Thursday 11 October 2012

Praat met Hom

Eksodus 33 : 17  Die Here het vir Moses geantwoord: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

Nog voor jy bid, selfs voor jy jou hart oopmaak, ken God elke gedagte van jou.  Hy weet alreeds wat jy gaan vra.  Selfs jou diepste smart ken Hy. 

Teenoor ander mense moet jy dalk die storie so bietjie verdraai, maar teenoor God kan jy absoluut eerlik wees.  Jy hoef nie voor te gee nie, want Hy ken jou hart.  Soms dink jy net dat jy oor iets moet bid, dan weet God reeds waaroor jy gaan bid.  Hy ken elke wens van jou, elke begeerte. 

Tog wil God steeds hê dat jy die inisiatief neem om in gebed met Hom daaroor te praat.  Hy wil weet hoe jy oor dinge voel en watter emosies dit in jou ontketen.  In Sy alwysheid weet Hy reeds wat die uitkoms of die antwoord sal wees, maar Hy wil sien hoe jy jou afhanklikheid van Hom uitleef en erken. 

Om dit te verstaan, kan 'n mens dink aan enige verhouding.  As ouer kan jy sien dat iets jou kind pla, maar jy kan nie inmeng nie, jy wag totdat hy/sy met jou praat.  Kommunikasie maak of breek enige verhouding, so ook die verhouding met jou Hemelse Vader.  Praat sommer net jou hart uit teenoor Hom.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...