Thursday 29 September 2016

Om ryk te wees

Spreuke 23 : 4  Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie

Oor die eeue heen is dit al waarna die mensdom streef… rykdom.  Om ryk te wees… Ons meet mense aan hul ‘rykdom’.  As mense baie geld het, styg hul aansien in ons oë.  Kyk maar na die filmsterre… die publiek kan nie genoeg hoor van hul sorgelose lewens nie. Ons koop tydskrifte omdat ons wil sien waar hul vakansie hou of hoe hul leef.  Heimlik begeer ons om soos hulle te wees.

Daarom werk meeste mense hard en woeker dag in en dag uit om ‘n goeie salaris te verdien en hopelik ‘n goeie verhoging te kry… nog geld.  Ons droom van daardie dag dat ons ‘ryk’ sal wees.

Rykdom is soos ‘n reënboog. Al loop jy tot aan die einde van die aarde, sal jy hom nooit kan aanraak.  Dit bly meeste van ons ontwyk.  Ons hanteer die druk deur sielkundiges te besoek en medikasie teen uitbranding en stress te gebruik.  Ons trap op ander en gee al meer en meer van ons waardes prys net om bo uit te kom.

Is dit regtig die moeite werd?  Wanneer jy eendag voor God staan, gaan hy jou nie vir jou laaste drie maande se betaalstate of jou bankstate vra nie.  Ons gaan nie in die hemel in verskillende groepe gedeel word volgens ons beroepe nie.  Die direkteur en die werker gaan aan dieselfde waardestelsel gemeet word.

Wednesday 28 September 2016

Van nuwejaarsdag tot oujaarsdag

Deuteronomium 11 : 12  Dit is 'n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.

Het dit al vir jou gevoel asof jy ver van God af is?  Dalk voel jy op die oomblik so.  Miskien was jy op ‘n tyd naby God; het jy hom met jou hele hart gedien, maar toe dwaal jy af.  Dit kan so maklik gebeur.  Om God te dien, verg toewyding en in ons gejaagde lewe is daar genoeg om ons aandag af te lei, om nie eens van versoekings om elke hoek en draai te praat nie.  So nou voel jy of God ver is.  Die konneksie met hom is nie daar nie.

Wat volgende gebeur is dat jy voel God gee nie om nie.  Net omdat jy ver van Hom voel, beteken nie vir een oomblik dat Hy opgehou het om vir jou om te gee nie.  Hierdie skrif is vir my ontsettend mooi.  Van nuwejaarsdag tot oujaarsdag en elke enkele dag tussenin… sorg Hy.

Jy kan nie van God afdwaal nie, want Hy sal dit nie toelaat nie.  Hy het jou te lief.  Hy gee te veel om.  

Tuesday 27 September 2016

Hard werk = watwou!

Genesis 3 : 19  net deur harde werk sal jy kan eet

My keel trek toe as ek sien hoe ons universiteite gevandaliseer word.  Dit breek my hart dat mense wat nooit enige finansiële bydrae tot die opbou van hierdie geskiedkundige instansies gemaak, dit so min respekteer.  Hul voel vere vir universiteite en kampusse waar vele voorgangers se toekoms geslyp en gevorm is.

Jare reeds veg en sterf mense vir die reg tot opvoeding.  Nelson Mandela het ons herinner hoe geleerdheid die wêreld kan verander.

Drizzy Bergh is ‘n 27 jarige trokdrywer van Touwsrivier.  Hy vra reguit hoekom mense wat vir dokters, prokureurs en rekenmeesters studeer, so onnosel is om hierdie plekke af te brand, net omdat hul kan.  Hy wil hê hul moet die geskiedenisboeke oopslaan en kyk waarvoor hul voorvaders geveg het.  Waar gaan die geld vandaan kom om dit wat hul vernietig te herbou en dit terwyl hul boonop aandring op gratis geleerdheid.  Drizzy, jy herstel my vertroue in die jeug.

Kom ons veronderstel die regering gee toe en daar is gratis tersiêre opleiding… vir almal.  Wat gaan die volgende eis wees?  Gratis medies… data… kos… motors… huise?  Solank as wat ons mense getrou probeer hou met ‘handouts’, is dit wat ons gaan kry.  Daar is geen respek en geen waardering vir enige iets nie, net ‘n reg om alles toe te eien en deur te trek. 

