Monday, 11 August 2014

Uit die mond van die suigeling



Psalm 103:12 So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Thomas Kincade vertel:  Een middag terwyl ek, soos my gewoonte is as dit reën, selfs meer versigtig as normaalweg deur die strate ry omdat ons almal weet hoe glad dit kan wees na ‘n goeie re
ënbui, praat my dogter, Aspen, ewe skielik van waar sy rustig agter in die motor sit:  “Pappa, ek dink nou net aan iets.”

Hierdie woorde is gewoonlik ‘n duidelike teken dat die ses-jarige Aspen reeds geruime tyd oor iets gedink of gewonder het en daarom is ek nogal gretig om te hoor was sy te sê het.

“Wat het jy gedink, Aspen?” vra ek.  

“Die reën… dit is soos sonde en die ruitveërs is God wat ons sondes uitwis.”  

Ek kry eintlik hoendervleis, maar koel en kalm vra ek haar, net om te sien hoeveel sy daaroor gedink het: “Die reën, Aspen, sien jy hoe dit aanhoudend val en hoe die ruitveërs dit elke keer skoonvee?  Wat dink jy beteken dit?”

Sonder om twee keer te dink antwoord sy: “Ons hou aan sondig en God hou aan om ons te vergewe.“ 

Thomas sê hy sou nooit weer die ruitveërs gebruik sonder om aan Aspen se analogie te dink nie.

 

Sunday, 10 August 2014

Tel dit op Sy skouers



1 Petrus 5:7 Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Ek het eenmaal 'n verhaaltjie gelees van twee monnikke wat iewers heen op reis was. By 'n rivier het hulle 'n vrou raakgeloop wat nie op haar eie deur die water kon kom nie. Die eerste monnik het geweier om haar te help omdat dit teen hulle priesterorde se reëls was om aan 'n vrou te raak. Die ander monnik het dadelik aangebied om haar deur die rivier te dra.

Na die tyd het die ander monnik ure lank met hierdie behulpsame Samaritaan geraas oor sy oortreding van hulle orde se reëls. "Ek verstaan nie jou groot ongelukkigheid nie," het hy later geantwoord. "Ek het daardie vrou al ure gelede reeds neergesit, maar jy dra haar nog steeds op jou skouers rond."

Hoe waar! Ons kry party probleme nie maklik van ons skouers af nie. Vir jare lank kan ons een of ander wrok teen iemand dra. Soms gebeur dit stilweg, ander kere openlik. Maar die feit is, ons skouers is nie deur die Here gemaak om wrokke te dra nie. Dit is veels te smal hiervoor. Ons moet dit so gou as moontlik neersit en wegstap.

Net die Here se skouers is breed genoeg vir al ons wrokke. Ook vir al ons seer en swaar. Hy alleen kan ons laste dra, elkeen van hulle. Daarom mag ons dit maar aan sy voete gaan neersit. Wie weet, dalk is dit vandag 'n goeie tyd om presies dit te doen. Dis tyd om ons laste neer te sit - nee, om dit op die skouers te tel van die EEN wat sterker is.

Gebed:

Genadige VADER, SEUN en HEILIGE GEES
U is sterker...
Sterker as alles en almal
Binne U handpalm balanseer die ganse heelal
In U teenwoordigheid bruis daar lewe en hoop
Daarom dat ons U aanroep
Daarom dat ons U liefhet en dien
Wil U ons asseblief vandag in genade aansien en elke las van ons skouers aftel
Wil U ons vrymaak, van onsself.
Amen

(epos juweeltjie)

Thursday, 7 August 2014

Vrou, wat hou jou terug?

Spreuke 26 : 13 Die luiaard se verskoning is: “Daar is 'n leeu in die pad! Daar is 'n leeu in die straat!”
Froda Kahlo ( 6 Julie 1907 – 13 Julie 1954) was ‘n erkende Mexikaanse kunstenaar wat treffende skilderye geskep het.  Dit het mense aangegryp omdat sy die vermoë gehad het om pyn en hartseer in haar skilderye te laat reflekteer waarby mense aanklank kon vind. Mexiko is ‘n kleurryke land en alhoewel sy hartseer en pyn kon weerspieël, het sy uitspattige kleur in haar skilderye gebruik om die kultuur te verteenwoordig.  Sy was die eerste Mexikaanse kunstenaar van die 20ste eeu wie se kunswerke deur ‘n Internasionale museum gekoop is.
Froda het polio opgedoen op die ouderdom van 6 jaar.   Dit het veroorsaak dat haar regter been dunner as haar linkerbeen was en daarom het sy altyd kleurryke rompe gedra om haar gebrek te verbloem.  Daar is ook gespekuleer dat sy aan spina bifida, ‘n oorerflike siekte, gely het wat die ontwikkeling van haar ruggraat en bene beinvloed het.
Alhoewelsy herstel het, tot so ‘n mate dat sy weer kon loop, was sy voortdurend in pyn en met tye kon sy glad nie loop nie.  Die pyn was so erg dat sy soms in ‘n hospitaal opgeneem is waar sy maande aan ‘n bed gekluister was.
Niks het haar egter ondergekry nie. Haar kunswerke leef voort en dit is uiters gesog en gewild.
Môre is Vrouedag.  Wat hou jou terug in die lewe?  Laat Froda Kahlo jou inspirasie wees.  Moenie toelaat dat enige iets jou kniehalter nie. Styg uit bo jou omstandighede en gebruik veral jou talente.  Ons kan so maklik tyd as verskoning gebruik, maar ware talent kan deur niks onderdruk word nie, behalwe deur jou eie verskonings.  Elke vrou is spesiaal.

