Thursday 31 January 2019

Gewillig


Lukas 1 : 34  Maar hoe kan ek ‘n kind hê?

Dit was wat Maria by die Engel wou hoor, want het sy gesê, sy was nog nooit by ‘n man nie.  Die engel se antwoord:  “Die Heilige Gees sal oor jou kom.”

Het God deur middel van die Heilige Gees met jou gepraat, maar jy vra ook “hoe kan dit gebeur?”  Jy het teenargument… ek het nie opleiding, hulbronne, vaardighede en konneksies nie… vers 35 Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.  Dieselfde krag van God wat ‘n maagd swanger gemaak het, kan ook vir jou wonderwerke bewerkstellig.  Die heilige gees  kan jou inspireer met idees, die regte mense oor jou pad bring,  Deure wat bot toe tot nou was, sal oopswaai en jy sal bemagtig word om die werk te doen waarvoor jy geroep word.  God don’t call qualified people, he qualifies those whom He calls.

Ek dink nie vir een oomblik dat God ons nodig het nie, maar Hy gebruik ons as instrument wanneer ons gewillig is en daarvoor is ons innig dankbaar.  Maria was gewillig:  vers 38 Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê.  Dit gaan nie oor wie jy is of wat jy na die tafel kan bring nie.  Dit gaan oor jou gewilligheid en dat God in jou glo.  Dit kon nie vir Maria maklik gewees het nie en menige geroepene sal getuig dat ‘n Godpad nie maklik is, maar die resultate is wonderbaarlik as ons die kans waag om op Sy roepstem te antwoord.

Maria was gewillig.  Is jy gewillig?

Wednesday 30 January 2019

Sukses


2 Kronieke 26 : 5  Hy het na die wil van God gevra gedurende die hele lewe van Sagaria, wat insig in die openbaring van God gehad het. In die tyd dat Ussia na die wil van die Here gevra het, het God dit goed laat gaan met hom.

Ussia was maar net 16 toe hy koning geword het.  Sy pa moes ‘n goeie voorbeeld gewees het, want Ussia het sy voorbeeld gevolg en so 52 jaar regeer.  Deel van sy sukses, wat hy seker by sy pa gesien het, was om voortdurend na die wil van God te vra.

Baie mense streef sukses na, maar nie almal bereik dit nie.  Soms dink Christene ook dit is verkeerd om suksesvol te wees, maar dit is baie ver van reg.  Vooruitstrewende, toegewyde Christene, was oor die eeue heen instrumenteel om die Evangelie na alle uithoeke van die wêreld uit te dra.  Hul het hul geld aangewend om die boodskap van verlossing te verkondig.  Dawid sê dit gaan goed met almal wat die Here volg en Psalm 112 : 3 daar is oorvloed en rykdom in sy huis.  Spreuke 3 : 16 Die wysheid gee met die een hand 'n lang lewe en met die ander rykdom en eer.  Dis maar net 2 beloftes uit die Woord. 

Wanneer jy op die internet gaan soek na boeke oor sukses, sien jy dat daar letterlik honderde beskikbaar is.  Eintlik het ons net een nodig:  Die Woord van God.  Solank as wat Ussia God se wil nagestreef het, het dit goed gegaan met hom.

Tuesday 29 January 2019

Erfporsie


Spreuke 13 : 22 ‘n Goeie mens laat iets na vir sy kleinkinders

Van die oomblik dat jy jou eerste salaris verdien, begin meeste mense om besittings te vergader.  Meeste daarvan is bedoel om hul lewensomstandighede en die van hul gesin te verbeter en dit is ook goed.  Kort voor lank besef jy dat ‘n testament nodig is, want jy kan niks saamneem nie.  Dit waarvoor jy so hard gewerk het, moet vir iemand nagelaat word.

Erfporsies moes vir God ook belangrik gewees het, want daar word 203 kere in die Bybel daarna verwys. 
Op aarde word ons netto waarde bereken volgens wat ons besit en soms ook ons belangrikheid in die samelewing.  Mense behandel net welaf mense anders as wat hul byvoorbeeld ‘n bedelaar behandel.  Die prentjie is egter so ‘n bietjie skeef, want in God se koninkryk word daar gekyk na hoeveel jy weggegee het van dit wat jy besit.  Het jy goed gedoen met dit wat jy het?  Deesdae hoor jy al meer en meer van super-rykes wat hul bates begin weggee.  Warren Buffet & Bill Gates is onlangse voorbeelde.  Dis ook ‘n goeie aanduiding dat geld nie noodwendig geluk bring nie.

