Wednesday 28 February 2018

Ek sal nie vrees nie


Psalm 56 : 4  Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou

Dawid skryf hierdie woorde uit ondervinding.  Toe hy ingeseën is as Koning, was Saul nog op die troon. Hy moes voor Saul se jaloerse toorn uitvlug en op ‘n stadium in ‘n grot wegkruip.   Psalm 57 : 1  In die skaduwee van u vlerke sal ek skuil totdat die onheil verby is.  Op ‘n ander stadium neem die Filistyne hom gevange en dis toe dat hy hierdie woorde uiter. 

Dalk is jy ook vandag bang.  Jy is bang omdat jou man of kind nie werk kry nie.  Jy is bang omdat jou huwelik deur stormwaters gaan.  Jy is bang omdat jy nie weet waar jy die geld vandaan gaan kry om jou huur die einde van hierdie maand te betaal nie.  Jy is bang om oud te word.  Ons is almal bang vir iets. Niemand kan sê dat hul nog nooit bang was nie.
Vrees is die kettings wat jou aan gister vasbind.  Vrees laat jou nie toe om behoorlik te leef nie.  Vrees verlam jou.

God het jou nie ‘n gees van vrees gegee nie.  Romeine 8:15  Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.  Jy is ‘n kind van die allerhoogste God.

Elke keer dat vrees jou keel toedruk, herhaal hierdie vers in jou gedagtes… Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou.   Weier eenvoudig om jou vertroue in mense te plaas.  God is jou Redder en met Hom aan jou kant hoef jy NIKS te vrees nie.

Tuesday 27 February 2018

Laat God, God wees


Matteus 20 : 21  “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

Die eerste keer toe Jesus met Sy dissipels praat oor die kruisiging, neem Petrus Hom eenkant toe. Hy’s ontsteld… “Mag God dit verhoed,” is Petrus se versugting.

Die tweede keer toe Hy met hulle praat is sy dissipels diep bedroef. Alles gaan dan so goed.  Jesus doen wonderwerke… die volgelinge raak meer… hulle raak gewild…

Die derde keer tree ‘n moeder na vore en sê as dit so is, moet Jesus asseblief vir haar twee seuns plek hou langs Hom… die een aan Sy linkerkant en die ander aan Sy regterkant.

Dis maklik om die dissipels te oordeel, maar ook ons is soms kortsigtig.  Ons besef nie waarmee God besig is nie en ons bid dat dit wat ons dink sleg is, tog net nie met ons moet gebeur nie… dat God dit moet verhoed…

Soms is ons hartseer oor iemand se afsterwe of oor ‘n verhouding wat op die rotse geloop het, sonder dat ons besef dat God eintlik iets veel beter vir ons in gedagte het…

Ander kere probeer ons as ma intree vir ons kinders.  Hulle maak droog, en ons tree vir hulle in.  Ons besef nie dat ons eintlik vir God probeer voorskryf nie…

Vir Jesus was dit nie maklik nie, dit weet ons, maar Hy het ook geweet dat Hy die pad enduit moes stap sodat Hy wat sondeloos was, die losprys kon betaal vir baie mense.  Hier is dit belangrik om daarop te let dat die teks nie lees ‘almal’ nie, maar baie mense.

Soms is dit beter om God net toe te laat om God te wees en te doen wat Hy die beste doen.


Monday 26 February 2018

Wanneer ek bang word


Psalm 56 : 4  Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou

Wanneer ek en jy aan God twyfel, stel ons Hom teleur.  Eintlik is ons vermetel om die krag van God in twyfel te trek, maar ek is net so skuldig hieraan.  Ook ek raak benoud en twyfel skop in.  Geloof eer God en God eer geloof.

Job het alles verloor, maar hy het God steeds geprys… nie as gevolg van sy omstandighede nie, maar ten spyte van sy omstandighede.

Eintlik moet ons net besef dat tye van beproewing eintlik tye van onderrig is.  Maar nee, ons wil aan die bekende vasklou en na die sekuriteit van gister terugkeer.  Die Israeliete was onderweg na die beloofde land, maar hulle het steeds terugverlang na die tyd wat hul in slawerny was. 

