Wednesday 22 August 2018

Vee eers voor jou eie deur


Matteus 7 : 5  Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

Al woon ons in glashuise, gooi ons steeds graag klippe.  Dalk is dit omdat ons blind is vir ons eie foute. Of dalk is dit omdat ons regtig nie besef dat ons ook sondig is nie.
Hoe dit ookal sy, van vers 1 in Matteus 7 waarsku Jesus ons om nie te oordeel nie.  Hy herinner ons selfs dat ons ook met dieselfde maat geoordeel sal word waarmee ons ander oordeel. 

En tog, van kleins af, is ons geneig om te oordeel.  “Mamma, praat met boetie… kyk wat doen hy.”  En tien minute gelede was dit presies wat sussie gedoen het.  As grootmense raak ons dikwels kwaad vir ons eggenote se gedrag, maar ons besef nie dat ons ook dinge doen waaroor hul nie gelukkig is nie.

Die les wat ons hier leer is om eers behoorlike selfondersoek te doen alvorens ons na iemand anders vinger wys.  Net omdat ek jou sonde raaksien, beteken nie ek is sonder sonde nie.  Net omdat ek jou sonde aan die groot klok hang, beteken nie ek staan nie self agter die deur nie.

Op die ou einde is ek vir my eie heil en siel verantwoordelik.  Ja, ek het ‘n verantwoordelikheid om jou reg te help, maar ek moet darem eers sorg dat dit skoon is voor my eie deur alvorens ek by jou deur loop vee. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...