Wednesday 29 August 2018

Geseënd is jy


Numeri 23 : 20  Ek het die opdrag om te seën: Hý het geseën, en ék kan niks daaraan verander nie.

Een van die Moabitiese prinse genaamd Balak, het die profeet Bileam gehuur om ‘n vloek teen die naderende Israeliete te gaan uitspreek.  Israel was besig om die een stad en dorp na die ander in besit te neem en Balak het geweet sy pak is op pad.

Hulle staan toe daar op ‘n berg wat op die Israeliete se kamp uitkyk en Balak verwag dat Bileam nou die vloek sal uitspreek.  En wat gebeur?  Daar kom net seëninge uit!  Balak vra:  “Maar hoe dan nou? Ek vra jou om hulle te vervloek en jy staan en seen hulle?"   Bileam wou en kon nie vir Jakob of Israel vervloek nie.  Vers 9:  “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het.”

Balak is desperaat en hy neem Bileam na ‘n ander uitkykpunt waar hy net die helfte van die Israeliete sien, maar ook hier kan Bileam dit nie doen nie, want soos in die vers hierbo moet hy erken dat God reeds geseën het en dat hy wat Bileam is niks daaraan kan doen nie.

Was elke enkele Israeliet sonder sonde?  Nee.  Net so is ek en jy ook nie sonder sonde nie, maar God kies om ons te seen.  Hy sien jou “in Christus” wie se versoenende bloed al jou sondes bedek.

 Vers 21:  Jy sal nie vind dat 'n ramp vir Jakob tref nie, jy sal Israel nie sien swaarkry nie: die Here hulle God is by hulle; oor Hom, hulle koning, jubel hulle.

Die vyand kan maar probeer… as God vir jou is, staan hul nie ‘n kans nie.

Tuesday 28 August 2018

Ouers


Spreuke 23 : 22  Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.

Alreeds in Exodus word ons deur die tien gebooie daaraan herinner om ons vader en moeder te eer.  Dit is defnitief iets wat vir God belangrik is. 

Jy hoef maar net na Jesus as voorbeeld te kyk.  Selfs te midde van Sy lyding, het hy vir een van Sy dissipels gevra om na Sy ma om te sien.  Hy was ‘n voorbeeld vir jou en my van nie net gehoorsaamheid nie, maar ook van respek / eer en liefde vir ons ouers.

Jy hoor en lees te veel van ouers wat vergeet word, van ouers wat verag of geblameer word, van ouers wat mishandel word… 

Toe my seun eendag iets verkeerd doen en ek hom berispe, sê hy:  “Maar mamma het my nooit gewaarsku hieroor nie.”

Ons gesprek het min of meer as volg verloop:  “Ek het nie ‘n lysie wat ek van 1 tot 1000 kan deurgaan om seker te maak dat ek jou alles geleer het en teen alles gewaarsku het nie.”  Hy:  “Hoe moet ek geweet het dit is verkeerd?” Ek:  “Sekere goed moet jy weet omdat jy die basiese beginsels van reg en verkeerd ken.   Ek gaan nie altyd daar wees om vir jou voor te skryf nie.”

Kinders kom nie met ‘n handleiding nie.  Ouers maak foute.  Dalk kan jy as kind so ‘n bietjie meer simpatie vir jou ouers hê as jy besef dat niemand perfek is nie.  Oorweeg miskien hul omstandighede en die uitdagings wat hul gehad het.  Ek kan jou verseker meeste ouers wil net die beste vir hul kinders hê en wat hul doen, doen hul omdat hul net die beste vir jou wil hê. 

Partykeer gebruik mense dit tot hul voordeel dat hul nie perfekte kinderdae gehad het nie.   Dit help nie om jouself te bejammer omdat jy uit ‘n disfunksionele gesin of enkelouer gesin kom of aangeneem is of mishandel is nie.  Dis die harde feite van die verlede.  Baie volwassenes se storie is dalk nog erger as joune, maar hul het steeds ‘n sukses van hul lewe gemaak.

En as jou ouers foute gemaak het… wil jy hul nie maar vergewe nie?  Jy sal nie daarvan hou as God jou sondes voortdurend teen jou kop gooi nie.  Jy verwag Hy moet jou vergewe.  Gun jou ouers dieselfde begenadiging.  Dit maak nie saak hoe ‘sleg’ jou ouers was nie, wanneer hul die dag nie meer daar is nie, mis jy hulle so verskriklik baie.  En baie keer vergeet jy dan die negatiewe en begin jy die lewe deur hul oë sien.

