Romeine 12 : 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
My
hart bloei vir my geliefde land, Suid-Afrika.
My voorgeslagte het iewers in die 1700’s hierheen gekom. Ek ken geen ander land nie en daar is vele
redes hoekom ek nie die land kan, of wil, verlaat nie. Dit is my land. Ek het dit by niemand gesteel nie. Niks wat
ek besit het ek gratis ontvang nie.
Inteendeel, ek het my hele volwasse lewe nog elke dag van my lewe meer
as een werk gehad om genoeg te verdien om te oorleef, maar ook om voorsiening
te maak vir die toekoms. Vir my bestaan
kleur- geslag- en geloofsverskille nie, want ek glo daar is rykdom in
diversiteit. My sienswyse word op
niemand afgedwing nie en ek vra niemand om vir my te sorg of enige iets gratis
te verskaf nie. Ja, ek besit ‘n huis in ‘n
middelklas woonbuurt, en ‘n motor en ander aardse besittings. My twee kinders het in staatskole skoolgegaan. Vir die oudste was daar nie geld om verder te
studeer nie. Hy het in Engeland gaan
werk en daarna hier begin werk. Deur
harde werk het hy homself opgewerk, maar hy kan steeds nie ‘n huis bekostig
nie. As inwoner van hierdie land, betaal
hy sy belasting en maak ‘n bydrae tot die samelewing. Die jongste is nog op skool en dalk sal daar
vir hom ‘n geldjie wees om te gaan studeer. Ongelukkig sal hy nie vir ‘n beurs
in aanmerking kom nie.
My
ma woon al 22 jaar by my en ek versorg ook my pa finansieel. Hy het uiteindelik op 80-jarige ouderdom
afgetree, sonder ‘n sent pensioen of enige vaste bates. Beide my ouers het nie matriek nie, want
destyds moes hul uitspring om te gaan werk om die familieplase wat onder
droogte gesteier het te onderhou.
Die
afgelope tyd begin my keel toetrek as ek sien wat in ons land besig is om te
gebeur, want ek is ‘n mens en logika sê vir my dinge gaan nie beter raak nie,
maar eerder veel slegter as dit so aanhou.
Daar is geen respek vir mens, dier of selfs ‘n skadelose standbeelde
nie. ‘Handouts’ is aan die orde van die
dag en as ons oortree, moet daar ooreengekom word dat daar nie teen ons
opgetree sal word nie, alvorens ons die universiteit se administrasie kantoor
sal verlaat. Daar word op TV gesê dat
hierdie ‘n ‘plan’ is waarmee daar nie gestop sal word alvorens alle (“klem op
alle, volgens die individu”) vorms van kolonialisme en wit onderdrukking uitgewis
is nie.
Frankryk
het ‘n revolusie gehad, maar die paleis in Versailles is nooit afgebreek nie. Dis
deel van die Franse geskiedenis en erfenis. Moet ons nou die Kasteel, Voortrekkermonument,
Taalmonument, Vrouemonument, ens afbreek? Moet almal wat
nie swart is nie, hul eiendom opgee en die land verlaat?
Is
dit nie so dat diegene wat hier in 1652 geland het saam met soveel ander lede
van die bevolking, hierdie land van ‘n kaal stuk aarde, tot ‘n ontwikkelde land
van vandag help opbou het nie? Ons kan
natuurlik die land teruggee soos wat ons hom gekry het… die infrastruktuur,
eknomie, ens is tog ook tekens van kolonialisme en ook seker as gevolg van die ‘onderdrukker’
vandag daar. Dieselfde groep mense wat nou
nie meer welkom is of enige bestaansreg het nie, was ‘n goeie sport om alles te
deel na 1994. Ons het sonder enige
kwade gevoelens alles begin deel. Ons
word sleggesê en beskuldig deur diegene wat nie eens gebore was voor 1994
nie. Dorpe en strate se name is verander…
ons woonbuurte, skole en kerke is oopgestel vir almal. Heng, die land se deure is selfs wyd
oopgegooi vir die res van Afrika en ons het hule ook verwelkom. Wie hits Xenofobiese geweld aan en wie rand hul
aan en verwoes hul eiendom? Skielik is ek net so 'n vreemdeling in hierdie land as iemand wat onlangs hierheen gevlug het.
