Sunday 23 December 2012

In 'n stal in Bethlehem

Matteus 2 : 1  Jesus is in Betlehem in Judea gebore   Lukas 2 : 7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.   

Môre vier ons Kersfees, die geboorte van ons Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus en dit het my laat wonder.

God kon dit tog so bewerkstellig het dat Sy Seun in ‘n koningsgesin gebore word.  Jy sou dink dat net die beste goed genoeg sou wees vir die Koning van die Heelal se Seun.  Hy kon gesorg het dat Jesus geen gebrek sou ly nie. 

Ek wonder ook hoekom Hy nie tot vandag gewag het waar daar behoorlike vervoer is en meer geriewe sodat Jesus nie so ver moes stap nie.  Hy kon dalk selfs na ander lande ook gevlieg het. Dink net hoe hard Jesus moes praat sodat die skares hom kon hoor.  Vandag sou hy 'n mikrofoon kon gebruik.  In plaas van 'n nederige vissersboot kon hy op 'n luukse jag of motorboot gevaar het.  In vandag se tyd sou Hy heelwaarskynlik nie eens rondbeweeg het nie, want Hy kon soos vele predikers sommer Sy eie TV program gehad het.

Onverstaanbaar soos dit vir ons is, het God besluit dat Jesus Christus as kind van ‘n nederige timmerman, uit 'n maagd genaamd Maria, in ‘n stal in Bethlehem gebore word.  En dit meer as 2000 jaar gelede toe daar nog bitter min ontwikkeling was. 

By gebrek aan ‘n behoorlike blyplek, moes Maria haar pasgebore baba in ‘n krip neerlê nadat sy Hom in doeke toegedraai het.  Ons verstaan nie altyd Sy weë nie, maar God weet beslis hoekom Jesus Christus tussen gewone mense woon, opgroei en beweeg.  Sodoende kon Hy diegene ontmoet wat Hom die nodigste het. 

As Jesus vandag gebore sou word, sou dit heel waarskynlik op TV nuus verkondig word, op koerante se voorblaaie gepryk het en daar sou heelwat eposse, smsse, bbm's ens rondgestuur word, maar... sou dit die impak gehad het wat dit wel gehad het toe Hy die boodskap van verlossing persoonlik aflewer het?  Jesus Christus is nie Dynamo wat 'magic' doen op TV nie, Hy het egte, verstommende, wonderwerke gedoen wat mense sonder enige kamera kunsies aanskou het.

God se plan is volmaak - ook vir jou.

Geseënde Kersfees en vrede vir jou, uit my hart uit.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...