Tuesday 31 July 2018

Moeg vir stress en die gejaag?


Spreuke 15:16  Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor

Nog voordat ‘n kind kan praat, kan hul al ‘n handjie uithou om nog iets in ontvangs te neem. So word ons van jongs af groot met die gedagte dat daar altyd nog 'n behoefte is.  Ons wil altyd nog hê.

Ek wonder hoeveel mense is vandag ongelukkig in hul omstandighede omdat hul so moeg is van die gejaag na nog. ‘n Groter salaris, ‘n beter werk… dis fantasties, maar dit beteken altyd meer druk.  En druk veroorsaak stress… die siekte van ons tyd.

Ja ons wil vooruitgaan en ons omstandighede / lewe verbeter, maar dit behoort iewers tog te stop. Party mense stop egter nooit.  Die feit dat iemand anders ‘n groter / duurder motor besit of in ‘n groter / duurder huis in ‘n beter omgewing as hul woon, ontsenu hul en laat hul minderwaardig voel.

Veral in Suid-Afrika, so het die WGO ons onlangs weer herinner, is ‘n land van groot ongelykheid.  Behalwe vir die verskil tussen ryk en arm, is daar selfs onder die armes wedywering, net soos onder die rykes.  Ons wil gryp… ons wil onsself verryk… ons wil meer hê.

Geld kan nie geluk koop nie.  Kyk maar hoeveel bekende, baie welaf mense probeer selfmoord pleeg.  Rykdom is dikwels ‘n goue kou, want jy raak ‘n gevangene / slaaf van geld.
Eintlik is dit ‘n gejaag na wind, soos die Prediker skryf.

Geluk lê in die wete dat God jou aanvaar net soos jy is.  Geld kan nie vir jou ‘n plek in die Hiernamaals koop nie.  Jy is reeds vrygekoop.  By God kan jy gelukkig wees al weet jy nie waar jou volgende maaltyd vandaan gaan kom, want jy weet eenvoudig dat Hy genoeg is en dat Hy sal voorsien.

Om God te dien het niemand nog ooit slapelose nagte gegee nie.  Dit het niemand nog in ‘n gestig laat beland omdat hul nie met die stress kan ‘cope’ nie.  Om God te dien het niemand nog rasend bekommerd gehad nie.  Daarom is dit veel beter om God te dien as om te veel besittings of geld te hê.

Monday 30 July 2018

God loop die teëstander tromp-op


Jesaja 59 : 19  Wanneer die teëstander aanstorm soos 'n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop.

Ons het al almal slegte nuus ontvang… of dit nou die afsterf van ‘n geliefde is, ‘n swak rapport, die dokter se diagnose, dat jou dienste nie meer benodig word nie, dat die motor gestamp is, jou kind seergekry het…  Dan wonder ‘n mens dikwels wat God sulke tye doen.  Een ding kan ek jou verseker, God sit nie terug en dink dat jy ‘n slaggie moet voel omdat jy nie wil hoor nie.  Hy dink ook nie dat dit nou jammer is, maar dat dit nou maar so is nie.  

Nee, wanneer ‘n teenstander op ons afstorm soos ‘n vloed, tree die Gees van die Here onmiddelik in.  M.a.w daardie onregverdigheid, die slegte nuus, die verlies laat God regop sit, as't ware opspring!  Hy sit nie terug nie.  Dis nie hoe Hy is nie.

Geen ouer sal terugsit en sien hoe sy kind tenagekom word nie.  God ook nie.  As ouer tree jy in of jy help.  Dit is presies so met God.  God sê:  “Hokaai, dis My kind.  Jy kan nie sommer so maak met My kind nie.  As jy met My kind sukkel gaan jy met My te doen kry.

Net omdat ons dit nie sien of hoor gebeur nie, beteken nie dat God terugsit nie.  Hy is rasend as een van Sy kinders tenagekom word en Hy sal terugslaan.

Onlangs het ek in die bewegende verkeer ingedraai nadat ‘n motoris vir my gewys het ek kan maar indraai.  My motor se neus het egter in die tweede baan in beweeg.  Die volgende oomblik sien ek ‘n motor millimeters weg aan my regterkant.  Ek het amper ‘n hartstilstand gehad en het gewag om die slag te hoor, maar daar was niks.  Die ander motor het voortgery en nie eens vir my tekens gewys nie.  Ek glo vas dit is God wat Sy hand tussen die twee motors ingedruk het om te keer dat daar ‘n ongeluk gebeur.

Wees verseker dat NIKS jou van God of Sy onmeetlike liefde kan skei nie.  Partykeer sien ons nie dadelik hoe God vir ons intree nie, maar ek kan jou verseker dat Hy wel intree.

Sunday 29 July 2018

Begrawe vs Geplant


Johannes 12 : 24  Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in

Dis ‘n gegewe dat ons beproewings en uitdagings in die lewe sal ervaar.  Wat ons egter dikwels uit die oog verloor, is dat ons, as gelowiges, ‘n lewegewende saad van God binne ons het.  As ons dus deur ‘n moeilike tyd gaan of teleurstelling ervaar, voel ons dikwels begrawe, miskien nie onder die grond nie, maar wel onder ellende.  Ons is op ‘n koue, donker en alleen plek.  Jy mag dalk soos die koringkorreltjie voel, begrawe en besig om te sterf, maar dis nie die einde nie; dis einlik die begin.  Sien, daar is ‘n verskil tussen begrawe en geplant.  Begrawe is die einde.  Plant is die begin van nuwe lewe.