Die lewe is ‘n reis.  Soms gaan ons kamp opslaan en soms gaan ons verder trek, nes die Israeliete.  Wanneer ons kamp opslaan mag dit voel of ons stagneer… of God nie ons gebede beantwoord… of God van ons vergeet het, maar dis net ‘n seisoen.  Binnekort trek ons die tentpenne uit en reis ons weer verder.  Dis natuurlik om bang te raak wanneer jy die onbekende betree, maar ook daar is God.

Ons moet eenvoudig leer om God te vertrou.  Hy was by die Israeliete wanneer hulle gekampeer het en ook wanneer hul deur die woestyn getrek het. 

Sunday 25 February 2018

It's Time


Jeremiah 29 : 7 bid tot my vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange

Terwyl meeste van ons nog in ‘n waas is na die euforie van Zuma se uittrede en Ramophosa se inswering as president, gaan die lewe voort.  Party praat van die Ramophosa Lente…
Dag Zero is wel vir die tweede keer uitgestel is, maar dis geen waarborg dat dit nooit sal aanbreek nie.  2017 se Winter het geen noemenswaardige reën gebring nie.  Dit kan weer gebeur.

Bendes floreer en dwelmgebruik is besig om vinniger toe te neem as wat enige aansteeklike siekte kan versprei. 

Die politici is so besig met hul eie magstryd dat hul nie agterkom wat besig is om te gebeur nie.  Dis mos hoe die vyand werk… veroorsaak onenigheid daar waar daar eenheid is en jy kan heerlik agteroor sit en kyk hoe hul mekaar vernietig sonder om jou hande vuil te maak.
Kinders verdwyn of word ontvoer… terwyl derduisende nooit eens die lig aanskou nie omdat hul geaborteer word.

BTW gaan op en nog 52 c belasting word by die brandstofprys geklap.  Nog vuishoue op die reeds vuisvoos verbruiker.

Om te sê dat ons nie op ‘n lekker plek is nie, is om dit sagkens te stel.  Waar sal ons hulp vandaan kom?

Derduisende het op 22 April in Bloemfontein toegesak om saam met Angus Buchan te bid.  It’s Time… time to repent… time to change…  En nou is dit Kaapstad se beurt op 24 Maart.  By Swartklip Sportterrein in Mitchells Plein gaan Kapenaars op hul knieë sak en hul voor God verootmoedig.  Alle rasse, alle kerklike denominasies, ryk, arm… voor God is ons almal net mense… sondige mense.

Dit is tyd om vir ons stad te bid… vir ons land… ons gesinne… vir uitkoms.  Mag God ons begenadig.

Thursday 22 February 2018

Here, gee tog voorspoed


Psalm 118 : 24  Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.  Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here!

Hierdie is ‘n teks wat ons gereeld kwoteer, maar vers 25 is die interessante een.  Dawid vra God om te red en voorspoed te gee.  Hy roep om hulp.  Wanneer iemand om hulp roep, het hul dadelik hulp nodig, nie môre, volgende week of oor ses maande nie.  Dawid sou tog nie sê:  “Here, ek het voorspoed nodig teen môre… of stuur dit teen volgende week…  Nee, Dawid is blatant, amper voorbarig… Here, gee voorspoed… nou!”

Wie van ons lê soveel waagmoed aan die dag? Bid ons met vaste geloof en vertroue of is ons so amper kosie-ekskuus? “Here, dit sal gaaf wees as U miskien... as dit nie te veel moeite is nie, as U dink dis nodig of reg, as…”  Dalk dink jy juis nou dat jy beslis nie so voorbarig met God kan wees nie.  Of dalk vertrou jy God net nie genoeg nie.

Nee, jy kry nie omdat jy nie vra nie.  Jy sien die feit dat ons vra, gaan God nie van plan laat verander nie.  Maar as ons nooit vra nie, is dit nie dalk hoekom dit nooit gebeur nie?  Dis beter om voorbarig te wees en te sê: “God, ek glo dat hierdie ‘n droom is wat U in my hart gelê het en daarom wil ek dit najaag.  Ek weet U is steeds God, so dierbare Hemelse Vader, vandag vra ek U om u guns oor my uit te stort…. Vandag nog.”

