Thursday 28 September 2017

Raadpleeg eers die Here

1 Konings 22:5  Maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “raadpleeg net eers die Here.” 

Hoeveel keer pak ons nie iets aan sonder om eers vir God te raadpleeg?  As sake dan nie na wense verloop nie, weet ons baie goed waarheen om te hardloop.  God se antwoord aan Josafat was dat hul maar kan gaan veg, hulle gaan verseker wen.

Net soos ons God oor alles moet raadpleeg en in alles moet ken, moet ons ook ag slaan op ons woorde.  Woorde dra krag en daarom moet ons versigtig wees wat ons sê. 

Almal het na Goliat verwys as die reus. Almal was bang vir hom.  Hy kon min of meer maak soos hy wou.  Dawid het hom egter nooit ‘n reus genoem nie.  Hy praat van Goliat as die onbesnede Fillistyn.  Hy sien nie dat Goliat te groot is vir hom, eerder dat dit voordelig is, want hy’s so groot Dawid weet hy kan nie mis nie. 

Wat is die reus in jou lewe? Werkloosheid? Verslawing? Onmin in jou verhouding?  Let op jou taalgebruik wanneer jy hieroor praat. 

Toe Moses verspieders stuur om die beloofde land te verken, kom hul terug en sê die mense is te groot, hul sal nooit teen hul kan wen nie.  Josua en Kaleb se siening van die beloofde land verskil egter.  Hulle sien die vrugbaarheid en potensiaal van die land.  Hul woorde aan Moses was:  “Laat ons onmiddellik die land binnegaan.”  Wat gebeur?  2 miljoen kampeer daar, maar net 2 gaan die beloofde land binne. 

Nie net ons woorde nie, maar ook ons negatiwiteit hou ons heel waarskynlik ook uit ons beloofde land.  

Wednesday 27 September 2017

Gelowig vs Ongelowig

1 Korintiërs 7:12 - 14  Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.  En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie.  Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.

Olie meng nie met water… donker en lig is twee teenoorgestelde pole.  Net so is dit baie moeilik vir ‘n gelowige om met ‘n ongelowige binne die huwelik in harmonie te leef.

Ons trou vir liefde en met sterre in ons oë, hopende dat ons die persoon met tyd sal oortuig om soos ons te dink.  En na die ‘honeymoon’ verby is… dan moet jy hoor jou gedwepery irriteer hom/haar… daardie Christelike boodskappies van jou moet nou stop… hierdie gedurige kerkganery moet nou endkry… en… moet my net nie probeer verander nie…

Dis nie goed vir 'n ongelowige om met 'n gelowige te trou nie, maar aan die ander kant kon jul albei die Here gedien het en een van jul kon afgedwaal het.  Dit is geen rede vir egskeiding nie.  Bid vir jou wederhelf totdat hy/sy weer na God terugkeer. Op 'n dag gaan jou gebede beantwoord word.

Of nie een van jul het God geken toe jul getroud is, maar toe ontmoet jy God en jou hele lewe verander.  Jou fokus verskuif na God.  Weereens is dit geen rede om te skei nie.  Dit is jou plig as eggenoot om die ander in gebed te hou.

Jul behoort aan God wat die huwelik ingestel het.

Tuesday 26 September 2017

Verskuif jou fokus

Lukas 16 : 15  Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God. 

Hou jou hand ver voor jou uit terwyl jy jou regteroog toehou.  Bring nou jou hand nader en nader aan jou linkeroog totdat dit teen jou linkeroog is.  Kan jy enige iets sien?  Nee, want jou regteroog is toe en jou hand blokeer jou sig uit jou linkeroog.  Net so blokeer ons die goeie dinge wat God vir ons in stoor het met ons fokus op die negatiewe.

Jy hoor miskien dat jy aan ‘n ernstige toestand lei. En wat doen ons… ons google.  En daar vind ons ‘n 1001 dinge wat ons kele nog verder laat toetrek.  Dan praat jy met vriende en jy hoor iemand wat daarmee gediagnoseer is, het net 6 maande geleef.

Wat as ek nie die werk kry nie? Kyk hoe styg die pryse… Dink net hoeveel aansoeke hulle gekry het, hulle kan kies en keur… My ouderdom, my velkleur, my gestremdheid… 

Verskuif jou fokus deur God te prys vir dit wat Hy gaan vermag. U sê u sal my gee die begeertes van my hart… U het net goeie planne vir my… U is ‘n God wat nie kan lieg nie…

God het die son laat stilstaan vir Joshua, Jesus het water in wyn verander, God het die leeus se bekke gesluit sodat niks met Daniel gebeur het nie.  God, U het gesê dat U in elke behoefte van my sal voorsien… so ek vertrou U.

Maak God die middelpunt van jou bestaan, nie jou probleem nie. Onthou, as God so naby aan jou is soos wat jou hand aan jou oog was, sal jy nie eens jou probleem raaksien nie.  

Monday 25 September 2017

Wees die verandering

1Tess 5 : 18  Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

In elke werksomgewing is daar ‘n kultuur.  Wat is die kultuur waar jy werk?  Is dit vir jou lekker om werk toe te gaan?  ‘n Goeie maatstaf is om na jou gemoedstoestand op ‘n Sondagaand te kyk.  Is jy alreeds besig om ‘n siekte uit te dink sodat jy net nie Maandagoggend daar hoef in te stap nie? Is dit jou baas, jou kollegas, die tipe werk wat jy doen?

