Sunday 26 May 2013

Die Skoenlapper


2 Samuel 22 :40  U het my met krag omgord vir die stryd…

Eendag kom ‘n man af op ‘n kokon waar ‘n skoenlapper besig is om uit te broei.  Gefassineer deur die stryd van die skoenlapper het die man aanskou hoe die skoenlapper halfpad oenskynlik die stryd gewonne gee.  Net daar besluit hy om handjie by te sit en met ‘n sker die kokon oop te knip om die skoenlapper te bevry.  Trots aanskou hy die skoenlapper wat daar sit met sy vet geswolle lyfie en nat vlerkies. 

Die man het gewag vir die ‘grand finale’; daardie oomblik dat die skoenlapper sy vlerkies sou sprei en wegfladder, maar niks gebeur nie. Die skoenlapper kon net onbeholpe rondkruip tot hy uiteindelik dood is.  Hierdie man se weldaad het ‘n hartseer nadraai gehad.  Hy het nie verstaan dat die stryd om homself uit die kokon te bevry deel van ‘n skoenlapper se ontwikkeling is nie.  Terwyl ‘n skoenlapper deur die kokon beur, word die vloeistof uit sy lyfie geforseer sodat hy vaartbelyn is om te kan vlieg.

Net so het ons ook soms nodig om te worstel deur moeilike tye sodat ons sterker kan word.  As ons nie beproewinge deurleef nie, sal ons dalk ook net bly rondploeter en nooit ons vlerke sprei om ‘n beeldskone skoenlapper te wees wat tot volle reg gekom het nie.

Volgende keer dat jy moeg gesukkel is, onthou dis presies wat jy nodig het en jy sal hierdeur kom, want God het jou met Sy krag omgord.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...