Tuesday 31 October 2017

Ingestel op Sy leiding

Jesaja 55 : 12  Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word

As jy na jou lewe op die oomblik kyk, is jy gelukkig?  Is jy op die plek waar jy wil wees?  Het jy bereik wat jy wil bereik? 

Indien jy ja op hierdie vrae kon antwoord, is jy ‘n baie gelukkige persoon en rus God se guns oor jou lewe en dit is fantasties.  Dit is presies wat God vir jou ingedagte het.  Ongelukkig glo ons dit nie almal nie. 

Party van ons bly glo dat ons nie verdien om gelukkig te wees nie.  Ons glo dat ons deurbraak eendag sal kom, maar dit bly ‘n vae hoop, nie ‘n vaste vertroue nie.  Ander word so teruggehou deur hul verlede dat hul nooit hul volle potensiaal bereik nie.  Ons bly vashaak in Babel, ons kom nie daar weg nie.

God weet wat die beste vir jou is.  Hy weet presies wat jy nodig het en selfs wanneer jy dit nodig het.  Op die regte tyd stuur hy die regte mense oor jou pad en alles val in plek.  Hy weet waar die gevare lê en waar die goeie geleenthede wag.  Jy moet leer om jou innerlike vrede te vertrou wat jou gaan aanpor om te beweeg.  Selfs al lyk dit asof alles teen jou is, as jy in jou binneste voel die tyd is ryp, neem die eerste tree. 

As jy egter nie algehele gemoedsrus het nie, is dit nie die regte skuf nie.  As daardie stemmetjie vir jou sê dis nog te gou… dis nie die regte vennoot nie… die prys is nie reg nie… wag… dan moet jy liewer wag… wag, want dit is God wat met jou praat.

Onthou egter altyd dat God jou wil help, met die groot sowel as klein dingetjies.  Hy wil sy guns oor jou uitstort en al die lewe se frustrasies en kommer wegneem.  Wanneer jy ingestel is op Sy leiding, as jy volg in Sy vrede, sal Hy jou lei na seëninge en oorwinnings wat Hy vir jou gereed gemaak het.

Monday 30 October 2017

Halloween

Deuteronomium 18 : 9 – 12  “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie.  Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie 'n besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar  of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie.  Die Here het 'n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.

Op die 31ste Oktober word Halloween gevier, meesal in Amerika.  Stadig maar seker is die saadjies besig om na Suid-Afrika oor te waai.  Daar word alreeds van die items verkoop en al meer publisiteit word daaraan verleen.  Daarom is Halloween partytjies glad nie meer vreemd nie.  Kostuums, verligte pampoengesiggies, speletjies soos 'trick or treat'... dis tog onskuldige pret, nie waar nie? Die ‘World Book Encyclopedia’ verklaar: "Die oënskynlik skadelose, verligte pampoen gesig van die Jack -O-Lantern is 'n antieke simbool van 'n verdoemde siel".

Dit is hoe uitheemse plantegroei hier in ons land wortel geskiet het en nou ons natuurlike bronne bedreig.  Een saadjie ontkiem en voor jy jou kom kry sit jy met plantegroei wat ons skaars waterbronne uitput en die inheemse plantegroei laat swaarkry.

Halloween is wel ‘n godsdienstige dag, maar nie Christelike dag nie.  Tom Sanguinet, ‘n
voormalige hoë priester in Wicca het gesê:  “Die moderne vakansie wat ons Halloween noem, het sy oorsprong in die volmaan naaste aan 1 November, die hekse se ‘nuwe jaar’. Dit is ‘n tyd wanneer die geeste (demone) veronderstel is om ‘n hoogtepunt van hulle krag en bedrywigheid te bereik en dan weer die aarde besoek… Halloween is geheel en al, absoluut boos. Daar is niks wat ons ooit kan doen, of gedoen het, wat dit enigsins aanvaarbaar vir die Here Jesus sal maak nie.”

Ons kan nie toelaat dat uitheemse plantegroei (heidense gebruike) ons inheemse plante (Christelike geloof, gelowiges, veral kinders) oorheers en uitroei nie.  Net soos die uitheemse plantegroei ons natuurlike bronne uitbuit en oorneem, sal hierdie gebruike ook ons geloof afwater tot ons nie meer die verskil tussen reg en verkeerd ken nie.

Dit is tyd dat Christene opstaan vir wat reg is en nie net weier om deel te neem aan die rituele nie, maar hul opinie daarteen heftig uitspreek en kapsie maak daarteen dat ons en ons kinders mislei word.  Jy is of vir God of teen Hom.  

Sunday 29 October 2017

God van die buitengewone

Genesis 18 : 14  Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.”

Die Engelse vertaling lees:  “Is anything too hard for God?”

In die Kaap heers die grootste droogte in menseheugenis.  Jy begin heel anders dink oor water.  Elke druppel word gespaar en sover moontlik meer as een keer gebruik.  Persoonlik erken ek dat ek besig is om manies te raak oor waterbesparing.

Twee keer ‘n dag bad of stort is so uit soos die spreekwoordelike koekies in ‘n weeshuis.  Daar word nie eens meer elke dag gebad of gestort nie.  Selfs Premier Helen Zille erken sy stort net elke 3de dag.  Toegegee dit is nog nie Somer nie, so ons kan nog wegkom met ‘n lappie, seep en ‘n kommetjie water vir die strategiese plekkies. Die dreineringspype is besig om uit te droog, want ons tap nie meer water direk in ‘n wasbak nie.  Solank dit in ‘n kommetjie is, kan ons dit buite op ‘n plantjie gaan gooi.  Glo my ‘n plantjie wat smag na water, gee nie om dat daar ‘n bietjie seep of versagmiddel in is nie.  Skielik gril jy vir wat altyd in jou afvoerpype afgegooi is, maar weereens, die plante kla nie oor ‘n bietjie vetterige skottelgoedwater nie.  Die wasmasjien se water loop in ‘n houer en word ook tuin toe gedra.  Oral staan emmers, komme en houers met water.

Ons bad het sowat ‘n maand gelede ook bevordering gekry.  Hy is nou amptelik ‘n opgaartenk.  Daarmee spoel ons die toilette en as die kommetjies nie voldoende is nie, kan die plantjies ook hieruit voordeel trek.