Om ‘n werk te hê, is eerstens iets om op trots te wees en tweedens iets om voor dankbaar te wees.  Ek gee nie om wat jy doen nie, as jy jou brood verdien in die sweet van jou aangesig is jy ‘n wenner in my oë. 

Doen elke dag jou beste, al word dit nie raakgesien nie.  Jy werk immers nie vir ‘n aardse baas nie, maar vir God.  Al kry jy geen erkenning nou nie, weet vandag dat God trots is op jou.  As jou kollegas of jou toesighouer of jou baas jou ‘n harde tyd gee, moet hulle nie oordeel nie.  Vra jouself in elke omstandigheid af wat God sou doen. Dit sal jou gou leer hoe om op te tree.

Dit help ook om die minste te wees. Jy hoef nie altyd reg te wees nie.  ‘n Sagte woord keer die grimmigheid af… draai die ander wang… Wees jy die verskil wat jy graag in ander wil sien.

Thursday 21 September 2017

Kies lewe

Hoekom ly ons?  Hoekom gaan dit goed met slegte mense?  Hoekom het ek al my aftreegeld verloor?  Hoekom is my kind dood?  Hoekom woed ‘n orkaan nie oor die see uit nie?… Hoekom tref dit die land en vernietig alles wat in sy pad kom?  

Ek weet nie… Is jy verbaas?  Weet jy, dit is die antwoord wat ons behoort te gee.  Ons wil so graag slim lyk en al die antwoorde hê, maar partykeer moet ons slim wees en erken dat ons nie weet nie.  Net God weet.  Ons wil so graag weet… ons soek antwoorde… ons soek logika te midde van onlogiese gebeure.  So graag as wat jy ‘n antwoord wil hê, moet ek ongelukkig vir jou sê dat God nie op logiese maniere werk nie.

Dalk is dit tyd om vrede daarmee te maak.  Ons hoef nie alles te weet of verstaan nie.  As God alles reggeruk het die oomblik dat dit gebeur, of niks negatief ons getref het nie, sou ons nie nodig gehad het om God ooit te vertrou nie. 

Deuteronomium 30 : 19  Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe

Wat doen ons, ons volg eerder ons eie koppe.  Ons maak baie keer slegte besluite (kies die dood) en dan wil ons God blameer wanneer dinge verkeerdloop.  Galasiërs 6 : 8  Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.

Genadiglik hang God se liefde vir ons nie af van ons optrede nie.  Hoor jy my duidelik vandag?  Jesus het juis vir die sondaar gesterf.  Daarom kan ons met sekerheid sê dat God ons almal ewe liefhet.  Net omdat jou kind nie doen wat reg is, beteken nie vir een oomblik dat jy van daardie oomblik af die kind nie meer liefhet nie. 

Partykeer moet ons na God gaan en vra, Here het ek dalk iets gedoen om hierdie ellende oor my te haal? Dalk was jy ongeduldig met iemand… Dalk is daar iemand wat jy moet vergewe… dalk het jy iets gedoen wat iemand seergemaak het. Jy weet, ons is almal verskillend en soms kan jy een ding bedoel en iemand ervaar dit op heeltemal ‘n ander manier. 

Tog is daar steeds hoop.  God kan enige situasie waardeur jy seergemaak is neem en dit omkeer in iets positief.  

Wednesday 20 September 2017

Dis tyd om te verander

Efesiërs 5:28  Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief,

God het die huwelik ingestel en daaruit vloei kinders en ‘n gesin.  Dis veronderstel om ‘n veilige plek te wees waar ons leer om ‘n volwaardige lid van die samelewing te wees.  

Iemand wat vol selfvertroue is, dog ander goed behandel.  In teenstelling daarmee sien ek mans, vrouens en kinders wat geen selfvertroue het of te bang is om te waag, want hul is as mens so afgebreek dat hul geen menswaardigheid oor het nie. 

Wie gee jou die reg om jou gesinslede te behandel op die manier wat jy hul behandel?  En nee, ek praat nie vandag net met mans nie.  Daar is vrouens wat net so venynig is.  Of jy hul nou met jou vuiste of woorde slaan… of jy hul mishandel… of jy hul sonder kos of geld laat… of jy jou seksueel op hul afdwing… wie gee jou die reg om hierdie dinge te doen?  Is dit omdat jy eintlik ‘n boeilie is?  Jy het slagoffers wat nêrens anders kan heengaan, so hulle moet jou optrede verduur.

Wanneer het jy hierdie monster geword?  ‘n Boelie is eintlik ‘n lafaard.  Dalk weet jy nie hoe om te wys dat jy omgee of dalk het jy nooit geleer hoe om jou gevoelens te wys nie…  Hoor my vandag baie mooi:  “Daar is geen verskoning vir jou optrede nie.”  Niemand verdien die lewe wat jy hierdie mense laat lei nie… hulle wie jy veronderstel is om lief te hê en ‘n veilige huislike omgewing te bied. 

Dit gaan egter van vandag af verander.  Jy gaan vandag nog op jou knieë en jy gaan jou sondes voor God bely.  Jy gaan Hom vra om jou te verander sodat jy die man / vrou kan wees wat God jou bedoel het om te wees.  Die nuwe jy gaan jou gesin op jou hande dra, maak nie saak hoe moeilik dit raak of hoe gefrustreerd jy raak nie. 

Ek weet jy kan dit doen.

Tuesday 19 September 2017

Twee perde

Markus 3 : 25  en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie.

Ons is baie lief vir ons eggenoot en ons kinders, maar daar is tye dat ons nie baie mal oor hul as mens is nie.  Iemand het vir Billy Graham gevra of hy al ooit aan egskeiding gedink het.  Sy antwoord:  “Egskeiding, nee, maar moord ja.”  Dis tong in die kies.