En as 'n vrou se moederskoot geseën word met 'n kind, loop haar beker oor.  Veels geluk my sonskynkind met jou verjaarsdag. Jy's 'n engel uit die hemel.  Mag God jou vandag en elke liewe dag vir die res van jou lewe seën.

Wednesday, 6 August 2014

Bekommernis

Matteus 6 : 27 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?

Wys my ‘n mens wat hom nie bekommer nie.  Ek weet daar is mense wat regtig die vermoë het om hul oor byna niks te bekommer nie. Hulle is so positief oor alles;  vir hulle is die glas altyd half vol, maar ook hulle sal erken dat daar nagte is dat die bekommernis-spoke hul laat wakkerlê.
Dan kry jy die ander uiterste; diegene wat die bobbejaan agter die berg gaan haal en hul bekommer oor dinge wat hulle ‘dink’ gaan of kan gebeur.  Vir hulle is die glas altyd half leeg. Hulle sien die ergste in alles en die tragiese nagevolge is dat dit wat hul dan oor praat, ander ook bang maak en laat begin bekommer.

Nou ja, ek sê nie ons moet alle realisme verloor nie.  Daar is genoeg onsekerhede en veranderinge wat daagliks plaasvind om jou te ontsenu, maar kom ons kyk na die teks hierbo.  Bekommernis gaan ons nêrens bring nie.  Daardie stories wat jy via die riemtelegraaf hoor, het dikwels stertjies by.  Die veranderinge waarvan jy hoor kan gebeur of dit kan dalk nooit gebeur nie. Feit is, ons maak onsself siek deur bekommernis oor dinge waaraan ons eintlik niks kan doen nie.


Neem vandag ‘n besluit om elke bekommernis aan God oor te gee.  Hy is immers in beheer, nie jou baas, die skuldeisers of die regering nie – net God.

Tuesday, 5 August 2014

Gesindheid

Filippense 3 : 15  Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.

Beethoven word gereken as een van die grootste komponiste van alle tye.  Hy was ‘n absolute genie wat op die ouderdom van 8 jaar sy eerste openbare vertoning gelewer het.  Later het hy in Vienna onder die wakende oog van Mozart gestudeer.  Teen sy middel twintigs was hy bekend vir sy onvoorspelbare, dog briljante improvisasies.  In 1796 het hy stadig maar seker sy gehoor begin verloor, maar dit het hom nie teruggehou nie.  Hy’t homself verder verdiep in sy werk en selfs nog groter en bekender komposisies voortgebring soos byvoorbeeld sy 9de Simfonie, die 5de Klavier Concerto, die Viool Concerto, Missa Solemnis, ens, ens, ens.  Dit alles het hy vermag ten spyte daarvan dat hy die laaste 25 jaar van sy lewe algeheel doof was.

Ek wonder altyd hoekom ‘n verkoue een persoon vir dae in ‘n bed sal plattrek terwyl iemand wat gestremd is, byna bomenslike hoogtes bereik.  Wat maak die verskil? 


Die enigste antwoord glo ek, is gesindheid.  Gesindheid is iets wat nie van jou gesondheid of sintuie afhanklik is nie, dit is ‘n innerlike dryfveer, daardie pitbull mentaliteit van “ek weier om op te gee.”  

Monday, 4 August 2014

Life continues, even when we are down and out

Numeri 6 : 24 – 26  Die Here sal julle seen en beskerm, die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.

Absolute genade en bemoediging.  God sal daar wees vir elkeen van ons, maak nie saak waardeur ons gaan nie.  Sy liefde oorskadu enige iets waarmee ons worstel.

Soms is dit waardeur ons gaan so groot dat ons nie eens probeer bid nie, want ons voel verslae en dat daar geen uitkoms is nie. As mense kan ons maklik mismoedig raak – die lewe is op sy beste ‘n hindernis wedren.  Net soos jy die een hindernis oorkom het, lê die volgende een voor.  En dis nie asof jy kan sê dat jy nie van hinderniswedrenne hou en liewer wil uitsit nie.  Life continues, even when we are down and out.  Dis die harde werklikheid.

So hoe nou gemaak.  Beroep jou op God se genade.  Dieselfde genade wat Hy in Moses se tyd beloof het, is ook tot jou beskikking.  Hy sal jou gebede verhoor… Hy sal aan jou vrede gee… Hy sal jou seen… jou beskerm… en tot jou redding verskyn.


Numeri 6 is ‘n reddingsboei wat na jou gegooi word. Ek hoop jy’t die krag om daardie reddingsboei met albei hande aan te gryp, want Hy is jou redder.

Sunday, 3 August 2014

Die Tekens

Markus13 : 7  Wanneer julle van oorloë hoor, hier naby en daar ver, moenie paniekerig raak nie.  Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.  Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar.  Daar sal wydverspreide aardbewings wees;  daar sal hongersnood wees.  Hierdie dinge sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.  Vers 12  Kinders sal teen hulle ouers optree en so hul dood veroorsaak.

Dit wat in Markus staan, is wat ons daagliks van hoor deur middel van die media. En dis nie maar net mense wat nie met mekaar oor die weg kom of verskriklike dade pleeg nie, dis alles tekens van Sy wederkoms.

Oorloë is sinneloos en uiteindelik is daar geen wenners nie en tog bly dit voortduur. Vrede- ooreenkomstes word geteken, maar dit word nie nagekom nie.

Danksy die media lees ons al meer van kinders wat verantwoordelik is vir hul ouers se dood – iets wat ondenkbaar is, maar ook dit is tekens.

Die goeie nuus van genade vind ons in vers 20: Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie.


God sal nie Sy kinders onnodig laat ly nie, maar ons moet aanvaar dat hierdie dinge, hoe onverstaanbaar ook al, deel is van Sy groter plan.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...