Thursday 30 May 2019

God sal met jou klaarspeel


Spreuke 12 : 3  Niemand wat ‘n verkeerde lewe lei, hou stand nie;  wie die wil van die Here doen, staan stewig

Ek is al baie in my lewe ingeloop deur mense.  En ja, ek wou weet hoekom God dit toelaat?  Hoekom kom sekere mense weg met alles? 

Daar kom egter’n tyd wat jy besluit watter gevegte die moeite werd is om te veg.  Dit is nie vir my om te oordeel nie.  Die feit dat ‘n hof hul net ‘n tikkie oor die vingers gee terwyl ek byvoorbeeld nog ‘n lening het om af te betaal, is irrelevant.  God sal hul oordeel en straf, wanneer Hy reken die tyd reg is.

Waar ons die pot mis sit is dat ons nou geregtigheid wil sien.  Ons wil hom/haar/hul terugkry en ons wil nou sien hoe hul net soos ons swaarkry.  Dit is nie hoe God werk nie.

Deesdae sal ek een keer probeer om mooi te vra dat jy jou kant van die ooreenkoms nakom en daarna gee ek jou aan God oor.  Ek mors nie meer my energie en versuur my sielevrede met gedagtes oor vergelding nie.

Solank ek my huiswerk doen en daaroor bid, glo ek dat ek die regte besluit geneem het.  As jy my dan wil indoen, wel dan moet jy maar gereed wees vir die volle mag en krag van God wat jou gaan inhaal.






Wednesday 29 May 2019

Huil


Psalm 126 : 6  Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra

Party mense huil maklik.  Ander hou alles binne.  So uniek het God ons gemaak.

Die probleem kom egter wanneer dit nodig is om te huil en jy nie kan nie.  Die enigste pad na heling is deur die pyn, het ek iewers gelees.  Huil is deel van die genesingsproses.

Daar is mense wat huil as ‘n swakheid sien.  Sommige wil weer nie voor ander hul emosies wys nie.  Hoe meer jy jou trane inhou of daarteen veg om deur die pyn te werk, hoe langer gaan die proses neem.  Jy kan nie om pyn beweeg nie.  Dis soos ‘n tonnel, jy moet daarin, daardeur en anderkant uit.

Ons moet ons kinders ook leer dat dit in orde is om emosies te wys.  Daar is te veel mense wat vandag met letsels rondloop omdat hul nooit die pyn kon verwerk nie. 

As jy nie daardeur werk nie, raak dit soos ‘n sweer.  Etter bou op en iewers gaan die drukking dit laat bars.  Dalk manifesteer dit in padwoede, dalk word jy ‘n boelie, dalk mishandel jy jou geliefdes…  Of jy onderdruk dit met drank of ander middele.  Dit gaan nooit weg nie.  Trauma en pyn moet verwerk word en trane spoel die wond skoon.

Niemand huil vir altyd nie (wel party huil gereeld), maar dit is helend wanneer jy jouself daardie luukse gegun het.  Na jou jammerkry partytjie kan jy jou trane afvee en jy sal soos ‘n nuwe mens voel.


Tuesday 28 May 2019

Tollenaar vs Fariseër


Lukas 18 : 13  “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

Dalk verstaan jy vandag maar te goed hoe hierdie tollenaar voel.  Jy voel ook dat dit wat jy gedoen het so ontsettend verkeerd is dat jy nie eens na God kan kyk nie.  Jy voel so minderwaardig en vuil, wel wetend dat jy Hom teleurgestel het, en juis daarom glo jy dat Hy jou nie voor Sy oë sal kan verdra nie.  Dalk is jou vrees juis die woede of teleurstelling wat jy verwag om in Sy oë te sien. 

In hierdie hoofstuk vertel Jesus ‘n gelykenis van twee mense wat na die tempel gaan, ‘n Fariseër en ‘n tollenaar.  Die vraag is:  “Wie se saak is reg met God?”

Die Farisëer bid:  O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’  (vers 11 & 12)

Die tollenaar reageer soos hierbo in vers 13.  Jesus se standpunt is:  “Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

God kyk nie na vertoon nie.  Hy kyk na die hart en die absolute opregtheid en berou van die Tollenaar.

Maak nie saak hoe jou verlede lyk nie, ook vir jou is daar genade by God.  Roep vandag soos hierdie tollenaar uit:  “God, wees hierdie sondaar genadig.” 

God ken die hele verhaal van jou lewe.  Daar is niks vir Hom verborge nie.  Ware en opregte berou sal Hom beweeg.

Monday 27 May 2019

Eendjies


1 Petrus 5 : 7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Is jy liggeraak?  Trek jy jou byvoorbeeld alles aan wat ander oor jou sê, of selfs net wat jy dink hulle oor jou sê?  Dalk broei jy ook nog oor die geringste negatiewe opmerking.  Is dit iets wat jou terughou, tot so ‘n mate, dat jy nie veel gedoen kry daarna nie?  Is jy iemand wat byvoorbeeld emosionele energie vermors op dinge soos mense wat staak, die televisienuus, wat jy in koerante lees?

