Sunday 30 December 2018

Jakobus 3 : 5

So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.

Thursday 27 December 2018

Lukas 10 : 41 - 42

"Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig.  Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie."

Wednesday 26 December 2018

Nehemia 8 : 11

Gaan vier fees, eet en drink en deel uit aan die wat niks voorberei het nie.  Moenie bedroef wees nie, as julle die here met blydskap dien, sal Hy, julle beskerm.

Sunday 23 December 2018

Matteus 1 : 23

Die maagd sal swanger word!  Sy sal aan 'n Seun geboorte gee.  En die mense sal Hom Immanuel noem.  (Hierdie naam beteken:  God is by ons)

Thursday 20 December 2018

Lukas 17 : 4

Selfs as hy sewe maal op 'n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê:  "Ek is jammer," moet jy hom vergewe.

Wednesday 19 December 2018

Matteus 7 : 12

Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.

Tuesday 18 December 2018

Matteus 5 : 44

Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat vir julle vervolg.

Monday 17 December 2018

Hebreërs 10 : 15

Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

Friday 7 December 2018

Ons sal nie buig nie


Daniel 3 : 17 – 18  Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag.  Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Sadrag, Mesag en Abednego is saam met Daniël gevange gehou in Babilonië.  Die Babiloniërs was ‘n veglustige nasie en het Juda en Israel verslaan.  Die volk het reeds 70 jaar in gevangeneskap geleef.  Hulle is daagliks uitgedaag op verskeie maniere.

Koning Nebukadnesar het nogal bewondering gehad vir hul toegewyde geloof en trots, maar hy wou hul inlyf by sy volk se kultuur.  Die beste manier sou wees om hul sover te kry om hul geloof prys te gee en saam met die res afgode te aanbid.

So bevind die volk hul saam met die Babiloniërs en daar word van hul verwag om, wanneer die musiek begin speel, voor ‘n goue beeld van die koning te buig.  Diegene wat nie buig nie, sou in ‘n brandende oond gegooi word.  Wat sou ek of jy gedoen het?

Die drie Joodse manne skop egter vas.  Nebukadnesar is selfvoldaan en hy vra:  “As julle nie bid nie, word julle in die oond gegooi en wie sal julle dan daaruit red.”  Dis toe dat die manne in vers 17 en 18 antwoord.  “Ons weet God kan ons red, maar as Hy dit nie doen nie, sal ons nog steeds nie u god aanbid nie.”  Wow!  Dis nou om koelkop te bly as die oond se deur oopstaan.

Die uiteinde was dat hul nie voor die beeld gebuig het nie.  Hul is in die oond gegooi en vooraf het die koning gevra dat die oond sewe keer warmer gemaak moet word.  Dit was so warm dat die manne wat hul ingegooi het, verswel is deur die hitte.

Mense, ek wens ek kon Koning Nebukadnesar se gesig sien toe hy in die oond kyk en sien die manne wat vasgebind was, loop los rond en wat meer is, daar is ‘n vierde persoon in die oond! 

Dit is wat God doen as jy glo… nie net sal Hy jou beskerm wanneer jy deur die smeltkroes van die lewe gaan nie, maar Hy sal saam met jou te midde daarvan wees.  Net soos wat hy in Psalm 23 beloof om saam met jou deur die dal van doodskaduwee te gaan en jou verseker in Jesaja 43 vers 1 – 2 dat hy saam met ons deur die rivier en vuur sal gaan… dat die water ons nie sal wegspoel en dat die vuur ons nie sal brand nie… Dit is die God wat ons dien!  Hy sal jou nooit ooit versaak as jy aan Hom vasklou nie.

Thursday 6 December 2018

Bid en twyfel gaan nie saam nie


Jakobus 1 : 6 – 8  Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.  So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

As jy al vir weke en maande lank vir iets gebid het, sonder om God se hand te sien beweeg, wil ek nog die Christen ontmoet wat nie twyfel nie.  Dis nie asof jy wil twyfel nie, maar die een oomblik glo jy vas en dan gebeur steeds niks… dan wankel jou geloof weereens.  Jakobus vergelyk dit met ‘n brander.  Vorentoe, agtertoe, vorentoe, agtertoe..

Jakobus waarsku ons hierteen.  Hy sê juis ons moet bestendig wees.  Al manier om ingestel te bly, is om biddend te bly.  Natuurlik gaan satan twyfel saai, want hy weet presies waar jou swakpunte is.

Jakobus raai ons selfs aan om bly te wees wanneer ons deur beproewings gaan.  Jitte Jakobus!  Ek kan nie meer nie!  

Dis juis waarvan hy praat, want hy sê dat as ons ‘n toets deurstaan het, dit daartoe lei dat ons volhard en deur die volharding gaan ons uiteindelik ons lewensdoel bereik, geestelik gesond wees en niks kortkom nie.

Hy besef ook dat ons juis gedurende sulke tye nie logiese besluite kan neem nie.  Daarom raai hy ons aan om God vir wysheid te vra.  Jakobus bevestig ook dat God ons die nodige wysheid sal gee.