Tuesday 20 February 2018

Dubbel soveel


Sagaria 9 : 12  Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het.

Wanneer dit moeilik gaan, is dit maklik om op te gee.  Dis maklik om mismoedig te word as niks wil regloop nie… as dit voel of elke deur waaraan jy klop in jou gesig toegemaak word… asof almal teen jou is… of dit nooit weer sal beter gaan nie.  Maar dis nie God se plan vir jou en my nie. Hy is ‘n God van hoop, selfs wanneer ‘n gevangene hooploos is, kom God en sê:  “Wat jy tot nou toe deurgegaan het, wat jy verloor het… ek gaan jou dubbel soveel teruggee.”

As gevangene, word jou beweging beperk.  Jy is nie meer in beheer van jou lewe nie, jou opstaan en slaap, jou tyd, die kos wat jy eet… alles word beheer en jy het niks.  Jy is niks.  Daar is geen vooruitsigte nie.  

Maar daar is ook gevangenes wat nie noodwendig toegesluit is nie… gevangenes van vrees, bekommernis, twyfel… Dit is gewoonlik omdat iemand jou rede gee om bang te wees… jy’t rede om bekommerd te wees, om te twyfel... God wil al hierdie dinge wegneem en dit vervang met gemoedsrus, vrede en sekerheid.

Verander dus jou ingesteldheid vandag van hooploos na hoopvol.  Jy mag maar droom en weet dat God jou uit jou omstandighede gaan uithaal en met ‘n dubbele maat seen.

Sekerheid


Psalm 119 : 165    Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie.

Boekwinkels is vol boeke wat jou op amper enige gebied van die lewe raad kan gee.  Vele skrywers van selfhelp boeke het al groot geld gemaak uit ons.

Min mense besef egter dat al daardie boeke saamgevat is in een Boek, wat in vele huise lê en stof vergader, nl Die Bybel.  Die Woord van God bied jou leiding, genesing, vrede, vreugde en hoop.  Maak nie saak watter situasie jy vandag in die gesig mag staar, jy kan lewe in vrede en oorwinning omdat jy die antwoord sal vind deur God se Woord te bestudeer en op jou lewe toe te pas.

Jy’t seker al gehoor hul sê: “Die enigste iets waarvan jy seker kan wees, is verandering.”  Ons lewe in ‘n onseker wêreld.  Ons verhoudings, vriendskappe, werk, inkomste… niks is gewaarborg nie. Dit alles kan binne ‘n oogwenk verander.  En dan lees jy in die Woord dat daar sekerheid is as jy God liefhet…  Sekerheid wat ook sal sorg dat jy nie struikel nie.  Wow!

Begin om die Woord te lees op ‘n manier wat jy dit nog nooit gedoen het nie… bestudeer dit… mediteer daarop… gehoorsaam Sy opdragte. Dan sal jy stap in die skadu van Sy oorvloedige seëning.

Indien jy God se Woord in jou hart koester, kan niks en niemand dit van jou wegneem.  Net soos ons kos nodig het om te oorleef, het jy die Woord as voedsel vir jou siel nodig. 

Rustige nag


Spreuke 3 : 24 – 26  Jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie; as jy gaan lê, sal jy rustig slaap.  Moenie bang wees dat 'n ramp jou skielik sal oorval, dat die storm wat vir slegte mense bedoel is, jou sal tref nie, want die Here sal jou beskerm, Hy sal sorg dat jy nie in 'n strik beland nie.

In Suid-Afrika is sekuriteit baie belangrik.  Nie net het ons alarms, diefwering en veiligheidshekke nie, ons het ook hoë mure, kwaai honde en selfs elektrisiteitsheinings of laserstrale.  Hierdie maatreëls word nie net ingestel omdat ons, ons huise beter wil laat lyk of in waarde laat toeneem nie, dis om ons en ons gesinne te beveilig.

En ten spyte daarvan, word mense steeds vermoor in hul huise.  Dit is die realiteit van die tyd waarin ons leef.  Ons weet dat daar verskeie redes daarvoor is en ek glo dat dit ongelukkig nog lank met ons sal wees.  Misdaad en misdadigers is ‘n kanker wat versprei.

