Monday 31 August 2015

Lentedag

Psalm 85:7 Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?

Wys vir ‘n kind ‘n skoenlapper of ‘n blommetjie en hy/sy staar in verwondering en gewoonlik reik die handjie daarna uit.  ‘n Kind wil ondersoek en bewonder.

Mettertyd verloor ons die onskuld van ‘n kind.  Ons gaan maar saam met die stroom.  Daar is min wat ons aandag trek of ons asem wegslaan. 

Wanneer ek by ‘n robot of stopstraat moet wag, kyk ek gewoonlik na die ander motoriste se gesigsuitdrukkings.  Selde is daar iemand wat lag.  Meeste staar met stroef gesigte voor hul uit.  Het mense hul lus vir die lewe verloor, wonder ek dan?

Met die aanbreek van Lente, is daar vernuwing wat plaasvind.  Oral sien jy veldblommetjies of bloeisels aan bome.  Dis asof die natuur uit sy winterslaap ontwaak.

Soggens as ek die huis verlaat is dit nog donker, maar dan reeds sing die voëltjies uitbundig.  Hulle is nooit dikmond of depressief nie.  Elke dag bied vir hul ook uitdagings, maar God sorg vir hul, net soos wat Hy vir jou en my sorg.


In ons lewens kan daar ook ‘n nuwe seisoen aanbreek, want God maak alles nuut.  Skud die swaarmoedigheid en neergedruktheid van die lewe af en begin weer die natuurskoon om jou raaksien.  

Dis heerlike Lente, die Winter's verby...

Sunday 30 August 2015

Staan op Jesus!

Matteus 8 : 25  Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!”

Ons ken die verhaal.  Jesus was in die skuit saam met Sy dissipels.  Terwyl Hy geslaap het, het ‘n hewige storm losgebars.  Die dissipels was paniekbevange.  Wat hul ontstel het, was dat Jesus, wat die hele dag die een wonderwerk na die ander gedoen het, gelê en slaap het.  God was nie langs hulle om met die storm te praat nie… Hy was stil, slapend.  Hier is nou ‘n ernstige krisis waarna Hy moet omsien.  Hy moet mos nie nou slaap nie, het hulle gedink.

Hulle het egter een baie belangrike punt gemis… een wat ek en jy ook mis.  Jesus was by hulle in die storm.  

Nou vra jy, maar wat maak dit anders?  Hy slaap nog steeds.  Soms bid ons en daar gebeur niks om die storm te bedaar nie.  Jesus slaap.   Ons vergeet egter dat Hy by ons is.  Ons is nie alleen in die storm nie.  Dit was nie bestem dat Jesus op die see ‘n waterdood sterf nie.  Hy sou aan ‘n kruishout sterf vir ons sondes en dan opstaan om vir ewig te lewe. 

Die tweede punt wat hul gemis het, en weereens wat ek en jy ook miskyk is dat God homself deur die dag deeglik aan hul bewys het.  Hy het die een wonderwerk na die ander gedoen. 


Selfs al weet ons waartoe God in staat is, vertrou ons Hom steeds nie volkome nie.  Staan op Jesus… moenie slaap nie.  Ontspan, Hy is by jou… en dit is genoeg.

Thursday 27 August 2015

Tafelgebed vir 'n bruidspaar

Deuteronomium 8:10  “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.

Vader, Seun en Heilige Gees… ons buig ons hoofde in aanbidding, maar veral uit dankbaarheid vir die voedsel wat ons nou gaan geniet.  Dankie vir die oorvloed, vir diegene wat dit voorberei het, maar veral vir U teenwoordigheid op hierdie huweliksonthaal.

Hemelse Vader ons ontvang soveel uit U hande.  Vandag het u weereens vir ons laat hoor hoe kosbaar die huwelik vir ons is.  Die bruidspaar gaan vandag hul eerste maaltyd as egpaar geniet.  Mag hulle U altyd onthou met elke maaltyd op die pad wat hul vandag saam begin stap.  Hoe bevoorreg is ons nie om dit saam met hul, hul ouers, grootouers, familie en vriende te geniet nie, Here. 

Beide ouerpare het hul ‘n goeie Christelike opvoeding gegee en daarvoor bedank ons U ook vandag, Here.  Laat U die goue draad wees wat hul huwelik aanmekaar weef. 

Alhoewel ons weet dat ons niks verdien nie, vra ons enkel en alleen uit genade, dat U met elkeen sal wees wat vandag hier sit.  U het elkeen hier teenwoordig so lief dat U vir ons sondes aan die kruis gesterf het.  Mag U hand van bewaring oor die bruidspaar, maar ook elke gas hier teenwoordig rus en U hul veilig terugneem na hul huise.


Seën Heer die voedsel wat ons nou gaan geniet.  Alle eer aan U God… Amen en Amen.

Wednesday 26 August 2015

Een... tot die dood ons skei

Maleagi 2 : 15  Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar 'n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie.

Voor die kansel, verlief en verlore, is die woordjie ‘ja’ van min betekenis.  Dit is eers wanneer die werklikheid van ons alledaagse bestaan inskop, ons verskil of mekaar irriteer, dat die implikasie van ‘n twee-letter-woordjie ons tref.

