Monday, 11 June 2018

God kom altyd deur


Psalm 40 : 2  Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor

Almal van ons kan terugkyk op tye dat ons deur die lewe ‘n dwarsklap gegee is.  

Ons onthou dikwels hierdie tye, maar ons vergeet om onsself krediet te gee vir die feit da tons nie bly lê het, maar opgestaan het.  Jou verslawing behoort al tot jou dood te gelei het, maar jy leef steeds… Jou roekelose leefstyl behoort al tot jou val te gelei het, maar jy is steeds staande… Jy het iemand aan die dood afgestaan sonder wie jy gedink het jy nie sal kan voortgaan nie, maar jy haal steeds asem… Jy het gedink jy kan nie meer nie, maar op die een of ander manier sit jy steeds een voet voor die ander…  Jy het selfmoord probeer pleeg of jy het gedink jou kanse in die lewe is verby, maar God het weer lewe in jou geblaas en jou nog ‘n kans gegee.  God lig jou uit die put en plaas ‘n nuwe lied in jou hart.

Wanneer ons deur beproewings gaan, is dit ‘n geleentheid om te sien hoe God skyn in die donkerte.  Jy sien hoe Hy jou oplig, herstel, bevorder en genees.  Met so ‘n geskiedenis met God, raak jy nie meer mismoedig gedurende moeilike tye nie.  Jy val nie uitmekaat as gevolg van teleurstelling nie.  Jy raak nie hartseer omdat mense oor jou skinder nie.  Jy onthou dat God jou tevore al deurgetrek het en dat dit hierdie keer ook sal gebeur.

Vier vandag die feit dat jy steeds staande is en sien jou toekoms deur God se oë.  Onthou dat God jou tevore al deurgetrek het en dat dit hierdie keer ook sal gebeur. 

Vier vandag die feit dat jy steeds staande is en sien jou toekoms deur God se oë.

Sunday, 10 June 2018

Palmbome


Psalm 92 : 12 -13   Ek kyk op my teëstanders neer, ek luister sonder vrees na die mense wat niks ontsien nie, wat in opstand teen my is. Die regverdiges sal sterk soos palmbome wees

Wanneer hul vir ons beelde wys van erge storms oorsee, sien jy dikwels ‘n palmboom wat heen en weer geruk word.  Partykeer word die blare van die palm in een rigting gedwing deur die wind en ander kere is dit amper asof die palmboom in ‘n tweestryd met moeder natuur is.  Die wind druk hom byna plat, maar die palmboom spring weer terug sodra die wind skietgee.  Die interessante deel is dat wanneer die palmboom so platgedruk word deur die wind, maak dit hom meer soepel en dus sterker.

Jy sien die rede hoekom ons floreer soos ‘n palmboom, is omdat God geweet het dat ons ook storms sal beleef.  Hy het geweet dat die stormwinde ons sal probeer knak en dat swaarkry ons vreugde sal probeer steel.  Daarom het God gesê die mens sal soos ‘n palmboom wees…al woed en tier die stormwinde rondom ons, sal ons weer regop bons, net soos die palmboom sodra die storm bedaar.  Ons mag dalk heen en weer geklap word, maar ons sal nie geknak of ontwortel word nie.

Kyk maar terug op jou lewe.  Hoeveel storms het jy al oorleef?  Elke keer het jy oorleef en elke keer het jy sterker geword.  Jy kan selfs erken dat jy iets geleer het.  Jy is wyser en meer veerkragtig.

Soos met die palmboom, breek die son ook weer vir jou deur en kan jy fier en trots bly staan.  Dan kyk jy ook trots, soos die palmboom, op jou vyande neer.  Jy is ‘n wenner en daarom sal niks jou onderkry nie… ook nie dit waardeur jy tans gaan nie.

Thursday, 7 June 2018

Hoe begin jou dag?


Psalm 34 : 2  Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.

Wanneer jy jou oë oopmaak, wat is die eerste ding waaraan jy dink? Wat is die eerste ding wat jy sê?  Baan jy die weg vir sukses, voorspoed en seën?  Of sug jy en begin die dag al morrend en brommend.  Onthou dat jy is wat jy dink.  Gelukkig kan ons elke dag van vooraf begin, so vandag kan die eerste dag van die res van jou lewe word en jy is aan die stuur daarvan.

Gister mag dalk nie verloop het soos wat jy dit graag sou wou gehad het nie, maar vandag is ‘n splinternuwe dag.  Ons behoort elke dag met afwagting uit te sien na dit wat God vir ons in stoor het.

Rondom jou mag dit dalk nie so goed lyk nie.  Jy mag jouself in minder gunstige omstandighede bevind of jy mag dalk omring wees deur negatiewe mense wat voortdurend kla en jou ook probeer aftrek, maar jy hoef dit nie te word nie.  