Hoeveel kinders stel regtig in hul ouers belang.  Het jy al ooit met jou ouers gepraat oor hul kinderdae of hoe hul mekaar ontmoet het.  Weet jy waaroor hul nog droom?  Weet jy wat vir hul belangrik is?

Dit is so dat jy dalk vir langer na jou ouers sal moet omsien as wat hul jou versorg het.  Daarom is dit so belangrik om ‘n goeie verhouding tussen ouers en kinders te vestig. 

Bloed kruip waar hy nie kan loop nie… jy is hul kind… moet hul nie verag nie.


Monday 27 August 2018

Anker jou tent


Jesaja 54 : 2  … Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in,

My ouers was lief vir kampeer.  Ons het vele skoolvakansies met ‘n karavaan iewers in ons mooi land gaan kampeer.  Dis regtig ‘n belewenis en herinneringe wat jou vir altyd bybly.

Eers moes pa die karavaan op die staanplek posisioneer en daarna moet die tent opgeslaan word.  Dit was nogal ‘n uitdaging omdat ons nie ons eie karavaan gehad het nie en elke keer een gehuur het.  Daarom was dit gelykstaande aan vandag se spanbou oefeninge.  Luister en spanwerk is vaardighede wat tot die uiterste toe beproef is, maar ons het geweet dat ‘n spanpoging sal sorg dat ons so gou moontlik in die nabygeleë swembad of see kan gaan baljaar. 

Een jaar het ons so ‘n roete deur die land gedoen en ons laaste staanplek was by Agulhas.  Daardie nag het ek besef wat ‘n stormwind is;  dat dit iets is waarop jy selde voorbereid is.

Eers het ma ons geroep om binne die karavaan te kom slaap, want vir ons drie kinders was die tent die lekkerste slaapplek op ons kampbedjies.  Kort daarna het pa besluit dat ons die tent moet afslaan as ons nie die volgende dag net flentertjies wil oorhou nie.  En as die tent stukkend is of nog erger, weggewaai is, sal pa moet opdok.  In die vroeë oggendure het pa selfs besluit om die karavaan aan die motor te haak sodat ons darem behoorlik geanker is.

Net so onverwags tref stormwinde ons ook in die lewe.  Dalk bevind jy jouself vandag in die oog van die storm.  Maak seker jou tentpenne is stewig ingeslaan en die toue styf getrek.  Gee sommer so ‘n ekstra paar kappe.

God is jou tent (skuiling), geloof jou tentpenne en gebed jou tenttoue.  Hoe dieper jou tentpenne m.a.w. hoe sterker jou geloof en hoe meer tenttoue (gebede), hoe groter die kans dat jy die storm sal deursien in een stuk.

Dis nooit maklik nie en dit is nie wat ons wil deurgaan nie, maar dit leer jou ook om die windstil tye in jou lewe te waardeer, daardie tye wat jy salig en gelukkig is.

Sunday 26 August 2018

Selfondersoek

1 Korintiërs 13 : 5  Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

Selfondersoek kan uiters pynlik wees.  Meeste van ons vermy dit.  Dit is veel makliker om te glo dat ek perfek is, dat ek in geloof lewe, en te ignoreer dat my lewe in chaos is as wat dit is om hand in eie boesem te steek.

Volstruispolitiek gaan nie werk as dit by jou geloof kom nie.  Jy kan nie jou kop in die sand druk en weier om te erken dat daar dinge in jou lewe is wat nie reg is nie.

Daar is ‘n verhaaltjie wat ek iewers gehoor het van satan en sy makkers wat gewonder het hoe hul mense kan verhoed om tot bekering te kom.  Hul het allerhande planne gehad.  Hul sou byvoorbeld vir die mense sê om nie Bybel te lees nie, of vir hul te sê die Woord is nie waar nie, of dat God nie bestaan nie, maar uiteindelik het een van hulle gesê:  “Kom ons sê net vir hulle hul hoef nie vandag tot bekering te kom nie.”  En almal was dit eens… die ou gesegde van uitstel kom afstel, is die wenresep.

Wanneer jy wil oorgee, moet jy jou sondes bely.  Dus moet jy eerstens weet wat verkeerd is in jou lewe.  Is daar dinge wat jy moet afsterf? Dan moet jy erken dat jy glo in die Drie-enige God en dat Jesus aan die kruis gesterf het vir jou sondes sodat jy vir ewig kan leef… dat Hy jou Verlosser en Saligmaker is.

Moenie uitstel nie.  Deur jou sondes te ignoreer, laat hul nie weggaan nie.  Ons het almal foute en selfs al kom jy vandag tot bekering, mag jy dalk weer terugval.  Bekering is ‘n reis, dit is nie ‘n bestemming nie. Jy sal ervaar hoe jy groei in geloof en God se genade sal jou dra.

