Hemelse Vader vandag kom buig ek in aanbidding voor U. Ek gee aan U al die lof, eer en heerlikheid. Vandag wil ek vir een keer niks van U vra, maar ek wil vir U dankie sê vir elke aspek van my lewe.
Vader, U stap elke tree van my lewenspad saam met my. Waar ek te moeg of mismoedig is, tel U my op en dra my. Party dae, wanneer die lewe my uitsonderlik rof behandel het, weet ek waar ek volkome rus en vrede kan vind. Dit is wanneer ek daar op U skoot klim en my toevou in 'n bondeltjie, wel wetend dat U Vaderarms koesterend om my sal vou. Ander dae sit en wag ek by U voete omdat ek wil hoor wat U vir my wil sê. Sulke dae het ek leiding nodig en U het my nog nooit teleurgestel nie.
Here, ek weet nie eens waar om te begin om dankie te sê nie. Wat ek wel weet is dat U my hele lewe is. Ek is miskien nog nie perfek nie, maar ek is so dankbaar dat ek elke dag kan leer en groei totdat ek eendag in my geestelike skoene sal pas.
Uit my hart uit dankie vir U liefde, ondersteuning, bystand en veral verdraagsaamheid.
Thursday, 30 November 2017
Glo in die onmoontlike
Johannes 9 : 1 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van
sy geboorte af blind was.
Kan jy jou
voorstel hoe dit vir ‘n blinde moet wees om vir die eerste keer in sy lewe te
kan sien? Ek dink hy sou seker vir lank stilstaan en alles rondom hom eenvoudig
net inneem en bewonder. Elke enkele
dingetjie waarop sy oë geval het, was ‘n eerste om te aanskou. Sy vrou, sy kinders, sy diere, sy huis… en
daardie aand, hoe die donker nader kruip en sterre tevoorskyn kom… Dit is
verseker iets wat hierdie man die res van sy lewe sou bybly.
Ons dink
gewoonlik dat ons iets moet doen voordatl God vir ons sal deurkom. Ons moet
bid… vas… ons lewe verander… Hom aanroep, maar die blinde man het nie na Jesus
toe gegaan nie… Jesus is na hom toe.
Dit is nie
altyd nodig om God se aandag te vestig op jou probleme nie. Of dalk voel jy dat jy dit nie van God kan
vra nie… Partykeer is ons geloof eenvoudig te klein om te glo dat God iets aan
ons situasie kan doen.
Dit is net
hier waar God op die mees onkonvensionele manier na ons draai en met ‘n
eenvoudige gebaar alles in plek laat val.
Met die blinde man het hy klei aan sy oë gesmeer en toe gesê hy moet dit
in die Siloambad gaan afwas. En die
blinde man kon sien.
Net so gaan
God vir jou deurkom. Al is jy nou al hoe
lank sonder werk, met min of geen kwalifikasies nie… te oud… Iemand gaan vir
jou ‘n werk kom aanbied. Ja, die werk
gaan na jou toe kom. Vir die eerste keer
het jy jou eie besigheid… jy’t gedink jy sal vir altyd vir ‘n baas werk en hier
het jy nou jou eie besigheid… vir die eerste keer is jy skuldvry… terwyl jy
gedink het dit sal ‘n leeftyd neem, het God dit byna oornag laat gebeur. Jou eggenoot het jou verlaat... jou wêreld het in duie gestort... hy/sy gaan terugkom sonder dat jy 'n vinger hoef te lig.
Dit wat God in
die verlede vir jou gedoen het, is niks in vergelyking met wat hy nou gaan doen
nie. Dit is amper onmoontlik om te glo,
want soos die blinde man sit jy ook net daar en probeer jy nie meer eens
nie. Jy’t jou omstandighede
aanvaar. Nee! Nee! ‘n duisend maal nee! By God is alles moontlik. As Hy blindes kan laat sien, dink net wat Hy
vir jou kan doen.
Tuesday, 28 November 2017
Dit sal so wees
Josua 4 : 14 Die Here het daardie dag aan Josua hoë
aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom
eerbied betoon soos aan Moses.
Wat ‘n
wonderbaarlike belofte het God nie hier vir Josua gegee nie? “Josua, van vandag
af gaan ek jou in aansien laat toeneem by die Israeliete.” God kon net sowel gesê het: ”Vandag begin ek
die sluise ooptrek… van vandag af gaan jy geseën wees… van vandag af gaan jy
oorvloed in elke aspek van jou lewe ervaar, van vandag af gaan daar verandering
en vooruitgang wees.”
Sien jy dat
daar ‘n spesifieke dag was waarop al hierdie wonderlike dinge met Josua sou
begin gebeur.
God wil
presies dieselfde vir jou en my doen. Hy
wil sy guns op so ‘n manier op jou uitstort sodat jy ‘n uitmuntende ouer sal
wees… ‘n liefdevolle eggenoot… ‘n inspirerende leier… ‘n model werknemer… ‘n
gewaardeerde vriend…. ‘n suksesvolle sakeman.
Op die spesifieke, voorafbepaalde dag, sal die kettings van skuld…
verslawing… eensaamheid… minderwaardigheid… wat ook al jou terughou,
breek.
God sê vir jou
presies wat Hy vir Josua gesê het. Jou
deurbraak is geskeduleer. Daar gaan ‘n
dag kom waarop daar ‘n positiewe verandering in jou lewe gaan plaasvind.
Net God weet
presies wat die verandering gaan wees en hoe groot die impak op jou lewe gaan
wees. Die vraag is of jy gereed is? Glo jy dit met jou hele hart? Dan sal dit so wees.
Monday, 27 November 2017
Sy tyd vs ons tyd
Psalm 31 : 16 My tye is in u hand
Sal dit nou
nie fantasties wees as God volgens ons skedule reageer nie? Ek meen, ek weet mos hoe dringend my situasie
is. Ek sal mos nie dae en nagte ombid as
dit nie dringend is nie.
Ons hoef maar
net na Lazarus se verhaal te kyk om te weet dat God Hom nie veel aan ons
skeduletjies steur nie. Volgens menslike
standaarde is God te laat… Lazarus is dood… einde van die storie. Nie vir God nie. Vir hom is dit nooit oor nie.
Wanneer jy na
die Bybel kyk is daar vele voorbeelde waar God in die agtergrond besig was
terwyl die hoofspelers geglo het dat die aangeleentheid onmiddellike aandag
verg. In dieselfde Bybel lees ons dat
God vandag en gister presies dieselfde is.
