Sunday 31 March 2019

Goedheid en guns


Weet jy wat besef ek?  As jy nie verwag dat jou drome sal waar word nie, dan sal dit nie… as jy nie verwag om los te breek van slegte gewoontes nie, dan sal jy nie… As jy nie glo dat die daar uitkoms is… dat dit nie is waar jy vir ewig sal bly nie, sal jy nooit die oorwinning smaak nie, want jy (en ek sluit myself hierby in) is besig om God te beperk. 

Daar is geen perke op wat God kan doen nie.  Daar is geen perk op wat Hy vir jou kan doen nie.  En wat meer is, Hy kan dit in en deur jou doen as jy net jou denkwyse verander.  

Begin glo dat jy geseend is, dat jy kosbaar is, dat jy meer as ‘n oorwinnaar is.  Jy is bestem om ‘n ‘legacy’ agter te laat.  Herinner jouself  elke minuut van die dag dat God oorwinning in stoor het vir jou, dat sy guns jou omring soos ‘n skild.  Hebreërs 13 : 5  God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Ook in Psalm 91 : 9 & 10 is daar vir jou ‘n belofte:  Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie.

Guns is nooit toevallig nie.  Neem die eerste tree daarheen.

Ek bid dat jou toekoms gevul sal wees met guns en onverwagte seëninge en dat Sy goedheid en guns jou sal volg al die dae van jou lewe.

Thursday 28 March 2019

Die Pottebakker


Jeremia 18:6  Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here

Die pottebakker maak items wat gebruik kan word.  Elke item begin as ‘n bondel onooglike klei wat in die rondte tol.  Soms is die pottebakker nie tevrede met die produk nie en dan word daar van vooraf begin. 

Vandag haal God jou van die pottebakker se wiel af.  Hy het jou geknie en gevorm tot op hierdie punt waar jy ‘n pragtige produk is waarop Hy met trots Sy oë lê. Jy is presies wat Hy in gedagte gehad het… jy is presies wat Hy nodig het… ‘n perfekte instrument.

Die pottebakker mag dalk soms oorbegin, selfs die klei eenkant toe gooi en vars klei probeer, selfs ‘n ander item begin maak, maar God hou aan vorm en weet presies wat Hy in gedagte het reg van die eerste oomblik af.  God het nooit ‘n Plan B nie. 

Die vyand, wat gesê het dat jy nie ‘bruikbaar’ is nie, het gelieg… hy dink jy is beskadigde goedere, ‘n reject, maar nie God nie.  Jy sien mense spreek nie deur middel van die Heilige Gees nie, net God.  Mense mag jou dalk terughou en eenkant toe stoot, maar God het ander standaarde.  Sy dissipels was meesal gewone mense, maar magtige instrumente in Sy hand eerstens omdat hul saam met Jesus gewandel het en tweedens omdat Hy Sy Gees vir hul nagelaat het.

Sê vandag:  “Mense se onverdraagsaamheid sal my nie beperk nie, want ek is geskep deur die Meester Pottebakker.  Ek is uniek, spesiaal en kosbaar.  Net God oordeel oor my.”

Stof jouself af, tel jou kop op en stap voort in vreugdevolle afwagting, want God se genade is elke dag nuut.




Wednesday 27 March 2019

By God is alles moontlik


Genesis 18:14 Is iets te buitengewoon vir die Here

Vertrou jy God vandag vir iets spesifiek?  Ek wil jou aanmoedig… hou aan glo, moenie hoop verloor nie… moenie mismoedig word nie… hou aan om God aan te roep.  Hy beloon altyd getrouheid.

Weier om toe te gee aan gedagtes wat jou ontmoedig.  Die oomblik wat jy begin twyfel is die deur op ‘n skrefie vir satan oop om in te glip en amok te saai.  Johannes 14 : 27   Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.  Moenie gister se probleme toelaat om jou te weerhou van vandag se beloftes nie.  Raak ontslae van daardie toksiese gedagtes.  Net omdat dit nog nie gebeur het nie, beteken nie dat dit nie enige oomblik kan gebeur nie.  Om die waarheid te sê, prys God vir elke stryd wat jy deurgaan, want dis sulke tye dat die tafel met seëninge gedek word vir jou.

Geen droom wat ons droom is te groot vir God nie.  Geen struikelblok is onoorkombaar.  Daar is nie ‘n probleem wat ek of jy teekom wat God laat kopkrap nie.  Hy is altyd in beheer en ons ligjare vooruit.

