Wednesday 31 October 2018

Base


Efesiërs 6 : 7  Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.

Stel jou voor jy is ‘n slaaf.  Jou werk is fisies en uitputtend… lang ure, geen vergoeding… geen erkenning nie… daar word elke dag meer en meer van jou verwag en jy word gestraf vir die kleinste misstap.  Jy besit niks en daar is geen vooruitsigte vir ‘n beter toekoms nie.  Elke dag is so uitsigloos soos die volgende.

Dit is hoe baie mense voel oor hul baas of werk in vandag se tyd.  Dit is hoekom ons soveel stakings en ongelukkigheid het.  Mense voel hul sit alles in, maar word nie na waarde geag of betaal nie.  Hulle sien hoe die baas rondrits, weer in ‘n nuwe motor ry, die duurste en mees modieuse klere dra, geld rondgooi… en hul leef van die hand na die mond.

Is stakings die antwoord?  Is geweld die antwoord?  Is dit hoe God dit sou hanteer?  Ek weet dit is nie wat jy wil hoor nie, maar dit is nie wat Hy van jou verwag nie.  Hy wil hê dat jy jou werk met lus doen, asof vir Hom.

Sal dit nie jou uitkyk op jou werk verander nie?  Wanneer jy besef dat jou werk, hoe nederig ookal, ‘n taak is wat jy vir God doen, dan glo ek dat jy dit na die heel beste van jou vermoë sal doen, want vir Hom is net jou beste goed genoeg.  Jy gaan nie oproerig raak oor jou inkomste nie, want God het beloof Hy sal voorsien en Hy sal.

Ons beloning sal ons heel waarskynlik nie hier op aarde ontvang nie.  Die lewe is onregverdig en sommige mense kom weg met alles, maar fokus jy net op God, nie op mense nie.  God plaas ons vir ‘n rede op ‘n bepaalde plek.  Hoe ons dit hanteer is wat God sal wil sien.

Tuesday 30 October 2018

Gesindheid


Filippense 2 : 5  Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Watter gesindheid het Christus Jesus gedemonstreer?  Hy was ‘n lewende voorbeeld van iemand met ‘n positiewe gesindheid.  Hy het omgegee, nie Homself eerste gestel nie, ander se belange op die hart gedra, mense gehelp en genees, Hy het hoop gebring in ‘n stukkende wêreld, die hoogste prys betaal vir jou en my.

Ons gesindheid is die enigste iets waaroor ons werklik beheer het.  Jou gesindheid kan jou ook terughou in die lewe.  Dalk is jy iemand wat van nature negatief is.  Jy sien altyd die donker kant.  Jy verwag altyd die ergste.  Jy is die een wat altyd besware opper of verskonings maak.  Jy het selde iets goeds te sê oor andere.  Die glas is altyd half leeg vir jou.

Hier is vir jou iets om te probeer.  Plak vir jouself positiewe woorde of sinne op oral in jou huis en/of kantoor, motor, werkswinkel, plaasskuur...  “Vandag gaan ‘n fantastiese dag wees…   Ek is toegerus met alles wat ek nodig het om ‘n sukses te wees…  Ek weet sommer dit gaan werk… Daar is altyd hoop… Ek kan alles oorwin, want Christus gee my die krag…Vandag gaan ek ‘n verskil in iemand se lewe maak…”  Wees bedag op negatiewe gedagtes en as hul jou pad kruis, vervang hul met ‘n positiewe gedagte. 

En omring jou met positiewe mense.  Negatiewe mense tap jou.  Positiewe mense lig jou op.
Ons gesindheid is ‘n keuse en daardie keuse kan die katalisator wees wat ons lewe in ‘n rigting van voorspoed of voortdurende ongelukkigheid stuur. 


Thursday 25 October 2018

Smag na God


Psalm 42 : 2 – 3  Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.  Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?

Here God, soos ‘n wildsbok smag na water, so smag ek na U.  Ek het ‘n ewige dors na U.  Ek weet U is ‘n lewende God wat gister, vandag en môre dieselfde is.  Ek weet dat ek op U kan vertrou.  Ek weet dat U liefde onfeilbaar is.

Vandag staan ek voor U en ek stort my hart teenoor U uit.  U ken die hartseer en pyn.  U ken die mismoedigheid en magteloosheid binne my, maar U ken ook my hart.  U weet dat ek op U vertrou.  Al my pyn, al my behoeftes, al my lyding bring ek na U.  Ek lê dit voor U voete, Heer.  U sê dat ek al my bekommernis op U moet werp.  U sê dat ek nie kry omdat ek nie vra nie.  Here, vandag vra ek sonder skroom... Ek het U nodig, Here.  Ek het Goddelike ingryping nodig.  Ek het ‘n bonatuurlike deurbraak nodig… Here, red my uit.