Ons kan egter al die beste en duurste veiligheidsmaatreëls installeer sonder om werklik veilig te voel.  Volkome gemoedsrus kom eers wanneer jy besef dat God die hoof van Sekuriteit is.  Hy is die enigste Een wat jou ‘n waarborg en gemoedsrus gee. 

Omdat Hy in Sy Woord vir jou volkome beskerming belowe kan jy vanaand jou oë dalk vir die eerste keer toemaak en ware vrede ervaar… vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Thursday 15 February 2018

Maatstawwe


2 Korintiërs 5 : 16  Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslik maatstaf nie

Wanneer jy ‘n funksie bywoon waar jy nie almal teenwoordig ken nie, sal jy aansluit by ‘n groep waar jy darem een of meer persone ken, of sal jy die geleentheid gebruik om na groepies te stap waar jy niemand ken nie en sodoende dalk nuwe vriende / kennisse ontmoet en jouself sodoende blootstel aan nuwe kulture/ervarings.  Meeste mense sal hul skaar by die bekende, want soort soek soort.

Jesus het uit sy pad gegaan om ‘n Samaritaanse vrou by ‘n put te ontmoet.  Op kulturele en godsdienstige gebied het hul niks in gemeen gehad nie.  Sy was al vyf keer geskei en het ‘n slegte reputasie gehad.  Sy was ‘n nie-Jood.  Danksy die Bybel weet ons dat Jode daardie dae nie water kon drink of kos eet wat van ‘n nie-Jood af kom nie.  Jode het na nie-Jode as onrein verwys en gereken hul sou ook onrein word as hul met diesulkes sou meng.  Soos ons Jesus leer ken, tree Hy redelik onkonvensioneel op, juis omdat Hy niemand uitsluit nie.  Hy het melaatses aangeraak, vreemdelinge liefgehad, siekes genees en volgens Matteus 11:19 het hy soveel tyd met partytjiegangers spandeer dat godsdienstige leiers hom “’n vraat en ‘n dronklap, ‘n vriend van die liederlikste sondaars” genoem het.

Jesus het nie net gepreek nie.  Hy het die Evangelie uitgeleef… ‘n lewende voorbeeld vir jou en my. 

Ons kan nie mense tipeer volgens hul uiterlike, klere of sosiale stand nie… eintlik op geen manier nie. 

Jy gaan mense vandag teëkom soos die Samaritaanse vrou, iemand verwerp deur die samelewing… iemand wat anders as jy is, dink en optree.  Gaan jy jou menslike maatstaf gebruik, of probeer om Jesus se maatstaf/voorbeeld na te volg?

Wednesday 14 February 2018

Gawes


Romeine 12 : 6  Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het

Ons is geneig om onsself met ander te vergelyk.  Ek wil ook so vinnig soos Wade van Niekerk hardloop of ek wens ek kon toneelspeel soos Meryl Streep.  As ek maar net kon skilder soos Pierneef.

En eintlik is dit so onnodig, want ons het elkeen unieke gawes van God ontvang. Ons sou mos geen waardering vir ‘n Pierneef gehad het as ons almal soos hy kon skilder nie.  Juis ons diversiteit maak dat ons mekaar kan bewonder en komplimenteer.  Een persoon kan blomme rangskik en ‘n ander is uitstekend met décor terwyl nog iemand fantastiese kos maak.  Deur al ons talente saam te gooi, kan ons ‘n manjifieke funksie reël.

As ek reg onthou was dit John Maxwell wat voorstel dat ons iewers werk waar ons 80 persent van die tyd iets doen waar ons beste talent aangewend word, 15 persent waar ons ‘n nuwe vaardigheid kan leer en slegs 5 persent dit waarmee ons regtig nie goed is nie.   Natuurlik mag dit so wees dat jy ‘n talent het waarvan jy nie weet nie.  Dit sal jy net ontdek as jy iets doen wat jy nog nooit gedoen het nie of blootgestel word aan iets wat jy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Wat is jou sterkpunte?  Dalk weet jy nie of is jy nog nie seker nie.  Stuur gerus ‘n boodskap vir 5 vriende / vriendinne / kenisse en vra dat hul met net 1 woord jou beste eienskap beskryf.  Jy sal verstom staan oor dit wat jy terugkry.
Koester jou sterkpunte… ontwikkel en slyp hul en moenie soveel fokus op dit wat jy nie kan doen nie.  Ek sal nooit in my lewe soos Wade kan hardloop nie, daarmee moes ek vrede maak, maar dan weer… Wade sal nooit kan doen wat ek doen nie.  En dit is ook ok. 

