Thursday 28 February 2019

Reuse


Numeri 13 : 33  Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

Tien van die twaalf spioene wat uit Kanaan teruggekeer het, het gerapporteer dat die Enakiete reusagtig groot is.  In verhouding voel hul soos ‘n sprinkaan teenoor ‘n reus.

Twee van die twaalf, Josua en Kaleb, het dieselfde reuse gesien, maar hul uitkyk verskil.  Vers 30 Laat ons optrek en die land gaan oorneem.  Ons is daartoe in staat. 

Josua en Kaleb het geweet dat hul die reuse kan oorwin omdat God met hul sou wees.  Die ander was bereid om agter te bly, sonder God.  Sjoe, ek face eerder my Goliat met God aan my Sy as 'n dwerg sonder Hom.

God het ‘n plan vir jou lewe net soos wat hy ‘n plan vir die Israeliete gehad het.  Dalk weet jy nie hoe dit kan manifesteer nie, want jy sien net die reuse probleme raak waarmee jy gekonfronteer is.  Kyk na hierdie reuse met Kaleb en Josua oë.  Jy is in staat om hierdie reuse te verslaan, want God is met jou.  Jy het ‘n doel wat deur God bepaal is en geen verskoning om dit nie te vervul nie.  As jy sê ek is te swak, sê God:  my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking (2 Kor 12 : 9).  Dalk gebruik jy jou verlede as verskoning.  God sê:  Die ou dinge is verby, kyk die nuwe is hier! (2 Kor 5 : 17).

Ek dink nie die probleem is God se geloof in ons nie.  Die probleem is ons geloof in God. 

Ons is nooit aan ons eie lot oorgelaat nie.  God is altyd daar en geen reus staan ‘n kans teen Hom nie.

Wednesday 27 February 2019

Dankie


Lukas 17 : 17  Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?

Hoekom dien jy God?  Of dalk moet ek vra wanneer dien jy God?  Sien jy Hom as ‘n Voorsiener en Towerfee wat jou voorspoedig maak en uit moeilikheid kan help, Iemand wat jy by geleentheid dien wanneer jy Hom nodig het?  Dalk is jy vinnig om te sê:  “Nee, dis nie hoekom ek Hom dien nie.”

Hoe lyk jou gebede?  Is dit ‘n bestelling wat jy plaas en verwag dat aflewering, gratis, so gou moontlik sal geskied?  En as Hy jou bestelling foutloos aflewer, sê jy dankie?

Uit die tien melaatses het net een teruggekom om dankie te sê.  Dit is tekenend van die mens se ondankbaarheid.  Ons verwag van God om ons gebede te beantwoord en natuurlik op die manier wat ons wil hê dit beantwoord moet word.  En Hy moenie draai nie.  Ons is besig en ons het nou Sy hulp nodig, anders sou ons nie gevra het nie.

Jy kan God nie Sondag in die kerk aanroep, maar Hom Maandag uit die raadsaal uitsluit nie.

God behoort jou alles te wees… jou alfa en jou omega… jou begin en jou einde.  Jou lewe behoort aan Hom.  Jy behoort aan Hom. Dien Hom met jou hele hart, jou hele verstand en jou hele siel.  Hy is nie ‘n geleentheidsgod nie.  Hy is die Enigste God.  Ja Hy is ‘n Voorsiener, Geneesheer en Helper, maar Hy is ook ons Verlosser en Saligmaker. 


Tuesday 26 February 2019

Laat staan die offer


Matteus 5 : 23 – 24  “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

Wanneer jy hierdie teks lees, besef jy dat God nie ons offer wil hê as ons in onvrede meet ons naaste leef nie.  Dalk skok dit jou, maar dis die realiteit.

Soms doen ons alls volgens God se wil.  Ons het ons lewe aan Hom oorgegee, ons lees Bybel, doen Bybelstudie, gaan kerk toe, help ander, gee ons tiende, maar dinge loop nog steeds verkeerd in ons lewens en ons kan nie verstaan hoekom nie.

Vra jouself af of daar iemand is wat jy nog nie vergewe het nie… of iemand wat dalk deur jou seergemaak is… iemand wat jy tenagekom het… of dalk is daar iemand wat jou verantwoordelik hou vir dit wat in hul lewe gebeur het.

