Sunday, 31 July 2016

Wat is die lewe?

Het jy al ooit ‘n staatshospitaal besoek?  Indien nog nie, wil ek jou uitnooi om dit te doen.  Daarna sal jy nooit weer kla oor die maandelikse tarief wat jy vir jou mediese fonds betaal wat sal verseker dat jy behoorlike mediese hulp kan kry as jy dit eendag nodig het nie.

Ek het die onbenydenswaardige ‘voorreg’ gehad om iemand daar te besoek.  Sommer nog voor jy instap, lyk dinge al verwaarloos.  Stap jy by ongevalle in, is daar massas mense wat wag.  Al weet jy nie waarheen om te gaan, is daar nie ‘n navrae of ontvangs nie.  Die wagtende pasiënte is jou enigste hoop.  ‘n Man beduie in die rigting van swaaideure.  “Mag en daar ingaan?” Hy beduie weer.  

Anderkant die deure lyk dit erger.  Die gange is skemerdonker en koud al skyn die wintersonnetjie ylweg buite.  Ek soek ‘n ontvangs of ‘n lid van die verpleegpersoneel.  Niks.  Ek hoor stemme verder in die gang.  Hier sit personeel en eet.  Ek vra waar ek die pasiënt sal vind.  Met ‘n mondvol hoender en vet wat by die mondhoeke uitloop, word ek gesê om in die gang af te gaan na die manssaal.  Ek draai verstom om.  Halfpad in die gang af skree ‘n manlike personeellid agter my aan dat ek deur die dubbeldeure en nog ‘n saal moet stap en dan die pasiënt sal vind.

Daar aangekom, lê die persoon in ‘n skoon bed.  Dis 14 grade buite.  Die persoon het ‘n agterstevoor hospitaal jurk aan.  Een van daardie komberse wat jou nie warm maak nie, lê opgerol eenkant en ‘n laken is al wat hom warm moet hou.  Bo sy bed hang ‘n leë drip.  Die pypie gaan nie in sy arm in nie, maar krul onder ‘n staalbedkassie sonder handvatsels in.  Die naald is steeds in sy arm.  Op die bedkassie is ‘n blink bakkie met ‘n naald en bloed in.  Langsaan staan ‘n plastiekhouer met ‘n spuitnaald en ‘n pienk vloeistof daarin.  Sy baard is lank.  Om sy mond ‘n oranje smeersel.  Oorskiet pampoen, hoor ek later.  Sy liggaam amper gelyk met die plastiek matras... maer, ondervoed.  Die mond ingesonke… van die valstande is daar geen teken nie.

Die oë vlieg verwilderd oop.  “Ek is dors… en honger.  Ek kry koud.  Dis verskriklik koud.  Ek stap uit en gaan soek op ‘n Saterdagmiddag ‘n oop winkel in ‘n dorp waar alles eenuur sluit.  Ek kry ‘n kombers en koop ‘n sappie met ‘n tuit soos wat kinders uit drink.  Terug by die hospitaal neem twee bewerige, benerige hande die bottel.  Ek help om dit tot by die lippe te kry.  “Here, dis lekker koeldrank, die.  Waar het jy dit gekry?”  Die tongetjie lek bewerig oor die lippe om elke druppeltjie in te neem.  Ek lig die laken op terwyl ek sy waardigheid probeer bedek, posisioneer die kombers en plaas die hospitaalkombers en laken bo-oor.  “Dankie,” word daar geprewel.  Ek bid dat niemand die kombers sal steel nie. 

Ons groet… albei wonder of ons mekaar weer sal sien.  Ek loop in ‘n waas van trane daar uit.  Die swaaideure waardeur ek sonder sukkel ingekom het, verg nou ‘n kaart om uit te kom.  Ek gaan soek ‘n personeellid om hul kaart te ‘swipe’.   Ek wil uit.  Ek wil die sonlig op my liggaam voel.  Ek wil bid… vir genade, maar ek weet nie of ek vir genesing moet bid nie.  Is die lewe binne daardie mure enigsins slegter as die lewe hier buite?

Is dit hoe iemand behandel word wat sy lewe lank gewerk het… altyd ‘n bydrae tot die samelewing gemaak het.  Ja, hy het foute gemaak wat die oorsaak is dat hy vandag in eensaamheid die dood inwag, maar is dit reg?


Thursday, 28 July 2016

Bly kalm

Eksodus 14 : 14 Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.

Dit is seker een van die moeilikste dinge om te doen.  Dit is amper asof ons geprogrammeer is om te reageer;  om iets te doen!  Ons kan eenvoudig nie niks doen nie.