Dit wat Hy in die Bybel se tyd gedoen het, is vandag nog net so relevant
en moontlik.
Dit mag wees
dat jy jou op hierdie oomblik te midde van ‘n enorme krisis bevind. Jou besigheid is op die punt om te sink… jy
het God vandag nodig… nie môre of volgende week nie… vandag. Jy het ‘n misdaad gepleeg en jy’s
gevang. Nou is jy verhoorafwagtend. Jy het God nou nodig… nie môre of volgende
week nie. Jy het jou vlug verpas en jy
moet eenvoudig op daardie vlug kom. Jy
het God nodig om nou vir jou ‘n plek te maak.
En dan word
jou gebede nie beantwoord nie. Jy verloor
jou besigheid… jy gaan tronk toe… die vliegtuig vertrek sonder jou. Nou wat nou? Bid is sommer net tydmors. God gee nie vir my om nie.
Iewers in die toekoms kyk jy egter terug op
jou omstandighede en jy sien hoe God vir jou ‘n ander deur oopgemaak het… jy
het nou ‘n vaste werk met ‘n vaste inkomste en voordele… jy het jou graad gekry
in die tronk… die vliegtuig het meganiese probleme ontwikkel…
Net soos met
Lazarus, moet ons besef dat God altyd beter weet. Die susters het genesing in gedagte gehad…
Jesus het ‘n wonderwerk in gedagte gehad.
Laat ons altyd
op God vertrou. Ons tyd in nie in ons
hande nie.
Sunday, 26 November 2017
NIKS kan jou van God skei nie
Romeine 8 : 38 – 39 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of
engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of
diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei
nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Die feit dat
jy in ‘n Christelike huis grootgeword het… elke Sondag kerk toe gegaan het…
selfs jou hart vir die Here gegee het, beteken nie noodwendig dat jy steeds ‘n
Christen is nie. Ten spyte van jou beste voornemens gebeur die lewe en voor jy
jou kom kry, het jy die verkeerde afdraai geneem. Verkeerde afdraaie neem jou gewoonlik na ‘n
verkeerde bestemming, tensy jy jou roete aanpas. Ons kan so maklik ingetrek word deur vriende
of omstandighede. Almal het ‘n storie en
elkeen se storie verskil, maar hier gaan dit om jou… jou siel… jou toekoms.
Weet vandag
een ding: “Dit is nooit te laat om weer
jou pad terug te vind nie.” Al voel jy
asof die lewe wat jy na jou afdwaling geleef het nie juis iets om op trots te
wees nie, is daar steeds vir jou hoop.
Jy kan nooit so ver afdwaal dat die hand van God jou nie kan bykom om
jou daar uit te haal nie. Jy mag dalk skaam, vuil en verlore voel, maar niks
wat jy ooit gedoen het, is so erg dat God jou nie sal vergewe nie. Of jy nou vir jou op die oomblik in ‘n bende
se greep bevind, dwelms gebruik, jou liggaam verkoop het… geld gesteel het by
die werk, verslaaf is aan pornografie… God het al alles gesien en gehoor. Hy het nog nooit ‘n sondaar weggewys wat sy/haar
lewe wou verander nie. Daar is hoop vir
jou. Die verlossingsboodskap is juis ‘n
boodskap van hoop. Jesus het immers gekom
om sondaars te red.
Ware en
opregte berou en ‘n daadwerklike besluit om jou te bekeer van jou verkeerde
wee, is al wat nodig is. Nader tot God
en Hy SAL tot jou nader.
“Vader, ek het gesondig, maar ek het
ware berou. Hier is ek… stukkend en
verwaarloos. Ek bely elke enkele sonde wat ek gepleeg het. Vergewe my asseblief. Ek glo aan ‘n Heilige Drie-Enige God… ek glo
dat Jesus Christus aan die kruis gesterf het vir my sondes… dat Hy begrawe is,
maar op die derde dag opgestaan het en opgevaar het na die Hemel waar Hy sit
aan die regterhand van God die Vader. Vandag
wil ek my lewe oorgee en elke dag hiervandaan lewe volgens U wil.”
Thursday, 23 November 2017
Die nuwe Jerusalem
Openbaring 21 : 18 Die muur is met opaal gebou en die stad self
met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk.
Jesus Christus
het aan die kruis gesterf vir elke mens op aarde… gelowiges, sowel as
ongelowiges. Wanneer Hy egter terugkom,
is dit nie vir almal nie. Slegs vir Sy
kinders… diegene wie se naam opgeteken is in Die Boek van die Ewige Lewe, sal saamgaan. Openbaring 3:5 Elkeen wat die oorwinning
behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe
uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My
behoort.
Is jy
gered? Sou Jesus op die wolke kom
vanoggend, sal jy oorstelp wees van vreugde, of sidder met vrees? Glo my, jy sal nêrens kan wegkruip nie… al
het jy al die geld in die wêreld, sal jy nie meer vir jou ‘n plekkie kan koop
nie. Al kom jy dan agter dat hierdie
Christenskap ding toe al die tyd ‘n dood ernstige saak was, sal dit te laat
wees om tot bekering te kom.
Van jou
geliefdes, jou vriende, jou familie sal saam met God gaan, maar jy sal nie
welkom wees in die Nuwe Jerusalem nie.
Sedert Jesus opgevaar het na die Hemel waar Hy aan die regterhand van
God die Vader sit, is Hy besig om vir ons plek voor te berei. In Dubai is daar ‘n 6 ster hotel, maar niks
wat ons hier op aarde sien of al ooit ervaar het, kan daarmee vergelyk
nie. Leed, pyn en smart sal daar nie
meer wees nie… die nuwe Jerusalem sal ons blyplek wees, saam met God… vir altyd
en altyd.
Die ander
opsie is die hel… die ewige vuur waar daar ‘n geween en ‘n gekners van tande
sal wees. Genadetyd het uitgeloop.
Wat hou jou
daarvan terug om tot bekering te kom? Daar
is geen tyd soos die huidige nie.
Wednesday, 22 November 2017
Jy haal God nie net Sondag uit die kas nie
Kolossense 3 : 17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen
dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Baie mense wil
nie tot bekering kom nie omdat hulle dink dat jy dan alles wat pret en plesier
is, moet prysgee. En sodoende verloor jy
die grootste kans van jou lewe… om die lewe as Christen saam met God te geniet.