‘n Eenvoudige ‘ja’, beteken dat man en vrou een is… tot die dood ons skei… nie ‘n hof of ‘n regter nie.  Dit beteken om mekaar te aanvaar en lief te hê ten spyte van omstandighede.   Ons mag dalk soms nie baie van mekaar hou nie, maar die liefdesvlammetjie moet altyd gestook word.  As jou maat iets doen wat jou grensloos irriteer, onthou dat jy ook nie perfek is nie.  Fokus egter op dit wat jou aanvanklik na jou huweliksmaat aangetrek het.  Groei saam… bou mekaar op… kommunikeer… 

Weet jy, daardie huweliksbelofte is nie net tot jou en jou huweliksmaat beperk nie?  Dit sluit ook jul nageslag in.  Volgens ‘n onlangse kerkdiens bly 95% van Amish kinders by hul gesin, selfs al is hul volwasse, terwyl 80% van Christen kinders die gesin so gou as moontlik verlaat.  Die rede is dat ‘n Amish gesin alles saam doen… saam eet… gesels… werk… en dat hul tegnologie vermy. 

Dis nogal iets om aan te dink in jou eie gesin.  Veral tieners is geneig om hul te onttrek en hulself in tegnologie te verloor.  Die verskil tussen tieners wat dwelms gebruik of selfmoord pleeg en diegene wat dit nie doen nie, is volgens kenners ook omdat die meerderheid van laasgenoemde groot word in ‘n gesin wat saam eet.


Die beste geskenk wat jy jou kinders kan gee… is om jou lewensmaat vir altyd te bemin.  Moenie jou gesin verruil vir iemand wat jou iets bied wat jy nie in jou huweliksmaat vind nie.  Op die ou end is ontrou ‘n keuse, met vernietigende gevolge.  

Tuesday 25 August 2015

Net 'n wit leuentjie

Jakobus 2 : 10 – 11  As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.  God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.

Daar is mense wat reken die tien gebooie is nie van toepassing op vandag nie, maar volgens Jakobus 2 is dit heel duidelik dat dit nog net so relevant is.

Ons ‘buig’ so maklik die wet, of verontskuldig onsself byvoorbeeld deur te sê:  “Ek doen darem nie dit of dat nie… of dit is net ‘n witleuentje…” 

Mini-bus taxis het ‘n hele nuwe stel verkeersreëls aan motoriste bekendgestel.  Ons volg slaafs in hul voetspore, want as hulle daarmee kan wegkom, kan ons ook.  So mislei ons onsself.  Die feit dat ander die wet oortree beteken nie dat die wet nie meer geld nie.    

Wanneer ons eendag voor die Regterstoel verskyn, gaan God nie na verskonings luister nie.  Die wet is op skrif en daar is net tien reëls waarvolgens ons moet leef.  Is dit maklik?  Nee, beslis nie.  Gaan dit verskoonbaar wees?  Nee! 





Monday 24 August 2015

Bekommernis

Spreuke 12:25 Bekommernis druk 'n mens neer; 'n vriendelike woord vrolik hom op.

Maurice Simpson en Reginald Gibbs het twee dinge in gemeen.  Eerstens hul ongelooflike positiwiteit en tweedens, Neuro Fibromintosis oftewel NF.  NF is ‘n vreesaanjaende siekte wat deur gene aan jou oorgedra word.  Lyers van hierdie siekte, ontwikkel nie-kwaadaardige gewasse regoor hul liggaam.  Dikwels misvorm dit die gesig.

Maurice is ‘n bestuurder by ‘n wegneemete restaurant.  Ten spyte van sy verwronge gesig, werk hy direk met die publiek.  Kliënte sien nie meer sy gebrek raak nie, hul sien hom as iemand wat net een doel voor oë het, en dit is om sy kliënte gelukkig te hou.  Sy energie is aansteeklik en lok kliënte terug vir meer en meer.

Reginald het weer ‘n webblad begin “Just Ask”.  Daar moedig hy mense aan om vrae oor die siekte te vra, want hy glo as mense meer weet oor die siekte sal daar meer aanvaarding vir lyers wees.  Hy dra ‘n t-hemp met die webadres en oral waar hy gaan nader mense hom om hom te bedank dat hy ‘n stem vir lyers geword het en die stigma rondom die siekte nek omgedraai het.

Maurice het al agt operasies gehad, maar min sukses.  ‘n Weldoener het annoniem 300 000 dollar geskenk vir ‘n rekonstruktiewe gesig operasie.  Na aanvanklike komplikasies was die operasie ‘n sukses.  Op die oog af is daar min verskil, maar sy linkeroog kan weer sien en sy oor is terug op die regte plek.

Reginald wil nie meer operasies ondergaan nie, want hy is al te veel teleurgestel.  Hy het slegs 10% sig in sy linkeroog, maar laat hom nie terughou in die lewe nie.

Hierdie twee mense is ‘n absolute inspirasie vir ons wat ‘normaal’ is en soms oor onbenullighede kla.  En ja, ek ken nie jou omstandighede nie… ek ken net my eie en ek laat sak my kop in skaamte as ek besef waaroor ek slapelose nagte het.


Gebruik jou bekommernis as ‘n getuienis, soos hierdie twee mans.

Sunday 23 August 2015

Onverstaanbaar

Matteus 14

God se weë is meeste van tyd vir ons onverstaanbaar.  Neem nou maar die gelykenis van die 5 broodjies en twee vissies.  Dis die enigste gelykenis wat in al vier die Evangelies voorkom… so asof God wil seker maak ons kry die boodskap.

