Monday, 2 July 2018

Leef soos 'n nuwe mens


Efesiërs 4 : 24  Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê.

Partykeer is ons gedagtes nie edel nie.  Die feit dat ons daardie gedagtes nie hardop uiter nie, maak hul nie meer edel nie.  Bitterheid, skeltaal, vloek, haat…

Realiteit is dat jy word wat jy dink.  Genadiglik is daar vir ons hoop.  As God ons verander het, is ons nuwe mense.  Dan leef ons volgens Sy wil.  Dan is daar nie meer haat binne ons nie, ons is nie meer bitter nie, ons koester nie meer ‘n wrok nie en ons gaan beslis niemand vloek nie.

Jy kan nie nuwe klere aantrek alvorens jy nie die ou klere uitgetrek het nie.  Met hierdie analogie  praat ons nie hier van klere wat net bietjie na sweet ruik nie… ons praat van vuil klere wat jy net van ontslae kan raak.  Soms wil ons egter nie erken dat ons nog van daardie ou klere aangehou het onder die nuwe klere nie.  Jy gaan mos nou nie vuil klere terug in die kas hang of op die vloer los waar jy daaroor kan struikel nie.  Jy moet van daardie vuil klere onslae raak.

Daarom gaan ons die leuen aflê en die waarheid aanneem. Ons gaan nie kwaad bly en die duiwel ‘n houvas gee nie.  Die dief gaan ophou steel… die moordenaar moor nie weer nie… die persoon wat owerspel pleeg, is nie verder ontrou nie…

Ons stel onsself in om opbouende woorde en gedagtes te vestig.  Om die Heilige Gees te bedroef is beslis nie op ons agenda nie.  In vers 22 & 23 lees ons immers dat ons mekaar moet vergewe soos God ons vergewe het op grond van wat Christus vir ons gedoen het.

Sunday, 1 July 2018

Harde werk


Efesiërs 6:5  Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is.

Om sukses te behaal sonder om hard te werk, sal jou op die ou end soos ‘n mislukking laat voel.  Daarom is dit vir my so hartseer wanneer iemand nie op meriete in ‘n pos aangestel word nie en ek praat nie net van regstellende aanstellings nie.  Mense word ook aangestel na aanleiding van wie hul ken en ander is bloot goed om hulself te verkoop, al bly dit net by praat. 

Ek glo jy doen daardie mens ‘n onreg aan, want hy/sy weet hoekom hul daardie pos gekry het en hul kan nie daaroor goed voel nie.  Niks kan erger wees as om in ‘n posisie te wees en nie oor die nodige ervaring en agtergrond te beskik om 'n beduidende bydrae te lewer nie.  Jy is 'n blote passasier.

Daar is nie kortpaaie na die toppunt van ‘n leer nie.  Jy moet elke sport gebruik om jou te lig na die volgende een.  As jy nooit elke faset van die besigheid deurgemaak het en daarom kan weet presies wat aangaan nie, hoe kan jy ooit besluite neem wat sin maak?  Gaan mense jou besluite respekteer?  Gaan hulle jou respekteer?

Werk op sigself het niemand nog ooit enige skade aangedoen nie.  Harde werk nog minder.  Dis deel van die groeiproses.  Dis die sporte van die leer na bo.

Dan, en dan alleen kan jy die uitsig van bo geniet en waardeer.  Dan kan jy met trots terugkyk op die pad wat jy van die onderpunt tot by die heel boonste sport afgelê het.  Dan weet jy dat jy verdien om te wees waar jy is.  Jy was nie ‘n passasier nie; jy het jou sukses verdien.

Die vraag is of jy gaan nee sê as jy bevorder word bo iemand wat dit meer verdien as jy?  Gaan jy groot genoeg wees om te sê dat jy nie ‘n “token” aanstelling wil wees nie, maar dat jy bereid is om te leer en jouself te bewys totdat jy goed genoeg daarvoor is deur eerlike, harde werk.