Jy kan jou alledaagse
lewe buitengewoon maak, as jy dit met God doen. Jy hoef nie uit te mis op die
lewe omdat jy ‘n Christen is nie.
Christenskap bestaan nie net uit bid, Bybellees en kerk toe gaan nie; jy mag maar pret hê ook. Jy mag maar lag, grappies maak en sommer net
laf wees. Jy kan selfs ondeund
wees.
Kyk weer na
die teks. Alles kan heilig raak as jy
dit vir God doen. God het nie vir Moses
by die tempel ontmoet, maar by ‘n bos en toe God daar is, raak die grond
heilig.
Iemand het
eendag vir my gesê: “Vra jouself net af
of jy God sou saamneem waarheen jy gaan?”
Neem die voorbeeld van oefen.
Terwyl jy oefen, kan jy bid en met God gesels. God is nooit meer as ‘n gedagte ver nie. Gebed is net ‘n gesprek met God. Jou stemtoon
en taalgebruik hoef nie te verander nie.
Jy hoef nie voor te gee of iemand te wees wie jy nie is nie. God het
presies geweet wie en wat jy is en hy’t jou steeds lief. Jy mag dalk nog nie wees waar jy behoort te
wees, maar dis beter as waar jy was.
Die oudste
seun van die verlore seun verhaal was ‘n Christen, maar hy het nie lus gehad
vir ‘n partytjie nie. Dit het God nie
gestop om steeds fees te vier nie. So jy mag maar jou man en kinders geniet en
fees vier. As jy die duiwel wil kwaadmaak, raak net gelukkig. Die duiwel het geen sin vir humor… onthou hy
gaan hel toe… daar is niks om oor te lag nie.
God is nie in
‘n kas waaruit jy hom net Sondae haal nie.
Jy mag maar na
sekulêre musiek luister… alles hoef nie ‘n Christen ettiket op te hê nie. Jesus was deel van die wêreld en hy’t juis
tyd spandeer tussen die ongelowiges. Solank jy weet wat die verskil is tussen
reg en verkeerd. Die Gees sal jou gou
daarop wys as jy op die verkeerde plek is.
Motiewe – dit
kan so ‘n groot verskil maak. Wanneer jy aantrek, wil jy immers nie net goed
lyk nie, jy wil hê mense moet sien jy verteenwoordig God. Ons is immers Sy
verteenwoordiger.
Jy kan God op
enige gebied van jou lewe vir hulp vra, dit hoef nie altyd geestelik te wees
nie. Hy sal jou help met jou skoolwerk, jou stokperdjie, wanneer jy inkopies
doen, wanneer jy met die kinders speel.
Jesus het nie gesterf sodat ons ‘n geloof kan hê, maar sodat ons ‘n
persoonlike verhouding met Hom kan hê… en daardie verhouding kan enige plek
getroetel word.
Tuesday, 21 November 2017
Oor drome en sukses
Spreuke 2:7 Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy
beskerm dié wat onberispelik lewe.
God gee jou ‘n
droom, verloor gewig, begin ‘n eie besigheid, organiseer jou huis… dis die
prentjie, maar maak waar begin jy?
Aan die begin,
doen die eenvoudige dinge, oordink en deurdink dit… gesels met ander daaroor…
doen navorsing. Ongelukkig bly meeste
mense hier vashaak. Hulle het gedurig
drome, maar dit bly net by drome. Een of
ander tyd moet jy tot aksie oorgaan. Anders
bly dit net ‘n droom.
Niks verloop
ooit sonder teenstand nie. Weet dus dat jou planne kan skeefloop of dat jy
terugslae gaan beleef, maar moenie toelaat dat dit jou ontmoedig nie. Indien jou droom is om vir God te werk, sal
jy selfs meer teestand ervaar, want die duiwel gaan dit nie vir jou maklik maak
om siele vir God te werf nie.
Ontwikkel dus
veerkragtigheid… die vermoë om terug te bons wanneer die lewe jou ‘n hou
toedien. Diegene wat sukses behaal is
gewoonlik hulle wat nog net een keer meer as ander opstaan en weer probeer.
Wanneer jy
dan, ten spyte van alles sukses behaal, is dit soveel lekkerder. Min dinge in
die lewe bring soveel tevredenheid as sukses as gevolg van harde werk. Harde werk en geloof loop gewoonlik hand aan
hand. En maak seker jy neem jou familie
saam op die reis. Jy wil nie die bo-punt
van die suksesleer bereik en alleen daar staan nie. Dan is dit bloot ‘n gejaag na wind.
Monday, 20 November 2017
Laat die verlede in die verlede
Jesaja 43 : 18 – 19 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en
by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek
gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien
kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere
ontspring
Dit gebeur
dikwels dat iemand vashaak in die verlede omdat hul seergekry het of voel dat
hul verraai is. Omdat die wond so diep
is, praat party nie eens daaroor nie.
Die pyn word êrens diep binne weggesteek. Eintlik is die persoon emosioneel gestremd en
soos enige gestremde word daar van ‘n kunsmatige hulpmiddel gebruik gemaak. Ongelukkig is dit nie ‘n kruk of rystoel nie,
maar meesal alkohol, dwelms of kos.
Vir party van
ons is die blote gedagte om oor die pyn van die verlede te praat, skrikwekkend.
Die gedagte laat jou met koue sweet uitslaan. Dit is amper soos om weer verkrag,
geslaan of verkul te word. Om weer en
weer die pyn te herleef. En tog is dit
nodig sodat jy kan aangaan. Jy is dit aan jouself verskuldig.
Vir jou eie
gemoedsrus en sielevrede, moet jy nog een keer die pyn deurleef. Kry iemand wat jy vertrou… of dit ‘n vriend, familielid,
berader of sielkundige is… praat daaroor.
Indien jy werklik nie daaroor kan praat nie, begin om dit neer te
pen. Skryf is ‘n wonderlike reis na
genesing.
End an laat jy
die verlede waar dit hoort… in die verlede. Wat met jou gebeur het, was nie jou
keuse nie. Watter pad jy vorentoe kies
om te loop, is egter wel jou keuse. Dit
kan ‘n pad van haat en bitterheid wees, of ‘n pad van vergifnis en
genesing. Liefde oorwin gewoonlik alles.
Begin deur vir jouself lief te wees. Vir
te lank het jy gehaat wat aan jou gedoen is en vergeet wie jy is. Jy is steeds jy, miskien gelouter, maar
steeds die mens wat God geskep het… uniek en spesiaal.