Ek begin al meer van die hart van ‘n boer verstaan, want skielik raak ek ook opgewonde as ek ‘n paar wolkies sien.  En ek is net so mismoedig as die weervoorspelling reën voorspel en die wolkies trek verby.  My keel trek toe.  Mense kan nog gaan water koop, maar wat van die diere?  Jy hoor al meer en meer van boere wat hul eie lewe neem omdat hul nie meer hul diere se lyding kan aanskou nie. 

En dan is daar nog steeds minder as 50% van die inwoners van die Stad Kaapstad wat die herhaalde versoeke op waterbesparing ernstig op te neem.  So hoor ek van iemand wat nie omgee hoeveel water hul gebruik nie, want hul woon in ‘n kompleks en die heffing word verhaal of hul bespaar of nie!  Regtig! 

Logika sê vir jou dat die afmetings van hierdie probleem net gaan eskaleer, want daar is nie meer ‘n moontlikheid van reën nie. Die Winter is amptelik verby.  Ons gaan die warm droë Somer tegemoet met damvlakke van onder 40% en mense wat steeds reken daar is geen rede tot kommer nie.

As Christen hou jy egter aan bid. “Here, U het geluister na Abraham se gesmeek om die stede te spaar waar Lot gebly het, as daar net 10 regverdiges sou wees.  Ek wil glo daar is darem so 10 regverdiges wat aanhoudend bid vir uitkoms, Here. Here, net U kan ons red.  Die reënseisoen is verby, maar U is ‘n God van die onmoontlike.  Dalk is dit wat U wil wys Here, dat as dit buite seisoen reën dit net van U kan kom… ‘n wonderwerk, asb Here.  Ons smeek U om uitkoms.”   

En dan bewys Hy Homself as ‘n God van die buitengewone… ‘n God vir wie niks te moeilik is nie.  Ons kry twee keer in een week goeie reën. Prys die Here!  Dankie, dankie, dankie.

Is dit genoeg om ons deur te dra?  Nee, maar dit plaas ons in ‘n beter posisie as daarsonder en as ons aanhou bid, glo ek dat God Homself weer aan ons sal openbaar.  Bid asseblief saam met ons… nie net vir die Weskaap nie, maar vir elke gebied in ons land waar daar waternood is of sal wees as God nie voorsien nie.  Die mens het so magtig geword... ons kan enige iets doen... soos 'n voël deur die lug vlieg, mense maan toe stuur, harte oorplant, krag opwek, hemelhoë geboue bou, maar ons kan nie water maak nie.  Ons is steeds van God afhanklik al wil nie almal van ons dit erken nie.

Thursday 26 October 2017

Geduld

Romeine 9:22  En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra.

Waar sou ons wees as God Sy geduld met ons sou verloor?  Dit het alreeds eenkeer gebeur met die sondvloed en dit gaan weer gebeur.

God se verdraagsaamheid en Sy liefde vir die mens is al wat ons het. Hy wil nie dat een siel verlore gaan nie en daarom gee Hy ons kans op kans op kans. 

As ons maar net so verdraagsaam teenoor mekaar wil wees.  En ons raak al ongeduldiger en meer onverdraagsaam teenoor mekaar by die dag.  Sommer van kleins af gooi ons ‘n ‘tantrum’ as dinge nie verloop soos ons dit wil hê nie.  Ek, ek, ek… Wat is dit met ons?  Ons ontvang genade, maar ons betoon geen genade nie.  Ons maak foute, maar ons het geen tyd vir ander se foute nie.

Hoeveel keer is ons ongeduld nie die oorsaak vir ander se pyn nie? Veral in die kitswêreld waarin ons leef, wil ons nie aan verhoudings werk nie. As jy nie soos ek dink nie, het ek eenvoudig nie tyd vir jou nie.  Swem saam met die stroom of kry jou eie stroom.

Here, wat ongeduld aanbetref staan ons almal in skaamte voor U, maar ook hier weet ons dat ons moet verander.  Laat die eie ek asseblief sterf sodat ek ander met dieselfde verdraagsaamheid behandel as wat ek verwag hul my mee sal behandel. 

Wednesday 25 October 2017

Vrede

Filippense 4:7  En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Hoe begeer ons nie vrede nie.  Van altyd af is daar onmin en onvrede tussen mense.  Ons gun mekaar eenvoudig nie ‘n plekkie in die son nie.

Die vers wat hierdie een voorafgaan lees:  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Uiteindelik kom alles terug na God.  Op ons eie is ons tot niks in staat nie, maar op ons knieë en wanneer ons hom erken, ook as die groot Vredemaker, dan ontvang ons ware vrede… vrede ver bo ons begrip.

Ons teken vredesverdrae, probeer mense saamsnoer met organisasies, maak seker ons wapens is beter as die opponent s’n, praat en praat en praat… en eintlik jaag ons, ons eie sterte.  Daar kan nie vrede wees alvorens God nie die middelpunt van ons bestaan is nie.

Here, ons erken vandag dat ons U nodig het om ware vrede te bring.

Tuesday 24 October 2017

Vreugde

Psalm 37:4 Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Baie van ons vereenselwig vreugde met geluk.  As ons gelukkig is sal ons vol vreugde wees.  As ons eers bates, sukses, ‘n maat het… dan sal ons van vreugde straal en gelukkig wees.  Tog bly geluk ons ontwyk.

Dit is omdat God nie op dieselfde manier as ons opereer nie.  Hy werk eintlik agterstevoor.  Wees eers bly, dan kry jy sommer alles wat jy wil hê.

Hoe vind ek my vreugde in God?  Hy is nommer Een in jou lewe, die alfa en omega.  Jy streef daarna om soos Hy te wees.  Alles wat jy doen, doen jy tot eer van Sy naam.  Jy vra nie net na Sy wil, maar bly binne Sy wil.

Wanneer ander na jou kyk, moet hul begeer om ook soos jy te wees.  Hulle moet wonder hoekom jy so straal.  Dit beteken nie dat dinge nie in jou lewe gaan verkeerdloop of dat jy nie versoek sal word nie, maar dit is om ten spyte van alles, soos Job, God steeds te dien met alles binne jou omdat jy weet waar jou krag vandaan kom.

Here, U is my alles.  Help my om elke oomblik van elke dag my vreugde in U te vind.

Monday 23 October 2017

Liefde

1 Korintiers 13 : 4-7  Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.  Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.  Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Die eerste vrug van die Gees is liefde. Korintiërs 13 leer ons wat liefde is en nie is nie.  Om hierdie vrug van die gees te dra sodat daar ‘n verskil in die wêreld rondom ons kan plaasvind, gaan nie maklik wees nie. 