Soos daardie saadjie ontkiem en die groen lewe deur die grond breek, so gaan jy ook terugkom. En jy gaan nie net terugkom nie, jy gaan beter en sterker wees, want een saadjie raak ‘n koringaar.  En ja, die saadjie moet doodgaan, maar uiteindelik is daar verbetering in stoor vir jou en vooruitgang.

Sulke tye moet jy jou hakke inskop en hardnekkig weier om onder te gaan.  Verklaar:  “Ek weet dis moeilik (die grond is hard), maar ek gaan nie vir altyd hier onder die grond begrawe bly nie.  Hierdie verlies, teleurstelling, onregverdigheid… gaan nie my drome kelder nie.  Ek is platgeslaan, maar nie verslaan nie.  Ek gaan weer opstaan, beter en sterker as ooit vantevore.

Wednesday 25 July 2018

Jabes (3)


1 Kronieke 4 : 10  Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

Daar word nêrens genoem dat Jabes buitengewone talente of vaardighede gehad het nie.  Ons lees nie dat hy ryk of opgevoed was nie.  Hy was ‘n doodgewone man met ‘n ongewone vaste geloof en vertroue in God.  Wat ons wel lees is dat sy naam ‘pynlik’ beteken in Hebreeus.  Daaruit lei ons af dat sy geboorte sy ma soveel pyn besorg het dat sy hom ‘pynlik’ gedoop het.  Hy kon dus gestremd gewees het of selfs een of ander agterstand gehad het.

Ons kan ons so dikwels bekommer oor wat ons nie het nie, maar eintlik het ons alles as ons net geloof het. Ek lees iewers dat baie mense met groot talente op die kantlyn sit terwyl gewone mense met geloof die doele skop en wen. 

Jabes het hom nie laat definieer deur die betekenis van sy naam nie.  Hy het in God geglo en vertrou dat God hom kan laat uitstyg bo sy omstandighede, tot so ‘n mate dat ander op hom sou jaloers wees.  Hy’t geweet dat sy toekoms beter as sy verlede kan wees as God deel daarvan is.  Niks kon hom terughou as God aan sy kant is nie. 

So vir jou en my wat ook doodgewoon is, wat ook dalk nie die beste wegspringplek in die lewe gehad het nie… ons kan ook suksesvol wees.  Ons kan meer bereik as wat ons sou kon dink of droom as God aan ons kant is. 

William Carey het gesê”  “Verwag groot dinge van God en probeer groot dinge vir God.”

Moenie dat enige iets jou terughou nie. 

Tuesday 24 July 2018

Jabes (2)


1 Kronieke 4 : 10  Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

As jy hierdie gebed van Jabes ontleed, kom dit op drie versoeke neer: (1) Ek wil meer suksesvol wees (2) Ek weet ek het u nodig elke dag (3) Bewaar my asseblief van moeilikheid en pyn.

Wat sy eerste versoek aanbetref, mag meeste mense hom oordeel.  Jabes is geldgierig… Jabes is gefokus op besittings, maar dan vergeet jy dat God hom alles gegee het wat hy gevra het.  God het dus geen probleem daarmee as jy suksesvol wil wees of vooruit wil gaan nie.  Ek glo dat dit juis die mens se behoud is… om altyd te bly droom, om altyd te wil groei, om jou horisonne te verbreed. 

Wat sy tweede versoek aanbetref, het Jabes gou besef dat die pad na sukses nie alleen aangepak kan word nie.  Hy het geweet dat Hy God nodig het.  Om al die druk en eise van sukses te verwerk, het Hy God se teenwoordigheid in sy lewe nodig. 

Sy derde versoek kon net sowel vandag tot God gerig word deur enige een van ons.  Meer besittings maak jou ‘n teiken van diegene wat nie soveel soos jy het nie.  Hoë bome vang die meeste wind.  Hoe nader jy aan God beweeg, hoe meer intens sal die aanslae van die duiwel word.

So kan elkeen van ons ‘n gebed bid soos Jabes, want dit is vandag nog net so relevant soos in die Ou Testamentiese tyd. 

Monday 23 July 2018

Jabes


1 Kronieke 4 : 10  Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

In die hele Bybel is daar net 2 verse oor Jabes.  Kronieke begin met ‘n geslagsregister wat meer as 600 name insluit.  Uit hierdie 600 name, sonder God een persoon uit… Jabes. 
Hoekom?  Volgens vers 9 was hy selfs meer geëerd as sy broers… Wat het Jabes so besonders gemaak?

Jabes het dit gewaag om vir God groot dinge te vra.  En hy het heel waarskynlik vas geglo dat God hom sal gee wat hy vra, want ons weet dat geloof God beweeg.

God wil vir elkeen van ons meer doen as wat ons ooit kan dink of droom om Hom te vra (Efesiërs 3 : 20).  Hy sê ook ons kry nie, want ons vra nie.

Jabes het gevra en… God het laat gebeur wat hy gevra het.