Wanneer jy
klaar is met hierdie proses, kan jy ‘n nuwe blaadjie omslaan en vir God die
deur oopmaak om iets nuut en opwindend in jou lewe te doen.
Sunday, 19 November 2017
Geld
Geld is vir
baie van ons ‘n probleem. Ons het nooit
genoeg daarvan nie. Iemand het eendag
gesê dat geld nie alles is nie, maar dat dit darem baie ongemaklik daarsonder
is. Party mense reken dat geld die
wortel van alle kwaad is. Ek glo nie die
probleem lê by geld as sulks nie, maar eerder by die liefde vir geld.
God is ‘n
jaloerse God. Niks in ons lewe mag
belangriker as Hy wees nie. God weet dat
ons geld nodig het om van te leef.
Hoekom het party mense dan meer as ander?
Jesus leer ons
‘n les in Matteus 25. Vir een het hy vyf
goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan
elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf muntstukke ontvang
het, het dadelik daarmee gaan woeker en ‘n wins gemaak. So ook die een wat twee muntstukke ontvang
het. Die laaste man het egter die een
muntstuk wat hy ontvang het gaan begrawe. Ongelukkig is geld nie ‘n saadjie wat ontkiem
en in ‘n boom ontwikkel wat geld dra nie.
Dit moet
vloei. Geld is nie bedoel om op een plek
te bly nie. As jy aan die bietjie wat
aan jou toevertrou is gaan vasklou (begrawe), gaan dit nooit meer word
nie. Jy moet daarmee woeker. Vra vir God wat dit is wat Hy wil hê dat jy
daarmee doen en begin vandag nog, maar wees gehoorsaam.
God seen sommige
mense met meer omdat geld nie vir hulle belangrik is nie, maar eerder ‘n middel
tot ‘n doel is. Iemand wat werklik ryk
is, sal nooit te koop loop met hul goeie dade nie. Solank jy hard werk daarvoor of goed doen
daarmee, soos wat God jou lei, hoef jy nooit skuldig te voel indien God jou met
baie geld geseën het nie.
Thursday, 16 November 2017
Hoe betroubaar is jy?
Lukas 16:12 As julle met 'n ander man se goed nie
betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
Ons vra
dikwels vir God vir materiële besittings, maar niks gebeur nie. Ons begeer ook ‘n luukse motor, ‘n huis van
ons eie, nie net pap elke dag nie, maar ‘n lekker stukkie steak… ‘n behoorlike
matras… nuwe klere, nie ander se ‘hand-me-downs” nie. Hoekom gee God vir ander in oorvloed en ek
het omtrent niks nie? Hulle glo nie eens
in God nie. Ek glo… ek bid… ek gaan kerk
toe… ek lees my Bybel… Wat is verkeerd?
Ons lees ook
in die Bybel dat ons aan ander moet doen, soos wat ons wil hê dat hul aan ons
doen. Dieselfde geld vir ander se
besittings. Of dit nou die koffie of tee, die werktelefoon, die fotostaat
papier of jou baas se voertuig is… jy behoort daarmee om te gaan asof dit jou
eie is.
Huur jy ‘n
woning by iemand, is dit ‘n goeie idee om te sorg dat die tuin versorg word en
as daar iets klein breek, maak dit self reg.
As jy lank daar bly en dit benodig verf, verf dit.
As jy iets by
iemand leen, gee dit terug in dieselfde of beter toestand, saam met ‘n klein
blykie van waardering.
Bly jy in ‘n
gastehuis of hotel is dit nie nodig om die bad tot bo toe vol te tap of al die
ligte en lugversorger heeldag aan te los nie.
Indien jou
houding is dat dit nie joune is nie, so jy gee nie om nie, het jy die antwoord
op jou vraag in paragraaf een self beantwoord.
God gee jou nie nog nie omdat jy nie betroubaar is met ander se goed
nie.
Wednesday, 15 November 2017
Hou op twyfel
Matteus 21:21 Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek
julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die
vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en
val in die see!’ en dit sal gebeur.
Dalk lees jy
hierdie vers en dink by jouself, ek kan nie eens glo dat God vir my sal sorg
nie, hoe op dees aarde gaan ek ‘n vyeboom beweeg? Ek het nuus vir jou… jy kan. Jesus sê uitdruklik dat ons sal kan doen wat
Hy gedoen het. Wow!
Al wat jou
terughou, is die ewige twyfel…daardie sê nou maars. Kyk, van ons
kan darem die bobbejaan behoorlik agter die bult gaan haal. Ons lê nagte wakker oor dinge wat ons dink
kan of gaan gebeur. As ons nie iets het
om oor bekommerd te wees nie, bekommer ons ons sommer omdat ons niks het om oor
bekommerd te wees nie.
Hoekom glo jy
so vas aan jou twyfel? Hoekom twyfel jy
nie net so sterk aan jou twyfel nie?
In die Bybel vind
ons soveel beloftes van God se voorsiening.
Kyk nou maar na Matteus 6 waar God ons daarop wys hoe pragtig die lelies
van die veld geklee is en hoe hy sorg vir die gras van die veld wat in elk geval môre oormôre verdor. Daar is duisende
voëltjies, maar God weet van elkeen van hulle, so hoekom sal hy nie van jou en
my weet wie Hy reken veel kosbaarder is nie?
Ek dink ons is
so besig om te twyfel en onsself van die ergste te oortuig dat ons nie eens tyd
kry om met God oor ons probleme te praat nie.
Ek en jy kan vandag ‘n daadwerklike besluit neem dat ons nie verder gaan
tyd vermors deur twyfel gedagtes nie.
Ons gaan daardie tyd gebruik om God se beloftes van Sy voorsiening aan
ons te herhaal. Voor ons ons kom kry is twyfel by die deur uit en kan ek en jy die pad in geloof stap.
Tuesday, 14 November 2017
Jou liggaam is 'n tempel van God
1 Korintiërs 6:19 Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel
van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van
God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie:
Onlangs het ek
na die rolprent “Dis ek, Anna” gekyk. Wat
my veral geraak het, was hoe Anna te skaam was om met enige iemand te praat oor
die molestering. Om die een of ander
rede het sy skuldig gevoel oor die man se verkeerde dade. Sy was so bang vir
verwerping of dat niemand haar sou glo dat sy selfs nie haar eie ma vertel het
nie. En so gaan die verkragter voort om
haar kindwees, vrouwees en toekoms te steel.
