Psalm 46:3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif
die berge tot in die dieptes van die see,
Onlangs ontvang ek ‘n epos van ‘n kollega wat groet voor sy
die maatskappy verlaat. Heel verbaas om
dit te hoor, verneem ek na die rede rondom die aankondiging. Sy laat weet dat sy ‘n slagoffer van
herstrukturering is, maar diep gelowige wat sy is, sê sy: “Jesus het my nodig vir ‘n ander opdrag.”
Dis nie maklik wanneer jy voel asof jou hele wêreld
ineenstort en jy magteloos bly toekyk nie.
Dan voel dit asof jy ‘n toeskouer in jou eie lewensverhaal is, want die
werklikheid wil eenvoudig nie by jou insink nie. Na soveel jare diens… wat gaan ek nou
doen? Wat hou die toekoms in? Hoe gaan ons oorleef? Wat van my familie?
In vandag se werkgewersmark, is daar geen sekerheid meer
nie. Maatskappye probeer hul bes om kop
bo water te hou en die aandeelhouers gelukkig te hou. Aan die slagoffers in die proses, word daar
selde as individue gedink en dit kan jou nog meer nutteloos laat voel.
Moenie toelaat dat mismoedigheid of vrees, te midde van al
die onsekerheid, jou oorval nie. Die ou
cliché is baie waar… as een deur toegaan, gaan ‘n ander oop. Soms is die verandering ‘n bedekte seën. Glo dat God in beheer is en dat Hy jou veilig
deur die krisis gaan lei… Die prentjie
wat jy sien is net ‘n beperkte weergawe.
God se uitsig is veel wyer en verder en Hy laat alles altyd ten goede
meewerk.
No comments:
Post a Comment