Psalm 73 : 3 –
5 want ek het die hooghartige goddeloses
met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien.
Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie
sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie.
Asaf het
geweet dat God baie goed is vir die volk en diegene wat rein van hart is
(gelowiges), maar hy het begin twyfel en toe betrap hy homself dat hy ongedurig
is omdat dit goed gaan met ongelowiges.
Dis
iets waarmee vele gelowiges kan vereenselwig.
Teëspoed
tref baie gelowiges so ‘n bietjie onverhoeds.
In vers 13 & 14 lees ons Dat ek die kwaad vermy het en met 'n eed my
onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my
teenslae gebring en elke nuwe môre straf.
Om
die een of ander rede dink ons steeds dat ons gevrywaar is van swaarkry of
beproewings. Dalk sal ons dit nog kan
hanteer, want ons weet waar ons krag vandaan kom, maar daar bly altyd daardie
bietjie verslaentheid wanneer ons na ongelowiges kyk wat die voorspoed en
suksesgolf met groot vreugde ry.
Onlangs
luister ek na ‘n boodskap van ‘n prediker wie se naam ek ongelukkig nie gehoor
het nie. Hy vertel ‘n verhaaltjie wat
pragtig aansluit by Psalm 73.
As jong predikant het hy hom
met hart en siel in die bediening gewerp.
Die gemeente was nie welaf nie, maar hy het steeds voluit vir God
gewerk. Hul kon selfs geld bymekaarskraap
om ‘n gedenknaald op te rig tot eer van God… kontant. So besluit hy en sy jong gesin om ‘n bietjie
see toe te gaan vir ‘n vakansie. Op pad
terug breek hul tweedehandse ‘combi’.
Dit is bloedig warm. Hy het geen
kennis omtrent motors se enjins nie. Hy
probeer mense se aandag trek om te stop, maar hulle jaag verby sonder om te
stop. Saam besluit die gesin dat sy vrou
en dogtertjie in die motor sal bly terwyl hy en sy seuntjie probeer ryloop tot
by die naaste dorp. Hoe verder hul stap,
hoe meer verbitterd raak hy terwyl hy met God praat in sy binneste. “Here, ek werk so hard vir u, hoekom moet ons
motor breek. Here, kyk net hoe jaag
ongelowiges hier verby in blink motors terwyl ons net ‘n tweedehandse ‘combi’
het. Here, u sê dan dat U sal voorsien…”
Uiteindelik stop iemand met ‘n
rooi Ford Cortina langs hulle. Die
bestuurder leuen oor en draai die ruit af.
“Is dit julle combi wat hier anderkant staan?” vra hy. Dominee antwoord bevestigend. “Verskoon tog, maar u lyk vir my soos ‘n
dominee. Is u een?” “Ja, antwoord Dominee.” Die deur word oopgemaak. “Klim in.”
Dominee en sy seuntjie klim in.
Vir ‘n kort entjie ry hul in stilte.
Dan praat die man. “Dominee, ek
glo dat God jou vandag langs hierdie pad staangemaak het. Agter in my motor se kattebak is ‘n
haelgeweer. Ek is op pad na my
skoonouers se plaas. Daar gaan ek hulle
eerste skiet, dan my vrou en dan my twee kinders. Ek dink jy beter vir my bid, Dominee.”
Dominee het gebid. Twee weke later kom 2 ou mense by die kerk
ingestap, gevolg deur 2 jong kinders en agter hulle die man wat vir Dominee en
sy seun opgelaai het. Hy hou sy vrou se
hand stewig in syne. Ses dankbare paar
oë vind dominee s’n op die preekstoel.
Wat ‘n
verhaal! Dominee sê hy moes sy kop in skaamte laat sak, want hy’t besef dat hy
soos Asaf ongedurig was terwyl hy nie geweet het waarmee God besig was nie.
In
vers 23 & 24 sien Asaf die lig want U vat my aan die hand. U lei my met u
raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. Hierin is twee waarhede
opgesluit. Eerstens daar is nie ‘n
belofte van ‘n probleemvrye lewe vir gelowiges nie, maar wel die besef dat God
elke tree met ons sal stap terwyl Hy ons hand vashou. Tweedens mag ek en jy dalk nie nou ‘n
beloning (voorspoed) ontvang nie; ons beloning sal ons eendag kry wanneer ons
vir altyd by Hom sal wees.