Ons kan nie hoop op ‘n lewe vol seëninge, maar God nie daarvoor vra nie.  Ons kan nie hoop dat dit beter sal gaan, maar ons vra nie God se hulp nie.  Ons kan nie jaloers wees op ander se seëninge, maar self nooit vir God vra om ons te seen nie. 

God is gereed, is jy?

Sunday 22 July 2018

Luiaard


Spreuke 6 : 6  Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.

Roberts Hicks se definisie van ‘n luiaard is: “Om te voel dat ons geregtig is op dinge, sonder om die nodige werk te doen om dit te bekom.”  Dit is wat van ons volgens Hicks ‘n samelewing van luiaards maak.  Waar het ek al gehoor van mense wat dink hul is geregtig op dinge, maar nie bereid is om daarvoor te werk nie?  Dalk weet jy.

Jy sien ‘n lui mens het altyd ‘n verskoning.  En die probleem lê nooit by hulle nie.  Spreuke 21 : 25 – 26  want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie, hy sit die hele dag net en wens.  Daarom is die lui mens se gunsteling dag, eendag. Die luiaard het baie planne, maar gaan nooit tot aksie oor nie.  Ek dink Salomo het in sy tyd met ‘n paar luiaards te doen gehad.  Dis hoekom hy in hoofstuk 15 : 19 daarna verwys dat die luiaard se pad met dorings besaai is, maar die regverdige s’n gelyk is.

‘n Luiaard sal ook nooit ‘n geleentheid raaksien nie, want hy is te besig om verskonings uit te dink. Die glas is altyd half vol en ander het altyd beter kanse. Om die waarheid te sê glo die luiaard ander het alles verniet gekry... of gesteel dalk?

Benjamin Franklin som dit mooi op: “Ek het nog nooit ‘n man teëgekom wat goed is met enige iets anders, as hy goed is met verskonings maak nie.”

Die pad na sukses is geplavei met harde werk.  Daar is nie ‘n maklike pad daarheen nie.  Niks is die lewe is verniet nie.  Dit is ook hoekom baie mense nie geleenthede raaksien nie, want geleenthede is dikwels verskans agter harde werk.

Thursday 19 July 2018

Niemand spring pyn of hartseer vry nie


Lukas 2 : 35 So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.

Jy sou dink dat iemand wat so uitdruklik uitgekies is soos Maria, van alle swaarkry bewaar sou word.  Sy was iemand wie die hoogste Goddelike eer ooit aan betoon is, naamlik dat sy gekies is om Jesus, die Verlosser, in die wêreld te bring.

Niemand van ons weet wat die toekoms inhou.  Maria het ook nie geweet nie.  Al wat sy geweet het is dat sy ‘n maagd is, maar dat sy deur die Heilige Gees se ingryping ‘n kindjie in die wêreld sou bring en sy moes hom Jesus noem.  Met sy geboorte moes Maria en Josef baie spesiaal gevoel het as gevolg van al die aandag.  Soos die gebruik was, het hul hom geneem om besny te word en later ook die reinigingsprosedure ondergaan.  Alle eersgeborenes is aan God gewy.  Simeon was tevrede dat hy die verlosser aanskou het nadat hy Jesus ontmoet het.  En toe raak hy die woordie in vandag se teks teenoor Maria kwyt.

Sou Maria ooit kon dink dat sy sou moes aanskou hoe hierdie baie spesiale kind van haar gemartel en gekruisig sou word.  Kan jy jou die pyn van ‘n moederhart indink wat moet aanskou hoe die laaste lewe uit haar kind vloei?  ‘n Swaard het daardie dag werklik deur haar siel gegaan.

Hieruit leer ons dat selfs geseëndes en uitverkorenes nie hartseer en pyn gespaar word nie.  God se seen oor ons lewe waarborg nie ‘n sorglose lewe nie.  Kyk maar na die lewe van Moses, Elia, Dawid en vele ander… geseend, maar nie gevrywaar van hartseer of swaarkry.

Laat ons nooit jaloers wees op diegene wat ons dink geseënd is nie.  Laat ons eerder saam met hulle vir God loof en prys… laat ons vir hulle bid en hul opdra aan God, want ons het geen idee waardeur hul gaan nie. 

Wednesday 18 July 2018

Die kerk


Matteus 16 : 18  “Op hierdie rots sal ek my kerk oprig”

Behoort jy aan ‘n kerk?  Is jy ‘n aktiewe lidmaat van die kerk?  Of wil jy dalk niks met die kerk te doen hê nie?

Daar is mense wat reken dat daar nie meer plek vir die kerk is in vandag se samelewing nie.  Mense is te besig om kerk toe te gaan.  Baie werk selfs Sondae.  Mense is nie meer so gelowig nie.  Omdat jongmense vandag sulke lang ure werk, slaap hul eerder Sondae ‘n bietjie laat.  Sodoende kom hul nie in ‘n kerk nie en kan hul ook nie meer hul kinders in die kerk opbring nie. 

Omdat Godsdiens ook nie meer in skole mag aangebied word nie, is daar baie kinders wat nie ‘n idee het wie die Bybelse karakters is of selfs ‘n Bybel onder oë kry nie.  So loop die kerke leeg.

Die paar wat oor is, het hul eie binnegevegte.  Mense is jaloers op mekaar se rolle of die aandag wat hul kry en kort voor lank gaan hul nie meer kerk toe nie omdat hul voel dat hul tenagekom is. 

