Tuesday, 29 May 2018

Glo soos 'n kind


Matteus 18 : 3  en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

Dink ‘n bietjie… hoe glo ‘n kind?  Hulle glo wat jy vir hul vertel.  As pappa gesê het ons gaan Sondag see toe, dan glo die kind dat die gesin wel see toe sal gaan.  Daar is konstante afwagting in hul hartjies.  ‘n Kind sal aanhou vra wat hul wil hê.  Ja, dit kan ons as ouers tot raserny dryf, veral as jy dalk in ‘n winkel is en die kind hou aan kerm oor iets, maar feit bly staan, die kind glo dat as hy/sy vra, die ouer wel een of ander tyd sal toegee. 

Aldus die Skrif, sal ons nie in die hemel kom tensy ons verander en soos ‘n kind glo nie.  Nou wat presies beteken dit?  Dit beteken dat ons volkome op God sal vertrou, maak nie saak hoe omstandighede lyk nie.  Elke oggend behoort ons wakker te word met verwagting:  “Ek kan nie wag om te sien wat God vir my vandag in gedagte het nie!  Vandag is die dag van my deurbraak… Vandag gaan ek daardie iemand spesiaal ontmoet… Vandag gaan een van die vele maatskappye waar ek aansoek gedoen het, my bel vir ‘n onderhoud.”

Wanneer 'n kind vir die ouer iets vra, is dit nie altyd vir die ouer moontlik om te voorsien in hul behoefte nie.  Met God is alles egter moontlik.

Wanneer jy met kinderlike geloof die dag tegemoet gaan, bly jy vasbeslote glo, ten spyte van terugslae.  Al lyk die toekoms hoe bleek, jy bly glo dat God sal deurkom vir jou omdat dit is wat Hy in Sy woord beloof.  Jy hou aan vra, totdat jy ‘n antwoord kry en jy is gevul met onmeetlike vreugde totdat dit gebeur.

Monday, 28 May 2018

Net ‘n wit leuentjie


Jakobus 2 : 10 – 11  As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.  God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.

Daar is mense wat reken die tien gebooie is nie van toepassing op vandag nie, maar volgens Jakobus 2 is dit heel duidelik dat dit nog net so relevant is.

Ons ‘buig’ so maklik die wet, of verontskuldig onsself byvoorbeeld deur te sê:  “Ek doen darem nie dit of dat nie… of dit is net ‘n witleuentje…” 

Mini-bus taxis het ‘n hele nuwe stel verkeersreëls aan motoriste bekendgestel.  Ons volg slaafs in hul voetspore, want as hulle daarmee kan wegkom, kan ons ook.  So mislei ons onsself.  Die feit dat ander die wet oortree beteken nie dat die wet nie meer geld nie.   

Wanneer ons eendag voor die Regterstoel verskyn, gaan God nie na verskonings luister nie.  Die wet is op skrif en daar is net tien reëls waarvolgens ons moet leef.  Is dit maklik?  Nee, beslis nie.  Gaan dit verskoonbaar wees?  Nee! 

Sunday, 27 May 2018

Hoogmoed


Jakobus 4 : 6         Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”

Ons ontvang gawes van God in verskillende gedaantes… geluk, finansiële voorspoed, huweliksgeluk, geleerdheid, ‘n droom beroep, bates, familie, vriende… Soms word die gawe in ‘n eenvoudinge vorm ontvang en mettertyd ontwikkel dit tot waar jy vandag is.  Hoe beter dit gaan, hoe minder vertrou jy op God.  Wanneer jy meer op hierdie gawes staatmaak as op God, begin die gevaarligte flikker.

Dit is hoekom dit so nodig is om naby aan God te bly.  As jou verhouding met Hom reg is, sal Hy jou bewus maak wanneer iets vir jou te belangrik raak.  Niks behoort ooit ‘n plek bo God in jou lewe in te neem nie.

Die wêreld en al sy blink liggies kan jou maklik laat glo dat dit uit jou eie krag is dat jy is waar jy jouself vandag bevind.  Indien jy egter werklik eerlik met jouself is, sal jy weet dat jy oor niks kan roem nie.  As jy nie vir God loof en erkenning gee vir jou gawes en suksesse nie, is dit bloot hoogmoed.

Ons moet elke dag waaksaam wees.  Die vyand gaan elke moontlike geleentheid gebruik om jou van verlossing te beroof.  Waak daarteen dat jou God-gegewe gawes of geleenthede nie te belangrik word nie.  Ek het iewers gelees:  “Wanneer jou drome vir jou belangriker as God word, moet jy hulle ter wille van jou siel opoffer. Soms moet jou droom doodgaan voordat dit vir God se glorie opgewek kan word.”

Dalk was jy suksesvol, maar dit is van jou weggeneem.  Is dit dalk omdat die sukses belangriker as God geraak het? Net jy sal weet.  Die goeie nuus is dat God dit weer vir kan sal teruggee sodra jy Hom nommer Een maak.

Thursday, 24 May 2018

Weggooigoed


Esegiël 16 : 5  Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is.

Iemand vertel my die volgende verhaaltjie:  “My ma het baie vir ons boontjies gekook, maar voordat sy dit sou kook, sou sy die boontjies so bietjie heen en weer krap en die boontjies wat nie reg gelyk het nie, uithaal.  Hierdie minderwaardige gehalte boontjies het sy sommer so oor die onderdeur buitentoe gegooi.

Met die eerste winterreëns, het hierdie weggooi boontjies ontkiem, gegroei, geblom en uiteindelik boontjies gedra wat weer geoes kon word. 

Die interessante deel van hierdie verhaaltjie is dat dieselfde persoon wat hierdie boontjies weggegooi het, hul ook geoes het omdat sy gesien het dat hierdie boontjies eintlik tog waarde het.