Al is ons hoe lief vir ons gesin, is dit so dat ons nie altyd oor die weg kom nie.  In party gesinne woed daar voortdurend ‘n klein oorloggie… ‘n woordestryd.  Iemand sê of doen iets en daar gaan ons alweer.  By die werk of tussen vriende moet ons nog ordentlik wees, maar om die een of ander rede dink party van ons dat die mense met wie ons ‘n huis deel, nie op dieselfde respek aangewese is nie. 

Aan die anderkant, weet ons ook van die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.  Jy weet hoe ‘n klein dingetjie uit verband geruk kan word. In jou kop is ‘n gesprek wat alles uit verband ruk.  Sommer gou is daardie molshoop Mount Everest.  Juis daarom, onthou altyd dat dit makliker is om die vrede te bewaar as om vrede te maak. Elke keer wat daar onvrede is, vorm nog ‘n krakie in jou gesinstruktuur.

Dalk reken jy dat jy jou nie so sal vererg of ontstel as ‘hulle’ jou nie verkeerd opvryf nie.  Wel, jammer om van jou te verskil, maar dit gaan nie oor hulle nie.  Dit gaan oor jou.  Besef jy dat wanneer twee mense op mekaar skree, nie een van jul luister na wat die ander persoon te sê het nie.  Dit gaan dan net oor jou en jou opinie. Hier is ‘n “reality check”…  Jou mening is nie die enigste een nie en jy hoef nie altyd reg te wees nie.  Om die waarheid te sê, jy kan reg wees en die ander persoon se gevoelens seermaak, jy kan reg wees omdat jy daarvan oortuig is, maar eintlik ver verkeerd is,  jy kan reg wees en vanaand op die sitkamer bank slaap. 

Vrede in jou huis is belangriker as om reg te wees.  Wil jy vrede en harmonie hê?  Laat dan van vandag af God toe om dit op Sy manier te doen.  Jy mag dalk nie hou van wat Hy van jou verwag nie.  Hy gaan van jou verwag om om verskoning te vra, al was jy nie verkeerd nie.  Hy gaan van jou verwag om jou stilstuipe te laat vaar.  Hy gaan van jou verwag om te vergeet van jou dreigemente van egskeiding…

Wanneer jy in harmonie met jou gesin leef, laat God ‘n geestelike salwing oor jul daal. My dierbare, die vyand lê op die loer vir die geringste kans om onmin in jou huis te bring.  Die oomblik dat hy dit regkry, het hy die oorlog halfpad gewen, want dan begin ons teen mekaar draai en baklei sommer namens hom.  En daar sit hy terug en kyk na die slagveld van gebroke lewens.

Dit is tyd dat ons geestelike volwassenheid bereik.  Wanneer jy volwasse is, weet jy die eintlike probleem is jou selftrots… jou ego, nie soseer of jy reg of verkeerd is nie.  Dan sal jy ook weet dat dit nodig is om jou trots in jou sak te steek.  Vra eerste verskoning.  Raak eerste en met liefde aan die ander. 

‘n Eenvoudige voorbeeld is om nie dikmond rond te loop, nie in ‘n ander kamer te gaan slaap, om aan te hou om vir jou gesin te sorg, al is jy nie heeltemal so opgewonde oor hul nie. Jy hou nie op om ontbyt te maak of toebroodjies in te sit nie.  Jy doen dit steeds, anders is dit nie ‘n liefdestaak nie… is jy nie volwasse nie.  Onthou jy nog Korintiërs 13?  Die liefde vergewe alles, verdra alles…

Verandering begin by jou, nie by die ander persoon nie.  Ons wil so dikwels die ander persoon verander.  As hy of sy net…

Een ding wat ons as ouers uit die oog verloor, is dat ons die voorbeeld is wat ons kinders gaan volg.  Is die manier wat jy teenoor jou eggenoot optree navolgenswaardig?  Is die manier waarop jy jou kinders behandel besig om hul selfvertroue op te bou?

God sal jou beloon op maniere wat jy jouself nooit kan voorstel, as jy die eerste tree neem om vrede te maak.  Dit is immers wat dit beteken om aan ander te doen, soos wat jy wil hê hul aan jou moet doen.

Styg uit bo jou omstandighede en wees die verandering wat jy graag wil sien. As twee perde indieselfde rigting trek, beweeg die kar vorentoe. Jy weet wat gebeur as hul in verskillende rigtings trek.

Spreuke 3 : 20  Dit is eerbaar om 'n rusie te vermy; enige dwaas kan 'n rusie begin.

Monday 18 September 2017

God hou nie daarvan dat jy tenagekom word

1 Samuel 30:3  Toe Dawid en sy manne in die dorp kom, was dit afgebrand en hulle vrouens, seuns en dogters was as gevangenes weggevoer.

Ek het ‘n vriendin wat altyd sê sy kan van haar man sê wat sy wil, maar niemand anders het die reg om dieselfde oor hom kwyt te raak nie.

Net soos wat ek en jy nie daarvan hou as iemand iets oor ons kinders of eggenoot sê nie, net so hou God ook nie daarvan nie. Net soos ek en jy opstaan vir ons geliefdes, so staan God ook op vir ons.  Hy sal nie toelaat dat die vyand jou onderkry nie.