Sedert Adam en Eva se sondeval, is die mens gedoem tot werk vir dit wat ons wil hê. Ons het die reg om agteroor te sit en ontvang verloor tensy ek Die Bybel verkeerd verstaan.

Monday 26 September 2016

Geduld

Klaagliedere 3 : 26  dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here;

As kinders het ons altyd vir mekaar gevra:  “Het jy nie ‘n wag gekry nie?”   Om te wag, om geduldig te wag, is nie juis een van my sterk punte nie.  Daarvoor is ek te impulsief en ongeduldig.  Dis nie asof ek beplan om nie te wag nie.  Ek het die beste bedoelings om geduldig te wag, maar voor ek my kom kry is my kop op gallop en maak ek planne vir ‘n vale.

As ek rondom my kyk, is ek nie die enigste persoon wat nie hou van wag nie.  As jy by die supermark of in die bank is, is ek seker jy kyk nie watter ry die langste is en val daar in nie.  Nee, ons meet die rye, kyk na die inhoud van die mandjies en probeer strategies uitwerk watter een die beste keuse is om so vinnig as moontlik deur die betaalpunt te beweeg.

By God staan tyd egter stil.  Hy kan ons behoorlik laat wag.  Ek dink nie Hy doen dit doelbewus nie.  ‘n Duisend jaar is immers vir Hom soos een minuut.  Soms voel ek net die afwagting dryf my teen die mure uit.

Klaagliedere laat my egter twee keer dink.  Dit is goed om geduldig te wag.  Here leer my asseblief om geduldig te wag.

Sunday 25 September 2016

Jy verdien dit nie

Johannes 9 : 25  Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

Op een tydstip het Jesus ‘n blinde genees.  Dit het die gelowige skare omgekrap.  Hulle het begin redeneer:  “Hoekom is hy genees?  Hoe is hy genees?  Wie of wat was die oorsaak dat hy in die eerste plek blind geraak het. “  Hulle het die man gepeper met vrae. 

Op ‘n stadium draai die man na hulle en sê dat hulle moet ophou, want hule verwar hom.  Hy kan nie hulle vrae beantwoord nie.  Al wat hy weet is dat hy blind was, maar dat hy nou kan sien.  Vir hom was dit eenvoudig.  Daar was geen rede om vrae te vra of te twyfel nie.  Al wat vir hom belangrik was, is die feit dat hy kan sien.

In jou lewe is daar ook vandag mense wat reken jy verdien nie jou seëninge nie.  Hulle gun niemand niks en glo veral nie dat God net voorspoed vir ons in gedagte het nie.  Moenie reageer op hul vrae of kritiek nie.  Weet jy net dat jy niks verdien, maar weet dat God alles vir jou gee wat jy nodig het, en meer.

Thursday 22 September 2016

Gewoontediere

Spreuke 22 : 29  Jy sien self: iemand wat vaardig is in sy werk, kom in die diens van konings, nie in die diens van mense sonder aansien nie.

Om in ‘n groef te verval, is seker een van die maklikste dinge onder die son.  Jy hoef jouself nie eens in te span nie.  Die mens is ‘n gewoontedier.  Ons hou van rituele, tradisies, voorspelbaarheid… wel meeste van ons.  Wat my ammuseer is dat ons aanhou om dieselfde dinge te doen, maar ander uitkomste verwag.

Ons werk nie harder nie, maar ons verwag sukses.  Ons betoon nie meer liefde nie, maar ons is verbaas as die huwelik misluk. 

Daag jouself van vandag af uit om elke dag ten minste een aktiwiteit aan te pak wat jy nog nooit vantevore aangepak het nie.  Ja, jy gaan ongemaklik voel.  Groei kom nie sonder pyn nie.  Elke mens moet voortdurend groei.  Ons mag nie stagneer nie. 

Vra jouself af:  “Hoe strek ek myself?  Wat doen ek om my vaardighede te slyp?  Wat doen ek om my verhoudings vars en nuut te hou?”

Goed genoeg van gister is nie goed genoeg vir vandag nie.  Gemiddeld is nie goed genoeg nie.  ‘n Goeie jagter se spies is altyd vlymskerp.  Slyp jou lem.

