Thursday 31 December 2015

Tyd om fees te vier

Eksodus 23 : 16  

“Die fees van die oes moet gevier word met die eerste opbrengs van wat jy op die land saai. “Die fees van die insameling moet gevier word aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid ingesamel het op die lande. 

Wednesday 30 December 2015

Die Here sal sorg

Deuteronomium 11 : 15  

Die Here sal sorg vir groen gras op julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet.

Tuesday 29 December 2015

God gee om vir jou

Matteus 6 : 30  

As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? 

Monday 28 December 2015

Hul sal op geil veld wei

Esegiel 34 : 14 

Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel. 

Sunday 27 December 2015

Onderhou die wet

Josua 22 : 5  

Sorg net dat julle die gebod en die wet wat Moses die dienaar van die Here julle opgelê het, getrou onderhou, naamlik om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te onderhou, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.”

Thursday 24 December 2015

Jesus word gebore

Matteus 2 : 1

Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom  

Wednesday 23 December 2015

Wat gaan ons Hom noem?

Matteus 1 : 20

Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” 

Tuesday 22 December 2015

Dit was nie maklik vir Maria en Josef nie

Matteus 1 : 18 + 19

Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.

Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.

Monday 21 December 2015

Hy's op pad

Markus 1 : 2

In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak.

Sunday 20 December 2015

Genade en vrede

Filemon 1 : 3

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 

Thursday 17 December 2015

Vergeet van die wraak

Miga 2 : 1

Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het. 

Wednesday 16 December 2015

Gehoorsaamheid om reg te regeer

1 Konings 3 : 9

Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” 




Monday 14 December 2015

Liefde

Psalm 118:29  Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

Die jaar snel ten einde.  Akademiese instellings het reeds gesluit en vandag maak die bouers en fabrieke heelwaarskynlik ook klaar.  Baie mense se vakanse begin ook gewoonlik hier rondom hierdie dae.

As jy op die jaar terugkyk, hoe lyk dit vir jou?  Sien jy ‘n slagveld van gebeurtenisse wat jou lewe ontspoor het, of kyk jy terug op ‘n jaar wat vir jou seepglad verloop het?  Hoe dit ookal sy, die afgelope dae en maande van 2015, sal ons nooit weer terugkry nie… dis verby.  Sommige sien rykhalsend uit na 2016, hopende dat dit beter sal gaan… vir ander is dit omt’ewe.

As ek op my eie jaar terugkyk, sien ek dat dit ‘n interessante pad was.  Daar was heelwat hoogtepunte, maar daar was ook geweldige laagtepunte.  Die goue draad wat ek egter sien, is God se voetspore, al voor my uit.  Soms het ek mooi in hul gevolg, maar ander kere het ek my eie roete gevolg.  Dit was gewoonlik waar ek teespoed opgetel het.  Vandag kan ek vir God innig bedank vir Sy geduld en liefde vir my en my geliefdes.  Sonder Hom sou die pad veel moeiliker gewees het.
Mag God ons elkeen se voetstappe rig tot aan die einde van 2015, maar ook in die nuwe jaar wat voorlê. 


Al is ons soms eiesinnig en eiewillig… al raak ons opstandig en mismoedig… al verstaan ons nie altyd en raak ons ongeduldig, wil ons tog vra, Hemelse Vader, dat U ons elke dag sal herinner aan U liefde en die wete dat daaar geen einde daaraan is nie.  Ons loof en prys U, Grootte God.



A.g.v. vakansiedae en skoolvakansie sal daar na vandag geen dagstukkies wees tot en met 17 Januarie nie, maar daar sal elke dag 'n teksgedeelte spesiaal vir jou gepubliseer word.  Mag elke teks jou bemoedig en inspireer.

Sunday 13 December 2015

'n Stukkende beursie

Haggai 1 : 6  Julle het baie gesaai, maar min geoes; julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie; julle het gedrink, maar dors gebly; julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie; julle is soos 'n dagloner wat sy loon in 'n stukkende beursie steek.

God praat met die volk oor die heropbou van die tempel.  In Haggai lees ons dan dat mense reken die tyd om die tempel te herbou het nog nie aangebreek nie, selfs al het Cyrus dit al agtien jaar voor dit beveel.

God gebruik Cyrus om vir hulle ‘n taak te gee, maar hulle glo die tyd is nie reg nie.  Hulle sal dit later doen.  Jy kan jou voorstel hoe hulle, net soos ek en jy geldige verskonings sou uitdink hoekom die tyd nog nie gereed is nie… ons is te besig,  die ekonomie… ander belangriker dinge wat wag…  En so stap die tyd aan, agt jaar later.   Ongehoorsaam?

