Wednesday, 30 September 2015

Seëninge

Efesiërs 1 : 3  Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

Dankie dierbare Hemelse Vader vir U groot genade in my lewe.   Elke dag openbaar U Uself opnuut aan my. 

Wanneer ek soggens die huis verlaat met ‘n swaar gemoed, hoor ek die voëltjies sing, en dan weet ek dat dit U is wat my herinner dat U vandag vir my sal sorg net soos wat U vir hulle sorg… dat ek soos hulle, my vreugde in U moet vind.

Op pad werk toe, reën of sonskyn, sien ek mense op die straathoeke staan of sit.  Hul skouers hang… hul oë is dof…  Party bedel, ander hoop om vandag gehuur te word.  Ek weet dat dit net U genade is wat my van hulle onderskei, want ek is niks beter as hul nie.

In die verkeer sien ek mense soos sardientjies in 'n blikkie binne ‘n taxi.  Die bestuurder van die mini-bus ignoreer ‘n rooi verkeerslig en moet uitswaai vir ‘n ander motor.  Dankie Hemelse Vader vir die luukse van ‘n eie motor.  Dit is ‘n uitgawe en ‘n kopseer, maar U het nog altyd gesorg dat my motor se wiele draai.

Gedurende die dag sien ek mense rook, eet, drink… baie van ons met ongesonde rolletjies op rolletjies om die middel… terwyl daar kinders is wat vandag honger skool toe is en hoop op ‘n maaltyd by die skool, want vanaand sal daar weer niks op die tafel wees nie.

Gedurende die dag kom ek op verskeie gesprekke af waar mense mor en kla oor die werk, die omstandighede, die maatskappy, die baas, die klein salaris… en dit terwyl daar soveel is wat ons werk met ‘n glimlag sal kom doen vir heelwat minder per maand.

Na werk besoek ek die supermark vir brood en melk, maar ek stap met heelwat meer daar uit, om nie eens te praat van my skuldige gewete nie.  Ek probeer dit regverdig deur te dink dat almal ‘n keuse het en dat my keuse is om hard te werk sodat ek die nodige middele het, maar ek besef ek probeer my gewete sus. 

Here, maak my oë oop vir diegene in nood.  Gee my ‘n hart vir ander.  Laat ek elke dag opnuut besef dat ek meer seëninge het as wat ek verdien.  Gebruik my Liewe Heer tot eer en verheerliking van U Naam.

Vir Leipoldt was Oktober 'die mooiste, mooiste maand'.  Mag hierdie maand vir jou besonders mooi wees.

Tuesday, 29 September 2015

Gierigheid

Efesiërs 5:5 Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

Lee Farkas is ‘n man wat skool vroeg verlaat het om sy pa se versekeringsmaatskappy oor te neem.  Die het hy, binne enkele maande, in die grond in bestuur.  Daarna het hy nog ‘n besigheid begin wat misluk het.  

Uiteindelik het hy op ‘n klein dorpie, Ocala, beland waar hy ‘n Huislening maatskappy onder die naam van Taylor, Bean & Whitaker begin het.  Dit was sy deurbraak.  Die besigheid het baie vinnig gegroei en hy het kort voor lank 2500 mense in diens gehad. 

Omdat alles nie op ‘n eerlike manier gedoen is nie, het hy fondse nodig gehad.  Hy het by Colonial Bank aangeklop en op die een of ander manier die Uitvoerende Hoof, Cathy, onder sy spel gekry sodat sy hom basies gehelp het om voort te gaan met sy oneerlike besigheid.  Hy sou ook by Freddy Mac en Ginnie Mae banke aanklop vir hulp en omdat Colonial Bank hom ondersteun het en Cathy hom gehelp het om te sorg dat sy rekeninge goed lyk al was daar nie geld in nie, het hulle ook krediet aan hom toegestaan. 

Dit was ‘n ingewikkelde skema waarvolgens verskeie partye ‘n reg (verband) sou hê op dieselfde eiendom.  In baie gevalle het die eiendomme nie eens bestaan nie.  Farkas het meer as 3 biljoen dollar verduister.

Op die ou end sou dit die ondergang van Freddy Mac en Ginnie Mae Banke beteken.  Meer as 500 000 huiseienaars sou hul huise verloor en 2500 mense sou werkloos wees.  In April 2011 is Lee Farkas skuldig bevind op 14 aanklagte van sekuriteitsbedrog en sameswering.  Hy is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Om sy gewete te sus, het sy filantropie geen perke geken nie.  Hy sou ‘n vervalle teater in die dorp restoureer vir miljoene dollars.  Hy het mense aangestel teen ses syfer salarisse terwyl hul geen ondervinding gehad het nie.  Niemand het regtig geweet hoe die operasie inmekaar steek nie en hy wou ook nie hê enige iemand moet te veel omtrent die besigheid weet nie.  Die hoofkantoor was ‘n droom om in te werk met ‘n kombuis waar daar elke dag eksotiese disse, soos kaviaar en ingevoerde salm voorgesit sou word. 