Dawid het ‘n groot terugslag gehad terwyl hul die grense van Israel beskerm het. Hulle het inderdaad ‘gewerk’.  Terwyl hul geveg het, het die vyand na die stad gegaan en dood en verwoesting gesaai. Die wat nie gedood is nie, is weggevoer en toe is daar brand gestig.  Hoe sal jy voel as jy van die werk af kom en so iets moes aanskou.  In vers 4 lees ons:  Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie.

Het jy al soveel gehuil? Die verskil is dat Dawid nie die heeltyd in trane en selfbejammering deurgebring het nie.  Nee, hy het homself herinner wie hy is en geweet hy moet gaan terugeis wat aan hom en sy volk behoort.  Hy het egter eers met God gaan praat om te hoor of dit die regte ding is.  God het bevestig dat hy moet teruggaan na die slagveld.  God het dus opgestaan vir Dawid omdat hy nie gehou het van dit wat die vyand gedoen het nie.  Dit het Dawid gedoen en ons weet die keer het hul groot welslae behaal. Nie net is die vyand verslaan, maar hul het almal teruggekry wat ontvoer was.

As jy deur moeilike tye, kan jy nie bekostig om negatiewe gedagtes te koester nie.  Gee jouself tyd om te rou… om te huil, maar gaan dan op jou knieë en vra God vir wysheid.  Jy moet ‘n warrior mentaliteit he, nie worrier nie. Jy is ‘n kryger van die lewende God,’n oorwinnaar, nie ‘n slagoffer nie.

Sunday 17 September 2017

Jy is 'n bamboesplant

Matteus 14 :   31  Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Partykeer kan ‘n mens mismoedig raak wanneer dinge verkeerdloop, al probeer jy jou bes om volgens die wil van God te leef.  Wanneer jy bid, vertrou en glo, maar God antwoord steeds nie, is dit maklik om te twyfel.  Dit is ongelukkig so dat geen kind van God gevrywaar is van hartseer en teleurstelling nie.  God is nie ‘n deurry kitskos restaurant waar jy gou jou bestelling kan plaas en dan by die volgende venster jou bestelling kan optel nie.  Hy beantwoord gebede op Sy tyd.

Genadiglik sal God nie toekyk hoe jy sink nie.  Toe Petrus op die water geloop het en hy weggekyk het van Jesus, het hy gesink.  Jesus het egter nie gewag totdat Petrus onder die water verdwyn het nie. Jesus het onmiddellik sy hand uitgestrek en hom uit die water getrek. God is nooit laat nie.  Net voor die waters om jou kop toevou, red Hy jou uit.
Die probleem is dat ons partykeer dink God beantwoord nie ons gebede omdat ons nie goed genoeg is nie.  Jy dink dalk God sal nie vir jou deurkom nie, want jy is te sleg, te ver heen, mense noem jou ‘n looser…  kry dit uit jou kop.  Jy is nie soos byna alles wat ons aan raak, in China gemaak nie.  Jy is deur die Lewende God geskep.  Hy het jou uniek en perfek geskape.

Partykeer vergeet ons net wie ons is.

Daar is die verhaaltjie van die bamboes en die varing.  ’n Man was baie mismoedig na verskeie teleurstellings dat hy ‘n lang gesprek met God gehad het waartydens hy onder andere gesê het dat hy nie kans sien om aan te gaan nie.  Toe God hom vra om nog een keer te probeer, vra hy dat God hom een rede gee hoekom hy weer moet probeer.  Dis toe dat God hom vra of hy al die bamboesplant gesien het. Die man was verbaas oor die vraag.  God verduidelik toe.  Toe ek die varing, sowel as die bamboessaad geplant het, het ek baie mooi na albei omgesien. Albei het genoeg lig en water gekry.  Die varing het sommer vinnig groen spruitjies uitgesteek en kort voor lank welig gegroei.  Teen jaar twee was die varing ‘n lieflike plant, maar die bamboes kon jy nêrens sien nie.  Teen jaar drie was daar steeds geen teken van die bamboes nie.  Maar God sê hy het nie opgegee op die bamboes nie. Teen jaar 5 het daar uiteindelik ‘n stukkie groen deur die grond gebreek.  Op hierdie stadium was die varing oorweldigend groter as die bamboesplant, maar binne 6 maande het die bamboes bo die varing uitgetroon. Hoekom het die bamboes so lank gevat om te ontkiem?  Die saad het lankal ontkiem, die bamboes was net besig om ‘n stewige wortelstelsel te vestig alvorens hy deur die grond gebreek het.

Net soos wat God nie opgegee het op die bamboesplant nie, het hy ook nie op jou opgegee nie.  Jy is ‘n bamboesplant Jy mag dink daar gebeur niks in jou lewe, maar jy is besig om ‘n stewige wortelstelsel te vestig.  Hierdie stewige wortelstelsel gaan die fondasie wees wat seker maak jy kan enige stormwind weerstaan wanneer jy kort voor lank kop en skouers bo die res uitstyg.

Beteken dit die varing is nie belangrik nie?  Nee, albei is pragtig en elkeen het ‘n plek op aarde.  God het hul net verskillend gemaak.

Thursday 14 September 2017

Dit gaan oor keuses

Matteus 7 :  24  -  27  “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.    Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.  En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het.  Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Slegte goed gebeur ook met goeie mense.  Die Bybel sê immers dat reën val op die regverdige sowel as die onregverdige.  In vandag se teks lees ons egter iets wat my twee keer laat dink.  Ons het almal keuses…  Keuses wat ons maak volgens kennis waaroor ons beskik of onder leiding van die Heilige Gees.  Ons kan hierdie kennis gebruik om vir ons baie trane en ongemak te spaar. 