Hoe op dees aarde voed jy ‘n skare met so min kos… en dan bly daar nog oor ook!  Alles hang daarvan af in Wie se hande daardie bestandele beland.  Miskien was daar mense wat nie noodwendig van brood of vis gehou het nie, maar dit was wat God vir hul gegee het.  Soms verwag ons kaviaar of biefstuk, maar God gee vir ons brood en vis.  Dit gaan nie oor hoe of wat nie, maar oor God se perfekte voorsiening.  God voorsien nie altyd wat ons verwag nie, maar beslis wat ons nodig het en meer spesifiek, meer as wat ons nodig het.


Hemelse Vader, ons verstaan nie altyd nie.  Ons is eiesinnig en self-gesentreerd.  Raak ons vandag aan sodat ons kan sien wat U vir ons in gedagte het.  Leer ons om geduldig te wees en op U goeie oordeel te vertrou.  Maak ons weer kind, Here sodat ons onvoorwaardelik kan glo in U beloftes.  Dankie vir u geduld en onmeetbare liefde vir ons.

Thursday 20 August 2015

Prioriteite

Jakobus 2 : 2 - 6

Armoede is niks nuuts nie...  Mense wat finansiëel swaarkry ook nie.  Wat wel anders is, is dat dit nie meer so maklik soos in die verlede is om te oorleef as jy geen inkomste het nie.  Ons kan nie hoenders en skape aanhou wat ons van vleis en eiers sal voorsien nie.  ‘n Groentetuin kan ons nog aanlê, maar dan moet ons geld hê vir die waterrekening.  Die lewe is duur.  Sekere goed moet jy koop of voor betaal. 

Ons kerk onderhou tans 13 gesinne finasiëel.  Dit kan nie maklik vir daardie mense wees om van aalmoese te leef nie.  Elke dag raak die werkloses meer.  

Jy besef ook nie hoe moeilik dit is alvorens jy nie jouself in daardie bootjie bevind nie.  Ons oordeel maklik… hulle is te lui om te werk, dis hoekom hulle bedel…   So katagoriseer ons mense.  Ons kyk hulle op en af en besluit of hul suksesvol is al dan nie…  Vul jy ‘n vorm in, of doen aansoek vir krediet, wil hul weet in watter inkomstegroep jy val, want hoe hoër die inkomste, hoe beter wil hul jou hanteer sodat hul soveel as moontlik uit jou kan kry.


Dit alles druis in teen Jakobus 2.  Voor God is ons almal dieselfde… om die waarheid te sê God het nie veel ooghare vir sogenaamde rykes nie.  Laat daar geen onderskeid wees, behalwe tussen die wat Hom liefhet en die wat Hom nie liefhet nie.

Wednesday 19 August 2015

Hoe groot is U

My gunsteling lied is: 'Hoe groot is U."  Ek sing dit enige tyd of plek, soms saggies, maar meesal uit volle bors.
Die pragtige gedig van die Sweedse digter Carl Gustav Boberg: “O Sture Gud” (1885) het wêreldwye aanklank gevind en word regoor die wêreld gesing op die bekende Sweedse volkswysie.  Dit is vertaal en uitgebrei deur die Britse sendeling Stuart K Hine as: “How great Thou art”.  In die Liedboek van die NG Kerk lui dit soos volg (Lied 464):
O Heer my God as ek in eerbied wonder
En al U werke elke dag aanskou
Die son en maan, die aarde, sterre, wolke,
Hoe U dit elke dag so onderhou…

Refrein:
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U, hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam
Hoe heerlik Heer U grote Naam!

Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes
Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind
O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles
en U sorg dag na dag vir my, U kind.

Refrein
U maak ons deel van al U grootse werke.
U laat ons bid, Heer, dat U ryk mag kom.
En kom U weer, in heerlikheid op wolke,
maak U volkome nuut U eiendom.
Refrein

Met erkenning aan Bybelskool.com

Tuesday 18 August 2015

Melaatsheid

Matteus 8:3  Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.
Jesus het so pas van die berg gekom, toe ‘n melaatse man voor Hom kom kniel en sê:  “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”   Jesus sien sy geloof en reik uit na hom en genees hom.
Ichthyosis (afgelei van die antieke Griekse word wat vis beteken) Vulgaris, is ‘n afwyking wat veroorsaak dat individue wat dit onder lede het, se vel verhard.  Normaalweg sal die boonste laag van ons vel afskilfer. Ichthyosis Vulgaris lyers se vel bou op en vorm ast’ware skubbe. 
In China is ‘n 23-jarige jongman wie se hele liggaam oortrek is met hierdie eelterige vel.  Sy vel is so styf dat hy skaars sy oë kan knip of toemaak.   Sy voorkop lyk soos ‘n leerhandsak en sy ore is ‘n dik onooglike kors.  Lyers se liggame oorverhit maklik omdat hulle nie kan sweet nie. 
Vir die gemeenskap is hy ‘n frats en daarom vermy hul hom. As gevolg van die siekte is sy hande verwronge en daarom kan hy ook nie ‘n behoorlike werk vind nie.  Hy kan slegs ertjies pluk, en dit neem hom baie lank om ‘n mandjie vol te maak. 
In hul arm gemeenskap is daar nie geld vir dokters nie, maar uiteindelik bring iemand hom in verbinding met ‘n dokter wat sy siekte diagnoseer.  Om behandeling te begin, moet hul vasstel of sy organe gesond genoeg is, maar die sonar sukkel om deur die leeragtige vel sy organe te vind.  Met ‘n groot gesukkel, word die toetse afgehandel en word hy geskik verklaar vir die behandeling. 
Die pille wat voorgeskryf is, moet hy vir die res van sy lewe drink, maar die resultate is merkwaardig.  Soggens kan hy ‘n skoppie vol vel opvee van sy bed.  Binne ‘n jaar lyk sy vel soveel beter dat hy uiteindelik in die dag kan uitgaan.  Voorheen sou hy net snags die huis verlaat om saam met ‘n handjie vol vriende te sosialiseer. 
Dit is heelwaarskynlik hoe melaatses destyds moes gevoel het.  Kan jy jou voorstel om vir 23 jaar soos ‘n uitgeworpene behandel te word?  Tussen ons is daar ook mense wat ons behandel asof hul melaats is.  Ons kan hul vermy en isoleer, of ‘n hand uitreik en liefde aan hul betoon.


