Wednesday 15 May 2013

Verskuilde Geleenthede


Psalm 106 : 3 Dit gaan goed met mense wat die reg handhaaf, wat by elke geleentheid geregtigheid doen.

Eens op ‘n tyd was daar ‘n koning wat sy volk wou toets.  Hy het ‘n groot rots teen ‘n berg afgerol en dit in die middel van die pad laat beland.  Toe het hy in die bossies langs die pad gaan skuil.  Een na die ander het mense daar opgedaag, uitgeklim en die situasie al morrend staan en bekyk.  Hulle was glad nie beindruk met die stand van die paaie in hul land nie en het die koning blameer wat niks aan die saak doen nie.  Niemand het egter ‘n poging aangewend om die rots te verwyder nie.  

Laat die middag kom ‘n groentesmous op ‘n donkiekar daar aan.  Hy roep die donkies halt en klim af.  Terwyl hy al om die rots loop, klik hy sy tong.  Hy span die donkies uit, maak ‘n tou om die rots vas en por die donkies aan om die rots te sleep.  Met die rots uit die pad, stap hy na waar die rots gelê het, want daar is nou ‘n redelike gat in die pad.  Toe hy naby kom, sien hy ‘n vergulde sakkie daarin lê.  Hy haal dit uit en binne in is daar meer goue muntstukke as wat hy al ooit gesien het.  Daar is ook ‘n nota in wat lees:  “In elke probleem, skuil daar ‘n geleentheid.  Dankie goeie kneg.  Die beloning is vir jou.”

As jy na die stand van sake in ons land kyk, is daar ook genoeg rede om te kla en te blameer, maar hoeveel van ons rol moue op en doen iets om die situasie te verbeter.  Ons mag dalk nie ‘n sakkie met goue muntstukke daarin aantref nie, maar ek is seker ons Koning sal baie beindruk met ons wees.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...