Monday 29 April 2019

Weerspieël heerlikheid


2 Korintiërs 3 : 18  Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

As jou kinders sou rondloop in stukkende, vuil klere, met gekoekte hare, vuil gesiggies en handjies, sou mense hul wenkbroue lig en beslis wonder watter tipe ouer jy is.

Dink jy dat God beskaamd as ouer wil staan?  Dit sal ‘n patetiese refleksie op Hom as God wees, of hoe?  Hy wil beslis nie hê nie-Christene moet kyk na Christene en ‘aag shame’ sê nie.  Inteendeel, dit is hoekom Hy net goeie planne vir ons het.

Wanneer jy God aanneem as jou Verlosser en Saligmaker en jy binne Sy wil begin leef, sal jy mettertyd agterkom dat daar verandering in jou lewe en menswees plaasvind.  Op ‘n dag sal jy net besef dat iets verander het… jou humeur vlam nie meer sommer net op nie… jy vloek nie meer nie… jy is nie meer afhanklik van middele om jou deur ‘n dag te kry nie… jy is nie meer net op jouself ingestel nie… jy is nie meer so bekommerd oor die toekoms nie, ens, ens, ens.   Eers is dit net ligte nuanses wat verander, maar dan is daar ook groter veranderinge.  Jy besef dat jy transformeer, want God se heerlikheid word weerspieël in jou.  Jy is geklee in ‘n koninklike kleed.

Nou kan jy ook volkome op God vertrou en weet dat wanneer jy Sy koninkryk gevind het, al die ander dinge ook vir jou gegee word.  Beteken dit probleme is op ‘n einde?  Nee, maar jy sal weet hoekom dinge verkeerd gaan.

Sunday 28 April 2019

Herinner jouself wie God is


Psalm 91 : 2  hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

Die een ding wat ek besef, is dat daar merkwaardige krag in ons woorde is.  Ons woorde rig as’t ware ons koers vir die dag.  Jy besluit dus deur die woorde wat uit jou mond kom hoe jou dag gaan verloop. 

Sou jy opstaan met ‘n houding van geloof en afwagting en God se Woord verklaar oor jou lewe, sal jy versterk en bemagtig word deur die Heilige Gees.  Terselfdertyd kan jy met elke Jan Raap en sy maat gesels oor jou probleme en bekommernisse en sodoende voel hoe geloof uit jou drup en kort voort lank sal jou fokus in hierdie neig.

Dit is hoekom dit nodig is om absoluut bewus te wees van jou woorde en gedagtes.  Neem gerus saans voorraadopname.  Was ek vandag my beste ondersteuner of was ek eintlik my grootste vyand deur wat ek gesê of gedink het?  Was en negatief of positief?  Het ek op myself staat gemaak of myself herinner aan wie God is? 

En hoe gemaak as teëspoed of storms my tref?  Weereens, jy het ‘n keuse.  Moenie jouself kelder nie.  Verklaar dat God jou toevlug en veilige vesting is, maak nie saak wat jou pad kruis nie.  Herinner jouself dat jy tot alles in staat is deur Hom wat jou die krag gee.  God se Woord is ‘n getuigskrif van Wie Hy is en waartoe Hy in staat is.  Ken jy nog so ‘n magtige persoon? Het jy enige iets of enige iemand anders nodig?

Wednesday 24 April 2019

Onsekerheid


Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Ons leef in onseker tye.  Protesoptogte en oproerigheid neem toe en word by die dag meer gewelddadig.  Verkiesingsbeloftes word gemaak wat mense heelwaarskynlik ontnugter gaan laat en wie weet wat dan gaan gebeur.  Gaan die grondwet verander word?  Hoe gaan dit eiendomsreg in Suid-Afrika beinvloed?  Waar gaan ek werk kry na ek klaar studeer het?  Hoe gaan ek oorleef op my karige inkomste terwyl pryse bly styg?

Dit is so… ons weet nie wat die ekonomie gaan doen nie… ons weet nie wat die toekoms inhou nie… partykeer weet ons nie eens hoe om te bid nie (Romeine 8 : 26).

