Monday, 29 February 2016

Hekkies

1 Korintiërs 10 : 13  Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

Het jy al gevoel asof jy op elke manier misluk en dat niks in jou lewe glad wil verloop nie?   Elkeen van ons het al teleurstelling of onregverdigheid beleef.  Sulke tye is dit maklik om oorweldig te voel en te dink dat jy nooit daaroor sal kom of dit nooit sal oorleef nie. 

Die lewe is ‘n hekkieswedloop.  Jy hardloop voluit en spring oor die hekkies.  As jy te moeg is, gaan jy die hekkie omstamp, maar moenie ophou hardloop nie.  Dit is daar vir ‘n rede, maar nie onoorkombaar nie.

Die wonder is dat God beloof dat Hy ons nooit bo ons vermoë sal beproef nie.  Ons dink so maklik ons kan nie meer nie, maar genadiglik voorsien God ons ook met die krag om elke situasie te kan oorkom. 

As jy vandag oorweldig voel deur jou omstandighede, weet net dat met God alles moontlik is.  Geen siekte, hoogte of diepte (probleme of uitdagings) kan ons van Sy liefde skei nie. 

Herinner jouself weer daaraan dat God goeie planne vir jou het.  Daarom kan niks of niemand jou terughou nie. 

Sunday, 28 February 2016

Komaan!

Genesis 12 : 1  Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aaron gesê…

Abraham is beslis ‘n geloofsheld.  God maak een van die eerste verbonde met hom.  Ek weet nie of jy Abraham se geskiedenis ken nie, maar God het met Abraham se pa ook gepraat oor die verbond, nog lank voor Hy met Abraham daaroor gepraat het.  Abraham se pa het ‘Ur verlaat in die rigting van Kanaan.”  Sy pa was op pad na die beloofde land!  Maar dan lees ons dat hy op pad gestop het en in Haran gebly het.  Hoekom stop hy daar? Hy was moeg vir die gesukkel.  Dit was nie maklik om met troppe vee, familie en besittings te trek nie.  Uiteindelik het hy net op ‘n punt gekom wat hy gedink het:  “Tot hiertoe en nie verder nie.  Dis nou wel nie die beloofde land nie, maar dis ok.”

Is dit nie ‘n weerspieëling van ons eie lewe en manier van doen nie?  Ons spring vuur en vlam weg met groot drome en vol durf.  Langs die pad gebeur dinge wat ons ontmoedig.  En uiteindelik gee ons op of maak vrede met tweede beste. 

Nee!  Vandag wil ek bietjie daardie assies hard blaas sodat jou drome weer kan opvlam.  Jy gaan nie boedel oorgee nie.  Jy gaan dit al die pad tot in jou beloofde land maak.  Komaan!


Thursday, 25 February 2016

Harmonie

Jakobus 5 : 16 Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word.  Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking. 

Verhoudings is uiters belangrik in die oë van God.  Ongelukkig is verhoudings nie eenvoudig nie.  Daar is vele verhoudings wat al skipbreuk gelei het… gebroke gesinne en gebroke families..  Dit is nie hoe God wil hê dat ons vir altyd moet leef nie.  Hy begeer dat ons, as Sy kinders in harmonie met mekaar sal leef en naby aan mekaar sal bly.  Wanneer ons vir mekaar bid, gebeur daar wondere. Ons open die deur vir God om heling te bewerkstellig. 

Om in liefde en harmonie saam te leef, beteken nie noodwendig dat jy met almal moet saamstem nie, maar wel dat jul sal besef dat God jul deur ‘n bloedband aanmekaar verbind het, om ‘n rede.  Daar is meer ooreenkomste tussen julle as wat daar verskille is.  Dit beteken dat julle moet uitreik na mekaar, vir mekaar moet bid en uitkyk. 


Die oomblik dat dit nie meer oor jou gaan nie, maar om God se mede skepesels, sal God ook in jou behoeftes voorsien.  Hy is nie blind vir die onreg of seer van die verlede nie.  Volg God se gebooie en bid vir mekaar sodat die band herstel kan word.  God verbreek nie familiebande nie, ons doen dit en daarom moet ons die eerste tree gee om dit te herstel.

Wednesday, 24 February 2016

Terwyl hul op pad was

Lukas 17 : 14  Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle:  “Gaan wys julleself aan die priesters.”  Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword.

Onthou jy nog die gelykenis oor die melaatses? Hulle het uitgeroep: “Jesus, Here, kry ons tog jammer!”  As Jesus wou, kon hy net die woord gespreek het, en hulle sou almal op die plek genees gewees het, maar Hy wou sien dat hul geloof sterk genoeg is.  Hy verwag dat hul hulself aan die priester gaan toon.

Nou moet jy onthou dat melaatses nie welkom tussen ander mense was nie.  Hul was die uitgeworpenes wat aan die buitewyke gebly het.  Daar is geglo dat hulle vuil is en dat jy kon aansteek as jy in kontak met hulle kom.  So toe Jesus hulle stuur, het hul seker gehuiwer, want op daardie tydstip het hul nog nie beter gelyk as voorheen nie.  Hul liggame het nog die tekens van melaatsheid gedra.  Hulle kon seker redeneer dat hul eers ‘n bietjie moes wag totdat daar verbetering intree… of dalk het hul gedink hul kan miskien net daar bly en beter raak eerder as om moeite vir niks te doen.  Die sieniese inidividue kon dalk gereken het dat dit ‘n mors van tyd sou wees aangesien niks nog verander het nie. 