Al
het alle bevolkingsgroepe al jare saamgewerk, en dieselfde geleenthede gehad om
hul tot bestuursvlak op te werk, het baie van net ‘n sekere groep hul werk deur
regstellende aksie verloor en plek gemaak vir ‘n nuwe generasie wat heel
dikwels eerder staak as werk. Ons gun
almal ‘n plekkie in die son… ons gee en gee en gee, maar hoe meer ons gee en
hoe meer ons terugstaan, hoe meer word ons beskuldig en tot sondebok gemaak.
Eerder
as om op gratis behuising en toelaes staat te maak, het diegene wat hul werk
verloor, besighede begin en weldra mense in diens begin neem. Hulle betaal belasting en help om
werkloosheid te bekamp. Maar wanneer
daar projekte gesoek word vir “Corporate Social Investment”, word blankes
nooit gekies om voordeel te trek nie.
Arm blankes is lankal nie meer net beperk tot ‘n klein groepie lui mense
nie. Die groep groei, maar hulle is die
randfigure wat almal ignoreer.
Hoekom
hierdie lang relaas? Omdat ek vas glo
dat God steeds in beheer is. Die fokus
van hierdie pleidooi is nie om verdere verwydering tussen verskillende groepe
te veroorsaak nie. Die oproep is ook nie
tot ‘n spesifieke groep, van watter aard ookal gerig nie, maar tot elke persoon
wat wil betrokke raak. As volk moet ons, ons voor God verootmoedig en weer terugkeer na Hom. Christene kan nie, en mag nie net na die situasie kyk en dink dit is onmoontlik nie. By God is alles moontlik.
Hiermee
versoek ek jou om saam met my en almal wat hierdie dagstukkies daagliks lees,
in gebed te tree vir Suid-Afrika om as volk tot inkeer te kom. Laat
ons bid dat ons mekaar as mede-inwoners van hierdie pragtige land sal aanvaar
en veral verdra. Bid vir vrede en God se
ingryping om mense nader aan mekaar te bring en blind te maak vir mekaar se verskille. Ons is almal mense en om die
een of ander rede is ons saamgegooi in dieselfde land; Suid-Afrika. Hierdie land is groot genoeg vir almal. ‘n Land word nie gebou deur mekaar te verwyt
en te verdryf nie.
Hemelse
Vader, U is almagtig en U is in staat om vrede te bewerkstellig, al lyk dit
menslik onmoontlik. U het ons almal
geskape en die grootste gebod oortree ons so maklik. Herinner ons weer om mekaar lief te hê. Here, respek vir U en ander is so
belangrik. Daarsonder sal ons nooit
mekaar kan verdra nie. Maak ons oë oop
vir mekaar se goeie punte en laat ons daarop voortbou. Ek weet dat U ons kan saamsnoer en alle haat
kan verdryf. Suid-Afrika is ons beloofde
land, Here. U het ons hier geplaas vir ‘n
rede. Laat elkeen van ons, ons doel in
die lewe vind en op ‘n daadwerklike wyse tot die samelewing bydra… nie vir eie
gewin nie, maar ter wille van mekaar en bo alles, ter wille van U koninkryk.
Ek
nooi jou uit om jou gebede via die skakel op die webblad te plaas.
www.watsediewoord.blogspot.com Kommentaar is ook welkom, maar laat ons begin
deur ‘n voorbeeld te stel en nie klippe of modder te gooi; nie te kritiseer, maar mekaar met respek en liefde
te behandel. Menings is welkom, maar
laat dit opbouend wees. Ghandi het
immers gesê dat elkeen die verandering moet wees wat hy/sy wil sien. Die verandering kan by jou en my begin,
terwyl God voor ons uitstap en die pad na vryheid en verdraagsaamheid aandui.
Daar is krag in gebed. Kom ons bid saam…