As jy ooit gewonder het wat gebeur as ons nie doen wat God van ons verwag nie, is die antwoord in vers ses.  Ons saai, maar daar’s amper niks om te oes nie, ons drink water, maar ons dors word nie geles nie, ons steek ons geld in ‘n sak met ‘n gat in..  Is dit dan ‘n verrassing hoekom dit met ons gaan soos wat dit gaan?  Is ons nie in hierdie situasie omdat ons nie na die stem van God wil luister nie?  Vers sewe laat jou nogal nadink:  “Neem ter harte wat met julle gebeur.”

Is daar iets wat God van jou verwag om te doen wat jy voortdurend uitstel?  Ons kan uitstel of ons doof hou, en voortploeter in omstandighede, of ons kan besluit om gehoorsaam te wees en skouer aan die wiel te sit.

Thursday 10 December 2015

Deel jou geheime met God

1 Korintiërs 2 : 9 – 10   Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet .  Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God.

Met wie deel jy jou diepste geheime?  Meeste mense deel dit met iemand naby aan hul soos hul eggenoot, familie, vriend(in).  Die vereiste om hartsgeheime met iemand te deel is gewoonlik dat die persoon moet kan verstaan waardeur jy gaan.  Hul moes dalk al self deur so iets gegaan het.

Met wie deel God Sy gedagtes?  Volgens die skrifgedeelte ken die Gees die diepste geheimenisse van God.  Dieselfde Gees woon in ons, wat dus ook aan ons die gedagtes van God openbaar. 

Dit is vir God belangrik dat jy weet wat Hy van jou dink.  Hy wil Sy planne aan jou openbaar en aan jou dinge wys wat jy nog nooit gesien het of van gedroom het nie.  As ‘n gelowige is jy sy kind, maar ook sy vriend. 


Daarom hoef jy nie jou geheime met ander te deel nie.  God wat jou naaste vriend en vertroueling is, is al wat jy nodig het.  Bou aan jul verhouding van boesemvriende, die een met wie jy alles deel, die een wat jy vertrou om daar te wees vir jou wanneer almal rondom jou laat spaander.  Hy ken reeds elke gedagte van jou, maar Hy wil so graag dat jy met Hom daaroor gesels.

Wednesday 9 December 2015

Die gedruis van branders

Psalm 42 : 7  waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan.

Liewe mens, God wil ‘n vloed van Sy krag en genade oor jou lewe laat spoel.  Nie ‘n  stroompie of ‘n riviertjie nie, maar ‘n vloed.  Dit beteken ‘n vloed van hernuwing, genesing, vrymaking, opheffing.

Moenie in ‘n groef verval en op klein veranderinkies hoop nie.  Moenie vir een oomblik dink waar jy jou nou bevind, is waar jy die res van jou lewe gaan deurbring nie.  Groot verskuiwings is in die vooruitsig vir jou.  Die veranderings gaan lewensveranderend wees en ek hoop jy is gereed hiervoor.  Begin jouself geestelik voorberei vir groot dinge wat op die punt staan om te gebeur. 

Voor jou geestesoog, sien ‘n tsunami, nie een van vernietiging nie, maar een wat vir jou ‘n pad oopkloof waar dit onmoontlik gelyk het.  Sien hoe God al die onaangename gebeurtenisse van die afgelope jaar uitwis met een brander van vernietiging van die bose.  Hy wil vir jou ‘n skoon blaadjie gee om op te begin. 

Onlangs het ons gebid vir reën en kort daarna was daar oorstromings.  Net so is daar dikwels droogte in ons lewens, maar wanneer God die sluise van die hemel oopmaak, vee dit alles weg en bring dit nuwe lewe.  Ons is net nie altyd gereed vir die oorvloedige hand waarmee God uitdeel nie.  As ons damme gebou het terwyl ons gebid het, sou daar nie soveel skade aangerig gewees het nie, maar ons wil bid en hoop ten beste op so ‘n doutjie van verligting.


Dit waarna jy smag, dit waarvoor jy bid, dit waarvoor jy hoop… dit staan op die punt om te gebeur.  Hoor jy die gedruis van die waters?

Tuesday 8 December 2015

Alles werk ten goede mee

Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is

Op hierdie presiese oomblik is God besig om agter die skerms te werk.  Jy mag dalk mismoedig gewag wees omdat jy bid en niks gebeur nie, maar ek verseker jou dat God nie handjies gevou sit terwyl Hy kyk waardeur jy gaan nie.   Die situasie mag dalk onmoontlik lyk of jy mag dalk erg bekommerd wees dat jy uit tyd uit hardloop, maar jy hoef nie bang te wees nie, want God is altyd betyds.