Nadat Jennifer
Ferguson na vore gekom het oor die molestering wat sy jare gelede ervaar het,
het verskeie vroue, via sosiale media met #metoo erken dat hul ook deur ‘n man
verkrag of gemolesteer is en tot nou toe daaroor stilgebly het. Ook hulle was
bang vir die veroordeling van die wêreld.
“As ek dit openbaar maak, gaan hulle dink dis my skuld of ek is sleg… of
selfs dat ek hom uitgelok het.”
Hierdie teks
is vandag spesiaal vir jou wat op enige manier mishandel word. Jy is kosbaar en pragtig en verdien nie wat
met jou gebeur nie. Niks en niemand het
die reg om jou op enige manier te skend nie… nie jou liggaam, jou siel of jou
gees nie. Dit kan nooit geregverdig word
nie. Nie net is jou liggaam ‘n tempel van
God nie, dit behoort steeds aan Hom. Wie
jou ookal afkraak, molesteer, slegsê, verkrag, verneder, verwond of geestelik
afbreek, is besig om dit aan God te doen.
Sal hy in ‘n heilige plek van aanbidding instap en dit begin stukkend
slaan? Nee, want hy weet dat God dit nie
ongemerk sal laat verbygaan nie.
Verbreek die
stilte. Stel die molesteerder aan die
kaak. Hy verdien nie dat jy hom beskerm
nie. En as ons weet van iemand wat gemolesteer word en ons bly stil, is ons net
so aandadig.
Childline: 08 000
55 555
Die laaste dae?
2 Timoteus 3 : 1 : 5
Dít moet jy weet: in die
laaste dae sal daar swaar tye kom. Die
mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend
teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en
ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en
onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die
goeie; hulle sal verraaiers wees,
roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir
God. Hulle sal nog die uiterlike skyn
van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.
Bly weg van sulke mense af.
Wat dink jy?
Het die laaste dae aangebreek?
Sunday, 12 November 2017
Ek verstaan nie
1 Kor 1 : 27 En tog, wat
vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir
die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,
Ons sal God
seker nooit verstaan nie, maar dank Vader daarvoor. As God ons moes verkies op grond van
verdienste, sou nie een van ons dit gemaak het nie. God sien egter potensiaal in ons. Hy glo in ons wanneer niemand anders sou
nie. En Hy gee tweede kanse.
Moses het ‘n
Egiptenaar doodgeslaan…gesukkel met sy humeur en nie altyd vir God geglo nie,
maar hy sou die volk uit Egipte lei. Ragab
was ‘n prostituut en tog toe Jerigo vernietig is, het God net vir haar en haar
familie gespaar. Dawid het owerspel en
moord gepleeg, tog sou hy koning word. Elia het gesukkel met swaarmoedigheid. Jeremia
was depressief. Jona het absoluut die
teenoorgestelde gedoen as wat God van Hom verwag het, toe laat God dat ‘n vis
hom insluk. Maria Magdalena was iemand
vir wie ons agteraf sou lag as iemand wat nie lekker is nie. Nadat sewe duiwels uit haar uitgedryf is, het
sy saam met Jesus gewandel. Die vrou na
wie as ‘die ander Maria’ verwys is, was ‘n prostituut en ook sy was deel van
Jesus se groepie. Hulle sou van sy getrouste volgelinge word, soveel so dat
beide teenwoordig was met die kruisiging en die eerste by die graf die volgende
oggend. Thomas was ‘n twyfelaar en Judas
‘n rugsteker en tog deel van Jesus se geselskap.
Dit maak nie
saak wie jy vandag is… hoe sondig jy is of wat jy gedoen het nie. NIKS kan jou van God vervreem nie. Wanneer Hy jou uitkies gaan die ou dinge
verby en alles word nuut. Hy kan jou
eintlik eers gebruik wanneer jy deur die meule gekom het.
‘n Diamant is immers net ‘n stuk steenkool /
klip. Waarde buite rekening gelaat, sal
min mense deur ‘n klip aangetrek word.
Dit is eers as die diamant opgebreek is in kleiner stene en geslyp is
tot perfeksie dat hul ons belangstelling begin prikkel. Sodra hul geset is in goud, met die
verskillende hoekies wat lig weerkaats, stewig in plek gehou deur toontjies
goud of platinum dat die steen tot sy reg kom.
Ons kom ook
eers tot ons reg wanneer God ons as eindproduk in die holte van sy hand met sy
vingerpunte vashou terwyl hy met oë vol liefde na ons kyk.
Thursday, 9 November 2017
God sal jou nooit in die steek laat nie
Hebreërs 13 : 5 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees
tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie,
jou nooit in die steek laat nie.”
Terwyl ek verlede
jaar op God gewag het om te bevestig of ek gereed is om voltyds vir Hom te werk
het ek soos enige iemand anders tye van twyfel en kommer gehad. Dit maak eenvoudig nie sin om sekuriteit, ‘n
vaste salaris en voordele op te gee vir ‘n lewe van onsekerheid met slegs
beloftes van Iemand wat ek nog nooit van aangesig tot aangesig gesien het nie.
Keer op keer
het God my egter verseker dat Hy SAL sorg.
Ek wens partykeer ek het getel hoeveel keer ek uit verskillende oorde
Matteus 6 : 26 ontvang het nie. En jy
moet God se sin vir humor waardeer, want nou weereens terwyl ek hier skryf. Dit was duidelik tyd, maar dit het die besluit
nie minder senutergend gemaak nie.
Die besluit moes
geneem word terwyl ek gelukkig was in my werk, met ‘n goeie inkomste en geen
onsekerheid oor my toekoms nie. Anders sou dit nie ‘n stap in geloof gewees het
nie.
Vandag kan ek
getuig dat God my nog nooit een oomblik in die steek gelaat het nie. Geld en
besittings beheer my nie meer nie. Die
ewige gejaag na wind is soos om te onthou jy het ‘n nagmerrie gehad, maar kan
dit nie presies weergee nie. Deur blote
genade, is ek nie meer van ‘n baas afhanklik vir my finansiële oorlewing of
welstand nie. God is my enigste hoop en vertroue. Ek het min, maar meer as genoeg. Wanneer probleme opduik, is dit nie my
probleem nie, maar God s’n. Goed breek
steeds… teespoed tref my ook… uitdagings verdwyn nie… Maar, keer op keer bring
Hy uitkoms. My begroting klop nooit op
papier, maar elke maand is daar presies genoeg.
Dit is
bevrydend en waarborg volkome saligheid.