Nothing worthwhile comes easily. Work, continuous work and hard work, is the only way to accomplish results that last.  Hamilton Holt

Thursday, 28 June 2018

Gee dit vir Hom


1 Petrus 5:7   Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

It is easier to be wise for others than for ourselves - Francois De La Rochefoucauld

Het jy al ooit jouself betrap dat jy raad uitdeel aan almal rondom jou.  Jy gee raad aan jou kinders, jou man/vrou, jou vriend(in), jou kollega… Of hul jou raad volg of nie, jy gee dit in elk geval.  

Hoekom is dit so maklik om ander se probleme uit te sorteer, maar vir jou eie het jy nie raad nie?  Nee, dis nie omdat jou probleme groter is nie, dit is bloot omdat jy meer objektief na ander se probleme kan kyk omdat daar afstand tussen jou en die probleem is.

Dis juis wat God van ons verwag.  Ons moet ons probleme by Hom laat.  Dit gee ons die geleentheid om na die probleem op ‘n afstand te kyk.  Van ‘n afstand is jy verwyder van die emosie en kan jy amper klinies na die probleem kyk.  Dit is in elk geval nie meer jou probleem nie… jy hoef nie meer nagte om wakker te lê en jouself siek te maak met bekommernis nie. 

Of die probleem verdwyn omdat dit nie meer so grotesk lyk nie, of God bewerkstelling ‘n perfekte oplossing.  Gee dit vir Hom.

Wednesday, 27 June 2018

Die toekoms


Spreuke 23:18  dan sal jy 'n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.

“The future is my canvas. Now I have to paint the right picture." -  Bryan C. Tschuor

Al ontvang ons almal dieselfde kleure en materiaal, sal ons prentjies verskil as ons ‘n opdrag sou kry om iets te skilder.

Een haal van die verfkwas na die ander (dag na dag), een kleur gemeng met ‘n ander (ervarings), verskillende tegnieke (geleenthede)…

Elke dag neem ons prent meer vorm aan.  Soms verlaat die muse ons en ander kere kan ons amper nie die kwas neersit nie.  En soos elke kunstenaar se skildery ‘n storie vertel, so neem die storie van ons lewe ook vorm aan.

Hoe lyk jou doek (lewe)?  Het jy die prent voltooi of halfpad opgegee?  Is dit kleurvol, abstrak, donker?  Dalk is jou doek relatief kaal.  Miskien is jy ‘n ervare kunstenaar en is die eindproduk ‘n lus vir die oog.

Vandat ons die wêreld inkom, is ons deel van die toekoms.  Dinge gaan skeef loop en ons gaan moedeloos word, maar ons moet altyd ons oog gerig hou op die toekoms.  Met die toekoms in gedagte is daar altyd hoop.  Jy kan nie hoop en nie ‘n toekoms sien nie.

Tuesday, 26 June 2018

Wat jy ookal doen


1 Korintiërs 10 : 31  Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.

Volgens die slim mense neem ons gemiddeld 23 000 asemteue elke dag.  Wanneer laas het ek of jy God gedank daarvoor, al is dit net vir een van daardie asemteue?  Ons is geneig om God te dank vir daardie dinge wat ons asem wegslaan, maar nie vir die asem wat ons daarvoor nodig het nie.

Die teks is een van net twee ‘wat ook al’ verse in die Bybel.  Die ander vind ons in Kolossense 3: 23 Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

Ons kla so maklik oor ons werk, maar is dit nie ook iets waarvoor ons sal dankbaar wees as ons daaraan dink dat ons dit vir God doen nie? Ons wil almal hou van die werk wat ons doen en die werk doen waarvan ons hou, maar partykeer bevind ons ons in ‘n ideale beroep met minder ideale base / bestuurders / toesighouers / eienaars.  Of dalk voel jy jy word nie waardeer nie… of jy word nie genoeg betaal nie…

Om ‘n werk te hê is ‘n gawe uit die hand van God ennog ‘n rede tot dankbaarheid is dat jy eintlik vir God werk.  Doen daarom jou werk asof vir God.  As Hy met jou bydrae tevrede is, doen jy dit met volle oorgawe en na die beste van jou vermoë.