Dan word diegene wat wel in die kerk is ook nog gekritiseer as dwepers of mense wat net voorgee, want sodra hul die kerk uitstap is hul net so sondig soos diegene wat nog nooit ‘n kerk van binne gesien het nie.

Hoe seer moet dit nie vir God maak nie.  Hy het bedoel dat die kerk ‘n hospitaal vir gewondes moet wees, ‘n familie moet bied vir die eensames en ‘n skool om jonk en oud vir die lewe voor te berei. Dit moes die plek wees waar aarbeiders/dissipels gevorm en toegerus word om die wêreld in te vaar en siele vir God se koninkryk te gaan werf.  Nou staan die oes ryp op die land en daar is te min arbeiders.

Deur die genade is God se huis (die kerk) op ‘n rots gebou wat nooit sal vergaan nie.  Selfs al probeer ons dit afbreek of afkraak, sal ons nooit die kerk tot niet kan maak nie.

Ja, die kerk is nie perfek nie, maar is dit nie juis hoekom iedereen daar welkom is nie?

Tuesday 17 July 2018

Oorwinning en vergifnis


Genesis 50 : 20  “Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is”

Die verhaal van Josef fasineer my al sedert my ma jare gelede die verhaal vir my voorgelees het uit die Kinderbybel.  En toe ek eers Dolly Parton se Coat of many Colours hoor, het dit natuurlik nog meer vir my beteken.

Josef was slegs 17 jaar oud toe sy broers hom in ‘n put gooi en later as slaaf verkoop.  Dertien jaar later, het Farao hom as heerser oor Egipte aangestel.  ‘n Wonderlike aspoestertjie verhaal… die jongman wat van slaaf na heerser oor een van die magtigste lande vorder.  Die dertien jaar tussenin was egter nie maklik vir Josef nie.  Hy was onder andere in die tronk.  Daar was genoeg tyd vir hom om homself te bejammer en haatgedagtes te koester teenoor diegene wat hom hier laat beland het.

Dis egter nie net ‘n verhaal van ontbering nie, maar ook ‘n verhaal van oorwinning en vergifnis.  Enige iemand wat so tenagekom is deur jou eie broers en wat deur soveel ontbering moes gaan, sou tog sekerlik ‘n wrok oorgehou het? Nee, Josef kies om sy broers te vergewe.  Hy sien dat dit alles deel van God se plan was.  As dit nie was dat hy as slaaf verkoop is en uiteindelik in Egipte beland het waar hy as heerser oor die land aangestel is nie, sou hy nooit in die posisie gewees het om sy gesin en volk van hongersnood te red nie.  Josef sien die groter prentjie wat God in gedagte gehad het.  Josef het nie net as mens gegroei nie, maar ook in geestelike volwassenheid. 

Daarom kon Josef alreeds jare voor dit geskryf is Matteus 5 : 44  uitleef:  “Julle moet julle vyande liefhê…”

Dra jy nog ‘n wrok saam met jou elke dag?  Of kan jy sien wat God daarmee in gedagte gehad het?  Kan jy sien dat jy uiteindelik veel beter daaraan toe is?  Kan jy, omdat jy geestelik gegroei het, diegene vergewe wat jou tenagekom het?  Indien jy dit nog nie kan insien nie, wees geduldig.

Monday 16 July 2018

Armoede en luiheid


Spreuke 10 : 4  “Mense wat lui is, word gou arm.  Hulle wat fluks is, word ryk.”

Dalk voel jy geaffronteer deur vandag se teks.  Jy reken dalk dit is nie so eenvoudig nie. 

Ek glo dat dit, soos die res van die Bybel, ‘n waarheid is om van kennis te neem.  Daar is baie mense wat nie werk nie en dit is hartseer, maar daar is ook diegene wat werkloos is bloot omdat hul lui is.   Ons land het ‘n bakhand-kultuur.  Toelaes gaan jou nie uit armoede kry nie, net harde werk.

‘n Wyse man het eendag gesê:  “Niemand is nog ooit dood van harde werk nie.”  Waarop die luiaard geantwoord het:  “Ek vat liewer nie sulke kanse nie.”

In Spreuke 6 : 6 – 8  lees ons:  Gaan leer by die mier wat wysheid is.  Kyk wat hy doen.  Leer iets by hom.  Hy het nie ‘n leier, of ‘n opsigter, of iemand wat agter hom staan nie.  Hy kry reeds in die somer sy kosvoorraad reg.  In die oestyd werk hy klaar voor die winter kom.

Deesdae staak almal… dikwels gaan dit ook gepaard met geweld.  Die werkers eis hoër salarisse, meer voordele, beter bonuses…  Ek het nog nooit gehoor dat ‘n vakbond belowe dat produktiwiteit opgestoot sal word, of dat werkers bereid is om langer ure te werk nie.  Almal wil meer hê en minder doen. 

Die mier daarenteen, werk sonder toesig en beplan vooruit.  Blykbaar kan ‘n mier tot vyftig keer sy eie gewig ‘n honderd meter ver dra.  As jy dit vergelyk met die mens, is dit die ekwivalent van ‘n man van 90 kilogram wat vyf ton vir 27 kilometer op sy rug dra. 