Partykeer dink ek ons is net bloot domastrant.  Ons weet baie goed dat dit waarmee ons besig is of dit wat ons beplan nie die regte ding is nie, tog beur ons voort.  Jy het byvoorbeeld nou al hoeveel keer gehoor dat ons van God praat en dat jy jou lewe in orde moet kry, God moet aanneem as jou verlosser en saligmaker, maar jy kies om met jou leefstyl voort te gaan.  Jy leef soos een wat vir altyd gaan leef.  Jy drink, gebruik dwelms, lê geen oordeelkundigheid aan die dag oor met wie jy in die bed spring nie, bestuur roekeloos, steel… moet ek aangaan?

Is jy besig om jou huis op ‘n rots te bou of op die sand?  Die een is verstandig en die ander ‘n dwaas.  Die een se huis bly staan, die ander word geheel en al verwoes.

Maar ek wil jou verseker daar is vir jou hoop.  Daar is iemand wat al jare vir jou bid en vandag is die dag dat jy die knie voor God gaan buig.  Hy staan en wag vir jou.  Gee jou hart vandag aan Hom en jy sal nooit weer terugkyk op jou ou lewe nie.  Twyfel jy… wonder jy of God jou ooit kan vergewe?  Hy het jou reeds vergeef… hy wag net vir jou.

Wednesday 13 September 2017

Wie is nou eintlik die dier?

Genesis 1:26  Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

My Achilles hill is beslis diere.  Eerstens breek dit my hart en tweedens raak ek ‘n ander mens as ek agterkom jy mishandel ‘n dier. 

Onlangs verneem ek van hierdie bull mastiff wat so verskriklik mishandel is.  Mense het foto’s op sosiale media gedeel en kort voor lank is hy aangeneem.  Die nuwe eienaar het geweet hy het longontsteking en dat sy ore afgesny was, maar hy het nie geweet watter ander verskriklike onreg hierdie dier aangedoen is nie.

Toe hy die dier veeaarts toe neem vir behandeling van sy longontsteking, moes die veeaarts ‘n pyp in sy keel afdruk.  Dis toe dat die veeaarts agterkom dat die hond geen tong het nie.  Wie ookal sy ore afgesny het, moes dit goedgedink het om die dier se tong heel agter in sy keel af te sny.

Toe ek hiervan hoor, was my eerste vraag:  “Wie is nou eintlik die dier in hierdie verhaal?”  Jy kan nie verwag om ‘n mens genoem te word as jy so iets aan ‘n dier doen nie.  Ek gee nie om wat die situasie was nie, NIKS regverdig sulke mishandeling nie.

God het die mens oor die dier aangestel, dit beteken nie dat jy die reg het om enige dier te mishandel nie.  Ek glo dat jy jou straf sal kry, sou jy dit doen.

Genadiglik is daar ‘n gelukkige einde vir hierdie hond.   Hy word oorlaai met liefde en hy gee sonder selfverwyt tienvoudig terug. 

Vandag wil ek vir jou vra om dit te oorweeg om liewer ‘n dier aan te neem en hul te wys dat nie alle mense monsters is nie.  Gee hul ‘n tweede kans. 

Dalk wonder jy ook of dit toeval is dat God agterstevoor gespel ‘dog’ lees.

Tuesday 12 September 2017

Move along

Psalm 23 : 4 Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee

As die moontlikheid om weer ‘n pos te kry na so ‘n herstrukturering nie uiters skraal was, sou daar eintlik geen getuienis gewees het nie.  Op een stadium was ons 35 mense in ‘n afdeling wat geaffekteer is. Ek was een van 5 mense wat laaste begin het. Agtien mense het hul werk verloor.  Ek het ‘n pos gekry.  Ek het skuldig gevoel, maar hoe kan ek God se plan vir my lewe bevraagteken?  Hy het ook ‘n plan met diegene se lewe wat nie die poste gekry het nie.  Ek onthou die een kollega wat gesê het:  “Without a test, there is no testimony.”

Terloops, my broer het eendag tong in die kies gesê dat ek ‘n kat met 9 lewens is.  So voor ek my negende lewe gebruik, het ek liewer uit my eie padgegee.  Nie omdat ek God nie vertrou het nie, maar juis omdat ek Hom vertrou het.  En omdat ek God ook met hierdie besluit vertrou het, is ek vandag presies waar ek nog altyd wou wees… op God se tyd.

Wanneer jy deur tye van swaarkry gaan, is dit maklik om te dink dat jy altyd daar sal bly.
  Dit is egter nie so nie.  Die lewe bestaan uit seisoene.  As jy op die oomblik in ‘n regstryd gewikkel is, of eensaam is, of alles verloor het,  Alles gaan verby… die slegte sowel as die goeie tye.  Ons moet ook altyd onthou dat God weet waardeur jy gaan en al is dit nie altyd goeie tye nie, beteken dit nie dat Hy nie daar is nie.  Hy weet presies hoe jou uitkoms lyk. 

Ek weet ons wil hê dit moet NOU verander, maar ons kan nie somer ervaar te midde van die winter nie, nee, die seisoene moet hul loop neem. Ja, so af en toe kry ons ‘n sonnige daggie, maar winter bly winter… kaal, bar, koud.  As ons egter nie Winter in sy volle felheid ervaar het nie, sal ons nooit die ander seisoene waardeer het nie.  En daarmee sê ek nie dat Winter nie sy eie bekoring het nie.  Elke seisoen is spesiaal as ons onsself daarvoor oopstel.  Wanneer jy nie iemand in jou lewe het nie, het jy die vryheid om te kom of gaan… te midde van jou regstryd het jy ten minste ‘n goeie prokureur… jy’t alle wêreldse goed verloor, maar God was nog nooit ‘n groter deel van jou lewe as juis nou nie.  Let op vandag se teks, Dawid beweeg deur die dal / vallei, hy bly nie vir altyd daar nie.