En dan lees jy ‘n teks soos Romeine 8 vers 28 waar Paulus begin met “Ons weet!” Dit is die verskil tussen ons uitkyk en God se uitkyk.  God weet presies wat die toekoms inhou.  Hy weet reeds waarheen ons op pad is en die goeie nuus is dat Hy alles ten goede laat meewerk… vir die wat Hom liefhet.  Ons vind berusting daarin dat God besig is… Hy sit nie handegevou nie.  Al sien ons nie enige positiewe verandering nie, beteken dit nie dat God nie daarmee besig is nie.  Wanneer dinge in ons guns werk, beteken dit nie dis omdat ons so oulik is nie, maar dat dit op die ou end tot verheerliking van Sy Naam sal wees.  Let ook daarop dat God ALLES ten goede laat meewerk, nie net sekere dinge nie.  Neem jou onsekerhede en vrese na Hom.

Weet jy wat is vir my die beste? God kan nie onverhoeds betrap word deur dit wat nou in ons land gebeur nie.  Hebreërs 1 : 11  Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

Hy is in beheer en daarom hoef ek nie onseker te wees nie.

Tuesday 23 April 2019

Dis joune


Josua 1 : 11 “Gaan die kamp deur en sê vir die mense: Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae trek julle deur die Jordaan en gaan julle die land in besit neem wat die Here julle God julle as besitting gee.

Wanneer God vir jou iets gegee het, het jy die titelakte in jou hand.  In sommige gevalle mag dit nodig wees om daarvoor te baklei.  As jy dit nie doen nie, sal jy nie ontvang wat hy jou belowe het nie.  

Dalk streef jy ook daarna om ‘n werk te kry of jy wil graag ‘n beter of groter huis hê, maar dit bly buite jou bereik.  Moenie ander hul voorspoed beny nie, jou beurt sal kom.  En as jy moeg is om net te droom of praat oor dit wat jy graag wil hê, staan ‘n slag op en doen iets daaraan.  Ek moet jou darem ook net ingelig oor die sleutel tot sukses aldus Petrus.  2 Petrus 1 : 3  Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

Neem hierdie belofte, bepeins dit en lê dit diep binne jou hart weg sodat jy dit ook uiterlik kan begin ervaar. Ons dink so maklik dat God nie ons gebede beantwoord nie, maar iemand wat siek is, moet dalk eers in hul gees glo dat hul genees is alvorens hul fisiek genees word.  Jy sien soms vra ons God vir kos, maar hy gee ons saad om te saai.  Die voedsel is in die saad.  So ook is die saad van dit wat God jou beloof het reeds binne jou. Net soos wat jy ‘n saadjie sal water gee, onkruid uittrek en dit vertroetel totdat dit vrug dra, moet jy ook jou verhouding met God vertroetel.  Eer Hom nou reeds vir dit wat op pad is.

Monday 22 April 2019

Hoe lyk jou fondament?


1 Korintiërs 3 : 11 want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie


Moses het vir die Israeliete in Deuteronimium 6 : 6 – 7 gesê:  “Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee.  Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders.  Praat daaroor by die huis en wanneer julle op pad is, wanneer julle lê en wanneer julle opstaan.

Die waardestelsel in Suid-Afrika is besig om ineen te stort.  Die fondament is besig om te verbrokkel en ons weet wat gebeur wanneer die fondament ingee.  Integriteit, respek, lojaliteit, eerlikheid, trots, ens, ens, ens… dit bestaan omtrent nie meer nie.  ‘n Lewe is amper niks werd, want mense word vermoor sonder dat enige iets gesteel word.  Om jou brood te verdien in die sweet van jou aanskyn is lankal vergete.  Mense wil so min as moontlik doen, vir so kort as moontlik en maksimum vergoeding ontvang.  En as ek so onderdeur ‘n geldjie kan maak, des te beter.