Jy sê dis nie so maklik nie…  Gebruik jou geheime wapen.  Lofprysing!  Hoe erger dit raak, hoe harder prys jy God.  Styg uit bo jou omstandighede.  Stap soos die ribbok op hoë plekke, waar Hy jou veilig sal laat loop.


Wednesday, 6 June 2018

Visualiseer


Spreuke 27:19  Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.

God het ons geskep as visuele wesens.  Daarom is dit so belangrik dat ons hierdie gawe gebruik om onsself as’t ware reg te programmeer deur die regte beelde in ons gedagtes voor te hou, want wat ons sien, is waarheen ons sal neig. 

Visualisering is bloot die wyse waarop jy jouself sien.  Dit skep vir jou brein ‘n prentjie van hoe jy oor jouself voel en dit is juis hier waar jy die krag van visualisering moet inspan.  As jy jouself op ‘n negatiewe manier sien, is die kanse goed dat jou lewe sal uitdraai soos jy dit sien.  Aan die ander kant, as jy daardie prentjie herskep deur dit te kleur soos wat jy dit graag wil sien, dan begin die gety vir jou draai.  Jy kan jouself dus in die lig sien van ‘n wenner, iemand wat suksesvol is, ‘n persoon wat struikelblokke oorkom, daardie persoon wat hul Godgegewe doel in die lewe uitleef. 

Ons verbeelding is ontsettend kragtig.  Die manier waarop ons onsself sien in die prentjies wat ons skep, sal ingeprent word in ons siel en as ons aanhou om daarop te mediteer, verplaas dit na ons onderbewuste.  En sodra dit in jou onderbewuste is, is dit min of meer soos gravitasie, dit trek jou aan.  Dis dan dat prentjies ‘n werklikheid word.

Skep ‘n prentjie in jou gedagtes van dit wat jy wil bereik.  Dit sal verskillend wees vir verskillende mense.  Vir party sal dit wees om ‘n doelwit te bereik, vir iemand anders ‘n suksesvolle besigheid, en vir nog iemand om gelukkig en gesond te wees.  Dit wat jy voorhou, is waarheen jy sal beweeg. 

Daar is dus geen rede hoekom jy na ander se lewe of talente moet kyk en wens dat jy ook soos hul kan wees nie.  Jy kan wees wie jy nog altyd bedoel was om te wees, want onthou God se planne vir jou was nog altyd goed en het nog altyd sukses en voorspoed ingesluit.  Sy planne was nog nooit om jou te na te kom nie.

Moet ook nie vergeet dat dieselfde van toepassing is op jou verhouding met God nie.  Wanneer God op die voorgrond van jou gedagtes is en jy voortdurend mediteer op Sy wil vir jou lewe, is dit waarheen jou lewe sal beweeg en hoe jy as Christen sal groei. 

Sodoende maak jy seker dat jy jou gedagtes rig op die regte dinge en die regte rigting vir jou lewe.


Tuesday, 5 June 2018

Eendag


Hebreers 11 : 7  Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie.

Wanneer jy na mense se gesprekke luister, besef jy hoeveel hoop daar eintlik binne ons is.  Ons het hoop vir die toekoms anders sou ons nie oor eendag gepraat het nie.  Ons gaan ‘eendag’ oorsee… Wanneer ek ‘eendag’ trou… As ons kinders eers ‘eendag’ daar is… ‘Eendag wil ek nog… 

Ek glo dat die mens voortbeur na eendag.  Eendag bied vooruitsigte, hoop en die geleentheid om te droom. 

Noag het ook in eendag geglo.  Eendag sou hy en sy gesin die boot binnestap nadat al die diere volgens God se instruksies ook ingegaan het... Eendag sou die reëns kom en diegene wat hom so spot, saam met die res vergaan.   Eendag sou die water opdroog en sal hy en sy gesin sorg vir 'n nuwe geslag.  Noag het geen waarborg gehad, net God se voorsiening tot op daardie dag en ‘n vaste geloof.

Ons glo ook blindelings… dat Jesus weer eendag sal terugkom na die aarde om ons te kom haal om vir ewig saam met hom in die hemel te wees. 

Die probleem lê dus nie by eendag, maar by vandag.  Dit is vandag waaroor ons onseker is.  Dit is vandag wat ons bang maak.  Die vraag is egter hoekom ons God vertrou vir eendag, maar ons twyfel oor Sy vermoëns of versorging vir vandag?  Dis immers dieselfde God wat ons dien.  Die God van vandag, is ook die God van gister (van Noag) en die God van môre.