Tuesday 13 February 2018

Die liefde


1 Korintiërs 13 : 13  En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

Valentynsdag… ‘n dag toegewy aan die liefde...

Gaan jy jou geliefde vandag bederf of gaan jy sê:  “Dis sommer net ‘n geldmaak storie.”  Jy sien dit gaan nie oor die dag of oor geldmaak nie… dit gaan oor die persoon vir wie jy sê dat jy lief is… of eens op ‘n tyd voor lief was.  Wat het in elk geval verander?

Wanneer jy reken dis net ‘n geldmaak foefie is, gaan dit oor jou en nie oor jou geliefde nie.  Dan probeer jy verskonings maak hoekom jy nie deel van die foefie wil wees nie.  En iewers wag iemand om bederf te word… al is dit net met ‘n blommetjie uit die tuin.

Wat beteken dit regtig om vir iemand lief te wees?  Ek is lief vir sjokolade, maar my lewe draai nie om sjokolade nie.  As ek egter vir my man lief is, draai my lewe om hom, want om iemand lief te hê, is om daardie persoon se welstand en geluk ‘n prioriteit te maak.  Om iets te doen, selfs al hou ek nie daarvan nie.

Dan maak ek lank voor die tyd planne om die persoon te bederf.  Ek koop ‘n beertjie of hartjie of sjokolade lank voor die tyd, bespreek plek by ‘n restaurant of ‘n aandjie uit, skryf ‘n kaartjie… en so draai alles eintlik om die persoon vir wie ek wil wys hoe spesiaal hy/sy is.
Jy hoef nie ‘n duur ruiker te gaan koop of ‘n tafel te bespreek by die duurste restaurant in die dorp nie.  Jy moet net iets doen.  Bring vir hom / haar koffie in die bed as jy dit nog nooit gedoen het nie.  Gaan trek die motor uit as sy gaan werk, maak die deur vir haar oop en steek ‘n blommetjie in haar hare… Koop items vir die kinders se kosbakkies sodat sy meer tyd vir haarself het en drink dan ‘n koppie tee of koffie saam.  Sit ‘n kaartjie in sy oggendkoerant / aktetas…
Vier net die liefde, want as jy nie die liefde het nie… is alles net ‘n klein bietjie valer…

Monday 12 February 2018

Tiende heel bo


Maleagi 3:10  Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

Wanneer ek finansiële opvoeding doen is een van die opmerkings altyd:  “Ek kan nie my tiende gee nie, want ek het nie eens genoeg geld om alles te betaal nie.  Dalk is dit omdat jy nie 'n goeie rentmeester is van dit wat God jou toevertrou het nie.

Ek glo die heel eerste item op jou begroting behoort jou tiende te wees, of jy dit kan bekostig of nie.  Ja, dit is reg.  Jou tiende staan heel bo-aan die lysie.  Daarna volg Spaar, selfs al is dit net R10 pm, en dan die res.

Waar begin jou lysie?  Dalk skuld 1, skuld 2, skuld 3, skuld 4, ens, ens, ens?  Ek lees iewers:  “Finansiële sekuriteit word bepaal deur wat jy spandeer, nie deur wat jy verdien nie.”  Ironies genoeg reken ons hoe meer ek verdien, hoe meer kan ek uitgee.  Meeste mense kyk na wat hul verdien en werk dan hul begroting uit.  Sodoende word die lysie van ontvangers van jou swaarverdiende geldjies al langer.  Spandeer net wat nodig is, en ook net as jy die geld het.