Monday 17 August 2015

Het die laaste dae aangebreek?

1 Timoteus 3 : 1 – 5  Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.  Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;  hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.  Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
Dit is asof die vyf tekste in Timoteus 'n samevatting van die dag se nuus is.  
Daar word baie oor Godsdiens gepraat, maar ek sien min bewys van Christenskap rondom my.  Die naam van die Here word ligtelik gebruik om mense onder die indruk te bring dat jy met ‘n gelowige te doen het, tog is daar meer bedrog en onbetroubaarheid as ooit tevore.    In plaas van meer Christene, is daar meer onenigheid en verdeeldheid onder mense waar dit geloof aanbetref.
Het die laaste dae waarna in 1 Timoteus verwys word, uiteindelik aangebreek?  Hoe vergelyk jou optrede en lewenswyse met dit wat hier beskryf word. 
My mede-Christene, hier lê vir ons werk voor.  Indien ons nie uit ons gemaksone beweeg en daadwerklik siele vir God begin werf nie, gaan hier hope siele wees wat binnekort verlore gaan.  Staan op vir Christus op tye wat dit saakmaak, nie wanneer jy tussen ander Christene is nie.


Sunday 16 August 2015

Gesondheid

1 Samuel 25:6  En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit!

Partykeer dryf omstandighede ons in ‘n donker hoekie in.  Ons kan geen rede sien om te leef nie.  Negatiewe gedagtes oorheers ons hele bestaan en ons vind vreugde in niks.  Binnekort voel ons so jammer vir onsself dat ons glo niemand kan deur soveel pyn gaan as ons op daardie oomblik nie.

Indien dit is waar jy jouself bevind, of dit nou gegrond is al dan nie, wil ek jou graag van Payton Thornton vertel.  Hy is ‘n Amerikaanse seuntjie gebore met Dystrophic Epidermolysis Bullosa (EB).  Met hierdie siekte, ontbreek daar ‘n sekere protein wat die lae vel aanmekaar heg.   Met sy geboorte is byna al sy vel van sy liggaampie gestroom toe hulle hom wou skoonmaak.  Die geringste beweging skeur sy vel. Sy hele liggaampie is een rou wond… blase, skeure en hier en daar ‘n rofie.

Die pyn wat hierdie kind moet deurleef, is onmenslik.  Om hom te beskerm, draai sy ouers sy liggaampie in verbande toe.  Daarmee beweeg hy soos ‘n stokmannetjie.  Hy kan nie rondhardloop of speel soos ander kinders nie.  Elke twee dae moet die verbande verwyder word en moet hy in ontsmettingsmiddel gebad word om te voorkom dat infeksie in sy bloedstroom beland wat hom kan vergiftig.  Die marteling kan tot 6 ure duur.  Eerstens moet sy ouers hom oorreed om hul toe te laat om die verbande te verwyder.  Dan moet sy ma hom in die water sit.  As jy al ooit ‘n wond gehad het, sal jy weet hoe dit brand.  Hierdie kind se hele liggaam is een groot wond.  Dit klink behoorlik asof sy ma hom in die badkamer mishandel terwyl sy pa die ander tweetjies oppas. 
Kinders word met EB gebore omdat beide ouers ‘n sekere geen het wat dit veroorsaak.  Die egpaar se ander twee kinders het genadiglik hierdie lot vrygespring.  
Danksy mediese vordering, kan ‘n beenmurg- en stamseloorplanting, Payton die nodige protein gee sodat dit soos enige iemand anders se vel sal heg en nie skeur of skaaf nie.  Sy bababoetie, Paxton, was die eerste geskikte skenker.  Jy aanskou die wroeging wat die ouers deurgaan terwyl beide hul seuns in die hospitaal is.  Beenmurg word onder narkose van Paxton onttrek en daarna met binneaarse voeding na Payton oorgedra.  Die newe-effekte is onder andere ondraaglike hoofpyne en die ergste… dat sy liggaam die beenmurg verwerp.  Wonder bo wonder oorleef beide seuntjies die prosedure en is daar ‘n reuse verbetering in Payton se vel.  Sy vel versterk daagliks en hy is uiteindelik nie meer bang om te bad nie.
Ongelukkig het die verbetering net ‘n jaar gehou.  Die afgelope drie jaar is daar geen verbetering nie, maar genadiglik ook geen agteruitgang nie.  Vier jaar na die oorplanting, werk die dokters op ‘n nuwe prosedure.  Hulle gaan dieselfde selle wat hul van sy boetie, Paxton, geoes het gebruik om MSC (mesenchymal stamselle) direk in die geaffekteerde areas in te spuit om die selle se groei te stimuleer.   Die prosedure is egter nog in toetsfase.
Miskien plaas hierdie seuntjie se hartseer lewe jou omstandighede in perspektief.  Elkeen van ons dra ons eie kruis en niemand kan ‘n ander oordeel nie.  Wat ek wel weet, is dat niks waaroor ek kla ooit kan vergelyk met dit waardeur hy gaan nie.
Deesdae neem die omruil en badproses slegs 45 minute… 45 minute van hel. 
Dankie Hemelse Vader vir my gesondheid.  Leer my om my omstandighede met dankbaarheid te aanvaar terwyl ek klein Payton in my gebede hou.


