Thursday 29 October 2015

Wag geduldig

Jakobus 5 : 7   “Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 

Ek het agter in die ry gestaan toe geduld uitgedeel is.  Dis regtig een van my swakpunte.  Ek het geduld met ander, maar ek kan nie wag nie.  Alles moet gister gebeur. 

Dis net hier waar die probleem lê, want daardie drome wat God in my aangewakker het, wil ek nou verwesenlik.   Daar is egter ‘n seisoen vir alles en as dit nie my seisoen is nie, beteken dit ek moet geduldig wees.  Ons spandeer soveel tyd om te wag… ons wag in rye… ons wag vir dinge om te gebeur…  en ek kan nie wag nie!  En hier mis ek dikwels uit, want daar is ‘n regte en verkeerde manier van wag.  Soms raak ek mismoedig en is ek eenvoudig nie langer lus vir wag nie… dit is wanneer ek uitverloor op geleenthede.  As ek nog net ‘n dag of ‘n uur langer sou wag, sou alles in plek val, maar nee, ek neem sommer oor en dan loop alles verkeerd.

Realiteit is dat daar tye gaan kom dat ons moet wag.  Ons kan niks daaraan doen nie.  Dit gaan egter daaroor hoe ons wag.  Die boer in die teksgedeelte wag ywerig… nie passief terwyl hy sy voete tik nie.  Praat van geduld.  ‘n Boer kan nie die reën gaan haal of dit namaak nie.  Hy wag.  Ek het onlangs met ‘n boer gesels en was verstom om te hoor hoeveel insetkoste hulle het.  Met die huidige droogte het die grootste deel van die oes mislik.  Terwyl hul wag op reën verskroei die oes op die land.  Boere sien hoe hul insetkoste ‘down the drain' gaan, maar hul bly glo dat God sal voorsien.  Al het die oes misluk… al moet hul wag tot volgende jaar wat hul weer insetkoste het en weer nie reën gewaarborg is nie, bly hul glo.

Wat ‘n les in geduld.  Bly glo en bly geduldig.  Terwyl jy bid en hoop op ‘n wonderwerk, bid ook vir geduld en geloof om jou deur te sien.  Geloof open die deure vir ‘n wonderwerk.  Op die regte tyd voorsien God… in oorvloed!


Wednesday 28 October 2015

God se karakter

Hebrew 13 : 8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Hoekom lees jy jou Bybel?  Party mense lees dit omdat hul bemoediging of antwoorde soek.  Ander lees dit omdat hul God se beloftes aangryp.  Sommige lees dit vir Bybelstudie doeleindes en daar is ook diegene wat dit uit gewoonte lees. 

Een van die redes hoekom ons Die Bybel moet bestudeer, is om God se karakter te verstaan.  Wanneer jy Die Bybel lees, is daar ‘n goue draad van ware verhale… verhale van mense wat deurmaak wat ons deurmaak… wie se probleme opgelos word… wie feilbaar is…  Die Bybel is ‘n dagboek uit die verlede.  Ons lees ‘die Woord is die waarheid’.  Ons lees van beloftes, wonderwerke, verhale van hoop...  Die sentrale figuur is ons Drie-Enige-God.  Hy is die Een wat elke belofte gestand doen, wat oor en oor bewys waartoe Hy in staat is, wat toelaat dat ons Hom leer ken as ‘n God van Liefde, genade, toewyding, opoffering, verdraagsaamheid, die Enigste een wat regtig aan jou kant is. 

Niks omtrent God het verander nie.  Hy is steeds dieselfde God.  Ek glo dat Hy jou wil seën soos wat Hy vir Josef, Abraham of Elia geseën het.  Ek glo dat Hy ook vir jou deure wil oopmaak en bonatuurlike wonderwerke wil bewerkstellig. 

Die vraag is of jy gereed is om hierdie stortvloed van seën te ervaar?  Sien jy dit met jou gebeur?  Glo jy dat dit met jou kan en gaan gebeur?  God van Die Bybel is dieselfde God van vandag.  Niks was toe vir Hom onmoontlik nie… niemand te gering nie… Hy het uitgereik na mense wat ander verstoot het… Hy het liefde betoon waar daar net haat was. 

Ek hoop dat jy hierdie karaktertrekke van God in die Woord sal vind en dat dit jou sal oortuig waartoe Hy in staat is. 


Tuesday 27 October 2015

Meester skaakspeler

Romans 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Ons het al almal dinge beleef wat eenvoudig nie sin maak nie.  Hoekom moet ‘n jong kind aan kanker ly?  Hoekom word vrouens verkrag?  Hoekom word ‘n geliefde se lewe kortgeknip deur iemand anders se hande?  Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?

Die lewe en mense is nie regverdig nie, maar ons moet onthou dat God regverdig is.  So hoekom laat hy toe dat hierdie dinge gebeur?  Ons soek antwoorde en ons wil nie ‘n teks soos die een hierbo hoor nie, want die slegte dinge wat gebeur oorheers alles anders.  

Partykeer lees ons ‘n teksgedeelte en ons maak sin daaruit in die geheel, maar ons mis ‘n woord of twee.  Die kern van hierdie teks draai rondom die woordjie ‘meewerk’.  Ons sien net die onregverdigheid omdat ‘n ander vrou my man verlei het of die onregverdigheid dat ek wat nog jonk is my werk verloor het terwyl iemand wat veel ouer is liewer in die slag moes gebly het, m.a.w. ons sien net ons kant van die saak.  God sien die volle prentjie.  Hy het ‘n doel met alles in die lewe en op die ou end neem Hy die skerwe van jou stukkende lewe en Hy maak die mooiste mosaiek daarvan. 