Ek glo dat God op misterieuse maniere in jou lewe sal ingryp… op maniere wat jy nie eens sal verstaan nie.  Wat God vir jou in stoor het, sal mense verstom laat staan en ‘n getuienis word wat ander sal bemoedig.

Iemand het onlangs ‘n pragtige aanhaling gedeel.  "‘n God wat groot genoeg is vir jou begrip, is nie groot genoeg vir jou oplossings nie."  Dit is so waar.  Sy paaie is nie ons s’n nie, Sy weë nie ons s’n nie, Sy tyd nie ons s’n nie, maar dit is altyd perfek.

Tuesday 26 March 2019

Bekommernis


Matteus 6:27  Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?

Bekommernis gaan net mooi niks aan jou situasie verander nie.  Dit gaan jou wel mismoedig maak en grys voor jou tyd, met dalk nog ‘n maagseer of senu ineenstorting as bonus. Geloof en vertroue in God sal wel ‘n verskil maak. 

Bekommernis ontstaan baie keer omdat ons aan môre en die dag daarna dink en dan begin ons keel toetrek.  Ons moet eerder op vandag fokus.  Gister is verby en môre is nog ‘n dagbreek ver.  Ons moet dit een dag op ‘n slag, een oomblik op ‘n slag neem anders mis ons die geskenk wat vandag is (the present). 

Soveel keer gebeur dit waaroor ons nagte lank wakker lê in elk geval nooit.  Ons vergeet ook dat God reeds daar is.  Hy het alreeds die wiele aan die rol gesit vir ‘n wonderwerk – dis dalk juis hoekom dit wat ons vrees dikwels nooit gebeur nie.  God het die pad gelyk gemaak.  Hy het alreeds die regte mense opgelyn, Hy het alreeds ‘n deurbraak bewerkstellig, Hy het alreeds in die regte mense se harte begin werk… 

Wees dus rustig en weet dat God aan jou kant is.  Hy is tot veel meer in staat as wat ek en jy kan doen of dink. 

Monday 25 March 2019

Wanneer gaan jy hoor?


Hebreërs 3 : 15  Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

Is jy al gevra om iets vir God te doen, maar jy het geweier?  Jy sien, partykeer herken jy dit as iets wat jy vir God moet doen en ander kere is dit nie so duidelik dat Hy jou nodig het nie.  Wel, eintlik het God niemand nodig nie… Hy kan dinge maak gebeur sonder om ‘n vinger te roer, maar soms wil Hy ons ‘n kans gee.

Miskien het iemand met kaartjies by jou deur kom klop en jy’t hul weggejaag?  Jy sien die bedelaar elke dag by die robot en jy voel jy moet iets gee, maar dan dink jy weer, nee wat hy kan gaan werk, soos ek.  Of die kerk het jou gevra om diaken, suster, ouderling te wees… dalk ‘n selgroep te lei…  Die radiostasie hou alweer ‘n fondsinsameling en jy skakel liewer uit… Iemand skakel jou en vra jou hulp of raad en jy maak verskonings…

Maar dan hoor jy daardie stemmetjie…Dis nie noodwendig ‘n stem wat jy hoor nie, eerder ‘n gevoel, ‘n wete, ‘n ongemaklikheid… iets wat jy nie kan verduidelik nie, maar jy weet dat jy weet.  Dit maak nie altyd sin nie, maar dis asof jy hoor… “Jy moes dit gedoen het.  Draai om, gaan terug…”

Liewe mens, moenie die stem van die Heilige Gees ignoreer of jou hart teen Hom verhard nie.  Luister en reageer. 



Sunday 24 March 2019

God kan!


Genesis 18 : 14  Is iets te buitengewoon vir die Here?

Het jy al ervaar dat dit uit die blou lug reën sonder dat daar ‘n enkele wolkie in sig is?  Onmoontlik?  Te buitengewoon?  Hoegenaamd nie. Ons praat in sulke gevalle van Jakkals trou met wolf se vrou.

Ek glo dat God juis so iets laat gebeur sodat ek en jy kan besef as Hy reën kan stuur sonder ‘n wolkie in sig, kan Hy enige iets doen.  Net so kan Hy genees al sê die dokter jy het net ‘n paar maande oor, Hy kan uitkoms bring al lyk die situasie hoe onmoontlik.  Hy kan, want Hy is God.  Hy het nie ‘n bank of die bankbestuurder nodig om jou finansiële krisis op te los nie.  Hy het nie nodig om met jou baas te gesels om jou te bevorder nie… dit sal net gebeur… Goddelike ingryping!