God sê:  “Sit daardie offer van jou net hier langs die altaar neer en gaan maak eers reg, dan kan jy terugkom en jou offer op die altaar plaas.”  M.a.w. jou offer sal niks beteken indien jy nie vrede gemaak het nie.

Dit sluit aan by naasteliefde.  Hoe kan ons God liefhê wat ons nie kan sien nie, maar ons broer of suster wat ons kan sien nie voor ons oë verdra nie?

Selfs in die kerk is daar broers en susters wat mekaar nie in die oë kan kyk nie.  As die een die ander in ‘n kerkbank sien, loop hul ‘n draai om so ver moontlik van daardie broer/suster af te sit.

Ons verwag vergifnis van sondes wat veel erger is as dit wat ander aan ons gedoen het, maar ons weier om te vergewe.  Dalk is dit tyd om te laat gaan.


Monday 25 February 2019

Engele


Hebreërs 13 : 2  Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.

Genesis 16 : 2  Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by 'n fontein in die woestyn…

Eksodus 23:20 “Ek, die Here, stuur 'n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm, Jakob

‘n Engel het aan Bileam verskyn, so ook aan Gideon en Manoag, Joab, Dawid, Elia, Gad…

Bekendes, sowel as minder bekendes het besoeke van Engele ontvang.  En daarom sal ek of jy nooit weet wanneer ons dalk besoek ontvang nie.

My seun was nog baie klein toe hy vertel van die Engel wat hy gesien het.  Ons het by my skoonma gekuier en hy het by haar in die kamer geslaap.  Hy het wakker geword en hierdie massiewe Engel gesien staan.  Volgens hom was die Engel tot by die dak met enorme vlerke.  Hy het sy ouma probeer wakkermaak om die Engel vir haar te wys, maar sy het vas geslaap.  Elke keer as hy daaroor praat voeg hy by dat hy nooit bang was nie.  Die Engel het net daar gestaan.  My seun glo tot vandag toe dat dit sy persoonlike Engel is. 

Daar is mense wat jou sal vertel van gevaar waarin hul verkeer het en hoe hul op ‘n wonderbaarlike manier uit die kloue van die dood ontsnap het. 

Het jy al bestuur en byvoorbeeld die idee gehad om van baan verander, maar daarteen besluit, net om ‘n motor die volgende oomblik reg langs jou te gewaar?  Vergewe my as ek verkeerd is, maar ek glo God stuur beskermengele om ons te behoed en bewaar en ek gaan nie myne afskrik nie.


Sunday 24 February 2019

Trane


Psalm 30 : 6  … Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer

Elkeen van ons het ons al in ‘n vallei van droefheid bevind.  Daardie plek waar jy soveel trane stort dat jy dink jy sal nooit weer ophou huil nie.

Ek het die afgelope week deur ‘n bitter moeilike tyd gegaan.  Omdat ek so ‘n privaat mens is, kon ek ook nie met enige iemand daaroor praat nie.  Dit was net ek en God, maar moenie vir my jammer voel nie, want ek en God is ‘n menigte.  Dit was al wat ek nodig gehad het.  Natuurlik was dit ‘n bonus dat ek nie eens nodig gehad het om die storie aan hom te herhaal nie.  Hy het presies geweet wat gebeur het… wat my amper gebreek het.
Sulke tye kan ons, selfs terwyl ons huil, ons beroep op Sy beloftes.  Ek het elke belofte wat ek kon onthou opgeroep en met God daaroor gesels.  As hy dit alles, oor eeue heen kon doen, was dit waardeur ek gegaan het ‘n nietigheid in die groter prentjie. 

Hartseer en pyn is nie lekker nie, maar gemeet aan die lengte van ons lewens is dit nie so ‘n groot deel daarvan nie.  Tog is dit asof dit allesoorheersend raak wanneer ons, onsself in so ‘n tyd bevind.  Tyd staan stil.  Alles raak donker.  Ons ontwikkel tonnelvisie en daar is ‘n onsigbare mag wat ons wurg en aftrek in ‘n put.

Vandag wil ek vir jou bemoedig na aanleiding van my eie ervaring.  Satan is ‘n brullende leeu en hy lê op loer, maar hy is nie bestand teen die mag van God almagtig nie.  Hy sal jou slaan en skop terwyl jy lê, God sal jou trane afdroog en jou vertroos.  Hy sal hom verlekker in jou seerkry en jou allerhande leuens toesnou.  God neem jou terug na Sy Woord… wat die enigste waarheid is. 

