Monday 23 January 2012

Is jy moedeloos?



2 Kronieke 15 : 7 Maar julle moet vasstaan en nie moedeloos word nie…


Jy weet hoe dit voel, want jy was ook al daar. Dalk is jy steeds daar en dalk roep jy ook uit: “Ek is so mismoedig, waar het als verkeerd gegaan?” Soms wonder mens waar jy met jou kind se opvoeding verkeerd gegaan het of wat jy gedoen het dat 'n vriendskap/verhouding nie meer is wat dit was nie.  Dalk is jou finansies beroerd of jy het dalk nie eens 'n werk nie.

Jy ken hierdie moedverloor se vlakte waar die stormwinde van die lewe jou soos ‘n grashalmpie heen en weer waai. Al jou energie word ingespan om net staande te bly. 

Ek wonder baie maal wat maak ongelowiges wanneer hulle deur moeilike tye gaan? As jy God ken, weet jy Hy is daar om jou roepstem te hoor. Hy luister, Hy troos, Hy gee krag en Hy lei jou elke tree en as jy dink jy kan nie een tree verder gee nie, tel Hy jou op en Hy dra jou. En sagkens sit Hy jou weer op albei voete neer en help jou so liggies met die hand aan. “Veilig loop, my kind, Ek is hier reg langs jou.” Gaan weer op jou knieë en roep Hom aan.

Ten spyte van dit waardeur jy gaan, wil ek jou herinner dat God daar is.  Hy't nêrens heen gegaan nie, maar onthou jy dat Hy daar is of is jy verblind deur die probleem voor jou?  Ontspan, God is in beheer, moenie moedeloos word nie.  Praat met Hom oor dit wat jou so moedeloos maak.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...