Thursday 23 August 2018

'n Reus vir God


1 Timoteus 6:18  Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam

Wanneer jy die naam Rockefeller hoor, hoor jy terselfdertyd muntstukke klingel.  Baie geld en baie bekend.  Min mense weet egter dat John D Rockefeller Snr ook ‘n ‘n ware Christen genoem kan word en dat dit heel waarskynlik is hoe hy eerder sou wou onthou word.
John D Rockefeller Snr kan maklik gesien word as die mees gesiene besigheidsman van sy era.  Op ‘n stadium is sy netto waarde gesien as die grootste in die wêreld. 

Meeste van sy rykdom het hy gemaak deur Standard Oil wat op ‘n stadium gesien is as ‘n kragtige monopolie in die sake geskiedenis van Amerika.  Hulle het sowat 90% van Amerika se olierafinadery mark besit en die wins wat hul daaruit gemaak het is vir meeste van ons ver bo ons begrip.

Hy het die maatskappy, saam met ‘n paar vennote, oor baie jare opgebou.  Intussen het hy sy hele volwasse lewe elke Sondag kerk bygewoon.  Hy was ook ‘n toegewyde gesinsman.  Sy waardes is oorgedra aan sy seun John Jnr en kleinseun John III.  Ook hierdie twee afstammelinge was toegewyde Christene wat baie produktiewe lewens gelei het. 

Op die ouderdom van 55 het Rockefeller Snr afgetree, maar die volgende 42 jaar het hy daaraan gewy om sy rykdom te gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak.  Hy het langer goed gedoen as wat hy bestee het om geld te maak.  Hy word gesien as die mens wat die meeste geld vir die verbetering van die mensdom gegee het… ooit!.  ‘n Filantroop van formaat en ‘n uitsonderlike reus vir God.  Een van die dinge wat hom na aan die hart gelê het was swart Amerikaners wat toe pas uit slawerny bevry is.  Sy vrou, Getty Spellman, se pa was een van die eerstes om sy slawe vry te stel.  Hy het o.a. die mees gesiene swart Vrouekollege in Amerika gestig i.e. Spellman College.  Hy het ook ander opleidings institusies en skole gestig, maar hy wou nooit sy naam daaraan koppel nie omdat hy gevoel het hy is net ‘n rentmeester van God se rykdom.

Ironies genoeg sal sy naam altyd sinoniem wees met die geld wat hy gemaak het eerder as sy lewe as Christen, ‘n Godvresende man wat onwrikbaar in die lering van Die Bybel geglo het.  Uiteindelik weet ons dat al die geld in die wêreld, selfs soveel as wat ‘n Rockefeller besit, jou nie in die hiernamaals kan kry nie.  Jou geloof, om God as jou Verlosser en Saligmaker te ken en goeie dade, dit is wat regtig saakmaak en hierdie man het die waarheid ontdek en meer as net geld vir sy nageslag nagelaat.

Terloops sy ma het hom van jongs af beinvloed en dit was haar geloof wat hom gedryf het om ook ‘n kind van God te word.  Sy pa was die teenoorgestelde en daar word gesê dat hy ‘n twyfelagtige en nie ‘n baie eerlike lewe gelei het nie.  Soms sou hy vir maande eenvoudig verdwyn en eendag net opdaag met baie geld.  Hy het ook ‘n sadistiese kant gehad, maar geglo dit help om sy kinders ‘skerper’ te maak.  Hy sou hul byvoorbeeld uitdaag om te spring terwyl hy sy arms uithou om hul te vang en dan wegtree sonder om hul te vang.  Op 16 het John besluit hy het genoeg gehad van die wisselvalligheid en dat dit tyd is om op sy eie bene te staan.  Via  afstandonderrig het hy ‘n boekhoukursus voltooi en toe by maatskappye gaan aanklop om werk. Dit was die jaar 1854.  Hy het fanaties gespaar en binne 5 jaar sy eie maatskappy begin.  Die res is geskiedenis, soos hul sê. 

Die fondasie wat sy ma gelê het, sou hom egter veel verder neem as sy finansiële vermoëns.


Wednesday 22 August 2018

Vee eers voor jou eie deur


Matteus 7 : 5  Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

Al woon ons in glashuise, gooi ons steeds graag klippe.  Dalk is dit omdat ons blind is vir ons eie foute. Of dalk is dit omdat ons regtig nie besef dat ons ook sondig is nie.
Hoe dit ookal sy, van vers 1 in Matteus 7 waarsku Jesus ons om nie te oordeel nie.  Hy herinner ons selfs dat ons ook met dieselfde maat geoordeel sal word waarmee ons ander oordeel. 

