Sunday 30 September 2018

Respek


Levitikus 19:32  “Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

Selfs die regering is raadop met die geweld wat daar deesdae heers.  As dit nie geweld teenoor vroue en kinders is nie, dan is dit verkragting.  Statistiek oor verkragtings op Universiteitskampusse is ongehoord hoog.  Ons is al amper imuun teen geweldadige betogings oor dienste ensomeer.  ‘n Nuwe euwel is kinders wat onderwysers aanval en selfs vermoor.  Wanneer die regering nie weet wat om te doen, dan moet daar ‘n kommissie saamgestel word om die oorsaak te soek.

Dalk is ‘n kommissie of ondersoek nie nodig nie.  Dalk moet hul net die man op straat se mening ‘n slag vra.  My beskeie mening is dat die probleem by ‘n gebrek aan waardes lê.  Waardes vorm die fondasie vir enige gemeenskap.  Neem waardes weg en die ‘gebou’ stort ineen. 

Die Bybel praat van respek teenoor oumense.  As ons nie eens respek vir weerlose oumense het nie, hoe kan ons respek vir enige iemand anders hê?  Kinders het nou baie mooi dopgehou hoe volwassenes hul gedra.  Stel jouself voor jy is ‘n kind in Suid-Afrika.  Jy sien dat daar min tot geen gevolge is vir wandade nie.  Grootmense kan vandaliseer, afbrand, vernietig, verkrag… selfs moordpleeg.  Die ergste wat kan gebeur is dat hul gevang word en dan vir jare op die staat se onkoste gehuisves word waar hul meer voorregte geniet as meeste hardwerkende mede-landsgenote. 

Daar is net een oplossing.  Ons moet teruggaan na basiese Christelike waardes.  Dit is tyd dat ons as ouers besef ons gedrag is belangriker as ons woorde.  Ons kan nie verwag ons kinders moet maniere hê as onsself nie ‘n voorbeeld stel nie.  Elkeen van ons moet na ons eie gedrag / optrede kyk en onsself afvra of ons waardig is om nagevolg te word. 

Sunday 23 September 2018

Oestyd


Galasiërs 6 : 9  Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.

Ek het iewers gelees dat die held en die lafaard altwee vrees ervaar.  Die verskil is dat die held sy vrees projekteer op sy opponent terwyl die lafaard weghardloop.  Presies dieselfde vrees;  die enigste verskil is wat jy daarmee maak.

Ons word dikwels gekniehalter deur toe te laat dat dit wat ons nie kan doen nie ons weerhou van wat ons kan doen.  As jy bang is vir vlieg moenie dat dit jou daarvan weerhou om die wêreld te verken nie.  Vind bloot ‘n ander manier van reis. 

Ek glo ook dat jy jou vrese moet trompop loop.  Baie mense het ‘n vrees om voor mense te praat.  As jy voor mense staan en jy vertel vir niemand dat jy senuweeagtig is nie en jy sorg dat jy goed voorbereid is, gaan niemand weet jy is senuweeagtig nie.  Kort voor lank gaan jy meer gemaklik raak en dalk ‘n baie bekende spreker word.

So byvoorbeeld loop mense geleenthede mis omdat hul vrese het wat hul nie kan oorwin nie.  Roger Babson het gesê:  “As dinge verkeerd loop, moenie saam met hulle loop nie.”  Daar moet ‘n ander manier wees… daar is altyd meer as een manier.  Die persoon wat suksesvol is, is dikwels die een wat nog net een keer meer probeer as diegene wat opgee.

Die lewe is nie ‘n resies nie.  Dit is ‘n reis.  Die verskil tussen ‘n resies en ‘n reis is pyn vs die gebrek aan pyn.  Ons doen onsself dikwels soveel onnodige pyn aan.  Geniet liewer die reis en op die bestemde tyd… terwyl jy doen wat jy moet doen, sal jy wel die oes insamel.


Thursday 20 September 2018

Jy's pragtig!


