en as sake nou nie verloop volgens hul agenda, dan maak hul probleme en hulle doen slegte dinge.  Miskien herken jy selfs jouself in hierdie teks.

Dit is asof niks verander het sedert die Bybelse tye nie.  Om die waarheid te sê, dit wil voorkom asof sake besig is om te vererger.  Kyk maar net na die politici.  Niemand gun hul naaste ‘n plekkie in die son nie.  Dit gaan net om die eie ek.

Dit is asof die lewe een groot kompetisie is en elkeen wil wen.  Dink nou net hoe dit sou wees as ons sou dink dat iemand anders beter as ons is of dat daar meer meriete is vir daardie persoon om te ‘wen’. 

Die NLV sê dat jaloesie en selfsug demonies is.  Satan weet waar ons kwesbaar is.  Hy laat ons met groen ogies kyk na ander en ons moet bewus wees daarvan sodat ons paraat kan wees.  Wanneer jy volgende keer voel jy gun iemand anders nie die voorspoed of geluk wat oor hul pad gekom het nie, raak ‘n bietjie stil en vra God om jou te help om in hul vreugde te deel.  Stap na hul en wens hul geluk met opregte blydskap.

Monday, 7 May 2018

Glo en vertrou


Psalm 37 : 5  Jy moet glo dat die Here jou op jou pad sal lei en dat Hy sal doen wat Hy belowe het.  As jy dit glo, dan sal Hy dit doen

Daar is soveel beloftes in God se Woord en tog twyfel ons steeds.  Wanneer God vir jou so ‘n belofte gee, glo jy dit?  Of wonder jy steeds daaroor.

Vandat ek besluit het dat ek die Korporatiewe wêreld wil verlaat totdat ek dit gedoen het, het langer as twee jaar geduur.  Gedurende daardie tyd het ek voortdurend met God gesels.  Ek was so ontsettend bang dat ek my besluit sou berou.  Werk is skaars en ‘n goeie werk met ‘n goeie salaris en goeie voordele en die feit dat ek nie ongelukkig in my werk was nie, het dit verder bemoeilik.  Alhoewel ek by God wou hoor of dit die regte besluit was, was ek ook bang dat ek sou hoor wat ek wou hoor.  Dus het ek sekergemaak ek kry die regte boodskap en die enigste manier hoe ek seker kon wees, was dat ek dit verskeie kere ontvang en op verskeie maniere.

Veral die laaste jaar het God my keer op keer verseker dat dit die regte stap is.  Ek wens ek het getel hoeveel kere Hy my na Matteus 6 geneem, veral vers 25 & 26  “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?  Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

God het as’t ware ‘n waarborg ingewerk.  My kind jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, Ek belowe Ek sal sorg.

Uiteindelik het ek daardie stap in geloof geneem.  My finansiële toestand het dramaties verander, maar ek het myself voorgeneem dat ek my 10de sou volhou vir solank as wat ek dit kon bekostig.  ‘n Jaar later en ek betaal steeds elke maand daardie bedag en nog nie een keer het ek te min gehad of tekort gehad nie.  Hoe ek dit regkry, weet ek nie.  God voorsien.  Ek het nie te veel nie, maar ek het genoeg.

God het my op ‘n pad geneem wat ek as mense net as ongelooflik kan beskou en dis so ‘n verkeerde woord, want dit is juis as gevolg van geloof.  Daar is nie een oomblik dat ek my besluit berou nie.  Soggens as ek wakker word, bedank ek God heel eerste dat ek nie meer voor dagbreek hoef op te staan net om ure lank in die verkeer deur te bring nie. Daar is geen stress meer nie… ek doen waarvan ek hou en ek is daar vir my gesin.  My fokus het verander.  Ek kan meer tyd met God deurbring en al die ander dinge val eenvoudig in plek.
As daar ‘n groot besluit in jou lewe is wat jy moet neem, bid daaroor en luister na God se antwoord.  Wanneer Hy jou antwood, kan jy maar weet Hy sal jou deursien.  Hy gaan nie op Sy woord terug nie.  Hy sal jou lei as jy Hom vertrou.

