Sunday 30 June 2019

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waar ons almal ons batterye moet herlaai.  Vir tyd en wyl gaan ek nie gereeld dagstukkies publiseer nie.

Hoop jy gun my die blaaskansie.  God is besig met groot dinge in my lewe en Hy gaan my op 'n splinternuwe manier gebruik.  Ek wil dit 100% van my tyd bied, veral aan die begin.

Dit is dus nie vaarwel nie, maar net tot siens. 

Moet nooit ophou om op God te vertrou nie.  Hy is groot, Almagtig en regtig in staat om ons te gee die begeertes van ons hart.

Thursday 27 June 2019

Eensgesindheid


Psalm 133 : 1  Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!

Eensgesindheid in ons land is seker my grootste droom / wens.  Ek droom van ‘n leier wat ons gaan verenig en nie verdeel nie.  Ons is so ingestel op mekaar se verskille dat ons nie eens agterkom hoeveel ooreenkomste daar is nie.

Die oomblik wanneer jy iemand op ‘n dieper vlak leer ken, besef jy dat ons eintlik almal dieselfde is.  Daar is basiese behoeftes wat ons almal het. 

Ek glo dat satan besig is met ‘n uitstekende strategie.  Hy weet baie goed dat hy ons moet verdeel om te oorwin.  Hy ken die krag, sinergie en seëninge wat daar in eensgesindheid te vinde is en daarom blaas hy ‘n smeulende kooltjie aan.  Diegene wat hulself so laat gebruik deur satan, besef nie eens dat hul gebruik word nie. 

Een van 7 dinge wat God haat, volgens Spreuke 6, is mense wat rusie veroorsaak tussen broers.  Daarenteen sê Paulus in Efesiërs 4 : 3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

Ons moet satan nie onderskat nie.  Hy besef goed dat ons al baie van sy ‘tricks’ agtergekom het, so nou begin hy vuilspeel.  Hy sweep ons teen mekaar op en sit dan lekker agteroor en kyk hoe ons mekaar vernietig.  Dis hoekom oorloë oor die eeue heen ontstaan het en derduisende onskuldiges hul lewens verloor het.  Hy gaan veroorsaak dat jy jouself oor ‘n eenvoudige opmerking vererg of dalk net hoor wat jy wou hoor en dit dan uit verband ruk en jouself sodoende in die moeilikheid kry deur ‘n debat op sosiale media. 

Bid egter en vra God om die waarheid in elke situasie aan jou te openbaar.  Christus is die ware Vredemaker onder ons.  Wanneer ons op Hom vertrou, sal Hy ons veilig deur die storm lei na kalm waters.

Saam met Paulus pleit ek:  Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 1 Korintiërs 1 : 10)

Dis maklik om te verskil en moeilikheid te veroorsaak… dit neem eintlik baie min, selfs ‘n leuen, maar om mense saam te snoer verg veel meer.   Kom ons neem die moeiliker roete, want op die ou end is dit nie net die moeite werd nie, dit kan lewens spaar.




Wednesday 26 June 2019

Beweeg aan


Jesaja 43 : 18  Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Ons bly dikwels in die verlede vasgevang.  Die enigste manier om uit die verlede los te breek, is om jou verwysingsraamwerk te verander.  Josef kon dit nogal goed regkry.  Hy het soveel rede gehad om sy broers en vele ander in sy verlede te blameer en voortdurend homself te bejammer vir dit wat met hom gebeur het.  Tog sê hy in Genesis 50 : 20 Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is.

Hierdie manier van dink het Josef bevry van die verlede.  Hy kon die positiewe sien wat daaruit voortgespruit het en wat meer is, Hy kon God se hand daarin sien.  Filippense 3 : 13 beveel tog aan dat ons vergeet van dit wat agter ons is en ons uitstrek na dit wat voor ons is.  Weereens ‘n paradigma skuif.  Ek glo nogal daaraan om negatiewe gedagtes met positiewe gedagtes te vervang.  Dit is die katalisator om jou na daardie beter plek te neem en die verlede te laat waar dit hoort… in die verlede.