Psalm 139 : 14 – 15  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:  geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot

Ons vergelyk onsself voortdurend met ander.  Jy blaai deur ‘n tydskrif en wens jy het ‘n vel gehad soos die persoon op die bladsy voor jou.  Of jy wens jy het soos hul gelyk… of dit nou hul liggaamsbou of oë of bene of hare is. 

Baie min van ons is eenhonderd present tevrede met wie ons is.  As dit so was, sou daar nie so ‘n geweldige mark gewees het vir onder andere haarkleurmiddels, sonbrandroom of gewigsverliespille nie.  Daar is altyd maar daardie plekkie aan jou liggaam wat jy graag sou wou verander.  Die persoon met krulhare wil reguit hare hê en die persoon met stokkies begeer weer ‘n krullebol.   ‘n Niggie van my het vir jare middae na skool aan hul wasgoedpaal gehang omdat sy gehoop het sy sou sodoende rek en langer word. 

Die persoon wat ons bewonder of wie se karaktertrekke ons beny het ook onsekerhede.  Daardie persoon het ook iets aan hul liggaam waarmee hul nie gelukkig is nie.  Feit is:  Niemand is perfek nie.  Die geheim is om jouself te aanvaar vir wie jy is.

Eintlik lê die probleem daarby dat ons te dikwels op daardie een of twee swakpunte (in ons oë) fokus en die horde ander positiewe karaktertrekke heeltemal mis. 

Het jy al ooit vir iemand ‘n kompliment gegee en die persoon maak dit af op so 'n manier dat jy eintlik aan jou eie oordeel begin twyfel?  Hoekom kan ons nie ‘n kompliment met grasie aanvaar nie.

James Thurber het geskryf:  “Almal moet probeer om voor hul dood uit te vind waarvan hulle weghardloop en waarheen en waarom.”

Kyk ‘n slag na jouself in die spiëel en sien jouself deur God se oë.  Jy is pragtig en uniek, perfek geskape volgens die Skepper van die heelal.

Wednesday 19 September 2018

Jy is waar jy moet wees


Handelinge 17 : 26  Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon.

Te veel mense gaan deur die lewe met die idee dat hul nooit gebore moes gewees het nie.  Of dit nou is omdat jou geboorte nie beplan was nie en of dit is omdat jy voel jy is nie uit liefde gebore, weet een ding vandag… jou geboorte is baie noukeurig deur God vooraf beplan.

Lank voor jou geboorte het Hy nie net jou bestaan beplan nie, maar selfs waar jy sou woon.   God het alles haarfyn beplan… die tyd van jou geboorte… jou geslag… jou gelaatstrekke… jou talente…  In Psalm 139 :16 – 17 lees ons:  U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Jy was nie ‘n ‘last thought’ deur God nie.  Alles was swart op wit aangeteken lank voor jou geboorte.

Dalk is jy nie juis opgewonde om in Suid-Afrika te wees op die oomblik nie.  Miskien is die area waar jy woon gevaarlik.  Weereens is ons op presies die plek waar God ons wou gehad het.  Jou toekoms is nie dieselfde as iemand anders se toekoms nie.  Jou lewenspad is nie dieselfde as iemand anders s’n nie.  Psalm 37 : 23 lees:  Die Here bepaal die rigting van ‘n mens en met Sy lewe is Hy tevrede.

Moenie jouself verder kasty of jou waarde of die plek waar jy jou bevind bevraagteken nie.  As God dit anders wou gehad het, sou Hy dit anders beplan het.


Tuesday 18 September 2018

Neem jou kruis op


Lukas 9 : 23  Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,

Dit is maklik om God te dien terwyl jy jou tussen ander gelowiges bevind, miskien in die kerk terwyl jul saamsing of daar by jou huis waar jy uit die Bybel lees sonder om oor jou skouer te loer.  Nie alle Christene het dit egter maklik gehad nie. 

