Thursday 28 June 2018

Gee dit vir Hom


1 Petrus 5:7   Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

It is easier to be wise for others than for ourselves - Francois De La Rochefoucauld

Het jy al ooit jouself betrap dat jy raad uitdeel aan almal rondom jou.  Jy gee raad aan jou kinders, jou man/vrou, jou vriend(in), jou kollega… Of hul jou raad volg of nie, jy gee dit in elk geval.  

Hoekom is dit so maklik om ander se probleme uit te sorteer, maar vir jou eie het jy nie raad nie?  Nee, dis nie omdat jou probleme groter is nie, dit is bloot omdat jy meer objektief na ander se probleme kan kyk omdat daar afstand tussen jou en die probleem is.

Dis juis wat God van ons verwag.  Ons moet ons probleme by Hom laat.  Dit gee ons die geleentheid om na die probleem op ‘n afstand te kyk.  Van ‘n afstand is jy verwyder van die emosie en kan jy amper klinies na die probleem kyk.  Dit is in elk geval nie meer jou probleem nie… jy hoef nie meer nagte om wakker te lê en jouself siek te maak met bekommernis nie. 

Of die probleem verdwyn omdat dit nie meer so grotesk lyk nie, of God bewerkstelling ‘n perfekte oplossing.  Gee dit vir Hom.

Wednesday 27 June 2018

Die toekoms


Spreuke 23:18  dan sal jy 'n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.

“The future is my canvas. Now I have to paint the right picture." -  Bryan C. Tschuor

Al ontvang ons almal dieselfde kleure en materiaal, sal ons prentjies verskil as ons ‘n opdrag sou kry om iets te skilder.

Een haal van die verfkwas na die ander (dag na dag), een kleur gemeng met ‘n ander (ervarings), verskillende tegnieke (geleenthede)…

Elke dag neem ons prent meer vorm aan.  Soms verlaat die muse ons en ander kere kan ons amper nie die kwas neersit nie.  En soos elke kunstenaar se skildery ‘n storie vertel, so neem die storie van ons lewe ook vorm aan.

Hoe lyk jou doek (lewe)?  Het jy die prent voltooi of halfpad opgegee?  Is dit kleurvol, abstrak, donker?  Dalk is jou doek relatief kaal.  Miskien is jy ‘n ervare kunstenaar en is die eindproduk ‘n lus vir die oog.

Vandat ons die wêreld inkom, is ons deel van die toekoms.  Dinge gaan skeef loop en ons gaan moedeloos word, maar ons moet altyd ons oog gerig hou op die toekoms.  Met die toekoms in gedagte is daar altyd hoop.  Jy kan nie hoop en nie ‘n toekoms sien nie.

Tuesday 26 June 2018

Wat jy ookal doen


1 Korintiërs 10 : 31  Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.

Volgens die slim mense neem ons gemiddeld 23 000 asemteue elke dag.  Wanneer laas het ek of jy God gedank daarvoor, al is dit net vir een van daardie asemteue?  Ons is geneig om God te dank vir daardie dinge wat ons asem wegslaan, maar nie vir die asem wat ons daarvoor nodig het nie.

Die teks is een van net twee ‘wat ook al’ verse in die Bybel.  Die ander vind ons in Kolossense 3: 23 Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

Ons kla so maklik oor ons werk, maar is dit nie ook iets waarvoor ons sal dankbaar wees as ons daaraan dink dat ons dit vir God doen nie? Ons wil almal hou van die werk wat ons doen en die werk doen waarvan ons hou, maar partykeer bevind ons ons in ‘n ideale beroep met minder ideale base / bestuurders / toesighouers / eienaars.  Of dalk voel jy jy word nie waardeer nie… of jy word nie genoeg betaal nie…

Om ‘n werk te hê is ‘n gawe uit die hand van God ennog ‘n rede tot dankbaarheid is dat jy eintlik vir God werk.  Doen daarom jou werk asof vir God.  As Hy met jou bydrae tevrede is, doen jy dit met volle oorgawe en na die beste van jou vermoë.



Monday 25 June 2018

God se besluit


Ester 5 : 2  Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.

Ons wonder soms hoekom God sekere mense roep.  Ons kyk na hulle met ons menslike oordeel en beperkte visie en bevraagteken God se oordeel.  Regtig, God, hoe kan U hom/haar gebruik.  Kyk hoe lyk hul lewe!