Party mense sal hulself onmiddellik hierin herken en erken dat hul skuldig is.  Ander sal dit weer bevraagteken of probeer regverdig.  Hoe dit ookal sy, as jy ja geantwoord het op van hierdie vrae, is dit tyd om jou lyf eend te hou.

‘n Eend skud waterdruppels met gemak van hul af en binne oomblikke is hul weer hul ou self.  Hul is droog en verknies hulself nie oor die nat en/of koue nie.

Ons vermors dikwels onnodige tyd en energie op dinge waaroor ons absoluut geen beheer het nie.  Dit is eenvoudig nie moontlik om alles en almal te beheer nie.  Behalwe as dit so ernstig is soos om geboelie te word, waar die aanslae op jou neerreën, regverdig geen skinderbek of suurgesig ‘n tweede kyk van jou nie.  Jy weet wie jy is.  Jy ken die waarheid en jy weet Wie in beheer is.

Almal hanteer situasies verskillend.  Dit is nie vir almal ewe maklik om ‘n eendmentaliteit te hê nie, so as jy steeds sukkel, gee dit vir God.  Moenie toelaat dat hierdie bekommernisse jou aftrek en afbreek nie.

Sunday 26 May 2019

Voëls


Matteus 6 : 26  Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Ons kan baie leer by voëls.  Onlangs het dit deurnag in die Kaap gereën.  Daar is gemiddeld 70 mm reën gemeet.  Niks en niemand was droog nie. 

As ons buite in die nat en koue was, sou ons soos die voëls die volgende oggend vrolik gekwetter het?  Hulle sit nie kop onderstebo en betreur hul omstandighede nie.  Nee, hul is vrolik terwyl hul douvoordag op en aan die gang is om daardie krummeltjie of wurmpie te gaan vind. 

Voëls het eintlik nie ‘n keuse as om elke dag uit te gaan om te gaan kos soek nie.  Of jy nou ‘n visvanger, ‘n arend, ‘n mossie of ‘n tortelduif is daar is nie koskaste of yskaste beskikbaar nie.  Probeer jy ‘n happie oorhou vir môre is die kanse in elk geval groot dat ‘n mede-voëltjie jou daarvan gaan beroof nie.

Wat my veral beindruk is die vaste vertroue dat daar kos sal wees.  Hulle ken dalk nie hul Maker nie, maar hulle twyfel nooit.  Hulle bekommer hul nie oor gevare soos die familie se kat wat self heelnag geslaap het en nou lus is vir ‘n bietjie aksie en dalk ‘n gepaardgaande happie nie. 

Instinktief weet voëltjies dat daar ‘n Voorsiener is.  Hul het nie ‘n saak met môre nie… dis net vandag wat saakmaak.

Dink net hoeveel keer stress ons onnodig omdat ons twyfel of omdat ons oor môre bekommerd is. 

God vra ons nie net om Hom te vertrou nie.  Hy sê pertinent:  “Kyk na die voëls.”  Hy maak dit so prakties.

Volgende keer as jy bekommerd is oor jou toekoms, om welke rede ookal, kyk na die voëls.


Thursday 23 May 2019

Jou liggaam


1 Korintiërs 6 : 19  Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie:

Wanneer jy besef dat jou liggaam ‘n tempel van God is, kyk jy heeltemal anders daarna.  Dan begin dit sin maak om dop te hou wat jy eet, wat jy drink, of jy rook of dwelms gebruik, of jy ‘n tattoo kry, hoeveel jy jou liggaam druk om te presteer.

Hartsiektes is niks nuut nie. Hartomlynings ook nie.  Dit is gewoonlik nodig omdat Cholestrol die are blokkeer.  Nou dit kan oorerflik wees, maar dit kan ook ongesonde eetgewoontes wees.   Ons kan soveel ons kan bid dat God ons seen met goeie gesondheid, maar as ons nie ons deel doen nie, kan ons nie verbaas wees as ons gebede nie verhoor word nie.
Medici waarsku ons dikwels oor tabak, dwelms, alkohol en gesonde eetgewoontes, maar dalk is dit nodig dat predikers ook hieroor begin preek.

As jy gaste verwag trek jy skoon beddegoed oor, sorg dat daar skoon handdoeke is en maak dalk selfs ook met ‘n bietjie meer sorg aan die kant.  Dieselfde beginsel behoort te geld wat ons liggame aanbetref. 

Wanneer jy iemand anders se eiendom gebruik, kyk jy beter daarna as na jou eie (wel dis wat my ouers my geleer het).  Ons behoort nie aan onsself nie.

Ons het net een liggaam en as jy so gelukkig is om ‘n hoë ouderdom te bereik, mag jy dit dalk net berou dat jy nie meer daarna omgesien het nie.  Kom ons hanteer ons liggame met die nodige respek.

