Thursday 29 November 2018

Die regte redes


Genesis 11 : 6  en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.

Die mense was besig om ‘n toring te bou wat hul beplan het “tot by die hemel” sou strek.  In die teks lees ons basies dat as hul dit regkry, niks vir hul onmoontlik sal wees nie.  Hul verbeelding, visie en deursettingsvermoë was so gefokus dat God verwarring onder hul moes skep om te keer dat hul iets bereik met die verkeerde redes.  In vers 4 lees ons, hul wou dit doen om vir hul ‘n naam te maak.  Dit het nie oor God gegaan nie, maar oor hul eie ego’s.

Hierin is ‘n les te leer.  Ons moet ons energie gebruik vir die regte redes.  Ons moet sekermaak dit is in lyn met God se visie vir ons lewens is.  Jy sal net weet wat dit is deur tyd met God deur te bring en te hoor wat Sy wil vir jou lewe is.  Mettertyd sal dit gestalte aanneem en sal jy presies weet wat God vir jou in gedagte het.  Ons spandeer soms jare in ‘n beroep waar ons ongelukkig is omdat ons nie met God oor ons toekoms gesels nie… omdat Hy nie by ons toekomsplanne betrek word nie.  Dis hoekom soveel mense deesdae gestress deur die lewe gaan en ons allerhande siektes onderlede kry.  Ons beproef ons liggame tot die uiterste net om wind na te jaag.  Ons probeer almal behalwe God tevrede stel, tot ons uitvind dat Hy al is wat saakmaak.  Jy probeer almal beindruk en sorg dat jy in die regte kringe beweeg met die hoop dat dit ‘n kortpad na bo kan wees of deure vir jou kan oopgaan.  Daar is net Een wat deure oop en toemaak.

Wanneer jy uiteindelik uitvind wat Sy plan vir jou is, begin alles in plek val.  Jy hoef jou nie meer dood te werk nie.  Jy is nie meer ongelukkig nie.  Jy is op die perfekte plek.  En baie keer wonder jy hoekom jy so lank geneem het om daar uit te kom… hoeveel kosbare jare is nie gemors nie?


Wednesday 28 November 2018

Waar is U?


Job 23 : 1 – 9  Toe het Job weer gepraat:  “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie ophou kla nie.  As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel.  Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê.  Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie; Hy sal my dit nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word. Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie.

As daar nou een mens was wat rede gehad het om van God verlate te voel, is dit Job.  Job is tot die uiterste beproef… hy het alles verloor en ek glo Job sou eerder wou doodgaan, maar dit was waar satan se mag gestop het, want God het gesê hy kan alles doen, maar nie raak aan Job nie.  Job moes deur hierdie hel leef.  Hy kon nie van sy hartseer en beproewinge wegkom nie.

Dalk voel jy ook vandag so.  Jy wil net op ‘n hopie gaan sit en doodgaan, maar selfs daar is daar nie vir jou uitkoms nie.  Net soos Job voel jy ook nie God se teenwoordigheid nie.  Jy bid en bid, maar niks gebeur nie.  Jy smeek, soebat, onderhandel, dreig… doodse stilte.  Jou omstandighede versleg by die dag en jy wonder waar God is. 

Wanneer ons nie God se weë verstaan nie, kan ons ons net beroep op sy karakter.  Hy is God-drie-enig.  Hy het Sy Gees agtergelaat om ons te troos.  Hy is ‘n omgee God.  Sy beloftes bly staan.  Hy ken steeds jou naam.  Die hemel is Sy woning en as jy gered is, is die graf slegs ‘n tydelike tuiste.  Niks is vir Hom onmoontlik nie.  Deur die eeue heen is Sy wonderdade opgeteken en Hy is gister, vandag en môre steeds dieselfde.  Elke toets wat ons deurstaan verander in ‘n getuienis tot eer van Sy naam.  Sy wil is reg, heilig en perfek.  Eendag sal daar geen trane meer wees nie.

Ons weet dat God Job nooit verlaat het nie.  Ek dink God moes op Sy tande kners om nie in te gryp nie.  Uiteindelik het Hy Job opgetel en geseën soos Job seker nooit sou kon dink moontlik is terwyl hy deur hierdie ellendige tyd moes worstel nie.
God sal jou ook nie in die steek laat nie.

Tuesday 27 November 2018

Niemand weet nie


Lukas 17 : 26  “Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:

Kort-kort hoor ons van iemand wat die wederkoms voorspel.  Behalwe dat hul mense bang maak, gebeur niks, want niemand weet wanneer Jesus weer terugkeer aarde toe nie.
Juis daarom kan ons nie leef asof Hy nie gaan terugkom nie.  Daar is diegene wat reken aangesien Hy tot nou toe nie gekom het nie, Hy nooit sal kom nie.  Niemand het geglo die aarde gaan vernietig word met water nie, selfs toe Noag getrou voortgebeur het om die ark klaar te maak.  Dit was ‘n groot skip en beslis nie iets wat Noag in drie weke klaargemaak het nie.  Hoe langer die bouery geduur het, hoe minder het mense geglo waarteen Noag hul gewaarsku het… dat God die aarde met water gaan vernietig. 