Behalwe vir die materiële dinge wat ons nalaat, wat my onmiddellik laat dink aan erfgeld wat swerfgeld is, moet ons vir ons kinders ook ‘n voorbeeld nalaat.  Geld en besittings vergaan, maar die voorbeeld wat jy gestel het, sal hul altyd onthou.  Daardie voorbeeld om God eerste te stel, om volkome op Hom te vertrou.  Hul sê kinders leer makliker deur te kyk na wat ons doen as na ons te luister.


Monday 28 January 2019

Breek af die afgodsaltare


Rigters 6 : 25  Breek jou pa se altar vir Baal af

God was op die punt om vir Gideon te gebruik om Israel van die Midianiete te bevry, maar hy moes eers die altare afbreek wat sy pa vir ‘n valse god gebou het.  Die altaar was al lank in die familie.   Dit was amper asof God wou hê dat hy eers breek met die verlede en vry kon wees om in diens van Hom te kom staan.
God verwag dan ook van hom om ‘n stewige altaar vir die Here, God te bou (vers 26) nadat die Baal altaar afgebreek is. 

Waarmee moet jy breek om bruikbaar te wees vir God?  Dalk is daar ook afgodsaltare in jul familie wat oor generasies deur een geslag na ‘n ander oorgedra is.  Dinge soos woedebuie, mishandeling, huweliksontrou, verslawing…  Die feit dat dit tot nou deel van die familie was, beteken nie dit moet deel van die toekoms wees nie.  Jy kan die altare afbreek en ‘n nuwe altaar bou.  Dis wanneer ons deur die Heilige Gees oortuig is dat daar verandering moet plaasvind en daardie eerste tree neem, dat God se hart vermurwe.  Hy sal jou hart en ook die seer wat daarmee gepaardgaan genees en wat meer is, Hy sal jou ook gebruik om ander se seer te genees.  Dikwels dink ons daar rus ‘n vloek op ons omdat die sondes van die vaders ons ingehaal het, maar verandering kan by ons begin en daarmee saam kan ons die gety laat draai vir ons nageslag.

Wanneer jy die afgode afbreek, sal dit van jou verg om jouself te ontbloot voor God… om totaal eerlik te wees en ook om vergifnis te vra.  Die bevryding wat jy hierdeur sal ervaar, kan geen geld koop. 

Dit gaan nie maklik wees nie en dalk sal dit verg dat jy iemand gaan sien wat jou op ‘n professionele vlak kan bystaan en ondersteun.  Verandering is altyd moeilik, maar die eindresultaat sal dit alles die moeite werd maak.

God beloof dat Hy jou sal omvorm, jou gedagtes sal vernuwe na aanleiding van Romeine 12 : 2.  Neem vandag daardie besluit deur te sê:  “Dit eindig vandag, hier en nou en dit begin ook vandag… by my.  Laat die genesing begin. 

Sunday 27 January 2019

Kain & Abel


Genesis 4 : 5  Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk.

Tweelingseuntjies kom die wêreld binne.  Dubbele vreugde sou meeste dink, maar helaas die eerste twee kinders op aarde het in alle opsigte verskil en afgunstigheid was van vroeg af te bespeur.  Dit moes vir Adam en Evan 'n ontnugtering gewees het.  Eers die vreugde van twee lede wat by die gesin gevoeg word en dan die voortdurende stryd om die twee uitmekaar te hou.

In baie gesinne kom boeties en sussies ook nie oor die weg nie.  Dit is so moeilik vir 'n ouer, want jy is vir al jou kinders ewe lief en al wat jy begeer is rus en vrede. 

Kain vermoor sy broer en het die vermetelheid om nie net vir God te jok nie, maar hy is ook cheeky.  Wanneer God by hom wil weet waar Abel is, vra hy:  "Ek weet nie.  Moet ek dan my broer oppas?" 