Wat leer ons hieruit:

1.     Moenie huil as mense jou weggooi nie
2.     Moenie huil as hul jou verwerp nie
3.     Moenie huil wanneer hulle op jou neerkyk en jou nie goed genoeg ag nie

Vandag wil ek vir jou bemoedig.  Die reën is op pad.  Dieselfde mense wat jou verwerp het, gaan jou terugnooi.   En onthou altyd dat God ook diegene liefhet wat ander minag of op neerkyk.  God sal jou seen, bly net vashou aan Hom en menses al jou werklike waarde begin raaksien.

Die enigste keer wat ons mag neerkyk op iemand is wanneer ons hul ophelp. Annoniem


Wednesday, 23 May 2018

Bedelaars


Markus 10:46  Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en 'n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar 'n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad.

‘n Bedelaar was eendag besig om van deur tot deur te loop en bedel.  By elke huis klop hy en vra of die inwoner nie vir hom iets het om te eet nie.  Meeste mense jak hom af, maar daar is darem ook diegene wat hul harte vir hom oopmaak.  By een van die huise sê die eienaar dat hy moet wag.  Kort daarna kom die eienaar uit en gee hom ‘n boks met vrot vrugte.

Die bedelaar neem dit en bedank die eienaar vriendelik. 

Die volgende middag is daar weer ‘n klop aan die deur.  Toe die eienaar oopmaak, staan die bedelaar daar met dieselfde boks vol blomme.  “Dis vir u, meneer… om dankie te sê vir die vrugte wat u vir my gegee het.” 

Die eienaar is uit die veld geslaan.  “Hoekom gee jy vandag vir my ‘n boks vol pragtige blomme.  Die vrugte wat ek gister vir jou gegee het, was vrot.  Ek verdien dit nie.”
Toe antwoord die bedelaar eenvoudig:  “Meneer, ons gee maar almal dit waarvan die hart van vol is.”

Wanneer jy kyk hoe mense bedelaars of randfigure behandel, is daar nie baie mooi in mense se harte nie.  Hoe lui die gesegde:  “Mense sal maklik vergeet wat jy gesê het, maar hulle sal altyd onthou hoe jy hul laat voel het.”  Handelinge 20:35  Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help

Tuesday, 22 May 2018

Die seën van gehoorsaamheid


Genesis 22 : 16 – 17  en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem.

Die verhaal van Abraham en Isak het ‘n gelukkige einde. Omdat Abraham bereid was om vir Isak, sy kosbaarste, op die altaar te plaas, het God hom geseën met ‘n nageslag wat vergelyk met die sterre aan die hemel of die sand van die see.

God mag ‘n jaloerse God wees, maar Hy is ook ‘n God wat diegene beloon wat getrou is.  God se hart vermurwe die oomblik toe Hy sien dat Abraham regtig bereid is om sy seun te offer.

Ook Job is geseën met meer as wat hy tevore gehad het.  Job het geweier om God te verloën.  Ten spyte van bomenslike beproewings, het hy geweier om God te vervloek.  Lot kom gelouter anderkant uit en God trek die sluise oop.

Die een ding wat die lewe my geleer het is dat jy nie kan ontvang terwyl jou hande vol is nie.  Jy moet eers laat gaan van dit waaraan jy vasklou.  Dan kan God nuwe seëninge in jou hande plaas.  En keer op keer is dit wat jy ontvang beter as wat jy gehad het. 

Soms dink ‘n mens dat ‘n egskeiding of ‘n verbreekte verhouding die einde van die wêreld is, maar daar kom ‘n dag dat jy terugkyk en ‘n dankbare sug slaak omdat jy eintlik veel beter daaraan toe is as voorheen. 

Kyk maar na die natuur.  Na verwoestende veldbrande spruit nuwe plantjies en gras uit.  Daardie einste saadjies wat jare lank dormant in die grond gelê het, word deur hierdie versengende hitte ‘n nuwe kans op lewe gebied.


Monday, 21 May 2018

Soms toets God ons


Genesis 22 : 9  Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.

God vra vir Abraham om sy seun, Isak, te offer.  Dit moes vir Abraham ‘n bitter pil gewees het om te sluk.  Hy en Sarah het dan juis so lank gewag op hierdie kind.  Ek wonder of Abraham vir Sarah gesê het wat God van hom verwag en hoe Sarah daaroor moes voel.
Nietemin, Abraham is gehoorsaam.  En dit was die toets.  God wou sien of Hy steeds nommer Een in Abraham se lewe is.

So dikwels bid ons seëninge van God en mettertyd neem daardie seëninge God se plek in.  Op die oomblik is grondonteiening die onderwerp van die dag.  Mense staan op die punt om dit waarvoor hul jare lank gewerk het te verloor, sonder enige vergoeding.  Daar word bespiegel dat dit nie net by boere se grond gaan bly nie, maar alle grond.

Hoe voel jy daaroor?  Sal jy jou besittings op die altaar plaas as God dit van jou verwag of is dit belangriker as God en gaan jy dit nie opoffer nie?

Enige iets wat belangriker as God is, is ons afgod.  Dit is verskillende dinge vir verskillende mense.  Vir party is dit hul beroep terwyl dit vir ander hul geliefdes is.  Vir sommige is dit geld en vir ander is dit hul besittings.  Dit kan selfs wees dat jou aansien as leraar belangriker geword het as om siele vir God te werf.

Of ek en jy dit nou wil weet of nie, God het alles vir ons gegee en Hy kan dit binne ‘n oogwenk wegneem.  Ondersoek jouself daagliks om te sien wat vir jou belangrik is.  God erken dat Hy ‘n jaloerse God is. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...