Wednesday 22 May 2019

Ware vryheid

Johannes 8 : 31 – 32  Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels;  en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Is daar ‘n gewoonte wat jy probeer afsweer, maar jy kry dit net nie reg nie?  Jy het die beste voornemens, maar dan val jy weer terug.  Dink maar aan diegene wat hul voorneem om Maandag met daardie dieet te begin.  Maandagoggend is dit swart en bitter koffie.  Daar word net ‘n slaai en ryskoekies ingepak vir die dag wat voorlê.  Sover so goed, maar soos dit nou maar gebeur sal iemand daardie dag verjaar en die heerlikste koekerasies kantoor toe bring.  Aag, nou ja, dan begin ons maar môre.

Van meeste Nuwejaarsvoornemens kom daar ook nie veel nie.  Iemand het eendag gespot:  “Dis maklik om op te hou rook, ek het dit al hoeveel keer gedoen.”

Dan lees jy hierdie teks en jy besef dat as jy in ‘n noue verbintenis met God leef, jy veel beter sal vaar.  Jy sien, jy kan ophou om in ou gewoontes te verval deur jou van hulle te bekeer, hulle te verwerp en daardie gedagtes wat jou voortdurend laat terugval met nuwe gedagtes te vervang.  Romeine 12 : 2  Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Voordat jy aan versoeking toegee, is daar gewoonlik ‘n gedagte wat jou daarheen lei.  Hierdie gedagtes moet vervang word met ander.  ‘n Goeie idee is om dit met die Skrif te versadig.  Bly bidden.  Vind n mede-gelowige om jou te ondersteun, iemand wat jy kan skakel wanneer versoeking aan jou deur klop. 

Oorwinning sal kom, maar dit moet iewers begin en dit begin wanneer jy besluit om volgens die wil van God te leef.

Tuesday 21 May 2019

God is vol verrassings


Jesaja 55 : 8 – 9  My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;  soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Vir Maria was dit ‘n dag soos al die ander en toe besoek ‘n engel haar en vertel dat sy as ‘n maagd die Seun van God in die wëreld gaan bring.

Moses en die volk het vir veertig jaar in die woestyn geleef.  ‘n Groot deel daarvan was sieldodend vervelig, son en sand… manna en kwartels… aanhoudende klaagliedere van die volk.

Vir jou mag die lewe ook voorspelbaar wees en jy is dalk nie baie opgewonde oor jou lewe nie.  Dalk is jy moeg vir sukkel, moeg vir probleme, moeg vir alles…

Maria sou nooit daardie oggend toe sy uit die bed klim gedink het dat haar lewe handomkeer sou verander nie.

Net so kan God jou ook verras.  Vir Moses het Hy verras daardie dag toe Hy uit ‘n brandende bos met hom gepraat het.  Vir Bileam het die Here sy donkie met hom laat praat.

Die dag dat alles in plek val en God gereed is om jou te verras, sal dit op die mees onwaarskynlike manier gebeur.  Dit sal gebeur wanneer jy dit die minste verwag.  Jy weet nooit met God nie.  Hy is vol verrassings en Hy kan jou lewe binne ‘n oomblik verander.
Wees gereed, dit gaan aardskuddend wees.

Monday 20 May 2019

God se tyd


Prediker 3 : 11  God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.

Vir maande lank bid ek nou al vir ‘n deurbraak vir ‘n familielid, maar niks gebeur nie.  Om die waarheid te sê al meer en meer gaan verkeerd.  Dit is verby ‘n kritieke stadium.  Ek moet diep delf, want ek ken al God se beloftes en Sy Woord, maar niks verander aan die benardheid van die situasie nie.  Ek wat glo dat NIKS by God onmoontlik is nie, begin selfs wonder hoe hierdie gemors ooit kan regkom.  Daar is nie net een wonderwerk nodig nie, maar ‘n reeks. Op hierdie stadium sal dit fantasties wees as daar net nie nog iets verkeerdgaan in die persoon se lewe nie.

Ek het op ‘n punt gekom waar ek voel dat ek saam met die persoon in die put begin afsink.  My gemoedstoestand is besig om daaronder te lei omdat daar eenvoudig nie uitkoms kom nie.  Hoe meer ek probeer dink wat ek nog kan doen of ten minste verstaan wat aangaan of waar alles so verskriklik verkeerd gegaan het, hoe meer besef ek dat ek God nie kan ontleed nie.  God ken die afmetings van hierdie krisis.  Dis nie vir my nodig om Hom hieroor in te lig of te bevraagteken nie. 

Soms is ons in God se pad.  Ons bly tussenin kom om dinge beter te probeer maak, maar eintlik is ons besig om die situasie te vererger of dalk selfs te sabotteer.  Wanneer ‘n geliefde ‘n operasie moet ondergaan, sal dinge nie goed afloop as ons die skalpel uit die chirurg se hand neem en self opereer sodat die operasie vinniger gedoen kan word nie. 
Uiteindelik besef ek dat ek net vrede kan ervaar as ek besef dat ek nooit die volle omvang van God en/of Sy werke en/of Sy tydsberekening kan verstaan nie.

Die Skrif sê ook in Prediker 8 : 6  dat elke ding sy tyd en plek het  Ek weet nie wat nog moet gebeur nie, maar God is in besit en in beheer van die volle plan en ek moet Hom vertrou.  Miskien moet iets nog gebeur, dalk moet daar nog groei plaasvind, of ‘n les geleer word, of miskien is dit net nog nie tyd nie.

