Wednesday, 31 October 2018

Base


Efesiërs 6 : 7  Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.

Stel jou voor jy is ‘n slaaf.  Jou werk is fisies en uitputtend… lang ure, geen vergoeding… geen erkenning nie… daar word elke dag meer en meer van jou verwag en jy word gestraf vir die kleinste misstap.  Jy besit niks en daar is geen vooruitsigte vir ‘n beter toekoms nie.  Elke dag is so uitsigloos soos die volgende.

Dit is hoe baie mense voel oor hul baas of werk in vandag se tyd.  Dit is hoekom ons soveel stakings en ongelukkigheid het.  Mense voel hul sit alles in, maar word nie na waarde geag of betaal nie.  Hulle sien hoe die baas rondrits, weer in ‘n nuwe motor ry, die duurste en mees modieuse klere dra, geld rondgooi… en hul leef van die hand na die mond.

Is stakings die antwoord?  Is geweld die antwoord?  Is dit hoe God dit sou hanteer?  Ek weet dit is nie wat jy wil hoor nie, maar dit is nie wat Hy van jou verwag nie.  Hy wil hê dat jy jou werk met lus doen, asof vir Hom.

Sal dit nie jou uitkyk op jou werk verander nie?  Wanneer jy besef dat jou werk, hoe nederig ookal, ‘n taak is wat jy vir God doen, dan glo ek dat jy dit na die heel beste van jou vermoë sal doen, want vir Hom is net jou beste goed genoeg.  Jy gaan nie oproerig raak oor jou inkomste nie, want God het beloof Hy sal voorsien en Hy sal.

Ons beloning sal ons heel waarskynlik nie hier op aarde ontvang nie.  Die lewe is onregverdig en sommige mense kom weg met alles, maar fokus jy net op God, nie op mense nie.  God plaas ons vir ‘n rede op ‘n bepaalde plek.  Hoe ons dit hanteer is wat God sal wil sien.

Tuesday, 30 October 2018

Gesindheid


Filippense 2 : 5  Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Watter gesindheid het Christus Jesus gedemonstreer?  Hy was ‘n lewende voorbeeld van iemand met ‘n positiewe gesindheid.  Hy het omgegee, nie Homself eerste gestel nie, ander se belange op die hart gedra, mense gehelp en genees, Hy het hoop gebring in ‘n stukkende wêreld, die hoogste prys betaal vir jou en my.

Ons gesindheid is die enigste iets waaroor ons werklik beheer het.  Jou gesindheid kan jou ook terughou in die lewe.  Dalk is jy iemand wat van nature negatief is.  Jy sien altyd die donker kant.  Jy verwag altyd die ergste.  Jy is die een wat altyd besware opper of verskonings maak.  Jy het selde iets goeds te sê oor andere.  Die glas is altyd half leeg vir jou.

Hier is vir jou iets om te probeer.  Plak vir jouself positiewe woorde of sinne op oral in jou huis en/of kantoor, motor, werkswinkel, plaasskuur...  “Vandag gaan ‘n fantastiese dag wees…   Ek is toegerus met alles wat ek nodig het om ‘n sukses te wees…  Ek weet sommer dit gaan werk… Daar is altyd hoop… Ek kan alles oorwin, want Christus gee my die krag…Vandag gaan ek ‘n verskil in iemand se lewe maak…”  Wees bedag op negatiewe gedagtes en as hul jou pad kruis, vervang hul met ‘n positiewe gedagte. 

En omring jou met positiewe mense.  Negatiewe mense tap jou.  Positiewe mense lig jou op.
Ons gesindheid is ‘n keuse en daardie keuse kan die katalisator wees wat ons lewe in ‘n rigting van voorspoed of voortdurende ongelukkigheid stuur. 


Thursday, 25 October 2018

Smag na God


Psalm 42 : 2 – 3  Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.  Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?

Here God, soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U.  Ek het ‘n ewige dors na U.  Ek weet U is ‘n lewende God wat gister, vandag en môre dieselfde is.  Ek weet dat ek op U kan vertrou.  Ek weet dat U liefde onfeilbaar is.

Vandag staan ek voor U en ek stort my hart teenoor U uit.  U ken die hartseer en pyn.  U ken die mismoedigheid en magteloosheid binne my, maar U ken ook my hart.  U weet dat ek op U vertrou.  Al my pyn, al my behoeftes, al my lyding bring ek na U.  Ek lê dit voor U voete, Heer.  U sê dat ek al my bekommernis op U moet werp.  U sê dat ek nie kry omdat ek nie vra nie.  Here, vandag vra ek sonder skroom... Ek het U nodig, Here.  Ek het Goddelike ingryping nodig.  Ek het ‘n bonatuurlike deurbraak nodig… Here, red my uit.

U Woord is vol beloftes, Here.  U Woord is vol getuienis.  Ek beroep my op dieselfde God van Die Bybel, want ek weet dat niks vir U onmoontlik is nie.

Here, U kan my trane afvee en my ‘n nuwe toekoms gee.  U kan my weer ophef.  Dit wat deur mense gebreek en vertrap is, is vir U steeds kosbaar. 

Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.

Wednesday, 24 October 2018

God kan jou huwelik red


Maleagi 2:16 Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Moses lei die Israeliete uiteindelik uit Egipte.  Na jare van slawerny, smaak hul uiteindelik vryheid.  Die swaarkry lê agter hulle en ‘n nuwe Beloofde land iewers voor hulle.  Wonderlik!  Amper soos ‘n feëverhaal… en hul het lank en gelukkig saamgeleef vir die res van hul lewe.

Wanneer mense in die huwelik tree, glo hul ook dat hul dit net tot voor die kansel moet maak, dan sal alles honkiedorie wees.  Ongelukkig is dit baie ver van die werklikheid verwyder.  Geen huwelik is sonder uitdagings nie.  Daar gaan tye kom dat julle nie baie van mekaar gaan hou nie.  Dit beteken nie dat jul nie meer lief is vir mekaar nie, maar net dat jy nie saamstem met dit wat jou maat doen of hoe hy/sy optree nie.  Dalk is jul huweliksbootjie op die oomblik in stormwaters.  Een ding het tot ‘n ander gelei en skielik is jul vreemdelinge vir mekaar.  Julle dink daar is nie hoop nie, egskeiding is die enigste oplossing.  En dit breek jou hart, want jy wil nie skei nie.  Jy wil jou huweliksbeloftes gestand doen.  God ken jou hart.

Moses en die Israeliete loop hul vas in die Rooisee en agter hul is bloeddorstige Egiptenare met ‘n hele leërmag op pad.  Daar is nie veel hoop nie.  Dit is nou as jy vanuit ‘n menslike oogpunt daarna kyk.  Maar… God bevind Homself nooit in ‘n hoekie nie.  Hy het altyd ‘n plan.  Geen mens sou gedink het dit is moontlik om ‘n pad deur die see te maak nie. 

God kan ook ‘n spreekwoordelike pad deur die see vir jou en jou huweliksmaat maak.  God kan ‘n stukkende huwelik weer heelmaak en wat meer is, daardie huwelik kan beter as ooit tevore wees. 

Ons mag nie opgee nie.  Ons mag nie die belofte wat ons voor God afgelê het ligtelik opneem en verbreek nie.  Neem die stukke na God en kyk hoe hy uit daardie splinters ‘n pragtige mosaiek maak.

Tuesday, 23 October 2018

Geen aftrede vir jou nie


Genesis 18:11  Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring,

Omdat Suid-Afrika se werkloosheidsyfer so hoog is, moet meer en meer ouer mense plek maak vir die jonger generasie.  Mense tree dus al vroeër en vroeër af.  Aftrede klink na Eutopia, maar dit het sy eie uitdagings waarop ons selde voorbereid is.

Dit bly vir my hartverskeurend dat mense in die fleur van hul lewe ‘oorbodig’ verklaar word.  Dat hul dan sukkel met ‘n minderwaardigheidskompleks en voel dat hul geen waarde meer tot die samelewing kan byvoeg nie.  Koningin Elizabeth is in haar 90’s en steeds op die troon as monarg.  Menige staatshoof kom aan bewind op ‘n hoë ouderdom en hul neem belangrike besluite wat die res van die wêreld raak. 

Nêrens in die Bybel vind jy die woord ‘aftrede’ of pensioen nie.  Dit bestaan nie in God se realm nie.  God kyk nie na jou ouderdom nie.  Hy weet Hy het jou gemaak… perfek geskape, uniek en volkome toegerus. 

Indien jy iemand is wat oortollig verklaar is, verplig was om vroeër af te tree of aftreeouderdom bereik het en nou voel jy weet nie meer wie jy is of wat die toekoms inhou nie, moenie moed verloor nie.  God het ‘n plan met elkeen van ons se lewe.  Vir die wêreld mag jy dalk om watter rede ookal eenkant toe geskuif word, maar God het ‘n pos vir jou.  Hy het jou nodig.  Hy wil jou gebruik.  Hoe Hy jou gaan gebruik, sal vir elkeen van ons verskillend wees, maar wat ek wel weet is dat jy nie nou op jou louere kan sit en rus nie.  Daar is werk om te doen en jy is die suksesvolle kandidaat.  

Wat geld aanbetref, mag die betaling dalk nie watwonders wees nie, maar jou loon sal jy kry  in die hiernamaals.  Terloops by God is daar ook nie posbenamings of posvlakke nie.  Daar bestaan geen hierargie nie.  Almal is ewe belangrik.  En elkeen se bydrae is kosbaar en onmisbaar.

God het hom nog nooit aan ouderdom gesteur nie.  Sara was ver verby die ouderdom waar vrouens kinders baar en tog het sy met Isak swanger geraak.  Dawid was die jongste en tog het God hom uitgekies.  God is om die minste te sê onkonvensioneel. 

Dit is juis hier waar die opwinding lê, want dink net wat God vir jou in stoor het.

Monday, 22 October 2018

Bly hoop


Numeri 23:19  God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?

Wat gebeur wanneer jy bid en bid en bid, maar niks gebeur nie?  Gee jy moed op?  Dink jy God hoor jou nie? 