Wednesday 21 September 2016

'n Vlieg in die salf

Spreuke 17 : 22  n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput

Oor al die eeue heen was daar maar altyd ‘n vlieg in die salf.    Niks is ooit volmaak nie en niemand leef vir altyd en ewig gelukkig saam nie.  Daar is altyd ‘n skadukant in enige prentjie.

As dit nie ‘n mislike bankklerk is nie, dan is dit ‘n jaloerse famililid of die verkeer sal uiters stadig vloei as jy die dag haastig is, of jou vlug sal vertraag wees.  Frustrasie is deel van die lewe.  Om die een of ander rede is ons ewige optimiste.  Ons verwag altyd dat alles perfek gaan uitwerk en dan is ons teleurgesteld as dit nie so uitwerk nie.  Verander jou benadering.  Wat jou ook al tot nou toe grys hare gee, hoef jou nie in die toekoms grys hare te gee nie.  Jy kan kies om nie toe te laat dat die ander persoon se gemoedstemming jou affekteer nie.  Vermy daardie jaloerse familielid.  Weet dat verkeer onvoorspelbaar is en dat daar nie ‘n perfekte dag in die verkeer bestaan nie.   Vra ook jouself af of dit nou regtig die moeite werd is om jou oor hierdie dinge, waaraan jy in elk geval niks kan verander, te ontstel? 

Weier eenvoudig dat jou vreugde gesteel word.  Vul jou hart met oormatige vreugde… die goeie medisyne wat vir alles werk.

Tuesday 20 September 2016

God se genadegawes

Romeine 11 : 29  As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

Wanneer jy aan jou toekoms dink, wat sien jy voor jou geestesoog?  Het jy groot drome?  Wat het geword van die drome wat jy oor die jare gehad het?  Miskien sê jy vandag dat dit te laat is… Dalk is jy ontnugter en teleurgesteld omdat min of geen van jou drome gerealiseer het nie.

Vandag se teks is vir my besonders.  God gee jou nie iets en as jy stout is neem Hy dit terug nie.  Sy genadegawe bly joune.  As Hy jou geroep het, is jy syne.  Jy kan afdwaal, jy kan ongehoorsaam wees, Hy gaan nie ophou om vir jou lief te wees nie.  Juis daarom kan ons rus in die wete dat Sy guns ‘vir altyd’ is. 

Is jy tevrede waar jy vandag is?  Het jy moed opgegee?  Dink jy God het moed opgegee met jou?  Nee, God het nog nooit moed opgegee nie, maar Hy kan jou ook nie skoppend en skreeuend na jou drome toe sleep nie.  Ja, dinge het nie heeltemal uitgewerk soos jy dit beplan het nie en jy is ontnugter en verslae, maar dit is nog nie te laat nie.

Daar is steeds hoop en ‘n rooskleurige toekoms wat vir jou wag.  Blaas weer lewe in die as van jou drome.  Staan op en sê:  “Ek kan en ek gaan!  Met God aan my Sy die keer, gaan ek dit maak.”

Monday 19 September 2016

Nou

Psalm 118 : 24 – 25 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.  Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here!

Hierdie is ‘n teks wat ons baie aanhaal, en dit is mooi en goed, maar ons kom selde tot by vers 25.  Dawid vra nie vir voorspoed vir more of volgende week of eendag nie, hy vra dit vir nou.  Hoeveel keer vra jy en hoop maar net vir die beste?  Partykeer vra jy so halfhartig en dink stilweg dat dit tog nie sal gebeur nie, maar laat ek maar vra.

Ek het ‘n tannie geken wat oral waar sy gekom het vir afslag gevra het, en baie keer het sy afslag gekry.  Meeste van ons sal dit nie waag om afslag te vra nie, dus kry ons di took nie.  Dis ‘n basiese beginsel… as jy nie vra nie, kan jy niks verwag nie.

Die tyd het aangebreek dat jy jou ‘jammer-dat-ek-lewe’ houding afskud.  Jy mag vra dat God NOU uitkoms gee.  As jy God NOU nodig het, vra dat hy op hierdie oomblik ingryp.  God het nie tyd nodig om dinge te laat gebeur nie.  Hy moet nie eers die nodige mense kontak of seker maak dat Hy geen wette oortree alvorens Hy beweeg nie.  Hy is ‘n God wat ‘in the moment’ is.  