God daag jou uit om hom te toets.  Toets Hom gerus.  Ek glo jy kan nooit meer gee as waarmee God jou sal seën nie.  Die oomblik dat jy begin gee, trek God die sluise oop. Skielik gaan jy wonder hoekom daar nou altyd geld in jou beursie is… hoe dit moontlik is dat jy uitkom met die bietjie wat jy verdien terwyl dit op papier nie sin maak nie.  Glo my, ek praat uit ondervinding. 
Volgens die Ou Testament moes die volk die beste van hul diere bring om te offer, nie die sieklike of gebreklike diere nie.  Ons moet dieselfde logika aan die dag lê.  Moenie vir God die kleingeld in jou beursie gee wanneer jy jou bydrae in die kollektebordjie gooi nie. Daag Hom uit… toets Hom!  Gooi die grootste noot, of selfs alles wat jy het in en ek waarborg jou jy gaan dit tienvoudig terug kry.  Gee die volle tiende, nie die afgewaterde tiende nie.

Hongersnood en dag Zero


Genesis 41 : 35 & 36  Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is.  Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”

Die Egiptenare moes graan insamel en in graanskure bêre om voorsiening te maak vir die maer jare.  Genadiglik het die Farao geluister, want hy het vir Josef gehad wat ‘n boodskap van God hieroor gekry het.

Kapenaars moet water spaar… om dag Zero te vermy. Ons het ook die boodskap uit verskeie oorde gekry, maar ons hoor nie.  Te veel van ons is nog in die ontkenningsfase.
Sou alle Kapenaars lankal besef het dat water kosbaar is en dat elke druppel gespaar moet word, was ons nie nou in die penarie waarin ons, ons bevind nie.  Daar is steeds te veel mense wat reken dat dit nog altyd betyds gereën het, so hoekom sal dit nie hierdie keer gebeur nie.  Wel, die Winter in 2017 het gekom en gegaan en ons het nie noemenswaardige reën gekry nie.  Wat sal gebeur as die Winter van 2018 ook nie voldoende reën bring nie?

Diegene wat egter wel die lig gesien het, sal nooit weer onverskillig met water te werk gaan nie.  Dieselfde water word nou 3 en 4 keer oor en oor gebruik.  Ons kan eenvoudig nie bekostig om water net een keer te gebruik nie.  Dis ondenkbaar om drinkwater in ‘n toilet te sien afspoel.  Skielik is dit onsinnig om elke dag te stort (bad is lankal uit).  Ons was in ‘n katspoegie water en ek reken ons is skoner as toe ons ure lank gebad of gestort het.  Kan jy glo dat sommige mense baddens vol water getap het om in te lê!  Of dat sommige mense twee keer per dag gestort het?

Dalk is dit God se manier om ons te leer om water te respekteer.  Met "load-shedding" kon ons nog ‘n plan maak deur kragopwekkers en sonpanele, maar met water is daar bitter min wat jy kan doen.  Ons koop water vir ‘n vale of sink boorgate, maar dis alles tydelik.  Dank God Die Bybel sê nie dat die einde van die wêreld sal aanbreek wanneer ons almal omkom van dors nie.  Dis alreeds hartverskeurend om plante en diere te sien vrek van dors.  Mense baklei alreeds oor bottels water.  Kan jy jou indink?
Gehoorsaamheid en verantwoordelikeheid is die kern van die saak.  Gehoorsaamheid aan God, gehoorsaamheid aan oproepe om te spaar sowel as verantwoordelikheid teenoor God en ons nageslag.

Wednesday 7 February 2018

Beweeg vorentoe


Deuteronomium 31: 6  Wees sterk en hou moed!   Moenie vir hulle bang wees nie!”

Wanneer ons lees hoe Moses die Israeliete uit Egipte gelei het… die 10 plae wat God oor die Egiptenare gebring het… die see wat in twee gekloof is sodat hul droogvoets kon deurloop… die manna… ‘n wolk deur die dag om hul teen die son te beskerm…  en hoe hulle op ‘n stadium terugverlang het na Egipte en daarheen wou teruggaan... en jy hoor dat julle terugverlang het na Egipte, wil jy amper jou hande in die lug gooi en uitroep: “Is julle gek?  Verlang julle regtig terug na die dae in slawerny? Het God homself nog nie genoeg aan julle bewys nie?”