Liefde… God het so sterk hieroor gevoel dat Hy dit alreeds in die Tien Gebooie verewig het.  Jy MOET jou naaste liefhê… dis nie onderhandelbaar of afhangende van omstandighede of die ander persoon se optrede teenoor jou nie.  Verder het ons die beste voorbeeld van ware liefde… ‘n Vader wat Sy Enigste Seun offer ter wille van ‘n sondige mensdom. 

Menige ouer sal erken dat hul soms nie baie van hul kinders hou nie, maar dit beteken nie dat hul daardie kind nie meer liefhet nie.  Ons moet leer om te onderskei tussen dade en individue.  Ek kan steeds liefde teenoor jou betoon al hou ek nie van dit wat jy doen nie.  Dit is juis hoe jy iemand reghelp, met liefde.

Met soveel verskille onder ons, is dit vanselfsprekend dat ons nie oor alles gaan saamstem nie, maar ons kan nog steeds in liefde verskil.  Daar is meer geleenthede opgesluit in diversiteit as wat daar verskille is.  Respekteer mekaar se verskille en gebruik dit tot voordeel van almal.

In plaas van na die verskille kyk na die ooreenkomste deur ‘n bril van naasteliefde.  Liefde kan alles oorwin.  Liefde kan eerlik genoeg wees om te erken ons is self nie perfek nie, maar bereid om onsself oop te stel en te leer.

Here, help my om my naaste deur U oë te sien, om eers die balk in my eie oog te verwyder alvorens ek reik na die balk in my naaste se oog.

Sunday 22 October 2017

Verander my hart, Here

Esegiël 11:19  Ek sal hulle 'n ander hart gee en 'n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle 'n hart van vleis gee.

Om elke Sondag kerk toe te gaan, maak nie van jou ‘n Christen nie.  Net so beteken dit nie dat jy ‘n kind van God is as jy na ‘n Christen radiostasie luister of elke dag ure lank Bybelstudie doen nie.  Hoekom nie?  Omdat daar verandering moet plaasvind wanneer jy wedergebore word.  Die ou mens word afgesterf en ‘n nuwe mens word gebore… die hart van klip word verwyder en jy ontvang ‘n nuwe hart. Dit gaan nie meer om jou nie, maar oor God.

Dalk is dit hoekom hier soveel verkeerde dinge in ons land bly voortleef al is die grootste deel van die bevolking veronderstel om Christene te wees. Bloed vloei in die strate van Suid-Afrika, ons het droogtes en vloede, die werkloosheidsyfer styg en die eknomie trek swaar.  Ons kan die regering en korrupsie daarvoor blameer, maar dalk is dit omdat die Christenbome nie vrugte dra nie.  Daar is te veel haat, ongelukkigheid, onmin, ongeduld, onbeskoftheid, hebsug en ontrou.  Jy kan nie God en mammon dien nie… Hy is ‘n jaloerse God… jy is of vir God, of jy is teen Hom.

Vandag wil ek jou nooi om behoorlik self-ondersoek te doen.  Meet jouself aan die vrugte van die Gees (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid).  Vra jouself af of daar enige verandering plaasgevind het sedert jy dink jy ‘n kind van God geword het.  Indien nie, moet jy jouself afvra of jy jouself werklik ‘n Christen kan noem.

Jy kan nie ‘n Christen wees wanneer dit jou pas, maar voorgaan met wêreldse dinge wanneer jy dink God nie kyk nie.  Hy is oral.  Jy kan nie Bybelstudie doen en die oomblik wat jy by die deur uitstap, dan verskree of verneder jy ander… is die enigste mens wat saakmaak jyself, is jy ontrou aan jou eggenoot, blaas jy rassehaat aan, vind jy die armes ‘n irritasie, betoog en verniel jy, gee jy jou oor aan padwoede, ens, ens, ens.

Ware verandering is nodig in ons land en dit begin by onsself.  Ons kan nie verwag ‘hulle’ moet verander nie.  Eintlik is dit deel van die probleem… daar is nie ‘n ons nie, net ‘n hulle.  Terwyl ons blameer en vingerwys en nie ons eie aandeel in die probleem raaksien nie, gaan sake net vererger.

Kan ons hande neem en saamwerk om verandering teweeg te bring?  Wat gaan jy van vandag af anders doen?  Ek hoor graag van jou?

Thursday 19 October 2017

Binne die wil van God

Kolossense 1 : 1 Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God

Ons moet leef binne die wil van God.  Hoe weet ons of ons binne die wil van God leef?  Jy sal beslis weet, want dit wat jy doen sal nie moeilik wees nie. Dit is wanneer jy jou op die volmaakte plek bevind en jou natuurlike talente gebruik. Ons weet dat God jou voorberei en toerus om te doen wat Hy van jou verwag. 

Ons probeer dikwels doen wat ander doen omdat ons gewild wil wees, of ten beste net aanvaar wil word, of iewers inpas.  Dit is nie noodwendig die regte dinge nie, maar ons sal eerder ongelukkig wees as om nie deur mense aanvaar te word wat dikwels nie eens ons beste belange op die hart dra nie.  Dit is ‘n verkeerde pad… een wat na die verderf lei. 

Ek het iewers hierdie wysheid raakgelees.  As jy jou op die verkeerde tyd op die verkeerde plek in die verkeerde geselskap bevind, sal jy nooit die regte ding kan doen nie.

Waar jy jou op die oomblik bevind, is nie binne die wil van God nie.  Dit is nie wat Hy vir jou in gedagte het nie.  Jy weet dat jy besig is met verkeerde dinge.  Jy weet dat God nie tevrede is met jou lewe nie.  Die vraag is wat jy daaraan gaan doen?  Gaan jy jou bly doof hou vir Sy stem? Of gaan jy wegbreek uit die moeras waarin jy jouself bevind.  Ek hoor dat jy verskonings opper.  Moenie… God het jou op ‘n ander plek nodig en Hy van nie nee vir ‘n antwoord nie. 
Jy hoort binne die Wil van God en dit is in elk geval waar jy wil wees.  Stry?