Soms is dit nodig om stil te word en God volkome te vertrou.  Indien jy jouself vang dat jy wil ‘doen’, gebruik daardie tye om te bid.  Dit is al wat nodig is.  God is in beheer.  Hy is volkome in staat om die situasie te hanteer. 

Terwyl jy bid, dwing dit jou om te fokus.  Jou hele wese word op God gerig en gefokus.  Stadig maar seker kom alles in fokus.  Gebed klink na ‘niks-doen’ wanneer die wêreld om jou vergaan, maar dit is die kragtigste ‘daad’ wat jy kan verrig.


Onthou niks kan kers vashou met God nie.  Hy beskik oor al die mag en die krag wat jy nodig het om uit hierdie situasie te kom.  Hy het vir Josua die son laat stilstaan.  Vir Daniël het hy die leeus se bekke gesluit.  Vir Dawid het hy vernuf gegee om die reus te oorwin.  God sal vir jou deurkom.  Dink jy dit waardeur jy gaan is vir Hom onmoontlik?

Wednesday, 27 July 2016

Bevryding

Eksodus 6:12   Nogtans het die Here vir Moses en Aäron na die Israeliete en na die farao, die koning van Egipte, toe gestuur met die opdrag om die Israeliete uit Egipte te bevry.

Die vyand lê voortdurend op loer om jou vrede te steel.  As hy die kans kry, gaan hy jou toegooi onder ‘n juk van depressie, jou selfbeeld vernietig of bloot jou karakter ondermyn.   Wanneer hy eers ‘n houvas op jou het en daardie juk oor jou geposisioneer het, is die res maklik.  Nou beheer die vyand jou.  Al werk jy hoe hard, gaan jy nie suksesvol wees nie, want die juk beheer jou.

Miskien leef jy met so ‘n juk op jou lewe?  Miskien reken jy selfs dat die vloek oor geslagte heen aan jou oorgedra is.  Alkoholisme… beulemie… ‘n toestand as gevolg van jou gene…


God het vir die Israeliete gesê:  “Ek het gesien hoe my volk ly.  Ek kom om hul vry te maak.”  God sien elke onregverdige situasie.   Hy sien waarmee jy worstel en wat jou terughou.  Hy verlekker hom nie in jou situasie nie.  Hy is bereid om iets aan jou situasie te doen.  Hy kan en Hy gaan.  Roep Hom aan.  Vra Hom om jou te bevry van hierdie situasie.  Jy het nie nodig om alleen hierdie las te dra nie.  

Tuesday, 26 July 2016

Waar val jou saad?

Markus  4 : 8  Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.”

Ons hoor al meer van kinders wat geboelie word by die skool.  Een van my kollegas het in die week net by die werk aangekom, toe hy ‘n oproep van die skool kry.  Die skoolhoof het sy seun in die kantoor gehad waar hy hartverskeurend gehuil het omdat kinders hom gespot het.  Spot is ook boelie, want dit breek jou selfbeeld af.

Onlangse navorsing wat ek gelees het, skets ‘n hartseer prentjie.  Een man wat in sy 40’s is, uit ‘n gegoede huis kom, ‘n bogemiddelde IK het… wat volgens alle verwagtings moes presteer, sukkel het om ‘n werk te behou.  Met verhoudings het hy ook nie veel beter gevaar nie.  Hy was reeds 3 keer geskei. 

Tydens ‘n onderhoud het hy vertel dat hy as kind oorgewig was.  Kinders het hom as ‘n slaansak gebruik. Hulle sou gereeld ‘vettie’ en ‘loser’ koggel. Partykeer het hul sy kosbak afgeneem en dit gaan wegsteek. Hy’t later geweier om kos skool toe te neem.  Daardie woorde het iewers gaan vassteek en op die ou end het hy geword wat hulle van hom gesê het.

Ongelukkig steek woorde wat seermaak makliker vas as komplimente.  Dit was asof hierdie jongman vasgehaak het by daardie woorde. 

Woorde is saadjies.  As iemand iets negatief omtrent jou sê, vra jouself af of daar enige waarheid insteek.  As daar waarheid daarin steek, vra jouself af wat jy daaraan kan doen. Indien jy iets daaraan kan doen, doen dan iets daaraan. As jy geen beheer daaroor het nie, verwerp dit.  Indien daar geen waarheid daarin steek nie, vergeet daarvan.  Sodra jy daaroor begin dink en wonder, gaan dit wortel skiet en gaan jy sukkel om dit uit te roei.

Vind ook maniere om positiewe gedagtes vas te lê.  Skryf notatjies en plak dit op die spiëel.  “Jy is kosbaar.”  “Jy is perfek.” “Jy het mooi oë/mond/vel.”  “Jy’s geseënd.”  “Jy is ‘n wenner.”