Hiermee
probeer ek nie almal oorreed om dieselfde te doen nie. Ons elkeen se reis met God is verskillend. My roeping is nie joune en visa versa.
Wat ek wel
weet is dat baie van ons onsself in ‘n koma werk om op te gaar… en meesal roes
dit of lê iewers en stof vergaar.
Sielkundiges en Psigiaters is nie meer net woorde in ‘n woordeboek nie,
ons het hul nommers op ons selfone en ‘n ‘reminder’ vir ons volgende
afspraak. Ons gesels oor stress
medikasie asof dit gisteraand se episode van 7de Laan was. Ons wil meer hê… groter… beter… en nog… en
nog… en nog. Op ‘n dag is die kinders
uit die huis en ewe skielik is die huis te groot en te veel werk. Jy wil afskaal en dan kom nog ‘n ontnugtering
as jy besef dat niemand jou ‘goed’ wil hê… jy kan dit nie eens verkoop nie,
want dit het geen tweedehandse waarde nie.
Heng, partykeer kan jy dit nie eens weggee nie, want mense se smaak
verskil.
Dis my wens
vir jou dat jy tevrede sal wees met wat jy het en God kan vertrou om te
voorsien. Hy SAL jou nie in die steek
laat nie.
Wednesday, 8 November 2017
God se onmeetlike liefde
Johannes 3 : 16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy
enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar
die ewige lewe sal hê.
Corrie ten
Boom was die eerste vroulike horlosiemaker in Nederland. Voor die oorlog het Corrie ten Boom o.a. klubs
vir meisies tussen 12 en 18 jaar vir ongeveer 20 jaar bedryf. Een van die boodskappe wat Corrie gereeld met
hul gedeel het, was oor die liefde van God vir die mens. Met die aanvang van die oorlog, moes die
klubs ontbind. Min het Corrie geweet hoe
belangrik dit eintlik was dat hierdie meisies deel van haar lewe moes word.
Nederland is
binnegeval en die nazi’s se aanslag op Jode het begin. Hul radio’s is gekonfiskeer, ‘n aandklokreël
is ingestel en een aand aand is ‘n klomp jongmans wat hul op straat beving het,
eenvoudig bymekaar gemaak en na Duitsland geneem waar hul as slawe in die
fabrieke sou werk. Baie Joodse families
het eenvoudig oornag verdwyn.
Corrie en haar
familie het heel onskuldig betrokke geraak by die ondergrondse operasie van versteking
en beveiliging van Jode. Dit was juis baie van die meisies wat voorheen aan
haar klubs behoort het (of iemand wat hul weer geken het) wat ‘n kardinale rol
gespeel het om soveel Jode te red. Een
persoon sou help om meer rantsoenkaartjies te kry sodat hul meer kos kon koop
om diegene wat hul versteek het te voed.
Ander sou na die huis kom en ‘n kamer bou waar die Jode sou kon gaan
wegkruip as daar ‘n klopjag op die huis was.
Nog iemand sou laat weet wanneer hul hoor dat ‘n Joodse gesin geteiken
word en dan het die operasie begin om die gesin na veiligheid te smokkel.
Op ‘n stadium
was tot 80 persone betrokke by die beveiliging van Jode. Uiteindelik is Corie en haar hele gesin
aangekeer, gemartel en in die tronk gegooi. Selfs daar in die polisieselle was
daar iemand wat hul gehelp het deur te fluister dat hul een-een na die toilet
kon gaan waar hul die geleentheid sou hê om dokumente in die toilet af te spoel
wat hul sou inkrimineer.
Tien dae nadat
hul in die tronk gestop is, is haar pa oorlede.
Sy sou dit eers baie later uitvind.
Corrie self was siek en sy is uiteindelik toegelaat om hospitaal toe te
gaan. Al het die dokters bevestig hoe
siek sy was het die owerheid besluit sy moet terug tronk toe. Net voor sy vertrek het, het ‘n verpleegster ‘n
pakkie aan haar oorhandig wat sy in haar klere versteek het. Sy het 4 maande in afsondering in die tronk
deurgebring. Die pakkie sou haar
deurhelp. Binne-in was ‘n tandeborsel,
tandepasta, seep en ‘n Bybel bestaande uit die vier Evangelies.
Corrie het
elke geleentheid gebruik om oor God te getuig, selfs toe sy uiteindelik verhoor
is. Omdat sy soveel tyd alleen
deurgebring het en die Evangelies oor en oor gelees het, het sy besef dat daar
iets goed uit enige slegte gebeurtenis kon kom.
Jesus is deur hel, maar ons sou vry wees as ons in Hom glo.
Later is sy en
haar suster Betsie na ‘n arbeidskamp uitgeplaas. Sy het in ‘n Philips fabriek
gewerk waar radio’s vervaardig is vir die Duitse vegvliegtuie. Soos sy self sê: “Ek het soveel foute as
moontlik probeer maak.”
Lewe in die
kampe was ondraaglik. Op ‘n dag is 700 mans geskiet en die vroue op veetrokke
gelaai en na Duitsland gestuur. Die
konsentrasiekamp in Ravensbruck was veel erger as die vorige kamp of
tronk. Ten spyte van honger,
mishandeling, ontbering en verskriklike swaar arbeid waaraan hul onderwerp is,
het Corrie en Betsie nooit hoop verloor nie.
Net voor hul oorgeplaas is, het iemand vir haar ‘n klein Bybel en vitamiendruppels
gegee. Saans het sy en Betsie die Bybel
gelees en kort voor lank het ander by hul aangesluit. Te midde van haglike omstandighede, kon sy
voortgaan om die boodskap van God se liefde te verkondig. Net soos wat hul vir hulself en die ander
vroulike gevangenes gebid het, het hul ook vir die wagte gebid. Die botteltjie met vitamiendruppels het nooit
opgeraak nie, al het Corrie dit met soveel vroue gedeel.
Ongelukkig was
die haglike omstandighede en uitmergeling te veel en is Betsie oorlede. Corrie was gebroke, maar sy het vrede gevind
toe sy haar suster se gesig sien na die tyd. Dit was vreedsaam, sonder enige
pyn of hartseer.
Op ‘n dag is
sy geroep en summier ontslaan. Terug in
haar tuisstad moes sy hoor dat haar ontslag ‘n fout was. ‘n Week later is al die vroue in die kamp by
Ravensbruck na die gaskamers geneem waar hul gesterf het.