Wednesday 18 October 2017

Eis jou lewe terug

Johannes 10 : 10  'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Ek hou graag mense dop. So dikwels sien ek gesinne in ‘n motor en niemand kyk vir mekaar of praat met mekaar… hulle staar net strak voor hul uit.  Selfs in restaurante sal mense oorkant mekaar sit en eetgerei rondskuif, met leë oë rondkyk of op hul selfone besig wees in plaas van om met die persoon oorkant hul te gesels.

Dan wonder ek of mense regtig leef of net bestaan, want ek sien min dat mense mekaar geniet en net sorgvry pret het. 

Ons het verleer om te praat… ons harte oop te maak… die las of vreugde te deel.  So leef ons al meer en meer na binne en keer op keer sterf nog ‘n stukkie van jou menswees.

Dalk is ons so besig om die regte dingte doen, so prim en proper dat ons verleer het hoe om die lewe net sorgloos te geniet.  So what as jy te hard lag… So what as mense staar... leef net weer ‘n slag!

Kinders lag blykbaar baie meer as volwassenes.  Sjoe, is die grootmens lewe dan so ernstig of morbied dat ons nie eens meer net lekker kan lag en pret hê nie.  

Leef jy die lewe wat God vir jou bedoel het of is jou vreugde gesteel? Dalk is dit omdat jy jou werk verloor het, dalk omdat jou eggenoot jou afskeep, miskien omdat jou kinders jou grys hare gee, of moontlik is jou finansies beroerd… gee dit vir God.  Jy kan nie so deur die lewe gaan nie.  Eis vandag jou lewe van die vyand terug.  Sit jou voet neer en sê tot hier toe en nie verder nie.  Ek sal nie een dag verder met ‘n lang gesig rondloop nie.

God wil hê dat jy ‘n vole n gelukkige lewe lei;  een van oorvloed.  

Tuesday 17 October 2017

Vir God of nie?

Genesis 32 : 26  “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

Op Jakob se sterfbed roep hy al sy kinders.  Wanneer kinders na so ‘n sterfbed geroep word, is dit gewoonlik dat hul geseën kan word.  Hul word dan ook geseën, maar vir Levy, sê hy dat hy hom nie gaan seen nie omdat Jakob geen aandeel wil hê in sy verkeerde leefstyl.  Levy is inderdaad vervloek deur Jakob.

Jare later is Moses op die Berg Sinai. Die israeliete aanbid ‘n goue kalf.  Moses is so teleurgesteld en toe hy vir Aaron vra wat aangaan, moet hy hoor dat die volk te lank op Moses gewag het en eintlik uit verveeldheid toe nou maar besluit het om ‘n goue kalf te maak. Hulle was nie bereid om op Moses te wag nie, maar was wel bereid om te glo dat ‘n goue kalf hul sou lei!  

Net daar haal Moses sy swaard uit en vra wie is aan God se kant.  Die mees onwaarskynlike groep steek hul hande op… die seuns van Levy. Hul pa mag miskien verkeerde dinge gedoen het en die seën misgeloop het, maar hierdie seuns het die juk afgegooi en met hul lewe aangegaan.  Van daardie dag het al die priesters van die stam van Levy gekom.  Die wat vervloek was, is nou geseënd. (vers 29 Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”)

Miskien het jy voorsate gehad wat dit moeilik gemaak het vir jou.  Jy voel dalk selfs of daar 'n vloek op jou rus. Die feit dat jou voorsate in alkoholisme vasgevang was, dwelms gebruik het, aan depressie gely het, ‘n geskiedenis van hartsiektes het of miskien vele kere geskei het…dit hoef nie jou realiteit te wees nie.  Net soos Levy en sy nasate kan jy ook die guns van die Here op jou lewe ervaar van vandag af as jy besluit dat jy en jou nageslag God voluit gaan dien.

Die eerste generasie wat dinge herstel, sal alles terugkry wat hul voorsate verloor het.  Alles wat God in stoor gehad het vir die familie, is nie weg nie, dit is nou daar vir jou om op te eis.  Elke droom wat verlore is, elke item wat die vyand gesteel het, elke minuut van jou lewe wat vermors is… dit en meer gaan jy terugkry.

Die Israeliete was 10 geslagte lank, vir 438 jaar, in slawerny.  God het dit omgekeer. Toe die Israeliete die dag Egipte verlaat, het die Egiptenare al hul goud, silwer en diere vir hul gegee. God het geweet wat hul toekom en toe hierdie volk aan God se kant is, het God hul nie net gegee wat hul toekom, maar ook dit wat hul voorvaders moes gehad het.

Monday 16 October 2017

God van gelyke kanse

God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy Eniggebore seun gestuur het om vir ons sondes te sterf.  Let jy op dat daar nie net na sekere mense verwys word nie… die hele wêreld.

Daar staan ook dat Hy gekom het om te soek en te red wat verlore is. Dit impliseer dat jy nie kan wegkruip of wegkom nie.  As God Sy oog op jou het, gaan Hy jou vind.  Sy liefde vir die mens is onbegrens.  Dit maak nie saak hoe sondig jy is nie, Hy sal jou was dat jy witter as sneeu is. Hy het nie gekom om tyd met die reeds gelowiges te spandeer nie, eerder om diegene aan te raak wat gedink het dat daar vir hul geen hoop op redding is nie.

Ons sal nooit verstaan hoe God se kop werk nie.  Wie is ons om te oordeel?  Hy is nie rassisties, kieskeurig of bevooroordeeld nie.  NIKS gaan Hom skei van Sy liefde vir jou nie.

Hy is nie bang om in die casino in te stap en jou daar te gaan uithaal nie… Hy sal nie huiwer om jou uit die shebeen te kom haal nie… Bendegeweld in Manenberg gaan Hom nie keer nie… Hy’t geen probleem om in die ontkleeklub in te gaan nie… Sy liefde ken geen perke nie.

Saggeus is ‘n man wat ander uitbuit, die mees onwaarskynlike persoon by wie jy sou dink Jesus sou tuisgaan, tog is dit presies wat Hy doen… en wat gebeur Saggeus verander soos handomkeer.  Jy kan nie vir God ontmoet en onaangeraak bly nie.

Moses het iemand doodgemaak, tog het God hom 40 jaar later gebruik om Sy volk uit Egipte te lei. 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs bring ‘n vrou wat owerspel gepleeg het na Jesus.  In plaas van haar tugtig, vra Jesus dat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.  Ons weet dat niemand ‘n enkele klip opgetel het nie.  En sy kry nog ‘n kans in die lewe :  Johannes 8 : 11  Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Jy kan nie wegkom van God se genade nie.  Hy los die 99 skape en gaan soek na 1 verlore skaap.  Ook na jou strek God die hand van genade uit. Gaan jy dit neem?