Soos Kain, dink ons ook partykeer God weet nie wat ons gedoen het nie.  Leuens kan mense 'n rat voor die oë draai, maar jy kan nie vir God lieg nie.  Hy weet alles.  Hy weet wat jy gaan sê nog voor jy jou mond oopgemaak het.

So arrogant as wat Kain is, besef hy gou dat 'n lewe sonder God 'n riller kan wees.  "My straf is te swaar om te dra.  U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie.  Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor."

En God begenadig 'n moordenaar en bedrieër.  Sy genade is ook groot genoeg vir Kain.  God gee hom 'n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie.

Dieselfde omgee God het ook vir Adam en Eva met 'n seun in die plek van Abel gegee.  vers 25 "God het vir my 'n ander kind gegee in die plek van Abel omdat Kain hom vermoor het.

Soms is al wat ons as ouers kan doen om vir ons kinders te bid... vir ons kinders, maar ook vir wysheid vir ons as ouers.

Thursday 24 January 2019

Fokus op jouself


Romeine 14 : 12  Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee

Hoe maklik oordeel ons nie mekaar nie?  Kyk maar net hoe die media hoogty vier meet nuusbrokkies oor rasseverskille.  Ons is so op mekaar se verskille ingestel dat ons nie eens agterkom hoeveel ooreenkomste daar is nie.

Ons dink as ons 'n verskil kan vind en daarop in-zoom, kan ons die ander persoon afkraak, verneder, neerbring en dan lyk ons mos beter.  Waar is naasteliefde in die prentjie?

Wanneer jy Romeine 14 lees, kom jy agter hoe relevant die Bybel steeds vandag is.  Ook ons soek 'n stok om iemand anders te slaan.  Partykeer dink ek die probleem is dat ons vir onsself leef en nie soos vers 8 aanbeveel dat ons vir die Here moet lewe nie.

Dis nie vir ons om fout te vind of te oordeel nie.  Ons is versonderstel om ons naaste lief te hê en dit gaan nie gebeur solank ek na verskille tussen ons soek nie.  Soos hy terg sê in vers 10:  Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn."  In plaas van my naaste dop te hou en probeer in 'n slegte lig stel voor God en ander, moet ek eerder verantwoordelikheid neem vir my eie siel.  Hoe tree ek teenoor my naaste op?  Wat doen ek om rassehaat te smoor?  Ek het geen beheer oor ander se optrede teenoor my nie, maar ek kan beheer hoe ek daarop gaan reageer al dan nie.

Wanneer ons nie vir onsself leef, maar vir die Here, sal ons uitkyk verander, want voor Hom is ons almal gelyk.  Daar is nie witbroodjies nie.  Daar is nie voorkeur of voortrekkery nie. 

Tuesday 22 January 2019

God is ook daar


Psalm 34 : 19  Many are the afflictions of the righteous: but the LORD delivereth him out of them all.  (en in Afrikaans)  Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.

God het ons nooit ‘n probleemvrye lewe beloof sou ons Hom volg nie.  Wat hy wel beloof is om by ons te wees en ons uit te help.  Let op die Engelse teks… God don’t just deliver the righteous from some of the afflictions, but of ALL of them.

Dis heel duidelik dat daar uitdagings sal wees, maar ons moenie toelaat dat ‘n versperring ons terughou nie.  Soms moet jy daardie versperring gebruik om ‘n brug oor die probleem te bou.

Waarmee jy ookal vandag worstel gaan juis dit word wat jou na ‘n nuwe vlak in jou lewe gaan neem, as jy volhard.  Laat jou pyn tel.  En moet nooit moed opgee nie.  Aan alles kom daar ‘n einde; die goeie sowel as die slegte. 

Partykeer maak ons fourte en beland ons in die moeilikheid as gevolg van daardie besluite.  Aan die verlede kan jy nie veel verander nie, maar jy kan beheer hoe jy daarop reageer.  Sien jy dit as ‘n mislukking, of leer jy daaruit en kom sterker anderkant uit.  Baie keer gebruik God juis sulke foute om ‘n wonderwerk te bewerkstellig. 

