Monday, 14 August 2017

Woorde

Deuteronomium 1 : 11  Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak

‘n Vriend van my se fyn liggaamsbou is al vir jare die slaansak vir vele mense met wie hy in aanraking kom.  Hy kan soveel oefen of eet as wat hy wil, maar hy bou geen spiere op nie en hy tel geen gewig op nie.  Ek is seker daarvan jy reken dis ‘n probleem wat jy nie sou omgee om te hê nie.  As jy egter die spot en aanmerkings moes verduur wat hy hieroor oor jare moes verduur, sou jy dalk anders besluit. 

Grappies en opmerkings het veroorsaak dat hy ‘n kompleks oor sy liggaamsbou ontwikkel het.  Maak nie saak hoeveel komplimente hy op enige ander vlak ontvang, hy sien net dit waaroor hy oor soveel jare gespot is.

Dalk moes jy ook deurloop onder mense se gespot.  Ook jy dra swaar aan mense se pynlike uitsprake.  Dalk begin jy selfs glo wat hul oor jou sê.  Ons kan so maklik slagoffers van ander se doen en late word.  Hoe hartseer is dit nie dat hul woorde en dade soveel mag oor ons het nie?

Dit hoef nie so te wees nie.  Verklaar en glo vandag eerder dit wat God oor jou sê:  “Jy is nie ‘n verloorder nie, maar ‘n verloste.”  Gooi die kettings van pyn en hartseer af.  Mense mag dalk foutvind met jou, maar God reken jy is perfek net soos jy is.  Mense mag dalk jaloers wees op jou en jou probeer afbreek, maar God tel jou op uit die stof.  Iemand mag jou dalk verneder het, maar God verhef jou en omvou jou met liefde.

Diegene wat jou wil vertrap, verniel of vernietig moet weet dat God nie onreg verduur nie.  Woorde in die verlede mag dalk jou selfbeeld vernietig het en jou soos ‘n mislukking laat voel, maar dit is nie wat God vir jou in gedagte het nie.  Deuteronomium 1 : 11 is vandag jou woord van bemoediging wees.

Monday, 7 August 2017

Wees paraat

Prediker 3:17  Ek het by myself gedink: God spreek reg oor regverdige en onregverdige

Of jy nou gelowig is of ongelowig, ons leer van jongs af dat alles nie altyd uitwerk soos ons gehoop het nie. 

Gelowiges is vinnig om te dink dat hul iets verkeerd gedoen het en nou gestraf word as dinge nie na wense verloop nie, maar vandag leer die skrif ons dat God reg spreek oor die regverdige sowel as die onregverdige.  Wanneer die onverwagse ons tref, moet ons nie paniekbevange raak of emosioneel ineenstort nie.  Alhoewel dit vir ons onverwags is, is dit nie vir God onverwags nie.  God raak nie paniekbevange of bel gou iemand om uit te vind wat Hy nou moet doen nie.  Hy’s rustig, want Hy weet alreeds wat sy uiteindelike doel met hierdie saak is.  God het oplossings vir probleme wat jy nog nooit eens teegekom het nie.  Hy het jou toegerus vir elke moontlike gebeurlikheid en wat meer is, Hy gaan voor jou uit.

In plaas van dus op die probleem fokus, fokus op God.  Iemand het gister vir my so mooi gesê:  “God gebruik Sy beste, mees paraat soldate, vir die grootste gevegte.”  Hoe meer paraat (gelowig) jy is, hoe groter die geveg, maar weet net, jy is nie alleen nie.

Sunday, 6 August 2017

Al maak dit nie sin nie

1 Konings 17 : 9 &12  “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg. ”Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

Verlede week lees ek in die koerant van ‘n dame wat by Pep stores tydelik as kassier gewerk het.  ‘n Vrou kom koop kinderklere en sy knoop ‘n geselsie aan.  Sy hoor dat die klere vir mishandelde kinders is en haar hart vermurwe.  Sy luister na die stemmetjie wat haar oortuig om haar laaste paar rand vir hierdie vrou te gee:  “Ek wil ook bydra.  Dit is al wat ek het, maar dalk help dit.”  Natuurlik wou die vrou dit nie neem nie, maar die kassier het aangedring.

