Sunday, 20 May 2018

Kop of stert?


Spreuke 6 : 9 Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap?

Ek hoor van hierdie student wat moes studeer, maar nie lus was daarvoor nie.  Hy besluit toe om ‘n munt op te skiet met die volgende reëls in die vooruitsig.  Kop, dan gaan hy fliek.  Stert, dan kyk hy televisie, maar… as die muntstuk op sy, sy land dan moet hy studeer!

Nou ja, wat is die kans dat die muntstuk op sy, sou val? Maar baie mense leef so.  Hulle kla by almal omdat hul nie werk kry nie.  Hulle vertel vir jou hoeveel CV’s hul al uitgestuur het, maar dat niemand hul eens vir ‘n onderhoud nooi nie. 

Onlangs vra 'n vriend vir my om ‘n advertensie te plaas vir ‘n kantoor assistent.  Sy besigheid groei vinnig en hy het nou iemand nodig om die basiese kantoortakies te verrig.  Omdat hy tans niemand het nie en hy baie weg is van die kantoor, vra hy dat belangstellendes hom skakel.  Tydens die telefoniese gesprek sal hy dan agterkom of dit nodig is vir die persoon om ‘n CV te stuur en vir ‘n onderhoud te kom.  Al die inligting en die minimum kriteria word in die advertensie genoem.

Weet jy hoeveel persone het ‘n epos gestuur en gevra dat hul gekontak word?  Net soveel het hul CV gestuur en genoem dat hul belangstel.  Vyf en negentig persent het hulself gediskwalifiseer net omdat hul nie behoorlik gelees het of dit belangrik genoeg geag het om hul potensiële werkgewer se versoek te respekteer nie.

Daar is soveel aansoeke vir elke geadverteerde pos dat jy nie kan verwag ‘n werkgewer moet jou skakel nie. Doen net aansoek as jy vir die pos kwalifiseer deur ten minste aan die minimum vereistes te voldoen.  Volg die instruksies noukeurig.

As jy werklik ernstig op soek is na werk, druk ‘n paar CV’s uit en stap van deur tot deur.  Waar moontlik probeer om met die bestuurder of eienaar te praat sodat jy die dokument vir hul persoonlik kan gee.  Dit bied jou ‘n eerstehandse kans om jouself te bemark en terselfdertyd te wys jy is ernstig op soek na werk.

Thursday, 17 May 2018

God weet!


Psalm 139 : 1 – 4  Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.  Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit.  U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.  Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.  Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.

Wat ander van ons dink, is belangrik vir baie van ons, al sal ons dit nooit erken nie.  Ons gee voor en ons lieg blatant.

In die huis skel en vloek dit, daar word gedrink, gerook ens, maar Sondag in die kerk sit ons vroom langs mekaar. 

Elke moontlike oortrokke fasiliteit of lening staan op maksimum, maar ons stem in om saam met vriende te gaan uiteet, want hulle moet tog net nie dink dat ons nie geld het nie.

Op skuldbult word nog ‘n nuwe motor, nog ‘n nuwe ‘flatscreen TV’, nog ‘n nuwe selfoon aangedra. Die een kredietkaart word gebruik om die ander mee te betaal en so word die debietorders teruggestuur, maar ons weier om ons standaarde te verlaag.

Iemand het lankal hul werk verloor, maar as die gesiene familie uitvra, word daar geantwoord asof jy nog steeds by die maatskappy werk.

Eintlik het jy verslaap omdat jy die vorige aand te laat gekuier het, maar nou vertel jy vir die baas dat die treine, taxi of bus alweer laat is.

En 99% van ons glo dat ons daarmee wegkom. Nuusflits!  Jy mag mense dalk ‘n rat voor die oë draai, maar vir God gaan jy nie so maklik flous nie.  God sien dwarsdeur ons… hy weet wat jy dink nog voordat jy dit gedink het!  Hou op voorgee.

Die leuen het kort beentjies.  Wees liewer openlik en vertel die waarheid.  Mense het veel meer respek vir iemand wat die waarheid vertel as wanneer hul uitvind jy het voorgegee of gejok.

Wednesday, 16 May 2018

Beloftes


Josua 21 : 45  Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie.  Almal is nagekom.