Ons dien ‘n God vir wie niks te buitengewoon is nie. Hy kan ‘n weg maak waar daar geen weg is nie.  Hy laat kwartels en manna uit die lug val… Hy laat ‘n volk jare lank deur ‘n woestyn trek sonder dat hul klere of skoene verslete raak… so wat dink jy is daar in jou lewe wat Hy nie kan doen nie?  Niks... 


Thursday 21 March 2019

Diep waters


Spreuke 20 : 5  'n Oorwoë mening is diep waters; 'n verstandige mens skep daaruit.  “The purposes of a person’s heart are deep waters, but one who has insight draws them out.”

Moeilik om te glo, maar jy is toegerus met alles wat jy nodig het om jou passie en doel in die lewe te bereik.  Jy sien, dis alles binne jou. 

Net soos wat ‘n mens diep moet duik in diep waters, moet jy soms diep delf binne jou, maar dit is daar.  Ons glo te maklik wat die vyand sê:  “Jy kan nie… dit sal nooit gebeur nie… Wie, jy?”  En te moeilik wat God sê.

As jy jouself oopstel en nederig bly voor God sal jy met gemak daar uitkom.  Baie van hierdie dinge ontdek jy wanneer jy tyd in Sy Woord spandeer.  Dis waar jy wysheid vind en geduld leer. 

Ek dink ons leef te oppervlakkig.  Ons bereik nooit ons volle potensiaal nie en mis uit op ons ‘destiny’.  Begin om doelbewus te leef en glo dat God jou ten volle toegerus het.  Op jou knieë, met ‘n oop gemoed en hart, in absolute gehoorsaamheid, sal Sy doel vir jou lewe duidelik word. Dis wanneer Sy rigting vir jou geopenbaar word en ontvou sodat jy met vertroue daardie besluit kan neem en deurvoer waaroor jy nou al so lank bid.


Tuesday 19 March 2019

Hoe leer jy?


Sagaria 7 : 11 Maar die volk het geweier om daarop ag te slaan, hulle was moedswillig, hulle het hulle doof gehou,

Keer op keer gee God die volk nog ‘n kans en keer op keer val hul terug.  Ek weet ons kan God nie met ‘n mens vergelyk nie, maar dit moes nogal dreinerend gewees het.  Ervaar jy dalk dieselfde met iemand na aan jou?  Net soos jy dink hulle het uiteindelik die lig gesien en is nou op die regte pad, val hul weer terug.

Soms moet ons aanvaar dat iemand nog nie gereed is om te verander nie. 

Sulke mense praat graag, maar dis einlik net leë woorde.  Om te sê jy gaan verander, maar om dit te doen en vol te hou, dis heeltemal ‘n ander saak.  Soos Jakobus sê, word ‘n dader van die woord.  As jy dit net hoor, bedrieg jy jouself (Jakobus 1 : 22) 

Dit kan ook gebeur dat hulle by jou wil weet wie jy nou eintlik is om hulle te probeer reghelp.  Eintlik impliseer hul dat jy nie gekwalifiseer of toegerus is vir die taak nie.  Jesus is ook deur die mense verwerp en eintlik was Hy al wat hul nodig gehad het.  Ek het twee dinge geleer.  God doesn’t look at your ability, but at your availability en tweedens God doesn’t call qualified people, He qualifies those he called.  Dit is nie dat jy hulle nie kan help nie, dit is hulle wat nog nie gereed is om gehelp te word nie. 

Die laaste groep is mense wat opkyk na jou, jou selfs beny, maar dit nie wil erken nie.  Hulle wil op jou vlak kom en dieselfde verhouding met God hê, maar hulle wil nie reggehelp word nie.  Hulle is hardkoppig en sal hul vingers pikswart verbrand, maar nie hulp of leiding aanvaar nie.  Dalk sal hul soos Dawid een of ander tyd erken Psalm 19 : 71 Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

Monday 18 March 2019

Lewe of dood?


Jeremia 32 : 33  Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesigte nie. Ek het hulle vroeg en laat geleer om goed te luister, maar hulle wou nie hoor nie, hulle wou nie uit straf leer nie.

God is moeg gepraat… Hy praat mooi, probeer hulle leer, straf hul selfs, maar hulle leer eenvoudig nie.  Dis hoekom Hy die stad in die mag van die Galdeërs gee.