Sunday 15 October 2017

Sukses

1 Samuel 18:14  en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was.

Dertien banke het geweier om vir Robert Powells en Ryan Morgan geld te leen om ‘n lekkergoed winkel te begin. Meeste van ons sou opgegee het, nie Robert nie en Ryan nie.

Hulle het hul tot skare finansiering gewend en sodoende hul eerste Rocket Fizz winkel oopgemaak. Binne vyf jaar het hul die grootste ‘soda pop’ winkel in Amerika geword en ook deure oopgemaak vir vele wat gedroom het om ‘n eie besigheid te besit d.m.v. konsessie geleenthede.

Min mense het die moed van hul oortuiging om aan te hou om aan deure te klop, al slaan die een na die ander in hul gesigte toe.  Ons gee so maklik op as ons die eerste ‘nee’ aanhoor.  As jy opgee op jou droom, dan kan jy nie verwag dat ander daarin moet glo nie.  Wanneer een plan nie werk nie, probeer ‘n ander.  Soms het ‘n mens net ‘n ander benadering nodig. 

Meeste mense wat suksesvol is, sal jou verhale vertel van mislukkings wat hul sukses voorafgegaan het.  Daar is bitter min wat die eerste keer suksesvol is. Dit is gewoonlik ‘n lang en opdraende stryd om te kom waar hul wil wees. 

Jo Black het onlangs gesê hy weet nie waaroor die ophef oor hom is nie, want sy oornag sukses het 16 jaar geduur. 

Moenie jou blindstaar teen ander se pad of hul sukses nie.  Dawid was suksesvol omdat die Here by hom was.  Jy moet jou eie paadjie stap en ek wil glo dat jy dit tree vir tree saam met God sal doen.  

Thursday 12 October 2017

Vrugte van die gees

Galasiërs 5:22  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

Ons ken almal negatiewe mense wat ons probeer vermy, maar ken jy ook positiewe mense?  Positiewe mense is diegene wat die manier het om jou soos die beste, oulikste, slimste, mees fantastiese mens op die aardbol te laat voel.  Hulle praat min oor hulself, maar voor jy jouself kom kry, het jy jou hele lewe met hul gedeel.  Hulle is altyd blymoedig.  Dit is asof hulle altyd die regte antwoord het.  Hulle lig jou op en bring altyd die beste in jou na vore.

Ek is geseen met drie sulke mense in my lewe.  Al drie is lieflike kinders van God wie se geloofsbome swaardra aan die vrugte van die gees.  Oor die jare het ek baie hard probeer om by hul te leer.  Hulle het my gefasineer.  Ek wou soos hulle wees. Ek wou ook hê dat mense moet goed voel as hul wegstap van my.  Daarom probeer ek altyd iets mooi in die ander persoon raaksien.  Ek stel werklik belang as ek jou vra hoe dit gaan.  Dis vir my veel beter as jy praat.  Jy het nie nodig om na my treurmare te luister nie… dit gaan om jou.  Ek beskou dit as ‘n enorme eer as mense hul diepste hartsgeheime met my deel… en dit bly tussen ons.  Glo my, ek is ver van perfek, maar hoe meer tyd ek in hul teenwoordigheid deurbring, hoe meer leer ek en kan ek toepas.

In teenstelling met hierdie drie mense, het ek onlangs ‘n dame ontmoet wat binne 15 minute haar hele finansiële situasie met my gedeel het… nee, nie hoe swaar sy kry nie, maar hoeveel geld en besittings sy het.  En tussendeur het sy haar mes vir ‘n paar mense ingehad van die regering tot die arme bouer.  In gekruide taal het sy my vertel hoe hul daar sou uitsien wanneer sy met hul klaar is. Dit was 'n baie lang 15 minute.

As ons kon kies, glo ek ons sou net met positiewe mense gemeng het, maar ongelukkig kan ons nie altyd kies nie.  Wat ons wel kan kies, is wie ons gaan wees.  Almal kan mislik en wraaksugtig wees, maar kan jy 'n boom wees wat swaardra aan die vrugte van die gees?

Wednesday 11 October 2017

Dubbel soveel terug

Isaiah 61: 7    In plaas van vernedering sal julle twee keer soveel besittings hê as tevore, in plaas van minagting sal julle lof ontvang oor wat julle besit. Julle sal in julle land twee keer soveel besit as tevore en julle sal altyd vreugde hê.

As ek myself sou toelaat, kon ek baie maklik verbitterd deur die lewe gegaan het.  Ek het nie soveel geleenthede soos ander kinders gehad nie… ek het eintlik nie ‘n jongmens lewe gehad nie omdat ek soveel verantwoordelikhede gehad het… mense het my ingeloop, van my gesteel… my man het my verkul…

Ek het egter gekies om nie in die verlede te bly leef nie.  As ek werklik eerlik is, moet ek erken dat God vir my veel meer gegee het as wat ek ooit verloor het.  Wat ek verloor het, was in elk geval nooit myne nie.  Dit was net aan my geleen.  Dit waardeur ek gegaan het, het my egter die geleentheid gegee om van God se goedheid te getuig.

Waaroor is jy vandag bitter? Vra jouself af of dit enige iets aan die situasie verander as jy hierdie bitterheid koester?  Ek dink die antwoord is nee?  En tog leef ons jare lank met hierdie bitterheid saam. 

Dalk het jy veel meer rede as ek om bitter te wees.  Jy is dalk vir aanneming weggegee… jy is dalk verkrag… iemand is dalk met al jou aftreegeld fort?  Ons het elkeen ons eie bitterpartytjie… ek het ook myne gehad, maar daar kom ‘n tyd om aan te beweeg.

God hef ons op en seën ons met dubbel soveel as wat ons gehad het.  Gee jou pyn, seerkry, hartseer, vernedering… elke moontlike gevoel van verlies aan Hom en laat dit daar sodat jy kan vry wees om te ontvang wat Hy vir jou wil gee.


Ongelukkig kan jy nie ontvang terwyl jou hande vol is van die verlede nie.  Eers wanneer jy laat gaan, is daar ruimte om te ontvang.

Tuesday 10 October 2017

Werp af die juk!

