Numeri 14 :
24 Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander
gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy
gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.
Ons weet dat Moses 12 verspieders na die beloofde land gestuur het. Die mense van Israel het net buite die land
kamp opgeslaan en was baie opgewonde oor die land van melk en heuning waarnatoe
hul al so lank op pad is. Uiteindelik... nou moet hul net op die verspieders wag om terugvoer te gee en dan sal hul die land kan ingaan.
Na 40 dae, kom tien mans terug met ‘n redelik negatiewe rapport. “Moses, die mense is so groot soos
reuse. Ons sal hul nooit kan verslaan
nie.” Die nuus versprei natuurlik soos
veldbrand onder die mense en hul begin kla en murmureer.
Een
van die verspieders, Kaleb, het egter ‘n ander siening: “Moses, ons is in staat om die mense te
verslaan en die land in te neem, want God sal met ons wees.”
Interessant
om te onthou al 10 verspieders het dieselfde land gesien, maar net een het ‘n
positiewe uitkyk gehad. Hoekom? Kaleb se houding was anders. Hy het dinge uit ‘n ander perspektief
beskou. Terwyl ander op die reuse
gefokus het, het Kaleb op God gefokus.
Die
hartseer uiteinde is dat diegene wat negatief was, nooit die land binne gegaan
het nie. Na jare van trek en ontbering
en swaarkry, kon hul net met leepoë na die land kyk. Eers wanneer hul almal gesterf het, sou God
vir Kaleb en die nuwe generasie die land laat binnetrek.
Hoe
lyk jou gesindheid, jou houding? Is jy
positief of negatief. Kyk jy na die reuse en word ontmoedig, of kyk jy na God
en glo dat met Hom jy tot alles in staat is.
Moenie
na enige iemand luister behalwe God nie.
God sê: “Kies om My Woord te glo,
kies om My te gehoorsaam en ek sal jou die beloofde land inlei.”