En tog, van kleins af, is ons geneig om te oordeel.  “Mamma, praat met boetie… kyk wat doen hy.”  En tien minute gelede was dit presies wat sussie gedoen het.  As grootmense raak ons dikwels kwaad vir ons eggenote se gedrag, maar ons besef nie dat ons ook dinge doen waaroor hul nie gelukkig is nie.

Die les wat ons hier leer is om eers behoorlike selfondersoek te doen alvorens ons na iemand anders vinger wys.  Net omdat ek jou sonde raaksien, beteken nie ek is sonder sonde nie.  Net omdat ek jou sonde aan die groot klok hang, beteken nie ek staan nie self agter die deur nie.

Op die ou einde is ek vir my eie heil en siel verantwoordelik.  Ja, ek het ‘n verantwoordelikheid om jou reg te help, maar ek moet darem eers sorg dat dit skoon is voor my eie deur alvorens ek by jou deur loop vee. 

Tuesday 21 August 2018

Sodat almal kan sien


Matteus 23 : 5 – 7  Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.  Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.
Markus 12 : 38 – 40 Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word,  wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê.  Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Jy kry mense wat vir die gehoor speel.  Hulle wil raakgesien word.  Daarom sal hul voor in die kerk sit, hoogdrawend bid, voorgee dat hul vir ander omgee… ens ens ens.  

Ken jy sulke mense?  Dalk is jy so iemand. 

Jesus het nie veel ooghare gehad vir mense wat wou hê ander moes sien hoe belangrik hul is of wat hul vir ander doen nie.

Voorgee mag sekere mense op aarde beindruk.  Dit mag mense selfs na jou toe aantrek.  Ons hoor so dikwels hoe mense “name drop”.  Die feit dat jy iemand ken wat volgens mense nogal belangrik is, maak jou geensins belangrik nie.  En hoe belangrik sal daardie persoon in God se oë wees?

Selfs die Fariseërs wat op die hoeke van strate bid, was nie aanvaarbaar vir Jesus nie.  Ons moet in ons binnekamer gaan bid.  Daar is mense wat pragtig kan bid, met hoë woorde en vele onderwerpe dek en dan dink jy hulle moet ‘n groot Christen wees, want jy kan nie so bid nie.  Nee, ‘n opregte gebed, al is dit die eenvoudigste gebed, beteken veel meer as hoogdrawende, vooraf geoefende leë woorde. 

God is op jou hart ingestel.  Wat in jou hart aangaan, kan jy vir mense wegsteek, maar nie vir God nie. 

Laat ons waaksaam wees en nie eie belang soek nie.

Monday 20 August 2018

Bid asb vir my

Vandag het ek nie 'n boodskap vir jou nie.  Ek vra jou vandag om vir my te bid.

Jou gebed vir my vandag sal SO waardeer word.

Baie dankie.

Sunday 19 August 2018

Groen velde en kabbelende stroompies


Psalm 23 : 1 – 3  n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.  Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.  Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Sielerus is iets waarna meeste mense smag, maar dit is min beskore.  Ons is onrustig, bekommerd, word herinner aan pyn, is bang, voel of ons kragte ons verlaat het…

Waar sal daar vir ons rus wees?  Hoe ‘cope’ jy in ‘n wêreld wat jy partykeer dink totaal en al mal geword het?

Die mens bestaan uit drie dele:  Gees, siel en liggaam.  Jou gees is die deel wat vir ewig kan voortleef.  Dan het jy ook ‘n siel en ‘n aardse liggaam.

Jou siel is die kwesbaarste.  Dit is waar die vyand sy aanslae op mik.  Dit is waar daar gebrokenheid mag wees.  Dis waar pyn en teleurstelling gewortel is.  Dis waar rusverstoring so maklik plaasvind.  En dit is juis hier waar God werk.  Hy het die vermoë om jou sielerus te gee.  Hy laat jou rus in groen weivelde.  Hy bring jou by waters waar daar vrede is.  Hy vul jou met nuwe krag. 

En dan kan God genesing bring in daardie gebroke plekke. Hy kan dit weer heelmaak. Hy kan dit herstel en Hy kan dit beter maak as voorheen.

Daardie prentjie van groen gras en ‘n kabbelende waterstroompie… dis jou beskore. 
Eers as ons gekalmeer is en Sy teenwoordigheid ervaar, kan ons weet dat die restorasie proses kan begin. 

Laat toe dat God jou tot rus bring.  Hou op jaag… Hou op strewe na meer en beter… Hou op ly… Ware sielerus is net by God te vinde.