U Woord is vol beloftes, Here.  U Woord is vol getuienis.  Ek beroep my op dieselfde God van Die Bybel, want ek weet dat niks vir U onmoontlik is nie.

Here, U kan my trane afvee en my ‘n nuwe toekoms gee.  U kan my weer ophef.  Dit wat deur mense gebreek en vertrap is, is vir U steeds kosbaar. 

Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.

Wednesday 24 October 2018

God kan jou huwelik red


Maleagi 2:16 Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Moses lei die Israeliete uiteindelik uit Egipte.  Na jare van slawerny, smaak hul uiteindelik vryheid.  Die swaarkry lê agter hulle en ‘n nuwe Beloofde land iewers voor hulle.  Wonderlik!  Amper soos ‘n feëverhaal… en hul het lank en gelukkig saamgeleef vir die res van hul lewe.

Wanneer mense in die huwelik tree, glo hul ook dat hul dit net tot voor die kansel moet maak, dan sal alles honkiedorie wees.  Ongelukkig is dit baie ver van die werklikheid verwyder.  Geen huwelik is sonder uitdagings nie.  Daar gaan tye kom dat julle nie baie van mekaar gaan hou nie.  Dit beteken nie dat jul nie meer lief is vir mekaar nie, maar net dat jy nie saamstem met dit wat jou maat doen of hoe hy/sy optree nie.  Dalk is jul huweliksbootjie op die oomblik in stormwaters.  Een ding het tot ‘n ander gelei en skielik is jul vreemdelinge vir mekaar.  Julle dink daar is nie hoop nie, egskeiding is die enigste oplossing.  En dit breek jou hart, want jy wil nie skei nie.  Jy wil jou huweliksbeloftes gestand doen.  God ken jou hart.

Moses en die Israeliete loop hul vas in die Rooisee en agter hul is bloeddorstige Egiptenare met ‘n hele leërmag op pad.  Daar is nie veel hoop nie.  Dit is nou as jy vanuit ‘n menslike oogpunt daarna kyk.  Maar… God bevind Homself nooit in ‘n hoekie nie.  Hy het altyd ‘n plan.  Geen mens sou gedink het dit is moontlik om ‘n pad deur die see te maak nie. 

God kan ook ‘n spreekwoordelike pad deur die see vir jou en jou huweliksmaat maak.  God kan ‘n stukkende huwelik weer heelmaak en wat meer is, daardie huwelik kan beter as ooit tevore wees. 

Ons mag nie opgee nie.  Ons mag nie die belofte wat ons voor God afgelê het ligtelik opneem en verbreek nie.  Neem die stukke na God en kyk hoe hy uit daardie splinters ‘n pragtige mosaiek maak.

Tuesday 23 October 2018

Geen aftrede vir jou nie


Genesis 18:11  Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring,

Omdat Suid-Afrika se werkloosheidsyfer so hoog is, moet meer en meer ouer mense plek maak vir die jonger generasie.  Mense tree dus al vroeër en vroeër af.  Aftrede klink na Eutopia, maar dit het sy eie uitdagings waarop ons selde voorbereid is.

Dit bly vir my hartverskeurend dat mense in die fleur van hul lewe ‘oorbodig’ verklaar word.  Dat hul dan sukkel met ‘n minderwaardigheidskompleks en voel dat hul geen waarde meer tot die samelewing kan byvoeg nie.  Koningin Elizabeth is in haar 90’s en steeds op die troon as monarg.  Menige staatshoof kom aan bewind op ‘n hoë ouderdom en hul neem belangrike besluite wat die res van die wêreld raak. 

Nêrens in die Bybel vind jy die woord ‘aftrede’ of pensioen nie.  Dit bestaan nie in God se realm nie.  God kyk nie na jou ouderdom nie.  Hy weet Hy het jou gemaak… perfek geskape, uniek en volkome toegerus. 

Indien jy iemand is wat oortollig verklaar is, verplig was om vroeër af te tree of aftreeouderdom bereik het en nou voel jy weet nie meer wie jy is of wat die toekoms inhou nie, moenie moed verloor nie.  God het ‘n plan met elkeen van ons se lewe.  Vir die wêreld mag jy dalk om watter rede ookal eenkant toe geskuif word, maar God het ‘n pos vir jou.  Hy het jou nodig.  Hy wil jou gebruik.  Hoe Hy jou gaan gebruik, sal vir elkeen van ons verskillend wees, maar wat ek wel weet is dat jy nie nou op jou louere kan sit en rus nie.  Daar is werk om te doen en jy is die suksesvolle kandidaat.  

Wat geld aanbetref, mag die betaling dalk nie watwonders wees nie, maar jou loon sal jy kry  in die hiernamaals.  Terloops by God is daar ook nie posbenamings of posvlakke nie.  Daar bestaan geen hierargie nie.  Almal is ewe belangrik.  En elkeen se bydrae is kosbaar en onmisbaar.