Soms raak ouers net so gefrustreerd met kinders.  As ouer doen jy jou bes.  Jy stel ‘n voorbeeld, jy sê pertinent wat is toelaatbaar en wat is nie toelaatbaar nie, jy help reg, sien oor en help weer reg.  Frustrasie en magteloosheid raak deel van jou daaglikse bestaan.  Dis gevoelens waarmee ‘n ouer met ‘n dwelmverslaafde kind goed kan identifiseer en so ook ouers wie se kinders met verkeerde mense bevriend is.

Daar kom ‘n tyd dat jy besef dat iemand nie gehelp kan word nie, altans nie op daardie tydstip nie.  Dit is wanneer iemand aanhoudend verskonings maak.  Jy kan nie iemand help as hulle nie gehelp wil word of nog erger nie die verlossings volgens die Skrif wil toepas nie.  As hulle nie glo dat God hul kan help nie, watter kans staan jy?  

Jy kan ook nie iemand help wat in die verkeerde sirkels beweeg nie.  1 Korintiërs 15 : 33  is duidelik Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”  Jy word aan jou vriende geken en hul invloed kan positief of negatief wees.  So as jy nie losbreek nie, kan jy afgetrek word saam met hulle.  Hulle dra beslis nie jou beste belange op die hart nie. 

As iemand dus nie wil losbreek of verander nie, kan jy net aanhou om vir hulle te bid.  Jy sal jou tyd mors om hul te probeer help.  Help liewer diegene wat gehelp wil word… diegene wat lewe bo dood gekies het.  Deuteronomium 30 :  19 Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

Om gehelp te word, is ‘n keuse… ‘n keuse tussen lewe en dood.

Sunday 17 March 2019

Jesus het alles verander


Hebreërs 10 : 20  Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.

Volgens die Ou Testament is daar meer as 600 godsdienstige wette om te onderhou.  Dit was dus nie moeilik om iewers deur jou dag van hierdie wette te verbreek nie.  Sou jy die wet oortree moes jy ‘n offer bring.  Die arme mense het heelwaarskynlik meer diere geoffer as wat hul geëeet het.

Met soveel kans om te misluk, is dit vanselfsprekend dat mense soos mislukkings gevoel het… asof hul eenvoudig niks reg kan doen nie.  Oortree, offer, weer probeer… dit het ‘n bose kringloop geword.

En toe kom Jesus!  Hy baan ‘n nuwe weg vir ons sodat ons ‘n verhouding met God kan hê.  Skielik is daar vergifnis sonder die nodigheid vir offers, as jy in Hom glo.  Dit was amper te goed om waar te wees.  Daarom hou baie mense aan om te probeer om God te beindruk… om Sy guns te probeer wen.  Is dit dalk jy?  Werk jy hard vir hom?  Streef jy daarna om wette te gehoorsaam omdat jy bang is jy kan God teleurstel?  Dis ‘n byna onmoontlike taak en dit kan jou vrede en vreugde steel. 

Partykeer is mense so besig om dinge vir Hom te doen omdat hulle dink dat hulle moet werk om gered te word.  Inderwaarheid moet jy werk omdat jy gered is.  Jou verlossing hang nie af van dit wat jy doen nie, maar van dit wat Jesus reeds gedoen het. 



Thursday 14 March 2019

God wys die pad


Jesaja 30 : 21  Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”

Die ander wonderbaarlike ding wat gebeur wanneer jy ‘n noue verhouding met God het, is dat Hy jou voetstappe rig.  Dit is asof jy ‘n geestelike intuisie ontwikkel.

Johannes stel dit so mooi:  Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid. (1 Johannes 2 : 20).  Ons moet leer om hierdie salwing te vertrou.  Soms is daar iets binne ons wat ons aanpor om iets te doen, maar ons hou onsself doof vir die stemmetjie.  Dis God wat met jou praat.  Dalk is jy so gewoond om te hoor dat jy nie goed genoeg is nie of dat jy self glo jy kan dit nie doen nie.  Baie keer is dit net onsself wat in ons eie pad staan.  Ons beperk God en ons beperk onsself.  Vertrou die stem en vertrou God.  As Hy die gedagte in jou geplant het, sal Hy dit laat ontkiem en vrug dra.

Ons glo so maklik mense, mense wat nie altyd ons beste belange op die hart dra nie, maar ons twyfel aan God wie volgens Jeremia 29 net goeie planne vir ons het.  Besef vandag dat God aan jou kant is en dat Hy vooruit stap en vir jou ‘n pad maak.  Filippense 2 : 13  want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Dus, as jou geestelike intuisie jou aanpor, en jy’t die saak met God uitgeklaar, beweeg.