1. Petrus (Simon) (broer van Andreas):  Hy was ongeveer 66 nC ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero. Na bewering het Petrus gevra om onderstebo gekruisig te word omdat hy nie gelyk aan Jesus gestel wou word nie.

2. Andreas (broer van Simon Petrus): Hy is na bewering gekruisig.

3. Jakobus (seun van Sebedeus, broer van Johannes):  Volgens Handelinge 12:1-19 is Jakobus op bevel van Herodus, met ’n swaard doodgemaak.

4. Johannes (seun van Sebedeus, broer van Jakobus):   Johannes was die enigste oorspronklike dissipel wat nie ’n geweldadige dood gesterf het nie. Hy het in Patmos gesterf ongeveer 100 nC.

5. Filippus:  Hy is in die Egiptiese stad Heliopolis geslaan, in die gevangenis gegooi en in 54 nC gekruisig.

6. Bartlomeus:  Hy is in Indië doodgemaak. Daar is twee weergawes:   Ongeduldige afgodsdienaars het hom geslaan en toe gekruisig.  Hy is lewendig geslag en onthoof.

7. Tomas:  Is met ’n spies doodgemaak in Indië.

8. Matteus (die tollenaar):  Hy het in Etiopië gesterf waar hy vermoedelik in die rug gesteek is deur 'n swaardvegter wat deur koning Hertacus gestuur is, nadat hy die koning se sedes gekritiseer het.

9. Jakobus, seun van Alfeus:  Op 94-jarige ouderdom is hy deur vervolgers geslaan en gestenig, en daarna is hy vermoor deur hom met 'n knuppel oor die kop te slaan.

10. Taddeus (Lebbeus / Judas), seun van Jakobus:  Volgens baie stories is hy gekruisig by Edessa in 72 nC.

11. Simon die fanatikus / Kananeër / Seloot / Yweraar:  Hy is in England gekruisig 74 nC.

12. Mattias (vervang vir Judas Iskariot):  Hy is in Sirië verbrand.

Ander

Paulus:  Soos Petrus was hy ongeveer 66 nC ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero. Hy is onthoof.

Lukas:  Hy was ’n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy so dikwels vir die verlorenes gepreek het.

(bron:  www.glodiebybel.co.za)

Is jy bereid om te sterf vir jou geloof?  Is jy bereid om met iemand wat nie dieselfde geloof as jy het oor God te praat?  Is jy bereid om om die braaivleisvuur of op die rugbypaviljoen oor God te praat? 

Dit het te maklik geword om ‘n Christen te wees.  Ons het Christen literatuur, Geestelike boodskappe, Christen radiostasies… ons is soos vissies wat net ons monde oophou om gevoer te word, maar van ons kant is daar bitter min opoffering.

Dalk het die tyd aangebreek om ook ons kruis op te neem en daadwerklik in diens van die koninkryk te wees, maak nie saak wat dit ons kos nie.

Sunday 16 September 2018

God wil help


Jesaja 33 : 10 Ek gaan nou ingryp, sê die Here, Ek gaan optree, Ek gaan my mag laat geld.

Hoe gaan dit vandag met jou?  Is jy op ‘n goeie plek in jou lewe?  Het jy alles wat nodig is en het jy alles bereik wat jy wou bereik?  Is die lewe vir jou net maanskyn en rose?  Dalk is jy so gelukkig dat jy eintlik verveeld is?

Daar is nie ‘n mens wat nog nie donker tye beleef het nie.  Almal van ons kom op ‘n plek in ons lewe waar ons nie mooi weet watter kant toe nie.  Kyk maar net hoeveel skatryk mense hul eie lewens probeer neem.

En eintlik is dit heeltemal onnodig dat ons verlate en alleen moet voel wanneer die onweerswolke in ons lewens saampak.  Kyk weer na die teks se woorde.  God sien die dringendheid en Hy wil onmiddellik ingryp. 

