Thursday, 21 June 2018

Dankie!


Deuteronomium 8:10  “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het

Onthou jy nog die jare toe ons aan tafel geëet het as gesin?  Voor ons begin eet, sou ons hande vat en pa sou ‘n tafelgebed doen.  Ons mag ook nie van die tafel opgestaan het alvorens almal nie klaar geëeet het en pa ‘n dankgebed gedoen het nie.

Deesdae eet ons sommer so op ‘n drafstappie of as ons nog gaan sit om te eet, is dit op ons skote voor die televisie.  Bid en dank ons nog?  Ja, daar is nog mense wat dit doen.  Dis vir my altyd ‘n riem onder die hart as ons in ‘n restaurant is en ek sien mense hul hoofde in stilte sak voor hul begin eet.  Dis ‘n tradisie wat ons aan ons nageslag moet oordra en die enigste manier om dit te doen is om dit uit te leef.

Met die droogte die afgelope jaar, het duisende gebede opgegaan vir gebed van individue, maar ook gebedsaksies.  God het vir ons deurgekom en milde reën het geval.  Ek het ongelukkig nog nie van ‘n dankdiens gehoor nie.  Hoe hartseer is dit?  Hoe kan ons God weer vir iets vra as ons nie die ordentlikheid het om dankie te sê nie?  Ek weet daar is individue wat God wel bedank, maar moet ons nie in die openbaar ook dankie sê nie. Dalk sal dit selfs beter in ons land gaan as ons as kinders van God begin om God te dank.

Soos bedorwe brokkies is ons gou om te vra en ons raak ongeduldig en ontsteld as God nie gou vir ons deurkom nie.  Is dit nie dalk omdat ons nie gou is om dankie te sê dat God traag is om ons gebede te verhoor nie? 

Ek moet erken dat ek myself al betrap het dat ek nie dadelik vir God dankie gesê het nadat Hy my gebede beantwoord het nie.  Hoe vaar jy op die gebied?

Wednesday, 20 June 2018

Hoe praat ons met mekaar?


Kolossense 4 : 6  Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

Weet nie of dit my verbeelding is nie, maar dit wil voorkom asof mense deesdae al minder geduld het en veral minder verdraagsaam is teenoor mekaar.  Daar is onderstrominge en frustrasies wat uiting vind in ons optrede teenoor mekaar.

Wanneer mense op die aanval is, is dit gewoonlik om hulself te verdedig.  Dit is of as gevolg van vrees of as gevolg van ‘n skuldgevoel.  Daar is ‘n eensydige uitkyk op die saak.  Hulle glo gewoonlik dat hul reg is en wil dit ten alle koste bewys. 

Jy mag dalk van my verskil en reken dat party mense bloot onbeskof gebore is.

Laat ons nie klippe gooi nie, maar eerder intensiewe selfondersoek doen.  Nie een van ons is in hierdie opsig onskuldig nie.  Hoeveel keer blaf ons na iemand sonder om twee keer te dink?  Dis amper ‘n refleksbeweging.  En hoeveel keer moes ons al tot ons skaamte erken dat ons verkeerd was?

Wanneer jy iemand slaan, gaan min mense stilstaan.  Hul gaan gewoonlik terugslaan.  Die kanse is dus goed dat ‘n skewe woord/antwoord/opmerking presies dieselfde van die ontvanger gaan ontlok.  Voor jy jou kom kry is dit ‘n bekgeveg.  Indien mense op mekaar skel of baklei, hoor jy glad nie die ander persoon nie.  Jy is alreeds besig om jou teenargument te formuleer terwyl hul nog besig is om te praat.

Daar is dus geen wenners wanneer mense hul in ‘n woordestryd bevind nie.

Die woord verwag van ons om altyd vriendelik te wees… dat dit wat ons sê van goeie smaak sal getuig… en dat ons die wysheid sal hê om te weet hoe ons mense moet antwoord.  Dit bied nogal stof tot nadenke. 