Net soos ons ook nie ‘n datum vir die wederkoms het nie, net so het Noag ook nie ‘n datum gehad nie.  Hy moes doen wat gedoen moes word en God sou dinge op Sy tyd laat gebeur.  God het genoeg tyd laat verloop om mense kans te gee om hul lewe om te draai, maar hul het hul nie aan enige waarskuwings gesteur nie.  Dis vandag weer so… ons het genoeg tyd.
Dalk voel jy ook dat jou geloof jou dwaas laat lyk voor die mense.  Jy glo en probeer reg leef, maar almal rondom jou het pret en boonop gaan dit met hul beter as met jou.  Dalk spot hul jou en daag jou uit.  Dalk bevraagteken hul selfs dinge soos… Christendom maak nie sin as daar bewyse is van pre-historiese diere en lewe wat miljoene jare gelede bestaan het nie… dit is onmoontlik om die aarde ens in 6 dae te maak… die Bybel is vol fantasieë soos Jona in die vis se maag…

Paulus waarsku hierteen in 2 Timoteus 2 : 23 Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak.

Net God weet wanneer die oordeelsdag gaan aanbreek.  Al wat ek en jy kan doen is om seker te maak ons is gereed wanneer Hy op die wolke kom.

Monday 26 November 2018

Wees 'n Abraham


Genesos 13 : 8 – 9  Toe sê Abram vir Lot: “Daar behoort nie 'n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie.  Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links.”

Abraham en Lot het nie goed oor die weg gekom nie.  Abraham het geweet dat hul voortdurende onmin God bedroef het en dat daar net een manier is om die onmin hok te slaan… hul moes uit mekaar se hare uitkom.

Nou moet ons onthou dat Abraham die een is op wie God se guns rus… die een wie se nageslag soos die sand van die see sou wees, maar Abraham hou hom nie beter nie.  Hy laat Lot eerste kies.  En ons weet mos nou wat gebeur as jy iemand toelaat om te kies.  Jy trek gewoonlik aan die kortste ent en so was dit ook.

Lot kies die beste deel;  die waterryke en vrugbare gedeelte.  Abraham kry die bar, woestynagtige deel.  Hoekom sou Abraham so dom wees?  Abraham dink nie net aan homself nie, hy dink aan wat in God se oë reg is.  Vrede bo ‘n langdurige familietwis.

Ironies genoeg het die storie vir Lot nie so ‘n goeie einde nie, maar wel vir Abraham, want Abraham was gehoorsaam aan God.  Omdat hy bereid was om die minste te wees, het God hom met dubbel soveel geseën… met vrede en vrugbare grond.  God is ‘n voorstaander van vrede en is getrou en regverdig.

Waaroor is daar onmin in jou familie?  Is daar ego’s wat in die pad van vrede staan?  Verwag jy dat die ander party moet toegee of ingee?

Wees ‘n Abraham.  Dit is nie nodig om altyd reg te wees of te ‘wen’ nie.

Sunday 25 November 2018

Omarm swaarkry


Romeine 5 : 3 – 4  Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;

Regtig Paulus!  Moet ek my regtig verheug in my swaarkry? 

Niemand staan tog in die oggend op en dink… laat ek sien wat ek vandag kan doen om die lewe vir my so uitdagend as moontlik te maak nie!  Ek hoop daar is sommer groot moeilikheid op pad!

Dan besef jy egter waarheen Paulus mik.  Hy besef dat ons deur swaarkry geloofspiere ontwikkel.  Want hoe swaarder ons kry, hoe meer tyd spandeer ons met God en hoe meer tyd ons met God spandeer, hoe meer groei ons in geloof.  Geloof is immers om te hoop.  Wanneer jy glo, hoop jy dit waarin jy glo gaan gebeur.

Wees dus bly wanneer jy deur ‘n beproewings gaan; dis ‘n kosbare tyd.  Ek moet ook erken dat ek nogal terugverlang na tye toe ons dit nie breed gehad het nie, want selfs as gesin het dit ons saamgesnoer.  Dis wanneer dit te maklik gaan dat gesinne ook elkeen hul eie rigting begin inslaan en mekaar nie meer nodig het nie en saam met dit ook nie meer vir God nie.

Goud gaan deur ‘n ontsaglike hitteproses om gesuiwer te word en net so word ons ook gesuiwer wanneer ons deur hierdie smeltkroes van die lewe gaan.  Moet dus nie swaarkrytye omwens nie.  Omarm dit eerder.

Thursday 22 November 2018

Leer by die mier


Spreuke 6 : 6  Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.