Hierdie kassier sou nooit weet hoe daardie laaste R9 van haar deur God vermeerder sou word nie.  Die vrou het dit vir haar seun vertel, wat dit op sosiale media versprei het en ‘n veldbrand is aangesteek.  Mense het na die winkel gestroom om hierdie kassier te ontmoet en haar te prys vir haar onbaatsugtige bydrae.  Iemand het haar en haar seun uitgeneem die Sondag vir ‘n vyfgang maaltyd.  En Pep Stores het haar permanent aangestel vanaf 1 Augustus.

Elia moes darem gewonder het oor God wat hom stuur met die belofte dat ‘n weduwee na hom sou omsien.  Hoekom stuur God hom nie na ‘n ryk man wat genoeg opgegaar het nie?  Jy sien, daar was boonop hongersnood in die land.  Nie net stuur God hom na ‘n weduwee nie, maar hy moet ook hoor dat sy nog net een maaltyd oor het, wat sy beplan het om vir haar en haar seun voor te berei.  Hoe moes Elia nie voel nie… om hierdie laaste kos uit haar en haar kind se monde te moet neem.

As dit nie was dat Elia God ten volle vertrou het, al maak dit nie sin nie, sou hy verseker nie na God se stem geluister het nie.  Teen hierdie tyd het Elia genoeg van God en die manier waarop Hy te werk gaan gesien om nie vrae te vra nie, maar net gehoorsaam te wees.

Die weduwee het nie geweet wie Elia was nie, maar net soos die kassier het sy God se stem gehoorsaam, al het dit nie sin gemaak nie.  Beide het hul laaste gegee en beide is onuitspreeklik geseen. 

Here, ook ek vertrou U vandag, al maak dit nie sin nie.  Maak my gehoorsaam en laat my ook deel in U wonderwerkende krag.

Thursday, 3 August 2017

Verstand of geloof

Spreuke 3 : 5  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Gister het ek jou vertel van ons ontvangsdame wat kanker het en dat sy, volgens die dokters, net 2 maande het om te leef.

Hoe maklik glo ons nie sogenaamde feite nie.  As die dokter na verskeie tipe ondersoeke so sê, dan moet dit so wees.  Dis half asof ons verstand ons geloof oorheers.  As ons volkome op God vertrou… glo dat Hy ‘n God van wonderwerke is wat hierdie kanker kan genees, al sê die medici ook wat, dan sal dit so wees.  Die teks hierbo sê baie duidelik dat ons nie op ons eie insigte (verstand) moet staatmaak nie.

Net so glo jy ook dalk die feite wat jou verstand / logika jou mee konfronteer.  Maar vandag wil ek jou uitdaag… moenie toelaat dat jou verstand jou geloof kniehalter nie.  Logika sê vir jou, jy sal nie op jou ouderdom ‘n lewensmaat vind terwyl jy nooit uitgaan nie… Jy kyk na jou bankbalans en na hoeveel dae nog tot volgende betaaldag voorlê en jy weet verseker dat daar nie ‘n manier is dat jy dit nie gaan maak nie… jy is werkloos en jy ‘weet’ dat daar nie ‘n kat se kans is om ‘n pos te kry nie, want die feite is daar – jou ouderdom, jou velkleur, die area waar jy woon… alles is teen jou… by die werk is ‘n persoon wat die lewe vir jou hel maak en jy weet verseker jy kan nêrens heen gaan, want jy’t die werk nodig en daardie persoon gaan ook nêrens heen nie, so jy moet maar vasbyt en die ‘abuse’ vat…  Al hierdie teenargumente vir ‘n wonderwerk is feitelik korrek, maar God werk nie volgens feite nie.  God kan en wil vandag nog wonderwerke laat gebeur.  Al wat nodig is, is geloof.

Ek en jy gaan elke feit wat ons verstand ons mee konfronteer wegstoot (met mening) en dit met onverdunde geloof vervang.  Daarom is dit heel van pas om God reeds te loof vir wat Hy gaan vermag.

Wednesday, 2 August 2017

Is jou saak reg?