As een deur toegaan, gaan ‘n ander een oop.  Die struikelblokke in jou pad is bloot boustene wat jy moet gebruik in jou pad na bo. 

Wees vandag verseker dat God ‘n plan het met jou lewe.  God maak nie foute nie.  Hy is die meester skaakspeler… elke skuif is haarfyn beplan met een mikpunt – oorwinning vir jou en vir my.

Monday 26 October 2015

Betaal met geloof

Matthew 21 : 22  As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

As jy te vinnig ry of onwettig parkeer, word jy beboet…  Wanneer jy jou boete betaal het, is jou naam vir nou skoon.  As jy te veel geld uit jou rekening onttrek of jy betaal ‘n rekening laat, word daar rente op jou rekening gehef…  As ouers skei, word daar onderhoud betaal… Wat jy ookal in die lewe wil hê, moet jy voor betaal.  Geld maak alles reg.

In die Goddelike realm beteken geld niks.  Jy kan nie jou plek in die Hiernamaals koop nie… as jy oortree het, kan jy nie ‘n boete betaal nie.  Geld het geen waarde nie, want die enigste betaalmiddel is geloof.

Dis nogal moeilik, want jy kan nie met geloof betaal nie… jy’t geld nodig om jou skuld te betaal… jy’t geld nodig vir ‘n dak oor jou kop of klere en kos in jou kaste…

Die verskil is dat jy nie ‘net glo nie’, jy ‘glo in’.  Om te glo in God beteken dat jy weet jy kan Hom vertrou om vir jou deur te kom al lyk dit volgens die kaarte in jou hand onmoontlik.  Jy moet glo in Sy beloftes en vertrou op Sy Woord. 

So waar kry ons geloof?  Die Woord sê dat elkeen van ons die vermoë om te glo ontvang het.  Daardie geloof sal groei hoe meer ons die Woord lees, ontleed, gehoorsaam en verstaan.  En so ontvang jy waarin jy glo.


Sunday 25 October 2015

Hy sal jou nooit begewe of verlaat nie

Romans 2 : 4  God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?

Gewoonlik, as ons iemand te nagekom het, is dit makliker om daardie persoon te vermy as wat dit is om hul in die oë te kyk.  Eintlik is ons bang dat hul ons sal verwerp as ons hul byvoorbeeld sou nader.

Baie keer het ons dieselfde benadering tot God.  Ons weet ons het gefouteer en ons voel so skuldig en sleg dat ons God vermy.  Ons bid nie… ons lees nie Bybel nie… ons gaan nie kerk toe nie…  Ons reken dalk ons moet liewer wyd hou.  Net soos ‘n kind wat kattekwaad aangevang het, dink ons dat God ons nie kan sien as ons hom nie kan sien nie, ne.  Niks kan verder van die werklikheid verwyder wees nie.  God is nie kwaad vir jou nie.  Om die waarheid te sê, Sy arms is altyd oop om jou terug te verwelkom… maak nie saak wat jy verkeerd gedoen het nie. 

Jy sien, ons onderwerp God aan menslike maniere of vereistes.  God dink nie so nie en Hy oordeel ook nie so nie.  Hy is verdraagsaam en geduldig… vertrou op Sy goedheid… gee Hom die geleentheid om Sy Godheid aan jou te openbaar.  Hy is dieselfde God wat beloof het om jou nooit te begewe of te verlaat nie, so hoekom sal Hy nou Sy rug op jou keer. 

Thursday 22 October 2015

Waarop fokus jy?

Prov 4 : 25  Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit.

Waarop rus jou fokus, figuurlik gesproke, vandag? 

Terwyl jy dink, kan ek met jou deel waarop my fokus gerig was.  Ek het myself betrap dat my gebede die afgelope ruk propvol versoeke was.  Alhoewel ek weet dat God alom is, het ek op ‘n stadium erg begin wonder oor my lysie, want dit het by die dag gegroei.  Ek het ook bekommerd begin raak omdat nie een van die items op die lysie afgehaal kan word nie.  Dit was amper asof God my nie hoor of my gebede beantwoord nie.  Het jy al so gevoel?

Een dag tref dit my skielik… die probleme wat soos ‘n klomp tennisballe op my toegesak het, het my aandag sodanig afgetrek dat ek so gefokus was om hul te ontduik dat ek nie meer op God gefokus het nie.  Die probleme het al my aandag in beslag geneem.  En ek was voorskriftelik… het sommer vir God voorgesê hoe om die probleme op te los.

Met hierdie besef, het ek gaan stilstaan en diep asemgehaal.  Ek was so verblind dat ek alles wat die Woord ons leer vergeet het.  Werp al jul bekommernisse op my…. (en los dit by my), ek ken elke gedagte van jou… (ek weet waarmee jy worstel nog voor jy met My daaroor gepraat het) God sorg vir die gras van die veld wat vandag daar is en more verskroei is… (en ek is volgens die Woord belangriker as hierdie gras).

Van daardie oomblik af het ek my fokus verskuif na God.  Die probleme was nie weg nie, maar ek het begin fokus op Wie God is en wat Hy in my lewe kan doen.  Hy weet nie net van die probleme wat ek na Hom gebring het nie, Hy ken die fyner detail en Hy weet presies hoe om dit op te los en wanneer. 

Soms worstel ons dag en nag met goed wat al lankal opgelos kon wees as ons net nie soveel aandag daaraan gee nie.  Slapelose nagte of om moontlike oplossings te probeer vind gaan niks help nie.  Geen probleem is groter of belangriker as God nie.  Die tyd wat ons daarmee worstel kan veel beter bestee word… deur aan God se almag en vermoëns te dink en ons te herinner aan die beloftes in Sy Woord. 