Robert Hicks het gesê:  “Om te voel dat ons geregtig is op dinge, sonder om die nodige werk te doen om dit te bekom, maak ons ‘n samelewing van luiaards.

In Suid-Afrika is daar baie mense wat reken hul is geregtig op baie dinge sonder dat dit nodig is om daarvoor te werk.  Hulle glo selfs dat diegene wat wel iets het, dit sonder enige inspanning ontvang het.

Hoe kan jy goed voel aan die einde van ‘n dag as jy nie gewerk het nie?  Werk gee immers betekenis aan ons lewens.  Die Chinese het die regte idee met hul spreekwoord:  Moenie vir iemand ‘n vis gee nie, leer hul eerder om vis te vang.

Wanneer jy hoor hoeveel mense werkloos is, wonder ek altyd hoeveel mense dalk nie wil werk nie.  Dit is veel makliker om ‘n toelaag te ontvang as om elke dag op te staan en jou brood in die sweet van jou aanskyn te moet verdien.

Diegene wat verantwoordelikhede het, sal hul vingers stompies werk om nie dit waarvoor hul gewerk het te verloor nie. 

Selfs al kom jy met die absolute minimum klaar, weet ons dat jy geld nodig het.  Sekere dinge moet betaal word… water, krag, skoolfonds, kos, selfs data om werk te soek…  Die lewe is duur.  Jy kan vir geen oomblik dink dat geld uit die lug sal val of dat jy eenvoudig by iemand anders gaan intrek omdat jy nie die mas kan opkom nie.  Ons wil almal help… but sometimes you have to be cruel to be kind. 

Wanneer mense net ontvang sonder om te werk, kweek dit ‘n bakhand samelewing.  Vandag is dit kos, môre huise, ens… Dalk het sommige politieke partye nie ‘n slegte idee nie… alles behoort aan die staat… die staat gee vir almal toelaes, ons spandeer dit so die staat kry dit weer terug en deel dit weer uit.  Dit alles terwyl ons lekker agteroorsit en niks doen nie.

Dis nie wat die Woord van God sê nie.  Ons moet by die mier leer… miere staan nooit stil nie.  Miere werk hulself letterlik dood. 

Jy kan natuurlik ook nie met ‘n luiaard redeneer nie, want  Genesis 26 : 16  Die luiaard dink hy het meer wysheid as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee  en hul is regtig nie van plan om te werk nie. Genesis 21: 25     'n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie;

Wednesday 21 November 2018

Lig die mes


Genesis 22 : 9  Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout

Daar word gesê dat Godgegewe geskenke gevaarlik kan wees.  Almal ontvang talente, maar wanneer talente tot hoogmoed lei, moet ons bekommerd wees.  Die feit dat ek / jy geseën is met ‘n talent, maak ons nie beter as enige iemand anders nie. 

Jy sien ons grootste sterkpunt kan ook ons grootste swakheid word wanneer ons die gawes wat God ons gegee het begin ontwikkel en meer op hulle staatmaak as op God.  Dit is hoogmoed… en dis gevaarlik.  Indien ons dit nie in lof verander nie, lei dit tot hoogmoed.

Volgens Jakobus 4 : 6  het God nie erg aan hoogmoed nie. Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.

Dis dalk nodig om te let op die ‘Isak’ in ons lewens.  Watter gawes / talente oorheers ons lewens?  Ons kan ons Isak steeds liefhê, maar ons mag nie toelaat dat dit God se plek in ons lewens oorneem nie.  Drome wat ‘ten alle koste’ verwesenlik moet word… die drang om sukses te bereik wat allesoorheersend word…  wanneer waardes en integriteit opsygeskuif word om te kom waar jy wil wees… dit is alles rooiligte wat flikker en wat jy eenvoudig nie kan ignoreer nie.  Plaas hul op die altaar en lig die mes.  Partykeer moet ‘n droom sterf sodat dit vir God se glorie kan herrys.

Isak het herrys van die altaar en uit sy nageslag is Dawid en Jesus Christus gebore.

Tuesday 20 November 2018

Plaas dit op die altaar


Genesis 22 : 16 – 17  “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem.

Abraham was bereid om dit wat vir hom die kosbaarste was… dit wat hy van God afgebid het te offer, toe God dit van hom verwag het.  Abraham kon gesê het:  “Nee, ek kan dit nie doen nie.”  Kyk net na die implikasies hiervan… Abraham sou nooit die nageslag gehad het (wat jou en my insluit) as dit nie vir sy gehoorsaamheid was nie.  Sy seun kon tussen hom en God gestaan het.

Dit is maklik om die verhaal in retrospek te lees, want ons weet dat Abraham gelukkig nie sy seun hoef te geoffer het nie.  God het hom betyds gestop, want God wou net sy gehoorsaamheid toets.  Abraham het dit egter nie geweet nie en tog het hy nie toegelaat dat enige iets tussen hom en God staan nie.