Elke gedagte wat God jou gee, het die krag om vervul te word byvoorbeeld “Moenie bang wees nie.  Jy sal nie weer verneder word nie. Moenie bang wees vir die skande van voorheen nie.  Jy sal die skande van jou jeug vergeet (Jesaja 54 : 4 NLV)” of Die vorige dinge sal nie meer onthou word nie en nie in die gedagte opkom nie.  Wees bly en jubel oor wat Ek gaan skep (Jesaja 65 : 17 – 18 NLV)

Natuurlik kan hierdie dinge nie oornag gebeur nie.  Dis ‘n proses en daardie proses gaan jou op ‘n pad van groei en vergifnis neem.  Partykeer moet jy ander vergewe en soms jouself. 
En onthou Want alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het (2 Korintiërs 1 : 20 (ABA)


Tuesday 25 June 2019

Vertrou God


Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Hierdie teks in ag genome, is dit eintlik ‘n klap in God se gesig wanneer die persoon wie deur God geroep is, Hom nie ten volle vertrou nie.

Ons besef nie altyd dat God alreeds vooruit weet wat gaan gebeur en dat moeilike tye in ons lewe juis daardie tye is dat God besig is om ons voor te berei vir groter dinge.  

Wanneer jy die verhaal van die Israeliete se bevryding uit Egipte lees in Eksodus, besef jy dat God geweet het daar lê moeilike tye vir die volk voor.  Daar was ‘n kortpad deur die Filistynse gebied, maar God laat hul nie daardeur trek nie, want as dit sou gebeur, sou die volk net daar omgedraai het.  Juis daarom laat God hul met die woestynpad in die rigting van die Rietsee trek. 

Terloops toe hul wel in ‘n geveg betrokke raak, het God gesorg dat hul wen.  Let wel, Hy het hul nie die oorlog gespaar nie, maar Hy het daarvoor gesorg dat hul wen toe Aaron en Hur Moses se hande omhoog gehou het terwyl Josua en die manskappe teen die Amalakiete geveg het.  Wou hul ‘n oorlog beleef?  Verseker nie, maar God het hul genoegsaam voorberei en bygestaan dat hul as oorwinnaars uit die stryd getree het.

Net so lei God ons ook partykeer met ‘n ompad en ons verstaan dit nie altyd nie.  Hoekom moet ek nou ‘donkiewerk’ doen terwyl ek ‘n graad het?  Hoekom sukkel ek so om my lisensie te bekom terwyl ek my eie motor kan bekostig?  Ons het ‘n perfekte huwelik en verdien albei ‘n goeie inkomste… hoekom sukkel ons om swanger te raak?

1 Tessalonisense 5 : 18 het goeie raad:  “wees in alle omstandighede dankbaar…”  Loof God ten spyte van jou omstandighede.  Die omstandighede is net nog ‘n trappie op die leer na die toppunt waarheen God met jou op pad is.  God soek dankbaarheid, nie ‘n gekla nie.  Om die waarheid te sê, dankbaarheid beweeg God.  Psalm 50 : 14 – 15  Lof is die offer wat jy aan God moet bring…  Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

God weet wat Hy doen. Vertrou Hom volkome, selfs al maak dit nie sin nie.

Sunday 23 June 2019

Die krag van gebed


Lukas 22 : 41 – 42  Daar het Hy geniel en gebid:  “Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied!”

Kan jy jou ‘n groter krisis voorstel as die wete van dit wat vir jou voorlê, soos Jesus moes geweet het?  Jesus het geweet daar is nie uitkoms nie, tog het Hy gebid.  Selfs al het die dissipels Hom agtervolg, het Hy steeds Homself afgesonder.  Ek kan nogal verstaan hoekom.  Die dissipels mag gehoor het wat gaan gebeur, maar Jesus het geweet wat gaan gebeur!

Jesus se hele bestaan op aarde het Hom amper hiervoor voorberei.  Elke keer voor ‘n krisis het Hy gebid.  Teen hierdie tyd het Hy nie net geweet waartoe God die Vader in staat is nie, maar hul het ‘n uiters intieme verhouding gehad. Daarom het Jesus geweet waar Sy krag vandaan kom. 

