Thursday, 30 July 2015

Besigheid

Jakobus 1:11  Want wanneer die son begin skyn en dit word baie warm, dan word die veldblomme droog en hulle val af en die mooi blomme is nie meer daar nie. So is ’n ryk mens en sy besigheid, hy sal verdwyn soos ’n veldblom.

Om in vandag se sakewêreld te oorleef, is nie maklik nie.  Kompetisie is oral.  Een oomblik het jy nog ‘n briljante idee en die volgende oomblik betree iemand anders die mark, en bied dieselfde produk of diens aan teen ‘n laer prys.

Indien jy en jou besigheid wil oorleef, moet jy vinnig besluit.  Kan ek my pryse verlaag?  Waar kan ek koste besnoei?  Wat kan ek doen om seker te maak ek behou my markaandeel en vergroot dit?  
Om alles te kroon, betree meer en meer mense die sakewêreld omdat hul geen ander keuse het nie.  As jy jou werk verloor of nie kan werk kry nie, moet jy innoverend begin dink en uitspring om ‘n inkomste te genereer. 

Christene is, of raak, ook deel van hierdie omgewing.  Gaan jy jou Christenskap en waardes volhou terwyl jy probeer oorleef, of gaan jy dit prysgee, of net so ‘n bietjie aanpas om seker te maak jy oorleef?  Die sakemense met wie ek te doen gehad het en wat hul Christenskap bely het, het my ongelukkig nog meeste van tyd ontnugter, want baie gou kom jy agter dit is net lippetaal. 

Indien jy jouself in hierdie ‘cut-throat’ omgewing bevind, bid dat God jou sal help om so sake te doen dat dit Hom tot eer sal strek.  Gee aan die keiser (belasting) wat hom toekom en moenie mense indoen of tenakom nie.  Dit gaan verseker nie maklik wees nie, maar dink ‘n bietjie oor hierdie teks.  Kan die sukses in besigheid jou ‘n plek in die hiernamaals verseker?  Nee!  Kan jy deur jou besigheid en die manier waarop jy sake doen vir jou ‘n plek verseker?  Beslis. 


Maak vandag ‘n verskil in die sakewêreld.

Wednesday, 29 July 2015

Draai terug

Kronieke 7:14 en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

Op ‘n stadium het ek ‘n program oor verskillende dorpe in Suid-Afrika aangebied.  Wat my opgeval het, was dat menige dorp sy ontstaan rondom ‘n kerk gehad het.  Mense sou op ‘n plaas ‘n dorp stig en byna die eerste gebou wat opgerig word, is die kerk.  En so groei die dorp.  Die kerk word die gemene deler wat die gemeenskap saamsnoer.

Pasella, Mooiloop en Kwêla besoek ook dikwels die kerke in die dorpe wat hul besoek.  Vlug na Egipte het ‘n pragtige skoot van die kerk in die middel van die dorp wanneer die program begin. 
Volgens berigte in die media, loop kerke leeg.  Oor die jare het luisteraars met my gedeel dat hul nie meer kerk toe gaan nie (om verskeie redes), maar dat die Christen Radiostasies hul kerk geword het.  Almal is welkom.   Niemand oordeel jou nie, so jy voel  tuis. Jy hoef nie aan te trek nie en ook nie eens jou huis te verlaat nie.

Dit het my laat wonder of dit nie is waar die probleem in ons land lê nie?  Die kerk het nie geskuif nie; God ook nie.  Om die waarheid te sê, geestelike voedsel was nog nooit so vrylik beskikbaar soos vandag nie… Tydskrifte, Radio, Geestelike literatuur, TV, epos, internet, blogs…  Tog is daar min dade/optrede van Christenskap wat ek aanskou.  Mense is bang… hulle twyfel… soek hulp by sielkundiges…

Wat dan impliseer dat ons nie meer die kerk en God as die middelpunt van ons lewens sien nie.  Hoe kan ons verwag dat dit beter gaan in ons land as ons nie terugkeer na God nie?  Om die atmosfeer in die kerk, die weer, moegheid of die dominee se vermoëns te blameer is net om ons gewetens te sus.  Indringende selfondersoek is nodig. 

Is die kerk en God die middelpunt van jou bestaan?

Tuesday, 28 July 2015

Dankbaarheid

Psalm 142:8  Bevry my uit my gevangenskap, dat ek u Naam kan loof.

Wanneer ons na iemand se welstand verneem, is dit of ‘n retoriese antwoord “goed dankie”, of ‘n klaaglied.  Bitter min mense sal antwoord dat hul groot rede tot dankbaarheid het. 

Toegegee, elke dag bring sy eie uitdagings en as jy ‘n moeilike tydjie agter die rug het, is dit normaal dat dit op die voorgrond van jou gedagtes is.  Elkeen van ons kan egter besluit of ons die glas as half vol, eerder as half leeg wil sien.