Sunday 18 September 2016

Eer jou vader en jou moeder

Eksodus 20 : 12  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Die afgelope week was daar geen dagstukkies nie omdat ek gerou het oor my pa se afsterwe.

Op die 9de September 2016 het my pa sy laaste asem uitgeblaas.  81 jaar en 5 maande lank was hy deel van my lewe.  Woensdag die 14de het ons van hom afskeid geneem tydens 'n pragtige troosdiens.  

Hy het my menswees gevorm en my waardestelsel vasgelê.  Een van sy bekende sêgoed was:  “daar bestaan nie iets soos kannie nie”.  Volgens hom was niks onmoontlik nie.  En ek het dit geglo.  My pa kon alles doen.  Hy was McGuyver nog lank voor die TV reeks; altyd gereed met ‘n plan.  Hy kon uit niks iets maak.

Nog een van sy bekende sêgoed was:  “Werk het niemand nog doodgemaak nie.” Hy het gewerk tot op sy 80ste verjaarsdag en die enigste rede hoekom hy opgehou het, was omdat hy ‘geretrench’ is.  Van kleins af moes ons as kinders werk.  Elkeen het sy take gehad en daar was min tyd vir speel.  Op ‘n naweek was daar tuinwerk of help met waarmee hy ookal besig was om ‘n ekstra inkomste te genereer.  As hy nie diefwering gemaak het nie, was hy besig om motors te koop, netjies te maak en te verkoop.  Op ‘n stadium het hy selfs trekkers gekoop en verkoop. 

Hy het slegs Standerd 6 (graad 8) gehad.  Destyds moes die kinders gaan werk om die plaas van ondergang te red.  Hy’t getrou en daar was drie kinders voor dit belangrik geraak het om verdere geleerdheid te verwerf.  Sy gebrek aan geleerdheid het hom egter nooit teruggehou in die lewe nie.  Dit was eerder sy dryfveer en motivering. 

Vir ons sou hy alles doen en ons het ‘n lieflike kindertyd gehad.  My pa het die Chinese gesegde uitgeleef.  Hy het nie vir een van ons drie kinders ‘n vis gegee nie, maar hy het ons geleer om ‘n vis te vang.  Vandag kan al drie van ons vir onsself sorg. 

Rus in vrede pa.  Tot die einde was jy my held.

Thursday 8 September 2016

Woorde

Jesaja 50 : 4  Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Enige iemand wat al iemand anders moes troos, sal weet dat daar tye kom dat jy eenvoudig nie die regte woorde het nie.  Miskien is dit omdat ons altyd voel ons moet iets sê.  En meesal eindig ons op deur vir die persoon van ons eie ervaring gedurende ‘n soortgelyke situasie te vertel.  Wanneer iemand rou en seer is, wil hul nie jou storie hoor nie.  Soms moet jy net daar wees.

Woorde is belangrik, wanneer jou woorde Sy woorde is.  Daar is mense wat God oor jou pad bring juis omdat Hy wil hê dat jy hul deur jou woorde nuwe moed gee.  Ek is geseënd met so ‘n vriendin. Soms sal ek vir haar vertel waar ek gefaal het en dan bring sy my terug na God se woord en sy laat my insien hoe die situasie vir God tot eer kan strek.

Ons kan ook woorde gebruik om ons eggenoot of kinders te verseker van ons liefde.  Soms praat ons aanhoudend, maar ons sê eintlik niks nie.  Praat eerder minder, maar maak seker jou woorde bou, eerder as wat hul merke laat of afbreek.

Wednesday 7 September 2016

God gebruik enige situasie

Genesis 44 : 1  “Maak die graansakke van die manne vol met net soveel kos as hulle kan vervoer,

As ouers is dit belangrik dat ons kinders besef en sien dat ons vir elkeen ewe lief is. ‘n Kind kan so maklik glo dat hy of sy minder geliefd is en klein dingetjies opblaas wat hul laat glo dat een kind voorgetrek word.

Josef is gebore toe Jakob al op ‘n hoë ouderdom was.  Hy was baie lief vir hierdie seun en het vir hom mooi klere met lang moue gemaak, lees ons in Genesis 37 : 3.  Dit het egter veroorsaak dat sy broers nie juis mal oor hom was nie.  Hul het ‘n afkeer in hom ontwikkel.