God het hom nog nooit aan ouderdom gesteur nie.  Sara was ver verby die ouderdom waar vrouens kinders baar en tog het sy met Isak swanger geraak.  Dawid was die jongste en tog het God hom uitgekies.  God is om die minste te sê onkonvensioneel. 

Dit is juis hier waar die opwinding lê, want dink net wat God vir jou in stoor het.

Monday 22 October 2018

Bly hoop


Numeri 23:19  God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?

Wat gebeur wanneer jy bid en bid en bid, maar niks gebeur nie?  Gee jy moed op?  Dink jy God hoor jou nie? 

Die Engelse spreekwoord lui:  “When the going gets tough, the tough gets going.” Dis juis wanneer jy meer moet bid.  Bid is oefening, oefening wat geloofspiere bou.  Dit gee jou die krag om aan te hou en deur te druk. 

Die feit dat die son nie op ‘n reënerige dag skyn nie, beteken nie die son is weg nie.  Die son is steeds daar bo die onweerswolke al kan ons dit nie sien nie en een of ander tyd, breek die son se strale deur daardie donker wolke. 

Een ding wat die vyand weet, is dat twyfel jou aandag van God sal aflei.  Al wat hy moet doen is om jou te laat wonder of God enigsins hoor waardeur jy gaan?  Hy laat jou onthou van sondes waarvoor jy lankal vergeef is, maar nou wonder of dit nie dalk is hoekom God nie antwoord nie.  Die vyand veroorsaak dat jou probleem buite proporsie opgeblaas word totdat jy dink dat dit selfs vir God onmoontlik is om iets aan jou situasie te doen.  Al wat nodig is, is om jou aan jouself en God se vermoëns te laat twyfel.  Hy skep afstand tussen jou en God en sodoende voel jy van God verlate en alleen in jou stryd. 

As jy nie biddend bly nie, gaan die vyand slaag in sy doel.  Onthou, hy is ‘n dief en ‘n leuenaar.  Hy’t gekom om te roof en te steel.

God lieg nie.  Hy is getrou.  Daar het nog nie een woord uit Sy mond gekom wat nie volbring is nie.  Elke belofte is volbring en die laaste belofte sal Hy ook gestand doen wanneer Jesus terug kom om Sy kinders te kom haal.

God het ‘n manier om jou te bereik met die regte boodskap op die regte tyd.  Hy weet hoe om jou aandag te kry en wat jy moet hoor.  Jy mag dalk dink jy’t die einde van jou kragte bereik, maar God hef jou op.  Hy vul jou met nuwe krag.  Hy gee jou arendsvlerke.  Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou die krag gee.

Jy is nie ‘n mislukking nie.  Jy is ‘n oorwinnaar in God.  Vir Paulus en Silas het God die tronk se deure oopgemaak deur ‘n aardbewing.  (Hand 6 : 26).  Hoekom?  Want in vers 25 was die twee besig om te bid en God te loof ten spyte van hul omstandighede.  Wie van ons sou gesing het nadat ons geslaan is en ‘n houtblokke vasgeklem is?  Hierdie twee manne se omstandighede het nie juis rooskleurig gelyk nie, maar hul het onwrikbaar in God bly glo.

Moenie vandag op moedverloor se vlakte bly sit nie.  Begin lofprysings sing… hou aan bid.  Wanneer die nag op sy donkerste is, breek die daglig deur.  Ander mag dalk dink dis neusie verby met jou, maar God sê:  “Nie as dit van My afhang nie.  Ek gaan my kind te hulp snel.  Niks is vir My onmoontlik nie.”

Vandag is die begin van die res van jou lewe.  Dis ‘n nuwe begin.  Dis ‘n nuwe seisoen met nuwe geleenthede en guns.


Wednesday 17 October 2018

Doen iets!


Jakobus 2:17  So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Om te glo is nie genoeg nie.  Ons moet ons moue oprol en ons hande vuilmaak.  Hoekom?

Dit is maklik om op ‘n afstand na mense te kyk wat swaarkry.  As jy op die nuus hoor van ‘n tragedie soos die onlangse tsunami in Indonesië, raak dit jou nie juis nie.  Daar is afstand… dis net beelde op televisie… hulle is niks van jou nie. (behalwe dat ons vergeeet hul is ons naaste)

Sou jy egter daar wees, sou dit ‘n hele ander situasie gewees het.  Jy sou die dood kon ruik.  Jy sou mense kon hoor huil of kerm.  Jy sou nie net kon staan en kyk, omdraai en wegloop nie.

Ghandi is baie bekend vir sy stelling dat jy nie kan oordeel as jy nie in iemand se skoene gestap het nie.