Wanneer ons besluit ons lewensglasie is halfvol, sal ons die klein dingetjies begin raaksien wat ons rede tot dankbaarheid gee.  Die psalmdigter stel ‘n voorwaarde… bevry my en ek sal U Naam loof.  Ons kan God loof terwyl ons in gevangenisskap is, hetsy letterlik of figuurlik.  Om God te prys te midde van jou omstandighede, is ‘n wilsbesluit.  Dit lei ook jou aandag af van dit wat jou neerdruk. 


‘n Dankbare hart is een manier om vir God te wys dat ons getrou bly al druk die lewe ook vir ons dat ons oë traan.  In plaas van vandag ‘n retoriese “goed dankie” te gee, eer God met jou antwoord.

Monday, 27 July 2015

Ek is swak

2 Korintiërs 12 : 8 – 10  Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Wanneer dit nie met ons goed gaan nie, bid ons gewoonlik dat God ingryp.  Ons wil ook hê dat Hy ons probleme moet laat verdwyn soos mis voor die son.

As God dan nie ingryp nie en bowenal sê:  “My genade is vir jou genoeg,” is dit asof ons dikmond eenkant wil gaan sit en onsself bejammer.  God wil ons nie help nie en nou sal ons maar in stilte moet ‘suffer’. 

Dikwels hoor ons net ‘n deeltjie van dit wat gesê word en kom dan tot ons eie gevolgtrekkings.  Ons mis die kern van die boodskap ook in die gedeelte.  Soms is dit vir God nodig om vir ons nee te sê.  Elke ouer weet dat ons nee sê omdat ons a.g.v. ervaring weet dat dit vir die kind se eie beswil is.  Met God is dit dieselfde.  Hy sê nee omdat Hy beter weet. Dan kan Sy krag tot volle werking kom. 

Wanneer ons erken dat ons swak is, dan is ons op die beste plek ooit, want dan word ons omvou deur God se beskerming. 

So die wêreld en al sy boosheid kan maar kom.  Ek, nietige en swak mens, is gereed vir enige beledigings, ontberings, vervolgings en moeilikheid, want God is my rots.  Platgeslaan deur die lewe is daar net een rigting om te kyk, en dit is op, na God.

Sunday, 26 July 2015

Moederhen

Psalm 91 : 2  “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

Vanoggend in die verkeer het ek ‘n motor gesien met die teks hierbo as registrasienommer.   Hierdie bestuurder weet waar hy/sy veilig is. 

Na wie toe vlug jy wanneer jy bang is?  Ons kan met almal praat en elke moontlike kontak uitput… op die ou end is God die enigste op wie ons werklik kan vertrou. 


Wanneer die ekonomie druk en die winde van verandering waai, dan wil ek hê jy moet weet dat jy jou na God kan wend.  Hy is die 'moederhen' onder wie se vlerke jy veilig kan gaan skuil en waar jy beskutting teen die aanslae van die lewe sal vind.  Anders as mense, sal God jou nooit in die steek laat nie.  Partykeer kom ons nie eens agter dat ons op mense vertrou, eerder as op Hom.  

As jy slapelose nagte beleef, verskuif jou fokus na God.  

Thursday, 23 July 2015

Seën vir jou

Numeri 6 : 24 – 26  Die Here sal julle seën en beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.

Vandag wil ek jou laat met hierdie seën.  Die woorde is kosbaar en net vir jou bedoel.

Wednesday, 22 July 2015

Neem die eerste tree in geloof

Jesaja 41 : 10  Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.  Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Israel was besig om deur ‘n uiters moeilike tyd te gaan.  Israel is God se geliefde volk.  Hy het hulle gekies en daarom sal Hy hulle ook nie versaak nie.
Iemand wat mishandel word, leef voortdurend in vrees.  Stadig maar seker word jou selfvertroue afgebreek.  Jy word van jou meswaardigheid ontneem en mettertyd glo jy selfs dat jy dit verdien.  Baie mense wat mishandel word, glo selfs dat hulle die oorsaak van die mishandeling is.  Hul wêreldjie krimp tot ‘n diep vallei van ongelukkigheid.   
Daar is egter ‘n lewe buite daardie vallei.  Ons hoef nie ons omstandighede te vrees nie.  Deur dit alles is God by jou.  Hy keur nie die mishandeling goed nie, maar Hy wil hê dat jy uitreik na Hom.  Hy sal jou help, jou vashou en met sy eie hand red.  Soos Israel, het Hy jou ook gekies.

Neem die eerste tree in geloof.  Jy is dit aan niemand anders as jouself verskuldig nie.  God het baie meer vir jou in gedagte as dit waardeur jy tans gaan.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...