God het ‘n tiener genaamd Ester geroep om die Joodse nasie te red.  Sy het in geloof opgetree en die koning ongenooid genader, selfs al was dit teen die reëls en kon sy met haar lewe boet.

Wat ons nie besef nie, is dat God in die agtergrond besig was omdat Hy ‘n groter plan in gedagte gehad het.  Hy het die weg vir Ester gebaan om die werk te doen waarvoor Hy haar geroep het.  En so is daar vele voorbeelde van onwaarskynlike mense wat God gebruik het.

Rut was ‘n nie-Jood.  Omdat God ‘n plan vir haar lewe gehad het en haar hart oop was vir Hom, het sy met Boas getrou; ‘n welgestelde man.  Die onmiddellike voordeel was dat sy versorg was.  Dit was God se guns en seën en uiteindelik deel van Sy groter plan.  Uit daardie huwelik is Dawid gebore, deel van die stamboom waaruit Jesus Christus eendag gebore sou word.

Dit is beter dat ons nie God se keuses bevraagteken nie.  Glo my, niemand sal in Sy diens staan as Hy hul nie daar wil hê nie.  Hy kan so iemand met een oogknip verwyder.  Ons ken net ten dele, maar eendag sal God se plan vir ons duidelik wees.

As jy so iemand is wat in God se diens staan en jy moet elke dag kritiek verduur, moet jouself nie verduidelik of jou posisie regverdig nie.  Wees jy net gehoorsaam en doen waarvoor jy geroep is.


Sunday 24 June 2018

Dwaasheid


Spreuke 12 : 15  In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad

As jy dink jy weet alles, sal jy die geleentheid mis om iets nuuts te leer.  As jy dink jy weet beter, mis jy die geleentheid om van iemand te leer wat wel meer as jy weet.  Realiteit is dat so 'n rigiede denke, geen ruimte vir jou laat om jou horisonne te verbreed nie.

Dit is hoekom Jesus so hard op die Fariseërs was.  Hulle was nie ontvanklik vir Sy leringe nie…

Wetenskaplikes gebruik ‘n mikroskoop om byna onsigbare mikro organismes daaronder te vergroot sodat hulle dit kan sien.  Party van ons het nie eens 'n mikroskoop nodig nie.  Ons het sommer van nature 'n mikroskopiese uitkyk op die lewe.  Ons blaas dit wat op die mikroskoop se plaatjie lê op en omdat ons dan op 'n baie klein deeltjie fokus, mis ons die groter prentjie.

‘n Geslote brein sal nooit ontvanklik wees vir ‘n goeie idee nie.  Elke situasie is eintlik ‘n geleentheid… dit hang net af hoe jy daarna kyk, maar ‘n geleentheid kan nie in jou skoot val, as jou skoot nie reg geposisioneer is nie.  Ons fokus is dikwels heeltemal verkeerd en dan is ons boonop te hardkoppig om dit te erken.

Dit veroorsaak dat ons nie net geleenthede mis nie, maar ook op verkeerde plekke soek.  Dit is ook hoekom ons reg ingestel moet wees op God.  Ons kan nie op ons eie insigte staatmaak nie.  Ons is nie alwetend nie, ons is en bly afhanklik van God.  Dalk stuur God iemand vandag oor jou pad om deur hul met jou te praat en jy hoor dit nie, want jy is nie ingestel op God se stem nie. 

Mag jy vandag hier lees met ‘n oop gemoed en groot genoeg wees om te erken as jy tot nou toe op ‘n dwaalpad was… as jy gedink het jy weet beter… te hardkoppig was om na wyse raad te luister… of die stem van God geignoreer het.

Thursday 21 June 2018

Dankie!


Deuteronomium 8:10  “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het

Onthou jy nog die jare toe ons aan tafel geëet het as gesin?  Voor ons begin eet, sou ons hande vat en pa sou ‘n tafelgebed doen.  Ons mag ook nie van die tafel opgestaan het alvorens almal nie klaar geëeet het en pa ‘n dankgebed gedoen het nie.