Sunday, 6 May 2018

Vergifnis


Psalm 130 : 4  Maar by U ís daar vergifnis

Keer op keer verstom God se matelose liefde my.  Al probeer ons hoe hard, ons struikel daagliks.  
Ons het soveel goeie voornemens, maar soms is daardie voornemens by die deur uit, nog voor ons die huis verlaat.   Jy sal weet wat jou swakheid is.

Elke keer bid ons en vra God om vergifnis, en elke keer vergeef Hy ons… weer en weer.  Hy mag dalk teleurgestel wees in ons, maar Hy verstoot ons nooit.  Dit kan net ware liefde wees, liefde wat ons so min teenoor ander betoon.  Ons dra soms ‘n wrok vir dae oor kleinighede, maar ons verwag dat God ons moet vergeef… en dit terwyl ons in die Onse Vader geleer word  om te bid:  “vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”  Die gebed maak nie voorsiening vir uitsonderings nie. 

Is daar iemand wat jy moet vergewe?  Hoekom weier jy om die persoon te vergewe?  Wat kan so erg wees dat jy daaraan bly vasklou?  Is dit nie dalk omdat jy daarvan hou om die ‘slagoffer’ te wees nie?  Leer by God.  Vergewe en vergeet, keer op keer.  Partykeer hoor ek iemand sê:  “Ek sal hom/haar vergewe, maar ek sal dit nooit vergeet nie.”  Dis nie goed genoeg nie.  Vergifnis beteken dit is uitgewis, vir altyd.  Jy grawe nie weer ou koeie uit die sloot uit nie.  Ontwikkel geheueverlies daaroor.

Jy kan maar weet dat iemand, iewers deur die dag, iets gaan sê waarvan jy nie hou nie of wat jou seermaak, of te na kom.   Hoe sou jy voel as God so genadeloos teenoor jou opgetree het, soos wat jy optree teenoor diegene wat jou iewers in die verlede tenagekom het?

Thursday, 3 May 2018

Wêreldvrede


Kolossense 3 : 15  En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.

Menige skoonheidskoningin het al gesê hul sal hul beywer vir wêreldvrede.  Suid-Korea meen Donald Trump moet die Nobel Vredesprys kry omdat hy vrede bewerkstellig het tussen Noord en Suid-Korea. 

Ons almal begeer vrede, maar dit bly ons ontwyk.  In ons eie land is daar nie vrede nie.  Dit is asof ons net nie die vure in Suid-Afrika geblus kan kry nie.  As dit nie betogings is nie, is dit rassisme… as dit nie rassisme is nie, dan is dit stakings… as dit nie stakings is nie, dan is dit moord en doodslag…  Soms is die onmin selfs binne ons huise en gesinne!

Hier lees ons so duidelik dat God ons geroep het om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te leef.  Die arm kan tog nie vir die oor kwaad wees nie.  Dit laat jou wonder of ons werklik ‘n Christenland is.

Ons gaan toe oë in ‘n verhouding in en wanneer dinge verkeerdloop, wonder ons hoekom.  Ons koop goed waarvoor ons nie geld het nie en dan wonder ons hoekom ons so swaarkry.  Ons verander van werk net om kort voor lank die slagoffer van personeelvermindering te word en dink dan dat dit darem baie onregverdig is. Het ons vrede oor ons besluite gehad?

Wanneer dinge verkeerdloop kan jy maar terugloop op jou spoor en jy sal sien dat jy nooit vrede oor jou besluit gehad het nie, want jy het dit heelwaarskynlik nooit eens met God bespreek nie.  Net God kan vrede en gemoedsrus gee.  Bespreek dit met God en wag op ‘n antwoord.

En daarom sal ons nie ophou bid en glo dat God vrede in ons land en tussen ons mense kan bewerkstellig nie… nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.


Wednesday, 2 May 2018

Kyk na haar!


Lukas 7 : 44

Hier word die verhaal vertel van ‘n vrou van losse sedes wat van Jesus gehoor het en toe sy hoor dat Hy in haar omgewing gaan wees, neem sy ‘n albastefles met duur aromatiese olie saam.  Toe sy by Hom kom moes sy seker gevoel het sy is nie werd om voor hom te verskyn… dalk was sy skaam, maar ons lees sy gaan kniel agter Hom en huil so dat haar trane op Sy voete val en sy haar hare gebruik om dit af te droog. 