Wednesday 13 March 2019

Vernuwing


Romeine 12 : 2  Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Wanneer jy tot bekering kom, besef jy dat daar baie verandering in jou lewe sal moet plaasvind.  Om die waarheid te sê, selfs al is jy alreeds lank gelowig, besef jy gereeld dat daar areas in jou lewe is wat vernuwing daadwerklik benodig.

Dan maak ons voornemens.  Nou ja, ons almal weet wat word van Nuwejaarsvoornemens.  Geen menslike inspanning, skuldgevoelens, selfhaat… selfs nie eens die besef van sonde kan vernuwing bewerkstellig nie.  Ons het God nodig om daardie vernuwing / verandering te kataliseer. 

Dis maklik om die trop te volg.  Jy loop net agter hul aan.  Al is jy nie ‘n skaap nie, as jy maak soos ‘n skaap en optree soos ‘n skaap, gaan die ander skape jou aanvaar as een van hulle. Die feit dat almal vloek, drink, hulself veryk, egbreuk pleeg, maak dit nie reg nie.  Wanneer God ons denke vernuwe val die skille van ons oë en kan ons onderskei tusen reg en verkeerd.  Reg vind guns in Sy oë, verkeerd bedroef Hom.

Wanneer jy God aanneem as jou Verlosser en Saligmaker en glo in die Woord, begin jy geleidelik verander.  Dit verg geen inspanning nie.  Op ‘n dag sal jy net besef dat daar iets anders omtrent jou is.  Wees net geduldig… dis ‘n transformasieproses met sy eie tydlyn.

Tuesday 12 March 2019

Klas / status


3 Johannes vers 12:  Van Demetrius getuig almal net wat goed is, en ook die waarheid bevestig dit. Ons getuig dit ook, en jy weet dat ons getuienis waar is.

Wanneer ‘n huldeblyk by ‘n begrafnis gelees word, word daar net mooi dinge oor die oorledene gesê. Ja, ek weet dit is dikwels uit respek en glo ook dat as jy nie iets mooi kan sê jy liewer niks moet sê nie.  Dit het my egter laat dink oor die huldeblyk wat eendag op my begrafnis gelees sal word.

Nee, nie dit wat my man, kinders of vriende van my sê nie, maar wat God van my sou sê as Hy daardie huldeblyk moes skryf.  Ek kry sommer koue rillings, want ek is ver van perfek.  Sal beslis my sokkies moet optrek en ‘n paar veranderinge moet aanbring.  Hoe sal jy vaar?  Jy sien, ons kan ons beste voetjie voorsit en almal ‘n rat voor die oë draai oor wie ons eintlik is, maar ons kan God nie ‘fool’ nie.

Paulus sê vir Timoteus:  maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. (2 Timoteus 4 : 12 – 13)

Wanneer mense goed van jou praat beteken dit dat jy gewild is en aanvaar word.  As mense egter die waarheid van jou praat, beteken dit dat jy klas (status) het.  Demetrius het klas gehad.  ‘n Titel  gee jou nie klas (status) nie.  Hoe jy mense behandel is ‘n duidelike teken van jou klas/status.  

Leo Buschalia het gesê:  "If you don't like people, at least be kind to them."

Monday 11 March 2019

Optelgoed is nie hougoed nie


Eksodus 20 : 15  “Jy mag nie steel nie.

So ‘n rukkie gelede moet ek en my man een aand na werk na ‘n plaaslike winkelsentrum gaan om ‘n probleem met sy selfoon uit te sorteer.

Net toe hy in ‘n parkeerruimte wil indraai, sien hy ‘n beursie op die grond lê.  Ons tel dit op en gaan na die sentrum se informasie toonbank waar ons rapporteer dat ons ‘n beursie opgetel het.  Die dametjie stel voor dat ons die beursie hou, maar dat sy ons kontaknommer neem sodat die eienaar ons kan kontak, sou hul navraag doen.  Ons het reeds gesien die beursie behoort aan ‘n student omdat daar ‘n ID boekie en studentekaart binne was, sowel as bankkaarte en kontant.

Tuisgekom stel my seun voor dat ons die persoon op facebook opspoor omdat haar naam op ‘n baie unieke manier gespel word.  Ons vind haar en maak gebruik van die ‘message’ opsie om haar te vra of sy ‘n beursie verloor het.  Binne oomblikke kontak sy ons.  Sy is so dankbaar dat daar nog eerlike mense is wat ‘n beursie optel en nie vir hulself hou nie. 