Is dit nie juis waar ons as kinders van God ‘n voorbeeld behoort te stel nie?  As daar ‘n wag voor elke Christen se mond is in ‘n land waar die meerderheid as Christene gesien word, moet daar verandering plaasvind.

Monday, 18 June 2018

Hou aan!


Matteus 7 : 7  “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

In Markus 5 lees ons van die vrou wat vir twaalf jaar aan vloedvloeiing gely het.  Niemand kon haar help nie.  Tot sy op ‘n dag hoor dat Jesus na haar dorp op pad is.  Binne haar het ‘n vlammetjie van hoop begin gloei.  Al was sy mismoedig van jare se negatiewe nuus, het hoop na bo geborrel.  “Dis my kans!”  Maar toe sien sy hoeveel mense om Hom saamdrom het sy gedink dat sy nooit by hom sou uitkom nie, want sy is alreeds so swak. 

Wanhoop en hoop het ‘n tweestryd binne haar gevoer en sy het amper haar seisoen gemis.  Die skare was enorm, maar die wete dat sy genees kan word as sy net by hom uitkom, het haar weer aangepor. 

Ons kan ook van koers afgedwing word deur voortdurende klappe wat die lewe ons toedien.  Dis maklik om te dink dat jy eenvoudig nooit iewers sal kom nie… dat alles teen jou is, maar dit kan juis jou probleem wees.  Luister na jou eie gesprekke.  Wees bedag op daardie negatiewe gedagtes.  Vervang dit met positiewe gedagtes.  Positiewe gedagtes is geloof.  Negatiewe gedagtes is reaktief. 

Die vrou het voortgebeur deur die skare en uiteindelik kon sy darem aan Jesus se kleed raak.  Net daardie bietjie deursettingsvermoë het die verskil gemaak.  Onmiddellik was sy gesond.   Jesus word geroer deur geloof.  “Dogter, jou geloof het jou gered.”

Sien jy dat dit haar geloof en volharding was wat haar in kontak gebring het met die krag van God.  Dit is vandag steeds so.  Moenie opgee nie.  Hou aan bid.  Hou aan vra.  Soek God en bly vasberade.  God ignoreer geloof nooit.




Sunday, 17 June 2018

Jy is uniek


Prediker 5 : 18  God gee aan 'n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is 'n gawe van God

Die skrif leer ons dat God ons seen en die vermoë gee om dit wat Hy ons gee te geniet.  Dit beteken dat elkeen van ons, ons deel ontvang.  Wat ek uit die hand van God ontvang, is myne.  As iemand anders die geleentheid sou kry om my lewe te lei, mag dit wees dat hul dit glad nie sal geniet nie, want elkeen van ons is uniek en hardloop ons eie wedloop.

Wanneer ons dit verstaan en omarm, sal ons nie meer in die versoeking kom om ons lewe en dit wat ons het of nie het, te vergelyk nie.  Jy sal nie wens dat jy iemand anders se talent het nie, want as God dit so wou gehad het, sou Hy jou die talent gegee het.  Neem wat jy het en ontwikkel dit.  Maak die meeste daarvan.  Moenie dink dat dinge anders sou gewees het as jy soos hy of sy gelyk het of gehad het wat hulle het nie.  Die feit dat jy nie het wat ander het nie, is nie die noodlot nie, dis God.  Jou lewe is perfek vir die persoon wat Hy jou gemaak het.

Jy moet eenvoudig begin om opgewonde te raak oor jou uniekheid.  Ontdek jouself, jou gawes, jou talente, jou persoonlikheid en ontgin dit tot jou voordeel.  Niemand anders het wat jy het nie.  As jy passievol en trots is op wie jy is, bring dit hulde aan God.  Dis wanneer God jou in die regte rigting stoot sodat die saadjies wat Hy binne jou geplant het kan ontkiem en in volheid blom.


Thursday, 14 June 2018

Vergroot jou kapasiteit


Efesiërs 1 :  18 – 19  Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Ons het nie ‘n watertenk nie, maar ons bad is al amper ‘n jaar lank ons “Jojo-tenk” en dan het ons ook emmers en plastiekhouers.  Omdat water tydens die droogte so ‘n kosbare kleinood geword het, het ek al menigmaal met leepogies na die reën staan en kyk, hulpeloos terwyl dit wegvloei omdat al my houers propvol is. 