Ons moet egter nie te gemaklik raak in hierdie vallei nie. Move along… Partykeer verval ons in selfbejammering en haak vas.  Nee, dis ‘n plek waar jy net tent opslaan, nie fondasie lê en huis bou nie.  God gaan jou uit hierdie vallei neem.  Sagaria sê dat jy met twee keer soveel gaan uitkom as dit wat jy nou het.  

Monday 11 September 2017

Ons verwag as't ware onheil

Psalm 23 : 4 ek sal geen onheil vrees nie

Baie keer wanneer ons deur iets gaan waar uitkoms onmoontlik lyk, dink ek ons probeer onsself beskerm deur onmiddellik die ergste te verwag.  Ons verwag as’t ware onheil. 

Ek onthou nog my laaste herstrukturering.  Die dag toe ons die uitslae ontvang, het hul ons een vir een ingeroep.  Die wat in die kantoor agtergebly het terwyl die uitverkorene sy / haar nuus gaan ontvang het, was grafstil.  Jy kon ‘n speld hoor val.  Ons het almal die ergste verwag.

In die kantoor waarheen jy ontbied is, was die nuwe hoof van die afdeling en jou vorige hoof.  Die vorige hoof het die nuus oorgedra, met ‘n brief ter bevestiging. In ‘n kantoor langsaan het hul beraders gehad om jou by te staan, sou dit nodig wees.  Dit op sigself wys vir jou hoe dit mense affekteer.  My vorige hoof begin:  “Na deeglike oorweging, moet ons jou ongelukkig meedeel dat jy nie ‘n pos gekry het nie.”  Sy bly so ‘n oomblik stil en die nuwe hoof stamp aan haar.  “Nee!” hy tik so op die brief.  Sy kyk na hom en toe na die brief en toe na my.  “Ek is so jammer.  Jy het ‘n pos gekry. Veels geluk.”  Kan jy jou voorstel hoe ek van die een punt van die spektrum geswaai het na die ander?  Noodloos om te sê die trane het gevloei… trane van verligting en blydskap.  Dit was toe nie die ergste nie.

Niks kan jou onderkry as God vir jou is nie.  Jy sal altyd beter af wees as God vir jou is.  Vertrou hom met alles binne jou.

Sunday 10 September 2017

Moenie in die vallei bly nie

Psalm 23 : 4 Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee

Gedurende my jare in die korporatiewe wêreld het ek deur 8 herstrukturerings gegaan.  Dit beteken jy kry ‘n brief wat jou in kennis stel dat jou huidige pos afgeskaf word, maar dat jy die geleentheid gegun sal word om vir nuwe poste aansoek te doen.  Sou jy nie suksesvol wees nie, dan is dit die proses…  Agt keer was ek dus werkloos.  Agt keer het ek op God vertrou en al agt kere het God vir my deurgekom. 

Dit was nie maklik om God te vertrou wanneer die kanse skraal lyk dat jy ‘n werk sal hê na alles nie. Ons het almal verpligtinge en afhanklikes wat maak dat jou keel onwillekeurig toetrek. Ek het egter nog altyd soos ‘n kind geglo, blindelings.  Nie omdat ek so ‘n goeie Christen was nie, maar omdat ek geweet het, net God kan en sal uitkoms bied.

Hier’s die sleutel.  Wanneer ek na die toekoms gekyk het, het dit donker gelyk.  Wanneer ek na die verlede gekyk het, het ek gesien hoe God daar was my hele lewe lank en my nooit in die steek gelaat het nie.

Wat meer is, na elke herstrukturering het ek ‘n beter pos gehad, soms selfs met bevordering, meer stimulerend, met geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer en selfs ‘n beter inkomste.  As ek nou daarop terugkyk, was dit eintlik elke keer in my guns.  Glo my nie een van daardie kere het ek gedink daar is enige iets goed in daardie oefening nie. Dis stressvol om die minste te sê. Dit affekteer jou hele menswees.  Die mat is onder jou uitgeruk en dit het ook ‘n geweldige uitwerking op jou gesin.

Maar dit het een ongewone resultaat.  Dit wys jou hoe wonderbaarlik God ‘n rivier in die woestyn kan maak.  Hoe meer onmoontlik dinge lyk, hoe meer moeiteloos het God alles in plek laat val.

Elke keer het dit vir my soos die einde gevoel en elke keer het God my daar uit die vallei gelei.  

Thursday 7 September 2017

Wees in alle omstandighede dankbaar

Filippense 4:12  Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

Dis min wat jy gesels met iemand wat heeltemal gelukkig is.  Meeste mense is soekend.  Hul hoop op iets of iemand om hul te voltooi.  Luister maar hoeveel keer mense sê:  As net dit of dat gebeur, dan…

Party mense probeer die leemte vul met kos, dwelms, drank, pynpille.  Ongelukkig bring hierdie oplossings net tydelike verligting en na die tyd voel jy erger as ooit tevore.
Die media help ook nie juis nie.  Oral sien jy advertensies van dit wat jy nie het nie, van mense wat lyk soos wat jy graag wil lyk, die lewe leef wat jy begeer.  Sosiale media is ‘n nuwe bittersoet ervaring.  Dis lekker om met almal in aanraking te wees, maar daar lees en sien jy foto’s van ander se klaarblyklike gelukkige bestaan of besige sosiale lewe en lyk jou eentonige bestaan nog saaier.  Jy verloor egter uit die oog dat hul net die beste van hul eie saai lewe publiseer. 