Corrie het die
wêreld vol gereis, meer as 60 lande, om van haar wedervaringe te vertel en die
boodskap van God se onmeetlike liefde te verkondig. Genesing en rekonsiliasie was vir haar uiters
belangrik.
In die
konsentrasiekamp het haar suster, Betsie 2 visioene gehad… een van ‘n pragtige
huis waar gebroke mense na die oorlog heling kon vind – die huis is aan haar
geskenk… en ‘n plek van genesing in Duitsland, waar selfs van die wagte
genesing kon vind… en dit het so gebeur.
Corrie sou
altyd die tronke besoek in elke plek waar sy haar bevind het. Sy kon hul bemoedig omdat sy self deur soveel
is. Deurentyd het sy haar boodskap oor
God se liefde gedeel. Tydens
rehabilitasiewerk met ‘Holocoast’ slagoffers sowel as kampslagoffers, het sy
bevind dat slegs diegene wat in staat was om te vergewe, goed herstel het en
weer ‘n vol lewe kon lei.
Hierdie is nie
‘n verhaal van hartseer en wanhoop nie. Inteendeel,
dit is bevestiging van God se liefde vir diegene wat Hom in en deur alles dien
en ‘n voorbeeld vir ons wat twyfel aan Sy liefde terwyl ons nie naastenby
deurgaan wat Corrie en haar familie deurgegaan het nie. Nie net het sy die boodskap verkondig nie,
maar sy het ook gesorg dat sy God se hande, voete en spreekbuis op aarde is te
midde van haglike omstandighede. En oral
in haar verhaal is daar bewyse van God se liefdevolle versorging… deur mense
wat Hy oor haar pad gebring het.
Tuesday, 7 November 2017
Vandag rou ek
Psalm 23 : 4 Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek
nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.
Dis die tweede
dag van ‘n stormsterk suidooster, iets wat my altyd mistroostig stem. Vanoggend let ek op dat ons Yorkie, Richie,
nie wel is nie. Ons kom agter daar is ‘n
hewige swelling in sy buik, maar hy het nog gisteraand geëet. Ongelukkig moet ek gaan werk en ons spreek af
dat ek hom veeaarts toe neem sodra ek by die huis kom.
Vir die res
van my lewe sal ek myself verwyt dat ek hom nie liewer dadelik veearts toe
geneem het nie. Teen die tyd dat ek hier
kom, is hy reeds dood. Die selfverwyte
is oneindigend. Toe hy my die nodigste
gehad het, was ek nie daar nie… en dit terwyl hy my net liefde en vreugde gegee
het. My hart breek in ‘n duisend
stukkies.
Boet kom by
die huis en ek moet die nuus breek. Saam
huil ons oor die lykie. Ons is verwese
en stukkend. Hy was deel van ons gesin
en nou is sy plekkie leeg. “Ook maar goed, want hy sou nie sonder Lulu kon leef
nie,” sê Boet. Lulu en Chloe is die
oudste. Lulu kan skaars loop en sy is op
hartmedikasie. Chloe is my oorlede ma se
hondjie en is heeltemal blind in een ogie.
Niemand het verwag dat die jongste, besige bytjie, eerste sou gaan nie.
“Nou het Ouma ‘n
hond en ‘n kat in die hemel,” besluit Boet.
Verlede jaar is my pa oorlede.
Vier maande later, my ma… nog ses maande later ons kat en nog vyf maande
later ons hond. Gaan dit dan nooit ophou
nie? Dit voel asof ons nie kan ophou
huil nie. Albei my ouers was 81 jaar oud
toe hul oorlede is. Ons kat was amper 17,
en die ander diere is ookal ver oor die 10 jaar oud. Ons het dood nie geken nie.
Terwyl ons rou
oor ons verlies, stroom berigte via sosiale media in van die brand teen Sir
Lowry’s pas. Al woed die brande hewig en
is mens en dier in gevaar, kan die brandweer net hulpeloos toekyk, want die
wind is te sterk. Net onder die berg is ‘n
dierebeskermings vereniging. Hulpkrete
gaan uit dat mense hulle moet kom help om die diere te ontruim, want die
vlammehel is op pad en verswelg alles voor die voet. Here, help!
Op een dag
soveel hartseer! Here, waar is U? Vergewe my, maar vandag is ‘n laagtepunt in
my lewe. Soos die Psalmdigter voel ek
ook asof ek die einde van my kragte bereik het.
Hopelik voel ek môre beter; die
lewe gaan immers aan, met of sonder jou, maar vandag rou ek en laat ek myself
toe om die pyn te voel. Tot siens, Rich.
PS: So pas gehoor dat al die diere gered is. Prys God… Hy is nie weg of elders besig… Hy
is reg hier by ons.
Monday, 6 November 2017
Elia
1 Konings 18:44 Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie
so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.” Elia sê toe: “Gaan sê gou
vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.”
In die Weskaap
beleef ons ‘n ongekende droogte. Die
Somer is in alle erns hier en die damme is boomskraap. Ons beleef water rantsoenering en word gemaan
om water op te gaar vir ‘n noodgeval.
Nog nooit het ons so iets beleef nie.
Ek glo meeste mense het nie water gespaar in die Winter nie, want hulle
het geglo dit sal reën… en toe reën dit nie.
Jy mag dalk
van my verskil, maar ek glo God weerhou seën van ons omdat ons afgedwaal
het. Ons het leiers nodig wat ons kan
teruglei na God, sodat ons as volk kan kom en ons verootmoedig voor God. Ons het ‘n Elia nodig wat die leisels kan
vasvat. (vers 21 Elia het voor die hele
volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As
die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.)
Tydens Elia se
tyd het die volk deur ‘n droogte van 3 en ‘n halwe jaar gegaan. Elia was ‘n profeet van God. Hy gaan op na Karmelberg en sit met sy kop
tussen sy knieë… biddend. Sy slaaf gaan 6
keer uit om te kyk of reën op pad is. Elia
word nie mismoedig, hy hou nie op nie.
Hy bly bid en glo. Die 7de keer sê die slaaf hy sien ‘n wolkie op die horison
so groot soos ‘n man se hand. Elia weet dit is genoeg. Hy vra die slaaf moet
die mense gaan waarsku… groot reën is op pad.
Elkeen van ons
kan ‘n Elia wees. As ons biddend bly,
sal God vir ons uitkoms bring.
Onthou jy nog hoe
God die leeus se bekke gesluit het toe Daniël in die leeukuil was? En wat van
Dawid wat die reus verslaan het met ‘n slingervel en geloof in God? Niks het verander nie. Dieselfde God kan vir ons reën bring, al is
dit Somer.