Sou jy nog apaties kon wees teenoor haweloses as jy tyd saam met hulle op ‘n koue Wintersnag onder ‘n bos of brug sou deurbring?  Sou jy hul nog as ‘n probleem gesien het as jy hul stories gehoor het… kinders wat verwaarloos of misbruik word, kinders wat selfs weggejaag word… Mense wat alles verloor en niemand het om hul na te keer vir hulp.  Dink jy regtig dat enige iemand uit eie vrye wil sonder heenkome wil wees, sonder sekerheid oor waar jou volgende maaltyd vandaan gaan kom… blootgestel aan ander se veroordelende oë, selfs skeltaal?

Elke dag raak die nood groter.  Mense wat nooit gedink het dat hul hulself in soortgelyke omstandighede sou bevind, is nou daar. 

Ons moet inspring en help.  Ons moet die geleentheid gebruik om mense te laat sien hoe dit sou wees as Jesus hier was.  Ons moet die hande en voete van Hom wees wat soveel vir andere omgegee het en steeds omgee.

Tuesday 16 October 2018

Gee God 'n kans


Markus 8 : 8  Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het.

Ons onderskat God by verre.  Dikwels soek ons net onmiddellike uitkoms.  “Here, as u my net hierdie maand kan uithelp…  Here, laat iemand asb my kwotasie aanvaar… Here, laat ek asb die suksesvolle kandidaat wees…”

God is ‘n God van oorvloed.  Nadat almal genoeg gehad het, was daar nog oor! 

Nou wonder jy seker wanneer jou oomblik dan gaan aanbreek.  Jy bid, smeek, soebat, maar niks gebeur nie.  In my verlede het God my al laat asem ophou en sweet, maar Hy het my nog nooit, ooit in die steek gelaat nie.

Hy is ‘n omgee God.  Vers 3 lees ons dat God die mense jammer gekry het.  Die dissipels het geweet hul is ver van alles en daar sit ‘n menigte, so vir hulle sou dit makliker wees om die mense weg te stuur om vir hulself te gaan sorg, maar God kyk verby struikelblokke en sien ‘n oplossing.  “Wat het ons?” vra Hy.  Meeste van ons sou moed opgegee het as ons hoor daar is net 7 brode (in die spesifieke gedeelte), maar Jesus weet dis genoeg in Sy hande. 

Moenie kyk na wat jy voor jou sien of wat jy het nie.  Kyk na God.  Nêrens in die Bybel lees ons dat God nie ‘n antwoord of uitkoms gehad het nie.  Hy het altyd ‘n plan, selfs al dink ander dis te laat soos in die geval van Lazarus.

Gee God ‘n kans.  In Maleagie 3 : 10 daag Hy jou selfs uit om Hom te toets:  “Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

Monday 15 October 2018

God sal voorsien


Filippense 4 : 19  En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

Indien jy vandag mismoedig na jou koskaste, jou beursie of jou bankrekening kyk en nie herwaarts of derwaarts weet nie, is vandag se teks vir jou.

God sal nie net in elke behoefte van jou voorsien nie, maar Hy sal ryklik voorsien.  Ons kyk na die gebrek, God kyk na die behoefte.  Dink jy God kan nie vir jou deurkom nie?  Hy het ‘n skare gevoed met met twee vissies en vyf garsbrode (Johannes 6 : 9)  Hy kan en Hy sal… jy moet Hom net vra en onwrikbaar glo. 

Ek het al van mense gehoor by wie kruideniersware wonderbaarlik by hul voordeur gestaan en wag het terwyl hul geen idee het wie dit daar kon kom afgee nie omdat hul met niemand oor hul nood gepraat het nie. 

Baie keer is ons skaam om vir mense te vertel hoe swaar ons kry.  Dalk is dit omdat ons bang is dat hul op ons sal neersien.  Dit kan met enige iemand gebeur.  Mense verloor hul werk… mense word verkul uit hul swaarverdiende geldjies… rampe tref jou… verhoudings verbrokkel en ewe skielik is daar net een inkomste… 

Daar is nog mense wat omgee en daar is nog diegene wat graag wil help sonder dat enige iemand daarvan weet, maar dan moet hul weet van diegene wat swaarkry.  Ek staan verstom as ek hoor hoeveel gewone mense, in die privaatsektor doen in terme van liefdadigheid.  Dink net waar ons land sou gewees het as dit nie vir hierdie onbaatsugtige liefde was nie.  Gift of the Givers is maar net een voorbeeld.  Baie korporatiewe maatskappye moedig ook hul werknemers aan om by projekte betrokke te raak.  Ek sal egter graag wil sien dat ons dit ook op kleiner skaal vir individue doen.

As jy nie vandag hoed in die hand hoef te staan nie, gaan op jou knieë en dank God daarvoor.  Terselfdertyd wil ek jou vra om jou oë en ore oop te hou vir iemand wat jou pad gaan kruis en vir wie jy die antwoord op hul gebed kan wees.