Deur enige stryd moet jy onthou dat God die antwoord is.  Hy is net ‘n gebed ver.

Monday 21 January 2019

God sal met hul afreken


Jesaja 54 : 17  Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

Het dit al met jou gebeur dat mense slegpraat of stories versprei oor jou?  Dan ken jy die magteloosheid wat daarmee gepaardgaan.  Niks wat jy sê of doen kan die aanvalle keer nie.  Partykeer is dit eerder olie op die vuur.

Dit maak veral seer wanneer dit wat mense sê van alle waarheid ontbloot is.  Dit is veral wanneer jy probeer om ‘n rein lewe te lei dat hierdie aanvalle jou nog seerder maak.  Dit is ‘n klap in jou gesig… ‘n aanval op jou waardes.

Dit is menslik om jouself te probeer verdedig, maar dit is eintlik heeltemal onnodig.  God sien en hoor alles en Hy is glad nie beindruk nie.  Laat dus maar toe dat diegene wat jou tenakom vir hulself ‘n gat grawe, want hul gaan self in daardie gat opeindig.

Die lewe is nie regverdig nie, maar dit beteken nie dat God ook nie regverdig is nie.  Hy bevestig vandag dat Hy geregtigheid sal laat geskied.

Al gaan die aanslae nie ophou nie, moenie toelaat dat dit jou aftrek nie.  Moenie probeer om dit op jou eie te hanteer nie.  Jy gaan oor tot verdediging.  Ons dink soms ons kan net so sarkasties wees, net so terugskel, net so slim terug antwoord, maar dit beteken ons wil op ons eie kragte staatmaak.  Vertrou eerder op Hom.  God sê:  Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie. (Deuteronomium 1 : 29)

God kan die hele situasie binne ‘n oogwenk verander.  Laat gaan en laat God.

Sunday 20 January 2019

Versoekings


Jakobus 1 : 12  Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Maandae is gewoonlik ‘n dag waarop mense besluit om met ‘n dieet te begin.  Ongelukkig verjaar mense ook op Maandae en niks is erger as om nee te sê vir ‘n oorlaaide kleinbordjie met die allerlekkerste eetgoed daarop terwyl jou maag grom nie.  Sjokoladekoek, yskastert, melktert, souttert…

Dis maar ‘n klein toetsie.  Die wêreld sal nie vergaan as jy ingee en besluit om eerder Dinsdag in alle erns met die dieet te begin nie.  Maar dit kweek nie standvastigheid nie.  Jy sien wanneer ons klein toetsies deurkom, is die eksamen nie so moeilik nie.

Om vandag ‘n kruising oor te steek terwyl die lig rooi slaan, mag jou dalk nie ‘n verkeersboete besorg nie, maar môre doen jy dit weer en is daar ‘n botsing waar mense hul lewens verloor.  Hoe leef jy dan daarmee saam?

Iemand besluit selde vandag dat hul môre ‘n groot misdaad gaan pleeg.  Dit begin klein.  ‘n Wit leuentjie hier en daar… winkeldiefstal, inbrake en dan is daar geen keer meer nie.  So begin party met dagga vir die pret en kort voor lank verkoop jy jou siel vir dwelms.

As jy vandag niks daarvan dink om ‘n pen, ‘n rol toiletpapier of ‘n blik koffie by die werk weg te dra nie mag dit wees dat jy iewers in die toekoms ook niks daarvan gaan dink om te swig voor groter versoekings nie.

‘n Goeie toets sal wees om jouself af te vra of Jesus dit sou doen.  Satan het Hom ook probeer versoek, maar Hy het die toets deurstaan.

Satan het nog nie opgegee nie.  Hy is nou met jou en my besig en wil ons oortuig dat dit niks is nie… dat almal dit doen… dat niemand eers sal agterkom nie.  Dit maak dit nog nie reg nie.  Moenie toelaat dat versoekings jou van die grootste prys ooit weerhou nie.  Die oorwinningsprys.

Psalm 51 : 8  Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.

Thursday 17 January 2019

Niks is vir God onmoontlik nie


Jeremia 32 : 25  En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou 'n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”

Ek is seker daarvan Jeremia het gevra:  “Here, hoe kan u vir my sê om grond te koop terwyl die stad oorgeneem is? “  Dit maak mos nie sin nie.