Hulle het egter besluit om die eerste tree in geloof te gee en sodoende die eerste stap na genesing geneem.  Absolute geloof. “ Jesus sê ons gaan beter word as ons gaan, so kom ons gaan.”  Die skrif sê ook dat hul geword het soos hul aanbeweeg het.  Ek glo as hul sou stop of omdraai, sou die melaatsheid weer teruggekom het, maar hulle het deurgedruk in geloof.


Nou wonder ek wat God op jou hart gelê het om te doen.  Huiwer jy of neem jy daardie tree in geloof.  Praat gaan God nie beweeg nie.  Kry jou geloofswiele aan die rol en doen wat Hy van jou verwag.  Ek weet dit is nie maklik nie. Dit is nie logies nie en nog minder maak dit sin.  Wat jy op die oomblik sien, laat jou ook nie voel dat daar ‘n wonderwerk reg voor jou neus is nie, maar ons mag Hom maar vertou.

Tuesday, 23 February 2016

Vir aan Wie jy behoort

Psalm 30 : 5  Sing tot eer van die Here, julle wat getrou is!  Loof sy heilige Naam.

By die skool, in die media of deur middel van ander mense, word jy attent gemaak byvoorbeeld van nuwe virusse waarvoor jy moet pasop, hoe om meer bewus te wees van jou omgewing om nie ‘n slagoffer van misdaad te wees, padveiligheid, ens.  Indien iemand jou nog nie pertinent gewaarsku het nie, het jy ten minste daarvan bewus geword omdat jy daarvan gehoor het of inligting gesien het.  Dit is absoluut nodig, maar dit is net so nodig om te weet van God se guns.


Jy kan hierdie guns as’t ware oor jou lewe spreek. Wanneer jy die huis verlaat:  “Dankie, Here dat U vandag saam met my en my gesin hierdie huis verlaat… dat ons deurlopend u guns en beskerming mag ervaar.”  Gebruik reistyd om te mediteer oor God se guns.  Voor jou geestesoog, sien hoe deure vir jou oopgaan.  Onthou dat guns dieselfde is as voorkeur.   Dit beteken dat jou dag voorspoediger as ander s’n sal verloop, nie omdat jy meer belangrik is as ander nie, maar omdat God Sy hand oor jou hou.  Leef doelbewus, nie vir wie jy is, maar vir aan Wie jy behoort.

Monday, 22 February 2016

Kom tot inkeer

Handelinge 3 : 19  ”Kom tot inkeer en maak reg met God sodat julle sondes uitgevee kan word.”

Vandag wil ek ‘n beroep op jou doen.  God het jou by die naam geroep.  Jy is Sy geliefde kind.  Hy wil nie sien dat jy verlore gaan nie.

Gebruik hierdie geleentheid om tot bekering te kom.  Bely jou sondes voor Hom.  Dit maak nie saak hoe sondig jou verlede is nie.  God sal dit uitvee asof dit nie bestaan het nie.  Hy wil jou net aan Sy bors druk en verseker: “dis in orde, my kind.  Jy’s veilig.  Ek is so lief vir jou.” 


Dierbare Hemelse Vader, vandag buig ek in ootmoediging voor U neer.  Ek bely elke enkele sonde voor U… die waarvan ek weet (noem dit by die naam), maar ook die waarvan ek nie eens weet nie.  Maak my witter as sneeu, Here.  Ek weet dat ek swak is en weer mag struikel, maar ek weet ook dat ek U kan vra om my sterk te laat staan teen versoeking.  Dankie dat ek U Vader mag noem.  Amen.”

Sunday, 21 February 2016

Om te spog of nie

1 Korintiërs 4 : 7  Wat maak jou beter as enige ander gelowige?  Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het?

Ons het so pas huis gekoop.  My nuwe kar is ‘n...  Ek het uiteindelik die bevordering gekry waarvoor ek so hard gewerk het.  Uiteindelik het ek matriek geslaag / graad gevang.  Ek het die regte keuse gemaak toe ek my vrou getrou het.  Ek het ‘n merietebonus gekry. 

Hierdie is alledaagse uitlatings.  Meeste van tyd eien die spreker hom/haarself die krediet toe.  Dit gaan oor hoe goed of oulik ek is en wat ek bereik het. 

Meeste mense streef daarna om hulself en hul omstandighede te verbeter.  Hulle sal enige iets doen om hul drome te verwesenlik.  Christen of nie-christen… almal sal seisoene van voorspoed en teespoed ervaar.  Jy ken immers die gesegde:  “die duiwel sorg vir sy kinders”.

Wel, ek het nog nooit ‘n nie-christen eers die duiwel die eer hoor gee nie. Dit gaan net om hulle. 
Aardse besittings kan egter oornag verdwyn.  Gee aan God die eer vir die deure wat hy vir jou oopmaak of die geleenthede wat Hy oor jou pad bring.  Jy is nie beter of gelukkiger as ander nie, net meer begenadig.


1 Korintiërs 1 : 31  “Die persoon wat graag wil spog, mag net spog oor wat die Here vir hom gedoen het.”

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...