Sunday 14 October 2018

Moenie bang wees nie


Deuteronomium 31 : 6  Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

Luisteraars stuur gereeld gebedsversoeke na ons sms en WhatsApp lyne op die radio.  Hul vra byvoorbeeld dat ons bid vir ‘n kind wat vir ‘n onderhoud gaan, vir ‘n dissiplinêre verhoor wat hul moet bywoon, vir ‘n familielid wat in die hof moet verskyn, vir ‘n huwelik wat deur stormwaters gaan, vir iemand wat in die greep van dwelms vasgevang is, vir ‘n finansiële deurbraak, vir iemand in ‘n hospitaalbed… soms vertel hul waarheen hul op pad is en vra dat ons bid dat hul veilig by hul bestemming aankom.

Dit is duidelik dat mense besef dat God die antwoord is.  Hy is die enigste antwoord… en Hy is die antwoord op enige probleem.

Wat meer is, Hy bemoedig jou, vertroos jou en die heel belangrikste… Hy gaan saam met jou.  Daar is selfs die versekering dat Hy jou beslis nie in die steek sal laat nie.

Maak nie saak wat jy vandag in die gesig moet staar of watter onmoontlike situasie jou pad gekruis het nie… niks is vir God te groot of te moeilik of onmoontlik nie.  As jy steeds twyfel, lees Markus 10 : 27  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

Thursday 11 October 2018

Daar is hoop


Joël 2 : 25  Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het.

Dalk het ‘n ‘sprinkaanswerm’ onlangs verwoesting in jou lewe gesaai.  Jou finansies lyk soos ‘n kaalgevrete land.  Die sprinkane het alles opgevreet.  Of jou verhouding lyk soos ‘n gestroopte land… gestroop van liefde.  Daar het niks oorgebly nie… Julle is vreemdelinge vir mekaar.  Dalk het verslawing verwoesting gesaai in jul huis.  Die persoon wat jy so lief het, is opgevreet deur die drank- tik- pornografie sprinkaan.  Dalk is satan die sprinkaan wat jou geloof verinneweer.  Terwyl jy op jou broosste is slaan hy toe en vernietig die laaste krummeltjie geloof.

Sprinkane gaan een of ander tyd verwoesting saai in ons almal se lewens, maar God is magtiger as enige sprinkaanswerm.  Moenie mismoedig raak nie.  Moenie dink dis te laat of dat daar geen hoop is nie. 

God sit nie net en kyk hoe alles verlore gaan nie.  Daar is vir jou hoop.  God belowe dat Hy jou sal vergoed… dat Hy sal herstel… dat Hy jou weer kan ophef. 

Wednesday 10 October 2018

Hoekom Here?


Psalm 73 : 3 – 5  want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien.  Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie.

Asaf het geweet dat God baie goed is vir die volk en diegene wat rein van hart is (gelowiges), maar hy het begin twyfel en toe betrap hy homself dat hy ongedurig is omdat dit goed gaan met ongelowiges. 

Dis iets waarmee vele gelowiges kan vereenselwig.

Teëspoed tref baie gelowiges so ‘n bietjie onverhoeds.  In vers 13 & 14 lees ons Dat ek die kwaad vermy het en met 'n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf.

Om die een of ander rede dink ons steeds dat ons gevrywaar is van swaarkry of beproewings.  Dalk sal ons dit nog kan hanteer, want ons weet waar ons krag vandaan kom, maar daar bly altyd daardie bietjie verslaentheid wanneer ons na ongelowiges kyk wat die voorspoed en suksesgolf met groot vreugde ry.

Onlangs luister ek na ‘n boodskap van ‘n prediker wie se naam ek ongelukkig nie gehoor het nie.  Hy vertel ‘n verhaaltjie wat pragtig aansluit by Psalm 73. 

As jong predikant het hy hom met hart en siel in die bediening gewerp.  Die gemeente was nie welaf nie, maar hy het steeds voluit vir God gewerk.  Hul kon selfs geld bymekaarskraap om ‘n gedenknaald op te rig tot eer van God… kontant.  So besluit hy en sy jong gesin om ‘n bietjie see toe te gaan vir ‘n vakansie.  Op pad terug breek hul tweedehandse ‘combi’.  Dit is bloedig warm.  Hy het geen kennis omtrent motors se enjins nie.  Hy probeer mense se aandag trek om te stop, maar hulle jaag verby sonder om te stop.  Saam besluit die gesin dat sy vrou en dogtertjie in die motor sal bly terwyl hy en sy seuntjie probeer ryloop tot by die naaste dorp.  Hoe verder hul stap, hoe meer verbitterd raak hy terwyl hy met God praat in sy binneste.  “Here, ek werk so hard vir u, hoekom moet ons motor breek.  Here, kyk net hoe jaag ongelowiges hier verby in blink motors terwyl ons net ‘n tweedehandse ‘combi’ het.  Here, u sê dan dat U sal voorsien…”