Bly biddend en as jy agterkom jou geloof begin wankel, bid vir wysheid en krag om staande te bly.

Tuesday 4 December 2018

God is met jou


Jesaja 41 : 10  Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Is jy iemand wat teikens moet bereik… in verkope van watter aard ookal?  Werk jy jouself oor ‘n mik, maar jy bereik eenvoudig nie sukses nie?  In verkope het jy vele vaardighede nodig, maar een daarvan is deursettingsvermoë.  Jy moet as’t ware daardie hond wees wat nie die been laat gaan nie.  Meeste mense gee te maklik op.

Ek lees iets baie interessant.  Meer as die helfte van verkoopsmense misluk omdat hulle nie ‘n tweede of derde keer teruggaan nie.  Omtrent 58 persent maak een oproep en stop dan.  25 persent maak twee oproepe en stop dan.  Vyftien present maak drie oproepe en stop dan.  Twaalf present wat weer en weer teruggaan, maak 80 persent van alle verkope uit.

Niemand staan in die oggend op en wonder hoe hul vandag kan misluk nie.  Nee, almal wil sukses behaal.  Meeste mense werk 8 ure en jy wil hê dit moet agt ure wees wat tel.  Moenie met mislukking tevrede wees nie.  Staan elke keer op as jy val en probeer weer.  Partykeer is dit juis daardie laaste sleutel aan die bos wat die deur oopsluit.  En onthou God is met jou.  Filippense 1 : 6  Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Net diegene wat ‘n wedloop voltooi, staan ‘n kans om beloon te word.  As jy dit net begin en nie klaarmaak nie, is daar geen hoop op beloning.  Dis nie hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig. 

Monday 3 December 2018

God se guns


2 Korintiërs 6 : 2  Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

Soms bid ons en God verhoor ons gebede, maar ons besef dit nie eens nie.  Ons bid vir ‘n deurbraak, maar ons glo dit sal volgende week, volgende maand of 20 jaar van nou kom.  Om die een of ander rede verwag ons nie dat God gebede op die oomblik kan beantwoord nie. 

Daarom wil ek vandag vir jou sê:  “Nou is die tyd vir God se guns.  Nie volgende week, volgende maand of 20 jaar van nou.  Nee, nou is dit tyd wat God jou wil verstom met Sy goedheid en oorweldig met Sy liefde.”

Iets ongelooflik is op die punt om te gebeur.  Is jy gereed daarvoor?  God wil hê dat jy weet jy leef in ‘n tyd waar Sy guns op jou rus. 

Jy is alreeds spesiaal omdat Jy gered is deur Jesus Christus.  Daarom is Jy ook in ‘n posisie om seëninge en voordele uit Sy hand te ontvang.  Wat behels dit vra jy?  Jy vind dit in Die Woord:  Ewige Lewe, vrede, vreugde, hoop, gesondheid, voorsiening, beskerming, ens, ens, ens.  Sy guns duur ‘n leeftyd en dit sal letterlik ‘n leeftyd vir jou neem om dit op te gebruik. 



Sunday 2 December 2018

Trots


Jesaja 23:9  Die Here die Almagtige het dit besluit. Hy breek die trots, Hy maak die hoogmoed tot niks,

Trots kan ‘n struikelblok wees vir menige gelowige, selfs sonder dat ons dit weet.  Trots kan ons verhoed om drie eenvoudige woordjies te uiter:  “Ek is jammer.”  Trots kan veroorsaak dat verhoudings en vriendskappe sneuwel.  Trots kan jou beste, maar ook jou slegste eienskap wees. 

Partykeer gryp God in.  Hy laat daardie klein stemmetjie binne jou, jou aanhits om te gaan regmaak waar jy verbrou het.  Natuurlik is jou eerste instink om te sê:  “Ek was nie verkeerd nie… ek weier.”  Jy sien, verskoning gaan nie oor wie reg of verkeerd is nie.  Dit gaan daaroor om die minste te wees… die ander wang te draai. 

Jy mag dalk nie lus wees om dit te doen nie, maar dis ‘n goeie idee om gehoorsaam te wees.  Nie een van ons wil die Heilige Gees bedroef deur ons trots of hoogmoed nie. 
Tirus het duidelike tekens van hoogmoed getoon.  Hulle het krone vir konings uitgedeel, handelaars soos prinse ontvang, hul sakelui is hoog geag onder andere… (Aldus vers 8), en God neem ‘n besluit.  Hy gaan hul breek… daardie hoogmoed tot niks bring.

Dis lekker om erkenning te kry… dis lekker om suksesvol te wees, maar ons mag nie toelaat dat dit definieer wie ons is nie.  Nederigheid daarenteen is iets wat God se hart verheug.

Dalk is dit ‘n goeie idee om selfondersoek in te stel en seker te maak daar is nie ‘n gryntjie hoogmoed / trots in jou nie.  As daar is, raak daarvan ontslae.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...