Jesaja 10 : 27  In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

Ons gaan jare lank gebuk onder ‘n juk. Dalk dra jy die juk van depressie, minderwaardigheid, verslawing, mishandeling en wie weet wat nog.  Vandag is daar goeie nuus vir jou.  Jy’t nou lank genoeg gely, God gaan dit wegneem. 

Soms word die juk van depressie aangegee, soms die juk van verslawing, die juk van ontrouheid.  Dit is so hartseer dat mans wat vroue mishandel, dikwels as kind mishandel is of dat ‘n kind drink omdat hul ouers alkoholiste was.

Soos die Israeliete mag jy dalk ook vir jare te midde van omstandighede gely het.  God het ‘n einddatum aan hierdie omstandighede.  God is in die juk-verwyderings-besigheid. 

Dink net wie jy kan wees sonder daardie juk wat jou terughou? Jy skuld jouself dit om vry te breek.  Trek ‘n streep en sê tot hiertoe en nie ‘n tree verder nie.  Elke juk wat my terughou, word vandag afgewerp.

Hoeveel van jou familielede ook al aan kanker gesterf het, daardie juk sal jou nie tref nie.

Dinge in jou lewe het nou ook verander.  Eensaamheid is op ‘n einde.  Die juk is vernietig.  Onenigheid in die familie… daar sal vrede wees.  Die juk van gemiddeldheid is afgehaal, want jy is tot soveel meer in staat.   Siekte, vrees, gebrek aan selfvertroue… daar is nie meer iets soos like father like son… jou pa kon in die tronk beland het, dit is nie jou voorland nie.

Onthou jy nog vir Ismael?  Hy is gebore as ‘n buite-egtelike kind wat Abraham by Hagar gehad het.  Ismael het nie sy ma gekies nie, hy’t nie gekies om buite-egtelik te wees nie, tog is hy saam met sy ma verwerp. Op ‘n dag het Sara vir Abraham ‘n ultimatum gestel of Hagar loop of sy loop.  So moes Abraham vir Ismael en Hagar alleen die woestyn instuur.  Hulle het net brood en ‘n bietjie water gehad.  Nie lank nie, of hul is honger en dors, sonder enige iets.  God het die roepstem van hierdie kind gehoor (nie sy ma nie, maar hierdie tenagekomde kind).  Mense sou hom as ‘n fout sien… God het omgegee vir hom ten spyte van sy verlede en daarom het God hom uit die omstandighede gehaal en geseen.
   
God het sy juk verwyder, net soos wat hy jou gaan help om van jou juk ontslae te raak.  


Monday 9 October 2017

Hoe sien jou kinders jou?

Spreuke 31:28  Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar:

As jou kinders oor jou praat, wat sê hul van jou?  Hoe sien hul jou?  Ek het so ‘n idee dat wat ander mense van ons sê nie soveel gaan saakmaak as dit wat ons kinders van ons sou sê nie.  Ons het so ‘n kort tydjie om hul te vorm dat ons regtig nie kan bekostig om tyd te verspeel nie.

Het jy geweet dat ‘n kind se identiteit van die pa kom?  Met reproduksie het die vrou 1 kromosoom, die man het x en y kromosome.  As hy ‘n x gee, is dit ‘n meisie, en sou hy ‘n y gee, is dit ‘n seun.  Dit is hoekom ons weet dat ‘n kind se identiteit van sy pa kom.  Ja die kind het beide ouers se bloed, eienskappe en gelaatstrekke, maar of hy of sy seun of ‘n dogter gaan wees, kom van die pa.

As pa, is jy betrokke by jou kinders?  En jy mammie?  Soveel kinders is soekend omdat daar nie ‘n pa teenwoordig is tydens hul groot-word jare nie.  Vandag wil ek ‘n beroep op jou doen, al is julle geskei, moenie die kinders van die ander ouer weerhou nie.  Jy doen ontsettende skade aan daardie kind se hele menswees. 

Daardie kind gaan nie vir altyd ‘n kind bly nie.  Daar kom ‘n tyd dat hy of sy vir hulself kan dink en kan besluit by wie hul wil wees en dan wil jy nie berou hê omdat jy die ander ouer van hul weggehou het of valsheid oor hul kwytgeraak het nie. 

Liewe ouer, wees betrokke by jou kinders, luister na hul musiek, gesels met hulle, speel X-box met hulle, stel belang in hul vriende en vriendinne soos die tyd aanstap.  As jy met jou kinders praat, kyk hul in die oë… as hul klein is, tel hul op die kombuiskas as jy met hul gesels sodat hul op dieselfde hoogte as jy is. 

Partykeer is ons so suinig met ons woorde teenoor hul vir wie ons liefde moet gee.  By die werk gesels ons aanhoudend, maar as ons tuiskom, is ons iemand om wie almal wyd hou.

Wees van vandag af spandabelrig met jou woorde, veral woorde wat prys, opbou en komplimenteer.

Sunday 8 October 2017

Moenie die liefde laat afkoel nie

Hooglied 8:7  Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie

Waar eens liefde, maanskyn en rose was, ontwikkel baie gou ‘n weersin in mekaar met meer skaduwees en dorings. 

Jy het geweet van die hegte verhouding met haar ma of sy rook of drink gewoontes… Jy’t geweet dat sy lief is om mooi aan te trek, alhoewel jy miskien nie geweet het jy sal daarvoor moet betaal nie J Jy’t geweet hy hou van gekookte kos en dit terwyl jy skaars water kan kook sonder om dit te verbrand. Jy is ‘n oggendmens terwyl hy hou van laat slaap… hy is ‘n aand mens en jy kan jou oë nie na nege oophou nie.

Dit wat ons na mekaar aangetrek het, raak baie keer die grootste bron van irritasie soos die jare aanstap.  Ons begin neerhalende aanmerkings maak of verbloem ons uitsprake met ‘n grappies wat soos dolksteke is.  Ons kritiseer en fokus op die negatiewe… liefde verdwyn by die agterdeur uit.

Ek hoor so dikwels:  “Hoekom maak mans net die kar se deur oop terwyl ons uitgaan?” of  “Hoekom was sy altyd perfek gegrimeer toe ons nog uitgegaan het en nou moet ek in ‘n verslonsde vrou vaskyk?”

Daar rus ‘n groot verantwoordelikheid op elkeen van ons om die romantiek in die verhouding te behou. 