Ek dog dit is wat verwag word van ons.  Sou ons die beursie hou, kom dit neer op diefstal.  Dit is lynreg in teenstelling met God se wette.  Nie ek of my man het vir een oomblik daaraan gedink om die beursie te hou nie.

Sy het haar beursie kom afhaal en kon ons nie genoeg bedank nie.  Dit gaan nie altyd oor die kontant nie, maar oor die ongerief en onkoste om nuwe kaarte en dokumente te bekom.

Ongelukkig is nie almal ewe eerlik nie.  Sowat twee jaar gelede het ek een oggend in verkeer gesit en besluit toe om handeroom aan te wend.  Ek haal my ringe af en sit dit op my skoot.  Eers later die dag sou ek agterkom dat ek nie meer my ringe aanhet nie.  Dit moes van my skoot afgeval het toe ek uit die motor geklim het in ‘n parkeerarea.  Alhoewel ek teruggegaan het en selfs notas opgesit het vir ‘n beloning, ook facebook gebruik het, het niemand my gekontak oor my twee verlore ringe nie.  Dis net wêreldsgoed, maar dit het sentimentele waarde gehad.  Ek het nooit die ringe laat spesifiseer op my versekring nie, dus kon ek dit ook nie eis nie.  

Dit is eenvoudig... as dit nie aan jou behoort nie, moet dit nie hou nie.  Optelgoed is nie hougoed nie.

Sunday 10 March 2019

Integriteit


2 Korintiërs 8 : 21  Ons is daarop gesteld om korrek op te tree, nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense.

Integriteit is ‘n skaars kommoditeit.  Noem my sinies, maar ek glo mense se optrede hang af van wie voor hulle staan. 

Wie van ons kan eerlik sê dat ons gedrag in die kerk voor die dominee presies dieselfde is as wanneer ons met die kassiere in die supermark, die bankklerk, die man wat die dromme skoonmaak te doen kry?  

Van kleins af leer ons dat goeie gedrag beloning inhou.  As daar dus vir ons ‘n vorm van beloning is, tree ons heelwat anders op as wanneer ons op die punt staan om iets te verloor.

Deesdae is betogings aan die orde van die dag en dit raak meer gewelddadig by die minuut.  Gesels jy met mense daaroor, veroordeel almal deur die bank dit.  Nou waar kom die betogers dan vandaan?  Is dit dieselfde mense wat saampraat oor hoe verkeerd vernielsugtigheid is?  Ek glo nie vir een oomblik dat dit net ongelowiges is wat betoog nie?  Of dalk is dit, want as jy ‘n Christen is, sal jy beslis nie so optree as jy Romeine 12 : 10 lees nie:  Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.

In die koerant lees ek van ‘n 21 jarige student wat vullis optel wat betogende studente op die kampus van die Universiteit Vrystaat strooi.  Terwyl hy besig is om op te tel is 2 dames(?) besig om die vullis weer uit te gooi.  Hy sê hy het net sy kop afgehou en aangehou optel omdat hy ‘n verskil wil maak en glo dat dit by hom begin.  Integriteit!  Daarenteen wonder ek oor die studente se optrede wat lelike opmerkings in Sotho gemaak het en gelag het terwyl hul kamerade die vullis uitgooi.  Wie betoon broederliefde, eerbied en is ‘n voorbeeld?  Terloops daar was niemand in sig op wie hierdie jong man ‘n indruk kon maak nie, maar die studente wat dit as grap gesien het, het dit op sosiale media gaan plaas en nou word hierdie jongman oral geloof vir sy voorbeeld.

Integriteit kan maklik getoets word.  Al wat jy moet doen is om jouself af te vra:  “Hoe deursigtig is ek vir ander?”  Hoe tree ek op wanneer niemand my kan sien nie, byvoorbeeld wanneer jy met die oproepsentrum se agent praat?  Het jy mense lief en gebruik dinge, of het jy dinge lief en gebruik mense?  Is jy bereid om moeilike besluite te maak soos byvoorbeeld om nie die geld wat jy opgetel het te hou nie, maar die eienaar te soek.  As jy ‘n mening oor iemand het, deel jy dit met hul in privaatheid of verkondig jy dit aan almal behalwe hulle? 

Daar is nog baie ander vrae, maar dalk is dit genoeg om jou vir eers mee besig te hou.Ons kan almal werk aan hierdie belangrike waarde wat die basis vorm vir soveel ander fasette van menswees.