Wat ‘n getuigskrif vir God! 

Het jy al ‘n belofte aan iemand gemaak wat jy nie nagekom het nie? 

Ek het onlangs ‘n ou vriendin na ‘n lang tyd gesien en gedurende ons gesprek het sy genoem dat sy die daaropvolgende week verjaar.  Omdat ek weet dat sy geen kinders of familie het nie, sê ek dat ons haar sal kom haal en uitneem vir ete.  Ek onthou eers weer daarvan ‘n week na haar verjaardag toe ek weer op dieselfde plek kom waar ek haar ontmoet het.  Ek voel so sleg dat ek nie eens die moed het om haar te kontak nie.  Dis onverskoonbaar en teleurstellend dat ek ‘n belofte verbreek het, maar dit noem ek aan jou ter illustrasie van hoe maklik ons nie beloftes nakom nie.

God se goeie beloftes is almal vervul!  By implikasie sê dit dat van die ‘slegte’ beloftes (beloftes van straf) nie vervul is nie en dit kan mens net as genade ag.

Weet vandag dat God ‘n God van Sy woord is.  As Hy dit sê, dan doen Hy dit.  Die Bybel leer ons ook dat God geduldig is.  Die probleem is net dat Sy geduld langer kan wees as wat ons leef.  Die hartseer hier omtrent is dat jy kan sterf sonder dat jy gered is.  Jesus het opgevaar na die hemel en Hy kom weer terug en daardie dag wil jy verseker weet dat jy gered is.  

Moenie uitstel nie.  Maak seker jou saak met God is reg.

Tuesday, 15 May 2018

Gevegstoerusting


2 Korintiërs 10 : 3 – 5  Ons leef wel in ‘n menslike liggaam, maar ons voer die stryd nie met menslike middele nie.  Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig.  Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word.  Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Omdat God ons verskillend gemaak het, sal daar seker altyd verskille tussen ons wees.  Een gebied waar daar verskeie verskillende opinies is, is oor die bestaan van God en of die aarde wel deur Hom geskape is.

Diegene wat in evolusie glo, sal beslis nie met ons saamstem nie.  Aldus hulle het die mens ‘evolve’ van ‘n aap.

Dan is daar weer diegene wat in die oerknal glo en argeoloë wat vir jou sal vertel hoeveel jaar gelede iets ontstaan het.

So kan ons voortgaan.  Argumente teen wat ons as Christene glo is legio, maar genadiglik is die wapens waarmee ons hierdie stryd aansê nie mensgemaak nie.  Dit is gevegstoerusting van God en dit gee ons die vermoë om argumente te vernietig en ook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word.

Wanneer jy gekonfronteer word met hierdie argumente en skanse, bid dat God jou sal voorsien van die nodige gevegstoerusting. 

Ons kan so maklik glo wat ons in koerante lees of selfs op televisie hoor.  Fopnuus versprei soos ‘n veldbrand, maar wanneer ons gekonfronteer word met inligting uit Die Bybel, waar God self verklaar dat elke woord die waarheid is, dan twyfel ons.

Monday, 14 May 2018

Vrygekoop!


1 Korintiërs  7:23  Julle is vrygekoop en die prys is betaal;

My prentjie van die Drie-Enige-God, gaan terug na dit wat ek in my Kinderbybel gesien het.  Hoe lyk jou prentjie?  ‘n Familielid het onlangs gesê:  “Ek gee nie om hoeveel keer jy dit vir my sê nie, maar God sal my nooit vergewe nie.  Die duiwel staan gereed om my te gryp sodra ek sterf.” 

Sy prentjie van God is een van ‘n hartvogtige God wat geen genade betoon nie.  Niks kan verder van die waarheid verwyder wees as juis dit nie.  God is liefde.    Hy ken jou al van voor jou geboorte… 

Hy weet presies hoeveel hare jy op jou kop het en Hy wil nie dat een siel verlore gaan nie.  God ween oor elkeen wat die rug op Hom draai. 

Moenie die duiwel toelaat om sy greep op jou te verstewig nie.  God sal jou aanvaar net soos jy is.  Om die waarheid te sê, jy’s reeds vrygekoop daardie dag toe Hy aan die kruis vir ons almal se sondes gesterf het.  Dit maak nie saak hoe sondig jou verlede is nie.  Al is jy skarlaken rooi, hy sal jou was dat jy witter as sneeu is. 