Wanneer gaan jy besef dat gebed die antwoord op elke probleem is?  Wanneer gaan jy besef dat jy God in alles nodig het?  Wanneer gaan jy besef dat jy op Hom kan staatmaak?  Dit kom met tyd.  Elke keer dat jy op jou knieë neersak en God jou gebede beantwoord, bou dit daardie vertrouensverhouding en besef jy al meer en meer waartoe Hy in staat is… dat Hy uitkoms bied uit elke situasie.

Gebed is nie net ‘n aksie nie, dit is ‘n verhouding met die Lewende God.  Jesus was in staat om te doen wat Hy gedoen het omdat Hy voortdurend in kontak met die Vader was.  Ook en en jy kan versterk word deur gebed. 

Thursday 20 June 2019

Bid vir

Lukas 22 : 31 – 32  Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar ek het vir jou gebid

Jesus was uiters bekommerd oor die mense wat Hy liefgehad het.  In plaas van om daaroor met almal te praat of ‘n senuweebol te raak, het Hy gebid.

Ons moet natuurlik ook vir ons geliefdes bid.  Jesus sê vir Petrus:  “Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie.  As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun."  Dieselfde Petrus wat Jesus verloën het, het uiteindelik voor skares van duisende mense gestaan en die evangelie verkondig… en drieduisend van hulle is vir Christus gewen!!!  Hy het beslis tot inkeer gekom, danksy Jesus se gebed.

Hoeveel keer is ons nie raadop met ons geliefdes nie?  Ons gee raad, dreig, waarsku… en as ons nie meer watter kant toe weet nie… dan bid ons.  Behoort ons nie van die begin af te bid nie?  Gebed behoort nie ‘n nagedagte te wees nie… dit behoort die eerste gedagte te wees.  Gebed neem daardie onmoontlike situasie uit ons hande en plaas dit in God se hande. 

Dit laat my dink aan die manne wat hul verlamde vriend na Jesus wou neem en al uitweg was om hom deur die dak te laat sak.  Dit is wat jy doen wanneer jy vir iemand bid.  Jy haal alles uit in gebed en bring hom/haar voor Jesus.

Ons bid natuurlik nie net vir ander wanneer hul hulp nodig het nie.  Ons bid ook vir hulle wanneer hul ons teleurstel of seermaak.  Net God ken die volle verhaal… albei kante van die verhaal.  Daarom is dit beter om God in die situasie in te nooi en dan terug te staan sodat Hy kan oorneem.

Wednesday 19 June 2019

Hoe weet jy wat God se plan vir jou lewe is?


1 Johannes 3 : 21 – 22  Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan;  en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind

Jesus gaan bid op ‘n stil plek.  Simon en sy makkers gaan agter Jesus aan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom:  “Almal vra na U.”  Jesus antwoord:  “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek.  Dit is immers waarvoor Ek gekom het.”   En as jy verder in Markus 1 lees van vers 35 – 39 weet jy dat Hy deur die hele Galilea gegaan het waar Hy in hul sinagoges gepreek het en selfs bose geeste uitgedryf het.

Jesus het 'n plan gehad en Hy het geweet wat nog gedoen moes word.  Party van ons soek vandag nog na God se plan vir ons.  Ander weet wat die plan is, maar het afgedwaal.  Tensy ek en jy tyd met God spandeer, sal ons eerstens nooit weet wat die plan is nie en tweedens maklik toelaat dat ander ons van koers af dwing met hul planne en praatjies.

Baie van ons foute word onder druk gemaak, nie as gevolg van die antwoord op gebed nie.  God het vir elkeen van ons ‘n plan en elkeen se skedule en roete is anders.  Jou plan en skedule gaan nie vir my werk nie en andersom ook nie. 

Ons wil so maklik mense rondom ons gelukkig maak en eintlik behoort ons net vir God gelukkig te maak deur die pad te stap wat Hy vir ons in gedagte het.  Dan is alles soveel makliker en nie ‘n voortdurende stryd nie. 


Tuesday 18 June 2019

Hoe het Jesus met slegte nuus 'gedeal'?