Dalk moet jy weer jul troubeloftes onthou?  En vra jouself af of jul kinders dit nie verdien dat jy en jou eggenoot mekaar weer moet vind nie.  Elke mens het iets goed en mooi in hulle.  Soek daarna en fokus daarop, eerder as op die dinge wat jou irriteer. 

Begin mekaar opreg komplimenteer… kyk mekaar in die oë terwyl jul praat… gee mekaar erkenning… dankie en asseblief is ‘n goeie begin.  Betoon respek teenoor mekaar.

Wanneer jul verhouding weer herstel het, sal dit makliker wees om oor die dinge te praat… Wie weet dalk het die klein irritasitjies nie meer so ‘n effek op jou as jul weer van vooraf verlief is nie.  



Thursday 5 October 2017

Eer mekaar

Hebreërs 13 : 4  Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word.

Het jy al vandag vir iemand gesê dat jy lief is vir hulle?  Wat van hulle naaste aan jou;  diegene met wie jy jou huis deel?  Jou eggenoot, jou kinders? 

Een van die mees waardevolle dinge wat jy kan doen is om vir jou lewensmaat te sê jy is trots op hom/haar.  Onthou hy/sy kan nie hoor wat jy dink nie.  Jy moet dit hardop uiter.  “Maar ek het dit al gesê, sê jy.”  Wel, sê dit weer.  Dit is soos om saadjies te saai.  Daardie saadjies skiet wortel, groei en dra vrugte waarin jy kan deel. 

Ons weet dat elke mens smag om erkenning.  Sê jy is lief vir die persoon, al weet hul dit.  Sê vir hulle dat hul mooi lyk, al weet hulle dit.  Sê vir hul dat hul oulik, slim, intelligent is.  Jy sal sien hoe dit daardie persoon opbou en van hul ‘n beter eggenoot maak.

Selfs al is hy/sy nog nie die persoon wat jy wil hê hul moet wees nie. Soms dink ek ons hou ons ander helfte terug omdat ons hul nie genoeg opbou nie. Jy kan nie ‘n plantjie water gee wanneer jy dit gekoop het en dit dan daar laat nie. Jy moet gereeld daardie plantjie water en plantvoedsel gee en seker maak daar is geen peste en plae of onkruid wat hul groei kan belemmer nie.

Ons is so maklik om te kritiseer, maar hoeveel keer komplimenteer ons?  Daar is soveel mense wat ‘n lae selfbeeld het of depressief is omdat diegene naaste aan hul, hul afbreek en nooit ‘n sagte woord het, wat nog te sê ‘n kompliment gee.

En as jy nou voel jy kan nie van jou hart ‘n moordkuil maak om vir jou wederhelf te sê hul is pragtig of intelligent nie.  Die vraag is, volgens wie se standaard?  Jy het dan hierdie persoon gekies. Ja, hul liggaam mag verander het, maar binne in is hul nog dieselfde persoon vir wie jy lief geword het. Vergelyk jy hom of haar nou met daardie aantreklike gegradueerde by die kantoor, of die persoon in die tydskrif of die aantreklike televisiester?  Kom nou…  Al gehoor van photoshop?

Partymense gebruik neerhalende taal as hul na hul eggenoot verwys…die ou vrou of die ou potjierol...  Wat van ek gaan huis toe na my prinses? Onmiddellik verhef dit jou eie status Mnr die Prins. 

As jy van vandag af net klein veranderinge begin aanbring, soos om jou taalgebruik te verander, in ‘n sagte vriendelike stemtoon te praat en elke nou en dan ‘n kompliment te gee, waarborg ek jou dit sal jou huwelik nuwe lewe gee.

In effek is dit om jou huweliksbeloftes te leef.  Dus as jy ja geantwoord het op die vraag of jy beloof om hom/haar lief te hê tot die dood, dink ek dit is nodig dat jy weer oor jul verhouding dink.  Eer en waardeer mekaar. Sien mekaar met nuwe oë.

Wednesday 4 October 2017

Maak vrede

Spreuke 15:1  'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam.

Hoe is die atmosfeer in jou huis?  Sien jy dit as ‘n veilige hawe of is dit ‘n plek waarna jy nie vreeslik uitsien om terug te keer nie?  Was dit altyd so?  Heelwaarskynlik nie.  Ek is seker daar was ‘n tyd wat julle liefderik in mekaar se oor gefluister het.

Is daar voortdurende rusies, kwetsende woorde, afbrekende aanmerkings? Is jy die een wat stilbly, of probeer jy om beter as jou opponent te wees? 

Wanneer twee mense op mekaar gil, hoor hul glad nie mekaar nie. Dit beteken dat julle nooit mekaar sal verstaan nie.  Daar is ‘n rede hoekom ons twee ore en een mond het.   Jakobus 1 : 19 elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.  Jul sal egter baie goed die pyn onthou wat elkeen se woorde oor mekaar gebring het en elke keer veroorsaak dit net nog 'n krakie in die huweliksbootjie.

"Ja maar, hy begin altyd eerste…"  En dit gee jou die reg om deel te neem?  Hoekom kan jy nie eenvoudig wegstap nie?  Draai die ander wang.

Daar loop meer mense rond met die pyn van gebroke verhoudings as wat ek en jy besef.   God het beide jou en die persoon geskape met wie jy so lelik is.  God het nie gedink daar is iets fout met hom of haar nie.  Hy dink ook nie daar is fout met jou nie. Dit beteken egter nie dat Hy goedkeur hoe julle teenoor mekaar optree nie.  Dis jou dade wat nie aanneemlik vir God is nie.

Jy kan nie altyd presies sê wat jy dink en hoe jy voel sonder om ‘n verhouding skade aan te doen nie.  En weet jy, hoe langer dit aanhou, hoe groter is die skade.  Nie net vir jou nie, maar ook vir jou kinders.  Hier’s die goeie nuus… dis nooit te laat om oor te begin nie. En hiermee bedoel ek nie egskeiding nie… jammer om jou teleur te stel.  Egskeiding los nie probleme op nie, dit skep net nuwe probleme.  Die belofte was tot die dood ons skei… in die goeie sowel as die slegte tye.  Nou is ‘n slegte tyd en dit beteken dinge kan net beter raak.

Jy kan vandag besluit dat jy nie verder deel gaan wees van hierdie onaangenaamheid nie.  Jy gaan dit vir God gee en Hom vra om ‘n wag voor jou mond te sit sodat jy die minste kan wees. Die Bybel sê immers ons moet nie toelaat dat die son sak op ons grimmigheid nie.  Jy gaan vergewe en en vergeet.  Iemand moet die eerste stap neem en dit kan net sowel jy wees.  