Ek kan sien dat God besig is met die persoon en ek moet laat gaan en laat God.  In plaas van inmeng het ek begin om God te loof en prys, want ek het agtergekom dat dit baie moeilik is om bekommerd te bly as jy lofprysinge sing.

Sunday 19 May 2019

Stilte


Lukas 23 : 8  Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen.  Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.

Pilatus kon niks vind wat Jesus verkeerd gedoen het nie.  Hy hoor toe Herodus is in Jerusalem en neem Jesus na hom toe. Jesus se Naam en Sy dade het Hom vooruitgeloop en selfs Herodus kon nie wag om Hom te ontmoet nie.  Hy het selfs gehoop dat hy Jesus ‘n wonderwerk kon sien doen.  Jy kan jou indink hoeveel vrae hy vir Jesus gehad het, maar Jesus antwoord hom nie eens nie. Doodse stilte.

Jy sou dink dat Jesus hierdie geleentheid moes gebruik.  Die man het bewondering vir hom, al wat Hy moet doen is om homself te verdedig, maar niks.  En terwyl Hy daar in stilte staan, reën die beskuldigings op Hom neer van die priesterhoofde en skrifgeleerdes.  Ek wonder wat deur Jesus se gedagtes gegaan het.  “Whatever.”  Hy het geweet wat die uiteinde is, hulle nie.

En Herodus trap in die strik deur ook met Jesus te begin spot.  Sjoe, het hy maar geweet!
Die verskil tussen ons en Herodus is dat ons weet wie Hy is.  Jy wil nie ‘n vyand van Jesus Christus maak nie.  Inteendeel…

Eendag gaan ons Hom van aangesig tot aangesig ontmoet.  Ons het baie van Hom gehoor, ons het baie vrae vir Hom… hoe gaan Hy teenoor ons optree?  Gaan Hy ons in Sy arms toevou en in die rigting van die hemel stuur of gaan hy doodstil wees, maak nie saak hoeveel ons probeer verduidelik nie.  Doodse stilte… en dan satan se handlangers wat ons aan die arm neem op pad hel toe.

Thursday 16 May 2019

Uit die put


Psalm 40 : 3  Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop.

Dawid was ‘n geliefde van God, maar hy was ook maar net mens met menslike foute en swakhede.  Nie net het hy owerspel gepleeg met Batseba nie, maar hy het ook gevra dat haar man op die gevaarlikste moontlike plek ontplooi word sodat hy in die oorlog gedood kan word en hy wat Dawid is dan met die weduwee kan trou wat reeds sy kind verwag het.

In watter slymerige, modderput bevind jy jou?  Het ‘n sakegeleentheid skeefgeloop en jy’t alles verloor?  Het jou huwelik misluk, dalk ook a.g.v. owerspel?  Is jou kind(ers) verslaaf aan dwelms of betrokke by bendebedrywighede?  Het jy ‘n misdaad begaan en nou moet jy die gevolge van jou dade in die gesig staar?  Is jy in die bediening, maar jou hart was nog nooit regtig daarin nie?  Kan jy jouself nie van die rekenaar en pornografie losskeur nie? 
Almal van ons het al foute gemaak, party foute dalk minder lewensveranderend as ander, maar ons was al almal spyt oor iets.  Ons het al almal op ‘n punt gekom wat ons gedink het ons kan nie meer nie.  Realiteit is dat ons dit oorleef het.  Ja, miskien het ons ‘n letsel of twee oorgehou, maar ons is steeds staande. 

Baie keer is dit gebede van mense wat ons nie eens weet wat ons deurdra, mense wat vir ons intree by die Vader en Sy genade wat ons herstel en weer heelmaak. 

Dank God vandag vir daardie mense en begin jy ook om vir iemand te bid.  Die krag van gebed mag nooit onderskat word nie.  God wil ons harte sien en met ons gesels.  Net by Hom is daar ware verlossing en vrymaking.  Soos wat Hy vir Dawid uit die put gehaal en weer op vaste grond neergesit het, kan Hy ook vir jou doen.  Moenie die krag en genade van God onderskat nie. 

Wednesday 15 May 2019

Groter en beter


Haggai 2 : 9  Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

Ons leef in ‘n tyd dat God besig is om Sy guns uit te stort en Hy wil jou verras met sy guns en goedheid.  Miskien het jy al so ‘n ietsie daarvan gesien in jou lewe, maar weet jy, jy het nog niks gesien nie.  Dit wat Hy in gedagte het vir jou is meer as wat jy ooit sal kan dink of droom.

Wanneer jy hierdie teks lees besef jy dat dit wat God in die verlede gedoen het nie eens sal kan vergelyk met wat hy vir die toekoms beplan nie.  Dit wat God vir jou ouers of grootouers gedoen het, was fantasties… dit wat hy tot nou toe vir jou gedoen het, is genade, maar dit wat kom is groter as ooit. 