Lee het ook nie gehuiwer om homself te bederf nie.  Luukse huise, bote, privaat stralers, eksotiese vakansies…

Miskien dink jy dat jy darem nie naastenby soos Lee is nie, want jy is nie besig met enige oneerlikheid nie.  Gierigheid is net nog ‘n vorm van selfsug wat hom in verskeie gedaantes voordoen.  Skep jy vir jouself meer kos in… neem jy die grootste stuk koek… eet jy uit in duur restaurante, maar gee die motorwag net ‘n vuil kyk…  Behandel jy die bedelaar asof hy nie bestaan nie terwyl jy in oorvloed leef…  Sorg jy dat jy genoeg werk het al weet jy jou kollegas is nie besig genoeg nie… vergeet jy gerieflikheidshalwe van jou ouer(s) in die ouetehuis… is jy een van daardie motoriste wat op ‘n afrit sal verbyjaag en voor gaan indruk?


Monday, 28 September 2015

Heers oor My skepsels

Genesis 1:26 Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

As kind het ek dikwels aanskou hoe die groot mense gereed maak om te gaan jag.  Gewere word skoongemaak… die ligte op die voertuig word nagegaan… daar heers ‘n opgewondenheid onder die manne.  Ek krimp in-een, huil hartverskeurend, smeek my pa om nie saam te gaan nie.  Iewers is daar ‘n onskuldige dier of tien wat nie môreoggend die son gaan sien opkom nie.  Die volgende dag moes ek die afslag en verwerking van die vleis aanskou.  Dit het ‘n geweldige impak op my kindergemoed gehad.

Onlangs hoor ek die eerste keer van “Driven Hunting”.  Oorsee vind dit al jare lank plaas, en seker hier ook, maar ‘n herrie het losgebars nadat oorsese toeriste op drie plase naby Alldays in Limpopo meer as ‘n 100 diere oor 5 dae geskiet het. 

Die jagters word in ‘n kamp ingeneem waar daar ‘n verskeidenheid wilde diere is.  ‘n Groot skare word gehuur om in ‘n lang ry van weerskante af geraas te maak sodat die diere gekanaliseer word in ‘n oopte waar jagters op houtstellasies gereed staan om hul af te maai.  Niks moeite nie… geen stap en hoop jy kry ‘n dier onder skoot nie… geen kans vir wegkom nie, want die diere vlug van die geraas reg in die visier van die jagters / ‘n wagtende vuurpeleton.

Agterna word die dooie diere in rye voor hul neergelê en poseer hul trots agter hul prooi.  Inderdaad waarde vir geld en sukses is min of meer gewaarborg.  Dis ‘n wen-wen situasie.  Die plaaseienaar kry ‘n lekker vet inkomste en die toeriste is verseker van ‘n trofee wat hulk an saam terugneem.

Die hartseer is dat die NSPCA moet toesig hou sodat dit gebeur volgens aanvaarbare  standaarde!!!  Agterna is dit ook hul hartseer taak om die gewonde diere te vind en van kant te maak, want gewondes sal daar wees.

Is dit regverdig?  Is dit moreel aanvaarbaar?  Is dit wat God in gedagte gehad het toe hy ons as aangestel het om te heers oor die diere?  Wie is die eintlike diere?  Watter respek betoon dit teenoor God se pragtige, onskuldige, skepsels?

Ek kan nie vir een oomblik dink dat dit is wat God in gedagte gehad het toe hy ons aangestel het om oor die diere te heers nie.  Sulke gedrag maak van ons van die wreedste diktators op aarde.

Sunday, 27 September 2015

Balle

Lukas 14 : 26  “As jy my dissipel wil wees, moet jy My liewer hê as jou eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters – ja, meer as jou eie lewe.  Anders kan jy nie my dissipel wees nie. (NLV)

Ons dominee het vanoggend ‘n baie oulike manier gebruik om die boodskap oor te bring na aanleiding van die teks.  Die boodskap het gegaan oor die dinge wat ons weghou van God. 

Hy het een van die gemeentelede gevra om voor by hom te kom staan en verskillende grootte balle, een vir een vir hom gegee om vas te hou.  Elke bal het iets gesimboliseer wat ons van God kan weghou bv. geld, besittings, jou beroep, sport, sukses, selfliefde, iemand vir wie jy liewer is as vir God, ens.  Laastens neem hy ‘n strandbal en gooi dit vir die persoon wat al die vorige balle vashou.  Die enigste manier om die bal te vang, was om die ander balle te laat los.  Die strandbal het God gesimboliseer.  Verdere verduideliking was nie nodig nie, want almal het verstaan dat jy alles moet los om God te ontvang.

Die voorbeeld met die balle kan  verder geneem word.  Ons is so besig om meer as een bal in die lug te probeer hou, dat ons  nie in staat is om nog ‘n bal by te voeg nie.  Is enige van daardie balle werklik vir jou enige iets werd terwyl jy hul in die lug probeer hou?  Nee, dit is eers as jy almal ophou ‘juggle’ en een gebruik om mee te speel dat die bal van enige nut is.  En terwyl jy die balle in die lug probeer hou, kan jy op niks anders fokus nie.  Die balle word die middelpunt van jou fokus.