Thursday 7 March 2019

Jy is in beheer


Job 22 : 28  Wat jy besluit, sal uitgevoer word, dit sal voorspoedig gaan met jou.

Het jy al ooit aan die krag gedink van die stelling:  “Ek is.”?  Jy sien, wat op hierdie twee woordjies volg bepaal die verloop van jou lewe.  Ek is geseënd… Ek is sterk en gesond… of Ek is dom… Ek is onnosel…  Kan jy sien hoe dit wat op “ek is” volg die verloop van jou lewe kan bepaal?  Dit kan uitloop op sukses of mislukking. 

Die beginsel is eenvoudig.  Regdeur elke dag stel die “ek is” vir jou voor ‘n keuse.  Gaan jou stelling positief of negatief wees?  Moenie die negatiewe “ek isse” oor jou lewe spreek nie.  Jy kan nie teen jouself wees nie, daar is genoeg mense wat jou ‘n harde tyd kan of gaan gee.

Wanneer jy deur die dag gaan en sê:  “Ek is geseënd”, kan jy maar weet seëninge is op pad.  Sou jy sê:  “Ek is talentvol” sal jy ‘n nuwe talent ontdek, ens, ens, ens.  Jy nooi as’t ware voorspoed in jou lewe in. 

Staan soggens op en maak ‘n daadwerklike besluit om positiewe insprake in jou eie lewe in te spreek.  Maak altyd seker dat God se waarheid die “Ek is” stellings volg.  Hy glo in jou.  Hy glo jy is spesiaal en uniek en tot alles in staat omdat Hy self daardie kragte vir jou gee.




Wednesday 6 March 2019

Wees net regverdig!


Johannes 7 : 24  Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”

Dit neem enkele sekondes vir mense om ‘n opinie van jou te vorm die oomblik wat hul jou die eerste keer ontmoet. 

Dalk besef jy nie eens hoeveel keer jy na iemand gekyk het en binne sekondes besluit het of jy van hulle hou of nie.  Nou as jy goed lyk het jy niks om oor bekommerd te wees nie, maar as jy nie so vol selfvertroue is nie, mag jy dalk uiters senuweeagtig raak as jy hiervan hoor.  Hier’s die goeie nuus:  1 Samuel 16:7  Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

Voor jy nou op jou agtervoete kom en sê dat jy nie God is en nie in mense se harte kan sien nie… Toegegee ja, maar ons kan elkeen iemand ‘n kans gee en nie sommer net afskryf omdat hul op die oog af nie aan ons standaarde voldoen nie.  Ons takseer mense so maklik op hul baadjies.  As jy suksesvol lyk, dan het jy reeds ‘n redelike hoë aansien in meeste mense se oë. 

God moedig ons juis aan om die ‘geringes’ nie eenkant toe te stoot nie. Hy reken juis dat sodra jy iets vir hierdie geringes doen, dit is asof jy dit vir Hom doen.  As ons dus as onbelangrik klassifiseer by die eerste oogopslag is dit asof ons God onbelangrik ag.  Hy het daardie mens ook geskape.  Net omdat daardie persoon nie in staat blyk te wees om vir jou iets te beteken, beteken nie dat hy/sy nie in God se oë belangrik is nie.

Kom ons wees net ‘n slag regverdig en soek die mooi in mense alvorens ons hul oordeel.  As ons ‘n bietjie tyd neem, sal ons agterkom dat ons selfs iets in gemeen met daardie persoon het.  En dink net wat God deur daardie persoon kan laat gebeur!


Tuesday 5 March 2019

Onwaarskynlik


Jesaja 55 : 8  My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;

Onlangs wen een persoon die grootste bedrag ooit met die Lotto.  R232 miljoen.  Die wenner is 55 jaar oud en het baie jare van die hand na die mond geleef.  Hy het altyd op God vertrou om te voorsien en is dankbaar dat hy nou sy belofte aan sy kinders kan nakom om vir hul goeie geleerdheid en ‘n dak oor hul koppe kan gee.

Voor jy my kruisig oor die Lotto… of dobbel sonde is al dan nie… kom ons raak so ‘n bietjie rustig.

Ons het almal drome en doelwitte.  Meeste mense doen hul beste om hul geloof te strek en te glo dat hul eendag daardie drome gaan bewaarheid… sou hul die regte mense ontmoet of die regte ‘breaks’ kry.  In ons koppe sal die oomblik 'groot' wees.  Dan sou ons arriveer.  Hier is ‘n openbaring… Wat ons dink groot is, is nie groot vir God nie.  Hy het die heelal geskep.  Hy het net gepraat en die skepping het gebeur. 