Markus 1 : 35  Die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid…

Jesus weet hoe dit voel om ‘n geliefde aan die dood af te staan.   Sy neef Johannes, die een wat hom gedoop het in die Jordaan (wat ons ken as Johannes die Doper), is gearresteer en onthoof omdat hy ‘n koning oor sy sonde gekonfronteer het.  Matteus 14 : 12 - 13  Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.  Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg.

Net as jy iemand na aan jou aan die dood moes afstaan, sal jy verstaan hoe Jesus moes gevoel het.  Ons word daagliks met moorde en wreedheid gekonfronteer.  Jesus weet presies waardeur ons gaan… Hy was daar.

Ek en jy gaan ook hartseer, gebrokenheid, teleurstelling, verwerping ervaar.  Ons kan daaroor met vriende, dokters en sielkundiges gesels, maar uiteindelik is dit net ‘n gesprek met God wat ‘n gebroke hart genees soos ons in Psalm 147 : 3  lees.  Hy genees die gebroke hart en verbind die wonde. 

Job is ‘n man wat van beproewing geweet het, seker meer as enige iemand anders.  In die elfde hoofstuk lees ons “Jy sal jou swaarkry vergeet.  Dit sal weg wees soos water onderdeur ‘n brug…” 

Wanneer jy op jou knieë voor God bly, sal Hy jou weer optel en alles nuutmaak. 

Monday 17 June 2019

Bid


Jesaja 48 : 17   Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.

Jesus het gereeld gebid.  As jy sukkel om te bid, kan jy, soos ek, ‘n paar dinge by Hom leer.
Ons lees in Lukas 5 : 16 dat Hy Hom in ‘n verlate plek afgesonder het wanneer hy gebid het.  Ook in Markus 1 : 35 lees ons dat Hy alleen op ‘n stil plek gaan bid het.  In Markus 6 : 46 is Hy alleen teen die berg op…  Jesus het die krag van gebed besef. 

Die druk op Jesus het al meer en meer geword soos mense gehoor het waartoe Hy in staat is.  Hoeveel keer voel ons nie ook onder druk nie?  En is dit nie juis wanneer ons dink dat ons nie tyd het om te bid nie.  Ons staan moeg op en voor ons, ons kom kry is dit tyd om te ry en ons besef dat ons nog nie Bybelstudie gedoen het nie.  Dit moet maar bly, daar is nie nou tyd nie.  Groot fout.  Dis juis daardie tye wat jy God nodig het.  Jesus het juis met nuwe krag teruggekeer na sulke tye van afsondering.

Jesus het gebid wanneer hy belangrike besluite moes neem.  Die nag voor Hy Sy dissipels moes kies, het Hy deurnag gebid aldus Lukas 6 : 12 – 13.  Hoeveel keer leer ons nie duur lesse omdat ons nie met God daaroor gesels het nie?  Ons spring sommer holderstebolder in ‘n ding in en agterna berou ons sulke besluite.  Dink maar net hoeveel tyd mense spandeer om ‘n troue te beplan.  Spandeer hul net soveel tyd om daaroor te bid?  En dan wonder ons nog hoekom soveel huwelikke misluk? 

God het ‘n getuigskrif soos min wanneer jy ons kernteks lees.  Voor jy jou swaarverdiende geld belê… voor jy jou in ‘n vennootskap begewe met mense wat op elke vlak so reg voorkom… voor jy die jawoord gee… voor jy met jou eie slim planne voortgaan… gesels met God.  Bid, soos Jesus gebid het.

Thursday 13 June 2019

Laat staan


Psalm 46 : 10  Laat staan en weet dat Ek God is; (Be still and know that I am God)

Deesdae kan jy jouself nie ‘n lewe sonder tegnologie voorstel nie.  Wat sal ons doen sonder selfone of Google maps?  Ons is voortdurend ‘in kontak’ / connected.  Rekenaars, televisie, epos, videospeletjies, WhatsApp, Facebook, Twitter, Instagram, ens, ens, ens.

Is dit verkeerd?  Nee, maar daar moet ‘n tyd kom dat jy stil word en op God fokus.  Dis moeilik om op Hom te fokus as jou aandag verdeel is.  Laat staan die tegnologie, die wêreld sal nie vergaan nie. 

