Sunday 23 June 2013

Met watter maat meet jy?


Daar was ‘n boer wat daagliks aan die bakker een pond botter gelewer het, wat hy gebruik vir die brode wat hy bak. Op ‘n dag besluit die bakker om die botter te weeg om seker te maak dat die boer wel een pond botter aan hom voorsien.  Tot sy verbasing sien hy dat die botter minder as een pond weeg. Hy was briesend omdat die boer hom ingeloop het met die gewig van die botter en het hom voor die hof gedaag.
Die regter vra die boer of hy ‘n skaal het wat hy gebruik. Die boer antwoord, “Agbare regter, ek boer baie primitief en het nie ‘n skaal wat die gewig van die produk aandui soos die nuwerwetse skale wat die bakker gebruik nie, maar ek het ‘n ou weegskaal waar jy die produk aan die een kant in die bak sit en aan die anderkant plaas jy ‘n spesifieke gewig en kyk dat die twee balanseer.”
Die regter vra:  “Nou hoe presies bepaal jy die gewig van die botter wat jy verkoop?  Wat is jou teen gewig wat jy gebruik?”
Die boer antwoord, “Agbare regter, lank voordat die bakker botter by my begin koop het, het ek gereeld ‘n een pond brood by hom gekoop. Toe die bakker by my begin  botter koop het ek sy een pond brood aan die een kant van die skaal geplaas en dieselfde gewig aan die anderkant afgeweeg vir hom. Ek het aanvaar dat sy gewig van die brood korrek sal wees en het nie doelbewus die gewig van die botter minder gemaak nie. ”
Net soos die bakker is ons ook partykeer te gou om te oordeel...
Matteus 7 : 2  “met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.“

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...