Wednesday 21 October 2015

Geld

Jesaja 52:3  So sê die Here: Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie; julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie.

Daar is verbasend baie tekste oor geld in Die Bybel.  Geld is waarom alles draai en die wortel van alle kwaad.  Die hoogste prys is egter nie in geld betaal nie, maar deur Een persoon se opoffering en ware liefde.  Hoekom heg ons dan soveel waarde aan geld?  Hoekom laat ons toe dat geld ons lewens oorheers?

Bernard Ebbers was iemand wie se skielike sukses mense aangegryp het.  Hy het van nêrens gekom en ‘n finansiële reus in die sakewêreld geword.  Die klein telekommunikasie besigheid wat hy gekoop het, het byna oornag gegroei tot ‘n multimiljoen dollar maatskappy.

Terwyl Ebbers sekergemaak het dat daar geen onnodige uitgawes in die maatskappy is nie, was hy baie meer rojaal met sy eie begroting.  Aanvanklik het hy die een luukse boot na die ander gekoop en toe sommer die maatskappy wat die bote vervaardig.  Sy trots was die “Aquasition”.  Die boot se naam het gesinspeel op al die maatskappye wat hy oorgeneem het.  Buiten luukse bote, het hy plase, ‘n sportspan, ens gekoop.  Dit alles is gedoen met lenings van 408 miljoen dollar, gerugsteun deur sy aandele in WorldCom.  Buiten sy astronomiese salaris, het hy ook gereeld aandele aan homself toegeken. 

Ongelukkig begin die telekommunikasiebedryf stoom verloor en die aandele val en val en val… van byna 80 tot slegs twee dollar.  Ebbers verkoop van sy eie aandele, maar dit red nie die situasie nie.  Intussen verskyn hy op verskeie TV programme waar hy kykers verseker die maatskappy se kontantvloei is gesond en dat die aandele nou juis ‘n winskoop is.

Intussen was Ebbers besig met ‘n baie hartseer skelmstreek.  Die uitgawes is in die balansstaat aangeteken as beleggings en daarom het die maatskappy op papier goed daar uitgesien terwyl dit inderdaad besig was om te sink.

Uiteindelik het die maatskappy ondergegaan en behalwe vir mense wat hul werk verloor het, het baie mense miljoene verloor. 

Dit alles omdat een man se gierigheid buite beheer geraak het.  Uiteindelik is hy skuldig bevind en gevonnis, maar dit kan nie vergoed vir die ellende waarin talle mense gedompel is nie. 

Wees bedag op die uitwerking wat geld of rykdom op jou lewe het.  Dit verblind dikwels mense en hul goeie oordeel.  Geld kan nie geluk koop nie en dit kan jou ook nie ‘n plek in die hiernamaals besorg nie.  As jy met baie geld geseën word, onthou altyd waar jy vandaan kom.

Tuesday 20 October 2015

Ek kan nie meer nie

Job 17 : 7  My oë is dof gehuil, en ek is net maar ‘n skadu van my ou self

As jy vandag voel dat jy jouself baie goed met Job kan vereenselwig na aanleiding van die teks, wil ek jou bemoedig.

Soms word ons tot die uiterste beproef.  Veral as jy jou beste probeer om te leef volgens God se woord en dinge bly verkeerdloop, raak ons mismoedig.

God het egter nooit beloof dat ‘n Christen se lewe slegs maanskyn en rose sal wees nie.  Die Bybel is vol van Christene wat oor die eeue heen beproef is. 

Niemand kla as dit goed gaan nie.  Ons sal nooit vra om darem vir ‘n verandering ‘n probleempie of twee te kry nie.  Om die een of ander rede reken ons dat ons verdien om ‘n sorgvrye lewe te hê.

Vir my is die kern van Job se verhaal dat God deurentyd aan sy sy was.  God sou toelaat dat al hierdie dinge met hom gebeur, maar Hy wou daar wees om Job te vang as hy sou val.  Net so is Hy daar vir jou en my.  “Ja, maar jy het geen idee hoe naby ek aan opgee is nie,” sê jy.  Dink terug aan Job.  God het hom weer opgehef en dit het beter as ooit met Job gegaan.

Moenie moed verloor nie.  Waardeer hierdie moeilike tye, want dit is wanneer jy en God mekaar opnuut leer ken.

Monday 19 October 2015

Praat met my

Job 33 : 14  Maar God praat op verskillende maniere.  Hy praat deur drome en visioene, in die nag wanneer mense diep slaap.  Hy fluister in hulle ore… (NLV)

Een ding wat my, en ek glo vir jou ook soms frustreer, is dat God nie op ‘n menslike manier met ons kommunikeer nie.  Ja, ons het die Bybel en ons lees geestelike boodskappe of luister na Gospel musiek en ons kry boodskappe daardeur, maar ons soek meer.  Soms wil ‘n mens ‘n sms of email lees… selfs ‘n oproep sal welkom wees, maar teen die tyd weet ons God praat nie met ons soos wat ek en jy met mekaar praat nie.  Dit gaan ook nie verander nie, so ons moet leer om na Hom te luister op ‘n ander vlak.

Dit maak dat ons soms voel God hoor ons nie.  Ons bid en bid, maar niks gebeur nie.  Sien God nie waardeur ek gaan nie!  Ek probeer alles, maar God bly stil.  Net omdat ons hom nie hoor soos wat ons iemand anders hoor, beteken nie dat Hy nie met ons kommunikeer nie.  Ek dink ons is net nie altyd ingestel op Sy stem nie, maar dalk moet ons eenvoudig meer oop wees vir Sy stem. 