Kom ons herinner ons ook soos Jeremia in vers 21 aan die tekens en wonders wat God in Egipte gedoen het toe Hy Sy volk daar uitgelei het na die land van melk en heuning waarvan hy praat in vers 22.  Ja, die volk het afgedwaal (oor geslagte heen) en hul word nou gestraf, maar aan die einde van die Hoofstuk word hul teruggebring. Vers 37 – 40  Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verjaag het in my gloeiende toorn en in my groot woede. Ek sal hulle hierheen terugbring en hulle sal hier rustig kom woon.  Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.  Ek sal hulle 'n onverdeelde hart en 'n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle.  Ek sal 'n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie.

Ook ons is nie sonder sonde in hierdie land nie.  Ook ons staan skuldig.  Met elke geslag word dit erger.  Daar is byna geen grens meer tussen reg en verkeerd nie.  Ons het ook afgode wat ons aanbid eerder as die Lewende God.

Daar is hoop vir ons… vir ons land.  Die onrus sal bedaar.  Daar sal weer grond gekoop en verkoop word.  Dinge sal weer regkom soos in Jeremia se tyd.  Vers 27  Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

Wednesday 16 January 2019

Bly glo


Romeine 4 : 17  soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.

Hoe vas staan jy in geloof?  As jy bid en God antwoord nie dadelik nie, gee jy op?  Hou jy op en glo dat God in elk geval niks aan jou situasie kan verander nie?  Vers 18 sê: Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo.

Abraham het alle rede gehad om op te hou glo.  Hy was al oor ‘n honderd jaar oud… sy vrou was al verby haar vrugbaarheidstyd… en as niks tot nou toe gebeur het, wat is die kans dat daar iets in die toekoms gaan gebeur?  Abraham stel egter vir ons ‘n voorbeeld in vers 20 & 21:  Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.  Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.

Om te glo as daar nog ‘n kans is, is een ding, maar om te glo wanneer jy voor jy siel weet dis te laat, dis heeltemal ‘n ander ding.  Hoe kon hy so vas glo.  Abraham het hom toespits op God se CV.  Hy het dooies lewend gemaak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand gebring deur sy woord.

God weet wat die toekoms inhou.  In Sy alwysheid het Hy geweet dat Hy nie leë woorde uiter as Hy vir Abraham sê dat Hy hom die vader van baie nasies sal maak nie.  Hy het geweet van Isak, die seuntjie wat uit ‘n toe reeds onvrugbare vrou gebore sou word.  Dalk het God so effens Sy mond verbygepraat (met respek gesê).

God weet ook wat in jou toekoms lê. Hy is ook ‘n God wat ons graag gee, die begeertes van ons harte.  Wanneer ons dus in gebed tot Hom nader, al lyk die saak hoe onmoontlik, kan ons vasstaan in geloof, want God is ‘n waarmaker van Sy woord. Glo vandag soos Abraham, al is daar geen hoop nie.

Tuesday 15 January 2019

Hoorder of Doener


Jakobus 1 : 23  Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk:  hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.

Deesdae hoor jy nie meer net die Woord wanneer jy Sondag kerk toe gaan of wanneer jy jou Bybel lees nie.

Daar is kanale gereserveerd vir Godsdiens waar verskeie predikers die Woord verkondig.  Daar is blogs, soos die een.  Verder ontvang ons prentjies via WhattsApp met ‘n geestelike inslag en jy het toegang tot ‘n wye verskeidenheid geestelike literatuur. 

Hierin lê die gevaar.  Ons hoor dit op soveel verskillende maniere dat dit nie meer regtig insink nie.  Dit word net so vlugtig gescan en soms selfs geignoreer.  En omdat ons dit so gereeld hoor is ons oortuig dat ons op die regte pad is.  Ons mag onsself selfs oortuig dat ons nog nooit nader aan God was nie.

Meeste mense wil hierdie boodskappe ontvang sodat dit hul kan bemoedig wanneer hul deur ‘n moeilike tyd gaan.  Hul glo dan dat God met hul praat as die boodskap ‘n teks en inslag het wat tot hul situasie spreek en hoop bied.  En dit is so, maar ons wil net hoor wat ons wil hoor.  Ons wil bemoedig word en verseker word van uitkoms en voorspoed.  Wanneer die boodskappe egter gaan oor iets wat ek van my kant moet doen, dan skakel ek af.

