Tuesday 16 October 2012

Moenie toelaat dat die dood jou van God vervreem nie

Romeine 8 : 38 & 39  geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie

Onlangs het ek 'n vrou ontmoet wat haar 24-jarige seun in 'n motorongeluk verloor het en sy't met trane na my gekyk en gesê:  "Ek is kwaad vir God...  Hy was my soet kind... Ek wil my kind nog net een keer vasgehou het, vir hom gesê het hoe lief ek hom het... dis nie regverdig dat 'n ma haar kind moet begrawe nie..."  Die wonde aan haar hart was so rou en seer.

Om iemand aan die dood af te staan, is finaal.  Daar is geen logika daarin nie.  Veral as jy ‘n kind aan die dood afgestaan het, sal jy vra hoekom dit nie eerder jy was nie.  As dit jou eggenoot is wat op ‘n jong ouderdom afgesterf het, gaan jy wonder hoekom nie eerder iemand wat nie meer wil leef nie.  As iemand na aan jou selfmoord gepleeg het, gaan jy vra hoekom jy nie kon sien dat die persoon selfmoordneigings het nie. 

Daar is altyd vrae en ons kry selde hier op aarde antwoorde.  Partykeer slaan die dood so onverwags toe dat daar nie eens tyd is om tot siens te sê nie.  Betoon elke dag jou liefde aan diegene wat vir jou so kosbaar is sodat jy geen berou het die dag as jy langs 'n oop graf staan nie.  Hoe moeilik dit ook al is, onthou om nie hulle wat agtergebly het weg te stoot terwyl jy rou nie.  Hulle het jou liefde nou meer as ooit nodig, want ook hulle rou.

Niemand kan regtig antwoorde bied nie.  Niemand kan regtig troos nie.  Die antwoorde en die troos kom van God.  Moenie toelaat dat die dood jou van God vervreem nie. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...