Die mier kon maklik gesê het, hy weier om sulke swaar gewig te dra, of so aanhoudend te werk, maar nee, ‘n mier werk dat die stof staan.

As jy gelukkig is om in armoede te leef, dan is dit goed, maar as jy groter aspirasies het en begeer om ‘n gemaklike leefstyl met al die nodige speelgoed te leef, dan is harde werk jou voorland.

Sunday 15 July 2018

Kosbare tyd


Psalm 90 : 12  Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom

Besef jy dat vandag ‘n spesiale gawe van God is?  Partykeer is ons dae so vol en ons is so besig dat ons nie besef hoe kosbaar die lewe werklik is nie.  Klein jakkalsies steel ons vreugde en beroof ons van ons onskuld om die lewe te geniet en waardeer soos ‘n kind.

Dalk het jou dag nie verloop soos jy dit beplan het nie.  Jy was dalk onskuldig op pad werk toe en iemand jaag oor ‘n rooi robot en bots teen jou motor.  Jou motor is ‘n wrak en jy is beseer.  Daar is niks goed in hierdie dag nie.  Nee, moenie dat die vyand jou beroof van kosbare tyd nie.  Die tyd wat jy ‘vermors’ deur omgekrap of ontsteld te wees, is tyd wat jy nooit weer gaan oorhê nie. 

Van die oomblik dat ons gebore word, is ons uurglas eintlik alreeds besig om leeg te loop.  Ons weet net nie hoeveel tyd daar in ons uurglas is nie.

Moenie wag vir verjaarsdae of spesiale dae soos Valentynsdag, Moedersdag, Kersfees, of wanneer jy met vakansie is nie.  As daar niks spesiaal omtrent die dag volgens jou is nie, maak dit dan spesiaal.  Ry ‘n ander pad.  Glimlag vir mense wat jy nie ken nie.  Koop vir jouself blomme.  Neem die gesin see toe om die sonsondergang te kyk.

Wanneer jy jou kop vanaand neerlê, voel jy dat dit ‘n dag was om te onthou of was dit maar net nog ‘n dag… of was dit ‘n dag wat jy nooit weer wil oorhê nie?  Wel, jy sal dit nooit weer oorhê nie.  Dis verby… vir altyd.

Ons mors soveel kosbare minute en ure.  Leer om elke dag te leef asof dit jou heel laaste dag is. 

Thursday 12 July 2018

Transformasie


2 Korintiërs 3 : 18  Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

As jy nie vandag in die spiëel die persoon sien wat God jou bedoel het om te wees nie, dan is Sy werk in jou nog nie klaar nie.  Wat jy op die oomblik sien, is onvoltooide werk. 

Uiteindelik sal jy getransformeer wees om te wees soos Hy is.  Beur vorentoe.  Moenie opgee of tweede beste aanvaar nie.  As jou lewe nie weerspiëel wat God op jou hart gelê het nie, bly dankbaar.  Laat toe dat Hy skaaf en werskaf al voel jy dat jy nie meer een tree verder kan gee nie.

Die lewe bestaan uit seisoene.  Soms bevind ons onsself in ‘n hewige haelstorm met teëspoed wat verwoesting saai in ons lewens.  Ander kere is dit weer ‘n lieflike Herfsstilte wat heers. 

Terwyl die seisoene draai en die een dag na die ander mekaar opvolg, weet ons dat ons ook nie bedoel is om op een plek te stagneer nie.  ‘n Kind van God is altyd besig om te verander en verbeter.  Jy sal op ‘n dag net besef jy is nie meer die mens is wat jy was nie.  Jy het verander (die sluier is weggeneem). Moenie in die strik trap om tevrede te raak waar jy jouself bevind nie.

By God is daar altyd beter.  Sodra Hy sien dat jy dit gemaak het, beplan Hy alreeds weer iets beter vir jou (die heerlikheid neem toe).  Ek glo nie God hou ooit op om nuwe seëninge op te diep nie, om nog voorspoed oor ons pad te bring nie. 

Jy het nog lank nie jou volle potensiaal bereik nie. God is besig met jou en daarom het jy geen verskoning nie.  Jy sal word wie Hy bedoel het jy moet wees.

Wednesday 11 July 2018

Goddelike liefde


Romeine 8 : 39  of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Klein kindertjies geniet dit gewoonlik as jy vir hulle stories lees.  Meeste stories eindig met ‘n belofte van ewige liefde en geluk, maar ons kom gou agter soos ons groter raak, dat dit nie heeltemal waar is nie.  Gou besef jy dat die lewe nie ‘n sprokie is nie.

Genadiglik is die Bybel nie ‘n sprokie nie, maar die waarheid.  En daarin verseker God ons van Sy liefde verskeie kere, maar hierdie teks is besonders.

Wat ‘n wonderlike wete is dit nie?  NIKS kan jou skei van God se liefde nie.  Sy liefde is grensloos en kan alles oorwin.  Jy kan nie eens enige iets doen om jouself van God se liefde te vervreem nie.  Om die waarheid te sê niks in die hele skepping kan jou van Sy liefde skei nie.  Sy liefde is opreg en vir altyd.

Dalk reken jy dis nou goed en wel, maar jy het geen liefde binne jou nie.  Jy haat jou lewe.  Jy haat wie jy is.  Jy haat wat jy doen.  Jy haat jouself tot so ‘n mate dat jy nie eens kan dink hoe God jou kan liefhê nie.