Ons weet dat boeties en sussies soms soos katte en honed kan baklei, maar Josef se broers het dit een stappie verder geneem.  Op ‘n dag het hul besluit om vir goed van hom ontslae te raak deur hom in ‘n put te gooi.  Hulle het seker nooit besef dat hul eintlik maar net deel van ‘n groter plan was nie.  God het beter dinge in gedagte gehad vir Josef.  Josef sou in die koning se paleis opeindig en hy sou die een word wat sou sorg dat hierdie einste broers nie in ‘n land wat deur hongersnood geteister word, omkom nie.

Te midde van jou donkerste tye is God steeds teenwoordig en aktief in jou lewe.  Hy laat jou nooit in die steek nie en Hy kan enige situasie tot jou voordeel gebruik.

Tuesday 6 September 2016

Wees 'n Daniël

Filippense 4:13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Daniël was baie jonk toe hy na ‘n vreemde land weggevoer is.  Daar het hul hom van sy identiteit ontneem deur hom Beltsasar te noem.  Hoe sal jy voel as iemand eenvoudig besluit jy is nie meer wie jy gedoop is nie?  Daniël het hom nie laat afsit nie. Hy het geweet wie hy is en dat niks verander het net omdat iemand hom op ‘n ander naam roep nie.  Dit was nie maklik nie en hy was onder geweldige druk.

Wat egter baie interessant is, is dat Daniël nie gekonformeer het nie.  Hy het getrou gebly aan wie hy was.  Die fondasie wat in sy lewe gelê is, was so stewig dat Hy nooit geswig het onder enige druk nie. 

Hoe stewig is jou fondasie?  Vind jy dat jy maklik onder groepsdruk swig en meedoen aan dinge wat nie strook met jou opvoeding nie?  Jy vind dalk dat jy sodanig verander het dat jy nie meer weet wie jy eintlik is nie. 

Vind jou krag in God.  Jy kan versoeking weerstaan. Jy kan nee sê.  Jy kan al hierdie dinge doen en steeds deel wees van ‘n groep, want mense gaan jou begin respekteer vir die waardes waarvoor jy staan eerder as dit waarvoor jy val.

Monday 5 September 2016

Sonsverduistering

Prediker 12:2  voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,

Volgens Wikipedia vind sonsverduistering plaas wanneer die maan voor die son inbeweeg en die maan die skyf van die son ten volle, of gedeeltelik bedek.  Die verduistering of eklips kan gedeeltelik of volkome wees.  Ons het onlangs weer so ‘n gedeeltelike sonsverduistering aanskou.

Wanneer jy dit terugbring na ons geloof, kan jy dit sien as iets wat tussen jou en God inbeweeg en veroorsaak dat jy nie meer daardie nabyheid met God beleef nie.  Daar is verskeie dinge wat tussen ons en God kan inbeweeg… ons werk, vriende, sonde, verslawing… ‘n honderd en een goed.  Wanneer dit gebeur voel dit asof ons verbinding met God verbreek is of soos ‘n slegte lyn.  Daar is net ‘n blokkasie.  Die son is nie weg tydens sonsverduistering nie.  Net so is God ook nie weg nie.  Ons kan Hom net nie sien, of dan so goed sien nie.

Ek hoop en vertrou dat dit net tydelik is soos enige verduistering en nie permanent nie… dat jy God weer ten volle sal sien en ervaar.  ’n Sonsverduistering kan nie gekeer word nie.  Dit wat tussen jou en God staan, kan wel gekeer word.  Vind uit wat dit is en raak daarvan ontslae.

Sunday 4 September 2016

Gooi af

Hebreërs 12 : 1  Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

Dit verbaas my altyd as mense sê dat hul alles presies dieselfde sal doen as hul, hul lewe moes oor leef.  Daar is tye in my lewe wat ek nooit, ooit weer wil beleef nie.   Ek wil beslis nie weer 8 herstrukturerings- of personeelverminderings herleef nie. Ek wil ook nooit weer die slagveld van ‘n egskeiding deurleef nie.  Ek wil nooit weer die verkeerde besluite wat ek gemaak en die gevolge daarvan herhaal nie.