Met God aan ons kant kan ons vannag onsself aan die slaap huil en môreoggend met vreugde wakker word, want by Hom is alles moontlik.

Thursday 21 February 2019

Visie


Filippense 3 : 13  Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Wanneer God mense gebruik gee Hy vir hulle ‘n visie.  Vir Moses was dit om die Israeliete uit Egipte te lei.  Vir Moeder Teresa was dit diensbaarheid.  Vir Florence Nightingdale was dit genesing en hoop aan sterwende soldate tydens die Krimoorlog.

Wat is jou visie?  Indien jy nie weet nie, bid daaroor.  Vra God om jou te wys wat jou visie is.  Wanneer jou visie jou seen en vir ander tot voordeel is, sal jy weet dat dit van God afkomstig is.  As jou visie egter is om die rykste persoon ter wêreld te word en alles te kan koop wat jou hart begeer, glo ek nie dat God jou gaan ondersteun nie.

Daar word gereken dat 40% van mense net oor hul drome praat.  Die volgende 40% is bereid om hard te werk en alles vir hul drome op te offer, maar hul het nie een nie.  Net 20% het ‘n droom en die geloof om dit te bewaarheid.  Realiteit is dat selfs hierdie 20% geen waarborg op sukses het nie, maar hul het ‘n 80% beter kans as die mense om hulle.

Ek glo dat jy alles moet probeer.  Dit is makliker om te erken jy’t ‘n fout gemaak as wat dit is om eendag te sê:  “As ek dit maar net probeer het!”  Go for it!  Wie nie waag nie, sal nie wen nie.

Wednesday 20 February 2019

Opgehef deur God


Psalm 75 : 8  Nee, dit is God wat verneder of verhef,

Sommige mense het ‘n geweldige minderwaardigheidskompleks.  Hulle besef nooit hul eie waarde nie.  Daar kan natuurlik goeie rede voor wees, maar iewers moet jy besef dat jy uniek en kosbaar is en nie die leuens glo wat ander jou probeer wysmaak het nie.

As dit nie gebeur nie, sal jy in die versoeking kom om jouself te probeer verhoog / ophef.  En dikwels word dit gedoen deur ander af te breek sodat jy beter kan lyk.  Weet jy wat is so wonderlik omtrent God se koninkryk?  Dit is dat jy nie op jou eie sukses kan bereik nie, maar dat jy dit ontvang van God.  Hy is die een wat verneder of ophef!

‘n Goeie voorbeeld is Dawid.  Sy broers het elkeen geglo dat hul die uitverkorene is om koning te word.  Dawid het in die veld voortgegaan om in nederigheid skape op te pas.  God laat haal hom uit die veld en maak hom koning!  Dit was nie vir Dawid nodig om sukses na te jaag nie.  Sukses is aan hom gegee!

Laat die kompetisie en alewige vergelykings aan andere oor.  Doen jy net wat God van jou verwag asof jy dit vir Hom doen en Hy sal jou ophef.  Om die suksesleer op jou eie te klim verg harde werk, swoeg en sweet van douvoordag tot laat in die nag.  Niks is ooit goed genoeg nie en daar word altyd meer van jou verwag.  Sodra jy jou doelwit bereik, verskuif hul die doelpale?  Klink dit soos jou lewe?  Voel jy ook asof jy ‘n os is wat ingespan is terwyl die baas jou looi om harder te probeer?

Volgens Matteus 11 : 30 is dit veel beter om jouself aan God te onderwerp as om vir ewig vir ‘n baas te werk.  My juk is sag en my las is lig.


Tuesday 19 February 2019

Toewyding (2)


Lukas 9 : 23  Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,

Die volmaakte voorbeeld van toewyding, vind ons in Jesus.  Hy het nie een oomblik Sy eie belange gesoek terwyl Hy op aarde was nie.  Sy hele lewe was een van diensbaarheid.  Hy was die minste, al was Hy die Seun van die Allerhoogste.

Hy het nie aardse besittings nagejaag nie.  Sy fokus was mense… verlore mense.  Hy het alles gedoen wat Hy kon om mense van die almag van God te oortuig.  Hy het Homself afgesonder, soveel tyd as moontlik met God deurgebring sodat Hy meer gehad het om aan honger siele te gee. 