Begin dus in afwagting leef.  Droom groter…sien vooruitgang en voorspoed voor jou geestesoog en kyk uit vir daardie geleenthede wat jou pad gaan kruis.  Let op, jy sal dit nie hoef te gaan soek nie, dit sal jou pad kruis.  Dis bestem vir jou.  Dit wag vir jou.  Maak jou hart en gemoed oop om dit met grasie te ontvang.

En moenie uitmis daarop omdat jy pessimisties is en dink dat niks goed nog ooit met jou gebeur het of ooit sal gebeur nie.  Pessimisme plaas nie net ‘n demper op jou drome nie, dit vermorsel dit. 

Net soos wat die Winter een of ander tyd moet plek maak vir Lente, net so moet jou swaarkry ook plek maak vir guns.  Elke probleem het ‘n vervaldatum en joune is op die punt om te verstryk.  In die plek daarvan is daar spesiale seëninge uit God se hand.

Tuesday 14 May 2019

Dieselfde Gees


Romeine 8 : 11  Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Hierdie is ‘n vers wat my laat regop sit.  As jy ooit minderwaardig gevoel het, dink net aan dit wat binne jou is.  Ek is nie sommer net 'n hierjy nie, ek het die Gees van God Almagtig binne my.  Kragtig!

Sodra jy God aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, kom maak die Heilige Gees homself tuis binne jou.  Dis reg, daardie selfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, is binne jou.  Dit is hoekom jy nooit weer dieselfde mens kan wees nie.  Daardie opstandingskrag is die krag en lewensvlam binne jou fisieke liggaam.  Kan jy dink wat dit met jou hoop en drome kan doen!  As dit jou as mens so kan verander dat jy self die verandering opmerk dink net wat dit nog kan doen.  Dit wat dood binne jou was, kan weer lewe.  Die ou mens het doodgegaan, kyk alles is nuut!

Met hierdie Gees binne jou, sou jy weer oorweldig voel deur siekte, uitdagings, probleme, struikelblokke.. herinner jouself weer aan Wie binne jou is.  As Hy kon voorkom dat die dood Jesus gevange hou dan kan Hy mos ook die kettings van verslawing, die bekommernis oor jou gesondheid, jou vrese vir die toekoms… enige iets wat jou terughou breek en jou bevry.  Staan op en verklaar in geloof:  “Vir wie die Seun vrygemaak het, is volkome vry.  Ek is vry, want Sy Gees is binne my.”

Monday 13 May 2019

Moenie bang wees nie


Lukas  12:5  Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees

Dit maak nie saak wat jy vandag in die gesig staar, moenie bang wees nie. God se liefde sal alles ten goede laat meewerk.  Die rede hoekom jy soveel teenkanting ervaar die afgelope tyd is omdat satan bekommerd raak oor wat God vir jou beplan.  Hy spesialiseer mos daarin om jou vrede te steel en te vernietig. 

As jy vandag ervaar dat jy wil versmoor onder uitdagings en probleme of dat jy deur verandering worstel terwyl jy wonder hoe jy ooit weer op vaste grond te staan gaan kom, neem so ‘n kort blaaskansie en kyk op.  Dis waar jou hulp vandaan gaan kom.  Geen mens, geen baas, geen politikus… niemand behalwe God is in beheer. Moenie toelaat dat negatiewe gedagtes of houdings you hart vul en jou anders wysmaak nie.  Hierdie presiese proses is besig om jou te versterk. Dit is die proses wat jou ontwikkel en laat groei.
 
Nou is juis die tyd om vas te glo en te sê:  “Ek sal nie toegee aan die angs wat my wil versmoor nie… ek sal nie bekommerd wees oor die verandering waardeur ek tans gaan nie… Ek sal nie toelaat dat probleme my onderkry nie.  Ek vertrou God volkome en daar is geen, maar geen rede tot kommer nie.  Ek sal nie toelaat dat vrees en onsekerheid my vreugde steel nie.

Hoe meer jy hierop mediteer en fokus, hoe meer sal jy geloof kies bo bekommernis.  Bekommernis bring jou nêrens… geloof dra jou tot aan die anderkant.

Sunday 12 May 2019

Die geveg is nie joune nie


1 Samuel  17:50  Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!

Dawid het ‘n reus verslaan met ‘n slingervel en 5 klippies om een rede… God was aan sy kant.

Het jy al ooit daaraan gedink dat God nie net aan jou kant is nie, maar ook jou Verdediger is?  Moenie ‘n geveg veg wat nie aan jou behoort nie.  Ons word tenagekom en onmiddellik bal ons die vuiste… gereed vir die geveg.  En nege uit tien kere kom ons die slegste daarvan af en wonder hoekom die lewe so onregverdig is.

Die stryd wat jy stry is nie joune nie.  Dit is God se stryd.  Hy is ‘n God van geregtigheid.  Hy sien wat aangaan.  Hy sien die onregverdigheid, mense wat jou eenkant toe skuif, of wat jou verraai.  Dit wat die sprinkane verniel het, sal twee keer soveel aan jou teruggegee word, sê die Skrif.