Voor ons vingerwys, laat ons selfondersoek instel.  Die fondament word gelê tydens ‘n kind se opvoeding.  Het ek waardes by my kinders ingeskerp.  Het ek hul daarop gewys dat die feit dat ‘almal’ dit doen, nie beteken dit is reg nie?  Of het ek eerder my kind se vriend/vriendin probeer wees en hul eerder geleer om ‘vir hulself te dink en op te staan’?  Daarmee sê ek nie laasgenoemde is verkeerd nie, solank dit net nie ten koste van andere is nie.  Jy is eerstens ‘n ouer wat ‘n plig teenoor jou kind het om hom/haar vir die lewe voor te berei.  As jou kind jou respekteer (‘n waarde), sal dit nie eens nodig wees om die kind te straf nie.  Duidelike grense is nodig… wat is toelaatbaar en wat nie?  En hoe weet ek?  Die antwoord op elke vraag is te vinde in die Bybel.

Verder moet ons ook besef dat ons as ouers deesdae vele regte het, maar met elke reg kom daar ‘n verantwoordelikheid.  Kinders het na volwassenes gekyk en die optrede word deesdae nagevolg… Mede-skoliere word vermoor.  Skole word gevandaliseer… Dit is tyd dat ons as ouers ons verantwoordelikheid aanvaar en ons kant bring.





Wednesday 17 April 2019

Golgota


Matteus 26 : 53  Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.

Ek het altyd gewonder waar Jesus se dissipels en al die ander wat Hy genees het was toe Hy hierdie paadjie na Golgota moes stap totdat ek Matteus 26 gelees het.  Net ‘n regstelling, ek het dit al voorheen gelees, maar hierdie keer het dit sin gemaak. 

Jesus het geweet Judas is op pad, die een wat Hom sou verraai.  Judas daag op met ‘n groot klomp mense met swaarde en stokke.  Die Judassoen sou die teken wees.  Judas is ewe vriendelik en vals.  Jesus knip hom kort op ‘n mooi manier:  “Vriend, doen wat jy moet doen.”  En nou weet die menigte wie hul teiken is.  Hul is ‘n oormag teen ‘n onskuldige persoon, verraai deur een van Sy volgelinge.  Hulle storm vorentoe en gryp vir Jesus.

Petrus doen wat ek altyd gehoop het iemand vir Jesus sou doen… Hy pluk sy swaard uit, gereed om een se oor af te kap en Jesus stop hom met die woorde hierbo.

Nou verstaan ek uiteindelik.  Die kruisdood op Golgota was vrywillig!  Jesus wou nie gehelp word nie… Hy het werk gehad wat Hy moes voltooi en laat ons nou maar eerlik wees, net ‘n woord van Hom en Hy kon uit die omstandighede uitgered wees, maar Hy was volkome toegewyd aan Sy taak op aarde.

My wens vir jou is dat Jesus se kruisdood wat ons môre herdenk, nie verniet was nie.  Dat jy sal onthou dat Hy die prys betaal het sodat jy vrygekoop kan wees. 

Mag jy ‘n vredevolle Paasfees geniet.

Tuesday 16 April 2019

Waar kom jou rykdom vandaan?


Deuteronomium 8 : 18  Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.

Na aanleiding van gister se gedagte, het iemand kommentaar gelewer dat hulle niks verniet gekry het nie, inteendeel, hulle werk baie hard vir wat hulle het.

Ek het die grootste respek vir mense wat hard werk en ek gun jou al die luuksheid en gemak wat daarmee saamgaan, maar soos vandag se teks sê, moenie vergeet dat God jou die krag daarvoor gegee het nie.  Sonder krag van God sou jy nie in staat gewees het om te kom waar jy vandag is nie.  Sonder Sy krag sal jy nie besit wat jy nou het nie.  En as jy selfs meer as ander geseën is, moenie dat dit jou selfvoldaan maak en vergeet waar alles vandaan kom nie.

Nie almal kry dieselfde geleenthede nie, maar dit is ook waar dat nie almal met die talente woeker wat hul ontvang het nie.  As jy vandag vind dat jy met afguns na ander kyk wat meer as jy het, ondersoek asseblief jou hart.  Jesus vertel ‘n gelykenis oor muntstukke (Matteus 25).  Een man kry 5 muntstukke, ‘n ander 2 en ‘n derde man 1 muntstuk.  Die eerste man verdubbel die geld, so ook die tweede.  Die derde man het dit begrawe en net die een muntstuk wat hy gekry het teruggee.  Wat gebeur toe?  Die een wat hy gegee het, word toe by hom afgevat en vir die ander gegee.  Ouch!  En die les wat ons hieruit leer?  Dit kan vir elkeen verskillend wees, so ek laat dit aan jou oor as deel van jou selfondersoek.