Sy toewyding was radikaal, van Sy geboorte in ‘n stal tot Sy leiding en kruisdood.  En daarom kon Hy aan die einde prewel:  “Dit is volbring.” 

Hoeveel van ons sal op ons sterfbed dieselfde woorde kan uiter?  Is ons seker wat ons doel is… wat van ons verwag word… wat op daardie doenlysie staan… en werk ons daadwerklik daaraan om elke item afgemerk te kry? 

ü  Bely sondes
ü  Vra vergifnis
ü  Kom tot bekering
ü  Soek die koninkryk van God
ü  Maak vrede
ü  Wy lewe aan God deur die boodskap van verlossing te verkondig
ü  Doen goeie dade
ü  Dien ander deur die hande en voete van Jesus op aarde te wees
ü  Red siele
ü  Voeg jou eie items by

Jesus se finale opdrag was nie om uit te gaan en soveel besittings as moontlik bymekaar te maak of seker te maak jy het ‘n lekker tyd nie…Die opdrag het glad nie eens oor jou gegaan nie, maar oor ander.  Die opdrag was om vissers van mense te wees.  Daar is werk om te doen.  Matteus 9:37 Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.

Sonder ons toewyding gaan siele verlore en daarvoor sal ons verantwoording moet doen.

Monday 18 February 2019

Toewyding

Hosea 6:6 want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.

Toewyding is nie juis die onderwerp van die dag nie.  Ons is ‘n bakhand-generasie.  Daarom sal ons daar wees terwyl dit goed gaan, daar uitgedeel word, maar wanneer die voorsiening opdroog, verdwyn ons soos mis voor die son.

Ons wil veral nie betrokke raak nie.  Mense moet net nie iets van my verwag nie.  Daarom groet ons nie ons bure nie, want ons wil mense nie naby ons toelaat nie.

Ons fobie vir toewyding raak elke aspek van ons lewe.  Egskeidingsyfers neem toe terwyl die hoeveelheid mense wat trou, afneem.  Dis hoekom verhoudings so maklik sneuwel.  As dit nie werk nie, beweeg ons aan.  Ons doen nie moeite nie… is nie bereid om op te offer of die minste te wees nie. 

Vasbyt en deurdruk ten spyte van omstandighede is te veel moeite.  Handoek ingooi is veel makliker.  Dalk is dit hoekom soveel graad eentjies nooit matriek haal nie en diegene wat gelukkig is om te gaan studeer, dikwels opskop.

Selfs wat ons geloofsake betref is daar min toewyding.  Kerke loop leeg.  Vir baie van ons is dit moeite om elke Sondag kerk toe te gaan.  Wie woon nog bidure of hemelvaartdienste by? 

Baie kinders word geld in die hand gestop eerder as wat hul ouers gehaltetyd saam met hul deurbring.  En dan gooi ons saam met ander hande in die lug en vra:  “Wat word van die jeug?” 

Toewyding is wat God van ons verwag.  Hoe kan jy meer toegewyd raak?  Psalm 86:11 Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien

Sunday 17 February 2019

Erken die mense


1 Tessalonisense 5 : 12 Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys.

Hoë bome vang die meeste wind, lui die spreekwoord.  Dit is beslis waar wanneer dit by geestelike leiers kom. 

Mense is gou om hul te kritiseer en dikwels nie net vir hul menslike gedrag nie, maar ook vir dit wat hul op die preekstoel doen.  Ek was al skuldig daaraan dat ek bly was om ‘n sekere dominee op die preekstoel te sien omdat ek geweet het hy preek kort en kragtig.  Met die ander dominee het ek gevoel hy praat hopeloos te lank en ek verstaan in elk geval nie veel van dit wat hy praat nie.  Hoe onsensitief van my en hoe in teëstryd met vandag se vers.  

Die feit dat die dominee se boodskap nie op my van toepassing is nie, beteken nie dat daar nie iemand was wat daardie dag die boodskap nodig gehad het nie.

Om my skuld te versag, kan ek darem noem dat ek ook al meer as een keer vir die prediker ‘n epos geskryf het om te bedank vir ‘n spesifieke boodskap wat ek voel kreatief en met impak oorgedra is.  Is dit nie eerder wat ons moet doen nie?  Opbou eerder as afbreek. 