Deesdae eet ons sommer so op ‘n drafstappie of as ons nog gaan sit om te eet, is dit op ons skote voor die televisie.  Bid en dank ons nog?  Ja, daar is nog mense wat dit doen.  Dis vir my altyd ‘n riem onder die hart as ons in ‘n restaurant is en ek sien mense hul hoofde in stilte sak voor hul begin eet.  Dis ‘n tradisie wat ons aan ons nageslag moet oordra en die enigste manier om dit te doen is om dit uit te leef.

Met die droogte die afgelope jaar, het duisende gebede opgegaan vir gebed van individue, maar ook gebedsaksies.  God het vir ons deurgekom en milde reën het geval.  Ek het ongelukkig nog nie van ‘n dankdiens gehoor nie.  Hoe hartseer is dit?  Hoe kan ons God weer vir iets vra as ons nie die ordentlikheid het om dankie te sê nie?  Ek weet daar is individue wat God wel bedank, maar moet ons nie in die openbaar ook dankie sê nie. Dalk sal dit selfs beter in ons land gaan as ons as kinders van God begin om God te dank.

Soos bedorwe brokkies is ons gou om te vra en ons raak ongeduldig en ontsteld as God nie gou vir ons deurkom nie.  Is dit nie dalk omdat ons nie gou is om dankie te sê dat God traag is om ons gebede te verhoor nie? 

Ek moet erken dat ek myself al betrap het dat ek nie dadelik vir God dankie gesê het nadat Hy my gebede beantwoord het nie.  Hoe vaar jy op die gebied?

Wednesday 20 June 2018

Hoe praat ons met mekaar?


Kolossense 4 : 6  Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

Weet nie of dit my verbeelding is nie, maar dit wil voorkom asof mense deesdae al minder geduld het en veral minder verdraagsaam is teenoor mekaar.  Daar is onderstrominge en frustrasies wat uiting vind in ons optrede teenoor mekaar.

Wanneer mense op die aanval is, is dit gewoonlik om hulself te verdedig.  Dit is of as gevolg van vrees of as gevolg van ‘n skuldgevoel.  Daar is ‘n eensydige uitkyk op die saak.  Hulle glo gewoonlik dat hul reg is en wil dit ten alle koste bewys. 

Jy mag dalk van my verskil en reken dat party mense bloot onbeskof gebore is.

Laat ons nie klippe gooi nie, maar eerder intensiewe selfondersoek doen.  Nie een van ons is in hierdie opsig onskuldig nie.  Hoeveel keer blaf ons na iemand sonder om twee keer te dink?  Dis amper ‘n refleksbeweging.  En hoeveel keer moes ons al tot ons skaamte erken dat ons verkeerd was?

Wanneer jy iemand slaan, gaan min mense stilstaan.  Hul gaan gewoonlik terugslaan.  Die kanse is dus goed dat ‘n skewe woord/antwoord/opmerking presies dieselfde van die ontvanger gaan ontlok.  Voor jy jou kom kry is dit ‘n bekgeveg.  Indien mense op mekaar skel of baklei, hoor jy glad nie die ander persoon nie.  Jy is alreeds besig om jou teenargument te formuleer terwyl hul nog besig is om te praat.

Daar is dus geen wenners wanneer mense hul in ‘n woordestryd bevind nie.

Die woord verwag van ons om altyd vriendelik te wees… dat dit wat ons sê van goeie smaak sal getuig… en dat ons die wysheid sal hê om te weet hoe ons mense moet antwoord.  Dit bied nogal stof tot nadenke. 

Is dit nie juis waar ons as kinders van God ‘n voorbeeld behoort te stel nie?  As daar ‘n wag voor elke Christen se mond is in ‘n land waar die meerderheid as Christene gesien word, moet daar verandering plaasvind.

Monday 18 June 2018

Hou aan!


Matteus 7 : 7  “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

In Markus 5 lees ons van die vrou wat vir twaalf jaar aan vloedvloeiing gely het.  Niemand kon haar help nie.  Tot sy op ‘n dag hoor dat Jesus na haar dorp op pad is.  Binne haar het ‘n vlammetjie van hoop begin gloei.  Al was sy mismoedig van jare se negatiewe nuus, het hoop na bo geborrel.  “Dis my kans!”  Maar toe sien sy hoeveel mense om Hom saamdrom het sy gedink dat sy nooit by hom sou uitkom nie, want sy is alreeds so swak. 