Ons dien ‘n regverdige God en daarom is dit net regverdig dat ons Hom erken vir die rol wat Hy in ons lewe speel en gehoor gee wanneer Hy met ons praat.

Monday 15 April 2019

Hoe saai jy?


2 Korintiërs 9 : 6 – 7  Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Daar sal altyd ‘n polemiek wees oor hoeveel ons moet gee.  In die Ou Testament word daar verwys na ‘n tiende.  Party mense raak baie tegnies:  10% voor aftrekkings of daarna of dalk net 10% van wat ek oor het?  In die Nuwe Testament het ‘n vrou al die olie in haar albastefles op Jesus se voete uitgegooi, so sy het eintlik 100% gegee. 

Alhoewel ons al gehoor het dat dit beter is om te gee as ontvang, is meeste mense steeds huiwerig om te gee.  Verder verdedig hul ook hoekom hul nie gee nie.  Die geld word wanbestee…  Hul kry self swaar… Ons het ‘n bakhand-generasie geword en ek gaan nie bydrae daartoe nie. 

Die Bybel sê ook dat die armes altyd met ons sal wees en dat geloof sonder dade niks beteken nie. 

In Korintiërs leer ons egter ‘n les.  As jy karig saai, sal jy karig oes.  Daarmee word jy egter nie verplig om te gee nie, want God wil nie ‘n offer van jou hê wat jy nie wil gee nie.  Ons moet ook nie gee omdat ons iets terug verwag nie en veral nie om raakgesien te word nie.  In die geval is dit in orde dat die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie.

Wees ingestel op die Heilige Gees se stem sodat jy weet wanneer om te gee.  En terloops, net soos die weduwee se kruik nooit opgedroog het toe sy haar laaste olie vir die profeet gegee het, sal jy ook nooit honger ly terwyl jy gee nie.

Sunday 14 April 2019

Met jou hele hart

Johannes 14 : 15  As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer

Dit is verseker nie altyd maklik om God se opdragte uit te voer nie.  Daarom is dit nodig om van tyd tot tyd so ‘n bietjie selfondersoek te doen.  Dalk is daar hoekies in jou hart waar daar ‘n paar spinnerakke is. 

Vasgevang in daardie spinnerakke is dalk vergewinsgesindheid… iemand wat jou iewers lank gelede tenagekom het en jy’t nog nooit vergewe nie… Nie?  Hoe voel jy oor jou gewese eggenoot, jou baas, ander rasse, die regering?

Sodra jy van al die lae stof en spinnerakke ontslae geraak het en jy naak en eerlik voor jouself staan, sal jy dalk ‘n paar ander outjies ook ontdek.  Jaloesie, skinder, naywer, ongeduld, woede, irritasie.

Eers wanneer alles silwerskoon is en soos nuut lyk, kan jy die glans van liefde sien wat al die tyd daar was.  Leef Sy liefde uit.  Wanneer jy liefde uitleef, raak dit al makliker om die monstertjies te herken en hul uit te boender voor hul nesskop.

Lees maar ‘n bietjie Korintiërs 13 en sien waartoe liefde in staat is.  Dit vergeef alles, hoop alles, verdra alles… reken die kwaad nie toe nie, om maar net ‘n paar kenmerke te noem.

Thursday 11 April 2019

Vertrou op God


Jesaja 25 : 9  …dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou.

Hoop is dikwels die lewenslyn waaraan ons vasklou.  Ons weet dat daar lewe is solank ons hoop.  Om te hoop is ook om op God te vertrou.  Jy vertrou dat Hy uitkoms sal bring en dit is dikwels al wat ons staande hou.

Oor die eeue heen het mense gehoop dat God vir hul sou deurkom en in die Bybel is daar vele voorbeelde waar God wel vir diesulkes deurgekom het.  Soms moes mense egter vir jare aaneen bly hoop.  