Ons moet egter besef dat die sekuriteit van die bekende minder bedreigend was as die uitdagings van die onbekende.  Hulle wou liewer teruggaan na wat hulle ken as wat hul wou deurdruk na iets beter.  God het dit verstaan, want twee keer bemoedig Hy hulle:  “Wees sterk en hou moed!  Moenie vir hulle bang wees nie!  Die Here God sal met julle wees.” 

Ons kan nou oordeel, want ons kan die storie in die gerief van ons moderne samelewing lees.  Ongelukkig is ons nie veel anders as die Israeliete nie.  Ons is ook bang vir die onbekende.  Ook ons wil liewer teruggaan na die bekende, al was dit nie juis maanskyn en rose nie. 

Wanneer jy weer op spore van die verlede wil terugstap, eerder as om ‘n stap in geloof te neem, hoor weer God se woorde: “Wees sterk en hou moed!  Moenie vir hulle bang wees nie!?  As jy niks waag nie, gaan niks verander nie.
Jy doen die regte ding. Jou besluit is die regte een.  Moenie twyfel of terugdraai nie.  Beweeg vorentoe.


Tuesday 6 February 2018

Moenie bang wees nie

Jesaja 41 : 10  Moenie bang wees nie, want ek is by jou…

Wat is jou grootste vrees?  Wat is daardie een ding wat jy hoop nooit ooit met jou sal gebeur nie? 

Vir my is dit dat ek myself nooit ooit naby ‘n lewendige slang sal bevind nie.  Ek kry die horriepiep as ek net die woord slang hoor. 

Daar is egter twee goed wat meeste mense vrees, naamlik vrees vir mislukking en kritiek.  Dit is vrese wat blykbaar nooit heeltemal verdwyn nie.  Daar word gesê dat jy dit kan oorkom, maar dat dit altyd weer kop uitsteek sodra jy die volgende uitdaging teëkom.

Nou weet ons dat mislukking selde blywende skade aanrig.  Om die waarheid te sê mislukking maak jou gewoonlik sterker en meer vasberade om sukses te behaal. 

Net so kan kritiek seermaak, maar as jy dit analiseer en neem vir wat dit is, kan dit jou wyser maak of help om beter te wees. 

Die geheim is dus om kritiek en mislukking tot jou eie voordeel te gebruik. Te veel van ons word teruggehou deur ons vrese.  Neem nou maar my vrees vir slange.  Dis amper ‘n onlogiese vrees, want ‘n slang het my nog nooit enige skade berokken nie, maar steeds wyk die vrees nie.

Wat jou vrees ookal is, besef vandag een ding en dit is dat God met jou is, te midde van jou vrese.  Hy het ons nie ‘n gees van vrees gegee nie, maar ‘n gees van oorwinning.

Die Here is hier

Genesis 28 : 16  “Die Here is op hierdie plek, en ek het die nie geweet nie!”

Die baie bekende verhaal van Jakob wat ‘n droom gehad het. In die droom sien hy ‘n leer met engele daarop wat al die pad tot die hemel strek. Dis ook waar God vir hom gesê het:  “Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan.”  Toe Jakob die volgende oggend wakker word het hy juis hierdie woorde in Genesis 28 : 16 kwytgeraak.

Hoeveel keer bevind ons nie onsself nie in moeilike situasies nie? Tye waar ons swaarkry, wroeg en sukkel. 

Partykeer is dit ‘n kind wat op die verkeerde pad is.  Jou liewe, dierbare babatjie verander ewe skielik in die duiwel homself.  Hy steel jou geld, verkoop jou kosbaarste besittings, lieg sonder om ‘n oog te knip.  Alles word toegesluit, selfs jou koskaste.  Saans lê en bid jy eers dat hy veilig sal huis toe kom en as hy by die deur instap bid jy dat hy liewer weggebly het.  Goed word rondgegooi, daar word gevloek en skel… jy krimp ineen.  Hopelik lig hy nie ook nogsy hand vir jou nie.