Here, ek het ‘n behoefte om U stem te hoor.  Maak my hart, my gemoed, my geestelike ore oop om U stem te hoor.  

Sunday 18 October 2015

Die lewe is kort

Psalm 89:48  Dink tog daaraan hoe kort die lewe is

At the age of 37, she realized she’d never ride through Paris in a Sportscar, with the warm wind through her hair – Ballad of Lucy Jordan

Dis een van my gunsteling liedjies.  Ek kan ure lank luister na Marian Faithful se stem, maar dis veral die lirieke wat my raak.  Lucy Jordan verteenwoordig elkeen van ons wat ons drome opgeoffer het, om welke rede ookal.  Ek weet nie waaroor jy droom of wat jou daarvan weerhou om jou drome te realiseer nie, maar ek is saam met jou hartseer daaroor.

Ons lewe net een keer, so as ons nie daardie een kans gebruik nie...  Om jouself altyd tweede te stel is prysenswaardig, maar jy skuld jouself die geleentheid om ook jou drome na te jaag. 

Miskien wou jy nog altyd verder studeer… dalk het jy oor ‘n spesifieke beroep gedroom, maar nie die finansies gehad om te studeer nie… jy’t dalk swanger geraak en jou lewe het eenvoudig ‘n ander pad geneem… jy droom dalk al jare daarvan om te reis…  wat ookal jou drome, moenie eendag met berou terugdink oor dit wat kon gewees het nie.  Dit is nooit te laat om jou drome na te jaag nie. 

Gaan sit en dink wat dit is wat jou daarvan weerhou en dan begin jy oorweeg hoe jy dit kan realiseer.  

Niks is onmoontlik as jy daarop fokus nie.

Thursday 15 October 2015

Hoekom kom hulle daarmee weg?

Habakuk 1 : 17  Gaan U toelaat dat hulle altyd hiermee wegkom?  Gaan hulle vir altyd suksesvol wees met hulle gevoellose oorwinnings?

Elke dag word ons verstom deur dit waarmee mense wegkom.  Onskuldige mense word vermoor… korrupsie seëvier… verkeersoortredings vind oop en bloot plaas…  Diegene wat nog probeer om reg te lewe kan nie anders as om te wonder hoekom hulle so dom is nie.  As ander daarmee kan wegkom, hoekom kan ek nie ook nie.

Die feit dat die onderskeid tussen reg en verkeerd al meer grys raak, beteken nie dat daar nie meer onderskeid is nie.  Dit is wel nodig om sterk te staan en nie aan versoeking toe te gee nie.  Wanneer ‘n volk se waardestelsel afgetakel word, moet die rooi ligte flikker.

Vir ons mag dit voorkom asof al meer mense met ‘moord’ wegkom, maar ons weet dat God nie slaap nie.  Die reëls het nie verander nie.  Een of ander tyd gaan God rekenskap eis.  Al is dit hoe moeilik om volgens Christelike waardes te leef, volhard en leef met integriteit.

Wednesday 14 October 2015

Wonderwerke

Matteus 15 : 31 Die skare was verbaas toe hulle agterkom dat stommes praat, kreupeles gesond is, verlamdes rondbeweeg en blindes kan sien.

Die opskrif van hierdie skrifgedeelte is:  “Jesus maak baie siekes gesond.” 

Jesus het homself sodanig bewys met al die wonderwerke wat hy op verskillende dorpies verrig het dat mense hom oral begin volg het.  Hy was hul laaste hoop in baie gevalle.  Vir party was dit nie maklik om by Hom uit te kom nie, maar hulle het alles gedoen om Hom te bereik, wat hulle het geweet dat hul probleme op ‘n einde sou wees.

Dalk is dit hoe ons ook redeneer.  Ons weet deeglik waartoe God in staat is en daarom dien ons Hom voluit wanneer ons deur moeilike tye gaan.  Die vraag is net of ons voortgaan om Hom te dien nadat Hy ons probleme uitgesorteer het?

Onthou jy hoe dieselfde mense wat hom gevolg het hom uiteindelik uitgelewer het?  Is dit nie maar wat ons ook doen nie?  Sodra ons probleme opgelos is, gaan ons terug na ons ou gewoontes.


God is magtig en Hy kan wonderwerke verrig, maar ons moet getrou wees.  Alles gaan nie altyd volgens ons wense verloop nie.  Soms gaan die een ding na die ander verkeerd en jy wonder waar God is.  Het Hy van jou en my vergeet?  Nee, maar ons geloof word getoets en ons mag nie toelaat dat satan ons oortuig dat God nie meer omgee nie.

Tuesday 13 October 2015

Beproewings

Job 37 : 21  “Wees waaksaam!  Draai weg van die kwaad!  God het juis swaarkry oor jou gestuur om jou weg te vat van sonde.”

Beide my en my seun se paspoorte het verval.  Op die internet sien ek dat Binnelandse Sake Saterdae oop is.  Dis ‘n bonus, want nou hoef ek nie by die werk af te vra nie.  Saterdagoggend is ons dou voor dag op.  Dit reën ligweg, maar ons is geestelik voorberei vir ‘n lang dag wat ons geduld tot die uiterste sal beproef.  Min het ons besef hoeveel ons  beproef sou word. 

Ons stap by die winkel in waar hulle ID foto’s neem, net om te hoor dit is nie meer nodig om foto’s saam te neem nie.  Great!  Nou vir Binnelandse Sake.  Die rye is skrikwekkend.  Ek besluit om solank vorms te gaan kry en beur tussen die rye deur.  Ek word gestop deur ‘n veiligheidswag.  “Jy mag nie vorms wegneem nie,”spreek hy my kwaai aan en buitendien moet ek in die ry loop staan.  Ek vra nog of mens jou ID nodig het, maar hy’t genoeg gehad van my.  Een van die wagtendes antwoord dat dit wel nodig is.  My seun is nog nie gewoond om sy ID saam te dra nie, so ons ry huis toe om die ID te gaan haal.