Ons mag God dalk nie vandag sien nie, maar ons weet verseker Hy was gister by ons en ons glo dat ons Hom eendag weer van aangesig tot aangesig sal sien.  En dit is juis wat geloof is.  Ons glo al sien ons nie… en ons glo omdat ons hoop het vir môre.  Daarom gaan ons ook vandag tegemoet met geloof, want God is reeds daar.

Monday, 4 June 2018

Wis uit / delete


Romeine 10 : 17  Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. 

Is negatiewe gedagtes besig om jou potensiaal te ondermyn?  Dalk is dit tyd om die uitwis (delete) knoppie te druk. 

Sogenaamde kundiges mag jou dalk ingelig het dat dit onmoontlik is of hoe dit nie sal werk nie, maar hulle weet nie wat God vir jou in gedagte het nie.  God alleen het die finale sê.  Hy sou nie ‘n droom in jou hart geplant het as hy nie ook vir jou die nodige deure sal oopmaak of ‘n weg sal baan sodat jou droom bewaarheid kan word nie.

Dis tyd om jou doof te hou vir die doemprofete.  Wis hul ontmoedigende woorde en negatiwiteit uit.  Wis die negatiewe rapporte uit.  En as dit weer terugkom, herhaal die aksie.  Wis uit / Delete, wis uit / delete, wis uit / delet.  En elke keer as jy dit uitwis, vervang dit met ‘n belofte uit God se Woord totdat jy jou oorspronklike sagteware terug het.  

Niemand word gebore met ‘n negatiewe gesindheid nie.  As baba het jy nie opgegee totdat jy kon kruip, opstaan en loop nie.  Jy het aangehou, maak nie saak hoeveel keer jy lomp platgeval het nie. Jy is dus ‘n wenner.  Jy het dit in jou. Jy kan!  Jou sagteware is so geprogrammeer, maar oor tyd is dit deur die virus van negatiwiteit besmet.  So hou aan om negatiwiteit uit te wis, totdat jou geloof sterker as jou twyfel is.

Wie ookal vir jou vertel het dat jy dit nooit sal maak nie… dat jy dit nie in jou het nie… dat so iets jou nie beskore is nie… dat jy altyd ‘n looser sal bly… dat dit net by drome sal bly… dit het nooit van God af gekom nie. 

Moenie toelaat dat andere jou toekoms bepaal of ‘n limiet op jou vermoëns plaas nie.  Wis die verkeerde gedagtes uit en glo die Woord van God.  Omarm die seen en oorwinning wat Hy vir jou in gedagte het.

Sunday, 3 June 2018

God mors nie


Johannes 6 : 12  Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

Hier word vertel van ‘n keer toe Jesus ‘n skare van vyfduisend (en dit was net die mans) met vyf broodjies en twee vissies gevoed het.  Hy het dit geseën en vermenigvuldig.  Daardie dag, nadat almal genoeg geëet het, was daar nog twaalf mandjies vol brood en vis oor.

Wie sou nou omgee as daar kos rondgelê het;  daar was immers meer as genoeg.  Nee, Jesus vra dat hul die oorskiet optel sodat niks gemors word nie.  Baie mense lees hierdie verhaal en natuurlik is hul beindruk en onthou hul hoe die bietjie kos vermeerder is, maar min mense besef dat God ons nog ‘n les leer.  Dat hy nie daarvan hou om enige iets te mors nie.  God gebruik alles, maak nie saak hoe min dit is nie.  Met God is niks ooit klaar nie.  Hy sal nooit ‘n geleentheid verbrou nie.  Hy sal nooit sommer net iemand laat seerkry nie.  Hy sal nooit ‘n droom plattrap nie.  Hy sal nie eens ‘n krummeltjie weggooi nie.

Dalk voel jy of jy jare lank gemors het in die verkeerde verhouding of werk.  Miskien voel jy dat jy jare vermors het deur ydel plesier.  Dalk voel jy asof jy jou tyd gemors het met verkeerde vriende.  Dalk voel jy asof jy jou swaarverdiende geldjies mors, want jy het nooit enige iets om weg te sit nie.

Kyk wat doen God.  Hy neem die vis en broodjies by die seuntjie, iets wat niemand gedink het op daardie stadium enigsins genoeg sou wees om ‘n skare te voed nie.  Net so sal God ook die verlore jare, verlore geleenthede, verlore inkomste neem wat die vyand van jou probeer steel en dit tot jou voordeel aanwend. Al dink jy jy’t jou tyd gemors, moet jy besef dat niks ooit ‘n mors van tyd is wanneer God ingryp nie.

Moenie vandag mismoedig voel nie.  Hy is jou Voorsiener en hy sal nie toelaat dat ‘n krummeltjie van jou lewe gemors word nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...