Neem nou maar vir Josef.  Nadat sy broers hom in die put gegooi het, het hy sekerlik gehoop hul het berou en kom haal hom uit.  Hulle het hom uitgehaal, maar toe verkoop hul hom aan die Midianitiese handelaars.  Weer moes daar hoop opgeflikker het… miskien kan hulle hom terugneem na sy pa, maar helaas sy hoop word weer beskaam en hy word aan Potifar verkoop.  Ook daar het hy heelwaarskynlik gehoop dat sy goeie werk beloon sal word, maar toe vertel Potifar se vrou leuens oor hom en beland hy in die tronk… Keer op keer is Josef se hoop beskaam en het dit amper net al slegter en slegter met hom gegaan, maar Josef het in God geglo en op Hom vertrou.  Ons ken die verhaal… Uiteindelik sou hy die een wees wat sy hele gesin van hongersnood red.

Dit wat ons deurgaan is tydelik en deel van God se plan.  Ja dit is nie noodwendig die pad wat ons sou kies nie, maar dan... God se pad is altyd interessanter.  Omdat Josef bly glo en vertrou het, is hy opgehef.

Moenie ophou hoop nie… Moenie ophou glo nie… Moenie ophou om God te vertrou nie.  Hy sal vir jou deurkom.

Wednesday 10 April 2019

Teleurstelling

Eksodus 5 : 22 – 23  Daarna het Moses weer na die Here gegaan en gesê: “Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur?  Van die eerste oomblik af dat ek by die farao gekom het om in u Naam te praat, het hy hierdie volk mishandel. Tog het U niks gedoen om u volk te red nie!”

Dis amper asof Moses God sonder respek behandel en met Hom praat asof Hy sy gelyke is.  Hy is kwaad en teleurgestel in God.  Moses was nou nie juis perfek nie, maar hy was immers uitgekies deur God om die Israeliete uit Egipte te ly.  Hoe durf hy so met God praat?

Dalk moet ons nie so vinnig vinger wys nie.  Ek is seker as ons so bietjie sit en dink, sal ons onthou waar ons ook teleurgestel in God was.  Dink maar aan verhoudings… tye waar jy nie met die regte persoon deurmekaar was, maar so blind was van liefde dat jy God gesmeek het om dit so te bewerkstellig dat die persoon net oë vir jou het.  En toe gebeur die nie… jy verloor, wat jy glo, die liefde van jou lewe en jy blameer God wat nie jou gebede beantwoord nie. 

Of iemand naby jou raak siek en jy smeek God om hul te genees en dit gebeur nie…  Of jy het ‘n oortreding begaan en nou smeek jy God om jou hieruit te kry… jou straf vry te spring en dit gebeur nie… Of iemand behandel jou onregverdig en jy vra God om reg en geregtigheid te laat geskied, maar niks gebeur nie.

As God wou hê dat ons willose marionette in Sy hande moes wees, sou Hy ons sonder ‘n brein, emosies en ‘n wil van ons eie geskape het.  God het ons gemaak en Hy weet presies wie en wat ons is.  Daarom straf God nie vir Moses na hierdie tirade nie.  Hy neem onmiddellik aksie en sê:  “Nou sal jy sien wat Ek met die farao gaan doen: Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan; ja, Ek gaan hom dwing om hulle uit sy land uit weg te jaag.” (vers 24)

Ons hoef nie vir God of enige iemand anders te blameer wanneer ons teleurgestel is nie.  Wat ons wel moet doen is om ons hakke in te skop en te besef dat die vyand besig is met ‘n aanval. 

God dra jou belange op die hart.  Hy staan glad nie apaties teenoor jou nie.  Onthou elke oomblik dat Sy planne vir jou lewe voorspoed, ‘n toekoms en verwagting insluit.  Niks hiervan is negatief nie.  Wanneer die tyd reg is, sal Hy ingryp.  En wanneer jy terugkyk op jou lewe, glo ek dat jy sal sien hoe en waar Hy jou teen jouself beskerm het en jou deurgetrek het sonder ‘n skrapie.

Tuesday 9 April 2019

God se tevredenheid


Spreuke 16 : 7  As die Here tevrede is met 'n mens se lewe, laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe.