Al was hierdie dinge hoe aaklik, bly ons terugdink daaraan en in sommige gevalle herleef.  Soms gebruik ons dit as die basis waarop ons, ons toekoms baseer.  Dis nog ‘n fout. Ons behoort dit agter te laat en nie saam te sleep nie.  Indien ons dit nie afskud nie, kan dit ons vreugde en entoesiasme vir die toekoms demp.

Party van ons het ‘n bitterbeksakkie wat ons saamsleep.  Elke keer as iemand ons te na kom of as dinge nie heeltemal uitwerk soos ons gehoop het dit sou, voeg ons dit by ons bitterbeksakkie.  Elke teleurstelling, elke fout word noukeurig in die sakkie geplaas.  Elke nou en dan gaan sit ons op die ashoop van die lewe en pak ons bitterbeksakkie uit en herleef elkeen van hulle. 

Die lewe is so kort.  Mors jy nie te veel tyd met jou bitterbeksakkie nie? Dink jy nie dit is tyd om daardie sakkie agter te laat en voort te beweeg nie? Môreoggend as jy opstaan, begin die dag met vergifnis.  Vergewe almal wat jou al te nagekom het… of hul daarvan weet of nie.  Vergeet die teleurstellings en terugslae van die verlede.  Noudat alles afgegooi is wat jou kan terughou, kan jy aanbeweeg.

Saturday 3 September 2016

Vergifnis

Psalm 32 : 1  Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word.

Hoe geseënd is ons nie om vergifnis van God te ontvang nie.  As jy kyk hoe ons leef, wat ons sê, wat ons doen, wat ons ander aandoen, raak dit al meer van ‘n wonderwerk. 

Dink maar net hoe moeilik dit is om iemand te vergeef wat jou te na gekom het.  Soms vra ek myself af: As ek God was, sou ek my vergeef het?  Die antwoord is nie altyd ja nie en tog vergeef God ons keer op keer.

Is daar iemand in jou lewe wat jy moet vergewe?  Wat hou jou terug?  Die feit dat jy vashou aan die seer hou die ander persoon geensins terug nie.  Dit maak hom of haar ook nie sleg voel nie.  Die enigste persoon wat hier benadeel word, is jy.  Die ander vraag is of jy dink dit wat iemand jou aangedoen het, is erger as wat Jesus moes verduur op aarde?  Tog het Hy ter wille van ons sondes gesterf en sodoende is ons absoluut vry.

Daardie daad het Jesus vrygelaat. Niemand op aarde hou Jesus gevange met haat of onvergifnis nie.  Jy kan dieselfde Vryheid geniet.

Thursday 1 September 2016

Gee oor

1 Petrus 5 : 7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

God gee soveel om vir jou.  Nie net gee Hy vir jou om nie, maar hy gee ook om hoe jy voel en oor dit wat vir jou belangrik is.  As jy enige sorge, bekommernis of angstigheid binne jou voel, maak nie saak hoe groot of klein, gee dit vir hom.  Jou finansies, jou verhoudings, jou werk… weet net dat God reeds weet wat jy nodig het en dat Hy graag hierdie dinge in jou lewe wil oorneem en makliker maak vir jou.

Soms maak ons onsself so moeg omtrent hierdie dinge.  Ons het slapelose nagte oor ons finansies… waar gaan die geld vandaan kom?  Jy weet hoeveel jy verdien en jy weet wat jou uitgawes is en nou nog hierdie ekstra uitgawes… jy weet nie herwaarts of derwaarts nie.

Jou verhouding wat so goed begin het, het ewe skielik stormwaters bereik. Julle stem oor niks saam nie en baklei oor die simpelste goed. Alles omtrent die ander persoon irriteer jou.

By die werk voel jy of jy niks kan reg doen nie.  Voorheen was jy ‘n presteerder, maar deesdae bereik jy nie meer jou teikens nie.  Dit voel of jy jou slag verloor het.  Jy is jaloers op die persone wat nou suksesvol is.

In Matteus en Lukas word ons herinner hoe God vir die lelies van die veld, die gras en die wilde voëls sorg.  Hoeveel te meer sal Hy nie vir jou en my sorg nie? 

Werp vandag al jou bekommernisse op Hom.  Kies om Hom te vertrou en toe te laat om jou te versorg.  Weier eenvoudig om oor probleme te tob en toe te laat dat dit jou vreugde steel.  Fokus op jou Bybelstudie en gebed.  God SAL sorg.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...