Wat staan jussen jou en God?  Is dit dalk jou titel, die pos wat jy beklee, jou besittings, die hoeveelheid nulle van jou salaris, jou ego?  Verafgood jy dalk kos, drank, pornografie, dwelms eerder as God?   Die probleem is gewoonlik dat ons, ons identiteit vind in wie ons is, eerder as Wie s’n ons is.  

Skatte van goud is tydelik en op ‘n dag kan jou kaartehuis eenvoudig in duie stort.  Plaas dit op die altaar wat tussen jou en God staan sodat jy eerder vir jou skatte in die hemel bymekaar kan maak.



Monday 19 November 2018

Dis ek wat so oulik is


Deuteronomium 8 :  17 – 18 Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf.  Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. So hou Hy die verbond in stand wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. So is dit nou nog.

Dien jy die Almagtige God of dien jy die almagtige rand? 

Wanneer alles wat iemand aanraak suksesvol is, sê ons so iemand is gebore met ‘n goue lepel in die mond.  Daar is mense wat, op die oog af, baie maklik sukses behaal.  Reeds op skool kom ons agter dat party van ons eenvoudig makliker leer as ander.  Party spandeer ure voor die boeke en behaal gemiddelde punte.  Ander maak skaars ‘n boek oop en kry onderskeidings.  Dan volg universiteit / kollege / die lewe en die speelveld is ver van gelyk.  Party ploeter net voort en ander spring rats van die een suksesklip na die volgende, sonder enige inspanning.

As jy sien hoe jy uitstyg bo die res, doen dit verseker iets aan jou ego.  Jy sien jou banksaldo en bates groei.  Jy bevind jou in kringe waar jy ‘n trofee eggenoot aankeer en kort voor lank is daar model kindertjies…

Wie het God nog nodig as jy dit self kan doen?  Wie wil nou elke Sondagoggend opstaan terwyl jy nog kan slaap om na ‘n vervelige kerkdiens te gaan luister?  Die dominee kyk in elk geval net met leepoë na jou, hopende jy sal jou tiende gee… waarvoor jy gewerk het, nie die kerk nie.

In teorie hang jou sukses net van jouself af, of hoe?  Genesis 12 : 2  Ek sal jou 'n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak, en jy moet tot 'n seën wees.

Jammer om jou borrel te bars met die waarheid wat aan jou gebring word vanuit Die Bybel… ‘n boek wat Daniël beskryf het as die Boek van die Waarheid (Daniel 10 : 20).  Dit is nie jy wat so goed is nie… dit is God wat jou die krag gee om rykdom te verwerf en omdat jy dit gemaak het, is jy veronderstel om ‘n seen vir ander te wees.

Sunday 18 November 2018

Toetse


Genesis 22 : 1  'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

Daar is mense wat sê God sal jou nooit toets nie.  Hoekom sal God ons toets?

God toets ons om te sien of ons getrou aan Hom is, maar terselfdertyd is dit ‘n geleentheid om Sy getrouheid aan ons te bewys.  Wanneer ons die toets deurstaan, kan ons terugkyk op God se getrouheid.  Elke keer dat ons ‘n toets slaag beweeg ons ook as’t ware na die volgende vlak in God se koninkryk.

As gevolg van Abraham se absolute getrouheid, het hy daardie dag bewys dat hy niks en niemand liewer het as vir God nie.  Deur sy getrouheid uit te leef, het Abraham God se getrouheid in alles ontdek.

Toetse kom gewoonlik na aanleiding van dit wat vir jou die belangrikste is.  God toets eintlik alles wat ons meer as vir Hom vertrou.  Waarin vind jy sekuriteit?  Jou werk?  Dalk vrees jy berigte oor personeelvermindering.  Begin fokus op God en nie op die feit dat jy ‘n werk nodig het nie.  Jy het voorsiening nodig, nie ‘n werk nie.  God spesialiseer in voorsiening teen alle logika in.  Met elk van 8 herstrukturerings waardeur ek is, het ek die woorde voortdurend geprewel:  “Die Here is my herder, NIKS sal my ontbreek nie.”

Vir baie mense is hul eiendom / bates waarvoor hul so hard gewerk het hul sekuriteit en die dreigende grondonteiening sonder vergoedingkwessie die toets is.  Wat ons het, het ons uit die hand van God ontvang.  Die geskenk mag nooit belangriker as die Skenker word nie.  Ons het nie grond of ‘n huis nodig nie, ons het God nodig.

Hierdie dinge ondermyn God se plan vir ons lewens.  Kom ons plaas dit waaraan ons vasklou op die altaar, soos Abraham vir Isak geplaas het.

Thursday 15 November 2018

Kyk vorentoe


Spreuke 4 : 25 Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit.

As ek jou sou vra waaraan dink jy die meeste van die tyd die afgelope tyd, wat sou jou antwoord wees? 