Uiteindelik stop iemand met ‘n rooi Ford Cortina langs hulle.  Die bestuurder leuen oor en draai die ruit af.  “Is dit julle combi wat hier anderkant staan?” vra hy.  Dominee antwoord bevestigend.  “Verskoon tog, maar u lyk vir my soos ‘n dominee.  Is u een?”  “Ja, antwoord Dominee.”  Die deur word oopgemaak.  “Klim in.”  Dominee en sy seuntjie klim in.  Vir ‘n kort entjie ry hul in stilte.  Dan praat die man.  “Dominee, ek glo dat God jou vandag langs hierdie pad staangemaak het.  Agter in my motor se kattebak is ‘n haelgeweer.  Ek is op pad na my skoonouers se plaas.  Daar gaan ek hulle eerste skiet, dan my vrou en dan my twee kinders.  Ek dink jy beter vir my bid, Dominee.” 

Dominee het gebid.  Twee weke later kom 2 ou mense by die kerk ingestap, gevolg deur 2 jong kinders en agter hulle die man wat vir Dominee en sy seun opgelaai het.  Hy hou sy vrou se hand stewig in syne.  Ses dankbare paar oë vind dominee s’n op die preekstoel.

Wat ‘n verhaal!  Dominee sê hy moes sy kop in skaamte laat sak, want hy’t besef dat hy soos Asaf ongedurig was terwyl hy nie geweet het waarmee God besig was nie.   

In vers 23 & 24 sien Asaf die lig want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem.  Hierin is twee waarhede opgesluit.  Eerstens daar is nie ‘n belofte van ‘n probleemvrye lewe vir gelowiges nie, maar wel die besef dat God elke tree met ons sal stap terwyl Hy ons hand vashou.  Tweedens mag ek en jy dalk nie nou ‘n beloning (voorspoed) ontvang nie; ons beloning sal ons eendag kry wanneer ons vir altyd by Hom sal wees.

Tuesday 9 October 2018

Tiendes


Maleagi 3:10  Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

Iemand vra vandag vir my ‘n vraag.  Sy het vir ‘n lang tyd haar tiende gegee omdat sy graag ‘n huis wou hê.  Verlede jaar het God vir haar ‘n huis gegee.  Sedert sy die huis gekry het, het dinge in haar lewe verkeerd geloop en kon sy nie meer haar tiende gee nie.  Sy voel baie sleg daaroor en wou weet wat haar te doen staan.

Om jou tiende vir God te gee, is ‘n bespreking waaroor daar baie verskillende menings is.  Eerstens word daar gedebatteer wat as die tiende gesien word.  Bereken jy dit op jou bruto of netto inkomste?  Of betaal jy alles en gee ‘n tiende van wat oor is?

My mening is dat jou tiende heel bo aan jou begrotingslysie staan.  God kom eerste.  Jy sal weet hoe om jou tiende te bereken, want die Heilige Gees sal jou lei.

As jy twyfel of jy moet gee of nie… moenie gee nie.  God het ‘n blymoedige gewer lief, hy het nie aalmoese nodig nie.  In die Bybelse tye het hy gesonde diere gesoek, nie die sieklikes of kreupeles nie.  Moet ook nie gee omdat jy iets in ruil verwag nie.  Gee omdat jy wil gee.
Vir wie gee ek my tiende?  Weereens laat jy jou deur die gees lei.  Niemand kan aan jou voorskryf nie, net God.

Dan is daar ook diegene wat sal sê hul het nie eens genoeg vir hulself nie, waar sal hul ‘n tiende vandaan kry.  Kyk maar in die Bybel hoeveel keer God mense geseën het wat hul laaste gegee het… die weduwee wat haar laaste meel waarmee sy vir haar en haar seun ‘n broodjie wou bak voor hul omkom van hongersnood moes gebruik om vir Elia ‘n brood te bak.  Daardie weduwee het nooit honger gely nie.   Jy sal ook nie terwyl jy jou tiende gee nie.

As jy hou van ‘n uitdaging, gee vir God wat Hom toekom en kyk hoe hy die sluise ooptrek.  En hoe meer jy ontvang, natuurlik hoe meer gee jy.  Jy sal nooit meer kan gee as wat God jou mee terug gaan seen nie.

Monday 8 October 2018

Jou huis staan op 'n rots


Psalm 18 : 3  Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.

Wat gebeur wanneer jy deur moeilike tye gaan?  Ons reageer natuurlik verskillend.  Een persoon sal op ‘n hopie gaan sit terwyl iemand anders sal kyk wat hul daaraan kan doen. 
Indien jy iemand is wat op ‘n hopie gaan sit, dalk verlam word deur dit waardeur jy tans gaan… iemand is wat sonder hoop is,  mag dit dalk help om so ‘n bietjie terug te kyk op jou verlede.  Dink ‘n bietjie hoe Hy vir jou ‘n pad in die woestyn gemaak het.  Onthou bietjie hoe hy vir jou deure oopgemaak het wat jy nooit gedink het oopgemaak kan word nie.  Onthou jy die keer toe hy iemand oor jou pad gebring het wat jy juis op daardie oomblik nodig gehad het?  Ons almal se uitdagings verskil, maar elkeen het ‘n getuienis van God se almag.  Moet nooit vergeet hoe hy jou opgetel het, op die regte tyd op die regte plek geplaas het, gesond gemaak het, of jou geleenthede gebied het wat jou mond laat oophang het nie. 