Ons besluit om Paarl toe te ry.  Daar is 2 rye, so ons stel eers vas in watter ry ons moet inval.  Die ry is lank, maar lyk darem minder intimmiderend as Bellville s’n.  Na twee uur se staan saam met my mede-landsburgers, ken ons mekaar al heelwat beter.  Almal is in ‘n gemoedelike stemming, amper soos destyds tydens die 1994 verkiesing.

Elfuur kom ‘n beampte uit.  Sy beveel aan dat ons omdraai, want hulle gaan ons nie kan help nie.  “Wat!?”  Die mense is ongelukkig met hierdie nuus.  Dit is nog twee ure voor hulle toemaak!  Sy weet, maar sy wil net sê, hulle gaan dalk nie eens almal wat binne is kan help nie.  As ons teen half een nog nie binne is nie, moet ons weet dat hulle ons nie kan help nie en dan moet ons haar nie blameer nie.  Die deur word summier in ons gesigte toegemaak. 

Na so ‘n paar sommetjies, besluit ek en my nuwe vriende om te wag.  Dis darem nog lank voor half een.  Nou raak die geselsies selfs meer gemoedelik met die dat ons almal in dieselfde bootjie is.  Kort-kort kom mense uit, maar hulle laat niemand in nie.  Die mense dring aan om die bestuurder te sien.  Tien voor twaalf kom die sogenaamde bestuurder uit.  Hy is niks meer simpatiek nie.  Hy het ‘n lang storie oor min personeel, stadige stelsels en 300 mense wat in 5 ure gesien moet word.  Die mense is oproerig, maar hy hou by sy storie.  Die deur bly toe.  Ons bly koppig staan.

Kwart oor 12 kom die eerste beampte weer uit.  Sy is nou baie moeilik.  Ons moet huis toe gaan.  Iemand wys haar daarop dat sy gesê het ons kan nog tot half een ingaan.  Nog iemand wys haar op die “We Care” woorde op hul plakkate waarop sy antwoord.  “My gesin care ook hoe laat ek huis toe kom.  Gaan huis toe, want ek vat my handsak 13h00 en dan loop ek of julle hier wag of nie.” 

Kyk, ons is almal mense met geliefdes, so ek het begrip vir haar situasie, maar as ek kliënte so behandel by my werk, is ek dieselfde dag nog werkloos.  Die verskil is dat die maatskappy waarvoor ek werk afhanklik is vir hul voortbestaan van hul kliënte.  Binnelandse Sake is van niemand afhanklik nie, inteendeel ons is van hulle afhanklik.  Uiteindelik besef ek dat jy nie teen donderweer kan baklei nie en stap weg.  My kosbare Saterdag is daarmee heen.  Ure se wag en dit vir niks!

Druipstert ry ons huis toe, maar onthou dat ons, ons Telkom internet moet aanvul.  Dis maandeinde en die sentrum se parkeerplek min.  Ek laai my seun af om so lank in die tou te gaan staan en gaan parkeer kilometers weg.  Toe ek uiteindelik by hom uitkom moet ek sien dat Telkom se kantoor toe is.  Die perseel is onder konstruksie.  Volgens die plakaat moet ons na hul tydelike kantoor gaan.  Die tydelike kantoor bestaan uit ‘n toonbank en twee personeellede wat daar sit sonder ‘n rekenaar of ‘n stukkie papier.  Al wat hul doen is om jou te sê dat hul jou nie kan help nie.  Gaan koop lugtyd by Ackermans en skakel dit om in data. 

By Ackermans is daar weereens ‘n lang ry, maar ons is mos nou al braaf genoeg om ons nie deur ‘n ou rytjie te laat afskrik nie.  Na twintig minute verwittig die kassiere ons dat sy ongelukkig nie Telkom lugtyd het nie!  Ek en my seun stap verslae terug na die motor. 

By die verkeerslig is die pyltjie wat jou kans gee om regs te draai buite werking.  Ons kyk vir mekaar en bars uit van die lag. 

“Iewers moes ons gesondig het om so ‘n dag te verdien,” sê my seun.  “Nou moet die Bokke nog net vandag verloor!”


PS:  Die saga duur voort.  Vier dae later en Telkom is steeds van lyn af.  Ek het weer die Binnelandse Sake ry aangedurf en na 3 ure se wagtyd, was ek 4de van vooraf en word ons weereens gewaarsku dat ons kan wag, maar dat daar geen belofte is dat ons ingelaat sal word nie.  Ons is so ongeveer 15 bittereinders, want 15h00 is die ry reeds gewaarsku dat jy moet omdraai, want as jy 16h00 nie binne is nie, , gaan hulle jou nie help nie.  Die vyftien se moral is hoog.  Grappies oor ‘n skrum om in te kom en Habashwe word gemaak en ons besluit saam om te bid.  Gebed en ‘n positiewe houding werk!  Tien voor 4 word ons almal uiteindelik in die uitverkose binnekring toegelaat.  Mission accomplished!  Gedurende die wagtyd in rye, het ek ongelooflike mense leer ken en besef hoe meer verskillend ons is, hoe meer ooreenkomste is daar.  Dalk het God tog ‘n rede gehad met hierdie beproewing.  

Monday 12 October 2015

Beloftes

Hebreërs 6 : 13 – 14  Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy gesê:  “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou ‘n baie groot nageslag gee.”