Die probleem lê nie by God se voorsiening nie, maar by my kapasiteit om te ontvang.  As ek meer of  groter houers gehad het, kon ek meer ontvang. 

Dieselfde beginsel geld in ons lewens.  Ons dink ons het ons limiet bereik.  Ek sal nooit 'n bestuurder word nie... ek sal nooit ryk wees nie... ek sal nooit oorsee reis nie... ek sal vir die res van my lewe sukkel...  Nee, jy moet ontslae raak van jou klein houertjies.  Die God wat jy dien, is nie suinig nie. Hy beskik oor onbeperkte voorsiening.

Die probleem lê nie by God nie, maar by ons onvermoë om Sy vermoë te verstaan.  Vergroot jou kapasiteit om te ontvang deur jou denke te verander.  Dink en droom in “God-sizes”.

Wednesday, 13 June 2018

Jy sal nie verleë staan nie


Psalm 37 : 19  In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê.

Verwag jy om God bonatuurlik in jou lewe te sien deurkom?  Verwag jy oorvloedige seëninge?

Die teks is jou versekering wanneer dinge skeefloop.  Kind van God, jy sal nie verleë staan nie.  Al is omstandighede hoe haglik, hoef jy nie bang te wees nie.  Al styg die petrolprys en verswak die rand, al styg die werkloosheidsyfer, al dreig onrus… vir jou sal daar altyd genoeg wees.

God openbaar Sy krag aan diegene wat Hom allereers soek, veral gedurende tye van beproewing.  Maak nie saak hoe groot die reus wat voor jou staan, God is groter.  Hy sal ‘n weg baan waar uitkoms onmoontlik lyk.

Te midde van omstandighede, verklaar jou geloof in God.  Die Here is my Herder, NIKS sal my ontbreek nie.  Moenie twyfel nie.  Ja, omstandighede is donker, maar God is steeds daar. 

Here, ek vertrou u blindelings.  Al bewe my lippies, verklaar ek onomwonde dat U my enigste hoop is en ek weet dat U vir my gaan deurkom.  Ek glo dat U my nie beskaamd sal laat staan nie.  U Here is my rots en my sterkte.

Tuesday, 12 June 2018

Gee jou tiende


Maleagi 3 : 10  Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

God weet waartoe Hy in staat is en daarom rig Hy ‘n uitdaging tot jou en my.  Toets my!  Bring jou tiende en ek maak die sluise van die hemel oop.  Wanneer jy jou tiende getrou gee, sal jy meer terug ontvang as wat jy kan opgebruik.

Ek wonder hoeveel mense gee regtig hul tiendes.  Dalk probeer jy dit regverdig deur te sê, die kerk het genoeg… of hulle kan gaan werk… of hulle koop net drank en dwelms… 

En tog is jy nie skaam om vir jouself te gee nie.  Sodra ons begin geld verdien, begin ons behoeftes ontwikkel.  Kort voor lank is die maandelikse inkomste nie meer genoeg nie en word dit bloot ‘n stryd op oorlewing.  Waar moet die tiende vandaan kom as daar nie eens geld is om alles te betaal nie?

Jy sien, dit is waar ons die bus mis.  Ons tiende behoort heel eerste betaal te word.  Die inkomste wat ons verdien is nie ons s’n nie.  Ons is slegs rentmeesters van dit waarmee God ons vertrou.  Wanneer God sien dat Hy jou met min kan vertrou, sal Hy jou meer en meer gee.  Elke keer dat jy meer ontvang, moet jy meer vir Hom teruggee.

Kan jy jou indink hoe dit moet wees om soveel te hê dat jy dit nie kan opgebruik nie?  En dit is moontlik.  Jy moet net gehoorsaam wees en jou tiende vir God begin gee. Besluit vandag om ‘n gewer te wees.  Gee soos die Gees jou lei. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...