God gaan jou reputasie, jou eer herstel.  Hy sal die saak verder vat… dit uitsorteer.  Wanneer jy ‘n dubbel dosis moeilikheid kry, sal jy ook ‘n dubbel dosis guns ontvang.  So vergeet die leuens… vergeet wat mense van jou sê of aan jou doen.  Jy is nie ‘n mislukking nie… jy is nie in ‘n groef nie… jy is nie finansieel geruineer nie, jou siekte is nie ongeneeslik nie… Dit is nie hoe jou lewensverhaal eindig nie.

Die probleem is dat ons partykeer te gemaklik raak waar ons onsself bevind.  God wil nie hê dat jy op een plek bly nie.  Hy weet wat jou potensiaal is en dit kan nie tot volle wasdom kom as jy nie beweeg nie.  Beweging kan gesien word as oefening en ons almal weet hoe styf en seer jy kan wees na ‘n behoorlike oefensessie  Maar, soos hulle sê:  “No pain, no gain.”

Thursday 9 May 2019

Skielik


Jesaja 48 : 3  Ek het wat vroeër gebeur het, lank tevore reeds aangekondig, uit my mond is dit gehoor, Ek het dit bekend gemaak. Toe het Ek dit skielik laat gebeur.

Dit mag dalk wees dat jy dieselfde probleem in die gesig staar vir maande, selfs jare.  By die dag versleg jou omstandighede.  Dalk het jy net jou werk verloor, toe jou motor, nou jou huis… wat nog?  Daar is geen hoop, geen uitkoms, maak nie saak hoe hard jy bid nie. 
Weet vandag, jou situasie mag dalk hopeloos lyk, asof daar geen uitkoms is nie.  God kan egter alles binne ‘n oogwink verander.  En die goeie nuus is dat Hy dit jare der jare gelede alreeds beplan het.

Die Skrif verwys na ‘skielik’.  Skielik gebeur net, jy het geen idee wat op pad is nie.  Dit is buitengewoon en onverwags, maar boweal, nie klein nie.  Maak nie saal hoe lank jou stryd al duur nie… maak nie saak hoe groot en onmoontlik die probleem lyk nie… jy moet bly glo dat God vol verrassings is en in staat is om met een beweging  die verkeerde mense uit jou lewe te skuif en terselfdertyd die regte mense oor jou pad te bring.  Een aanraking van God se guns en jou lewe van die hand na die mond verander in ‘n lewe van meer as genoeg.
God se boodskap aan die volk was om gereed te maak en dis dieselfde boodskap vir jou.  Hy weet wat op pad is en dit gaan al jou verwagtinge oortref.  Jy gaan totaal en al stomgeslaan wees.  Moet dus nie verder mismoedig wees nie.  Begin om God te prys vir die wat op pad is.  Trek jou skouers terug, lig jou kop op en kyk die wêreld vierkantig in die oë soos dit ‘n oorwinnaar betaam, want God is besig om hierdie stryd namens jou te stry en Hy gaan nie as verloorder anderkant uitkom nie.

Kyk met blink oë na die toekoms, sien met verwagting uit na die volgende oomblik, want ’skielik’ gaan alles in plek val.




Wednesday 8 May 2019

Volhard


1 Johannes 5 : 14   En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra

Moenie ophou om in jouself te glo as gevolg van dit wat in die laaste tyd gebeur het of verkeer geloop het nie.  God het nog nie een oomblik opgehou om in jou te glo nie.
Kry weer jou selfvertroue terug en ook jou vertroue in God.  Hy luister altyd.  God het nie opgegee op jou nie.  Hy het nog planne wat Hy aan jou wil bekend maak.  In die proses is jy besig om die mens te word wat Hy jou bedoel het om te wees.  Moenie die proses probeer aanjaag nie. God se tydsberekening is altyd perfek en eendag kyk jy terug hierop en weet dat dit alles deel van Sy volmaakte plan was.

Wanneer God drome in jou hart plaas, sal daar altyd mense wees wat jou gaan probeer teegaan.  Hulle mag dalk jaloers wees of jou probeer slegmaak, maar steur jou nie aan hulle nie.  Moenie die aas neem nie.  Dis nie deel van God se plan vir jou nie.  Jou doelwit is te belangrik om jou deur kleinlike, jaloerse, mense te laat ontspoor.  Al wat jy moet doen is om God te vertrou in die seker wete dat Hy presies weet wat Hy doen.  God sal nooit iets van jou wegneem sonder om jou iets beter in die plek daarvan te gee nie.  Hy is in die besigheid van promosie.

Dit mag dalk nou glad nie vir jou lyk asof hier iets goed uit kan kom nie, maar as jy getrou bly en nie verbitterd word nie, nie toelaat dat teleurstelling en verlies jou lewe versuur nie, sal jy ‘n beter en sterker mens anderkant uitkom. 

God is besig om ‘n deur oop te maak wat niemand kan sluit nie.  Is jy gereed vir die volgende vlak?  Bonatuurlike seen en voorspoed is op jou drumpel.  Bid dat God jou die kalmte sal gee om die laaste paar tree te gee.  Volhard, jou deurbraak is te naby om op te gee.