Thursday 13 August 2015

Verootmoediging

Verootmoediging

2 Kronieke 7:14 en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Dis een ding om die Woord van God te lees, maar dit is iets heel anders om gehoorsaam te wees.  Gehoorsaamheid verg erkenning dat jy in die verlede dalk nie heeltemal volgens Sy wil geleef het nie. 

Dit is juis die wonder van Christenskap.  God besef dat ons as mense afdwaal en nie altyd die smal pad bewandel nie, maar Hy is altyd gereed om ons terug te verwelkom.

My beskeie mening is dat ons onsself maklik as Christen klassifiseer, maar dat ons dade nie altyd daarmee strook nie.  Lippetaal is nie genoeg nie.  Ons moet daadwerklik optree.

Daarom het ek tydens ‘n Televisie nuusbuletin in verwondering sit en kyk na ‘n groepie mense, meesal boere, wat vreedsaam langs die N1 hulself voor God verootmoedig het.  Die beeldmateriaal het ‘n groep van ongeveer 200 mense gewys, maar daar is ook melding gemaak dat vele ander groepe dieselfde dag langs die N1 vergader het om ook te bid vir die regering, vrede en die situasie in ons land.  Alhoewel boere ons van kos voorsien, word hul nie na waarde geag nie.  Om ‘n boer te wees, hou jou op jou kniëë, want jy is afhanklik van die natuur waaroor slegs God beskik.

Hierdie klein groepie het die moed gehad om standpunt in te neem.  Aanvanklik wou hul die N1 toemaak, maar hul het besluit dat dit nie is hoe ‘n Christen optree nie.  Ons toi-toi nie… ons is nie vandalisties nie… ons is nie millitant nie… Ons dien die groot Vredemaker en daarom sal ons eerder die knie buig. 

Die feit dat hul ‘n erediens daar in die veld gehad het, en op hul knieë voor God gebuig het, spreek boekdele.  Dit sê:  “Ons weet Wie is in beheer.  Ons weet Wie kan verandering bewerkstellig.  Ons keer terug na God.  Here, red ons land!”

Ek nooi jou vandag om kragte saam te snoer met hierdie groep mense deur waar jy jou bevind ook ‘n gebedsgroep te begin.  Iewers moes iemand die leiding neem en daardie eerste tree na verootmoediging gee.  ‘n Vloedgolf van gebed en oorgawe, is wat ons land nodig het.

Ons land bloei… moraliteit is daarmee heen… korrupsie seëvier… ons word verantwoordelik gehou vir alles wat verkeerd gegaan het, maar kry geen erkenning vir die feit dat ons en ons voorvaders hierdie land opgebou het tot 1994.  Vandag staar ons vele krisisse in die gesig… Eskom, water tekorte, bankrot munisipaliteite, slaggate in ons paaie, werkloosheid, 'n swak wisselkoers, prysverhogings, moord, aanranding, verkragting, stakings… 

Laat ek dit baie duidelik maak:  Hierdie boodskap is nie vir mense van ‘n sekere ras nie, maar vir elke Christen wat bereid is om sy/haar moue op te rol.  Ons maak nie gereed vir ‘n staatsgreep of oorlog nie.  Ons verootmoedig ons voor God en erken dat ons hulp en redding slegs van Hom kom.  Ons het afgedwaal, maar ons keer terug en as Christen skaar ek my by hierdie groep mense.  



Wednesday 12 August 2015

Slawe

Lukas 17:9 'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?

Dis weer daardie tyd van die jaar… oueraande.  As jou kind goed doen, is dit nie iets waarvan jy sal weet nie, maar as jou kind se punte nie na wense is nie… wel dan gaan sien jy maar die onderwyser.  Vir baie jare moes ek elke oueraand soos ‘n stout kind voor die Wiskundeklas sit en my beurt afwag om die onderwyser(es) te sien.

My kind is een van daardie rare spesies met wie jy nooit hoef te sukkel om sy huiswerk te doen nie.  Inteendeel, as hy ‘n taak kry om te doen, moet dit dadelik afgehandel word.  Hy dryf my soms teen die mure uit omdat hy alles reeds gister gedoen wil hê.  Voor eksamens werk hy ‘n hersieningsprogram uit en hy studeer sonder dat ek hom ooit hoef aan te moedig. 