Die Fariseër het dit gesien en was nie beindruk dat Jesus Hom met ‘sulke’ soort ophou nie.  Sondiges!  Hy het sommer vir Jesus oor dieselfde kam geskeer. (vers 37  39)

Jesus het Hom vererg en vir Simon Petrus (die Fariseër) gesê hy moet na die vrou kyk.  Jesus het iemand gesien met ‘n opregte hart en ware berou.  Simon Petrus het ‘n prostituut en verloorder gesien.  Hy weeg haar en vind haar te lig vir God se koninkryk.  Jesus skok almal deur te sê:  “Jou sondes is vergewe.”

Nakennis is wonderlik, want dit bied jou ‘n kykie op die uiteinde van ‘n saak, maar hoe sou ons opgetree het?

Ook ek staan beskaamd en skuldig voor God, want partykeer oordeel ons met menslike insig, seker een van die gevaarlikste dinge, want ons sien net wat ons wil sien.

Ons ken die binnekant van die kerk so goed, dat ons vergeet het hoe dit daarbuite lyk en as iemand van ‘buite’ dit binne durf waag, oordeel ons. 

Mag God dieselfde genade teenoor ons betoon as wat Hy teenoor hierdie vrou betoon het.


Tuesday, 1 May 2018

Verskonings


Spreuke 21 : 25  'n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie;

‘n Huis is iets wat in stand gehou moet word.  Daar is maar altyd iets wat versien of reggemaak moet word.  So besluit ons onlangs om ons geute en fasciaborde te vervang.  Ek begin afsprake vir kwotasies te reël.  Dis makliker gesê as gedaan.  Eerstens kom mense nie afsprake na nie.  Ek bel iemand ‘n dag nadat hul ‘n afspraak nie nagekom het nie.  Hul verskoning… die motor het gebreek.  “Skakel jul nie kliënte om verskoning te maak en die afsprake te verskuif nie?”  Doodse stilte.  Hoed in die hand, besluit ek om die minste te wees.  Ons herskeduleer… en weer daag niemand op nie. 

Twee maatskappye sê vir my dat hul geen verdere afsprake maak nie, want hulle het genoeg werk.   Dis ‘n lekker probleem om te hê, maar wat as jul werk opdroog? 

‘n Ander persoon skakel my op die dag van sy afspraak en sê dat hul die vorige aand ‘n vergadering gehad het waartydens hul besluit het om nie gedurende die Winter meer aan geute te werk nie! 

En ek dog werk is skaars! Na ‘n lang droogte is dit seker so dat meeste van ons nou wakkerskrik en besef ons sit met probleme, maar helaas…  Is ‘n mens nie juis veronderstel om te skep wanneer dit reën nie. 

Daar word gesê dat besighede swaarkry en sukkel om te oorleef.  Beteken dit nie juis dat jy enige moontlikheid sal aangryp om werk te bekom nie?  Selfs die regering plaas hul hoop op klein besighede om die werkloosheid in ons land te verminder.

Dit het my net laat wonder oor hoe ons leef.  Moet ons nie soos in 1 Samuel 10 : 7 doen wat ons hand vind om te doen nie?  Ons bid en smeek God om vir ons deure oop te maak.  Ons bid dat daar besigheid sal inkom en dat die besigheid sal oorleef.  Ons bid vir ons besigheid en ons werksmense… Ons bid en vra, maar wat doen ons van ons kant? 
Vergewe my as ek verkeerd is, maar na twee weke, met net een kwotasie, wonder ek of mense te veel werk het, nie belangstel in ‘klein’ werkies nie, of net eenvoudig nie omgee nie. 

“Ek het nog nooit ‘n man teegekom wat goed is met enige iets anders, as hy goed is met verskonings maak nie” Benjamin Franklin

Op die ou end kan ons al die verskonings in die wêreld aanvoer, maar as ons nie ons kant bring nie, kan ons nie van God verwag om te voorsien nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...