Thursday 16 August 2018

Krag en vreugde


1 Kronieke 16 : 27  Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en vreugde vul die plek waar Hy is.

Partykeer voel ons swak omdat die lewe ons wind uitgeskop het. 

Wat ons dan nodig het is krag en vreugde.  Die goeie nuus is dat dit binne jou bereik is.  Wanneer jy in die teenwoordigheid van die Almagtige God is, dan sal jy nie anders kan as om te voel hoe Sy krag en vreugde oor en deur jou spoel nie.  Dis binne jou bereik, oorvloedig en volmaak.  En weet jy wat nog?  Wanneer jy Sy vreugde in jou het, beskik jy ook oor Sy bonatuurlike krag.  Niks is teen jou bestand wanneer jy gevul is met die krag en vreugde van die Lewende God nie.

Let egter daarop dat krag en vreugde in God se teenwoordigheid te vinde is.  As jy Hom nie ken nie, as jy nie ‘n gelowige is nie, gaan jy dit nie ervaar nie, want jy moet in Sy teenwoordigheid wees.  Die goeie nuus is dat Hy wag dat jy tot Hom nader as jy Hom nog nie ken nie. 

Wanneer jy gevul is met daardie onbeskryflike vreugde, soms terwyl trane oor jou wange stroom, selfs terwyl jy nog die skadu van depressie oor jou voel, of selfs wanneer jy geen rede het om vreugde te ervaar nie, sal jy nie anders kan as om Hom te loof en prys nie. 

In jou donkerste uur is God steeds by jou.  Mag dit jou moed gee as jy vandag platgeslaan voel.



Wednesday 15 August 2018

Wees die positiewe een


Efesiërs 4 : 27        Moenie die duiwel vatkans gee nie.

Al wat satan moet doen om jou vrede te steel, is om vrees in jou aan te wakker.  In Suid-Afrika is dit vandag nie juis ‘n kuns nie.  Ek hoef nie uit te brei hierop nie.  Tensy jy op Mars leef, weet jy dat hier genoeg nuus is om meeste mense die horriepiep te laat kry.

Hoor een ding vandag baie mooi en duidelik.  Vrees is nie van God nie.  Vrees is wanneer satan sy greep op jou kry deur jou bang te maak.  Vrees verlam ons en is die teenoorgestelde van hoop.  By God is daar altyd hoop.  Satan sal jou egter so verlam met vrees dat jy hoop gaan verloor.

Die goeie nuus is dat God groter is as enige vrees.  Sy krag in jou is groter as enige mag teen jou.  Om Sy krag egter tot volle werking te bring, moet jy die deur vir vrees toemaak.  Moenie die deur van jou lewe eens op ‘n skrefie oopmaak vir vrees nie, want voor jy jou kom kry het hy homself ingewurm.  Dit is hoekom ons selektief moet wees vir dit wat ons lees, na kyk of wie ons na luister. 

Jy sal min hoor dat iemand na jou toe kom en sê:  “Ek moet jou net vertel hoeveel hoop ek het…”  Nee, mense sal eerder met mekaar praat oor hul vrese en dit sodoende nog groter maak.

As jy toegelaat het dat vrees met jou op loop sit in enige area van jou lewe, het ek goeie nuus vir jou.  Jy kan vandag nog uit  daardie beklemmende kloue ontsnap.  Begin deur lewe te spreek. Lees jou Bybel en mediteer op God se beloftes.  En wanneer jy met ander gesels, wees die positiewe een, die een wat hoop bring en nie vrees aanwakker nie.

Tuesday 14 August 2018

Selfbeheersing


Spreuke 25:28  ‘n Stad sonder 'n muur om hom te beskerm, so weerloos is 'n mens as hy nie selfbeheersing het nie.

Wanneer jy met iemand gesels oor byvoorbeeld hul verslawing aan drank, hoor jy dikwels dat dit alles begin het omdat hul nie vir hulself kon nee sê nie.  Nog net enetjie…

Of dit nou drank, pornografie, kos, dwelms of wat ook al is… dit sal nooit ‘n probleem word as jy selfbeheersing aan die dag lê nie.  Wanneer jy nie jou eie drange of begeertes in toom kan hou, beteken dit dat jy beheer oorgee aan satan.  En glo my dit is presies wat hy wil hê.  Hy weet hy moet jou net sover kry om te glo jy verdien nog ‘n drankie, happie, pilletjie… 

Sou jy selfbeheersing toepas, is dit soos om ‘n muur om jou te bou… ‘n muur wat jou beskerm.  Ons weet dat Jerigo beskerm was deur ‘n muur.  Die oomblik toe daardie muur ineenstort, was die stad weerloos.  Net so is jy weerloos as jy jou selfbeheersing skietgee.  Aag, ek gaan net vanaand ‘n bietjie oorboord, want dis so ‘n lekker partytjie… Ek sal Maandag begin met daardie dieet…  Ek kyk net na pornografie, ek doen niks verkeerd nie.

