Die dominee en sy elfjarige seuntjie het die gewoonte gehad
om elke Sondagmiddag na kerk die dorp in te vaar en traktaatjies uit te deel
met die evangelieboodskap op. Een Sondag kom die seun by Pa aan, toegewikkel in
sy warmste klere,
"Ek is reg pa!" Die dominee is effens uit die veld
geslaan - dit is bitter koud en die reën kom af in emmersvol. "Nee Seun,
ons kan nie vandag gaan nie - nie in hierdie eendeweer nie.."
Teleurstelling is duidelik op die outjie se gesig te lees: "Maar Pa.. gaan
mense dan nie Hel toe as dit reën nie?"
"Kyk Seun, ek gaan beslis nie in sulke weer uit nie!"
"Maar mag ék dan maar gaan Pa? Asseblief Pappie."
Nadat die dominee goed oor die saak gedink het, gee hy vir
sy seuntjie 'n pak traktaatjies om te gaan uitdeel, en opgewonde vaar die
outjie alleen die sopnat strate in.
Daar was byna g'n siel te siene op straat nie, dus loop hy van deur tot deur en
deel sy traktaatjies uit. Na twee ure se harde werk het hy nog net een
traktaatjie oor.
Sopnat gereën en bibberend van die snerpende koue stap
hy na 'n huis toe om sy laaste traktaatjie af te gee. Hy lui die klokkie, maar
niemand maak oop nie. Hy lui weer 'n slag, maar binne is dit doodstil. Dan druk
hy die knoppie met méning, en lui en lui, maar binne gebeur absoluut niks.
Uiteindelik draai hy om om te loop, maar dit is asof
'n stemmetjie binne in hom vir hom sê om terug te gaan. Hy draai om, lui weer
die klokkie, en begin om aan die deur te klop, en later te hamer met sy vuis.
Dit is asof iets hom by daardie deur hou. Net toe hy wil moed opgee gaan die
deur stadig oop.
'n Ou tannie wat duidelik baie bedroef is vra vir hom of sy
hom kan help met iets. Met ogies wat glinster en 'n glimlag van oor tot oor gee
hy vir haar sy traktaatjie: "Ek is jammer ek het Tannie gepla, maar, maar
ek wou net vir Tannie kom sê dat Jesus 'rêrag' vir Tannie lief is. Hier is my
heel laaste traktaatjie vandag - daarop vertel dit alles van Jesus en Sy groot
liefde!" En daarmee gee hy vir haar die traktaatjie, draai om en hardloop
huistoe.
Die volgende Sondagoggend staan die Dominee op die
preekstoel. Sy oë gaan oor sy gemeente, en toe vra hy of daar dalk iemand is
wat 'n getuienis het wat hy wil lewer voor die diens begin. Heel agter in die
kerk staan 'n ouerige dame op, haar gesig stralend.
"Niemand ken my in hierdie kerk nie," begin
sy vertel, "want sien, voor verlede Sondag was ek nie 'n Christen nie, en
ek was nog nooit in hierdie kerk nie." Die mense rek eintlik hulle nekke
om hierdie vreemdeling te sien.
Sy begin haar verhaal vertel:
"My man is 'n paar jaar gelede dood, en toe los hy my stoksiel alleen op
hierdie droewige aarde. Laas Sondag was dit 'n besonder koue, nat en
mistroostige dag, en ek het net gevoel dat daar vir my absoluut niks hier
oorbly om voor te leef nie. Ek het 'n stuk tou gevat en 'n stoel, en ek is op
na die solder toe. Daar het ek op die stoel geklim, die tou om 'n balk
vasgemaak en die ander punt om my nek.
En daar staan ek, so bitterlik jammer vir myself. Ek het die
einde van my paadjie bereik! Net toe ek wil spring, lui die deurklokkie - ek
het my byna dood geskrik. Ek het doodstil gestaan en gedink dat wie ookal die
klokkie lui sou padgee.. maar hy het nie!
Die gelui het al harder en dringender geword, en ek
het begin wonder wie mý deurklokkie so sou lui, want niemand het ooit vir my
kom kuier nie. Naderhand het die gelui 'n geklop geword en naderhand het die
persoon met sy vuiste teen die deur gehamer. Ek kon dit nie meer vat nie, en
toe maak ek maar die tou los om te gaan kyk wie dit is."
"Ek kon my oë nie glo toe ek die deur oopmaak
nie, want voor my het 'n seuntjie gestaan - sy gesiggie stralend soos 'n engel
s'n. En daardie glimlag - ek kan dit skaars beskryf! En toe hy begin praat, is
dit soos 'n engel wat met my praat:
"Tannie", het hy gesê, "Tannie, ek kom
net vir Tannie vertel dat Jesus vir Tannie 'rêrag' liefhet!" My hart wat
so morsdood was het in my keel geklop. En toe gee hy vir my hierdie traktaatjie
wat ek vashou.
"Toe hy weg is, vat ek die traktaatjie, en ek lees dit oor en oor - ek het
elke woord daarin ingedrink. En toe stap ek op na die solder toe, en ek gaan
haal die tou en die stoel, want toe was hulle nie meer nodig nie, want sien, ek
is nou 'n Kind van die Koning.
Julle kerk se adres was agter op die traktaatjie, en ek het
net vanoggend gekom om te kom dankie sê vir die engeltjie wat my lewe kom red
het, en my gered het van die ewige verderf in die hel.
Teen daardie tyd was daar seker nie 'n enkele persoon in die kerk wat nie gesit
en trane afvee het nie. Die dominee het van die preekstoel afgeklim en sy klein
engeltjie styf teen sy bors vasgedruk terwyl die trane vryelik oor sy wange
loop.
Daar is seker nie 'n gemeente wat 'n groter oomblik van
glorie beleef het as hierdie een nie, of 'n pa wat meer vervul was met liefde
en eerbetoon vir sy seun as hierdie een nie .. buiten Een: hierdie Vader het
óók Sy Seun in die donker, koue wêreld ingestuur om die Boodskap van Redding
aan die wêreld te bring.
Sy Seun was verag, verwerp, gespot, geslaan en aan 'n kruis
vasgespyker. En toe alles verby was, het Hy Sy Seun terug verwelkom en Hom op
die troon laat sit om te regeer oor die heelal.
Daardie Seun bring vandag steeds hoop en redding vir die wêreld, maar hy vra
vrywilligers soos ek en jy om Sy boodskap met vreugde uit te dra aan mense wat
verlore is. (ontvang via epos|)
Johannes 3 : 16 Hiéraan weet ons wat
liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons
broers af te lê.