Menige ouer van ‘n dwelmverslaagde sal jou versker hierdie is ‘n maklike pad nie.  Jy bly ‘n ouer.  Net omdat jou kind op die verkeerde pad is, beteken nie dat jy hom nie meer lief het nie.

Het jy al ooit daaraan gedink dat God ook op hierdie plek saam met jou is?  Ja, Hy is by jou wanneer jou kind jou hart breek. Hy is by jou as jy beangs is.  Hy is by jou as jy op jou knieë gaan vir hierdie kind. Jy is nie alleen nie.  Dit is heelwaarskynlik die rede hoekom jy staande bly.

Net soos wat Hy vir Jakob in vers 16 verseker het, versker Hy ook vir jou dat Hy by jou is en jou sal beskerm. 

Weet verseker dat God nie net handegevou saam met jou hierdeur gaan nie.  Op die regte tyd sal Hy ook uitkoms bring.  Die Here is op hierdie plek… jy besef dit dalk net nie.

Sunday 4 February 2018

Net 'n witleuentjie

Jakobus 2 : 10 – 11  As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.  God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.

Daar is mense wat reken die tien gebooie is nie van toepassing op vandag nie, maar volgens Jakobus 2 is dit heel duidelik dat dit nog net so relevant is.

Ons ‘buig’ so maklik die wet, of verontskuldig onsself byvoorbeeld deur te sê:  “Ek doen darem nie dit of dat nie… of dit is net ‘n witleuentje…” 

Mini-bus taxis het ‘n hele nuwe stel verkeersreëls aan motoriste bekendgestel.  Ons volg slaafs in hul voetspore, want as hulle daarmee kan wegkom, kan ons ook.  So mislei ons onsself.  Die feit dat ander die wet oortree beteken nie dat die wet nie meer geld nie.   

Wanneer ons eendag voor die Regterstoel verskyn, gaan God nie na verskonings luister nie.  Die wet is op skrif en daar is net tien reëls waarvolgens ons moet leef.  Is dit maklik?  Nee, beslis nie.  Gaan dit verskoonbaar wees?  Nee!  

Thursday 1 February 2018

Bekommernis

Spreuke 12:25 Bekommernis druk 'n mens neer; 'n vriendelike woord vrolik hom op.

Maurice Simpson  en Reginald Gibbs het twee dinge in gemeen.  Eerstens hul ongelooflike positiwiteit en tweedens, Neuro Fibromintosis oftewel NF.  NF is ‘n vreesaanjaende siekte wat deur gene aan jou oorgedra word.  Lyers van hierdie siekte, ontwikkel nie-kwaadaardige gewasse regoor hul liggaam.  Dikwels misvorm dit die gesig.

Maurice is ‘n bestuurder by ‘n wegneemete restaurant.  Ten spyte van sy verwronge gesig, werk hy direk met die publiek.  Kliënte sien nie meer sy gebrek raak nie, hul sien hom as iemand wat net een doel voor oë het, en dit is om sy kliënte gelukkig te hou.

Reginald het weer ‘n webblad begin “Just Ask”.  Daar moedig hy mense aan 
om vrae oor die siekte te vra.  Hy dra ‘n t-hemp met die webadres en oral waar hy gaan nader mense hom om hom te bedank dat hy ‘n stem vir lyers geword het en die stigma rondom die siekte nek omgedraai het.
Maurice het al agt operasie gehad, maar min sukses.  ‘n Weldoener het annoniem 300 000 dollar geskenk vir ‘n rekonstruktiewe gesig operasie.  Na aanvanklike komplikasies was die operasie ‘n sukses.  Op die oog af is daar min verskil, maar sy linkeroog kan weer sien en sy oor is terug op die regte plek.

Reginald wil nie meer operasies ondergaan nie, want hy is al te veel teleurgesteld.  Hy het slegs 10% sig in sy linkeroor, maar laat hom nie terughou in die lewe nie.

Hierdie twee mense is ‘n absolute inspirasie vir ons wat ‘normaal’ is en soms oor onbenullighede kla.  En ja, ek ken nie jou omstandighede nie… ek ken net my eie en ek laat sak my kop in skaamte as ek besef waaroor ek slapelose nagte het.

Gebruik jou bekommernis as ‘n getuienis.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...