Hoe onmoontlik dit ook al vir die kinderlose Abraham gelyk het, het God woord gehou.  Abraham het vandag, soos God beloof het, ‘n reuse nageslag.  Hierdie teks is net een van meer as 7000 beloftes in Die Bybel.  Ek en jy het dalk al net soveel beloftes gemaak, maar hoeveel het ons gehou?  God hou elke belofte wat Hy maak, selfs die minder goeies soos die vernietiging van die aarde en alles daarop.  Ook Noag het die waarmaking van God se belofte eerstehands ervaar.

Wanneer jy na jou omstandighede kyk, het jy seker ook jou bedenkinge oor God se almag.  Die meeste van ons glo dat God uitkoms sal bied, maar ons wil darem ook nie vir altyd bly glo sonder dat iets gebeur nie. 

Vandag kan jy na Abraham se situasie kyk en jouself moed inpraat.  Al het Sara gesmag na ‘n kindjie, het haar moederskoot leeg gebly.  Hoe moedeloos moes sy nie gewees het toe sy haar vrugbare jare agterlaat en besef dat dit nooit gebeur het en dat dit nou te laat is om ooit te gebeur?  Ons ken die verhaal… hoe God die belofte gemaak het en hoe Sara uitgebars het van die lag… net om later wel ‘n seuntjie te baar. 

Hoe meer onmoontlik die situasie, hoe groter die kans dat God gaan deurkom.  Moet net nie ophou glo nie.   Jou bankrekening lyk dalk beroerd, maar dit beteken nie dat God nie geld van iewers gaan stuur nie… Jy is al so lank werkloos dat jy nie eens meer moeite doen om werk te soek nie, maar God gaan iemand na jou toe stuur wat vir jou ‘n werk gaan aanbied.   Jy bid al hoe lank dat jou kind uit die greep van verkeerde vriende verlos word, maar God gaan hom bevry…  Jou vrou dobbel jul hele lewe weg, maar wees verseker dat God haar lus vir dobbel totaal en al gaan wegneem.

Onmoontlik?  Nie as jy glo aan God se beloftes nie.

As jy bid vir reën en jy het nie ‘n sambreel byderhand nie, is jou geloof nie sterk genoeg nie.  God sê immers:  “Bid en jy sal ontvang… vra en vir jou sal gegee word…”

Sunday 11 October 2015

Toebroodjie-generasie

Psalm 31 : 7  My vertroue stel ek in die Here.

Is jy ook deel van die ‘toebroodjie-generasie’?  Dis nou diegene wat aan die een kant hul ouers versorg en aan die ander kant nog (of weer)  volwasse kinders in die huis het.

Daar is die gelukkiges wat aftreeoorde of ‘n huisie by die see kan bekostig, maar baie van vandag se seniors het nie voldoende vir die toekoms/aftrede voorsiening gemaak nie.  Die skuld kan ook nie heeltemal voor hul deur gepak word nie, want daar is mense wat hul lewe lank hard gewerk het en steeds van ander afhanklik is vir ‘n stukkie brood en ‘n dak oor hul kop.

My eerste salaris was net so oor R200 pm en daarvan het ek R30 pm betaal vir losies en R2-50 pm vir ‘n buskaartjie.  So ek het nog hope geld oorgehad om te spandeer en selfs ‘n ietsie te spaar.  Vandag sukkel dit eerstens om werk te kry.  Daar is selfs gegradueerdes wat nie werk kry nie.  Van ‘n plekkie te huur of ‘n eie woning word daar net gedroom.  Die lewe is duur. Al oplossing is dus maar om so lank as moontlik by jou ouers te woon. 

En so sit ons tussen die duiwel en die diep blou see.  Van self aftree, is daar geen sprake nie.  Soms trek jou keel toe en wonder jy hoe jy gaan deurkom, maar op die een of ander manier voorsien God altyd. 

Here, as toebroodjie-generasie stel ek my vertroue volkome in U.


Thursday 8 October 2015

Die sewende dag

Eksodus 16

Die volk was in die Sinwoestyn, ‘n maand nadat hul Egipte verlaat het.  Soos ons as mense maar is, vergeet die volk gou hoe sleg die omstandighede was waaruit God hul gered het en  verlang hul terug na Egipte.  Hulle is ongedurig met Moses en Aaron.  Die volk was net soos ek en jy gefokus op die huidige omstandighede en het vergeet waarheen God met hulle op pad was.

Die Here sê toe vir Moses:  “Ek gaan vir julle kos uit die hemel laat reën.  Die volk kan elke dag uitgaan en genoeg kos vir daardie dag bymekaarmaak.  Ek gaan hulle toets om te kyk of hulle na My wil luister.  Op die sesde dag moet hulle twee keer soveel as gewoonlik bymekaarmaak.”

Elke oggend het hul kos opgetel.  Sodra dit warmer geword het, het dit wat nie opgetel is nie, verdwyn.  Op die sesde dag het Moses hulle herinner om dubbel soveel op te tel en alles gaar te maak sodat hul op die sewende dag kon rus.  Op die Sabbatdag sou daar geen kos op die grond wees nie.

Tog het ‘n klompie nie geluister nie en is hul die veld in om kos te gaan soek.  Hulle kon egter niks kry nie.  Die Here het toe vir Moses gevra:  “Hoe lank gaan julle bly weier om na My te luister en te doen wat Ek sê?  Kan julle nie insien dat die Here die Sabbat gegee het om op te rus nie?”