As jy geluk probeer vind in iets of iemand, gaan jy altyd soekend bly.  Ons soek almal die geheim tot ewige geluk.  As ek net hierdie paar kilo’s verloor… as ek net ‘n beter werk kan vind… as ek net meer sukses kan behaal…

Ons wil so graag by môre uitkom, maar intussen verloor ons die mooi van vandag.  Op die ou einde gaan dit daaroor om in alle omstandighede dankbaar te wees of jy min of baie het.

Wednesday 6 September 2017

Naomi of Mara

Rut 1:20  Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara , want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.

Vanoggend toe ek die badkamer se lig aansit, hoor ek net ‘n klapgeluid en besef die lig het geblaas.  Daar staan ek in die donker.  Ek soek ‘n kers en die is nie waar ek dit gewoonlik bêre nie.  Uiteindelik het ek die kers, so teen die tyd dat die res van die familie opstaan, is die krisis onder beheer.  Later probeer ek ‘n nuwe onderlaag botteltjie oopmaak, maar die prop klou halstarrig.  Ek span later ‘n mes in en daar gee die prop mee… noodloos om te sê dat daar onderlaag op alles behalwe my gesig was.  Ek maak skoon en besluit dit is so ‘n mooi dag, ek kan net sowel die beddegoed aftrek en was.  Sommer met die optel van die eerste kussing, sien ek dit… onderlaag.  Nou moet ek die onderlaag probeer uitwas alvorens ek dit in die wasmasjien druk… 

Het jou oggend ook al so verloop? Ek kon maklik gesê het:  “wat ‘n oggend… die duiwel is behoorlik los,” maar ek kies om satan geen erkenning te gee nie.  Die gemors en ekstra werk is steeds daar, maar ek sal nie toelaat dat my vreugde gesteel word nie.  Wat ek wel gesê het, is:  “Die dag kan net beter raak.”

Ons kan so maklik klein jakkalsies inlaat wat ons wingerd verniel.  Iemand glip in ‘n parkeerarea in waarvoor jy lank staan en wag het… Jou gunstelingkledingstuk is nêrens te vinde, of in die was…  Jy vind uit dat jy nie genooi is na ‘n vergadering waar belangrike besluite geneem word nie…  of jy het ‘n soortgelyke oggend as myne…

In Rut lees ons ook van Naomi wie se naam blydskap beteken het, maar op ‘n dag het sy gevra dat sy voortaan Mara genoem word.  Mara het bitter beteken.

Met hierdie gebaar het Naomi toegelaat dat die klein jakkalsies nie net haar wingerd vernietig nie, maar letterlik hul intrek in haar hele wese geneem het. 

In teenstelling daarmee, kyk na die einde van die verhaal van Josef.  Hy kon sy broers bly haat en verwyt het, maar op die ou end het hy besef dat dit alles die plan van God was om te voorsien vir sy familie in ‘n tyd van hongersnood. 

Vra jouself af of jy Naomi wil wees of Mara.  Die keuse kan 'n reuse impak op jou lewe hê.

Tuesday 5 September 2017

Waak teen wat in jou hart aangaan

Spreuke 4 : 23  Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Ons het ‘n paar jaar gelede in Namibië getoer.  Op die een of ander onverklaarbare manier, neem ons die verkeerde afdraai uit Windhoek in die rigting van Swakopmund.  Het jy al ooit ‘n slegte grondpad gery? Wel hierdie pad is honderdvoudig erger.  Dit is ‘n pad uit die hel.  Bult op en bult af en die heeltyd dink jy dit sal nou-nou teerpad word.  Later besef jy dat jy te ver in is, jy kan net sowel deurdruk.  Aan die begin probeer jy om die slaggate ry, later ry jy net om deur die nagmerrie te kom.  Nog later raak dit donker… al wat jou laat vasbyt is Swakopmund se liggies in die verte.  

Al was die motor hoe dig, het daar tog ‘n stofreukie ingekom en die motor was onherkenbaar toe ons uiteindelik by ons bestemming arriveer.  Die volgende dag het ons die motor na ‘n motorwassery geneem wat stof uitgeblaas het, waar ek nie geweet het stof kan inkom nie.  Daar het letterlik skopgrawe stof uitgekom.

Die stofdeeltjies van die wêreld het ‘n manier om elke moontlik plekkie van jou menswees binne te dring.  Al probeer ons hoe hard, het party mense die vermoë om ons vrede te steel.  Dit is egter waar ons beheer moet neem.  Dit bly immers ‘n keuse.  Gaan ek toelaat dat iemand anders se gedrag of woorde my ontstel of nie?  Nie as ons elke dag onsself herinner aan vandag se teks nie. 

As jy toelaat dat dit jou affekteer, sal jy ontnugter en teleurgestel deur die lewe gaan.  Dit beteken nie jy mag nie ontsteld, geskok of hartseer wees nie, solank jy altyd daarop fokus dat hierdie slegs ‘n oomblik in die groter prentjie is… die beste is nog op pad.  Jaag al hierdie gedagtes uit jou binneste uit en verklaar dat jy vrede bo onrus verkies.

God veg namens ons, ons hoef nie elke geveg te veg of te wen nie.   Hou God op die troon, nie jou omstandighede nie. As jy vrede kies, sal jou vyande beskaamd staan.  Job 8:22  Dié wat jou haat, sal met smaad bedek word.