Het jy al ooit gewonder wat jy kan doen om God tevrede te stel?  Hebreërs stel dit duidelik dat geloof God beindruk.  Geloof is bloot om te glo en vertrou dat God is wie Hy sê hy is, sonder dat jy Hom gesien of ‘n direkte gesprek met hom gehad het.   Hy beloon immers diegene wat Hom soek. 

Jakobus herinner ons weer dat geloof sonder dade dood is, so ons kan as’t ware ons geloof uitdruk deur ons dade.  Dade is ‘n verlengstuk van ons geloof… die volgende stap. 

Burre Burger, die man wat droogtehulp aan boere verskaf het eendag gesê ons gaan sit op ‘n stoel sonder om eers te kyk of die stoel vertrou kan word, maar ons wonder of ons God kan vertrou.  As ons nie die stoel vertrou het, sou ons nie daarop gaan sit het nie m.a.w. ons aksies word geaffekteer deur ons geloof.  Wanneer jy die stoel vertrou, gaan sit jy… Wanneer jy God vertrou, leef jy in geloof.  Ons vra nie vrae nie… ons doen nie toetse nie… ons vra nie vir bewyse nie.

Dan wil ons Sy wil soek en Hom in alles gehoorsaam omdat ons weet dat Hy ons nooit sal teleurstel nie. 

Jy kan God dus stil tevrede maak met jou wanneer jy jou absolute en blindelingse geloof in Hom demonstreer, wanneer jy Sy Woord lees en bestudeer omdat jy meer van Hom en Sy weë wil leer en weet sodat jy kan groei in geloof. 

Die bonus is dat jy dan selfs in vrede met jou vyande sal leef!

Monday 8 April 2019

Salwing


Jesaja 10 : 27  In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

Die skepping, in besonder die fyner besonderhede daarvan, is iets wat my nooit sal verveel nie.  Neem byvoorbeeld  ‘n walvis… ‘n Volgroeide walvis weeg maklik tussen 45 en 200 ton.  Daardie enorme dier eet plankton, ’n uiteenlopende groep organismes wat in die water voorkom.  Meeste daarvan is so klein dat mense hul nie eens daaraan steur nie.

Dan is daar ‘n spinnekop.  Al ooit gewonder hoe ‘n spinnekop ‘n web kan spin waarin sy prooi verstrengel en vassit terwyl hy baie maklik daaroor kan loop om sy prooi te gaan haal?  Dit is omdat God die spinnekop so uniek gemaak het soos die walvis en elke ander dier.  Die spinnekop skei ‘n olie af wat teen sy beentjies afloop en dit is wat hom sulke superkragte gee om oor daardie spinnerak te stap.

As jy dink dit is uitsonderlik, wil ek vir jou sê dat God glad nie afgeskeep het wat jou aanbetref nie.  Jy is net so geseënd en uniek.  Sy salwing rus ook op jou.  Kry jy die prentjie?  Salwing, olie?   Die olie maak dat die spinnekop nie in sy eie web vassit nie.  Met God se salwing op jou lewe sal niks hul greep op jou kry om jou terug te hou nie.  Bitterheid gaan geen houvas op jou kry nie.  Jaloesie en naywer sal jou nie raak nie.  Die valstrikke wat die vyand vir jou stel sal jou nie kan terughou nie.  Sy salwing op jou lewe is uiteindelik al beskerming wat jy nodig het.  Die juk is verwyder.



Sunday 7 April 2019

Blinde geloof


Eksodus 14 : 22  Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan.

Teen die tyd dat die Israeliete by die Jordaanrivier kom, het hul alreeds eerstehands ervaar waartoe God in staat is toe Hy die see vir hul in twee gekloof het om droogvoets daardeur te trek.  Hier loop hul hulself nou vas teen ‘n rivier en God sê vir Josua dat Hy die water vir hulle in twee sou kloof sodat hul droogvoets ook hierdeur sal trek.  Die keer het God hul egter gevra om hul voete nat te maak voordat die water sou skei.  Ek is seker daarvan daar was ‘n paar van hul wat skepties hieroor was.  So iets is nie binne ons verwysingsraamwerk nie.  Water deel nie in twee nie.