Sunday, 13 May 2018

Jy is nie in beheer nie


Jeremia 10 : 23  Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.

Is jy ‘n beheervraat?  Probeer jy om alles te beheer?  Raak jy onrustig, angstig, senuweeagtig, bekommerd of iesegrimmig as jy beheer verloor?

John Mason het erken dat dit presies is hoe hy is.  Hy gaan ‘n stappie verder.  Hy sê dat hy letterlik raak soos ‘n dwelmverslaafde op soek na sy volgende ontvlugting.   Volgens hom was die hewigheid daarvan nie dieselfde nie, maar die simptome wel.

Jy is nie alleen nie.  As gevolg van die onsekerheid in vandag se lewe, probeer ons almal om te beheer wat ons kan beheer.  Ons weet ons kan nie alles beheer nie, maar ons gaan ons bes probeer om soveel as moontlik te beheer.

Volgens hierdie teks het ons as mens geen beheer oor wat met ons gaan gebeur.  Bekommernis, angstigheid, onrustigheid, senuweeagtigheid, iesegrimmigheid… niks gaan die wiel van die lewe stop nie.  God is in beheer.  Genadiglik het Hy goeie planne vir ons in gedagte.

Ons prioriteite is heeltemal verdraaid.  In die sakewêreld weet ons dat ons met die besluitnemer moet praat as ons 'n transaksie wil beklink.  Dit help nie jy gesels ure lank met iemand wat geen invloed het nie.  Dus, maak dit nie eerder sin om meer tyd te spandeer met die Een wat jou toekoms in Sy hande hou as met diegene wat jy dink jou toekoms bepaal nie?  Hy sê immers dat ons allereers Sy koninkryk moet soek en al die ander dinge sal in plek val. 

Thursday, 10 May 2018

Bekommernis vs Geloof


1 Petrus 5 : 7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.
William Ward, ‘n skrywer, skryf:  “Bekommernis is geloof in die negatiewe, vertroue in die onaagename, versekering van rampsoed en oortuiging van mislukking.  Dis ‘n magneet wat negatiewe omstandighede aantrek.  Geloof is ‘n sterker krag wat positiewe omstandighede skep.  Jy mors vandag se tyd deur jou te bekommer en vermors môre se geleenthede met gister se moeilikhede.”

Bekommernis vs geloof.  Negatief vs positief. 

Ons het ‘n keuse tussen bekommernis en geloof.  Ons hoef onsself nie siek te maak deur bekommernis nie.  Jy sien, ons bekommer ons omdat ons op mense vertrou, hoop dat mense vir ons sal deurkom.  Ons vertrou dat ons ‘n werk of inkomste sal hê om vir alles te betaal.  Ons hoop dat ons die lening sal kry waarvoor ons aansoek gedoen het.  Ons vertrou dat ons eggenoot getrou sal bly.  Ons hoop dat ons veilig sal wees.  Ons hoop dat ons kinders altyd hul beste sal doen en eendag suksesvol sal wees.  En wanneer dit nie gebeur of planne nie uitwerk nie, bekommer ons, ons. 

Realiteit is dat meeste van dit waaroor ons, ons bekommer nooit gebeur nie, maar ongelukkig keer dit ons nie.

Bekommernis steel jou lewe stukkie vir stukkie onder jou uit.  Dit hang soos ‘n missluier oor jou en beperk jou visie.

Het jy jou al ooit in regtig dik mis bevind, mis wat soos ‘n sluier om alles vou en jou sig beperk.  As daar die dag dik mis in die Kaap is, dink jy Tafelberg is gesteel.  Ek lees iewers iets baie interessant:  "Digte mis wat sewe stedelike blokke honderd voet diep bedek, bestaan uit minder as een glas water.  Net een glas en dit maak amper alles verdwyn.  ‘n Glas vol bekommernis doen presies dieselfde.

Waaroor bekommer jy jou?  Hoekom lê jy snags wakker? Dis nie God se wens dat jy so leef nie.  In vandag se teks is daar ‘n uitnodiging vir jou. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...