Selfbeheersing is nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd.  En as jy die versoeking een keer weerstaan het, kan jy dit weer en weer weerstaan.  Elke keer bou jy die mure om jou ‘n bietjie hoër en beskerm jy jouself teen die aanslae van die bose.

Monday 13 August 2018

Die Matteus 6 beginsel


Matteus 6:25  “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

Vandag wil ek gesels met iemand wat skool verlaat het op ‘n baie jong ouderdom… iemand wat eenvoudig besluit het dat skoolgaan nie vir hom of haar is nie.  Dalk was jy ongelukkig as gevolg van redes wat net jy weet.  Miskien was jy geboelie.  Dalk het jy minderwaardig gevoel omdat dit voorkom asof die ander kinders dit so maklik het en jy moet met die minste klaarkom.  Miskien is jy disleksies of jy leer moeilik of jy verstaan goed net nie so maklik nie.  Wie weet, dalk het jy skool verlaat omdat jou ouers gevoel het dat jy in elk geval nie leer nie en net sowel ‘n inkomste kan begin verdien.

En nou kry jy nie werk nie.  Of jy doen werk waarvoor jy bitter min betaal word.  Jou vriende het dalk al matriek gemaak en studeer verder en jy sukkel steeds voort.

Moenie moed verloor nie.  Robert de Tourneaux was iemand wat in graad 6 besluit het dat hy nie verder wil skoolgaan nie.  Dit het egter nie daar gebly nie.  Hy het skouer aan die wiel gesit en ‘n entrepreneur van formaat geword.  Hy is die grootste vervaardiger van grondverskuiwings masjinerie met fabrieke op 4 vastelande en meer as 300 patente geregistreer teen sy naam. Hy het ‘n fenominale bydrae gelewer i.t.v. pad konstruksie en swaar toerusting wat die wêreld vir altyd verander het.

Hy was ook ‘n Christen.  En dit is hier waar mense hom veral sal onthou.  Hy was een van die mees formidabele Christen sakemanne wat jy ooit sal teëkom.  Onder andere het hy 90% van sy inkomste gegee vir die verspreiding van die woord en glo hy dat hy heel gerieflik kan leef van die oorblywende 10%.

Jy sien hy het die beginsel in Matteus 6 volkome verstaan en daarin geglo.  Niks is belangriker as die lewe nie en boonop belowe God om te voorsien en daarom hoef jy jou nie siek te maak oor inkomste en besittings nie.

So die feit dat jy nie skool klaargemaak het nie, beteken nie dat jy ‘n mislukking is nie.  Robert is ‘n tekenende voorbeeld van wat vermag kan word as jy eenvoudig voortbeur en in jouself glo.

God het jou gemaak en toegerus met alles wat nodig is om ‘n sukses van jou lewe te maak.  Moenie dat enige iemand jou anders vertel nie. 

Sunday 12 August 2018

Verandering / Change


2 Samuel 14:20  Joab het dit gedoen om 'n verandering in die loop van sake te bring     

How to become a Quality Transformer - Received from Jacques

Change: If you don't ride the wave of change, you'll find yourself beneath it!

This simple act of kindness changed the way I saw change forever.

There is a lot of changes in our everyday lives…. some small, some big, some made by ourselves and some made by other people. Change will happen, it’s a fact. But how you respond to it and how you deal with it will determine whether you use the change to your advantage or whether the change will ruined a beautiful experience for you.

So the choice of how you react to the change is all up to you. And if your mind set is positive the change can be one of quality.

This is my definition of 'Quality Change'….. It is the capacity to transform ‘negative’ situations, or circumstances, into something beneficial for one’s self and others.

This is how we should view and handle all changes in our lives. If you do, you will become a ‘Quality transformer’.

And this is my definition of a 'quality transformer'….. Its people who can turn walls of resistance into bridges of understanding and keep crossing them. People who can change any obstacle into a stepping stone of success. People who can reverse the niggling, paralysing dragons of doubt into radiant self-confidence, dissolving the thought 'impossible' from the mind. People who thrive in an ever changing environment!

Verandering sal altyd met ons wees.  Net soos dood en belasting, is verandering die een ding waarvan ons seker kan wees.  Verandering ontsenu baie mense en daarom het ek dit goedgedink om vandag bogenoemde oor verandering met jou te deel.  Dit sou net nie dieselfde effek gehad het as ek dit in Afrikaans sou vertaal nie.  