God almagtig is aan jou kant.  Jy het toegang tot die Magtige Opperheer, die God wat net spreek en dinge gebeur… gaan lees maar net die deel oor die skepping in Genesis. 

Moenie vandag op moedverloor se vlakte sit en dit oorweeg om ‘n einde aan jou ellende te maak nie.  Roep God se hulp in.  Wanneer jy tot Hom nader, nader Hy tot jou.

Thursday 13 September 2018

Belangrike mense


Matteus 23 : 11 -12  Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien.  Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

Ken jy ook mense wat altyd verwys na een of ander bekende wat hul ken?  Mense wil so graag belangrik wees en as hul dan nie self belangrik is nie, wil hul ten minste seker maak dat jy weet dat hul met belangrike mense skouers skuur.

God se orde het nog altyd agterstevoor om gewerk.  Hy reken die grootste en belangrike mense moet bereid wees om ander te dien!  Ons weet almal dat politici veronderstel is om die mense te dien, maar ongelukkig dink meeste van hul dat hul te belangrik is.  En hul is nie die enigste mense wat so gesteld op hul eie belangrikheid is nie.

As jy ‘n belangrike persoon is, is jy bereid om ander te dien of verwag jy dat ander spring as jy jou vingers klap?  Glo my mense gaan jou nie minder respekteer as jy nederig is nie.  Dis dalk vandag vir jou nodig om te hoor dat diegene wat hoogmoedig is verneder sal word.  Die teenoorgestelde is ook waar.  Diegene wat nederig is, sal verhoog word.  Daardie selfde persoon waarop jy neerkyk, gaan eendag deur God verhoog word… die boemelaar wat deurskynend geword het… die persoon wat tee maak by die werk… die man wat ons dromme leegmaak…  En hiermee sê ek nie dat hul minderwaardige mense is nie.  Ons leef in ‘n gemeenskap waar sosiale status ons optrede dikteer.  Ons hanteer beslis die persoon wat ons dromme leegmaak anders as wat ons die dominee of dokter hanteer, of is my persepsie verkeerd?

Dis dalk juis hoekom Jesus nie by konings tuisgegaan het hier op aarde nie.  Hy het homself geskaar by diegene wat ander as randfigure gesien het.

Belangrik of nie, ons gaan eendag almal dieselfde paadjie en wanneer ons voor God staan sal ons titel of sosiale stand absoluut niks beteken nie.

Wednesday 12 September 2018

Maak plek vir God


Hebreërs 13 : 5  Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Omdat daar ‘n tyd in my lewe was waar ek finansieël baie swaar gekry het, is ek tot vandag toe onrustig as ek nie ten minste my eie voorraad kruideniersware het nie.  As dit net lyk of iets naby aan leeg is, vul ek dit aan en partykeer koop ek twee en drie van ‘n item.  My koskaste kreun onder die gewig.  En ek moet helaas erken dat daar tye kom dat ek goed moet weggooi soos byvoorbeeld sopertjies of meel omdat daar goggas in is.  Daar is soveel items dat ek nie eens weet wat ek het nie en as ek die kas 'n slag regpak is ek verstom om te sien wat ek alles het; goed waarvan ek al vergeet het.  Selfs die kis vrieskas is oorlaai en ek kom selde by die onderste helfte uit.

Dit het my laat besef dat ek inderwaarheid my vertroue in my eie voorsiening plaas en nie noodwendig in God nie.

Ek moet ook erken dat ek nog nooit, selfs jare later, te veel het nie, maar ook nie kan sê dat ek ooit tekort gehad het nie.  So as ek eerstehands gesien het dat God my nog nooit in die steek gelaat het nie, hoekom vertrou ek Hom nie?  Hoekom staan ek nie op die Woord wat sê dat God my nooit in die steek sal laat nie… dat ek nooit alleen sal staan nie?

Dit is heel waarskynlik omdat ek oor tyd so geindoktrineer is deur my eie bekommernis wat die vyand lekker staan en aanblaas dat ek nie besef ek is besig om ‘gierig’ te wees nie.