Probeer jou Bybel op jou selfoon of rekenaar lees en daar is ‘n ping of blokkie wat wys daar is ‘n nuwe epos of boodskap.  Onmiddellik is jou aandag verdeel.  Ons kan skaars met mekaar praat sonder dat ‘n gesprek onderbreek word deur ‘n oproep of boodskap.  Mense dink niks daarvan om hulself te verskoon omdat hul gou aandag aan ‘n belangrike oproep of epos moet gee nie.  Dink bietjie, dis soveel makliker om God, wat jy nie kan sien nie, eenkant toe te skuif.

Hoeveel mense deel nie hul hele lewe op sosiale media nie?  Hul sal met wildvreemde mense oor hul vreugde en selfs uitdagings praat, maar dink nie eens daaraan om dit met God te bespreek nie.

Glo my God kan jou probleme veel vinniger oplos en hy sal dit ook nie ‘share, tag of link’ nie.  Daar kom ‘n tyd dat jy moet besef waar jou hulp vandaan kom.  Vind jou rus in God. 

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie.  Dit is dus ‘n geestelike stryd.  Die geveg is teen bose magte.  Die bose weet hoe om jou aandag van God af te lei.  “Die boodskap kan dringend wees…”  Wanneer jy kies om stil te wees in die wete dat Hy wat in jou is groter is as die magte teen jou, plaas jy jouself in ‘n posisie van mag.

Daar is so ‘n pragtige lied:  “The battle belongs to the Lord”  My wens vir jou vandag is dat jy so ‘n vaste vertroue in God sal hê, so stil in Sy teenwoordigheid sal wees, dat jy Sy hand in oorwinning sal sien lig wanneer Hy die geveg namens jou gewen het.

Wednesday 12 June 2019

Ignoreer hulle


Handelinge 11 : 2  En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis

Dalk voel jy ook soos Petrus ‘who is just minding his own business’, maar mense val hom aan.

Op ‘n stadium is Jesus in die tempel.  Dit is die Sabbatdag, ‘n dag van rus.  Jesus, iemand wat maklik medelye op aarde betoon het en net goed gedoen het, sien ‘n man met ‘n melaatse hand.  Jesus vra hom om sy hand uit te steek en onmiddellik is die hand genees.  Die gelowige leiers, die Fariseërs, was ook daar en hulle het nie van Jesus gehou nie.  Al fout wat hul kon vind, was dat Hy die genesingsdaad op die Sabbatdag gedoen het en daarom dring hul aan op ‘n verduideliking.

Jy kan soveel goed doen as wat jy wil… jy kan so reg as moontlik leef… daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou nie en daar sal altyd mense wees wat fout vind.  Glo my, selfs al verander jy en maak soos hul wil hê, sal hul steeds iets anders vind om jou oor aan te vat.  Die probleem kom wanneer ons toelaat dat hierdie mense ons onderkry.  Jy kan jouself ‘n hele klomp pyn en hartseer spaar deur te leer om hierdie stemme van kritiek te ignoreer.  Jy het nie hul goedkeuring nodig nie, net God s’n.  Selfs al stel hul jou in ‘n slegte lig, wees beter as hulle deur God toe te laat om jou gevegte te veg.  Hoe meer hul slegpraat, hoe meer sal God jou seen.  Hulle kan jou probeer afbreek, maar God sal jou ophef.

Die lewe is nie regverdig nie.  Mense is nie regverdig nie.  Net God is regverdig.  Bly in Sy  Woord en doen wat Hy van jou verwag, nie wat mense van jou verwag nie.

Tuesday 11 June 2019

As God jou wegsteek


Psalm 27 : 5  Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek, my hoog op 'n rots laat staan;

Selfs al het jy die Bybel al hoeveel keer deurgelees, kom daar tye dat ‘n vers jou weer in verwondering laat.  Kyk net na God se omgee!

Wanneer jou verhouding met God op ‘n vlak is waar Hy jou hele lewe is, sal jy weet dat jy op jou veiligste voel.  Jy voel amper onaantasbaar.  Nou verstaan ek hoekom.  Dit is omdat daardie verbintenis met Hom jou beskerming bied.  Hy sal jou wegsteek in Sy huis!  Waar kan jy veiliger wees?