Goed gebeur nie met jou nie, maar vir jou.  Jy sien nie wat God sien nie.  Hy sien egter hoe dit wat nou gebeur jou na die volgende vlak kan neem.  Bly dus gefokus op God se planne met jou lewe.

Monday 4 September 2017

Die tien gebooie

Eksodus 20  “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.  Jy mag naas My geen ander gode hê nie.  “Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.  Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.  “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.  “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.  Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.  Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.  “Jy mag nie moord pleeg nie.  “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.  “Jy mag nie steel nie.  “Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.  “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Die eerste gebod gaan daaroor om God eerste te plaas, in elke aspek van jou lewe.  Die tweede is om God alleen te dien. Hy verwag onverdeelde trou.

Elkeen van die ander 8 gebooie is eintlik verweef in hierdie twee gebooie. 

As God eerste is in jou lewe en jy Hom alleen dien, sal jy NOOIT sy Naam misbruik of op enige manier nie eerbiedig nie.  Selfs wanneer iemand anders Sy Naam misbruik, sal dit jou teen die bors stuit. Om die waarheid te sê, jy behoort hul reg te help om te keer dat God se toorn oor hul losbars.

Sondag sal aan God behoort, ‘n dag om Hom te dien en eer, tyd met Hom te spandeer en jou batterye te herlaai vir die week wat voorlê. Daar is mense wat op ‘n Sondag moet werk.  Jesus het ook op ‘n Sondag iemand genees, maar jy mag nie toelaat dat dit oor geld gaan nie.

Hoe kan jy jou Hemelse Vader eer en eerbiedig, maar nie jou aardse ouers nie?  Let op dat God geen voorwaarde stel soos byvoorbeeld dat jou ouers jou respek moet verdien nie.  As jy egter wel Sy gebod nakom, word jy beloon met ‘n lang lewe. 

Die sesde gebod gaan daaroor dat jy niemand sal seermaak nie, nie fisies of emosioneel nie.  Dit behoort weereens ‘n natuurlike uitvloeisel van die eerste twee gebooie te wees, want jy kan nie vir God lief wees as jy Hom seermaak met jou optrede of dan ook Sy skepsels.

Met die sewende gebod sal dit dan ook maklik wees om getrou te wees in jou huwelik, synde jy reeds die basis van getrouheid leer wanneer jy God alleen dien.

Hoe kan ek die agtste gebod oortree as ek my mede-broers en susters in geloof liefhet?  Jy steel mos nie van hulle vir wie jy omgee nie.

As God die eerste en enigste God in jou lewe is, sal jy Hom nooit wil teleurstel met leuens nie.  Wanneer jy vir ander lieg, lieg jy immers voor God.

Laastens behoort ek op niemand afgunstig te wees, want God gee vir elkeen van ons genoeg.  Om die waarheid te sê, Hy sal jou met meer wanneer Hy sien dat Hy jou met min kan vertrou.  En sodra ons Sy koninkryk opgesoek het, gee Hy ons in elk geval die begeertes van ons hart.

Sunday 3 September 2017

Jy gaan gevang word

Jesaja 24:18  Wie van die gevaar af probeer wegkom, beland in die vanggate, wie uit die vanggate probeer uitklim, word in die strik gevang

Op die oomblik kyk ek ‘n reeks ’24 to Life’.  In elke episode word 2 individue se 24 uur voor hul met hul tronkstraf begin, gevolg. 

Wat sal jy doen as jy nog net 24 uur het voor jy vir jare van jou geliefdes, jou straf in ‘n tronk moet gaan uitdien?

Sonder uitsondering het elkeen van hierdie individue bitter berou.  Ongelukkig het die berou te laat gekom.  Hul het te laat besef dat hul dade ander rondom hul impakteer.  In die laaste episode het die owerhede ‘n ma (sy is ‘n gekwalifiseerde rekenmeester) toegelaat om haar baba deur induksie in die wêreld te bring voordat sy haar straf begin uitdien.  Die babaseuntjie is drie weke oud as sy die tronk binnestap.  Hy sal amper 10 jaar oud wees teen die tyd dat sy vrygelaat word.  Hoeveel van hierdie kind se lewe gaan sy misloop en sal sy ooit die verlies aan tyd kan opmaak?  Gaan verhoudings die tyd deurstaan. 

Elkeen het ‘n verduideliking of regverdiging hoekom hul die misdaad gepleeg het en sover was niemand nog voorheen skuldig bevind aan enige misdaad nie.  Meeste van hul wil verhoudings herstel alvorens hul, hul straf begin uitdien.  Dit op sigself is ‘n stryd, want mense is diep teleurgestel in hul.  In baie gevalle het hul al hul geloofwaardigheid en respek verloor in die oë van hul geliefdes.

Een jongman het grootgeword in ‘n goeie ouerhuis, met geen gebrek nie, maar met sy ouers se egskeiding op die ouderdom van 17 jaar, ontspoor sy lewe.  Soos met baie van die gevalle, begin die persoon dagga gebruik, dan sterker dwelms en uiteindelik gaan dit oor tot misdaad om die dwelmgebruik te finansier.  In ander gevalle is dit blote gierigheid wat hul dryf tot witboordjiemisdaad.

Hoe ons dit ookal wil beredeneer, misdaad is nie aanvaarbaar nie.  Te veel mense reken hul kan daarmee wegkom.  Op ‘n dag word jy gevang en dan is dit nie net jy wat die prys betaal, maar almal na aan jou. 

Hou op met dit waarmee jy besig is, voor jy gevang word.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...