Wanhoop en hoop het ‘n tweestryd binne haar gevoer en sy het amper haar seisoen gemis.  Die skare was enorm, maar die wete dat sy genees kan word as sy net by hom uitkom, het haar weer aangepor. 

Ons kan ook van koers afgedwing word deur voortdurende klappe wat die lewe ons toedien.  Dis maklik om te dink dat jy eenvoudig nooit iewers sal kom nie… dat alles teen jou is, maar dit kan juis jou probleem wees.  Luister na jou eie gesprekke.  Wees bedag op daardie negatiewe gedagtes.  Vervang dit met positiewe gedagtes.  Positiewe gedagtes is geloof.  Negatiewe gedagtes is reaktief. 

Die vrou het voortgebeur deur die skare en uiteindelik kon sy darem aan Jesus se kleed raak.  Net daardie bietjie deursettingsvermoë het die verskil gemaak.  Onmiddellik was sy gesond.   Jesus word geroer deur geloof.  “Dogter, jou geloof het jou gered.”

Sien jy dat dit haar geloof en volharding was wat haar in kontak gebring het met die krag van God.  Dit is vandag steeds so.  Moenie opgee nie.  Hou aan bid.  Hou aan vra.  Soek God en bly vasberade.  God ignoreer geloof nooit.




Sunday 17 June 2018

Jy is uniek


Prediker 5 : 18  God gee aan 'n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is 'n gawe van God

Die skrif leer ons dat God ons seen en die vermoë gee om dit wat Hy ons gee te geniet.  Dit beteken dat elkeen van ons, ons deel ontvang.  Wat ek uit die hand van God ontvang, is myne.  As iemand anders die geleentheid sou kry om my lewe te lei, mag dit wees dat hul dit glad nie sal geniet nie, want elkeen van ons is uniek en hardloop ons eie wedloop.

Wanneer ons dit verstaan en omarm, sal ons nie meer in die versoeking kom om ons lewe en dit wat ons het of nie het, te vergelyk nie.  Jy sal nie wens dat jy iemand anders se talent het nie, want as God dit so wou gehad het, sou Hy jou die talent gegee het.  Neem wat jy het en ontwikkel dit.  Maak die meeste daarvan.  Moenie dink dat dinge anders sou gewees het as jy soos hy of sy gelyk het of gehad het wat hulle het nie.  Die feit dat jy nie het wat ander het nie, is nie die noodlot nie, dis God.  Jou lewe is perfek vir die persoon wat Hy jou gemaak het.

Jy moet eenvoudig begin om opgewonde te raak oor jou uniekheid.  Ontdek jouself, jou gawes, jou talente, jou persoonlikheid en ontgin dit tot jou voordeel.  Niemand anders het wat jy het nie.  As jy passievol en trots is op wie jy is, bring dit hulde aan God.  Dis wanneer God jou in die regte rigting stoot sodat die saadjies wat Hy binne jou geplant het kan ontkiem en in volheid blom.


Thursday 14 June 2018

Vergroot jou kapasiteit


Efesiërs 1 :  18 – 19  Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Ons het nie ‘n watertenk nie, maar ons bad is al amper ‘n jaar lank ons “Jojo-tenk” en dan het ons ook emmers en plastiekhouers.  Omdat water tydens die droogte so ‘n kosbare kleinood geword het, het ek al menigmaal met leepogies na die reën staan en kyk, hulpeloos terwyl dit wegvloei omdat al my houers propvol is. 

Die probleem lê nie by God se voorsiening nie, maar by my kapasiteit om te ontvang.  As ek meer of  groter houers gehad het, kon ek meer ontvang. 

Dieselfde beginsel geld in ons lewens.  Ons dink ons het ons limiet bereik.  Ek sal nooit 'n bestuurder word nie... ek sal nooit ryk wees nie... ek sal nooit oorsee reis nie... ek sal vir die res van my lewe sukkel...  Nee, jy moet ontslae raak van jou klein houertjies.  Die God wat jy dien, is nie suinig nie. Hy beskik oor onbeperkte voorsiening.

Die probleem lê nie by God nie, maar by ons onvermoë om Sy vermoë te verstaan.  Vergroot jou kapasiteit om te ontvang deur jou denke te verander.  Dink en droom in “God-sizes”.