Wat laat jou dink dat dit nie weer kan gebeur nie?  As Hy dit een keer kon doen, kan Hy dit verseker weer doen.  As Hy dit vir verskillende mense in Die Bybel kon doen, kan Hy dit ook vandag vir jou doen.

Dit is hoe jy jou huis op die rots bou.  Hou vas aan Sy beloftes.  Hy is jou rots, jou skild, jou verlosser, jou veilige vesting… die Een by wie jy kan skuil.  Maak nie saak wat oor jou lewe kom of wat verkeerd loop nie, wanneer die storm verby is sal jy steeds staande wees.  Ons vergeet te maklik Wie ons dien.  Dieselfde krag wat Christus uit die graf laat opstaan het, leef voort binne ons.  Ons is tot ALLES in staat. 

So onthou vandag een ding… jy mag dalk platgeslaan wees deur die lewe, maar dit is nie waar jy gaan bly nie.  Wanneer ons op die naat van ons rug lê is daar in elk geval net een rigting om te kyk en dit is boontoe.

Sunday 7 October 2018

Hoor


Deuteronomium 1:34  “Toe die Here hoor wat julle sê, het sy toorn ontvlam en het Hy 'n eed afgelê:

Ons hoor so dikwels dat God ‘n God van liefde is… dat Hy geduldig is… dat Hy regverdig is… dalk is dit tyd dat ons hoor dat God ook kan kwaad word.

Dink maar net hoeveel keer word jy kwaad vir jou medemens.  Dis partykeer nie maklik om met party mense oor die weg te kom nie.  Dalk is ek of jy ook nie maklik om mee oor die weg te kom nie.  Dalk is ons nie baie oulike mense nie.  Dalk is ons ongehoorsaam en beproef ons God tot op ‘n punt waar Hy Sy humeur met ons gaan verloor wanneer Sy toorn ontvlam.

Ons wil net die goeie omtrent God hoor.  Ons wil hoor dat Hy ons gebede beantwoord en dat Hy luister wanneer ons vra… en dit is so, maar dit beteken nie ons kan soos bedorwe brokkies optree wat eenvoudig doen wat ons wil, wanneer ons wil, nie omgee wie ons te na kom en verwag dat God maar net altyd liefdevol moet wees en vergewensgesindheid moet openbaar nie. 

Wanneer jy die Ou Testament lees, besef jy hoeveel keer God regtig kwaad geword het vir ‘n ongehoorsame volk wat gereeld afgedwaal het.  Jy staan verstom oor Sy mag en waartoe Hy in staat is om aan die mens te doen.  Die Israeliete wat jare lank deur die woestyn geswerf het op pad na die beloofde land moes almal omkom as gevolg van hul ongelowigheid voordat hul afstammelinge die beloofde land in is.  Hulle het God een keer te veel beproef.

Alhoewel ek ook onwrikbaar in God se vergifnis glo, weet ons nooit wanneeer ons laaste kans aangebreek het nie.

Thursday 4 October 2018

Waarop fokus jy?


2 Korintiërs 4:18  Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Sien is glo, so lui die spreekwoord.  Ons wil sien alvorens ons glo. 

Oor die eeue heen was dit so.  Thomas wou ook eers die gate in Jesus se hande en voete sien alvorens hy geglo het. 

So dikwels fokus ons op sigbare dinge.  Ons wil sien dat daaar genoeg geld gaan wees om te doen wat ons moet doen.  Ons wil sien dat God voorsien alvorens ons glo.  Ons wil God sien voordat ons in Hom glo.  Hoe glo enige iemand in ‘n God wat jy nog nooit gesien het nie?

En tog behoort ons te fokus op die onsigbare.  Ons wil dikwels eerder sekermaak dat dit wat mense kan sien saakmaak.  Ons adres… ons posbenaming… die motor wat ons ry… die plekke waar ons gesien word… wat ons in die lewe bereik het… hoeveel ons bymekaar gemaak het… Ons meet mekaar se waarde aan sigbare dinge eerder as aan onsigbare dinge.  Geen van hierdie dinge gaan jou egter in die hemel kry nie.  Onthou jy nog wat God van die rykman, die kameel en die naald se oog gesê het?

Ons spandeer soveel tyd en energie aan die hier en die nou, maar wat van die Hiernamaals?  Dood is die groot gelykmaker.  Dalk het dit tyd geword om jou fokus te verskuif na dit wat regtig saakmaak.  Nie almal is gered nie en nie almal gaan die Ewige Lewe beërwe nie.  Jy hoef nie te sien om te glo nie, dit is 'n keuse... en jy wil dit nie te laat uitvind nie.