Bekommernis op sigself is ‘n erkenning van my gebrek aan geloof.  Dus moes ek vandag baie ernstig met myself gesels en weereens herinner dat ek moet plek maak sodat God na vore kan tree.  Ek gee Hom nie eens ‘n kans nie.  

Ek is nie die enigste persoon wat in God se pad is nie.  Op watter gebied vertrou jy God nog nie ten volle nie?

Tuesday 11 September 2018

Kopkool of Roos?


Jesaja 43  : 1  Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

‘n Oulike WhattsApp boodskap wat ek ontvang het, lees… “Just because a rose smells better than a cabbage, doesn’t mean that you can make a stew from the rose.”

So dikwels wil ons iets wees wat ons nie is nie.  Soms wil ons rose wees net omdat ‘n roos mooier lyk, maar realiteit is dat ons nie almal rose kan wees nie.  Party van ons is ‘n kool of ons dit nou wil weet of nie.  Dit beteken nie die kool is minderwaardig nie. Elkeen is uniek. 
Rose het hul spesifieke doel.  Hul skoonheid en aroma helder enige dag op.   

Net so is ‘n kop kool ook besonders.  Die kool mag dalk nie lekker ruik nie, maar ‘n pot koolbredie is een van die lekkerste bredies wat jy kan kry.  Boonop is dit relatief goedkoop en geredelik beskikbaar.  Jy kan ‘n groot klomp mense kos gee met ‘n kop kool.  Daar is ook meer gebruike vir die veelsydige kool, bv slaai, opkook… 

En as ons eers by die sierkool kom, dan begin kool sterk kompetisie raak vir die roos.  Waarop roos natuurlik sal aanvoer dat hy net so veelsydig is en selfs as konfyt gebruik kan word.

Net soos die roos en die kool uniek is en elkeen ‘n eie plekkie in ons lewens het, is ek en jy ook uniek.

Ons hoef nie soos enige iemand anders te probeer wees nie.  Ons is perfek en spesiaal net soos ons is.

Moenie iets of iemand probeer wees wie jy nie is nie.  Jy is die beste weergawe van jouself wat daar is.  Daar was nog nooit iemand soos jy en sal ook nooit weer iemand soos jy wees nie.  Selfs identiese tweelinge verskil, maar elkeen is spesiaal en uniek gevorm deur die Skepper.

Monday 10 September 2018

Toegerus


2 Timoteus 3 : 16 – 17  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

God het vir jou en my toegerus met alles wat ons mag nodig kry om te wees wie Hy ons bedoel het om te wees.  Geseënd is jy, Koningskind.

Omdat die seen van God Almagtig op jou lewe rus, kan jy verseker weet jy het ook moed, durf en innerlike krag wat jou in staat stel om aan te hou lank nadat ander al opgegee het.
Drink die Woord van God in… vul jou hele wese daarmee.  Dit bou jou geloof en rus jou al meer en meer toe vir die goeie werk waarmee jy besig is.

Volgende keer as jy wonder of jy goed genoeg is, of dalk aan jou vermoens twyfel, gaan terug na Die Woord en voed jou geloof met die woorde daarin verewig.  Fokus op Sy woorde wat bevestig dat jy tot alles in staat is omdat Hy jou die krag gee.  Jy kan jou drome verwesenlik.  Jy kan die hoogste sport bereik.  Jy het die idees, die kreatiwiteit en talent om suksesvol te wees.  Jy kan elke struikelblok oorkom.  Onthou dat jy gewapen is met krag en geloof vir elke stryd en dat die vyand wat teen jou is nie bestand is teen God almagtig nie.  Jy is behoorlik en volkome toegerus.

Sunday 9 September 2018

Krag van Bo


Psalm 84 : 11 Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.

Soms sukkel ons almal om staande te bly.  Dis nie asof ons moeilikheid gaan soek nie, moeilikheid het die manier om ons te vind.

