Wednesday 12 June 2013

Vissersman vs Sakeman


Prediker 6 :9 Wat die mens het, is beter as wat hy begeer. Ook hier kom dit tot niks. Dit is 'n gejaag na wind.

Daarwas eendag ‘n visserman wat met sy klein bootjie by die kaai vasgemeer het en met sy lekker groot geelvin tuna, op die kaai uitgeklim het.  Daar staan toe ‘n ryk sakeman wat wil weet hoe lank dit hom geneem het om die een vis te vang waarop die visserman antwoord dat dit so ‘n paar uur geduur het.

Die sakeman wou verder weet hoekom hy nie langer gebly het en meer vis gevang het nie, maar die visserman het net gelag en gesê dat dit al is wat hy en sy familie nodig het.  Die visserman se houding het die sakeman gefassineer en hy wou weet wat hy dan met die res van sy tyd maak.

“Ek ontspan, bring tyd by my gesin deur, speel kitaar, kyk sport op TV en sommige aande gaan kuier ek saam met my vriende,” antwoord die visserman.

“Jy sien,” sê die sakeman.  “Ek het ‘n MBA graad en ek kan jou raad gee om baie meer winsgewend te wees.  As jy meer vis vang, kan jy dit verkoop en kort voor lank kan jy nog ‘n boot koop en jou eie vloot opbou.  Dalk kan jy dan selfs ‘n visfabriek begin en die vis inmaak en so ‘n sakeryk van formaat opbou.  Uiteindelik kan jy dit verkoop en aftree met miljoene rande in die bank.

Die visserman het sy oë op skrefies getrek en vir die sakeman gevra:  “Hoe lank gaan dit my neem?”

Selfvoldaan met sy meerdere kennis, antwoord die sakeman: “so vyftien tot twintig jaar.”

“En wat maak ek met al daardie miljoene,” wil die visserman weet?

Die sakeman glimlag breed:  “Dan, my vriend, kan jy net ontspan, tyd saam met jou gesin deurbring, kitaarspeel, sport op TV kyk en sommige aande ook saam met jou vriende kuier.”

Is dit nie ironies dat ons soveel tyd spandeer op iets wat ons nie eendag kan saamneem nie? Ons offer kosbare tyd op om ‘n gemaklike lewe te skep, maar diegene vir wie ons dit doen sou veel eerder net tyd saam met ons wou deurbring.  Die visserman het die geheim ontdek en vir hom was die lewe ‘n fees.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...