Ek moes vandag ‘n spesifieke bedrag geld betaal en ek het dit eenvoudig nie gehad nie.  Oor die naweek bring my broer vir geld en vanoggend op pad werk toe kry ek ‘n sms vir geld wat in my rekening inbetaal is.  Vrydag het ek geweet ek moes die geld vandag betaal.  Stel jou dus voor dat ek ‘n naweek binnegaan en nie ‘n benul het waar ek Maandag die nodige fondse sal vind nie.  Geld val tog nie uit die lug uit nie, veral nie oor naweke nie.  Wel, dit het in my geval.  Min het ek geweet dat Hy in die harte van mense besig was om te werk en dat hul Sy roepstem sou gehoorsaam.

Ek vra al hoe lank vir ‘n uitkoms, maar God wag tot op die laaste nippertjie voor Hy voorsien.  En dit is tog al wat nodig is – dat Hy wel deurkom vir ons.  Die geheim is om aan te hou glo in die onmoontlike.


Dit waarvoor jy bid is dalk heeltemal anders, maar die beginsel bly dieselfde.  Al sien jy niks gebeur nie, kyk met oë van geloof.  God sal alles ten goede laat meewerk.

Monday 7 December 2015

'Silly Season'

Matteus 20:15  Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie?

As jy al ooit vissies kos gegee het, sal jy weet dat daardie vissies rustig sal rondswem totdat die eerste kosblaartjie in die water val, dan storm hul almal na dieselfde plek.

Dis min of meer wat hier teen einde November, begin Desember gebeur wanneer ons die ‘silly season’ ingaan.  Ek vermoed maatskappye reken almal het bonus gekry, so hul begin ‘sales’ hou.   Mense storm almal op daardie uitverkopings af, soos ‘n klomp visse wat kos kry. 

Glo my dit is nie die laaste uitverkoping of spesiale aanbod nie.  Iemand het eendag gesê:  “Dit is net ‘n spesiale aanbod as jy dit regtig nodig het.”  Moenie toelaat dat advertensies jou uitlok om jou swaarverdiende geld te gaan uitgee op onnodige items nie. 

Daardie bedraggie wat met betaaldag in jou bankrekening beland, is nie ‘n teiken nie.  Dit is bloot vergoeding vir ‘n maand se bloedsweet.  Gebruik dit vir wat jy nodig het en sit die res weg.  Jy hoef regtig nie alles te gebruik nie.


Hoekom ons so onmiddellik ‘n behoefte ontwikkel as ons geld het, gaan my verstand te bowe.  As jy tot nou toe daarsonder kon kaarkom, kan jy verseker dit verder daarsonder ook doen.  

Sunday 6 December 2015

Nuwe wyn in ou velsakke

Lukas 5 : 37  “En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen.

Ons kan nie voortgaan om dieselfde dinge te doen as ons die dag tot bekering kom nie.  ‘n Christen se lewe is anders as die van ‘n nie-christen.  Jou fokus verskuif van dit wat vir die wêreld belangrik is, na dit wat vir God belangrik is.  God het geen erg aan klubs en pubs nie.  Hy gebruik nie dwelms of pille nie.  Hy het geen erg aan enige iets wat nie ewigheidswaarde het nie.

Dit sal dus fataal wees om nie verandering in jou eie lewe te bewerkstellig nie.  Die vergelyking met die wyn en die sakke is heel relevant.  Jy kan nie nuwe wyn in ou sakke gooi nie.  Net so kan jy nie jou nuwe lewe op die ou manier voortsit nie.

 Jesus se lewe op aarde is ‘n voorbeeld vir ons.  Hy het nie sy eie gemak of homself eerste gestel nie.  Sy hele lewe was daarop gefokus om ander te dien.  Hy het nooit sy ‘rang’ as seun van die Koning gebruik nie.  Tussen konings en bekendes sou jy hom nie vind nie, wel tussen gewone mense, meer spesifiek diegene met wie ander nie juis wou vereenselwig nie.

Hy het nie die massas gevolg nie, maar eerder Sy eie gevolg geskep.  Alles wat Hy gedoen het, was in opdrag van die Vader en as Hy enigsins getwyfel het, het Hy Homself gaan afsonder en gebid.  Wanneer ander Hom beskuldig of geslaan het, het Hy nie terugbaklei nie.  Hy’t bloot die ander wang gedraai en vir hul gebid.


Dis nie ‘n maklike voorbeeld om te volg nie, maar dit is verseker beter as om die res te volg.  Ten minste sal jy in die ewigheid eindig as jy Hom volg, terwyl ek nie so seker is waar jy sal eindig as jy die massa navolg nie.