Jy is dit aan jouself verskuldig.  Wees jou eie beste vriend en ondersteuner.  Wees lief vir jouself.  Binnekort sal jy sien hoe jou uitkyk of die lewe verander en jy sal ook agterkom dat ander se optrede teenoor jou gaan verander.

Monday, 25 July 2016

Eendag in die hemel

Matteus 6 : 10  laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

God wil graag vir jou ‘n idee gee van die hemel terwyl jy hier op aarde is.  Hy wil vir ons sy planne wys en hoe dit tot uitspeel in jou lewe.  God heers reeds in die hemel.  Daar is Sy wil outomaties.  Daar is geen teenstand, geen twyfel, geen vyand of enige iets anders Hom teengaan nie.  Op aarde word Sy wil in ons lewens volbring – eerstens wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanvaar en dan wanneer ons ons onderwerp aan Sy wil vir ons lewe, ons gedagtes, ons woorde en ons dade.  Elke dag stry ons ‘n stryd teen donker, maar ons moenie deur donker oorheers word nie. God is ‘n God van lig.  Laat Sy lig in jou lewe skyn en alle donker, negatiewe gedagtes bestry.

Soos wat jy jou hart oopmaak en God in nooi in jou lewe, kom jy onder Sy wil.  En wanneer jou wil in lyn met God s’n vir jou lewe is, het jy krag.  Dis dan wanneer jy ‘n klein kykie kry op wat die hemel eendag inhou.

Wat ‘n wonderlike manier om ons staande te hou te midde van moeilike tye.  Eendag gaan ons saam met God in die hemel wees… eendag gaan daar geen hartseer of swaarkry of trane meer wees nie.  Eendag… in die hemel.

Sunday, 24 July 2016

Tel jou woorde

Spreuke 10:19  Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig

Verhoudings is nie maklik nie.  Of dit nou ‘n liefdesverhouding is of’n verhouding tussen familie, dit bly kompleks.  Kort voor lank ruineer ons die verhouding deur woorde of dade.  Partykeer kan ons dit red, ander kere lei dit eenvoudig skipbreuk.  Verhoudings op enige vlak vereis harde werk. 

Gebrek aan kommunikasie word as die hoofoorsaak vir egskeidings aangevoer.  Ek wonder partykeer of ‘n gebrek aan kommunikasie werklik die oorsaak is.  Sal dit nie dalk beter wees as ons nie met woorde kommunikeer nie?  Woorde rig soveel skade aan. Of dalk moet ons leer om eerder stil te bly as ons nie iets opbouend kan sê nie.  Is dit regtig nodig om ‘n storie oor te vertel?  Moet ons altyd reg wees?


Laat ons hierdie week probeer om bewus te wees van elke woord wat uit ons mond kom.  

Thursday, 21 July 2016

Die krag van verbeelding

Spreuke 4 : 23   Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Verkoopskonsultante het die geleentheid om vir hulself naam te maak.  As jy suksesvol is, is dit die beste plek om te wees, want jy word raakgesien.  Daar is ook gewoonlik baie aantreklike aansporings pryse.  So het ek een keer die geleentheid gehad om vir ‘n oorsese reis te kompeteer.  Die wenners en hul maats, sou sewe dae in Mauritius gaan ontspan.  Vandat die oomblik dat die kompetisie aangekondig is, het ek gesê:  “Ek gaan wen.”  Om my te motiveer het ek ‘n eilandtoneel as ‘screen saver’ op my rekenaar gehad.  Elke dag as ek my rekenaar aanskakel het die eiland prentjie my herinner aan my doel.  Dit was ‘top of mind’. 

Ons verbeelding is ontsettend kragtig.  God het ons geskep as viuele wesens.  Om die regte beelde voor jou geestesoog op te roep, veroorsaak dat jy beweeg in die rigting van jou mees dominante denke.  Dit wat jy voortdurend sien, verskuif later na jou hart en eventueel word dit ‘n realiteit. 
Stel jou nou voor dat jy die beeld oproep wat God van jou het.  Dieselfde beginsel geld. As jy aanhoudend oor jouself dink soos wat God oor jou dink, gaan jou lewe in daardie rigting beweeg.  Kry jougedagtes in lyn met God se Woord en mediteer daarop sodat jy meer en meer daardie beeld kan oproep wat Hy van jou het.  Sien elke oggend hoe jy daardie dag sukses gaan behaal.  

Terloops, ek het die kompetisie gewen en sewe wonderlike dae in Mauritius saam met my man en die res van die wenners deurgebring.  Alles is vir ons betaal en ons het soveel sakgeld gekry dat ons dit nie eens kon opgebruik nie.  Ons het die mooiste herinneringe teruggebring, maar bo alles het ek die krag van visualisering ontdek. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...