Geestelike leiers is ook nie gevrywaar van skinderstories nie.  Ons ken die storie dat predikantskinders die stoutste op die dorp is, maar is dit nodig om hul elke beweging dop te hou en te kritiseer as hul soos ons gewone sterflinge ook sondig?  Moet ons nie eerder vir hulle bid nie?

Boonop glo meeste van ons dat ons kerk toe gaan om ‘n boodskap te kry, nie om enige iets in ruil vir die gemeente te doen nie.  Ander kan diegene in nood help, vir siekes gaan kuier, selgroepe stig, fondsinsamelings reël, ons staan net bakhand.  As die dominee nie ons drumpel deurtrap nie, is ons gou om te oordeel dat hulle net kom as hul geldsoek, maar het ons al die dominee geskakel en net vir ‘n koppie koffie oorgenooi, sonder om berading te verwag?

Vandag se teks laat ons so ‘n bietjie ongemaklik rondskuifel, want ons gee min of geen erkenning aan diegene wat ons, in opdrag van die Here, lei en teregwys.  Hierdie mense staan in ‘n roeping.  Vir baie was dit ‘n moeilike besluit om in voltydse bediening te gaan.  

Laat ons hul ophef en ondersteun.


Thursday 14 February 2019

Keuses


Romeine 8 : 5 – 6  Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.  Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.

Daar is die verhaaltjie van twee pasiënte wat in ‘n hospitaalsaal langs mekaar gelê het.  Die een het ‘n uitsig op die venster gehad en elke oggend sou die ander een hom vra hoe dit buite lyk.  Hy sou ‘n pragtige prentjie skets en die man wat die vraag gevra het sou in vervoering na die beskrywing luister.  Hoe dit gebeur het, kan ek nie meer onthou nie, maar op ‘n dag sou hy uitvind dat die persoon wat die pragtige beskrywings gegee het blind was.
 
Jy sien, wanneer ons deur die Gees beheer word sien ons van binne en is alles beeldskoon.  Ons kan net die mens word wat God ons bedoel het om te wees wanneer ons ons gedagtes op die regte dinge rig.  Ons omstandighede bepaal nie ons lewenskwaliteit nie.  Dit bring wel sekere emosies na vore.  Jy kan na jou omstandighede kyk en dit as hopeloos sien en sodoende mismoedig word of jy kan na jou omstandighede kyk en besluit dat dit beslis net beter kan gaan.  Jy kan dus jou emosionele reaksie beheer deur jou gedagtes te beheer.

Dink jy dus jy gaan nooit êrens in die lewe kom nie, sal dit inderdaad so wees.  Dis hoekom drome so belangrik is en hoekom jy groot drome moet droom.  Mense wat dink "the sky's the limit", beperk hulself.  

En dis waar ek verstom staan oor die manier waarop God die mens geskape het.  Hy kon ons geskape het om net opdragte uit te voer, maar Hy wou ons ‘n keuse gee, 'n keuse sonder enige beperkings.  Deur jou denke is daar altyd twee opsies.  Jy kan lewe of dood kies deur jou ingesteldheid.

Wednesday 13 February 2019

Belangrikheid


Psalm 78 : 7 – 8  Want niemand kan ‘n mens belangrik maak nie, niemand in die ooste of die weste, of in die woestyn nie.  Dit is God wat oordeel.  Hy wys vir party mense dat hulle nie belangrik is nie en Hy maak ander mense belangrik.

Wanneer jy ‘n groot salaris verdien en die beste van alles besit of kan koop asook ‘n belangrike pos beklee glo jy dat jy dit gemaak het.  Ander kyk op na jou.  Hulle wil soos jy leef en so belangrik soos jy wees.

Wat gebeur egter wanneer dit alles van jou weggeneem word?  Vir meeste stort hul wêreldjie ineen en is hulle ewe skielik niemand.  Dis dikwels wat gebeur wanneer mense aftree.  Skielik word hul nie meer deur hul titel gedefinieer nie... Skielik is die inkomste minder... Skielik is hul 'net' 'n pensioenaris.  Hoe hartseer dit ookal is, ons meet mense aan wat hul besit en wie hul is.