Prediker 11:8  As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is. Alles kom tot niks.

Verlede week word ons ontvangsdame (63 jr) skielik gehospitaliseer met erge maagpyn.  Vele toetse,  skanderings en biopsies later kry ons vanoggend die nuus… kanker van die pankreas.  Die prognose… 2 maande.  Die twee dogters vlieg oor die naweek huis toe en dan gaan hul ‘n familievergadering hou om te besluit of sy vir behandeling moet gaan of liewer die laaste twee maande soveel as moontlik saam met haar gesin deurbring.  Wat 'n keuse!

Behalwe vir die ontsettende hartseer en empatie, is daar soveel vrae wat onmiddellik deur jou kop maal.  Hoe moet dit voel om te weet jy het net twee maande oor?  Hoe gaan jy voort, wel wetend dat elke dag ‘n dag nader aan die einde is?  Maar dan… is dit nie maar elkeen van ons se lot nie?  Elke dag wat verby gaan, is ook vir ons ‘n dag nader aan ons dood… al verskil is dat ons net nie weet wanneer nie.  Vir al wat ons weet, sterf een van ons nog voor haar.

Sal jy ooit lank genoeg leef?  Hoe lank is lank genoeg?   Oor die naweek luister ek na ‘n oom van 91 en hy sê hy is nog so gesond en het nog soveel om te doen, hy kan nog maklik vyftien jaar leef.   Hoe moeilik die lewe ook al is, min van ons wil uit eie vrye wil sterf. 

Die enigste stukkie positiwiteit hieruit, is dit dat dit ons net weer herinner hoe kort die lewe is en dat niemand van ons weet wanneer ons uurglas gaan leegloop nie.  Ons kan en moet eenvoudig elke dag gryp en die beste daarvan maak en... ons moet seker maak ons saak met God is reg.

Tuesday, 1 August 2017

Staan op!

Eksodus 15:3  Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!

Wanneer ‘n kind leer loop, val hul gewoonlik ‘n paar keer.  Ek weet van geen kind wat nog ooit gaan sit het en gesê het: “Dit is nou genoeg, ek gaan nie weer probeer nie.”  Nee, hul probeer keer op keer.  Dis deel van ons DNA… om weer en weer te probeer.

Dan word ons groot en op ‘n dag tref teespoed of terugslae ons.  Hoekom gee party van ons dan boedel oor?  Net soos wat jy as kleuter aanhou probeer het, moet jy vandag steeds nie tou opgooi nie.  Hoe meer daardie klein mensie probeer, hoe sterker word die spiertjies.  So wanneer jy keer op keer opstaan nadat jy platgeslaan is, versterk jy ook jou geestelike spiere.

Moenie toelaat dat die vyand jou oortuig jy’t nou genoeg probeer nie.  As jy nie meer kan nie, laat God toe om jou op te help en probeer nog een keer.

Toewyding

Prediker 9 : 10  Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen

Verlede week verjaar ‘n familielid, en ek vergeet om haar te skakel en geluk te wens.  Eers die volgende dag onthou ek en voel verskriklik sleg.  In plaas van om onmiddellik die telefoon op te tel en haar te skakel, stel ek uit, met katastrofiese gevolge.  So onthou ek eers weer die volgende dag dat ek nog nie gebel het nie.

Soos die spreekwoord lui, van uitstel kom afstel.  Ek het al geleer dat ‘n mens dit wat jy nie van hou om te doen nie, eerste moet doen, want as jy dit nie dadelik doen nie, gaan jy uitstel en dit nooit doen nie.  So byvoorbeeld sal ek elke dag wasgoed was, maar ek hou niks daarvan om die wasgoed af te haal of te stryk nie.  In die geval kan ek nie eerste doen waarvan ek nie hou nie… daar is ‘n sekere volgorde.

Dit is waar toewyding inkom.  As jy iets begin, maak dit klaar.  Wanneer wasgoed gewas en opgehang is, moet jy dit afhaal en stryk.

Partykeer spring ons vol ywer weg, maar dan verloor ons spoed.  Doen alles (wat jou hand vind om te doen) van begin tot einde met toewyding.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...