Ek het die afgelope twee weke soveel geluk en vreugde ervaar dat ek by tye bang was dit sal ophou.  En dit is juis wat die vyand voor wag, daardie krakie in ons mondering. Sommer gou word daar toegeslaan.  So asof die lewe ons platklap en wil se:  “Sit skat, waarheen wil jy gaan?”

Maar ek is ‘n kind van God, en ek laat my nie die satan intimideer nie. Ek weier hardkoppig dat hy my vreugde steel. Dis juis wanneer ek my hakke inskop en uitdagend sê:  “Jy kan try, maar vir my kry jy nie onder nie, want my Pa is die koning.”  Hy gee my krag en ek weet dat ek steeds binne die sfeer van Sy allesomvattende liefde en beskerming is.

Sulke tye kan ek nie help om te wonder wat diegene maak wie nie vir God ken nie.  
Waarheen gaan jy?  Waar kry jy krag en hulp vandaan?  Dalk is dit jy, en jy vra my hoe kan jy maak om ook hierdie God te ken wie ek ken.

Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader.  Bely jou sondes en neem God aan as jou Verlosser en Saligmaker.  Hy’t die prys klaar betaal.  En binnekort sal jy ook die woorde van Psalm 84 : 11 ervaar.

Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.


Toegerus

Thursday 6 September 2018

Verbrand alles


1 Konings 19 : 21  Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

Met hierdie daad het dit vir Elisa ontmoontlik geword om na sy ou manier van lewe terug te keer. Hy het alles opgeoffer.  Die daad was simbolies daarvan dat dit die einde van Elisa as boer beteken het, maar ook die begin ingelui het vir Elisa as profeet.

Wanneer jy iets aanpak, hoop jy om sukses te behaal.  Dalk wil jy gewig verloor…  ‘n buite-egtelike verhouding beeindig… jou drankverslawing te bowe kom... iewers moet jy begin.  Dis gewoonlik waar baie mense vashaak.  Die eerste stap is gewoonlik die belangrikste, maar ook die heel moeilikste.  En daarom sal baie uitstel.  Miskien volgende Maandag… sodra dit beter gaan in my huwelik... nog net een drankie… ens.

Waar baie van ons faal is dat ons daardie tree neem, maar nie die brug na die verlede afbrand nie.  Sodra dinge dan bietjie moeilik raak, draf ons terug oor die brug.  Jy moet die moontlikheid om terug te gaan elimineer, soos Elisa.  Dis die enigste manier om jou doelwit te bereik.

Raak dus ontslae van al die versoekings in jou kaste as jy jou dieet begin...  Blokkeer die persoon se nommer op jou foon... gooi die drank in die rioolpyp af...

Wanneer daar geen brug na die verlede is, kan jy nuwe hoogtes bereik, verhoudings genees, verslawing oorkom.

Alhoewel dit nie vir Elisa nodig was om sy gereedskap te verbrand om Elia te volg nie, was dit simbolies die regte boodskap wat hy oorgedra het. Dit was Elisa wat ‘n pen in die grond gekap het om te wys waar hy staan. 

Baie keer is mense met tweede beste tevrede omdat hul nie alles in die stryd gewerp het om te verseker dat hul eerste keuse realiseer nie.  Plan A mense het nie ‘n Plan B nie.  By hulle is dit alles of niks. 

Ek verongeluk liewer terwyl ek my Goddelike drome nastreef as om sukses op ‘n ander manier te behaal.

Plaas jou ‘osse’ vandag op die altaar en gebruik sommer die ‘jukke’ om vuur te maak om hul te verbrand.

Wednesday 5 September 2018

Dis nooit te laat nie


Lukas 8 : 49 Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”

Jairus het nogal ‘n belangrike status in die gemeenskap geniet. Jou belangrikheid is egter geen waarborg daarvoor dat jy of jou kinders nie deur ‘n krisis sal gaan nie.  Jairus het wel geweet waarheen om te hardloop toe onheil hul gesin tref.