Jy mis ‘n baie belangrike punt.  God se liefde is nie voorwaardelik nie.  Hy het jou lief net soos jy is.  Hy het jou lief genoeg gehad om jou te skep en Hy het nog nie een oomblik opgehou om vir jou lief te wees nie.  Hy kan nie, want Hy is liefde.

God is nie beindruk deur sondige dade nie, maar dit beteken nie vir een oomblik dat Hy jou nie meer liefhet nie.

Dit is ware liefde.  Liefde wat nie wankel of verflou nie.  Liefde deur dik en dun.  Liefde vir altyd.  Goddelike liefde en dit is wat Hy vir jou en vir my voel.  En niks gaan dit verander nie.

Moenie verder wegskram van God se arms wat na jou uitgestrek is nie.  Liefde oorbrug alles.  God se liefde sal jou herstel en hernuwe.  Wil jy nie maar die eerste tree neem en volmaakte liefde ervaar wanneer Sy Vaderarms om jou vou nie?

Tuesday 10 July 2018

Saad


Matteus 13 : 8  Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.

Om ‘n saadjie te plant en dit dop te hou totdat dit ‘n plantjie is, bly vir my ‘n heerlike tydverdryf.  Wanneer jy later van daardie selfde plantjie kan begin oes, is dit asof jy deel het aan die skepping self. 

Om te sien hoe ‘n geloofsaadjie wat jy in iemand se lewe gesaai het tot wasdom kom, is selfs beter.  Soms moet jy jare lank wag om te sien of daardie saadjie op vrugbare aarde geval het.  En as jy agterkom dit het ontkiem en begin wortelskiet, moet jy dit met die grootste sorg vertroetel. 

Nou moet jy sorg dat onkruid nie die kosbare saad verdring nie.  So iemand is nog vatbaar vir sonde en kan maklik weer terugval in hul ou natuur.  Jy maak seker die grond raak nie weer hard nie deur te skoffel en gee water (Woord). 

Met tyd raak die wortelstelsel gevestig en groei die plantjie tot ‘n volwaardige plant wat ook kan vrugte dra en saadjies versprei.

Hoe vaar jy as tuinier (Christen)?  Het jy saadjies (ken die woord)? Het jy al die grond voorberei?  Het jy al gesaai?  Sorg jy dat die tuin sonder onkruid bly terwyl jy die nuwe plantjie koester?

Tuinmaak is nie altyd maklik nie, maar dit is beslis belonend.

Monday 9 July 2018

Besef wie jy is


1 Korintiërs 12 : 17 – 18  As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik?  Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.

Op ‘n stadium is Johannes besig om mense te doop. Hulle vra vir hom of hy die Christus is.  Johannes hoef nie twee keer te dink nie.  “Nee, ek is nie die Christus nie.”

Dis duidelik dat Johannes geweet het wie hy was, maar meer as dit… hy het ook geweet wie hy nie was nie.  Sy werk was om die pad voor te berei vir Jesus.  Hy was nie Jesus nie. 

Jy sien, dit is net so belangrik om te weet wie jy nie is nie, anders word jy ingetrek by dinge waar jy dalk belangrik mag voel, maar beslis nie waarde sal toevoeg nie.  Jy het dalk 'n belangrike pos, maar dit is nie waar God jou sien nie.  

Ons het almal beperkings en as ons nie weet wat ons beperkings is nie, sal ons nooit ons natuurlike gawes ten beste kan aanwend nie.  Jy sal ook nie jou roeping kan verwesenlik nie.

Soos elke deel van die liggaam sy eie funksie het, so het elkeen van ons ook ‘n spesifieke doel in God se koninkryk.  Hy wil ons plant waar ons op ons beste kan blom.

Wanneer jy egter op plekke is waar jy nie veronderstel is om te wees nie, of tussen mense waar jy nie bedoel is om te wees nie, sal jy altyd minderwaardig en onvergenoegd voel.  Dit sal ‘n stryd wees om jou beste te lewer.  Dit hoef nie jou lot te wees nie.

Besef wie jy is en hardloop jou eie resies.  Atlete bly binne hul bane vir ‘n rede. 

Sunday 8 July 2018

God weet


Spreuke 3 : 5  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Dis makliker gesê as gedaan.  Dis veral moeilik as ons nie al die antwoorde het nie, want ons wil alles verstaan en verklaar.  Veral as dit by verlies kom.  Met dood of die verbrokkeling van ‘n verhouding wil ons weet hoekom.   

Iemand het eendag gesê:  “Daar is tye dat ons bid en God vir ons antwoord en dan is daar tye dat ons bid en Hy vir ons vrede gee.”  Heel waarskynlik met verwysing na Filippense 4 : 6 – 7  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.  En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Dalk moet ons verstaan dat ons nie alles hoef te weet nie.  God laat ons in ‘n groot deel van Sy domein toe, maar sekere dele sal altyd vir ons ontoeganklik wees vir nou.  

Deuteronomium 29 : 29  maak dit vir my makliker wanneer ek so graag wil weet hoekom, maar daar geen antwoorde is nie.  “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag.  Dis dalk nie aan my bekend nie, maar God weet en dis genoeg. 