Tuesday 7 May 2019

Onbeantwoorde vrae


Het jy ook onbeantwoorde vrae?  Jy soek antwoorde.  Jy verwag God moet jou antwoord, want dit is al hoe jy sal rus vind vir jou gemoed. 

Met my ma se skielike afsterwe het daar baie vrae ontstaan.  Sy het op ‘n onverklaarbare manier in ons swembad verdrink.  Vir ‘n lang tyd het ons die swembad vermy.  En ek het skuldig gevoel, want ek was immers die een wat ‘n huis met ‘n swembad gesoek het, maar dan ons het byna 12 jaar in die huis gewoon voor dit gebeur het.

My seun wou weet waar God was as hy in Psalm 91 sê dat jy nie eens jou voet sou stamp nie… Ek het nie ‘n antwoord vir hom gehad nie. 

Hoekom het dit gebeur?  Al was sy 80 jaar oud, was sy geseend met uitstekende gesondheid.  Niemand het haar dood verwag nie.  Hoekom het dit nie oor ‘n naweek gebeur nie, dan kon ons haar red?  Hoekom so ‘n dood vir iemand wat ‘saggies’ gelewe het, nooit iemand seergemaak of tenagekom het nie?  Sy kon nie swem nie, maar dit het haar nie gekeer om by ons op die swembad se rand te sit met haar voete in die water wanneer ons geswem het nie.  Hoekom, Here?

Dan lees ek Psalm 23:  Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Dalk was dit net ma se tyd en al verstaan ons nie hoekom nie, kan ons ten minste berusting vind in die wete dat Hy met haar was, selfs in daardie donker dieptes. 



Monday 6 May 2019

Ken jou vyand


2 Samuel 11 : 14 – 15  Die volgende oggend het Dawid 'n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur.  In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija 'n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.

Urija het uitgegaan om oorlog te maak.  Jy maak tog oorlog teen jou vyande of hoe?  Maar nee, Urija se vyand was nie die vyand teen wie hulle opgetrek het nie, maar diegene wie hy veronderstel was om te vertrou.

Dis belangrik om te verstaan dat Urija ‘n goed opgeleide en gedissiplineerde soldaat was.  Hy was een van Dawid se beste manskappe.  Geen soldaat kan egter ‘n oorlog op sy eie wen nie.  Hy het getroue kamerade nodig, mense op wie hy kan vertrou.  Hy was ‘n dapper sodaat, nie bang of sonder ervaring nie.  Sy enigste swakheid was dat hy op mense staatgemaak het wat hom uiteindelik sou verraai.

Kan jy die mense naaste aan jou vertrou of is daar ‘n verraaier onder hulle?  Dalk is die verraaier ‘n mede-kollega wat dit nie kan verdra dat jy suksesvol is nie.  Miskien is die verraaier ‘n familielid wat oor jou loop en stories verkondig.  Of dalk is die verraaier die persoon wat jy met jou hele lewe liefhet.

Wees bedag daarop dat nie almal jou ondersteun nie.  Daar is mense wat nie jou beste belange op die hart dra nie. 

En as jy die verraaier is… wees versigtig wie jy verraai.  As jy iemand verraai wat besig is om ‘n taak te verrig waarvoor God self die opdrag gegee het, gaan God dit nie ongestraf laat bly nie.

Of dit verraad is of sabbotasie, dit is onvergeeflik.  Laat ons liewer mekaar se beste ondersteuners wees en mekaar dra waar ons kan. 




Sunday 5 May 2019

Die Here is groot


Psalm 35 : 27  Maar dié wat wil hê ek moet vrygespreek word, laat hulle juig en bly wees, laat hulle altyd weer sê: “Die Here is groot. Hy sorg dat sy dienaar vrede het.”

God sorg vir jou en my.  Hy wil hê dat ons geseënd en voorspoedig moet wees.  Dit verskaf hom groot vreugde wanneer jy gelukkig is, vol vreugde en vrede, tot so ‘n mate dat ander wonder hoe jy dit regkry.  Eintlik moet dit so ooglopend wees dat dit as’t ware oorspoel in ander se lewens.

Ek wil jou aanmoedig om nie met gemiddeld, wat nog te sê te min, tevrede wees nie.  Jesus het gekom sodat jy lewe in oorvloed kan hê.  Dit beteken oorvloedige vreugde, oorvloedige vrede, uitstekende gesondheid, geen tekorte aan finansies, geen verhoudingsprobleme, ens, ens, ens… alles in oorvloed.

Dalk reken jy dit sal uitstekend wees, maar wanneer gebeur dit?  Tot dusver is alles redelik spartaans in jou lewe.  Dalk is dit omdat jy jou lot aanvaar het sonder dat jy dit besef.  

Begin besef dat dit nie is wat God vir jou beplan nie, maar besef ook dat jy iets anders sal moet begin doen as jy ander resultate verwag.  Begin sukses en vooruitgang visualiseer, bid daaroor, praat daaroor en neem die eerste tree. 

Besef vandag wie jy dien… ‘n groot en magtige God.