Wednesday 13 June 2018

Jy sal nie verleë staan nie


Psalm 37 : 19  In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê.

Verwag jy om God bonatuurlik in jou lewe te sien deurkom?  Verwag jy oorvloedige seëninge?

Die teks is jou versekering wanneer dinge skeefloop.  Kind van God, jy sal nie verleë staan nie.  Al is omstandighede hoe haglik, hoef jy nie bang te wees nie.  Al styg die petrolprys en verswak die rand, al styg die werkloosheidsyfer, al dreig onrus… vir jou sal daar altyd genoeg wees.

God openbaar Sy krag aan diegene wat Hom allereers soek, veral gedurende tye van beproewing.  Maak nie saak hoe groot die reus wat voor jou staan, God is groter.  Hy sal ‘n weg baan waar uitkoms onmoontlik lyk.

Te midde van omstandighede, verklaar jou geloof in God.  Die Here is my Herder, NIKS sal my ontbreek nie.  Moenie twyfel nie.  Ja, omstandighede is donker, maar God is steeds daar. 

Here, ek vertrou u blindelings.  Al bewe my lippies, verklaar ek onomwonde dat U my enigste hoop is en ek weet dat U vir my gaan deurkom.  Ek glo dat U my nie beskaamd sal laat staan nie.  U Here is my rots en my sterkte.

Tuesday 12 June 2018

Gee jou tiende


Maleagi 3 : 10  Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

God weet waartoe Hy in staat is en daarom rig Hy ‘n uitdaging tot jou en my.  Toets my!  Bring jou tiende en ek maak die sluise van die hemel oop.  Wanneer jy jou tiende getrou gee, sal jy meer terug ontvang as wat jy kan opgebruik.

Ek wonder hoeveel mense gee regtig hul tiendes.  Dalk probeer jy dit regverdig deur te sê, die kerk het genoeg… of hulle kan gaan werk… of hulle koop net drank en dwelms… 

En tog is jy nie skaam om vir jouself te gee nie.  Sodra ons begin geld verdien, begin ons behoeftes ontwikkel.  Kort voor lank is die maandelikse inkomste nie meer genoeg nie en word dit bloot ‘n stryd op oorlewing.  Waar moet die tiende vandaan kom as daar nie eens geld is om alles te betaal nie?

Jy sien, dit is waar ons die bus mis.  Ons tiende behoort heel eerste betaal te word.  Die inkomste wat ons verdien is nie ons s’n nie.  Ons is slegs rentmeesters van dit waarmee God ons vertrou.  Wanneer God sien dat Hy jou met min kan vertrou, sal Hy jou meer en meer gee.  Elke keer dat jy meer ontvang, moet jy meer vir Hom teruggee.

Kan jy jou indink hoe dit moet wees om soveel te hê dat jy dit nie kan opgebruik nie?  En dit is moontlik.  Jy moet net gehoorsaam wees en jou tiende vir God begin gee. Besluit vandag om ‘n gewer te wees.  Gee soos die Gees jou lei. 

Monday 11 June 2018

God kom altyd deur


Psalm 40 : 2  Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor

Almal van ons kan terugkyk op tye dat ons deur die lewe ‘n dwarsklap gegee is.  

Ons onthou dikwels hierdie tye, maar ons vergeet om onsself krediet te gee vir die feit da tons nie bly lê het, maar opgestaan het.  Jou verslawing behoort al tot jou dood te gelei het, maar jy leef steeds… Jou roekelose leefstyl behoort al tot jou val te gelei het, maar jy is steeds staande… Jy het iemand aan die dood afgestaan sonder wie jy gedink het jy nie sal kan voortgaan nie, maar jy haal steeds asem… Jy het gedink jy kan nie meer nie, maar op die een of ander manier sit jy steeds een voet voor die ander…  Jy het selfmoord probeer pleeg of jy het gedink jou kanse in die lewe is verby, maar God het weer lewe in jou geblaas en jou nog ‘n kans gegee.  God lig jou uit die put en plaas ‘n nuwe lied in jou hart.