Paulus het die helfte van die Nuwe Testament geskryf en selfs hy sê:  Want ons ken maar gedeeltelik (1 Korintiërs 13 : 9)

As jy nie tot rus kan kom omdat jy nie die antwoord(e) op jou vrae kry nie, herinner jouself daaraan dat God weet en dat dit genoeg is.


Thursday 5 July 2018

Vrees vs Geloof


Vrees vir mislukking hou ons dikwels terug.  Dink nou terug aan ‘n keer dat jy misluk het.  Het dit enige permanente skade aangerig?  Meeste van tyd is die antwoord nee.  Wat wel gebeur het was dat jy gegroei het. 

Die teenoorgestelde van vrees is geloof.  Indien jy iets vir die eerste keer probeer, of iets probeer waarmee jy voorheen misluk het, of dalk reken dat dit wat jy aanpak te groot vir jou is, sal jy verseker vrees en geloof ervaar.  Geloof gaan jou aanpor en vrees gaan jou terugrem.  Die geheim is om geloof te laat wen. 

Die Israeliete was bang vir die onbekende wat die Beloofde Land ingehou.  Alvorens die land werklik aan hul sou behoort, moes hul dit eers afneem by ‘n klompie mense vir wie hul baie bang was.  Vrees en geloof was besig om tou te trek binne hulle.  God het hul gerusgestel in Deuteronomium 31 : 6  “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

Almal ervaar die een of ander tyd vrees, selfs die mees ervare mense.  As jy vrees omarm as deel van jou reis en dit as ‘n positiewe katalisator sien, gedryf deur geloof, dan oorwin jy vrees elke keer.  Jy kan nêrens kom as jy nie êrens begin nie.  As vrees al is wat jou terughou, is dit juis rede om te begin.

Wednesday 4 July 2018

Tot verheerliking van God

2 Tessalonisense 1 : 11  12  Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.  So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

Toe Bach Jesu, Joy of Man’s Desiring 4 eeue gelede gekomponeer het, sou hy seker nooit kon droom dat derduisende mense dit sou aanhoor terwyl ‘n bruid die paadjie na die preekstoel aflê nie. Bach het 256 kantates gekomponeer, musiek wat jou siel aanraak omdat hy dit uit sy siel geskryf het. Min mense weet egter dat hierdie kantates aanvanklik as gebede geskryf is.  Alvorens Bach met ‘n komposisie sou begin, sou hy bo-aan die blad die letters JJ skryf. Dit het gestaan vir Jesu, Juya wat beteken ‘Jesus help my’.  Aan die onderkant van elke blad het hy die letters SDG geskryf.  Dit staan vir Soli Deo Gloria – ‘alleenlik tot die glorie van God’.  Dis duidelik dat sy lewe ‘n unikee uitbeelding van een beweegrede was - om God te verheerlik.

Leef jy ook tot verheerliking van God?  Of is jou lewe alles behalwe ‘n verheerliking van God? Net jy ken die antwoord hierop.  Jou lewe is jou simfonie.  Om God te verheerlik, is om vir ‘n gehoor van een te leef.  Jy doen die regte ding(e) om die regte rede(s).  Jy doen dit omdat jy wil en nie omdat jy moet nie. 

Om te leef tot verheerliking van God verg nie inspanning nie.  Dis om op ‘n plek te kom waar jy volkome inpas en net eenvoudig weet dat jy weet dat jy weet dit is presies waar jy moet en wil wees. 

Tuesday 3 July 2018

Hier is ek!


Jesaja 6 : 8 – 9  Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”  Toe het die Here gesê: “Gaan…”

Die volk is op ‘n baie sondige plek.  God se toorn het vlamgevat en Hy straf hul.  God soek iemand om met die volk te gaan praat. Soos Moses het Jesaja ook verskonings gehad hoekom hy nie geskik is vir die taak nie.  In vers 5 voel hy dat hy onrein is en deel is van ‘n onrein volk.  Hy weeg homself en bevind homself natuurlik te lig. 

Roeping troef egter getuigskrifte en Jesaja antwoord op God se roepstem.  God huiwer nie een oomblik nie:  “Gaan!”

Wanneer jy bereidwillig is, sal God jou na ontoeganklike plekke neem en die onmoontlike laat gebeur.  Dink maar aan diegene wat gewillig was deur die eeue heen:  Moses lei die volk tot op die drumpel van die beloofte land ten spyte van vele uitdagings, Abraham en sy vrou was so desperaat om ‘n kindjie te hê dat hy selfs ‘n kindjie by haar slavin verwek het en uiteindelik sou Sara ‘n baba hê op ‘n ouderdom waarop dit onmoontlik vir ‘n vrou sou wees om nog kinders te baar, Josef moes uit ‘n put gered word en ‘n gevangene word alvorens hy die hoogste en magtigste pos in Egipte beklee het en sodoende sy volk van hongersnood kon red, Ester het haar lewe op die spel geplaas deur die koning ongenooid te nader.  God baan egter die weg vir haar om te doen waarvoor Hy haar geroep het…om die Joodse volk te red.  Rut is ‘n nie-Jood en sou nooit aanvaarbaar vir die volk gewees het as dit nie vir God was wat vir haar ‘n pad maak sodat sy uiteindelik met Boas trou.  Uit hul huwelik stam Dawid af en uiteindelik Jesus Christus.  Hannah het Samuel van God afgebid en toe haar belofte gestand gedoen om hom vir God te gee sodra hy oud genoeg was, Dawid was ‘n skaapwagter, die kleinste en mees onwaarskynlikste van al sy pa se kinders en tog word hy koning van Israel… en Jesaja.