Monday, 25 June 2018

God se besluit


Ester 5 : 2  Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.

Ons wonder soms hoekom God sekere mense roep.  Ons kyk na hulle met ons menslike oordeel en beperkte visie en bevraagteken God se oordeel.  Regtig, God, hoe kan U hom/haar gebruik.  Kyk hoe lyk hul lewe!

God het ‘n tiener genaamd Ester geroep om die Joodse nasie te red.  Sy het in geloof opgetree en die koning ongenooid genader, selfs al was dit teen die reëls en kon sy met haar lewe boet.

Wat ons nie besef nie, is dat God in die agtergrond besig was omdat Hy ‘n groter plan in gedagte gehad het.  Hy het die weg vir Ester gebaan om die werk te doen waarvoor Hy haar geroep het.  En so is daar vele voorbeelde van onwaarskynlike mense wat God gebruik het.

Rut was ‘n nie-Jood.  Omdat God ‘n plan vir haar lewe gehad het en haar hart oop was vir Hom, het sy met Boas getrou; ‘n welgestelde man.  Die onmiddellike voordeel was dat sy versorg was.  Dit was God se guns en seën en uiteindelik deel van Sy groter plan.  Uit daardie huwelik is Dawid gebore, deel van die stamboom waaruit Jesus Christus eendag gebore sou word.

Dit is beter dat ons nie God se keuses bevraagteken nie.  Glo my, niemand sal in Sy diens staan as Hy hul nie daar wil hê nie.  Hy kan so iemand met een oogknip verwyder.  Ons ken net ten dele, maar eendag sal God se plan vir ons duidelik wees.

As jy so iemand is wat in God se diens staan en jy moet elke dag kritiek verduur, moet jouself nie verduidelik of jou posisie regverdig nie.  Wees jy net gehoorsaam en doen waarvoor jy geroep is.


Sunday, 24 June 2018

Dwaasheid


Spreuke 12 : 15  In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad

As jy dink jy weet alles, sal jy die geleentheid mis om iets nuuts te leer.  As jy dink jy weet beter, mis jy die geleentheid om van iemand te leer wat wel meer as jy weet.  Realiteit is dat so 'n rigiede denke, geen ruimte vir jou laat om jou horisonne te verbreed nie.

Dit is hoekom Jesus so hard op die Fariseërs was.  Hulle was nie ontvanklik vir Sy leringe nie…

Wetenskaplikes gebruik ‘n mikroskoop om byna onsigbare mikro organismes daaronder te vergroot sodat hulle dit kan sien.  Party van ons het nie eens 'n mikroskoop nodig nie.  Ons het sommer van nature 'n mikroskopiese uitkyk op die lewe.  Ons blaas dit wat op die mikroskoop se plaatjie lê op en omdat ons dan op 'n baie klein deeltjie fokus, mis ons die groter prentjie.

‘n Geslote brein sal nooit ontvanklik wees vir ‘n goeie idee nie.  Elke situasie is eintlik ‘n geleentheid… dit hang net af hoe jy daarna kyk, maar ‘n geleentheid kan nie in jou skoot val, as jou skoot nie reg geposisioneer is nie.  Ons fokus is dikwels heeltemal verkeerd en dan is ons boonop te hardkoppig om dit te erken.

Dit veroorsaak dat ons nie net geleenthede mis nie, maar ook op verkeerde plekke soek.  Dit is ook hoekom ons reg ingestel moet wees op God.  Ons kan nie op ons eie insigte staatmaak nie.  Ons is nie alwetend nie, ons is en bly afhanklik van God.  Dalk stuur God iemand vandag oor jou pad om deur hul met jou te praat en jy hoor dit nie, want jy is nie ingestel op God se stem nie. 

Mag jy vandag hier lees met ‘n oop gemoed en groot genoeg wees om te erken as jy tot nou toe op ‘n dwaalpad was… as jy gedink het jy weet beter… te hardkoppig was om na wyse raad te luister… of die stem van God geignoreer het.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...