Wanneer ons deur beproewings gaan, is dit ‘n geleentheid om te sien hoe God skyn in die donkerte.  Jy sien hoe Hy jou oplig, herstel, bevorder en genees.  Met so ‘n geskiedenis met God, raak jy nie meer mismoedig gedurende moeilike tye nie.  Jy val nie uitmekaat as gevolg van teleurstelling nie.  Jy raak nie hartseer omdat mense oor jou skinder nie.  Jy onthou dat God jou tevore al deurgetrek het en dat dit hierdie keer ook sal gebeur.

Vier vandag die feit dat jy steeds staande is en sien jou toekoms deur God se oë.  Onthou dat God jou tevore al deurgetrek het en dat dit hierdie keer ook sal gebeur. 

Vier vandag die feit dat jy steeds staande is en sien jou toekoms deur God se oë.

Sunday 10 June 2018

Palmbome


Psalm 92 : 12 -13   Ek kyk op my teëstanders neer, ek luister sonder vrees na die mense wat niks ontsien nie, wat in opstand teen my is. Die regverdiges sal sterk soos palmbome wees

Wanneer hul vir ons beelde wys van erge storms oorsee, sien jy dikwels ‘n palmboom wat heen en weer geruk word.  Partykeer word die blare van die palm in een rigting gedwing deur die wind en ander kere is dit amper asof die palmboom in ‘n tweestryd met moeder natuur is.  Die wind druk hom byna plat, maar die palmboom spring weer terug sodra die wind skietgee.  Die interessante deel is dat wanneer die palmboom so platgedruk word deur die wind, maak dit hom meer soepel en dus sterker.

Jy sien die rede hoekom ons floreer soos ‘n palmboom, is omdat God geweet het dat ons ook storms sal beleef.  Hy het geweet dat die stormwinde ons sal probeer knak en dat swaarkry ons vreugde sal probeer steel.  Daarom het God gesê die mens sal soos ‘n palmboom wees…al woed en tier die stormwinde rondom ons, sal ons weer regop bons, net soos die palmboom sodra die storm bedaar.  Ons mag dalk heen en weer geklap word, maar ons sal nie geknak of ontwortel word nie.

Kyk maar terug op jou lewe.  Hoeveel storms het jy al oorleef?  Elke keer het jy oorleef en elke keer het jy sterker geword.  Jy kan selfs erken dat jy iets geleer het.  Jy is wyser en meer veerkragtig.

Soos met die palmboom, breek die son ook weer vir jou deur en kan jy fier en trots bly staan.  Dan kyk jy ook trots, soos die palmboom, op jou vyande neer.  Jy is ‘n wenner en daarom sal niks jou onderkry nie… ook nie dit waardeur jy tans gaan nie.

Thursday 7 June 2018

Hoe begin jou dag?


Psalm 34 : 2  Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.

Wanneer jy jou oë oopmaak, wat is die eerste ding waaraan jy dink? Wat is die eerste ding wat jy sê?  Baan jy die weg vir sukses, voorspoed en seën?  Of sug jy en begin die dag al morrend en brommend.  Onthou dat jy is wat jy dink.  Gelukkig kan ons elke dag van vooraf begin, so vandag kan die eerste dag van die res van jou lewe word en jy is aan die stuur daarvan.

Gister mag dalk nie verloop het soos wat jy dit graag sou wou gehad het nie, maar vandag is ‘n splinternuwe dag.  Ons behoort elke dag met afwagting uit te sien na dit wat God vir ons in stoor het.

Rondom jou mag dit dalk nie so goed lyk nie.  Jy mag jouself in minder gunstige omstandighede bevind of jy mag dalk omring wees deur negatiewe mense wat voortdurend kla en jou ook probeer aftrek, maar jy hoef dit nie te word nie.  

Jy sê dis nie so maklik nie…  Gebruik jou geheime wapen.  Lofprysing!  Hoe erger dit raak, hoe harder prys jy God.  Styg uit bo jou omstandighede.  Stap soos die ribbok op hoë plekke, waar Hy jou veilig sal laat loop.


Wednesday 6 June 2018

Visualiseer


Spreuke 27:19  Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.

God het ons geskep as visuele wesens.  Daarom is dit so belangrik dat ons hierdie gawe gebruik om onsself as’t ware reg te programmeer deur die regte beelde in ons gedagtes voor te hou, want wat ons sien, is waarheen ons sal neig. 