Uitdagings sal daar steeds wees.  Die effek wat hul op jou gaan hê sal net nie meer wees soos in die verlede nie.  Jy gaan nie alleen en verwese voel nie, want God almagtig is jou beskermer.  Dit maak nie saak of die wêreld uitmekaar val rondom jou nie, jy sal krag, vertroue en rus vind in die wete dat Hy jou beskerm.  Daarom weet jy dat die uiteinde vir jou positief sal wees.  Jy weet dat geen wapen wat die vyand teen jou optel enige krag sal hê.

Dalk is mense besig om jou naam te beswadder, jou in ‘n slegte lig te stel… moenie hul eens ‘n tweede kyk gee nie.  Om die waarheid te sê moenie jouself eens die moeite aandoen om ‘n woord teenoor hul te uiter nie.  God sal met hul ‘deal’.  Mense beheer in elk geval nie jou toekoms nie, God alleen doen. 

Hou aan om op jou en God en jul verhouding te fokus. 

Monday 10 June 2019

Gelyk paaie en oop deure


Jesaja 45 : 2  Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak. Ek sal bronspoorte oopbreek en sluitbalke van yster stukkend kap.
Psalm 107 : 16 want Hy het koperdeure oopgebreek, ystergrendels stukkend geslaan

Nie een keer nie, maar twee keer in Die Bybel word ons verseker van die krag van God.  Die God wat voor jou en my uitgaan en daardie spoedhobbels, hoogtes, berge… gelykmaak.  Dieselfde God wat niks in Sy pad laat staan, wat deure oopbreek en grendels / kettings stukkend slaan... vir jou en my!   Wow!

Niks kan ons terughou wanneer God aan ons kant is nie.  Nou is die vraag… met die pad wat gelyk is en die deure wat oopstaan sonder ‘n enkele slot daaraan… wat gaan jy doen?  Gaan jy Hom vertrou en in geloof vorentoe tree of gaan jy bly staar na daardie deure wat nog altyd toe was? 

Ek weet nie wat jou teruggehou het of wat jou vasgehou het nie, maar ek weet dat God hierdie tekste vandag vir jou gee.  Niks staan in jou pad nie en dieselfde God sal verder die pad met jou stap… tree vir tree.

Sunday 9 June 2019

Vreugde


1 Thessalonisense 5 : 16 – 18  Wees altyd bly.  17 Bid gedurig. 18 Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag

Besef jy dat God wil sien dat jy altyd vol vreugde is?  Hy wil sien dat jy gelukkig en sorgvry is.  Dit verbly Hom as jy gelukkig is oor jou lewe, veral ten spyte van jou omstandighede.  Kry jy dit reg? 

Ek sukkel nogal om vrolik te bly as ek uitdagings ervaar, maar ek het onlangs besef dat dit eintlik van ongeloof getuig as ek met ‘n lang gesig rondloop deur sulke tye. Dink bietjie hieroor.  Mense kyk na jou en my en hul sien ‘n langgesig, maar hul weet teen die tyd dat ons gelowiges is.  In hul binneste kan hul dan begin wonder:  “Uhmm lyk my nie hy/sy het veel hoop dat hul God vir hul gaan deurkom nie.”

Dis ‘n klap in God se gesig.  Daarteenoor kan ons vreugde te midde van ons omstandighede ander bemoedig, veral as ons dit bevestig met woorde soos:  “Ek sal nie hoop verloor nie. Ek kan glimlag, want uitkoms is net om die draai.   As kind van God verloor ek nooit hoop nie…” 

Daar is eintlik krag in vreugde.  Jy kan nie kla en jubel op dieselfde tyd nie.  En om te jubel met ‘n lang gesig gaan ook sukkel.  En ja, dalk is jy van nature ‘n ernstige persoon, maar jy kan jouself leer om vreugde te toon. 

Kinders lag veel meer as volwasseners en jy weet dat ons almal eens op ‘n tyd ‘n kind was.  Wees weer kinderlik gelukkig.  Vertrou God soos ‘n kind en lag soos ‘n kind… sorgvry.  Dis so jammer dat ons verleer om te lag.  Die lewe is beslis nie ‘n piekniek nie, maar dan, dis darem ook nie ‘n begrafnis nie.