Thursday 3 December 2015

Geen geweld

Handelinge 5:26  Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld

Sestien dae van aktivisme teen vrou en kinders… Vir 16 Dae word die kollig geplaas op geweld teen vroue en kinders.  Blykbaar is Suid-Afrika se statistiek van die hoogstes ter wêreld! 

Vroue en kinders… die weerloses.  Hoekom dink enige iemand dat dit reg is om hul woede of aggressie op iemand swakker of kleiner as hulle uit te haal?  Wat veroorsaak dat iemand tot daardie punt oorgaan?

Wat ek wel weet, is dat dit heelwaarskynlik ‘n aanloop het.  Dalk manifesteer dit as kind reeds in diegene wat ander afknou of boelie en daarmee wegkom.  Indien jy die regte groep rondom jou het, kan jy gou voel jy is onaantasbaar.

Buig die boompie terwyl hy nog jonk is.  Moenie afknouery of mishandeling van diere duld nie.  Indien iemand van jongs af daarmee wegkom, kan hul glo dat dit aanvaarbaar is. 

Dissipline en duidelike grense is nodig, met liefde in oormaat.  Ek glo dat baie van die geweld beperk kan word as ouers hul rol in die samelewing ernstig opneem.  Stuur ons goed aangepaste individue die lewe in, of maak ons monstertjies groot?


Respek vir jouself en vir ander is die grondslag van ‘n goedaangepaste lid van die samelewing.

Wednesday 2 December 2015

Enkel en alleen omdat jy glo

Romeine 1:17     In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

“Hoe kan ek seker wees my saak met God is reg?” vra ‘n kollega my onlangs.  Sy wonder daaroor omdat daar volgens haar soveel ‘goeie’ mense is en sy voel dat sy tekortskiet wanneer sy haar lewe aan hul lewe meet. 

Ek moes met haar saamstem.  Oral hoor jy van mense wat goed doen.  Hulle gee hul tyd en geld vir diegene wat behoeftig is.  Jy kry ook gereelde kerkgangers wat jou skuldig laat voel as jy op ‘n reenerige Sondag, na ‘n week van vroeg opstaan, nie die krag het om kerk toe te gaan nie.  En wat van diegene wat Bybelverse kan aanhaal?  Jy voel dalk jy kan dit nie doen nie en voel jy ken dus nie jou Bybel goed genoeg nie.  Daar is soveel voorbeelde van mense wat op die oog af ‘n perfekte lewe lei, volgens Christelike maatstawe.

Indien jy dan jou eie swakhede herken… vloek, gebrek aan naasteliefde, min of geen goeie dade, kleingelowigheid, ens, ens, ens… dan begin jy inderdaad twyfel of jy eendag die hemel sal haal.


God maak dit egter eenvoudig.  Glo, en God spreek jou vry… en so sal jy vir ewig lewe.  Al die ander dinge lei eenvoudig jou aandag af van dit wat werklik saak maak.  Glo onwrikbaar en sonder twyfel.

Tuesday 1 December 2015

Wurms en Skoenlappers

Samuel 14:20  Joab het dit gedoen om 'n verandering in die loop van sake te bring

Wanneer die wurm hom toespin in ‘n papie, groet hy sy ou gedaante.  Hy sal nie weer ‘n wurm wees nie.  As hy weer die lewenslig aanskou, het hy ‘n algehele metamorfose ondergaan.  As daardie kleurryke skoenlapper uit die papie worstel, kan jy jou beswaarlik voorstel dat hy eens ‘n wurm was.

Ons moet soms ook ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.  Dit vereis ‘n tyd van stilword… introspeksie.  Die buffel wat jy eens was, kan ‘n persoon word wat ander in ag neem.  Die selfgesentreerde persoon wat jy tot nou was, kan iemand word wat begin om op ander te fokus.  Die persoon wat hom/haar aan drank vergryp het, kan sonder drank klaarkom.  Die persoon wie se oog gedwaal het, kan getrou word.  Iemand wat altyd leuens vertel het, kan nou die waarheid nastreef.

Verandering is nooit maklik nie, maar indien jy God vra om jou te help, kan jy dit doen.  Die geheim is liefde, nie vir jouself nie, maar vir jou medemens.

Indien jy iemand werklik liefhet, liewer as jouself, sal jy nie meer dit doen wat jou gelukkig maak nie, maar jy sal begeer om te doen wat die ander persoon gelukkig maak.


Hoe meer liefde jy gee, hoe meer sal jy ook ontvang.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...