Tuesday 3 October 2017

Lyfstraf en dissipline

Spreuke 23:13  Moenie huiwer om 'n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe

Vandag wil ek ‘n moeilike onderwerp aanraak.  Lyfstraf en dissipline.

Meeste ouers wil nie hul kinders dissiplineer nie, want hul wil eerder hul vriende wees.  Ek kan nie oordeel nie.  Wat ek wel weet, is dat dit wil voorkom asof die gebrek aan dissipine besig is om ons samelewings soos kanker te vernietig.

Almal maak soos hul wil.  Almal het regte.  Vandag is lyfstraf op skool ontoelaatbaar.  Kinders verkla selfs hul ouers by die polisie as hul getugtig word.  En waar het dit ons gebring?  By ‘n generasie wat betoog en verniel.  Daar is hoegenaamd geen respek nie.
Volgens my kan jy jou net op regte beroep as jy besef dat daar saam met elke reg ‘n verantwoordelikheid kom.  Jy kan nie eenvoudig jou regte toeeien en nie verantwoordelikheid vir jou optrede neem nie.

Noudat lyfstraf taboe is in skole, word kinders groot met die idee dat hul onaantasbaar is, maak nie saak hoe swak hul gedrag is nie.  Daar is geen repurkussie nie.

Wys my ‘n volk sonder dissipline en respek en ek wys jou ‘n nasie wat op ‘n afgrond afstuur.  As almal baas is, wie gaan klaas wees?  Iemand moet leiding neem.  Iemand moet mense verantwoordbaar hou. 

En dit begin by ons as ouers.  Dit is ons plig om vir kinders nie net die verskil tussen reg en verkeerd te leer, maar ook respek en dissipline.  Dit is die stewige fondasie waarop enige huis gebou kan word. Ek praat nie van mishandeling of noodwendig lyfstraf nie.  As ouer behoort jy te weet watter tipe dissipline vir jou kind gaan werk. En dieselfde straf gaan ook nie vir al jou kinders geld nie.  Met my jongste werk praat.  Die oudste wil weer presies weet wat reg en wat verkeerd is.  

Net soos Oom Angus, wil ek ook erkenning gee aan my pa wat my ‘n goeie pakslae gegee het wanneer dit nodig was.  Ek het my pa nog nooit blameer dat hy my geraps het nie.  Dit was gewoonlik nodig en dit het net van my ‘n beter mens gemaak. 

Monday 2 October 2017

Jou seisoen van sukses het aangebreek

Eksodus 3 : 7 – 8  Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.  (8)  Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning

Partykeer doen ons alles wat reg is… ons bid, doen Bybelstudie, werk aan ons verhouding met God, gee om vir ander, gee ons tiende, maar niks wil eenvoudig regloop nie.  Om die waarheid te sê jy het so pas nog ‘n terugslag beleef… jou bakkie het alweer gebreek, jy het weereens nie die kontrak gekry nie... iemand het jou alweer ingeloop.  Die sprinkane is besig om alles rondom jou te vernietig.

Ons kyk na ander wat hoegenaamd nie ‘n verhouding met God het nie en sien hoe goed dit met hulle gaan; hoe voortuitstrewend hul is.  Ons sien hul blink motor(s) en huis teen die bult… hul pragtige kinders, perfekte huwelik… geld in oorvloed… alles verloop klopdisselboom terwyl ons bly voortploeter.  Hoekom, Here?

Moenie jou blindstaar teen die uiterlike nie.  Jy weet nie regtig wat in ander huise aangaan nie.  Dit behoort jou ook nie te skeel nie.  Hou aan om te doen wat jy doen.

God hou alles dop.  Hy sal sekermaak dat jy kry wat jou toekom, net soos wat Hy met die Israeliete gedoen het.  Daardie sprinkane wat als vernietig het, God gaan dubbel dit aan jou teruggee.  Alles wat die vyand gesteel het, sal God herstel… jou drome, jou vrede, jou besigheid, jou alles.

Skud die verlede af.  Die seisoen van guns en glorie het vir jou aangebreek. 

Neem nou maar vir Trevor Noah.  Daar mag diegene wees wat reken dat hy darem baie gelukkig is om Jon Stewart op te volg as gasheer van die Daily Show.  Ek glo dit is omdat God die onreg van die verlede herstel en hom meer gee as wat hy ooit tevore gehad het.  Trevor is in Soweto gebore.  Sy ma was ‘n Xhosa en sy pa ‘n wit Switse Duitser.  As gevolg van apartheid, was dit onwettig vir sy ouers om te trou of saam te woon.  Dit waarvan hy as kind beroof is, is in dubbele maat aan hom teruggegee.

God slaap nie.

Sunday 1 October 2017

Wat nog?

Sagaria 4 : 10  Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. (6)  Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”   (7) Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel 'n gelykte word.  (9) Serubbabel se hande het hierdie tempel se fondamente gelê, sý hande sal dit klaar bou.

Alles wat kon verkeerdgaan, het verkeerd gegaan.  Dit was asof alles en almal Serubabel probeer verhoed het om die tempel te herbou, maar God was aan sy kant en daarom kon niks hom terughou nie.

Wat is dit wat verhoed dat jy vooruitgaan?  Is dit dinge wat mense oor jou sê of gesê het?  Is dit jou agtergrond, jou gewig, jou probleemvel, jou haarkleur, jou sproete?  Is dit jou gebrek aan selfvertroue of jou vrees vir mislukking?  Is dit geld?  

Weet jy, as ons lank genoeg daaroor tob, sal daar meer as genoeg wees wat ons terughou.  Ek glo dat ons almal iets het wat ons kan terughou.  Die verskil tussen hulle wat suksesvol is en ander wat nog wik en weeg, is dat eersgenoemde hul doof hou vir enige nagatiwiteit.  Meeste suksesvolle mense sal jou vertel dat hul nie met die eerste probeerslag geslaag het nie, maar hulle het nooit ophou probeer nie, ten spyte van terugslae.
Meeste teenkanting bestaan in elk geval net in ons kop.  Die oomblik dat ons in geloof die eerste tree gee, kom ons gou agter dat ons tot veel meer in staat is as wat ons ooit gehoop het.


Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...