Die Engelse spreekwoord lui:  “When the going gets tough, the tough gets going.” Dis juis wanneer jy meer moet bid.  Bid is oefening, oefening wat geloofspiere bou.  Dit gee jou die krag om aan te hou en deur te druk. 

Die feit dat die son nie op ‘n reënerige dag skyn nie, beteken nie die son is weg nie.  Die son is steeds daar bo die onweerswolke al kan ons dit nie sien nie en een of ander tyd, breek die son se strale deur daardie donker wolke. 

Een ding wat die vyand weet, is dat twyfel jou aandag van God sal aflei.  Al wat hy moet doen is om jou te laat wonder of God enigsins hoor waardeur jy gaan?  Hy laat jou onthou van sondes waarvoor jy lankal vergeef is, maar nou wonder of dit nie dalk is hoekom God nie antwoord nie.  Die vyand veroorsaak dat jou probleem buite proporsie opgeblaas word totdat jy dink dat dit selfs vir God onmoontlik is om iets aan jou situasie te doen.  Al wat nodig is, is om jou aan jouself en God se vermoëns te laat twyfel.  Hy skep afstand tussen jou en God en sodoende voel jy van God verlate en alleen in jou stryd. 

As jy nie biddend bly nie, gaan die vyand slaag in sy doel.  Onthou, hy is ‘n dief en ‘n leuenaar.  Hy’t gekom om te roof en te steel.

God lieg nie.  Hy is getrou.  Daar het nog nie een woord uit Sy mond gekom wat nie volbring is nie.  Elke belofte is volbring en die laaste belofte sal Hy ook gestand doen wanneer Jesus terug kom om Sy kinders te kom haal.

God het ‘n manier om jou te bereik met die regte boodskap op die regte tyd.  Hy weet hoe om jou aandag te kry en wat jy moet hoor.  Jy mag dalk dink jy’t die einde van jou kragte bereik, maar God hef jou op.  Hy vul jou met nuwe krag.  Hy gee jou arendsvlerke.  Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou die krag gee.

Jy is nie ‘n mislukking nie.  Jy is ‘n oorwinnaar in God.  Vir Paulus en Silas het God die tronk se deure oopgemaak deur ‘n aardbewing.  (Hand 6 : 26).  Hoekom?  Want in vers 25 was die twee besig om te bid en God te loof ten spyte van hul omstandighede.  Wie van ons sou gesing het nadat ons geslaan is en ‘n houtblokke vasgeklem is?  Hierdie twee manne se omstandighede het nie juis rooskleurig gelyk nie, maar hul het onwrikbaar in God bly glo.

Moenie vandag op moedverloor se vlakte bly sit nie.  Begin lofprysings sing… hou aan bid.  Wanneer die nag op sy donkerste is, breek die daglig deur.  Ander mag dalk dink dis neusie verby met jou, maar God sê:  “Nie as dit van My afhang nie.  Ek gaan my kind te hulp snel.  Niks is vir My onmoontlik nie.”

Vandag is die begin van die res van jou lewe.  Dis ‘n nuwe begin.  Dis ‘n nuwe seisoen met nuwe geleenthede en guns.


Wednesday, 17 October 2018

Doen iets!


Jakobus 2:17  So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Om te glo is nie genoeg nie.  Ons moet ons moue oprol en ons hande vuilmaak.  Hoekom?

Dit is maklik om op ‘n afstand na mense te kyk wat swaarkry.  As jy op die nuus hoor van ‘n tragedie soos die onlangse tsunami in Indonesië, raak dit jou nie juis nie.  Daar is afstand… dis net beelde op televisie… hulle is niks van jou nie. (behalwe dat ons vergeeet hul is ons naaste)

Sou jy egter daar wees, sou dit ‘n hele ander situasie gewees het.  Jy sou die dood kon ruik.  Jy sou mense kon hoor huil of kerm.  Jy sou nie net kon staan en kyk, omdraai en wegloop nie.

Ghandi is baie bekend vir sy stelling dat jy nie kan oordeel as jy nie in iemand se skoene gestap het nie.

Sou jy nog apaties kon wees teenoor haweloses as jy tyd saam met hulle op ‘n koue Wintersnag onder ‘n bos of brug sou deurbring?  Sou jy hul nog as ‘n probleem gesien het as jy hul stories gehoor het… kinders wat verwaarloos of misbruik word, kinders wat selfs weggejaag word… Mense wat alles verloor en niemand het om hul na te keer vir hulp.  Dink jy regtig dat enige iemand uit eie vrye wil sonder heenkome wil wees, sonder sekerheid oor waar jou volgende maaltyd vandaan gaan kom… blootgestel aan ander se veroordelende oë, selfs skeltaal?

Elke dag raak die nood groter.  Mense wat nooit gedink het dat hul hulself in soortgelyke omstandighede sou bevind, is nou daar. 

Ons moet inspring en help.  Ons moet die geleentheid gebruik om mense te laat sien hoe dit sou wees as Jesus hier was.  Ons moet die hande en voete van Hom wees wat soveel vir andere omgegee het en steeds omgee.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...