Om hierdie aansien te verdien, werk meeste mense hulself tot op breekpunt.  Party brand uit terwyl ander ‘n stryd teen depressie voer.  Meeste voel altyd of hul tekort skiet, want hul is nog nie op dieselfde vlak as diegene wat hul bewonder nie.  En so bly dit ‘n gejaag na wind soos die Prediker dit so mooi stel.

By God hoef jy nie aansien te verdien nie.  Hy gee dit!  Hy maak ander mense belangrik...Dis nogal 'n openbaring!

In Psalm 37 begin alles sinmaak.  Leef jy maar net rustig voort.  Moet jou nie oor skelms of diewe bekommer nie.  Vertrou op die Here… Laat jou lewe aan die Here oor…Vind jou vreugde in die Here en HY SAL JOU GEE WAT JOU HART BEGEER.

En tog... ten spyte daarvan dat God ‘n indrukwekkende CV het, verkies ons om op ons eie kragte staat te maak.  Neem God vandag op Sy woord.  Hy is die Een wat verhef.  Dawid was ‘n eenvoudige skaapwagter.  Sy broers het daarna gestreef om koning van Israel te word, maar Dawid het eenvoudig gedoen wat hy moes.  God laat haal hom uit die veld en verhef hom tot koning.

Dien God met jou hele hart en hou aan om te doen wat jy moet doen.  God self sal jou uithaal uit die diepste, vergete put, en jou belangriker maak as wat jy ooit sou kon droom.

Tuesday 12 February 2019

Wat sal ek sê?

Matteus 10 : 19  Moet julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê

Party mense weet altyd wat om te sê.  Hulle het die vermoë om te troos, te bemoedig, te inspireer… woorde ontbreek hul nooit.

Hoe dit ookal sy, meeste van ons kom op ‘n plek dat ons nie weet wat om te sê nie.  Wat sê jy vir ‘n ouer wat ‘n kind aan die dood afgestaan het?  Wat sê jy vir iemand wat gehoor het hul het net twee maande oor om te leef?  Wat sê jy vir iemand wat alles verloor het waarvoor hul jare lank gewerk het?  Wat sê jy vir die mamma wat tevergeefs wag dat haar kinders vir haar kom kuier?  Wat sê jy vir iemand wat nie in God glo nie?

Dis wanneer jy besef dat jy Goddelike ingryping nodig het.  Net God kan die regte woorde in jou mond lê. 

Ook in jou eie lewe is daar onbeantwoorde vrae?  Jy verstaan dalk nie waardeur jy gaan nie.  Jy vra hoekom ek?  Wanneer gaan ek weer lag?  Ons het nie al die antwoorde nie, maar God het.  Vra Hom vir insig en wysheid.  Hy is alwys en alwetend.  

Psalm 31 : 7 – 8  My vertroue stel ek in die Here.  Ek wil jubel en juig oor u troue liefde;  U was nie onverskillig teenoor my ellende nie;  U het die bedreiging van my lewe raak gesien.

Wat jy ookal vandag moet deurgaan, God staan nie onverskillig nie

Monday 11 February 2019

Denke


Filippense 4 : 8  Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, daarop moet julle julle gedagtes rig.

Daar word gesê dat jy is wat jy dink.  As jy negatief dink, gaan jy negatief raak en dieselfde is waar van positiewe denke.  Is jy ingestel op jou denke?  Is jy so fyn ingestel dat jy elke oomblik van die dag in beheer van jou denke is?

Ek dink gedagtes is soms ‘n trop wilde perde wat ‘n rigting inslaan wat ons nie altyd voorsien het nie. 

Die goeie nuus is dat jy jou gedagtes kan beheer.  As jy dit nie doen nie, kan hul jou beheer.  Ons weet dat die tong ‘n magtige swaard is, maar die tong gee net klank aan gedagtes.  Elke woord begin as ‘n gedagte.  Om te kla of kritiseer het hul ontstaan in jou gedagtes.  Ons dink ons voel nie lekker nie, dan sê ons dit vir almal met wie ons in aanraking kom en kort voor lank glo ons ons is siek… Gedagtes lei tot gevoelens, nie andersom nie.  

Ons is so krities in ons gedagtes oor ander se optrede dat ons alewig fout vind met alles wat ander doen of sê.  Maar ook hier kan God ons vernuwe volgens Romeine 12 : 2  Laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone verander.  Hoe jy oor ander dink is hoe jy hulle gaan ervaar.  Dink 'n bietjie hieroor.

