Wednesday, 18 September 2013

Glo soos Moses

Psalm 116 : 10  Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my


Wat is die basis vir geloof?  Geloof is om te glo in die dinge wat jy nie kan sien nie.  Dis ‘n vaste vertroue op die dinge waarop jy hoop.  

Moses het aanvanklik probeer wegkom, maar God het deur middel van plae vir Hom gewys dat Hy tot enigiets in staat is.  Hy het Aaron vir Moses gegee en uiteindelik het Moses die pad gevat Kanaan toe met die Israeliete.  Moses het nie geweet hoe nie, maar Hy het geweet dat God sou voorsien.  En God het nie net brood gegee nie, maar ook kwartels (vleis) en ‘n wolk as skaduwee gedurende die warm trek deur die woestyn.  

God het aangehou om Moses te bemoedig met voortdurende wonderwerke – die see het in twee verdeel en die Israeliete is droogvoet deur en toe die Egiptenare daar wil deur... Glo jy nog soos wat Moses geglo het dat God jou in alle omstandighede sal help.

Tuesday, 17 September 2013

24 Uur


Matteus 6 : 34  Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.


Min mense beleef die lewe een dag op ‘n slag.  Sommige leef in die verlede, terwyl ander in die toekoms leef. 

Diegene wat in die verlede leef, bly vasklou aan dit wat was.  Hulle kan nie daarvan afsien of laat los nie en sodoende geniet hulle nooit vandag nie, want hulle bly treur oor wat was en hoop dalk dat vandag maar net kan wees soos wat dit destyds was.  

Diegene wat in die toekoms leef, hoop weer op beter dae.  As dit of dat net wil gebeur, dan sal dit beter gaan.  Ook hier word vandag nie geniet nie, want die hoop op môre se beter dae, is allesoorheersend.  

God het elke dag presies in 24 uur porsies afgemeet en deur die eeue heen het niks nog daaraan verander nie.  Maak die beste van vandag.  Gister is verby en môre mag dalk nooit joune wees nie.

Monday, 16 September 2013

Op soek na geluk


Spreuke 16 : 3 Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.


Geluk is soos die spreekwoordelike pot goud aan die einde van die reënboog.  Hoe meer jy daarna soek, hoe minder vind jy dit, want dit is al die tyd binne jouself.  Min mense sal dit glo.  Hulle glo dat hulle gelukkig sal wees as hul net eers klaar is met skool, ‘n (ander) werk gekry het, getroud is, die nuwe motor kan koop, uiteindelik ‘n huis kan koop, oorsee kan gaan...  En so vlieg die lewe verby terwyl jy onvergenoegd bly.

Geluk is binne jouself.  Dit kan nie gekoop word nie en dit hang ook nie van ander af nie.  Jy is vir jou eie geluk verantwoordelik en jy kan uitbundig gelukkig wees.  Neem ‘n wilsbesluit.  Ek gaan van vandag af gelukkig wees, want...  Tel jou seëninge.  Kyk rondom jou.  Vind jou vreugde in die klein dingetjies.

Sunday, 15 September 2013

Om te glo ten spyte van

Nie almal glo in God of sy bestaan nie. Op die internet sal jy mense kry wat wetenskaplik bewys dat dit te koud was vir skaapwagters om daardie tyd in die veld te kon wees.  Hulle bevraagteken die logika van ‘n maagd wat ‘n kind baar – met reg, want dis menslik nie moontlik nie.  Hulle verklaar onomwonde dat Hy nooit uit die dood opgestaan het nie en sê dis absoluut verregaande dat Hy opgevaar het na die hemel.  Waar’s die hemel in elk geval?  Volgens hulle is Christene ‘n klomp dromers wat in ‘n wêreld van hul eie leef.  

Jy kan seker wetenskaplik al hierdie dinge bevraagteken en twyfel in sommige se harte aanblaas, maar God verwag van ons om soos kinders te glo.  ‘n Kind bevraagteken nie iets wat aan hom vertel word vir die waarheid nie.  

Ek glo liewer in God en gaan hemel toe as wat ek eendag uitvind dat alles waar was en ek die kans verloor het om my siel te red.  God het Sy bestaan al oor en oor aan my bewys. Openbaring 22 : 20 Hy wat dit alles getuig, sê: "Ja, Ek kom gou!" Amen! Kom, Here Jesus! 