Bly jou gedagtes vassteek by dit wat in die verlede gebeur het?  Kan jy eenvoudig nie ophou dink aan dit wat was of kon gewees het nie?  Wonder jy hoekom dinge nie uitgewerk het nie?  Bly jy dink wat jy anders kon doen? 

Normaalweg beweeg ‘n mens in die rigting wat jy kyk.  Geestelik is dit presies dieselfde.  Dit waarmee jou hart en gedagtes besig is, is waar jy jouself bevind en in watter rigting jy sal beweeg. 

Dit is dalk hoekom die Bybel ons adviseer om ons oë op die pad vorentoe te hou… om reguit voor ons uit te kyk.  As jy konstant in die verlede bly ploeter met ‘wat as’ gedagtes, dan is dit presies waar jy sal bly.  Jy kan nooit werklik aanbeweeg as jy nie vrede gemaak het met dit wat verby is nie.  As die verlede jou terughou, weet jy dat jy nog nie werklik vry is nie.  Daar kom ‘n tyd dat jy moet besef dat jy ter wille van jou eie beswil, moet laat gaan.  Kies eerder om die verlede agter te laat deur die hoofstuk af te sluit met vergifnis en verskuif dan jou blik na dit wat voor jou lê.

‘n Atleet wen nie ‘n wedren deur op die wegspringblokke te bly fokus nie.  Die atleet se oog is op die wenstreep gevestig.  Jy kan ook ‘n wenner wees.

Wednesday 14 November 2018

Twyfel


Romeine 4 : 20  Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.

Wanneer iemand nie hul ledemate gebruik nie, verloor hul mettertyd die gebruik daarvan, want hul spiere verloor hul fermheid en krag.

Wanneer jy God prys, kom jou geloof in aksie.  Dis soos om jou liggaam te oefen en spiere te bou.  Hoe meer jy bid, aanbid, prys… hoe sterker word jou geloof.

Wanneer jy twyfel, swaai jy tussen glo en nie glo, tussen vertrou en wantrou.  Dit is net soos om te wankel.  Wankel beteken jy is onvas.  Geestelike wankeling is wanneer ons eendag in God en Sy beloftes glo en die volgende dag daaraan twyfel.  Daar is geen stabiliteit nie.  En wanneer jy so onstabiel is, is dit maklik vir satan om homself in te wurm en jou nog meer te laat twyfel. 

Daardie twyfel kom voor in ons gedagtes, ons woorde, ons dade.  Jy twyfel dat God iets aan die situasie kan doen, jy verwoord dit selfs en dan begin jy sommer self iets doen.  Dan sal ons verseker nie God se beloftes sien realiseer nie.

Volgens die skrif het Abraham nooit getwyfel nie.  Hy het nooit gewankel nie.  Hy het elke gedagte gevange geneem en sterk bly staan deur prys en aanbidding.  Sy geloofspiere was geoefen en sterk. 

En wanneer jy geloof fiks is, met ferm geloofspiere, is dit makliker om nie te wankel nie.  Dit is dan wat jy die aanslae kan weerstaan omdat jy weet dat jy weet dat jy weet en God onwrikbaar vertrou.  Dan kom God deur en trek Hy die sluise van die hemele vir jou oop!

Tuesday 13 November 2018

Geskenk


Johannes 3 : 16  “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Iemand het eendag gesê jy kan gee sonder liefde, maar jy kan nie liefhê sonder om te gee.
Liefde is die motiveerder… dis hoekom ons ons tyd gee, ons talente, ons geld.  Volgens die Woord is God liefde en darom sal mense ons ken as Sy volgeling wanneer ons liefde betoon.  Om te gee is om liefde te betoon.

Die seisoen van gee lê voor.  Laat ons egter nie uit die oog verloor, die grootste Geskenk van alle tye nie… die geskenk van Ewige Lewe deur Jesus Christus.  As jy nog nie hierdie wonderlike geskenk ontvang het nie, bid saam met my:  “Hemelse Vader, ek kom vandag na U toe om my lewe aan U oor te gee.  Vergewe asseblief al my sondes.  Ek het U in my lewe nodig.  Ek glo dat U Seun, Jesus Christus aan die kruis gesterf het sodat ek die gawe van Ewige Lewe mag hê.  Ek glo dat Hy opgestaan het uit die dood en opgevaar het vanwaar Hy eendag sal kom om te oordeel.  Ek maak my hart oop en ontvang U kosbare gawe vandag. “

Gaan dan uit en maak ‘n verskil.  Deel die liefdesgawe met ander, want dis ‘n geskenk wat nooit opraak nie.

Monday 12 November 2018

Hy sal voorsien


Filippense 4 : 19  En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

Wanneer ons lees dat God ‘ryklik’ in al ons behoeftes sal voorsien, klink dit baie vergesog.  En die rede hoekom dit so vergesog klink, is omdat ons na ons huidige situasie kyk en weet hoe benard en beroerd dit is. 