Wednesday 3 October 2018

Onsekerheid


1 Timoteus 6:17  Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.

Droom jy ook daarvan om ryk en/of suksesvol te wees, dalk die Lotto te wen?  Meeste mense begeer ‘n sorgvrye lewe.  En baie leef elke dag asof hul nie ‘n sorg in die wêreld het, terwyl hul geld uitgee asof hul oor eindelose bronne beskik. 

Luister jy na die salarisse wat party mense verdien, kan jy nie help om te wonder hoe dit moet voel om soveel geld per maand te verdien nie.  Dit moet heerlik wees om ‘n sms te ontvang wat so ‘n krediet in jou bankrekening wys. Die probleem met soveel geld is dat jy begin glo jy is die beskikker van jou lewe en lot.  Jy is ‘self-made’.  Wie het God nodig as jy alles kan koop wat jou hart begeer en nooit na ‘n prys hoef te kyk nie?

Pasop, maan die Bybel.  Geld kan nie geluk of gesondheid koop nie.  Rykdom kan oornag verdwyn.  Jou belangrike posbenaming kan oornag van jou af weggeneem word.  Net op God kan jy vertrou.  En dis hier waar party mense vasskop en dink dat hul liewer ‘n kans op hulself as op God gaan neem.

Selfs al het jy al God se voorsiening persoonlik beleef, kom daar steeds tye dat jy twyfel… tye dat jy wonder hoe jy alles gaan betaal… tye wanneer jy wonder hoe jy vir jou kind se studies gaan betaal… tye dat jy wonder hoe jy kop bo water gaan hou wanneer jy jou werk verloor of aftree.

Dis menslik en te verstane, want die lewe is nie goedkoop nie.  Meeste mense het verantwoordelikhede… al is dit net elektrisiteit, water en kos wat jy moet koop, kan jou keel toetrek.

Glo een ding vandag… hierdie teks dra krag.  Dit is ‘n teks wat jy elke dag moet lees terwyl jy die suksesleertjie uitklim en ook wanneer jy aan Sy voorsiening twyfel.  Hy sal jou nooit in die steek laat nie.


Tuesday 2 October 2018

Toegerus


2 Timoteus 3 : 16 – 17  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Nou mag jy vra, maar hoe kan ek op ‘n punt kom waar ek ander kan aanspreek as my eie lewe nie volmaak is nie?  Realiteit is dat niemand se lewe volmaak is nie.  Ons het egter ‘n handboek gekry wat ons presies verduidelik hoe om op tree en natuurlik ook te onderskei tussen reg en verkeerd.

Juis daarom is jy, wat die Skrif lees en bestudeer, volkome voorberei en toegerus om in diens van God te staan. 

Wanneer jy twyfel of dalk begin wonder of jy dit in jou het, gaan na die Woord van God en verfris jou geheue.  Jy het alles wat nodig is om suksesvol, kreatief of talentvol te wees.  Wanneer jy in so ‘n noue verhouding met God staan, sal Hy Sy seen oor jou uitstort.  Jy is Sy geseende, Sy gesalfde.  Daardie salwing bemoedig jou, gee jou krag en die vermoë om die goeie stryd te stry.

As kind van God moet jy dikwels die relevansie en selfs die moontlikheid dat die Bybel die waarheid is verdedig.  Hierdie teks gee jou ook die versekering dat die Bybel nie net ‘n storie is nie.  Dit is deur God geinspireer en is die waarheid.

Monday 1 October 2018

Vergifnis


Eksodus 32:30  Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

Dalk lees jy hier en dink:  "Ons het ‘n Moses nodig."  Moses se verhouding met God was die volk se enigste redding.  Keer op keer het die volk gesondig en keer op keer het Moses tot God genader en om vergifnis gesmeek.

Elke Christen in hierdie land is ‘n Moses.  Dit is elkeen van ons se plig om vir ons land en sy mense by God in te tree.  Ons mag nie moeg raak om te bid nie, maar ek glo verseker dat ons ook ‘n verantwoordelikheid het om ons naaste aan te spreek oor hul sondigheid.  Moses het nie in stilte gaan bid nie.  Hy was baie reguit en glad nie skaam om hul op hul sondige lewe te wys nie.

Meeste van ons keer ‘n blinde oog.  Ons is nie bereid om op te staan vir God nie.  Ons is draadsitters of ‘lou’.  God hou nie van lou nie.  Jy is of vir Hom of teen Hom. 

En dis juis hier waar ‘n Christen hom/haarself onderskei van ander.  ‘n Christen blameer nie net nie.  Jy maak seker die individu weet wat hul verkeerd gedoen het, maar jy verseker hom/haar ook van God se vergifnis wanneer daar ware berou is.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...