Thursday 9 August 2018

Dood


Jesaja 5 : 14 – 15  Al die mense wat nou skree en juig, sal saam afgaan na die doderyk, ook die belangrike mense.  Dan sal die hoogmoedige mense nie meer belangrik wees nie.

Mense praat nie graag oor die dood nie.  Selfs soos jy hier lees wonder jy dalk hoekom ek nou juis oor so iets moet skryf.  Dis ‘n onderwerp wat ons vermy.  Hoekom weet ek nie, want dis een van die min dinge waaroor ons sekerheid het.  Niemand lewe vir altyd hier op aarde nie.

Dood is ook die groot gelykmaker.  Wanneer ons sterf, kan ons niks saamneem nie.  Ja, ons kan dalk in ‘n deftige kis begrawe word en ‘n groot begrafnis kan gehou word om te wys hoe belangrik ons is.  Daar kan selfs baie mense op ons begrafnis wees omdat ons so ‘n baie belangrike persoon was.  Wanneer ons egter die doderyk betree, is ons gelyk. 

Dood is nie opsioneel nie.  Ons is elkeen een dood skuldig.  Elkeen van ons moet daardie paadjie stap.  Dis ‘n eensame paadjie as jou siel nie gered is nie, maar ‘n blye dag as jy gered is, want Jesus staan met ope arms, gereed om jou te verwelkom.

Daarom is dit so belangrik om seker te maak dat jy gereed is vir daardie dag.  Dis geen geheim dat ons nie een weet wanneer ons uurglas gaan leegloop nie.  Party van ons is uitstekende beplanners.  Ons beplan alles in die fynste besonderhede, maar ons wil dalk nie ‘n begrafnispolis uitneem of ‘n testament opstel omdat ons reken dit trek die dood aan.  Ek het al van soveel mense gehoor wat se hul wil nie daaroor praat nie, want dan gebeur dit dalk.  Dit gaan een of ander tyd gebeur, hoekom nie gereed wees nie.

En maak seker jou siel is gered sodat dit net jou aardse liggaam is wat begrawe word, maar dat jou siel die Ewige Lewe sal beerwe.

Tuesday 7 August 2018

Dankie


I Thessalonisense 5:18  Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

Mense het kort geheues. Ons vergeet so maklik van die moeilike tye… tye waartydens ons op ons kniee deurgebring het… biddend, smekend… dat God uitkoms moet bring.  Dink nou maar aan die onlangse droogte in die Weskaap.  Ons het voortdurend gebid vir reen en toe God voorsien… hoeveel dankseggingsdienste is daar gehou?  Hoeveel van ons het teruggegaan en God gedank vir die reen.

Hoe kan ons God weer vir hulp vra as ons nie eens die ordentlikheid het om dankie te se vir die reen nie?  Of is ons so arrogant om te dink dis Winter so dit moet eenvoudig reen.
En tog bly God geduldig.  Tog hou Hy aan om ons te seen, sonder dat ons dit verdien en dalk juis as gevolg van ‘n klein groepie wat wel onthou het om dankie te se.

Die droogte is nog lank nie gebreek nie.  In die Weskaap is die damme net so oor die 50% vol en in die Ooskaap bly dit droog.  Julie maand was van die droogste in ‘n lang tyd.  Ja, ons het lieflike dae, selfs warm dae, maar sonder voldoende water is ons gedoem.  Ek kan nie help om te wonder of dit nie God is wat die sluise toehou sodat ons kan besef dat Hy selfs in die middel van die Winter dit nie sal laat reen as ons nie daarom vra nie.

Hou aan om God te nader in gebed.  Hou aan om te vra.  Hy is ‘n vrygewige gewer, maar onthou ook om dankie te se.

Monday 6 August 2018

Kyk nie angstig rond nie


Jesaja 41:10  Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand

Ons almal kry tye dat ons bekommerd of bang raak en angstig rondkyk. 

Dit is onseker tye waartydens ons leef.  Daar is onrus en oproerigheid… wetteloosheid en eiesinnigheid. By dit alles is jy dalk bekommerd oor jou toekoms by die werk waar dit nie goed gaan as gevolg van die ekonomie nie.  Jy raak benoud as jy dink wat die toekoms vir jou kinders inhou.  Dalk is jy bekommerd oor jou huwelik, jou finansies, jou gesondheid.  Jy moet dalk vir ‘n onderhoud gaan of jy het ‘n afspraak met iemand, maar jy het jou bedenkinge.  Miskien moet jy binnekort eksamen skryf en jy kry eenvoudig nie die inligting in jou kop nie.