Dink net wat God vir jou kan doen as jy sou antwoord op Sy roepstem.  Ons mors dikwels tyd om uit te vind waarheen God wil hê ons moet gaan of wat ons dink Hy wil hê dit is wat ons moet doen.  Al wat ons eintlik moet doen is net om te sê:  “Hier is ek.”  Dis God se werk om ons te kry waar Hy ons wil gebruik.  Soms gaan God ons vir iets gering gebruik, soos om liefde te bring onder ons kollegas waar daar soveel onmin is.  Ander kere sal God jou weer om die wêreld stuur.  Elkeen se reis sal verskillend wees.

Dis wat Moses by die brandende bos gesê het en ook wat Kaleb gesê het toe hy die Beloofde Land binnegegaan het.  Dit is ook wat God jou graag wil hoor sê:  “Hier is ek.”


Monday 2 July 2018

Leef soos 'n nuwe mens


Efesiërs 4 : 24  Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê.

Partykeer is ons gedagtes nie edel nie.  Die feit dat ons daardie gedagtes nie hardop uiter nie, maak hul nie meer edel nie.  Bitterheid, skeltaal, vloek, haat…

Realiteit is dat jy word wat jy dink.  Genadiglik is daar vir ons hoop.  As God ons verander het, is ons nuwe mense.  Dan leef ons volgens Sy wil.  Dan is daar nie meer haat binne ons nie, ons is nie meer bitter nie, ons koester nie meer ‘n wrok nie en ons gaan beslis niemand vloek nie.

Jy kan nie nuwe klere aantrek alvorens jy nie die ou klere uitgetrek het nie.  Met hierdie analogie  praat ons nie hier van klere wat net bietjie na sweet ruik nie… ons praat van vuil klere wat jy net van ontslae kan raak.  Soms wil ons egter nie erken dat ons nog van daardie ou klere aangehou het onder die nuwe klere nie.  Jy gaan mos nou nie vuil klere terug in die kas hang of op die vloer los waar jy daaroor kan struikel nie.  Jy moet van daardie vuil klere onslae raak.

Daarom gaan ons die leuen aflê en die waarheid aanneem. Ons gaan nie kwaad bly en die duiwel ‘n houvas gee nie.  Die dief gaan ophou steel… die moordenaar moor nie weer nie… die persoon wat owerspel pleeg, is nie verder ontrou nie…

Ons stel onsself in om opbouende woorde en gedagtes te vestig.  Om die Heilige Gees te bedroef is beslis nie op ons agenda nie.  In vers 22 & 23 lees ons immers dat ons mekaar moet vergewe soos God ons vergewe het op grond van wat Christus vir ons gedoen het.

Sunday 1 July 2018

Harde werk


Efesiërs 6:5  Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is.

Om sukses te behaal sonder om hard te werk, sal jou op die ou end soos ‘n mislukking laat voel.  Daarom is dit vir my so hartseer wanneer iemand nie op meriete in ‘n pos aangestel word nie en ek praat nie net van regstellende aanstellings nie.  Mense word ook aangestel na aanleiding van wie hul ken en ander is bloot goed om hulself te verkoop, al bly dit net by praat. 

Ek glo jy doen daardie mens ‘n onreg aan, want hy/sy weet hoekom hul daardie pos gekry het en hul kan nie daaroor goed voel nie.  Niks kan erger wees as om in ‘n posisie te wees en nie oor die nodige ervaring en agtergrond te beskik om 'n beduidende bydrae te lewer nie.  Jy is 'n blote passasier.

Daar is nie kortpaaie na die toppunt van ‘n leer nie.  Jy moet elke sport gebruik om jou te lig na die volgende een.  As jy nooit elke faset van die besigheid deurgemaak het en daarom kan weet presies wat aangaan nie, hoe kan jy ooit besluite neem wat sin maak?  Gaan mense jou besluite respekteer?  Gaan hulle jou respekteer?

Werk op sigself het niemand nog ooit enige skade aangedoen nie.  Harde werk nog minder.  Dis deel van die groeiproses.  Dis die sporte van die leer na bo.

Dan, en dan alleen kan jy die uitsig van bo geniet en waardeer.  Dan kan jy met trots terugkyk op die pad wat jy van die onderpunt tot by die heel boonste sport afgelê het.  Dan weet jy dat jy verdien om te wees waar jy is.  Jy was nie ‘n passasier nie; jy het jou sukses verdien.

Die vraag is of jy gaan nee sê as jy bevorder word bo iemand wat dit meer verdien as jy?  Gaan jy groot genoeg wees om te sê dat jy nie ‘n “token” aanstelling wil wees nie, maar dat jy bereid is om te leer en jouself te bewys totdat jy goed genoeg daarvoor is deur eerlike, harde werk.

Nothing worthwhile comes easily. Work, continuous work and hard work, is the only way to accomplish results that last.  Hamilton Holt

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...