Hoe kan ons gelowiges wees, maar net die goeie uit God se hand wil geniet?  Sodra daar van ons verwag word om iets te doen, voel ons die boodskap is nie vir ons. 

Jakobus kan jou baie ongemaklik laat rondwikkel. Jakobus 2 : 14  Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?

In die huwelik leer ons die beginsel van gee en neem.  Dieselfde geld in ons geloof.  Ons kan nie net ontvang nie.  Ons moet ook gee en doen. 

Dit is tyd vir intensiewe selfondersoek.  Is jy soekend na God of soekend na self-gratifikasie?  As jy werklik eerlik moet wees, waar staan jy t.o.v. jou verhouding met God?  Ken jy Hom regtig en is jy besig om soos Hy te word?  Is jy nog geestelik onvolwasse of het jy al ‘n mate van geestelike volwassenheid bereik? 

Onthou Jesus het voortdurend beweeg tussen diegene wat Hom die nodigste gehad het, of dit nou vir genesing was of om seker te maak dat hul die boodskap van verlossing hoor.  Hy was dienend en het nooit iets terug verwag nie.  Sy hele lewe lank het Hy goed gedoen. 


Monday 14 January 2019

Klein dingetjies


Sagaria 4 : 10  Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.

Baie mense sal nie die moeite doen om 10 c op te tel wat hul in die straat sien lê nie.  Wat kan jy in elk geval met 10 c maak? 

Dit gaan nie oor die een 10 sent nie.  As jy elke dag, vir ‘n jaar lank 10 c sou optel, of dalk vir 10 jaar… ‘n Emmer word druppel vir druppel gevul.  Ons soek kitsresultate.  Ons soek daardie R1000 nou, maar ons vergeet van al die 10 sente waarop ons getrap het.  Dalk moes ons elke dag se stukkie brood wat God voorsien het opgetel het, soos die Israeliete destyds in die woestyn.  Nou bevind ons, onsself in ‘n woestyn en ons wonder hoekom.  Gaan ek dan nooit finansieel onafhanklik word nie?  Moet ek vir altyd voortsukkel of ander mense in die oë kyk?

So dink meeste van ons dat dit nie ‘n Christen beskore is om welvarend of suksesvol te wees nie.  Dis juis hoekom God dit in Deuteronomium 8 : 18 uitklaar.  Nee, julle moet onthou dat dit julle God die Here is wat vir julle die krag gegee het om alles bymekaar te maak. Hy het dit gedoen sodat die verbond altyd daar sal wees, die verbond wat Hy met julle voorvaders gemaak het.

Dis in orde om bymekaar te maak.  Dis in orde om genoeg en selfs te veel te hê.  In ‘n wêreld waar soveel mense swaarkry, hoef jy ook nie daaroor skuldig te voel nie.  Dit is die vervulling van God se verbond met ons voorvaders.

Daar is egter drie belangrike punte waarvan ons nie sig moet verloor nie:  (1)  Gee altyd jou tiende, selfs al het jy nog nie genoeg nie (Maleagie 3 : 10  Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.)  Moenie vir God beroof soos daar in vers 8 staan nie (2) Doen goed met wat jy uit die hand van God ontvang (Spreuke 11 : 25 Wie 'n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.) (3) Wees verantwoordelik met dit wat aan jou toevertrou word – moenie spandabelrig en roekeloos/gierig wees nie (Spreuke 21 : 20 In die woning van 'n wyse mens is daar altyd kosbare besittings en olie; 'n dwase mens bring sy goed deur.)


Sunday 13 January 2019

'n Nuwe Jaar


Hebreërs 10:32  Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.

Teen die einde van die ou jaar slaak meeste ‘n sug van verligting, dankbaar dat hul die jaar oorleef het.  Meeste sien uit na ‘n nuwe jaar, wat hul glo ‘n beter jaar sal wees as die voorafgaande een. 