In ons land bestaan die Sabbatdag byna nie meer nie.  Winkels is oop… mense werk… sport stadions sit volgepak… Selfs diegene wat in die kerk was, sal daarna die winkels invaar.  Ons wil ook nie luister nie.  Met die nodige beplanning, hoef ek en jy nie “te gaan kos soek nie.”  Ons kan genoeg geld verdien en alles doen wat ons moet binne ses dae sodat ons die Sabbatdag kan heilig.  Dit is ‘n uitdaging ja, want party mense se werkgewer vereis van hul om te werk.  Ek glo dat God sal voorsien indien jy gehoorsaam is. 

‘n Paar jaar gelede is 'n hardeware winkel in Bellville beroof.  Die eienaar het besluit dat hul van daardie dag af nie meer sake sal doen op ‘n Sondag nie.  Van daardie oomblik het die gety gedraai vir daardie besigheid.  Hulle het nog winkels oopgemaak en gaan van krag tot krag… net omdat hul die Sabbatdag begin heilig het.

Niks kan so dringend wees dat dit nie tot Maandag kan wag nie.  God gee vir ons ses dae om te woeker en te woel en die sewende is ‘n geskenk van rus.  Dit is die een dag waarop ek en jy van die mallemeule kan afklim en weer die lewe in oënskou kan neem sodat ons nuwe krag het vir die week wat voorlê.

Wednesday 7 October 2015

Boodskappers

Jesaja 6 : 8  Toe het ek die Here hoor vra:  “Wie kan Ek stuur?”

Ek het groot bewondering vir vrywilligers;  mense wat hul lewe daaraan wy om ander te help.  So iemand moet regtig ‘n passie hê vir dit wat hulle doen, want die vergoeding is gewoonlik minimaal tot niks.

Kyk maar net in ons land hoeveel mense en maatskappye betrokke is en ‘n verskil maak in die lewe van minderbevoorregtes.  Wat sou van die mense word as gewone mense nie bereid is om hul moue op te rol en iets te doen nie?  Skenkings, tyd, fisiese arbeid, sopkombuise, tehuise vir haweloses…  Daar word so maklik vinger gewys, maar besef die regering ooit hoeveel daar gegee word?

Elkeen van ons is geroep om die hande en voete van Jesus op aarde te wees.  Ons mag nie terugstaan en hoop iemand anders sal dit doen nie. 

Dit mag wees dat jy jare lank swoeg en sweet vir ander en nooit erkenning daarvoor kry nie.  Soms voel ‘n mens asof jy net misbruik word en net moet gee en gee, maar dat daar nooit iemand in sig is as jy hulp nodig het nie.  Volhard asseblief.  Doen dit waarvoor jy geroep is.  Moenie vrae vra nie.  God het iemand nodig gehad wat Hy kon stuur en daardie iemand is jy.  Jou beloning wag in die hemel vir jou.


Tuesday 6 October 2015

Gedagtes

Filippense 4 : 8 Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, daarop moet julle julle gedagtes rig

Dit ammusseer my nogal as iemand gevra word om aan niks te dink nie.  Die blote feit dat jy aan niks dink, beteken dat jy aan iets dink.  Ons dink altyd aan iets.  Ons brein werk oortyd.  Die vraag is net waaraan dink ons?

Ons denke is deel van wie ons is.  As ons iets verkeerd gedoen het, wie van ons dink daaraan om die waarheid te vertel?  Meeste van ons sal ure lank dink hoe om die waarheid te verdraai.  Om die regte ding te doen terwyl almal wegkom is nie altyd maklik nie, maar dit is wat van jou en my verwag word.  Volgens die slim mense, het ons iemand alreeds be(ver)oordeel, nog voor ons mekaar gegroet het.  Elke mens het iets mooi en goed in hom/haar, so hoekom kritiseer ons so maklik, maar ons komplimenteer amper nooit?  Wanneer jy vanaand jou kop neerlê sal God vir jou sê?:  “Jou optrede vandag was prysenswaardig, my kind, al het dit van jou geverg om die minste te wees?”

Edelheid en reinheid is skaars.  Tog kan ons, ons gedagtes daarop rig en fokus sodat dit van ons beter mense kan maak.  Kondisioneer jouself van vandag af om jou gedagtes te rig op alles wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is.  Leef doelgerig.

Monday 5 October 2015

Wat maak jou onrein?

Matteus 15 : 20  Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”

Op ‘n stadium vra die Fariseërs en skrifgeleerdes vir Jesus hoekom Sy dissipels nie die tradisies volg soos byvoorbeeld om hul hande te was nie.  Jesus antwoord hulle:  “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.  Hulle godsdiens is blote skyn, want hulle hou menslike dogmas voor as wette van God.”  Later sê hy ook:  Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie; wat uit jou gaan – wat jy sê en doen – dit is wat jou onrein maak.”

Toe Sy dissipels dit steeds nie verstaan nie, het Jesus gesê:  “Uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord, huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid.  Dit is wat jou voor God onrein maak.”  (vers 19) 

Ons kan allerhande tradisies volg soos om elke Sondag as gesin kerk toe te gaan, nagmaal te gebruik, ons kinders laat doop en Sondagskool toe stuur.  Later kan hul aangeneem word en volwaardige lidmate van die kerk word.   As ons egter nie kyk na ons daaglikse gedrag en optrede teenoor ander nie, gaan dit geen verskil aan ons saligheid maak nie.  

Die dinge wat Jesus in hierdie vers noem, is elkeen van ons in ‘n mindere of meerdere mate aan skuldig, dus is daar nog baie werk wat vir ons voorlê.  Vers 19 behoort die gids te wees waarvolgens ons leef.  Is dit 'n uitdaging?  Verseker!  Laat ons hande vat en saam probeer... mekaar herinner... mekaar dra...sodat ons aandag kan skenk aan dit wat ons onrein maak.

Here, reinig my van alle ongeregtighede asseblief.