Wiskunde is egter sy Moses, want Wiskunde is nie iets wat jy kan leer nie.  Of jy verstaan dit, of jy verstaan dit nie.  Volgens sy punte verstaan hy dit duidelik nie.  Moet sê ek het ook my bedenkinge oor mense wat ‘n antwoord kry as hul x en y bymekaartel J.  Op ‘n stadium het hy soveel ekstra klasse in Wiskunde gekry dat hy eendag gemompel het:  “Ek sal al getroud wees, dan moet ek nog ekstra Wiskunde klasse kry.” 

Genadiglik bestaan daar iets soos Wiskunde Geletterdheid – die ‘dom’ kinders se weergawe van Wiskunde, word daar blykbaar gespot.  In Graad 10, betree ‘n wonderwerk my kind se lewe in die vorm van ‘n Wiskunde onderwyseres wat die vermoë het om my kind uiteindelik Wiskunde te laat verstaan.  Hy kon nie ophou praat oor haar nie:  “Mamma moet sien hoe Juffrou vandag vir ons verduidelik het hoe…”  Wat meer is, sy wys hulle dat sy in hulle glo en maak drome in hul wakker wat hul lankal begrawe het.  Sy punte skiet op tot bykans 90%!

So breek oueraand weer aan.  Hy dring daarop aan dat ek sy Wiskunde juffrou gaan sien.  “Hoekom?” wil ek weet.  “Jou punte is mos nou uitstekend.”  “Om dankie te sê!” kom sy antwoord.  So sit ek weereens voor die Wiskundeklas my beurt en afwag.  Toe ek binnestap, begin die onderwyseres dadelik verduidelik hoe sy punte verbeter het.  Ek val haar so beleefd as moontlik in die rede.  “Juffrou, ek is nie hier om te kla nie, ek is hier in opdrag van my seun… om te kom dankie sê.”  Ek kan sien hoe die wind uit haar seile geneem is.  Ons het ‘n lang gesprek en groet mekaar met wedersydse waardering.

Daardie eenvoudige opdrag van my seun, was heel waarskynlik die nodige hupstootjie wat ‘n toegewyde onderwyseres nodig gehad het.  Vir haar is skoolgee nie net ‘n beroep nie… dit is ‘n roeping.  Sy maak ‘n geweldige verskil in die lewens van menige kind.

Nog nooit vantevore het ek ‘n onderwyser(es) gaan bedank nie.  Dit het ‘n jong seun geneem om my oë oop te maak en te onthou dat ons ook erkenning moet gee wanneer iemand dit verdien.  Daar is baie goeie onderwysers en die omstandighede waaronder hulle daagliks werk, is verseker nie ideaal nie.  Hoeveel van ons bedank hulle?  Die teksgedeelte gee ‘n mens baie stof tot nadenke. 


Miskien kan jy hierdie oueraand gaan om een van hierdie slawe te bedank wat so selfloos ons kinders vir die toekoms voorberei.

Tuesday 11 August 2015

Wat God besluit, sal gebeur

Jesaja 14 : 24 & 27  Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê: Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur. Die Here die Almagtige het dit besluit; wie sal dit kan verydel?

Hierdie is nie ‘n ‘goeie nuus’ hoofstuk nie.  God is op die oorlogspad omdat die Assiriërs Sy volk tenagekom het.  God spreek harde woorde en Hy draai beslis nie doekies om nie.

In die tekste is daar twee boodskappe.  Die een is dat jy jou nie hoef te wreek op diegene wat jou tenakom nie.  Hulle pak is op pad.  Wanneer God genoeg gehad het, het Hy genoeg gehad en dan wil jy nie aan die ontvangkant van Sy toorn wees nie.  Keer dus die ander wang en verdra die onreg, al is dit ook hoe moeilik.  Reg en geregtigheid seëvier altyd.

Die tweede boodskap is dat niemand God kan keer nie.  Indien Hy Hom voorgeneem het dat jy geseën of gestraf moet word, afhangende van watter kant van die skaal jy jou bevind, dan sal dit gebeur.

Indien jy dus op God vertrou om jou uit ‘n situasie te red, kan jy verseker wees dat Hy jou nie in die steek sal laat nie.  Hy seën diegene wat hul vertroue in Hom plaas. 


Indien jy nie na Sy roepstem luister nie… wel… ‘Brace yourself!”

Monday 10 August 2015

Nuwe paaie

Josua 3 : 4  want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie.

Die lewe verloop nie altyd soos ons dit beplan nie.  Dit verloop nog minder soos ons graag wil hê dit moet verloop.

Sondag pak ek my tassie en vertrek op ‘n kort sakereis… 2 dae.  Dinsdagmiddag, net toe ek gereed is om huiswaarts te keer, hoor ek dat die 2 dae na die hele week verleng word.  Onmiddellik dink ek dat my hele beplanning rondom 2 dae was en dat ek glad nie voorbereid is vir ‘n hele week nie, but the show must go on.

‘n Klomp mense span saam en die wiele begin rol.  Die volgende oggend is ek gereed vir die res van die week.

Wat ‘n aangename ervaring was dit nie?  Ek het die mees fantastiese mense ontmoet en seker die lekkerste 3 werksdae in ‘n baie lang tyd gehad.

