2 Korintiërs 3 : 18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die
Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander
om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons
uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
As jou kinders
sou rondloop in stukkende, vuil klere, met gekoekte hare, vuil gesiggies en
handjies, sou mense hul wenkbroue lig en beslis wonder watter tipe ouer jy is.
Dink jy dat
God beskaamd as ouer wil staan? Dit sal ‘n
patetiese refleksie op Hom as God wees, of hoe?
Hy wil beslis nie hê nie-Christene moet kyk na Christene en ‘aag shame’
sê nie. Inteendeel, dit is hoekom Hy net
goeie planne vir ons het.
Wanneer jy God
aanneem as jou Verlosser en Saligmaker en jy binne Sy wil begin leef, sal jy
mettertyd agterkom dat daar verandering in jou lewe en menswees plaasvind. Op ‘n dag sal jy net besef dat iets verander
het… jou humeur vlam nie meer sommer net op nie… jy vloek nie meer nie… jy is
nie meer afhanklik van middele om jou deur ‘n dag te kry nie… jy is nie meer
net op jouself ingestel nie… jy is nie meer so bekommerd oor die toekoms nie,
ens, ens, ens. Eers is dit net ligte nuanses wat verander,
maar dan is daar ook groter veranderinge.
Jy besef dat jy transformeer, want God se heerlikheid word weerspieël in
jou. Jy is geklee in ‘n koninklike
kleed.
Nou kan jy ook
volkome op God vertrou en weet dat wanneer jy Sy koninkryk gevind het, al die
ander dinge ook vir jou gegee word.
Beteken dit probleme is op ‘n einde?
Nee, maar jy sal weet hoekom dinge verkeerd gaan.