Ek glo die Lotto wenner het net gehoop om genoeg te hê.  Vandag het hy meer as wat hy seker in sy leeftyd sal kan uitleef.  Ek dink nie hy het enige idee hoeveel geld hy gewen het nie. 

As God ‘n prostituut kan gebruik om Josua en sy manne weg te steek kan Hy seker die Lotto gebruik om iemand se droom te bewaarheid.  Ek glo in God se voorsiening en daarom speel ek nie die Lotto nie, maar ek glo dat God soms op onwaarskynlike maniere te werk gaan.  ‘n Maagd word swanger, ‘n skaapwagter word koning, ‘n walvis sluk vir Jona in… soos Hy sê… Sy gedagtes en optrede is nie ons s’n nie.

Monday 4 March 2019

Weet dat jy weet


Johannes 9 : 25  Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

Jesus sien ‘n man wat blind gebore is.  So dikwels wonder ons, soos die dissipels of ons siekte is as gevolg van sonde wat ons of ons voorvaders gepleeg het, wat nou as straf manifesteer in ons lewens.  Jesus antwoord egter:  “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”

Jesus genees die blinde man deur op die grond te spoeg en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë.

In plaas daarvan dat die gelowige skare in verwondering is, begin hul argumenteer hoekom die man genees is, hoe hy geheel is en wie geblameer moet word omdat hy in die eerste plek blind was.   Hulle begin die arme man peper met vrae en dit is toe dat die eens blinde die woorde in vandag se teks uiter.

Vir hom was dit eenvoudig, mense kan daaroor argumenteer en dit bevraagteken, maar al wat hy weet is dat hy uiteindelik kan sien. 

Daar mag dalk ook mense in jou lewe wees wat nie die guns wat op jou lewe rus goedmoeds aanvaar nie.  Hulle bevraagteken jou vooruitstrewendheid en geluk.  Hulle glo nie dat God wil hê dat Sy kinders ook suksesvol mag of kan wees nie. 

Soms kan ons nie verduidelik hoekom dinge met ons gebeur nie.  Ons glo slegte dinge is van die bose en goeie dinge is van God. 

Dit is egter nie vir ons om te verstaan nie.  Ons moet Hom net vertrou.  Hy is betrokke en het net goeie planne vir ons en hy kan vandag nog wonderwerke laat gebeur.  As Hy ‘n blinde kan laat sien, kan Hy jou krisis omdraai om ook eendag ‘n getuienis tot Sy eer te word.



Sunday 3 March 2019

Goedheid, draagsaamheid en geduld


Romeine 2 : 4  God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?

Het jy al iemand vermy omdat jy hulle eenvoudig nie in die oë kan kyk a.g.v. wat jy gesê of gedoen het nie? 

Soms demonstreer ons dieselfde houding teenoor God.  Ons weet ons was verkeerd en nou vermy ons Hom, nie dat dit moontlik is nie, maar ons bid nie meer nie, ons gaan nie kerk toe nie, want ons voel skuldig.  Selfs Adam en Eva het probeer wegkruip.  Dis meesal omdat ons reken dat God soos ons is wat kwaad is vir iemand as hul iets verkeerd gedoen het.  En omdat ons mense straf wat gefouteer het, hou ons asem op vir die straf wat op pad is.

Omdat ons soos mense dink, reflekteer ons meesal menslike gedrag en optredes op God, maar dit is nie hoe Hy is nie.  Sy liefde is te groot vir jou.  Jy is te spesiaal vir Hom.  Hy kan eenvoudig nie vir jou kwaad wees nie.  As Hy ‘n God was wat met ‘n stok gereed gestaan het om elke verkeerde beweging te straf, sou niemand ooit tot bekering gekom het nie.  Hy is liefde en Sy liefde strek verder as enige sonde.  God verwerp jou nooit as gevolg van jou dade nie.  Om die waarheid te sê, Hy verwerp niemand wat na Hom toe kom nie.  En onthou, die prys vir ons sondes is reeds betaal aan die kruis van Golgota deur Jesus Christus.

So moenie langer wegkruip nie.  Sy genade en vergifnis is genoeg vir jou.  Moenie dat vrees vir verwerping jou terughou nie.  Sy belofe dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie, staan steeds. 



Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...