Ook die moeder in Matteus 15 : 22 het geweet waar haar hulp vandaan kom.  'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.”

Wanneer jou kind iets oorkom, is menige ouer geneig om hulself te blameer.  Jy wonder altyd of jy nie strenger moes wees, of dalk meer toegeeflik, of meer betrokke of dalk meer moes toegee…

Realiteite is dat ouers nie altyd vir hul kinders se dade verantwoordelik kan wees nie.  Jy het nie vir jou kind dwelms gekoop nie.  Jy het nie vir jou kind drank gekoop nie.  Jy het nie vir jou kind gewys hoe om op pornografie webblaaie te kom nie.

As ouer doen jy die beste op die oomblik en daar is geen waarborge nie.  ‘Slegte ouers’ kan goeie kinders die wêreld instuur en ‘goeie ouers’ se kinders kan die pad byster raak. 
Dus is daar slegs een antwoord.  God.  Bly op jou knieë vir jou kind(ers).  Bly bidden… vra raad… vra hulp.

Jairus het geweet dat hy by Jesus moes uitkom toe sy dogtertjie siek was.  Dalk sê jy, ja ek het ook aanhoudend gebid, maar dit het my niks gehelp nie.  Kyk waar sit my kind… in ‘n tronksel!  Toe Jairus die eerste keer vir Jesus gevra het om na sy dogtertjie te kom kyk, het sy nog geleef, maar op die ou end het die mense kom sê hy hoef nie meer te worry nie, want die kind is nou in elk geval dood.  Was dit te laat vir die dogtertjie?  Nee!  By God is dit nooit te laat nie.

Hou aan bid en glo vas dat Hy jou kind sal uitred en weer op die regte pad bring.  Ons dien ‘n omgee God.  Wanneer jy bid en jou geloof in Christus plaas, kan Hy dinge in jou familie doen wat jou sal verstom!

Tuesday 4 September 2018

Voor my geboorte


Psalm 139 : 16  U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.

Dierbare Hemelse Vader, vandag kom ek na U om sommer net met U te gesels.  U ken my beter as enige iemand anders.  U het my selfs geken voor my geboorte.  Daar in my moeder se skoot het U my noukeurig aanmekaar geweef.  U het alreeds besluit dat ek uniek en kosbaar sou wees.  U het moeite met my gedoen en my vir ‘n spesifieke doel geskep.  Vandag wil ek U vra om daardie visie aan my te openbaar.  Here, ek het lank genoeg rondgedobber.  Ek het nou al alles probeer, maar dit voel altyd of daar iets ontbreek.  Here, ek glo dat U veel meer vir my in gedagte het as dit wat ek tot nou toe bereik het.  En daarmee bedoel ek nie dat ek ryk of beroemd wil wees nie, ek wil net in U perfekte plan vir my lewe inpas.  My behoefte om te verstaan wat die roeping is waarvoor ek geskep is, is amper desperaat.  Dis asof ek ongeduldig raak. Ek wil weet.  Ek moet weet. 

Ek weet dat U my geskape het met alles wat ek nodig het om die mens te wees wat U wil hê ek moet wees.  Ja, ek weet ek was so ‘n bietjie hardkoppig en het my eie pad gevolg, maar ek het ook geleer.  Hemelse Vader, wys my die gawes wat u in my geplaas het en hoe ek hul tot U eer kan ontwikkel en aanwend.   Romeine 12 : 6  Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.  

Ek wil vrypostig U kind wees.  Ek wil U met volle oorgawe dien en binne U wil leef.  Psalm 40 : 9  Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.”  Maak my ontvanklik vir die seëninge wat U vir my gereed hou. 

Here, leer my om te laat gaan… te laat gaan van dinge en goeters… laat ek eerder vashou aan dit wat Ewigheidswaarde het.  As daar mense in my lewe is wat nie deel van U Goddelike plan vir my lewe is nie, wys dit vir my asseblief en gee my vrede wanneer ek laat gaan.  Ek wil U met my hele hart dien.