Dis hoekom ek so mal oor ons Hemelse Vader is.  Hy weet altyd wat die beste vir ons is.  En die roete waarop Hy ons neem is gewoonlik baie meer skouspelagtig as die vervelige agterpaadjies waarmee ek en jy vertroud is.


God wil jou op ‘n nuwe pad neem.  Dit is nie wat jy verwag of op voorbereid is nie.  Is jy gereed?  Vertrou jy Hom?  Daar lê ‘n fantastiese tyd vir jou voor.  Sy weë is vir ons soms duister, maar as ons net onthou dat Sy planne vir ons altyd goed is, kan ons ontspan en saam met die stroom gaan.

Thursday 6 August 2015

Moeg

Klaagliedere 4:17 Ons kyk ons oë moeg om hulp wat nie opdaag nie

Hoeveel van ons is moeg na liggaam en gees?  Dit voel of ons nie nog een tree kan gee nie.  Elke dag voel dit net of daar nog en nog van jou verwag word.  Soms is niks wat jy doen goed genoeg nie.  Jy voel oorweldig en asof jou keel toetrek.   Die kameel se rug is naby aan breek.

Volgens SADAG (South African Depression & Anxiety Group) se woordvoerder, neem 53% van Suid-Afrikaners nie hul volle jaarlikse verlof nie.  Dit word as die hoof oorsaak van depressie en angs gesien. 

Die rede hiervoor is hoofsaaklik dat werknemers vrees dat hul moontlik hul werk kan verloor as hulle nie alles insit nie.   Hulle sal alles doen om hulself relevant te hou en sover moontlik onmisbaar te maak.  Diegene wat wel vakansie neem, rus ook nie voldoende nie omdat jy in vandag se lewe jou werk saamneem op vakansie in die vorm van selfone, tablette, ens. 

Depressie en angsversteuring word selde oor gepraat.  Eerstens voel lyers skaam oor hul toestand en tweedens wil hul dit sover moontlik van hul werkgewers weghou omdat hul bang is dat dit teen hul gehou sal word. 

Die werksomgewing gaan nie verander nie.  Die druk gaan ook nie minder word nie.
 

Jou enigste hoop is in Christus.  En dit mag wees dat Hy van jou verwag om ‘n dokter, sielkundige of Psigiater te besoek sodat jy mediese hulp kan kry om die chemiese wanbalans moontlik met medikasie en rus te herstel.  Met die nodige hulp en geloof in God, sal jy selfs meer produktief wees.

Rus lekker uit die naweek en geniet Vrouedag.

Wednesday 5 August 2015

Vlêrmuise

Psalm 70:6 Ek is hulpeloos en arm; kom tog gou na my toe, o God. U is my hulp en my redder, Here, moet tog nie talm nie!

‘n Vlêrmuis is baie interessante dier.  Mense hou nie juis van hulle nie a.g.v.allerhande wolhaarstories soos dat hulle jou hare sal afskeer of jou bloed suig, maar hul is eintlik skadeloos.  Om die waarheid te sê die moontlikheid dat ‘n vlêrmuis in jou hare sal beland is baie skraal omdat hul ‘n ingeboude sonar het wat sorg dat hulle nie in iets vasvlieg nie.  As jy so gelukkig is om een te sien, sal jy verstom staan oor die spoed waarmee hul moeiteloos deur die lug swiep.

In Suid-Afrika is daar 7 verskillende spesies wat vrugte eet en 65 spesies wat insekte eet.   Meeste vlêrmuise woon in grotte, maar dit kan ook wees dat hul hulself in jou dak tuismaak, wat dan ‘n probleem is, maar jy mag hul nie vergiftig nie aangesien hulle beskermd is.  Kry liewer iemand om hul te verwyder.  En hulle is regtig oulik… die gesiggie lyk nes ‘n klein hondjie.

Sit nou hierdie selfde vlêrmuis op die grond neer en hy is hulpeloos.  Hy sal rondspartel totdat hy hopelik iewers afval of dood neerslaan van uitputting.  ‘n Vlêrmuis het hoogte nodig om te kan ‘opstyg’. 


Wanneer ek of jy in ‘n situasie beland waar ons buite ons gemaksone is, is ons ook hulpeloos.  En soms spartel ons soveel dat ons ook nie verder kan nie.  Ons hoef egter nie hulpeloos te spartel met die hoop dat ons iewers weer op ons voete sal beland nie.  God is daar om ons deur elke moeilike situasie te help.  Of jy nou hulpeloos, fisies of geestelik arm is, God kan jou te hulp snel.  Roep uit na Hom.  Die teks eindig op so ‘n bemoedigende noot… hy sal nie talm nie!

Tuesday 4 August 2015

Boksies

Job 6:13 Self is ek tot niks in staat nie.

Sheri Brynard (32) het ‘n indrukwekkende CV.  Sy is die Internasionale Ambassadeur vir mense wat aan Down Sindroom (DS), ook bekend as Trisomie, ly.  Haar storie is een van waagmoed en deursettingsvermoë… van iemand wat weier om teruggehou te word as gevolg van ‘n ekstra geen waarmee sy gebore is.   Buiten ‘n rits toekennings, waaronder ook internasionale toekennings, is sy die eerste gestremde persoon wat ‘n Presidensiële toekenning ontvang het vir haar bydrae tot gestremdes se lewe. 