Dis sulke tye dat jy as kind van God kan rus in die wete dat Hy jou gerusstel:  “Moenie bang wees nie my kind.  Moenie benoud rondkyk en wonder waar jou hulp vandaan gaan kom.  Ek is hier… nie net gaan ek jou help nie, maar jy het my volle ondersteuning en as dit moet, gryp ek self in… met my reddende regterhand sal ek jou uit die kloue van gevaar red.”

Vind berusting in die wete dat God vir jou is en dat niemand daarom teen jou kan wees nie.

Thursday 2 August 2018

Dalk is dit hoekom ons twyfel


Partykeer twyfel ons aan God se vermoëns.  Daarom het ek gedink ek moet kyk hoe ons, wat na Sy beeld geskape is, met Hom vergelyk.

Is jy in staat om op meer as een plek op dieselfde tyd te wees?  God is alomteenwoordig.  Hy is in Koekenaap, New York, Moskou, Sidney… Hy is by jou in die tronk, die siekbed, langs die sportveld, in die raadsaal…

Kan jy na meer as een persoon op dieselfde tyd luister?  Miljoene mense se gebede gaan elke dag op en God luister na almal.

Ons hetolke nodig wanneer ons nie 'n taal verstaan nie.  Hy verstaan selfs elkeen se taal.

Wie het nog nooit ‘n leuen vertel nie?  Numeri 23 : 19  God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie

Niemand wat ek ken kan sonder slaap klaarkom nie.  Psalm  121 : 4  Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.

Daar was al mense wat beweer hul was dood en het weer teruggekom uit die dood.  Niemand was egter al ooit vir drie dae dood en het uit ‘n graf opgestaan nie.  Onthou daar was mense wat dubbel sekergemaak het Hy is dood en daar was wagte by die graf.

Het jy al ooit probeer tel hoeveel hare daar op jou kop is?  Lukas  12 : 7 Selfs die hare op julle kop is almal getel.

Wanneer ek na al hierdie verskille kyk, besef ek hoekom ons aan God twyfel.  Ons meet Hom volgens menslike standaarde en ons skiet ver tekort.  Dink net aan hierdie paar voorbeelde en besef dan dat God nie oor menslike vermoëns beskik nie.  Hy is God en daarom is Hy in staat tot veel meer as wat ek en jy Hom krediet voor gee.  Efesiërs 3 : 20 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,


Wednesday 1 August 2018

Liefde


Kolossense 3:19  Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.

Daar gaan byna nie ‘n dag verby dat ons nie lees van ‘n vrou of kind wat mishandel of verkrag is of was nie.  Ons lees van kinders wat ontvoer word en die hartseer verhale wanneer hul liggaampies gevind word.  Nadoodse ondersoeke en hofsake ontbloot verskriklike dade wat hierdie kinders dikwels aangedoen is.

Ons lees van ouers wat hul kinders vir jare basies aanhou terwyl hul geslaan word en dikwels uitgehonger word. 

Moorde deur mans op hul vrouens is amper net so alledaags soos korrupsie.  Verkragting is so alledaags, dit haal nie eens meer die hooftrekke nie.

Waar het alles verkeerd geloop?  Sielkundiges kan vir ons vertel dat iemand wat aan geweld as kind blootgestel is, dikwels ook gewelddadig word as hul groot is… Of jaloesie word die skuld gegee, of drank of die feit dat hy/sy my getart het… Dit verskuif net die blaam.  Elke mens is verantwoordelik vir hul eie lewe / keuses en om iemand seer te maak is ‘n keuse. Dis onaanvaarbaar… veral vir God.  

Jy wonder of die egpaar ook eendag met sterre in hul oë voor God trou beloof het.  Beloof het om die persoon lief te hê… te beskerm… en te ondersteun.  Waar het dit so verskriklik verkeerd gegaan?  Hoe kan jy iemand wat jy lief het, doodmaak?  Dis regtig nie moeilik in Suid-Afrika om te skei nie.  En ja, egskeiding is net so ‘n sonde soos moord.  Dit beteken egter nie jy mag God speel en beskik oor lewe en dood nie. 

En as jy nie jou kind(ers) wil hê nie, of hul is te stout of kos te veel geld, hoekom hul dan in die eerste plek hê.  Hoekom hul nie liewer laat aanneem nie?

Om mekaar lief te hê, getroud of nie, is ‘n opdrag van God.  Dit is nie opsioneel nie.  As jy iemand tenakom verbreek jy eenvoudig die grootste verbod, want jy kan nie liefhê en iemand seermaak of doodmaak nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...