Ons kan hul egter nie blameer nie, want al ken ons die Bybel hoe goed en weet ons van elke belofte, is ons ook steeds skepties.  Ons moet egter by die Israeliete leer. 

Hulle het gedoen soos daar van hulle verwag is.  Ek is seker daarvan dat party van hul benoud geraak het toe daardie water oor hul voete begin spoel en seker gewonder het wanneer dit nou gaan gebeur.  Dalk het hul ook begin twyfel en gedink dat hul vandag gaan verdrink.  God het hul omtrent getoets, want hul was omtrent halflyf in die water toe dit eers geskei het.  Dit het byna onmenslike geloof geverg, verseker, maar omdat hul gehoorsaam was het hul as’tware in hul beloofde land ingestap.

Soms verwag God ook van ons om Hom onvoorwaardelik te vertrou, teen alle logika in.  Soms skei hy die see in twee voor ons oë, soms verwag Hy van ons om in die water in te stap.  Jy weet waarvoor jy Hom vertrou.  As jy die opdrag van Hom kry om in geloof vorentoe te tree, doen dit… moenie een oomblik huiwer nie.  Al maak dit nie sin nie, beweeg.  Wanneer ons Hom so vertrou, sal hy ons geloof beloon.

God het nie die Israeliete in die steek gelaat nie en daar is geen rede hoekom Hy jou in die steek sal laat as jy Hom op dieselfde manier vertrou nie.

Thursday 4 April 2019

Jy is uiitverkies


Daar is ‘n ou gesegde in Afrikaans:  “Wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterk.”  In Engels:  “The battle that you are going through is not going to break you, it is going to make you.  Maar partykeer voel dit of ons breek.  Mense is wreed en woorde sny diep.

Ek verstom my elke dag oor hoeveel mense omgee wat ander van hul dink.  En as hul dalk iets gehoor het van hulself wat hul nie veronderstel was om te hoor, kan hul dae lank dit loop en herkou en oor en oor in hul koppe terugspeel.  Hoekom bekommer jy jou oor wat ander van jou sê?  Jy is nie ‘n speelding nie, so moenie dat mense met jou gevoelens speel nie. 

1 Petrus 2:4 Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is  Wanneer mense jou in die steek laat sal God jou optel.  Hy begeer sukses en voorspoed in alles wat jy doen. 

God is by jou en Hy sal jou nooit verlaat of jou in die steek laat nie.  Hou op om te wag dat dinge gebeur en laat dit self gebeur.  Jy kan ‘n pro-aktiewe rol in jou eie toekoms speel.  Dawid het vir Goliat oorwin omdat God aan sy sy was.  Jy en God is ‘n wenspan.  Met Hom is jy tot alles in staat.  Moenie dat mense jou weerhou van dit wat God vir jou in stoor het nie.  Stap jou eie paadjie, die Godpaadjie.  ‘n Atleet bly in sy baan en fokus net op die wenstreep. 

Ek bid vir jou vir kalmte as jy oorweldig is vandag.  Kom na God toe.  Die rus wat jy van Hom kry, sal alle verstand te bowe gaan.

Wednesday 3 April 2019

Gee, gee, gee


Ons werk onsself dikwels kapoet net om sukses te behaal en dan is ons steeds teleurgestel in ons pogings, want dis asof ons net nie ons doel kan bereik nie.

Hou onmiddellik op om sukses na te streef.  Jy lig dalk nou ‘n wenkbrou en sê dat dit ‘n bietjie verregaande is… mens moet altyd daarna streef om iewers in die lewe te kom, om jou omstandighede te verbeter.  Ja, ek het nie gesê dat jy nie suksesvol gaan wees nie, jy doen dit net op die verkeerde manier.  Gebruik liewer dieselfde energie en entoesiasme om te gee.  Jy’t reg gelees.  Weereens skud jy jou kop.  Hoe gaan ek beter daaraan toe wees as ek aanhou om weg te gee?