Ons glo dat ons nooit weer uit hierdie skuldput sal kom nie… Ons glo dat ons nooit weer ‘n eie huis of motor sal besit nie… Ons glo dat ons besigheid gedoem is, want daar kom geen werk in nie en die skuld hoop op… Dis die koue feite en realiteite. 

Ons moet egter nie kyk na wat ons het nie, maar wat God het.  God is die besitter van hemel en aarde en alles daarop.  Een beweging van God kan jou neem van ‘n plek waar jy tans is waar jy van die hand na die mond leef tot meer as genoeg.  God het maniere om jou te gee meer as wat jy verdien, hy maak dat ‘n begroting klop terwyl jy weet dis nie moontlik nie.  God beweeg buite die voorspelbare.  Die ekonomie mag dood wees, maar God kan werk laat instroom.

So hou op om jouself wys te maak dat jy dit nie sal maak nie of dat dit al is wat jy ooit sal bereik.  Laat los die verlede en kies ‘n mentaliteit van oorvloed. 

Sê vir jouself:  Ek is geseënd… Ek is voorspoedig…  Hierdie is maar net die begin van groot dinge... Ek is op pad na die land van oorvloed, want dis wat God vir my in stoor het.

Sunday 11 November 2018

Dink jy God kan nie?


Jeremia 32 : 27  Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

Om jou bestuurderslisensie te kry, is verseker nie maklik nie.  Eers moet jy jou ‘learners’ deurkom en dan moet jy oefen om die voertuig op die pad te hou.  Saam met dit, leer jy die betekenis van padreëls. 

Of jy nou ‘n familielid het wat jou leer bestuur of by ‘n bestuurskool aangesluit het, jy moet leer bestuur.  Met die K53 is dit ook belangrik om op ‘n sekere manier te bestuur.  Daar is die regte en verkeerde manier.

Wanneer die dag uiteindelik aanbreek dat jy vir die toets gaan, moet jy seker wees jy is gereed.  Sou jy alles volgens die reëls doen, sal jy slaag.  Elke keer dat jy nie doen wat jy veronderstel is om te doen, of ‘n fout maak, word punte afgetrek.  Dit is regtig nie moeilik om te ‘dop’ nie.

Vir diegene wat wel suksesvol is, is dit ‘n groot oomblik.  Maande se harde werk het vrugte afgewerp.  Nou lê die volgende hobbeltjie voor… jou eie wiele.

So het ‘n enkelouer vriendin van my se seun sy lisensie bekom en haar begin pols vir ‘n motortjie.  Sy het verduidelik dat sy nie die finansiële vermoëns het nie, maar dat hulle kan bid vir ‘n motor.  Hiermee was die jongman glad nie beindruk nie.  Maar my vriendin het getrou gebid.  Binne 3 maande het sy ‘n terugbetaling van SARS ontvang.  Met die assessering van haar huidige aanslag, het hul agtergekom dat hul vorige jare haar aanslag verkeerd bereken het.  Sy het ‘n terugbetaling ontvang wat net genoeg was om vir die jongman ‘n tweedehandse motortjie te koop.

Hy was stomgeslaan, maar besef nou baie beslis die krag van gebed. 

Dink jy God kan nie?  NIKS is vir God onmoontlik nie.  Ook nie dit waarmee jy worstel nie.  Hoekom strek jy jou geloof nie so ‘n bietjie nie.  Gee vir God iets om mee te werk.  Herinner jouself hardop dat jy glo God kan.  Skryf dit neer, lees dit hardop, maak dit jou mantra.  Geloof beweeg God. Hy sal jou nie teleurstel nie. 

Ek het wel geleer dat God uiters kreatief is.  Sy antwoorde is nie altyd verklaarbaar nie, maar dis meestal tasbaar.

Wednesday 7 November 2018

'n Baie besonderse kwalifikasie


Psalm 105 : 17  het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
Josef het vir God geëer deur versoekings te weerstaan.  Uiteindelik sou hy ‘n baie belangrike posisie in Egipte beklee. 
Josef se pad tot by die troon in Egipte was egter nie maklik nie.  Hy is deur sy broers in die put gegooi.  Hulle het sy kleed in bloed geweek en vir sy pa geneem wat getreur het oor die dood van sy geliefde seun.  Niemand sou na Josef kom soek nie.  Hy is as slaaf verkoop, in swaar boeie vasgemaak en agter ysterdeure toegesluit.  (Psalm 105 : 18) Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het; totdat alles mooi opgelyn was sodat God hom kon gebruik.  Vers 19 :  totdat sy woorde bewaarheid is, nadat hy die toets deurstaan het met wat die Here aan hom bekend gemaak het.

Partykeer bevind ek en jy ons ook in haglike toestande, soos Josef.  Dinge loop verkeerd, mense verraai ons, hul draai teen ons, ons verloor alles… en ons dink dat God ons verlaat het.  Waar is God te midde van hierdie gemors waarin ek my bevind? vra ons dikwels.