Sy glo onwrikbaar dat elke persoon die keuse het om die beste van hul omstandighede te maak.  In 2012 word sy uit 1400 kandidate as Shoprite Checkers se “Vrou van die Jaar” gekies in die kategorie “Young Movers”.  Sy het al byna 400 motiveringspraatjies gelewer , regoor die wêreld.  Tans is sy ‘n assistent onderwyseres.  Ja, jy’t reg gelees.  Sy is die eerste persoon, ter wêreld, met Down Sindroom wat ‘n diploma in onderwys verwerf. 

As motivering spreker, sê sy ook:  “Moet nooit opgee op jou drome nie.”  Sy wou altyd onderwys gee en meeste mense sou seker vir haar gelag het.  Sy het almal verkeerd bewys.  Sy vertel hoe sy soms vakke gedruip het, maar dat sy eenvoudig aanhou probeer het totdat sy geslaag het. 

Jy staan verstom oor die volwassenheid en intelligensie van hierdie pragtige jong dame. 

Dit is so maklik om iemand te katagoriseer volgens ons verwysingsraamwerk.  Ons plaas mense in boksies.  So byvoorbeeld is daar ‘n persepsie dat iemand met Down Sindroom as’t ware verstandelik te kort skiet en nooit in staat sal wees om selfversorgend te wees nie.

God plaas jou en my nie in ‘n sekere katagorie nie.  Die geheim lê daarin dat ons besef dat ons self tot niks in staat is nie, maar toegang het tot Die Een wat tot alles in staat is. 

Ek hoop dat Sheri Brynard se verhaal jou sal motiveer om nooit jou drome te laat vaar nie.  Hou aan droom, maar moet dit nooit in eie krag doen nie.

Monday 3 August 2015

Ek en God en die eksamen

Job 42:2  “Nou weet ek dat U tot alles in staat is
Vir matrieks lê die belangrike rekord eksamen om die draai.  Te midde van matriekafskeidsfunksies en ander bedrywighede, moet hul nou behoorlik fokus.  Nou is nie die tyd om jou oog van die bal af te haal nie.
Ja ons weet matriek beteken nie veel nie, maar daarsonder lyk jou toekoms selfs minder rooskleurig. Die rekordeksamen berei jou voor op die eindeksamen.  Gebruik elke moontlik tydjie om te leer.  Doen hersiening.  Identifiseer die dinge wat jou aandag kan aflei en neem jouself voor om van nou totdat jy jou laaste vak skryf ekstra hard te werk.  Die punte wat jy behaal gaan op jou matrieksertifikaat verskyn en vir die res van jou lewe sal daardie sertifikaat voorgelê word waar jy ookal aansoek doen vir werk.  Jy wil jou nie skaam vir daardie punte nie.
Pligsgetrouheid is dus die geheim.  Niks wat die moeite werd is, kom ooit maklik nie.  En as jy getrou is in die klein dingetjies, weet jy dat God jou ook met groter dinge kan vertrou.

Jou verhouding met God en jou vaste vertroue op Hom, is die goue draad wat jou lewensprentjie vervolmaak.  

Sunday 2 August 2015

Gesondheid

Spreuke 14:30 'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond

Chandra Wisnu, staan bekend as die “Bubble Skin Man”.    Totdat ek hierdie verskynsel onlangs op TV gesien het, het ek nog nooit daarvan gehoor nie.  Tog is hy nie die enigste lyer nie.  Dit is oorerflik en staan bekend as Neurofibromatosis.  ‘n Sekere geen funksioneer nie en dan veroorsaak dit hierdie kankerlose borrels wat oral op die vel verskyn. 

Niemand word gebore met die borrels nie.  Op ‘n dag sal die borrels net begin vorm en daarna oral uitslaan.  Hulle wissel in grootte, maar sit byna opmekaar.  Soms lyk dit soos golfballe wat onder die vel is.  Die hele liggaam word geaffekteer. 

Om jouself so te sien verander, moet skrikwekkend wees.  As jy in ‘n arm land woon, het jy heel waarskynlik nie toegang tot dokters nie en weet jy nie eens wat jou makeer nie.  Jy lyk en voel seker melaats.  Mense vermy iemand wat hierdie siekte onderlede het, want hulle is bang dit is aansteeklik.  Hulle word gespot en geterg.  Een vrou is selfs tot so ‘n mate deur haar familie verstoot dat sy moet bedel om te oorleef.

In die program wat ek gekyk het, het ‘n joernalis die man afgeneem en toe die media daarvan kennis neem, het ‘n weldoener aangebied om hom vir sy eerste vakansie te borg.  Hy wou graag Singapoer toe gaan.  Daar het hulle hom na ‘n oogspesialis geneem, want die borrels het sy oog begin toegroei – dit vorm selfs op die retina.  Na ‘n operasie, kon hy weer sien.

Jy sou dink so iemand rede sou hê om depressief te wees, maar toe hulle ‘n onderhoud met hierdie man voer na die operasie, het hy gesê sy lewe is gevul met vreugde, want nou kan hy weer sien.

Dit het my laat skaam kry omdat ek besef dat dit waaroor ek kla, nie eens amper vergelyk kan word met dit waardeur hierdie man sy hele lewe gaan nie. 


Om gesond te wees, is ‘n absolute seën.  Daar is soveel wat met verskriklike siektes worstel.  Onthou om elke dag vir God te dank vir jou gesondheid.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...