Sunday, 5 November 2017
Eer, geloof en vertroue
Psalm 37:4 Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou
gee wat jou hart begeer.
Jy lees die
teks en jy sê: “Dit is makliker gesê as
gedaan. Jy het nie ‘n idee waardeur ek
gaan nie. My man is voor my doodgeskiet…
ek is verkrag… my moederskoot bly leeg terwyl almal rondom my swanger raak… ek
kry nie werk nie… ek is ‘n depressielyer daar is niks om oor te lag nie…”
Jy is reg, dit
is nie maklik nie. Die idee is nie om te
lag of grappies te maak terwyl jou binneste aan flarde is nie. Gee God bloot erkenning… eer Hom. “Here, ek kan nie vandag eens ‘n glimlag op
my gesig forseer nie, al probeer ek hoe hard, maar ek wil U verseker dat ek in
my binneste steeds vreugde in U vind, want in U alleen is my hoop en vertroue.”
Waak daarteen
om jouself te bejammer, want jy dien ‘n almagtige God wat in staat is tot veel
meer as wat jy kan dink. Hy beweeg
wanneer Hy geloof en vertroue sien, ten spyte van jou omstandighede. Daar is
altyd hoop. God is steeds in staat om
jou uit hierdie situasie te lei. Hy droog
self jou trane af.
Thursday, 2 November 2017
Soet en suur
2 Samuel 5 : 3 Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot
koning oor Israel gesalf.
Wanneer n nuwe
mamma hoor sy is swanger, dan begin die voorbereiding gewoonlik met groot
opwinding. Verskeie items word gekoop vir die babakamer, so ook boeke. Daar word navorsing gedoen oor die proses. Dis ook lekker om met ander daaroor te gesels
sodat jy ‘n idee kan vorm van wat voorlê.
Die keuse van ‘n naam is nog ‘n belangrike deel. Dis die opwindende deel totdat die babatjie
kom.
Daar is egter
ook ‘n ander sy aan swangerskap. Oggendnaarheid,
voete wat swel, ‘n rug wat pyn… en jy tel gewig op. Teen die einde is die ongemak groot en sit
baie vrouens selfs en slaap.
Om daardie
bondeltjie vreugde in jou arms te hou, moet jy die soet en suur van die
swangerskap deurmaak. Menige mamma sal
jou vertel dat die pyn onuithoudbaar was, maar dat hul die pyn vergeet die
oomblik dat hul daardie langverwagte babatjie in hul arms hou.
Dawid is op 17
jarige ouderdom gesalf as koning, maar dit sou dertien jaar duur alvorens hy
die troon bestyg het. Gedurende daardie
dertien jaar moes hy homself voorberei op die taak. Party van die dinge wat hy moes doen, was nie
lekker nie, maar hy het deurgedruk.
‘n Swanger
mamma kan nie sê sy wil net die lekker deel van ‘n swangerskap ervaar nie. Die swaarder dele is voorbereiding vir die
baba se koms. Wanneer die baba daar is,
het sy die deursettingsvermoë en uithouvermoë nodig gedurende die nagte van min
slaap, doeke omruil, ‘n mensie wat huil en al meer en meer van jou vra.
Partykeer dink
ons die klein onbelangrike werkies wat ons moet doen is ‘n mors van tyd, maar
niks is ooit onnodig nie. Dit was 'n mamma wat daardie belangrike persoon in die wêreld gebring en grootgemaak het. Jou groot
deurbraak kom dalk juis terwyl jy met ‘n onbenulligheid besig is.
Net soos wat ‘n
mamma nie kan sien hoe die babatjie binne haar groei en hoe hy lyk (buiten vir ‘n
magie wat groei en sonars), is dit wel so dat daardie mensie elke oomblik van
die tyd ontwikkel.
Ons sien nie
altyd die doel agter ons swaarkry nie, maar God is voortdurend besig met
ons.
‘n Swanger
mamma draai nooit terug nie. Daar is net
een rigting en dit is deur die nege maande en geboorte.
Jy moet
dieselfde mentaliteit ontwikkel. Druk
deur al gaan jy deur ‘n uiters moeilike tyd.
Aan die einde wag vir jou ‘n beloning, net soos vir die mamma en Dawid.
Wednesday, 1 November 2017
God van die buitengewone
Genesis 18 : 14 Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die
vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun
hê.”
Waarvoor
vertrou jy vir God? Nie Abraham of Sara het geglo dat hul meer ‘n kindjie van
hul eie sou hê nie. ‘n Vrou is net so
lank vrugbaar en Sara was reeds verby die ouderdom. Soos dit maar gaan, as God nie ons gebede
beantwoord, dan maak ons self ‘n plan. Sara het toe haar dienskneg vir Abraham
gegee sodat daar darem ‘n erfgenaam sou wees.
Hulle het net een ding uit die oog verloor… dat God die nageslag uit
Sara en Abraham wou laat voortspruit, nie uit Hagar en Abraham nie.
God was nie
doof vir hul gebede nie, die tyd was net nog nie reg nie. Ons sou reken die tyd was ver verby reg, want
Sara was al verby die ouderdom van kinders baar. Ouderdom het egter nie ‘n rol gespeel nie. God het wel ‘n rol gespeel. As God vir Sara ‘n baba sou gee terwyl sy nog
jonk en vrugbaar was, sou dit nie die Woord vervul het in die manefestasie van
‘n wonderwerk dat Abraham se nageslag meer as die sand van die see sou
wees.
Ons kyk ook na
omstandighede en reken dit is nie moontlik nie, maar ons dien ‘n buitengewone
God. As God jou onmiddellik alles sou
gee waarvoor jy vra, sou niks ‘n wonderwerk sou wees. Vertrou God vir daardie wonderwerk waarop jy
hoop. Hy spesialiseer in die
buitengewone.
Romeine 4 : 20 Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die
belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer
gegee.
Subscribe to:
Posts (Atom)
Inligting
Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf. Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer. Daar is egter 'n tyd waa...
-
Deuteronomium 8:10 “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. ...
-
Hemelse Vader, vandag is my huweliksdag en my hart jubel van vreugde en geluk. Gee dat die vreugde van hierdie dag nooit sal verdof of oms...
-
Psalm 23 : 6 Net goedheid en guns sal my volg, al die dae van my lewe Daar is soveel mense wat geluk najaag, wat wonder wanneer hul ski...