In Genesis 39 lees ons 5 keer  Die Here was met Josef.”  God het nie die lyding of krisis weggeneem nie, maar Hy was die hele tyd daar.  Dis die punt wat ek en jy dikwels mis.  God is daar elke tree van die pad.  Hy draai nie vir een oomblik sy rug op jou nie.  Hy laat jou NOOIT in die steek nie.

Toe Josef nie toegee aan Potifar se vrou nie, bedink sy ‘n plan om hom vals te beskuldig.  Hulle glo haar en Josef eindig in die tronk op.  Daar word hy op die ou einde die hoof van die tronk. In die tronk sou hy ook drome uitlê.  Heelwat tyd sou verloop, tyd waartydens Josef getrou gebly het.   Omdat Josef getrou was en die toets geslaag het, het God dit op die koning se hart gelê om Josef vry te laat en aan te stel as hoof van die paleis.  Josef het beheer gehad oor al sy besittings. Psalm 105 : 21 en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding, met gesag oor al sy besittings.

Terwyl ek en jy dikwels paniekbevange oor ons situasie raak, is God alreeds besig met ‘n plan.  Hongersnood was op pad, maar God het ‘n plan, want Josef is reeds vooruit gestuur.  Alles wat Josef deurgegaan het, verraad, onregverdigheid, vals beskuldigings, gevangenisskap… het hom voorberei vir die taak wat God vir hom in gedagte gehad het.  Wat ek en jy deurgaan, berei ons ook voor vir ons lotsbestemming!  Ons is vir iets groter bestem en daarom moet ons getrou bly.  Moenie moed verloor nie.  Hierdie is toetse en eksamens vir ‘n baie besonderse kwalifikasie om in diens van God te kan staan.

Tuesday 6 November 2018

Dis sonde!


Genesis 39 : 9  Hoe kan ek so 'n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!”

Potifar, 'n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, 'n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het.

Potifar was Josef goedgesind en hy het hom oor alles in sy paleis aangestel.  Ons lees dat Josef fris gebou was en mooi.  Sy eienaar se vrou het dit ook opgemerk en Josef verlei.  
“Kom slaap by my.”  Josef het nie toegegee nie.  Hy het haar herinner hoe goed haar man vir hom is en dat dit oneties sal wees om iets so verkeerd aan iemand te doen wat goed is vir jou.  Josef is ook nie skaam om duidelik te maak dat hy ‘n kind van God is nie.  Hy sê dan ook vir haar in die teks hierbo dat dit ‘n sonde teen God sou wees om by haar te slaap.

Hoeveel mense sou so standvastig gebly het as versoeking hul pad kruis?  Seks word dikwels as ‘n betaalmiddel gebruik.  Slaap by my en ek maak vir jou deure oop. 

Behalwe dat dit kortsigtig is, gee jy die persoon mag.  Daardie persoon weet dat jy enige iets sal doen om te kom waar jy wil wees.  Respek is verseker by die deur uit.  En die eise kan net meer raak. 

So iemand sal ongelukkig weer een of ander tyd ‘n nuwe prooi ontdek en dan het jy jou reputasie verniet opgeoffer.  Maar nog erger, jy het het teen God gesondig. 

Jy kan nooit goed voel oor egbreuk nie.  Dit is nooit geregverdig nie.  Staan sterk soos Josef en jy sal die vrugte van gehoorsaamheid pluk.

Monday 5 November 2018

Toewyding


Prediker 9 : 10  Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen

Wanneer jy iets na die beste van jou vermoë doen, tot eer van God, maak dit die deur oop vir God om ryke seëninge oor jou uit te stort.  Dit beteken dat dit beter sal gaan, dat jy meer sal bereik, dat dinge makliker sal word.  Dit is hoekom dit so belangrik is om altyd jou beste te gee. 

Dit is maklik om voluit te gaan as jy raakgesien gaan word, maar jy moet ook jou beste gee wanneer jy iets doen wat nie noodwendig aardskuddende gevolge sal meebring nie.  As jy byvoorbeeld skottelgoed was, huis aan die kant maak, gras sny, stryk, die drom leegmaak… doen dit met ‘n lied in jou hart en nie terwyl jy mor en kla nie.  Jy weet mos hoe party mense kan aangaan. Hoekom moet ek altyd die skottelgoed was!   Ek haat gras sny!  Ek wil nie huis aan die kant maak nie!  Dis altyd my beurt om die drom leeg te maak!  Sny daardie gras met soveel sorg en ‘n lied in jou hart asof dit God se grasperk is.  Neurie terwyl jy skottelgoed was of die drom uitneem.  Dans agter die besem, mop of stofsuier aan.  Stryk op maat van geestelike musiek.