Ek moes vanoggend baie eerlik na my eie lewe kyk en besef dat daar indringende veranderinge moet plaasvind.  Die enigste manier is om al die ander balle te laat gaan om vir God plek te maak.  

Thursday, 24 September 2015

Jy het niks meer nodig nie

Filippense 4 : 11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.

Min mense is tevrede met wat hul het.  Meeste hunker voortdurend na iets.  Kyk maar net na al die nuwe voertuie op die paaie, of hoeveel ‘goed’ ons om ons vergader.  Party mense het nooit iets om aan te trek nie, maar hul kaste kreun onder al die klere.  Ander kan weer nie ‘n ‘gadget’ verbyloop nie.  Ons koop en koop en koop.    

As jou geluk in besittings lê, sal jy nooit genoeg hê nie.  Indien jou doelwitte en drome jou begin frustreer, is dit ‘n duidelike teken dat jy te veel op wêreldse goed staatmaak.  Jy sal eers vry wees wanneer jy oorgee:  “God, neem asseblief beheer oor my lewe.  U weet presies wat ek nodig het.  Gee my wat ek nodig het, nie wat ek begeer nie.”

Wanneer ons tevrede is met wat ons het, het ons die kettings van gevangeskap afgeskud.  Dan kan ons ware vryheid geniet.  Ons sal nie meer onvergenoeg wees en voortdurend wind najaag nie. 

Op hierdie punt is daar plek vir God om ander prioriteite binne ons te laat wortelskiet sodat ons fokus kan verskuif. 


Vind vandag vrede en rus in die wete dat jy niks meer as God in jou lewe nodig het nie.

Tuesday, 22 September 2015

Wees net geduldig

Habakuk 2 : 3  Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

Deel van God se plan is om jou drome waar te maak en jou te gee die begeertes van jou hart.  Net omdat dit nog nie gebeur het nie of omdat dit langer neem as wat jy bereid is om te wag, beteken nie dat dit nie gaan gebeur nie.

Moenie opgee op jou drome of mismoedig word nie.  Dieselfde God wat daardie droom in jou hart geplaas het, wil ook seker maak dat dit vervul word.  God is getrou.  Dit maak nie saak hoe lank dit neem of hoe onmoontlik dit voorkom nie, as jy bly glo sal jou tyd aanbreek.  Soveel mense gee op net voor hul drome realiseer.  As jy ophou glo, gee jy as’t ware jou droom op. 

Ek weet dit is nie maklik nie.  Al probeer jy hoe hard om te glo, is daar altyd die stemmetjie wat jou anders wil oortuig, maar hou aan om jouself te hereinner dat jy net moet bly glo... ten spyte van enige teendeel wat jy sien of ervaar, bly glo.  Hou jou oog gevestig op jou droom.  Verklaar in geloof:  “My tyd het aangebreek.  God is in beheer en Hy is besig om in die agtergrond te werk.  My drome sal verwesenlik word.”  Terwyl jy aanhou om jou drome te visualiseer, en woorde van lewe daaroor spreek, sal jy sien hoe alles in plek begin val. 

Geniet Erfenis / Nasionale Braaidag môre.


Monday, 21 September 2015

Neem jou gedagtes gevange

2 Korintiërs 10 : 5  Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Voel jy asof jy beheer verloor het oor jou lewe?  Dit is nie net ‘n gevoel waarmee jy een oggend opstaan nie.  Dit is as gevolg van jou denke oor ‘n periode van tyd.

Wanneer jy inkopies doen, trek jou keel heelwaarskynlik toe as jy die totaal sien, maar jy glimlag floutjies en haal jou kaart uit.  Jy weet die aankope veroorsaak dat jy verder in die skuldgat afdaal, maar jy probeer dit regverdig op elke moontlike manier.  ‘n Stemmetjie knaag binne jou… hoe gaan jy die einde van die maand haal op dit wat jy in jou rekening oor het?  Nog erger, hoe gaan jy die paaiement bekostig?  En as jy die minimum paaiement betaal het, bly daar ‘n baie klein deeltjie van die fasiliteit oor om die res van die maand van te leef. 

Jou gedagtes maal en maal.  Jy onthou dat jou huwelik ook deur ‘n moeilike tyd gaan.  Jou gemoed sak in jou skoene as jy onthou jou kind het jou ook gevra om te onthou om die skoolfonds te betaal… en dat hy ander skoene nodig het.

Alhoewel die scenario fiktief is, is daar baie mense wat elke dag voel asof hul nie meer kop bo water kan hou nie.  Hulle is ongelukkig by die huis… ongelukkig by die werk… sukkel finansiëel… daar is geen lig in die tonnel nie.


Daar is hoop.  Neem elke gedagte gevange deur dit te meet aan God se wil vir jou lewe.  As kinders van God behoort ons nooit te dink iets is onmoontlik of te moeilik vir God om in te gryp of te verander nie.  Die bose lê altyd op die loer en probeer jou oortuig dat daar geen hoop is nie… dat jy ‘n doodloopstraat bereik het… dat die fout by jou lê.  Wyk satan!  Neem jou lewe terug, want dit is nie oor terwyl daar nog ‘n God in die hemel is nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...