Mense wens ook graag mekaar voorspoed toe.  “Mag die nuwe jaar vol geluk, vrede, vreugde en voorspoed wees.”  Daar is niks mee verkeerd nie en in die tyd waarin ons leef, kan ons almal doen met ‘n bietjie seënwense. 

Dit kan egter vals hoop skep.  Die nuwe jaar gaan nie sonder uitdagings en frustrasie wees nie.  Alles gaan nie altyd klopdisselboom verloop nie.  Ook aan die einde van die ‘nuwe jaar’ gaan ons weereens dankbaar wees om dit agter te laat.

Wat ons wel weet, is dat die Skepper van die heelal, melleniums voor ons geboorte reeds ons lewens haarfyn beplan het.  Dit is dus raadsaam om Hom deel van die nuwe jaar te maak.  Hy weet wat vir jou voorlê.  Hy gaan jou die krag gee om staande te bly.  Daar gaan tye wees waar hy jou sal moet optel en dra wanneer jy nie in staat is om een voet voor die ander te sit nie.

Daar kom tye dat ons bang is vir die toekoms.  Dalk betree jy ‘n nuwe fase en jy vrees die onbekendheid.  Dalk is jy vir die eerste keer alleen en jy is benoud.  Dalk staar jy groot uitdagings in die gesig en jou keel trek toe.

Dis die tye dat jy moet terugkyk oor jou lewe.  Hoe oud is jy vandag?  Het God jou in al hierdie jare al ooit in die steek gelaat?  Hoekom sal hy dit nou doen?

Onthou jy nog vir Petrus wat na Jesus op die water geloop het.  Ek is seker daarvan die onbekende daad moes moed geverg het… treetjie vir treejie.  Met sy oë op Jesus gerig het dit goed afgeloop.  Hy het eers in die water weggesak toe hy benoud geraak het, toe sy fokus en konsentrasie van God weggedraai het.  En selfs toe het Jesus hom met een ferm hand vasgegryp en uit dieptes opgelig het. 

Hou jou ook op God.

Friday 11 January 2019

God is ook daar


Psalm 34 : 19  Many are the afflictions of the righteous: but the LORD delivereth him out of them all.  (en in Afrikaans)  Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.

God het ons nooit ‘n probleemvrye lewe beloof sou ons Hom volg nie.  Wat hy wel beloof is om by ons te wees en ons uit te help.  Let op die Engelse teks… God don’t just deliver the righteous from some of the afflictions, but of ALL of them.

Dis heel duidelik dat daar uitdagings sal wees, maar ons moenie toelaat dat ‘n versperring ons terughou nie.  Soms moet jy daardie versperring gebruik om ‘n brug oor die probleem te bou.

Waarmee jy ookal vandag worstel gaan juis dit word wat jou na ‘n nuwe vlak in jou lewe gaan neem, as jy volhard.  Laat jou pyn tel.  En moet nooit moed opgee nie.  Aan alles kom daar ‘n einde; die goeie sowel as die slegte. 

Partykeer maak ons fourte en beland ons in die moeilikheid as gevolg van daardie besluite.    Aan die verlede kan jy nie veel verander nie, maar jy kan beheer hoe jy daarop reageer.  Sien jy dit as ‘n mislukking, of leer jy daaruit en kom sterker anderkant uit.  Baie keer gebruik God juis sulke foute om ‘n wonderwerk te bewerkstellig. 

Deur enige stryd moet jy onthou dat God die antwoord is.  Hy is net ‘n gebed ver.

Thursday 10 January 2019

Josua 1 : 9

Wees sterk, wees vasberade.  Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Wednesday 9 January 2019

Romeine 8 : 18

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.

Tuesday 8 January 2019

Lukas 11 : 39

Ja, julle Fariseërs!  Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid.

Monday 7 January 2019

Spreuke 26 : 20

Sonder hout bly 'n vuur nie brand nie, sonder 'n kwaadstoker hou 'n rusie nie aan nie.

Sunday 6 January 2019

Thursday 3 January 2019

1 Johannes 3 : 17

Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in sy/haar hart wees.

Wednesday 2 January 2019

Filippense 2 : 3

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Tuesday 1 January 2019

Filippense 3 : 13 - 14

Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.  

Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...