Met elke tree prys God vir die voorreg om dit op eie stoom te kan doen.  Dank God vir krag en gesondheid om self jou takies te kan verrig.  Prys Hom omdat Hy jou vertrou met so iets.  By die werk kla jy nie as jy die donkiewerk kry nie, nee doen dit so goed dat hul jou met meer vertrou.  As jy by die kerk jou dienste aanbied, moenie agterna wonder hoekom jy jouself soveel moeite aangedoen het nie. 

Dien God in die groot en klein dingetjies van die lewe.  Eer Hom met elke tree en handeling.  Wanneer jy God eer, sal Hy jou eer.  Hy gaan deure vir jou oopmaak, seen oor jou uitstort en jou grondgebied vergroot.

Sunday 4 November 2018

Laat gaan


Eksodus 4 : 2  Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “'n Kierie,” antwoord Moses.

God wou Moses gebruik, maar Moses was vol verskonings.  Hy hakkel… die mense sal hom nie glo nie… wat hy eintlik sê is dat hy nie waardig is vir die werk wat God vir hom in gedagte het nie.  Dalk selfs indirek dat hy God nie vertrou nie.

Iemand het gesê “God is not interested in your ability, but in your availability”.  Ek en jy is ook vol verskonings.  Ons het nie tyd nie, ons is nie gekwalifiseer nie, wat sal die mense sê? 

Toe God vir Moses vra wat hy in sy hand het en hy antwoord ‘kierie’, vra God hom om dit neer te gooi.  ‘n Kierie is iets waarop ons leun… dis ‘n kruk.  Om jou kruk neer te gooi is skrikwekkend en veral vir iemand wat daarvan hou om in beheer te wees, is dit vreesaanjaend.  Moses se herderstok (kierie) het sy identiteit en sekuriteit verteenwoordig.  Waar Moses gegaan het, het sy kierie gegaan.  Met hierdie kierie het hy homself en sy kudde beskerm.  God het dus van Moses verwag om dit wie hy is en wat hy het, te laat gaan. 

Is daar in jou lewe dinge wat in jou pad staan om die mens te word wat God jou bestem het om te wees?  Waaraan klou jy vas?  Is dit jou verlede, jou beroep, jou inkomste, jou besittings of gebrek daaraan, ‘n lae selfbeeld, verslawing… Die oomblik toe Moses die kierie neergooi, het dit in ‘n slang verander.  Moses het geskrik, maar God sê hy moet dit aan die stert gryp en dit word weer ‘n kierie.  

Is dit normaal vir ‘n stok om in ‘n slang te verander en weer terug te verander?  Nee!  Jy sien as jy nie laat gaan nie, kan God nie wonderbaarlike dinge doen nie. 

Gaan jy langer vasklou en self daarmee woeker of gaan jy dit neergooi en kyk wat God daarmee kan doen?

Thursday 1 November 2018

Keer terug


Psalm 119 : 59  Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer.

Vandag wil ek met jou praat wat afgedwaal het.  Jy weet dat jou verhouding met God nie meer is wat dit moet wees nie.  Daar was ‘n tyd toe jy so naby aan God was… dat jy gereeld Bybelstudie gedoen het… gereeld met Hom gesels het, kerk bygewoon het.,, maar vandag moet jy erken dat dit lankal nie meer die geval is nie.

Die dief kom in die nag om te steel en te vernietig en net so kom satan geruisloos, wanneer jy dit die minste verwag en lei jou in versoeking – weg van God.  Jy word wysgemaak dat daar eenvoudig nie tyd is vir Bybel lees nie.  Jy glo jy moet darem net een dag van die week slaap kan inhaal… op ‘n Sondag.  Jy weet nie meer wanneer laas jy gebid het nie.  Dit is asof jy wil, maar woorde ontbreek jou.  So af en toe prewel jy ‘n paar woorde, maar dis nie gefokus nie en kon net sowel maar agterweë gebly het. 

Of dalk is jou lewe op ‘n pad wat baie ver van God en geloof verwyder is.  Jy is dalk betrokke in aktiwiteite wat jy weet sondig is, maar jy kan jouself nie losskeur nie.  Op die een of ander manier het jy in hierdie maalkolk beland en dit is besig om jou al dieper en dieper in te suig.
 
Miskien is jy selfs skaam vir wie jy geword het.  Jy verafsku die mens wat jy geword het en jy voel dat God jou nooit kan of sal vergewe nie.  Dit is nooit te laat nie en niemand kan sover val dat God se hand jou nie kan bykom nie.  Soms moet ons erken dat ons op die verkeerde pad is en omdraai / terugkeer.

Net soos wat die Vader ‘n fees voorberei het vir die verlore seun, sal God jou met ope arms terugtrek in die kring van Sy beskermende arms.  Hy is so ontsettend lief vir jou.  Om die waarheid te sê Hy het reeds alles gedoen, gesterf aan ‘n kruis sodat jy sonder sonde kan wees.  En daarom is jy vry en welkom om terug te keer na God.

Wil jy dit nie vandag doen nie?


Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...