Wees ingestel op wat jy dink.  As alles wat jy dink verwoord sou word en ander dit kon hoor, wat sou hul indruk van jou gewees het?  Net omdat ons nie sê wat ons dink beteken nie dat ons gedagtes in orde is nie.  Dalk vloek jy nooit hardop nie, maar in jou gedagtes is dit die een knoop op die ander.  Onthou God het toegang tot ons gedagtes.

Span jou gedagtes tot jou voordeel in.  Dink aan maniere om jou gedagtes in ‘n positiewe rigting te kanaliseer en jou, sowel as ander, op te bou eerder as om negatief of afbrekend te wees.

Wanneer jou gedagtes rein, edel, reg en aanneemlik is, sal dit moeilik wees om ander te na te kom.  Mense sal by jou wil wees en meer soos jy probeer wees.

Sunday 10 February 2019

Fokus op jouself


Romeine 14 : 12  Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee

Hoe maklik oordeel ons nie mekaar nie?  Ons is so op verskille tussen mekaar gefokus dat ons nie eens agterkom hoeveel ooreenkomste daar is nie.

Ons dink as ons 'n verskil kan vind en daarop in-zoom, kan ons die ander persoon afkraak, verneder, neerbring en dan lyk ons mos beter.  Waar is naasteliefde in die prentjie?

Wanneer jy Romeine 14 lees, kom jy agter hoe relevant die Bybel steeds vandag is.  Ook ons soek 'n stok om iemand anders te slaan.  Vers 5 het goeie advies:  "Elkeen moet net in sy eie moed oortuig wees van sy opvatting. 

Partykeer dink ek dit is omdat ons vir onsself leef en nie soos vers 8 aanbeveel dat ons vir die Here moet lewe. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here.

Dis nie vir ons om fout te vind of te oordeel nie.  Soos hy terg sê in vers 10:  Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn."  In plaas van my naaste dop te hou en probeer in 'n slegte lig stel voor God en ander, moet ek eerder verantwoordelikheid neem vir my eie siel.



Wanneer ons nie vir onsself lewe, maar vir die Here, sal ons uitkyk verander, want voor Hom is ons almal gelyk.  Daar is nie witbroodjies nie.  Daar is nie voorkeur of voortrekkery nie. 


Thursday 7 February 2019

Is God tevrede met jou lewe?

Spreuke 16 : 7 As die Here tevrede is met 'n mens se lewe, laat Hy selfs so' n mens se vyande in vrede met hom lewe.

Tuesday 5 February 2019

Is jy 'n dissipel?

Johannes 13 : 35  As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is.

Wie kan ek stuur?

Jesaja 6 : 8 Toe het ek die Here hoor vra: "Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees? "

Sunday 3 February 2019

Christus in my


Galasiërs 2 : 20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my

Dit is wat gebeur wanneer jy tot bekering kom.  Dis egter ‘n proses, want op eie krag sal ons dit nooit regkry om soos Hy te word nie.  Die eie ek moet afsterf sodat Christus deur ons kan leef.

Sou ons dit op ons eie kon doen, het ons Hom mos nie nodig gehad nie en dan loop ons ook Sy genade mis. 
As ongereddene oorheers sonde jou lewe.  Dit gaan net oor jouself en wat jy uit die lewe kan kry, selfs ten koste van ander.  Die prys van sonde is die dood.  Daarteenoor sorg die Gees dat ons vir ewig lewe in Hom, selfs al sterf ons aardse liggame.  Jy sien, deur God is ons vrygespreek.  Romeine 8 vanaf vers 5 praat oor die gevolg van sonde, maar in vers 11 is daar hoop Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Jy vra dalk: “Hoe weet ek dat Christus in my is en in my werk?”  Vra diegene met wie jy in aanraking kom hoe hulle jou sien.  Hoor en sien hule Hom in jou woorde en dade?  En as jy wonder hoe lank dit neem om soos Hy te word… ‘n leeftyd lank, een dag op ‘n slag.

As Suid-Afrika ‘n Christenland is, wonder ek hoekom ons so min van Hom in die optrede van ons mede-mense sien.  Of is ons net lip-Christene?

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...