Besluit eenvoudig:  “Van vandag af neem ek my vreugde terug.  Kyk verby jou probleme, want dis in elk geval buite jou beheer.  God het dit onder beheer, glo my.  Niks verras Hom nie.  Om die waarheid te sê, “Sy krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is.”

Thursday 6 June 2019

God is daar


Jeremia 29 : 11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

Die sleutelwoorde in hierdie vers is “Ek weet”.  God weet presies wat Hy vir ons beplan.  Niks gebeur per toeval of per ongeluk. 

Ons weet natuurlik nie wat die toekoms inhou nie en daarom word ons soms onverhoeds betrap wanneer iets onverwags gebeur.  Soms laat dit ons verwese en mismoedig; dalk selfs oorweldig.  Ons verstaan nie hoekom hierdie dinge met ons gebeur nie. 

Miskien moet ons, ons perspektief verander.  Die situasie het nie vir God onverhoeds betrap nie.  Saam met die teenspoed ontvang ons ook die krag, deursettingsvermoë en vasberadenheid om daardeur te kom. (1 Petrus 1 : 6-7 beproewinge kan daar wees)

God het steeds die uitkoms, toekoms en verwagting in gedagte.  Selfs te midde van jou omstandighede sal jy God se ondersteuning ervaar.  Jy is Sy gesalfde.  Jy is geseën.  Jy is die kop en nie die stert nie. 

Die Een wat vir jou is, is groter as die magte teen jou.  Vertrou God.  Gee Hom ‘n kans om ‘n Waarmaker van Sy Woord te wees.  Hy is saam met jou soos in Psalm 23 : 4  Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Wednesday 5 June 2019

God se salwing


1 Kronieke 11 : 13  So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Daarna het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. Dit was in ooreenstemming met die belofte van die Here deur Samuel.

Is jy op ‘n plek in jou lewe waar jy wonder wanneer jou seisoen eendag gaan aanbreek?  Dalk dien jy God op elke moontlike manier, jy doen Bybelstudie, jy gee jou tiende, jy probeer siele werf, maar om die een of ander rede gaan dit nooit beter met jou nie. 

Dawid was baie jonk toe Samuel hom as koning gesalf het.  Dawid het egter nie onmiddellik in die paleis opgeeindig nie.  Nee, hy is terug na die skape in die veld.  Daar sou hy nog vele jare deurbring terwyl hy seker gewonder het wanneer hy dan eendag ‘regtig’ koning gaan wees.  Toe kom die manne van Juda en hulle salf hom op dertigjarige ouderdom, maar hy is steeds nie in die paleis nie.  Op sewe-en-dertigjarige ouderdom word hy weer gesalf.  Uiteindelik breek sy tyd aan.

Hoekom was dit nodig dat Dawid 3 keer gesalf word?  Partykeer is ‘vars’ salwing nodig.  Moet dit nie van die hand wys nie.  En dis ook ‘n teken dat God steeds in beheer is en vir jou is.  Hy’t nie van Dawid en die plan vir sy lewe vergeet nie en Hy sal ook nie van jou vergeet nie.

Ek en jy moet geduldig wees.  Terwyl ons ‘n sogenaamde minderwaardige werkie doen, min geld verdien selfs van die hand na die mond leef is God besig om ons voor te berei.  Wat ons ookal doen moet ons egter met oorgawe doen, asof vir God.  Dawid het vir Saul op die harp gespeel en omdat hy dit so goed gedoen het, is daar ‘n pos geskep vir hom as harpspeler.  Kry jy die boodskap?  Dawid is getrou en God sorg vir die deurbraak. 

Tuesday 4 June 2019

Jy is nie gevrywaar nie


1 Petrus 1 : 6 - 7  Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

Mense aanvaar baie keer dat hul probleme op ‘n einde gaan wees wanneer hul tot bekering kom.  Dis ongelukkig nie waar nie.  Niemand van ons is gevrywaar teen beproewing nie. 