Sunday 4 October 2015

Tot die dood ons skei

Hebreërs 13 : 4  Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

Daar word beweer dat tussen 50 en 66% van huwelike in egskeiding eindig.  In 2011 is 20 980 egskeidings toegestaan wat 18 571 kinders geaffekteer het.  Volgens 2010 statistiek het 27.3% huwelike tussen 5 en 9 jaar geduur , terwyl 20% minder as 5 jaar geduur het. 

Hierdie statistiek bevestig amper dit wat ons deesdae al meer sien.  Bekendes se huwelike word gedeel in tydskrifte, koerante en op TV en skaars 'n paar maande later skei daardie 'gelukkige' paartjie.  Dalk is hul omstandighede nie so uniek nie; net meer in die publieke oog as die deursnee huwelik.  

Waar lê die probleem?  Gee ons te maklik op?  Is ons so selfsugtig dat ons eenvoudig wegstap as dinge nie volgens ons manier verloop nie?  Ken ons mekaar goed genoeg voor ons trou?  Het ons uitmekaar gegroei?  Is daar te veel verskille?  Het die ouers of skoonouers te veel ingemeng?  Is ons eenvoudig verveeld? Of soek ons net verskonings?

Of dalk moet daardie sinnetjie in die huweliksbelofte eenvoudig verander word na ‘tot die hof ons skei.’

Ek wens ek het die antwoord(e) gehad.  Om te oordeel is ook nie my plek nie.  Wat ek wel weet, is dat elkeen wat die ja-woord gee, dit met die nodige respek en erns moet doen.  Doen alles wat jy kan om seker te maak dit is die regte persoon… met wie jy die res van jou lewe wil, kan en sal deel.  Egskeiding was nog nooit ‘n oplossing nie.

Thursday 1 October 2015

Minderwaardig en onbekend

Rigters 6

Net soos dit met ons gebeur, het daar ook ‘n tyd gekom dat die Israeliete weer dinge begin doen het wat verkeerd was in die oë van die Here.  God onderwerp hul 7 jaar lank aan die Midianiete en Amalakiete.  Die Israeliete het ‘n swaar lewe gely onder hulle.  Alles wat hul geplant het is vernietig.  Al hul diere is gedood.  Toe begin die Israeliete smeek dat die Here hul weer moet help.

God het hul herinner aan alles wat Hy vir hulle gedoen het, maar dat hulle nie wou hoor nie.  So kom dit dat Gideon wegkruip in ‘n parskuip waar die Engel aan hom verskyn en sê dat die Here by hom is en dat hy ‘n dapper man is.  ‘n Dapper man wat wegkruip vir die vyand, wonder jy?

As dit ek of jy was wat deur sulke swaar tye gegaan het en moes hoor dat God by ons is, sou ons ook seker soos Gideon gedink het… dat die Here sy rug op ons gedraai het.  Ons rasionaliseer omstandighede en dan kom ons tot die slotsom dat dit onmoontlik is, maar ons vergeet dat ons die God van die onmoontlike dien.  Al het Gideon gedink hy is nie die regte persoon nie, het God van hom verwag om gehoorsaam te wees.  

Gideon moes gaan met die krag wat hy het (nie ekstra krag nie) en die Israeliete bevry… omdat God hom stuur. 

Weereens kan ek met Gideon vereenselwig, want Gideon kyk na sy omstandighede en dink soos ek en jy.  Hy en sy familie is een van die swakstes in Manasse en hy wat Gideon is, is die onbelangrikste van die gesin.  Hoe kan hy nou die een wees wat Israel red?

“Ek is dan saam met jou!” het die Here vir hom gesê.  “Jy sal die Midianiete verslaan asof hul net een man is.”  Gideon was nog nie oortuig nie. “Gee tog vir my ‘n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, Here, wat met my praat!”  Die Here sê toe:  “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.”  Gideon sou nog twee tekens vra en elke keer het God dit laat gebeur om hom te verseker dat Hy by hom is. Sien jy, soos ek, jouself in Gideon?

Uiteindelik kon Gideon nie meer verskonings uitdink nie en het hy geweet die tyd het aangebreek.   Hy het al sy manskappe opgekommandeer, maar God sê vir hom daar is te veel.  Hy moet die wat bang is laat gaan.  22 000 het omgedraai, maar nog 10 000 het oorgebly waarop God gereken het daar is nog steeds te veel.  

Is dit nie wat ek en jy ook doen nie?  Ons bid en vra vir 'n wonderwerk, maar net om dubbel seker te maak, spring ons self ook in. God het geweet as Gideon die Midianiete verslaan met baie manskappe, sou die Israeliete dit nie as ‘n wonderwerk sien nie.  Op die ou end het God hom toegelaat om 300 man oor te hou.  Gideon het die vyand op die ou einde verslaan en Israel bevry.  Vir die volgende 40 jaar het Israel vrede beleef.

Ek moet ruiterlik erken dat ek ook 'n Gideon is, want ek is 'n mens... en die duiwel is listig.  Ek bid, maar daar is nog steeds so 'n bietjie twyfel, al weet ek waartoe God in staat is... al het Hy Homself al hoeveel keer aan my geopenbaar.  Soms dryf God ons om Hom te vertrou.  Dit wat Hy van ons verwag, maak eenvoudig nie sin nie.  Dis dan wat ons tekens vra en ekstra veiligheidsmaatreëls tref.  

Met Gideon se verhaal wil God ons verseker dat Hy verstaan, maar Hy will ook hê dat ons sien hoe Hy vir Gideon deurgekom het sodat ons Hom vir daardie onmoontlike uitdagings in ons lewens kan vertrou.  




Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...