Visualisering is bloot die wyse waarop jy jouself sien.  Dit skep vir jou brein ‘n prentjie van hoe jy oor jouself voel en dit is juis hier waar jy die krag van visualisering moet inspan.  As jy jouself op ‘n negatiewe manier sien, is die kanse goed dat jou lewe sal uitdraai soos jy dit sien.  Aan die ander kant, as jy daardie prentjie herskep deur dit te kleur soos wat jy dit graag wil sien, dan begin die gety vir jou draai.  Jy kan jouself dus in die lig sien van ‘n wenner, iemand wat suksesvol is, ‘n persoon wat struikelblokke oorkom, daardie persoon wat hul Godgegewe doel in die lewe uitleef. 

Ons verbeelding is ontsettend kragtig.  Die manier waarop ons onsself sien in die prentjies wat ons skep, sal ingeprent word in ons siel en as ons aanhou om daarop te mediteer, verplaas dit na ons onderbewuste.  En sodra dit in jou onderbewuste is, is dit min of meer soos gravitasie, dit trek jou aan.  Dis dan dat prentjies ‘n werklikheid word.

Skep ‘n prentjie in jou gedagtes van dit wat jy wil bereik.  Dit sal verskillend wees vir verskillende mense.  Vir party sal dit wees om ‘n doelwit te bereik, vir iemand anders ‘n suksesvolle besigheid, en vir nog iemand om gelukkig en gesond te wees.  Dit wat jy voorhou, is waarheen jy sal beweeg. 

Daar is dus geen rede hoekom jy na ander se lewe of talente moet kyk en wens dat jy ook soos hul kan wees nie.  Jy kan wees wie jy nog altyd bedoel was om te wees, want onthou God se planne vir jou was nog altyd goed en het nog altyd sukses en voorspoed ingesluit.  Sy planne was nog nooit om jou te na te kom nie.

Moet ook nie vergeet dat dieselfde van toepassing is op jou verhouding met God nie.  Wanneer God op die voorgrond van jou gedagtes is en jy voortdurend mediteer op Sy wil vir jou lewe, is dit waarheen jou lewe sal beweeg en hoe jy as Christen sal groei. 

Sodoende maak jy seker dat jy jou gedagtes rig op die regte dinge en die regte rigting vir jou lewe.


Tuesday 5 June 2018

Eendag


Hebreers 11 : 7  Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie.

Wanneer jy na mense se gesprekke luister, besef jy hoeveel hoop daar eintlik binne ons is.  Ons het hoop vir die toekoms anders sou ons nie oor eendag gepraat het nie.  Ons gaan ‘eendag’ oorsee… Wanneer ek ‘eendag’ trou… As ons kinders eers ‘eendag’ daar is… ‘Eendag wil ek nog… 

Ek glo dat die mens voortbeur na eendag.  Eendag bied vooruitsigte, hoop en die geleentheid om te droom. 

Noag het ook in eendag geglo.  Eendag sou hy en sy gesin die boot binnestap nadat al die diere volgens God se instruksies ook ingegaan het... Eendag sou die reëns kom en diegene wat hom so spot, saam met die res vergaan.   Eendag sou die water opdroog en sal hy en sy gesin sorg vir 'n nuwe geslag.  Noag het geen waarborg gehad, net God se voorsiening tot op daardie dag en ‘n vaste geloof.

Ons glo ook blindelings… dat Jesus weer eendag sal terugkom na die aarde om ons te kom haal om vir ewig saam met hom in die hemel te wees. 

Die probleem lê dus nie by eendag, maar by vandag.  Dit is vandag waaroor ons onseker is.  Dit is vandag wat ons bang maak.  Die vraag is egter hoekom ons God vertrou vir eendag, maar ons twyfel oor Sy vermoëns of versorging vir vandag?  Dis immers dieselfde God wat ons dien.  Die God van vandag, is ook die God van gister (van Noag) en die God van môre.

Ons mag God dalk nie vandag sien nie, maar ons weet verseker Hy was gister by ons en ons glo dat ons Hom eendag weer van aangesig tot aangesig sal sien.  En dit is juis wat geloof is.  Ons glo al sien ons nie… en ons glo omdat ons hoop het vir môre.  Daarom gaan ons ook vandag tegemoet met geloof, want God is reeds daar.

Monday 4 June 2018

Wis uit / delete


Romeine 10 : 17  Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. 