Dis waar ons as mense so kortsigtig is.  Ons kan nooit meer gee as wat ons van God ontvang nie.  Hoe meer jy gee, hoe meer gaan Hy jou mee seen.  Probeer gerus, ek daag jou uit.  Kyk of jy meer kan weggee as wat God aan jou gaan teruggee.  Ek weet dit maak nie sin nie.  God maak selde sin, dis hoekom Hy God is.  Sy weë is nie ons s’n nie, Sy gedagtes nie ons s’n nie…

Wanneer jy ‘n hart het vir diegene oor wie God trane van hartseer stort, gaan dit nie ongesiens verby nie.  Hy sien mense wat honger en dors is en Hy’t so mooi gesê : Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’   As ons iets vir iemand soos hulle doen, doen ons dit as’t ware vir Hom.  Daar is stukkende mense rondom ons wat ‘n sagte woord en ‘n vertroostende paar arms so nodig het.  Hulle het nodig om Jesus deur jou te ervaar. 

Hy sien elke goeie daad en dit maak Hom gelukkig.  Ons weet dat hy die saad sal vermeerder wat ons saai. 

Probeer van vandag af om ten minste een persoon se lewe aan te raak op ‘n manier wat Jesus dit sou doen.

Tuesday 2 April 2019

Jou tyd


Partykeer hoor ek mense sê:  “Ek wag vir my skip om in die hawe aan te kom.”  Menende hul wag op goeie tye… dat hul tyd uiteindelik sal aanbreek.

Vandag wil ek vir jou sê:  “Wanneer jou tyd aangebreek het, sal niks en niemand dit kan keer nie…  Nie die verswakkende ekonomie nie, nie jou ‘vyand (e)’ nie, nie die grootste en sterkste mens nie.”  Jy sien wanneer God gereed is om jou op te hef, kan geen bose mag dit keer nie.  Jou oomblik kan vandag wees.  Elke dag is nuut en vandag is ‘n nuwe dag met nuwe geleenthede en moontlikhede. 

Ek en jy het net een kans om vandag te leef.  Dit kom nooit weer nie.  Daarom moet ons die beste gebruik maak van elke oomblik… niks mis nie.  Jou roeping op aarde is om te leef tot eer van God sodat jou lewe ‘n getuienis kan wees van dit waartoe Hy in staat is.

Dis hoekom jy op die perfekte plek is daar waar jy jouself nou bevind.  Laat ander maar praat… laat hul maar skinder… laat hulle maar negatief wees… wat hulle van jou dink of sê maak nie saak nie en dit sal ook nooit verander aan wat God van jou dink nie.  Jy is Syne.  Hy is ontsettend lief vir jou.

Ek bid dat God jou sal beskerm teen aanslae van die vyand, dat daar ‘n einde sal kom aan enige vorm van neerslagtigheid wat jy mag ervaar en ek verklaar dat die vreugde van God jou sal vul en omring.  Dit is jou tyd… dit is God se tyd vir jou… Alles is perfek in posisie en gereed. 

Monday 1 April 2019

Omring deur berge


Psalm 125 : 2 Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.

Ek lees onlangs van ‘n jong, hoogs swanger mamma, wat met ‘n kleuter op die lughawe wag om ‘n vlug te haal.  Die kleintjie is moeilik en gooi later ‘n ‘tantrum’.  Raadop sak die mamma langs die seuntjie op die grond neer, sak haar gesig in haar hande en begin saggies huil.  Asof gestuur, kom 7 vroue na die mamma en kind.  Een trek die seuntjie se aandag af, nog een gee ‘n eetdingetjie en water, ‘n ander troos die mamma en help haar op.  Nie een van hulle praat nie, maar elkeen doen hul deel om die mamma deur en uit die krisis te help.  Toe alles gekalmeer is, stap hul na hul sitplekke.  Die mamma slaak ‘n sug van verligting en glimlag skaam na die ‘engele’ wat haar pad gekruis het.

Die besige stad Jerusalem is inderdaad omring deur die Olyfberg, Die berg Moria en Zion.  Op dieselfde manier omring God ook Sy kinders, ondersteun en hou Hy wag oor ons, nou en vir altyd. 

Wanneer jy weer deur moeilike, stresvolle, uitmergelende tye gaan, kyk op na die berge.  Hier in die Weskaap is omring deur berge.  Psalm 121 : 1 & 2 Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...