Is jy teleurgesteld?  Moenie wees nie.  Niemand van ons gaan ons hand opsteek en vra vir ‘n bietjie probleme nie, maar ek kan getuig dat ek al na ‘n uitdagende tyd byna terugverlang het na daardie tyd omdat my verhouding met God toe so ontsettend spesiaal was.  Dit was amper asof ek die swaarkry vergeet het omdat die verhouding met God so besonders was.

Goud word gesuiwer deur uitermatige hoë temperature en net so word die egtheid van ons geloof ook getoets.  Glo ek in God omdat dit met my goed gaan en Hy dinge vir my gee of doen of glo ek in Hom selfs wanneer my gebede nie beantwoord word of daar geen uitkoms is nie?  Without a test, there is no testimony.

Dis maklik om negatief of better te raak, selfs vir God te blameer, maar om te bly glimlag deur jou trane… om God se beloftes te verwoord, selfs al is daar geen sigbare verligting… te glo dat Hy uitkoms sal bring al neem dit hoe lank… dis waar die koring van die kaf geskei word. 

Bemoedig jouself deur te onthou dat God jou die krag gee om staande te bly.  Sê vir jouself:  “Ek sal nie twyfel nie… Ek sal aanhou glo… Ek sal nie mismoedig raak nie.  Alles kom tot ‘n einde, ook hierdie tyd van beproewing. Hierna is dit my beurt.  God kan en God sal uitkoms bring.”

Monday 3 June 2019

Hadloop jou eie resies


Hebreërs 12 : 1-2  Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

Ons lewe in ‘n tyd van kompetisie.  Dis amper ‘survival of the fittest’.  Van kleins af word ons geleer om goed te vaar… om jou beste te lewer.  Op skool word kinders deesdae nie net gedruk om akademies te presteer nie, maar ook om op die sportveld te presteer. 

Skole ‘koop’ presteerders, want sulke leerders is goed vir die skool se naam en gee hul die reg om die skoolfonds op te sit omdat die skool ‘gesog’ is.  Die gekoopte leerders is natuurlik nie deel van die betalers nie .  Presteerders kry beurse.  Presteerders kom iewers in die lewe. 

Wees waaksaam.  Jy kan maklik by hierdie situasie ingetrek word en vir die res van jou lewe kompeteer met almal rondom jou.  Jy kan op ‘n punt kom waar jy jouself voortdurend meet aan die persoon langs jou.  Jy kan selfs jou eie vermoëns begin betwyfel en altyd voel asof jy te kort skiet, nie goed genoeg is nie.

Hardloop jou eie resies.  Wees die beste weergawe van jouself.  Jy is wie Hy jou geskape het om te wees en jy fokus daarom net op Hom en wat Hy van jou verwag. 

Selftevredenheid is ‘n wonderbaarlike gawe van God.  Dit is wanneer jy uiteindelik besef wie jy is, hoe uniek jy is en dat God tevrede met jou is.  Dis ook wanneer jy sal besef dat jy perfek in jou vel pas en sal begin uitstyg bo ander sonder om ‘n vinger te verroer, nie omdat jy so oulik is nie, maar omdat Hy so getrou is. 

Sunday 2 June 2019

Wag


Psalm 31 : 16  My tye is in u hand.

Ons spandeer baie tyd om te wag.  Ons wag in rye… ons wag op die regte persoon… ons wag om ons drome te sien realiseer… Ons wag op God...  Ons wag en ons wag en ons wag…

Ten spyte van die baie ervaring wat ons hierin het, is wag steeds die moeilikste aksie vir meeste mense.  Ons raak gefrustreerd as dinge nie gebeur wanneer ons dink dit moet gebeur nie. 

Wat ons moet besef is dat God ‘n tyd vasstel die oomblik dat ons bid.  God weet hoe lank dit gaan neem.  Hy weet hoe die pad daarheen lyk.  Hy weet wat moet gebeur voordat ons gereed sal wees.  

Dit mag môre wees, maar dit mag ook eers oor ses maande wees.  Solank ons net weet dat daar ‘n tyd vasgestel is en dat God dit sal laat gebeur wanneer daardie tyd aanbreek.  

Uitkoms is as’t ware geskeduleer.  Dan kan jy eintlik ontspan, want nou weet jy dit gaan gebeur, dis net ‘n kwessie van tyd.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...