Thursday, 12 September 2013

My genade is vir jou genoeg


Korinthiers 12:9  Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Wanneer die lewe sy rug op ons keer, voel ons dikwels of dit die einde is.  Spanning kan ons kniehalter, tot so ‘n mate dat jy wonder hoeveel jy nog kan hanteer.  Dis tye dat God skitter en jou herinner:  “My genade is vir jou genoeg.”

 Genade is dalk die laaste wat jy ingedagte het.  God moet inspring en iets daadwerklik doen! Tonnelvisie tree in en ons sien nie lig aan die kante nie, net ‘n stikdonker tonnel vol kommer en probleme.

 O, dis moeilik om sulke slae kalm te bly.  En dan spring ons self in.  Wanhopig, desperaat en dikwels doelloos skarrel ons rond.  Raak rustig.  Hoor Sy stem.  “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Erken jou swakheid, jou hulpeloosheid en jou afhanklikheid, maar bo alles, jou vaste vertroue dat Hy weet wat Hy doen en uitkoms sal gee op presies die regte moment.

Wednesday, 11 September 2013

Bitterheid



Spreuke 14 : 10 Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.

Bitterheid is nie iets waarmee jy een oggend wakker word nie.  Soos die jare aanstap, word ons gekneus deur verskillende ervarings.  Soms laat dit net ‘n bloukol, ander kere is dit ‘n hou wat ons in ons spore stuit, en soms laat dit ‘n letsel op ons siel.  Hoe dit ookal sy, hierdie ervarings het die vermoe om te akkummuleer en op ‘n dag besef ons dat ons verbitterd is.

Bitterheid laat jou perspektief verloor, want jy sien die lewe deur die lense van die verlede. Meestal beinvloed dit jou gesonde logika en stoot andere weg.

Wat ander jou aangedoen het, weet ek nie. Hoe jy daaroor voel en hoe jy die pyn oor en oor beleef, sal ek nooit weet nie. Wat ek wel weet is dat diegene wat hierdie bitterheid in jou veroorsaak, salig onbewus daaroor is en selfs mag voel dat jy oorreageer.  Solank jy aan die voorwerp van jou bitterheid bly klou, daaroor tob en prut, sal jy nooit ooit kan vooruit gaan en weer die lewe geniet nie.  Bitterheid maak jou siek en maak jou ‘n kluisenaar. Jou mooiste jare gaanverby.  Vind weer vreugde in die lewe.  Daar is meer goeie mense rondom jou as waarvoor jy hul krediet wil gee.

Tuesday, 10 September 2013

Die verantwoordelikheid


Genesis 1 : 26  Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

Troeteldiere is ‘n alledaagse gesig in ons voorstede en vir baie van ons bring hul net vreugde.  Mense draf met hul honde, of jy sien ‘n kat luilekker uitgestrek in die wintersonnetjie. 

Ons het self ‘n klein dieretuintjie met 2 kleinerige honde buite (een aangeneem van die Dierebeskermingsvereeniging) en een skoothondjie binne.  Dan is daar ook die baas van die huis, ons wollerige baster kat, wat aan 'n klient van my behoort het.  Verder is daar vissies en budgies en natuurlik ‘n horde wilde voels wat nou al verwag hulle moet gevoer word.  Eintlik kan ek my nie ons huis sonder hierdie kreature voorstel nie.  Wat my egter opval, is hoe afhanklik hierdie diere van ons is.  Hulle kan nie uitkom om vir hulle kos of water elders te gaan soek nie.  Hulle wag getrou dat ons voorsien.

Ongelukkig is daar mense wat ‘vergeet’ om hul diere kos te gee en ander vir wie dit bloot nie prioriteit is nie; dieselfde mense wat nooit hulself sal afskeep by die kospotte nie. 
 
Hoe kan jy ‘n verantwoordelikheid wat God jou gegee het so ligtelik opneem?  Dan wonder jy nog hoekom jy nie meer bereik of verder in die lewe kom nie.  Hoe kan God jou met meer vertrou? Hoe durf jy dit wat Hy met sorg geskape het, verwaarloos?  Diere is nie net oulik as hul klein is nie.  Volwasse diere is net so pragtig en elkeen het sy of haar eie persoonlikheid.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...