Is negatiewe gedagtes besig om jou potensiaal te ondermyn?  Dalk is dit tyd om die uitwis (delete) knoppie te druk. 

Sogenaamde kundiges mag jou dalk ingelig het dat dit onmoontlik is of hoe dit nie sal werk nie, maar hulle weet nie wat God vir jou in gedagte het nie.  God alleen het die finale sê.  Hy sou nie ‘n droom in jou hart geplant het as hy nie ook vir jou die nodige deure sal oopmaak of ‘n weg sal baan sodat jou droom bewaarheid kan word nie.

Dis tyd om jou doof te hou vir die doemprofete.  Wis hul ontmoedigende woorde en negatiwiteit uit.  Wis die negatiewe rapporte uit.  En as dit weer terugkom, herhaal die aksie.  Wis uit / Delete, wis uit / delete, wis uit / delet.  En elke keer as jy dit uitwis, vervang dit met ‘n belofte uit God se Woord totdat jy jou oorspronklike sagteware terug het.  

Niemand word gebore met ‘n negatiewe gesindheid nie.  As baba het jy nie opgegee totdat jy kon kruip, opstaan en loop nie.  Jy het aangehou, maak nie saak hoeveel keer jy lomp platgeval het nie. Jy is dus ‘n wenner.  Jy het dit in jou. Jy kan!  Jou sagteware is so geprogrammeer, maar oor tyd is dit deur die virus van negatiwiteit besmet.  So hou aan om negatiwiteit uit te wis, totdat jou geloof sterker as jou twyfel is.

Wie ookal vir jou vertel het dat jy dit nooit sal maak nie… dat jy dit nie in jou het nie… dat so iets jou nie beskore is nie… dat jy altyd ‘n looser sal bly… dat dit net by drome sal bly… dit het nooit van God af gekom nie. 

Moenie toelaat dat andere jou toekoms bepaal of ‘n limiet op jou vermoëns plaas nie.  Wis die verkeerde gedagtes uit en glo die Woord van God.  Omarm die seen en oorwinning wat Hy vir jou in gedagte het.

Sunday 3 June 2018

God mors nie


Johannes 6 : 12  Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

Hier word vertel van ‘n keer toe Jesus ‘n skare van vyfduisend (en dit was net die mans) met vyf broodjies en twee vissies gevoed het.  Hy het dit geseën en vermenigvuldig.  Daardie dag, nadat almal genoeg geëet het, was daar nog twaalf mandjies vol brood en vis oor.

Wie sou nou omgee as daar kos rondgelê het;  daar was immers meer as genoeg.  Nee, Jesus vra dat hul die oorskiet optel sodat niks gemors word nie.  Baie mense lees hierdie verhaal en natuurlik is hul beindruk en onthou hul hoe die bietjie kos vermeerder is, maar min mense besef dat God ons nog ‘n les leer.  Dat hy nie daarvan hou om enige iets te mors nie.  God gebruik alles, maak nie saak hoe min dit is nie.  Met God is niks ooit klaar nie.  Hy sal nooit ‘n geleentheid verbrou nie.  Hy sal nooit sommer net iemand laat seerkry nie.  Hy sal nooit ‘n droom plattrap nie.  Hy sal nie eens ‘n krummeltjie weggooi nie.

Dalk voel jy of jy jare lank gemors het in die verkeerde verhouding of werk.  Miskien voel jy dat jy jare vermors het deur ydel plesier.  Dalk voel jy asof jy jou tyd gemors het met verkeerde vriende.  Dalk voel jy asof jy jou swaarverdiende geldjies mors, want jy het nooit enige iets om weg te sit nie.

Kyk wat doen God.  Hy neem die vis en broodjies by die seuntjie, iets wat niemand gedink het op daardie stadium enigsins genoeg sou wees om ‘n skare te voed nie.  Net so sal God ook die verlore jare, verlore geleenthede, verlore inkomste neem wat die vyand van jou probeer steel en dit tot jou voordeel aanwend. Al dink jy jy’t jou tyd gemors, moet jy besef dat niks ooit ‘n mors van tyd is wanneer God ingryp nie.

Moenie vandag mismoedig voel nie.  Hy is jou Voorsiener en hy sal nie toelaat dat ‘n krummeltjie van jou lewe gemors word nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...