Thursday 2 May 2019

Hy ondersteun jou


Psalm 37 : 23  Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

In die arbeidsomgewing kom jy oor jare met vele verskillende persoonlikhede in aanraking. ‘It takes all kinds to make a world.’   Almal kan nie dromers wees nie, iemand moet die werk doen.  ‘n Maatskappy wat net uit werkers bestaan, gaan ook nie deug nie, want iemand moet besluite neem.  Net besluitnemers gaan ook nie deug nie, want jy benodig kreatiewe denke om jou kompetisie een stap voor te wees.  So daar is beslis ruimte, selfs ‘n noodsaaklikheid, vir verskillende persoonlikhede.

By sommiges leer jy elke dag iets en jy ontwikkel as mens.  Ander werk die heeltyd teen jou.  Met sommiges kom jy makliker oor die weg as ander.  Vele huwelike het ook al ontstaan tussen mense wat saam gewerk het.  Ook kosbare vriendskappe ontstaan in die werkplek.  Ongelukkig gebeur dit ook soms dat persoonlikhede bots. 

Ek het saam met iemand gewerk, wat ek vas geglo het ‘n psigopaat is.  Sy het my lewe hel gemaak.  Menige dae was ek in trane.  Daar het ‘n tyd gekom dat ek myself betrap dat ek Sondagaande begin verskonings uitdink om nie te gaan werk nie.  Wanneer ek met vakansie was, het ek die dag dat ek moes terugkeer werk toe, gevrees.  Ek het alles probeer om haar te verstaan of selfs haar guns te wen, maar die probleem was dat ek nie kon byhou met die buie nie.  Die een oomblik was sy vriendelik, toegeeflik, selfs soetsappig en die volgende oomblik kon ‘n teelepel wat verkeerd in die piering lê haar laat ontplof.  Vandag moet ek iets so doen en net môre wil sy weet hoekom ek dit so doen.  Ek was raadop.  Aan die een kant het ek geweet dat ek vir ‘n fantastiese maatskappy gewerk het met wonderlike voordele en dierbare ander kollegas en aan die anderkant het ek die inkomste nodig gehad.  Ek het haar begin wegwens tot op ‘n dag dat ek besef het daar is ‘n rede hoekom haar pad myne moes kruis.  Ek word getoets en ek doen nie baie goed nie.  Ek het hulp nodig gehad.  Van daardie dag af het ek vir haar begin bid.

So kom ek een oggend by die werk en voel aan daar is iets wat almal weet behalwe ek.  Die riemtelegram is ontsettend effektief onder kollegas en gou hoor ek dat sy verplaas is.  Ek moes myself keer om nie hardop ‘Yes!” te skree nie.

God het ingegryp.  Ons hoef ons nie te bekommer oor mense wat ons kniehalter in die lewe nie.  God weet presies wat aangaan en as ons getrou is, sal Hy vir die res sorg.  Hy weet wat moet gebeur om ‘n positiewe verandering in ons lewens te bewerkstellig. 

As jy jou ook in ‘n ongelukkige situasie by die werk bevind, moenie daarteen stry of baklei nie.  Neem dit na God toe.  Laat Hy doen wat Hy die beste doen.  Jy is nie alleen nie.  God is aan jou kant.

Terloops, ek moet erken dat ek ontsettend baie uit my tyd saam met hierdie kollega geleer het.  Al was dit nie maklik nie, het die tyd saam my toegerus vir ander, meer uitdagende posisies wat ek in die toekoms sou beklee.  Ek het ook geleer hoe om ander mense nie te behandel nie.

Wednesday 1 May 2019

Jy is uniek


Psalm 30 : 6  Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.

So dikwels dink ons dat God nie belangstel in ons klein probleempies nie… dat ons Hom nie onnodig moet pla nie… dat Hy net genader word wanneer daar regtig ernstige probleme is.  Niks kan verder verkeerd wees nie.  Jy is die heel belangrikste vir God… jy en alles wat deel van jou is… jou probleme, jou struikelblokke, jou onsekerhede, jou vrese, jou… alles.  Sy oog is op jou.  Net soos enige ouer, sal Hy jou dissiplineer, reghelp, ondersteun, troos, leiding gee… as jy Hom toelaat.

Droog af jou trane en sorg dat God eerste in elke aspek van jou lewe is.  Eer Hom en kyk hoe alles verander.  Meeste van ons is gekraakte kruike, maar met God se lig wat van binne jou skyn, sal jy uitstaan vir almal om te sien… jy sal daardie spesiale iets hê waarop niemand ‘n vinger kan lê nie.  Partykeer streef ons daarna om die beste te wees, maar om die beste te wees beteken net dat jy nommer een is.  Daarenteen, wanneer jy uniek is, is jy die enigste en dit is hoekom jy vir God so belangrik is.  Daar is niemand soos jy nie.  Hy het jou by die naam geroep.  Jy is uniek.

God het vir Moses gesê dat Hy met hom sal wees en vandag is die woorde ook vir jou bedoel.  Met God aan jou sy, kan jy nie verkeerdgaan nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...