Leer my om U stem te hoor en vul my met genade en moed om u vreesloos te volg. Mag die begeertes van U hart ook die begeertes van my hart word. 

Dierbare Here, as dit U wil is, vergroot my grondgebied wanneer ek gereed is, maar vergroot ook my kapasiteit om te glo dat U die bietjie wat ek oor beskik kan vermeerder bo enige iets wat ek kan dink of vra.

Ek is gereed, Here.

Monday 3 September 2018

Bring romanse terug


Genesis 26 : 8  Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos.

Menige jong meisie en sekerlik jong mans droom van daardie een spesiale persoon wat hul eendag sal ontmoet… daardie persoon wat hul sal voltooi… 'n sielsgenoot… die een met wie jy vir ewig gelukkig saam sal leef.

As jy gelukkig is, ontmoet jy daardie persoon, jul trou, maar ongelukkig is dit nie altyd maanskyn en rose nie.  Die egskeiding statistiek in Suid-Afrika is skrikwekkend.  Min huwelike bly staande teen die aanslae van die lewe.  Ek wil my verstout om te sê daar is bitter min werklik gelukkige huwelike.

Hoe lyk jou huwelik?  Is daar liefde tussen jou en jou eggenoot?  Is daar nog romanse?  Is daar nog liefkosings?  Of is jul net twee mense wat miskien saam kinders en skuld het?  Dalk is die kinders nou groot en nou kom die eintlike uitdagings, want nou besef jy skielik dat julle vreemdelinge vir mekaar geword het.

Net soos wat ‘n plantjie nie kan oorleef sonder water, net so kan ‘n huwelik nie oorleef as daar nie koestering en versorging is nie.  Ek praat nie van materiële versorging nie. 

God het die kerk in Efese beskuldig:  Openbaring 2 : 4 “Maar Ek het hierdie klag teen jou:  dat jy jou eerste liefde versaak het.  En dan leer Hy hul hoe om dit reg te stel  vers 5: “Kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het”

As die huweliksvlammetjie in jul huis laag brand, selfs al is daar nog net assies oor, begin weer om mekaar te sien soos reg aan die begin.  Onthou weer wat jou in die eerste plek na jou maat aangetrek het.  Begin weer jou maat die hof maak. 

As hy of sy die moeite werd was om mee te trou, dan is hy/sy die moeite werd om voor te baklei.  Egskeiding is nie ‘n oplossing nie.


Sunday 2 September 2018

Niks verkeerd, maar ook niks reg


Lukas 18 : 18  21  'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.  Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.”  Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.”

Hierdie welgestelde man het op die oog af alles gedoen wat reg is, want hy het homself gemeet aan die gebooie en daarvolgens was hy op die regte pad.  Dis wonderlik, maar weet jy, dit kan wees dat jy niks verkeerd doen nie, maar terselfdertyd ook dat jy niks reg doen nie.

Jy sien partykeer meet ons hoe ons vaar as kind van God deur te kyk of ons doen wat reg is.  Jy mag nie steel nie… jy mag nie vloek nie… jy mag nie begeer nie… maar dit wat ons moes doen, doen ons ook nie.

Dis maar net soos om ‘n kind groot te maak.  Ons aanvaar dat ons kinders nie iets verkeerd sal doen nie omdat ons hul geleer het wat die verskil tussen reg en verkeerd is, maar is dit nie veel beter wanneer hul iets reg doen nie?

Noudat ons weet wat die verskil tussen reg en verkeerd is, moet ons daarop begin fokus om ook ander dinge te doen wat God van ons verwag.  Efesiers 2 : 10  Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Ons kan reëls navolg, of ons kan God navolg.

Jesus het van die jongman verwag om alles te verkoop om Hom te volg.  Die jongman het nie daarvoor kans gesien en hy het die grootste geleentheid van sy lewe gemis.  Moenie dieselfde fout maak nie. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...